Families kan die week voor Paasfees die Paasverhaal op lekker interaktiewe manier lees. Klik op die prentjie, laai dit af en druk dit op ‘n A3 vel. Lees elke dag van 25 Maart tot 1 April die teksgedeelte, kleur die prentjie in en plak die regte prentjie op die regte blokkie.
Gesels met mekaar oor iemand wat dié week vir jou omgegee het. Hoe het dit gevoel? Wat het dit vir jou beteken?
BYBELLEES
Terwyl iemand Psalm 112 voorlees, fokus op watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom. Neem twee minute stilte om daaroor na te dink na die voorlesing.
Ons ontvang God se Woord deur na mekaar te luister. Deel met ons watter insig jou tref, watter belofte jou inspireer, watter opdrag jou motiveer.
GESEËN OM TE SEËN
“Barmhartigheid is ’n lewe van diens, ʼn lewe van omgee, ʼn lewe waarin ander mense se belange vir jou net so swaar weeg soos jou eie, ʼn lewe waarin jy jou hulpbronne, tyd, invloed en vaardighede gebruik om vir ander te sorg, of dit nou is om hulle te beskerm, te versorg, te koester of vir hulle regte op te kom.” Bespreek.
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Omgee vra van ons om oë en ’n hart vir ons naaste te hê, en dan hande en voete aan ons gevoel van barmhartigheid en omgee te gee: “Wie aardse besittings het en sy broer of suster sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom of haar het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh. 3:17).
Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel om die geloofsgewoonte dié week te beoefen:
Dink aan mense wat in nood is, soos weduwees, weeskinders of minderbevoorregtes. Dink biddend vir wie jy iets prakties kan doen deur jou invloed te gebruik of deur ’n uitstappie te reël, met inkopies te help of regshulp of maatskaplike hulp te verleen.
Vra vir iemand: “Wat kan ek vandag vir jou doen?” Dit kan iemand in jou familie of in jou vriende- of werkkring wees. Dit kan iets klein of groot wees. Dit kan iets moeilik of maklik wees.
Kies een van die sendelinge vir wie ons as gemeente ondersteun. Vra vir hulle wat jy vir hulle kan doen. Miskien het hulle kruideniersware nodig wat jy vir hulle kan stuur. Dalk kan jy hulle help met hulle banksake of ander administratiewe take vir hulle doen. Oorweeg ‘n geloofsoffer om hulle te ondersteun.
Maak ’n ekstra bord kos en bêre dit in jou vrieskas (of hier by die kerk) vir iemand wat dit dalk kan nodig kry. As jy die bord kos met iemand deel, maak ook kontak en gesels met die persoon om iets van die liefde van die Here oor te dra.
Gee kans dat elkeen vertel hoe hulle weet dat die ander hulle lief het. [Ouers, luister of jy kan agterkom wat jou kind se liefdestaal is: woorde, diens, geskenke, tyd of aanraking. Google “Love Languages Gary Chapman” om meer uit te vind van die liefdestale. Jy kan ook die Kindle boek The 5 Love Languages of Children deur Gary Chapman vir onder $10 by Amazon koop.]
Bybellees
• Lees Johannes 3:16. Die NT vir Kinders vertaal dit so: God het gewys hoe lief Hy vir mense is. Hy het sy spesiale Seun aarde toe gestuur. Gesels oor wat dit beteken. Beklemtoon dat dit sê dat God lief is vir elkeen van ons.
• Lees die vers nog ’n keer, maar vervang hierdie keer “die wêreld” of “mense” met elkeen in die gesin se naam.
Gewoontes en Gebruike
Lectio Divina kan moontlik te moeilik wees vir kleiner kinders. Fokus eerder op Bybel Memorisering. Besluit om hierdie week saam Johannes 3:16 te memoriseer. Dink aan kreatiewe maniere waarop julle dit kan memoriseer: sing die lied, herhaal dit elke aand voor julle gaan slaap, plak dit op die badkamerspieël, ens. Onthou om ook die teks se “adres” (Johannes 3:16) te memoriseer.
Volgende Sondag is Nagmaal! Ouers kan hier ‘n spesiale boekie kry met idees hoe om jou kind voor te berei vir die Nagmaal.
Geseën om te seën
Ons sendelinge het ons ondersteuning nodig. Hoe gaan julle hierdie week “julle” sendeling herinner dat God lief is vir hulle? Dalk ’n WhatsApp boodskap met ’n Skrifgedeelte?
We use cookies and similar technologies to improve your experience on our website.
Read our Privacy Policy.