Skip to main content

Author: Marlein van Deemter

HuisGeloof 10-15 Nov: Gewete

OMGEE-GESPREKKE

Vertel ’n storie van ’n keer wat jou gewete jou so gepla het, dat jou optrede verander het.

BYBEL LEES

Lees Hebr. 9:13-14 uit Die Nuwe Testament vir Kinders

Die ou Jode het die bloed van bokke of beeste gevat, of die as van ’n bul wat geoffer is en dit op iemand gegooi. Dit was hulle geskenke aan God. So het hulle van al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, ontslae geraak. Dit sou maak dat God meer van hulle hou. Dink net hoeveel meer God van ons sal hou, want nie diere nie, maar Jesus se bloed, vat ons verkeerde dinge weg. Jesus het niks verkeerds gedoen nie, maar tog Homself as geskenk of offer in ons plek gegee. Nou hoef ons ons nie meer te bekommer oor alles wat ons verkeerd gedoen het nie. Jesus vat dit vir ons weg. Ons kan die Here nou met ons hele hart dien.

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Is daar goed waaroor jy skuldig voel? Onthou, wanneer ons vir Jesus sê ons is jammer, neem hy daardie goed heeltemal weg.  Ons hoef nie meer sleg te voel daaroor nie!

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Oefen hierdie week in julle gebede om skuldbelydenis te doen.  Vertel vir Jesus wat jy verkeerd gedoen het en vra dat hy jou vergewe.  En onthou dan:  Nou hoef ons ons nie meer te bekommer oor alles wat ons verkeerd gedoen het nie. Jesus vat dit vir ons weg.

GESEËN OM TE SEËN

Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam daarvoor.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

DOOP – Hebreërs 5:11-6:3 – kleingroepmateriaal

RUS

Is daar ’n tyd in jou lewe wat vir jou uitstaan as ’n tyd waarin jy besonder geestelik gegroei het?  Wat het daartoe bygedra dat jy in dié tyd meer gegroei het as ander?  Vertel vir mekaar daarvan.

HOOR

Lees Hebreërs 5:11-6:3

  1. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.
  1. Die Hebreër-briefskrywer praat hard oor geestelike volwassenheid al dan nie. Kyk wat word gelys as “eerste dinge”, die fondament of “melk” van ons geloof (v 1b-2).  Hoe voel jy daaroor dat dié dinge as “melk” beskryf word?
  1. Hoe kan ’n mens groei in die geloof, beweeg van “melk” na “vaste kos”?
  1. Ons gaan Sondag spesifiek fokus op die doop.
  • Vertel vir mekaar wat jou doop vir jou beteken.
  • Het julle vrae oor die doop? Deel dit met mekaar.

Die doop is ’n sakrament.  Brownson* verduidelik die verskil tussen die doop as sakrament of as instelling (bevestiging van geloof) soos volg:

Doop as instelling Doop as sakrament
Ons belofte aan God God se belofte aan ons
Uitdrukking van gehoorsaamheid Genademiddel
Fokus veral op wat ons doen in antwoord op God se genade Fokus veral op wat God doen om spesifiek aan ons genade te bewys
God se vroeëre aanbod van genade in Jesus Christus roep ons nou op om gehoorsaam te wees deur ons te laat doop God se genade wat nou in die doop vir ons gegee word, roep ons op tot gehoorsaamheid in die toekoms
Die doop is ’n teken wat ons op die evangelie wys Die doop is ’n teken van die evangelie en ’n seël van ons deelname aan die liggaam van Christus.
  • Wat staan vir jou uit hieraan?

*Aangehaal in Coenie Burger en Andries Cilliers se boek “Ontvang wat vir jou gegee is:  Hoe die doop ons kan leer om met Christus te leef”.  Die boek is ook verwerk in ’n 40-dae program en kleingroepmateriaal.   As jul groep dieper wil delf in die doop, kan julle oorweeg om die materiaal te behandel.  Bestel dit by bybelmedia.org.za.

LEEF

Dink eerlik na oor jou lewe:  is jy besig met geestelike melk of vaste kos?  Is jy al besig om onderrig te gee (5:12), of sien jy jouself nog as die objek van ander se bediening? Wat is die volgende stappe in jou spesifieke situasie?  Waartoe roep God jou nou?  Vertel vir mekaar wat die spesifieke volgende stappe is wat elkeen van julle nou gaan neem en bid vir mekaar daarvoor.