NGK Somerstrand 09:00 4 September 2022 | Kerk en Youtube
Verwelkoming
Toetrede
Ps 84 v 1 Hoe lief het ek u woning, Heer (staan)
Votum en Seëngroet
Lof
Lied 197:1-2 Wonderbare Koning, Heerser oor u skepping (staan)
Kindertyd
Hou julle van speel met klei? Hier is ‘n bietjie klei om mee te speel.
Dit is lekker om verskillende vorms te maak. En as dit nie werk nie, dan begin ons net weer oor, nè?
Die Bybel sê God is soos ‘n pottebakker, en ons is die klei. Hy vorm ons soos ‘n mens klei vorm. Hy sorg dat alles in plek is. Dat ons twee arms het en twee bene. En ‘n mooi gesiggie. En vingers en tone.
Maar, weet julle, God is binne ons ook besig. Hy leer ons om lief te wees vir mense. Om goed te wees vir mense. Om goeie dinge te doen vir ander. Hy werk met ons harte sodat ons kan doen wat Hy van ons vra.
Hy gee ook ander mense wat ons kan help. Jou ouers. Jou onderwysers.
Maar, die belangrikste is dat Hy met ons harte besig is. Soos ons lees in die Bybel, en soos ons leer bid, verander God ons en leer ons om vir Hom te lewe.
Die profeet Jeremia word in hoofstuk 1 geroep om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle was so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om sy lyf. Daarom is die Here die volk nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. Hy roep Jeremia as ‘n profeet vir die nasies, vers 10:
“om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan.”
‘n Ontstellende boodskap wat hom uiters ongewild gemaak het by die volk en veral by die leiers van die volk, veral konings Jojakim en Sedekia. En al het die Here ook ‘n stukkie hoop gegee dat Jeremia ook ‘n boodskap moet bring dat ná die ballingskap daar ‘n tyd sal kom:
“om te bou en te plant,”
was dit hierdie boodskap van vernietiging waarmee Jeremia geworstel het.
Hoe sou jy reageer het?
Ek wonder wat sou jou reaksie wees as jy só ‘n opdrag kry? As die Here jou roep om die valse idees van die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is, uit te wys. Bv die idee in Jeremia se tyd:
dat God se wet nie meer van toepassing is in hulle tyd nie – Jeremia 8:8: “Kyk, skrywers se leuenagtige pen het die wet leuens gemaak”;
dat immoraliteit nie saak maak nie – Jeremia 5:8: “Hulle het bronstige, paarlustige hingste geword; elkeen van hulle runnik vir die vrou van sy medemens”;
dat God net liefde is en vrede bring, maak nie saak hoe jy lewe nie – Jeremia 8:11: “Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op ‘n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ maar daar is geen vrede nie”.
Jeremia moes sy eie mense leer:
dat God nie net liefde is nie, maar ook heilig – Jeremia spreek hulle veral aan oor die ontheiliging van die sabbat (Jeremia 17);
dat God nie net vergewe nie, maar altyd die sonde straf – Jeremia verkondig aan hulle dat hulle eie boosheid hulle sal tugtig, en hulle afkerighede hulle sal straf (Jer 2:19).
dat God nie net vrede bring nie, maar ook verdeeldheid tussen dié wat God se Woord wil gehoorsaam en dié wat dit nie wil doen nie (die visioen van die twee mandjies vye in Jeremia 24).
NGK Somerstrand | 7 Augustus 2022 09:00 | Kerk en Youtube
Ek sluit by die verhaal in Lukas 12 aan waar Jesus besig is om sy dissipels te bemoedig op pad na Jerusalem toe. Hy wil hulle help om hulle bekommernisse oor kos en klere agter te laat, want Hy is in staat om vir hulle lewe en liggaam te sorg.
Jesus borduur dan verder voort op wat vir sy dissipels nodig is in ’n lewe vir die koninkryk. Hy wil nie net hê dat hulle hulle kommer vir Hom gee nie. Hy wil hê dat hulle al hoe meer gereed sal word vir die lewe wat kom. Hulle moet gereed wees vir sy tweede koms. Jesus gebruik daarvoor twee beelde en drie gelykenisse wat wys wat gereedheid beteken.
Die Hemelvaart van Jesus is van groot betekenis vir die kerk van die Here Jesus Christus.
Ek het al baie gepreek daaroor, nie net op Hemelvaart nie, maar ook op ander Sondae. Maar, ek het nog nooit ‘n Kategismuspreek daaroor gelewer nie. En wil dit nou graag doen.
Ek gaan op Sondag 18 uit die Heidelbergse Kategismus fokus, want dit bly die beste verwoording van die Bybelse boodskap oor die Hemelvaart. In die proses gaan ons na meer as 30 verwysings in die Bybel kyk. Ek plaas elke verwysing volledig in hierdie teks, sodat jy jou kan verdiep daarin.
NGK Somerstrand 22 Mei 2022 09:00 | Kerk en Youtube
Verwelkoming
Aankondigings
Die kerkraad het verlede jaar vier prioriteite geïdentifiseer.
Ons wil weer momentum bou na die inperking van Covid-19. Ons dink aan ‘n basaar in September-Oktober wat ‘n R100 000 inspuiting vir ons geloofsgemeenskap kan wees.
Ons wil ons erediensbywoning verbeter om weer ‘n sentrale deel van ons geloofsgemeenskap te wees. Ons wil ook al hoe meer groepe akkommodeer. Daarom werk ons aan ‘n “blended worship” met meer as een musiekstyl.
Ons wil fokus op ons jeug en jongmense. Daarom het ons gekies vir ‘n jong senior leraar, Vian, wat bewese ervaring het om ‘n hele gemeente te lei, maar wat veral die onder veertigs in die hoofstroom van die gemeente kan kry.
Ons wil fokus op geestelike groei. Ons kleingroepe het gestagneer in die Covid-19 tyd. Die fokus op die beloftes en leesplanne via Whatsapp en Bybelskool bereik wel ‘n 2 500 mense, en dit is wonderlik, maar ons het nodig om weer in mekaar se geselskap te kom. Ons dink aan Alpha en ‘n fisiese Bybelskool. Miskien is daar ook ander idees of behoeftes. Ons sal graag luister daarna.