Skip to main content

Handelinge 5:27-32 – Gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al

Arrestasie

Dit is die derde arrestasie van Petrus en Johannes. Die eerste was nadat hulle ‘n verlamde man by die tempel genees het (4:3).  Die tweede was nadat daar so baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind het dat die siekes in Jerusalem selfs op straat uitgedra is sodat hulle genees kan word (5:18).

Gedurende die nag is hulle egter op ‘n wonderbaarlike wyse bevry. Vroeg die volgende dag het die Sanhedrin uitgevind dat die apostels nie meer in die tronk was nie. Boonop was die apostels in die tempel besig om die mense oor Jesus en sy opstanding te leer.

Die bevelvoerder van die tempelwag is toe saam met sy wagte gestuur om die apostels te gaan haal en na die plek waar die Sanhedrin vergader, te bring.

Aanklag

Die hoëpriester val sommer met die deur in die huis voor die hele Raad, 116 van hulle, en kla die apostels van twee sake aan. Eerstens, dat hulle die bevel van die Sanhedrin om nie die mense in die naam van Jesus te leer nie, geïgnoreer het. Tweedens, dat hulle gepoog het om die Sanhedrin vir die dood van Jesus verantwoordelik te hou.  Ironies – net ‘n paar weke tevore het hulle Hom ter dood veroordeel en laat kruisig!  Praat van ‘n sirkel redenasie!

Let op hoe die hoëpriester Jesus nie op sy naam noem nie, maar net verwys na Hom met die woorde “in hierdie Naam”. Vir die hoëpriester is Jesus dus ‘n non-entiteit. Alhoewel Hy ‘n paar weke tevore nog tussen hulle gestaan het en voor hulle uit met die kruis gestap het na Golgota, word na Hom slegs in die derde persoon verwys.

Rede

Maar ten spyte van hierdie houding kan hulle Jesus nie ignoreer nie. Hoekom?  Omdat daar twee goed gebeur: 1) die apostels doen tekens en wonders, en het ‘n groot impak onder die volk, en 2) die apostels verkondig iets wat lynreg teenoor hulle eie leer staan, die opstanding van Jesus.

Die Sadduseërs het die opstanding in sy totaliteit ontken en het ook nie geglo aan engele of geeste nie.  Eintlik was daar volgens hulle nie ‘n geestelike wêreld nie.  Hulle was dus gelowiges in naam, maar in die praktyk ateïste, mense wat die geestelike wêreld se bestaan ontken het.

Die apostels en hulle werk moet daarom in die kiem gesmoor word.  Dit kan nie so aangaan nie.  Die Joodse Raad begin sleg lyk.  En hulle beskouing van die werklikheid word in twyfel getrek – en dit deur eenvoudige mense wat met soveel oortuiging hul boodskap bring.

Daarom die dreigende houding en die slegte behandeling wat hulle die apostels gee.

Verweer

En dan staan Petrus op en antwoord op die aanklagte dat ‘n mens aan God meer gehoorsaam behoort te wees as aan die mens. Petrus dink dus dat God se opdragte belangriker is as die opdragte van die Raad.  En hy spel in geen onduidelike taal die wonder van die opstanding uit nie, en die effek wat dit op die volk het nie.  Want in Jesus se Naam word vergifnis verkondig en dit is vir almal.  Daarvan is hulle getuies en aan dié boodskap sal hulle getrou en gehoorsaam bly.

Vervolging begin

Geen wonder dat die Raad hierop woedend gereageer het nie.  Hoewel hulle hier die apostels net laat slaan en daarna vrylaat met ‘n klomp dreigemente, sou die Joodse Raad in volskaalse vervolging kort hierna teen die kerk begin optree, wat sou begin met die dood van Stefanus.

Maar soos ons weet, ook dít sou boemerang, want só sou die evangelie oor die wêreld versprei.  En dit bring my by die punt van hierdie gedeelte.

Lyding en weerstand teen die evangelie is ‘n werklikheid

Lyding om Christus ontwil is ‘n werklikheid.  Daar is regdeur die geskiedenis en regdeur die wêreld ‘n weerstand teen die evangelie van Jesus Christus.  En dit is ‘n weerstand wat baie keer ook binne die kerk voorkom.

Maar, soos hier in die begin, met die apostels se ervaring, sien ‘n mens telkens dat die kerk gewillig is om hierdie lyding te aanvaar, om gehoorsaam te bly, al kos dit wat ook al.

Die apostels hou nie op met hulle werk nie.  Hulle bly getuig.  Onverstoord verlaat hulle die toneel, “bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly.  En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” (5:41-42).

Waar kom die gewilligheid om te ly vandaan?

Waaruit word Christene se kapasiteit om te ly, en selfs te sterf gebore?  En ek wil nie dat ons Christene deur die eeue romantiseer nie.  Baie was deur die eeue afvallig en het Christus in die aangesig van vervolging verloën.  Maar, baie het egter nie, soveel so dat die bloed van die martelare die saad van die evangelie genoem word.

Waar kom die kapasiteit om te ly vandaan?

Een: Verbind aan God en aan sy Seun

In tye van vervolging en swaarkry kan die tronkdeure, die blokke waarin jou voete vasgesluit word, die boeie, die martelinstrumente, die brutale behandeling, die sweepslae, of die sosiale verwerping en fisiese vernedering so maklik die finale werklikheid word.  Die bedreiging kan God verduister.

Petrus en die ander apostels antwoord:  “‘n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!”  God bly die oriëntasiepunt, die Een aan wie hulle verbind is.

En die motivering om so aan God vas te hou, kom van Jesus af.  Hy was bereid om lyding te verduur en nie daarvan terug te deins nie.  Sy gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al, motiveer hulle om, as God dit so wil, lyding uit die hande van die Raad te ontvang.  Só weet hulle, ly hulle soos Christus, en om Sy ontwil.

Meer deurslaggewend nog: God het bewys dat die reg aan Jesus se kant is deur Hom uit die dood te verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand (5:31).  Die uitsig op die vermoorde, opgestane en verhoogde Jesus, wat nou in die leiersposisie is, verklein die bedreiging van die Raad.  Die dreigemente van die Joodse Raad en selfs hulle vermoë om te straf, word gesien vir wat dit is:  kleiner en minder deurslaggewend as gehoorsaamheid en getrouheid aan Jesus.

Daarom kan die apostels die Raad ook vermaan:  Jesus is verhoog tot Leidsman en Verlosser, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe (5:31).  Hiermee dui die apostels boonop aan dat daar ‘n alternatief vir die Joodse Raad is.  Eerder as om met geweld hulle eie posisie te verskans, en hulle hardgebakte weerstand voort te sit, behoort die Joodse Raad hul te bekeer.  Deur na God as die “God van ons voorvaders” (5:30) te verwys, wil die apostels beklemtoon dat hulle nie ‘n nuwe godsdiens wil verkondig nie, maar die Joodse Raad wil help om hulself in die regte verhouding met God te bring.

Die visie op die verhoogde Jesus help die apostels dus om vervolging in die oë te staar en getrou en gehoorsaam te bly.  Uiteindelik is hulle, ten spyte van sweepslae, bly dat hulle vir die Naam van Jesus kan ly (5:40).

Twee: Verbind aan mekaar

Die apostels en gelowiges staan mekaar ook by.  Dit is opvallend dat die apostels as geloofsgemeenskap ly.  Hulle bly in mekaar se teenwoordigheid.  Hulle help mekaar om die gebeure reg te interpreteer.  Toe Petrus en Johannes by die vorige arrestasie losgelaat word, soek hulle onmiddellik die medegelowiges op en bid saam vir die vrymoedigheid om te getuig.  Hulle herken die vervolging as opstand teen God en sy “heilige Dienaar, Jesus” (4:23-31).

In die vervolging bly die apostels ‘n duidelike besef van hulle gesamentlike roeping behou:  “En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is”.

Lyding en vervolging het ‘n intense disoriënterende effek.  Mens kan maklik begin glo dat jy verkeerd is en verward begin raak.  Vervolging kan baie maklik gelowiges onseker en twyfelend maak.

Met die krag wat hulle van die Heilige Gees ontvang, getuig hulle egter met vrymoedigheid.  Ten spyte van die uiteindelike straf, hou hulle nie op om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie (5:42).  En hierin ondersteun hulle mekaar.

Lyding en vervolging is normaal

In ‘n mindere of meerdere mate roep die getuienis oor Jesus Christus as die Here altyd weerstand en lyding op.  In sommige situasies is dit meer, in ander minder.  Ons moet weet:  lyding en vervolging is normaal.  Hierdie wete kom vir Westerlinge nie vanself nie.  Ons kultuur leer ons dat ons wenners moet wees.  Wanneer ons teenstand kry, is ons geneig om te dink iets is fout, en wil ons maatreëls tref om die lyding uit die weg te ruim.  Om weg te draai van lyding, en die opneem van ons kruis ter wille van Jesus te systap, is ‘n ernstige versoeking vir die kerk van die Here.

Hoe hanteer ‘n mens dan lyding? Lyding is iets wat in die geloofsgemeenskap verduur moet word.  Dit beteken dat ONS diegene wat ly moet omarm, en moet bystaan.  Dit geld ons eie, plaaslike geloofsgemeenskappe.

Maar nie net ons eie mense hier rondom ons moet ondersteun word nie.  Ons moet ook die ervaring van die lydende kerk van die Here in lande waar daar ernstige verdrukking, marteling en moord plaasvind, ons eie maak.  As een lid ly, ly almal.  Die lyding van gelowiges in lande soos China, Saudi-Arabië, Noord-Afrika, Turkye en Noord-Korea is iets waarvan ons bewus moet wees en waarvoor ons voortdurend moet bid.

Ons mag die geloofsgemeenskap nie geringskat in sy vermoë om die uitdaging van lyding die hoof te bied nie.  Dit is in gemeenskap met ander gelowiges dat ons die kapasiteit het om te ly.

Toepassing

Ek sluit af met iets wat nie direk hiermee verband het nie, maar wel baie raakpunte.  Ons is almal geraak deur die gebeure van die afgelope paar dae rondom die gruwelike moord van Eugene Terre’Blanche en die opruiende woorde van Julius Malema en sy liedjie.  En baie van ons het die veg of vlug reaksie.  Dit is eerste orde emosionele reaksies – en daar is niks fout daarmee nie.  Dit is deel van ons verwerking daarvan.

Maar gelowiges wat met God ‘n pad stap deur die eeue het gesê: ons kan nooit net op grond van daardie eerste orde reaksies reageer nie.  Ons het nie net ‘n hart wat voel nodig nie, maar veral ‘n hart wat onderskei.  Dit is die wysheid wat Salomo van God gevra het: ‘n luisterende hart, ‘n hart wat kan onderskei, ‘n hart wat God se wil in ‘n situasie kan onderskei (1 Kon 3:9 – “luisterende hart” is met die woord gehoorsaamheid in die NAV vertaal).

En wat kan ons onderskei in dié situasie?

  • 1. Die moord was publiek – dus daar moet ‘n publieke reaksie wees om binne die wette van die land en binne die politieke en burgerlike arena vir optrede en verandering te vra.  En daar was ‘n hele paar publieke reaksies van die kerk daaroor – Piet Strauss namens die Algemene Sinode, Braam Hanekom in Die Burger.  En daar is ‘n regstelsel wat die waarheid rondom die gebeure moet uitvind en daarvolgens moet optree.
  • 2. Die moord het ‘n gesin en familie geraak – dit beteken daar moet pastoraal versorg word, soos daar klaarblyklik gedoen word.  Ons harte moet saam met hulle huil.
  • Maar laat ons tegelykertyd ook saam met al die ander gesinne wie se tragiese ervarings nie die koerante gehaal het nie, huil.  ‘n Kwartmiljoen mense is volgens my inligting die afgelope 16 jaar in ons land vermoor, waarvan 3300 boere was.  Elkeen van hulle het ‘n gesin en ‘n familie wat treur en smart moet verwerk.
  • En ons moet daar wees vir hulle, en probeer om dit wyer net as ons eie gesins- en familie kring te doen.  Dit was die uitstaande kenmerk van die eerste Christene se manier van leef – hulle was ‘n hawe vir die mense wat nood gehad het.  Bv. buite-huwelikse swangerskappe – dié mense is opgeneem in die Christelike gemeenskap en versorg.  Dit lyk my sommige kerke het nou dié boodskap gehoor, want in plaas van om vuur te spoeg oor mense wat aborsies ondergaan, bied hulle nou aan om vir die kinders te sorg.
  • 3. Die moord kom van ‘n spesifieke omgewing af, wat duidelik maatskaplike en morele gebreke het, beide op werkersvlak as werknemersvlak – dit beteken ons moet die maatskaplike en arbeidsituasie aanspreek en iets daaromtrent doen.  En daar is 6 vlakke waarop ons iets kan doen, nie net in Ventersdorp nie, maar ook hier by ons: onderwys, mediese dienste, water, werk, sanitasie, voedselverbouing.

Elspeth Liebenberg vertel dié week vir ons sel van die wonderlike projek van Life Ministries in Zimbabwe.  Een van hulle vennote, John, ‘n swart Zimbabwiër (ek sê dit net omdat dit in dié konteks nogal betekenisvol is), het ‘n groot plaas, nie een wat afgevat is nie, maar jare al in hulle familie-besit is.  En van die plaas af voorsien hulle tans ondersteuning, met bokke en mielies, vir ‘n projek wat die potensiaal het om die land te verander.

Dit werk so: ‘n Life Ministries span gaan na ‘n klein dorpie in Zimbabwe, koop ‘n stuk grond en doen dan twee goed daar.  Hulle wys die Jesus film en bring so die evangelie boodskap.  En hulle begin mielies plant.  Soos die mense tot bekering kom, leer hulle vir hulle om selfonderhoudend te wees met die mielies en die bokke.  Na ‘n paar maande gee hulle die stuk land vir die plaaslike gemeenskap met die opdrag om dieselfde vir hulle omgewing te doen, dws mense met die evangelie te bereik en te help om selfonderhoudend met mielies en bokke te wees.

Dit is so suksesvol dat internasionale organisasie begin belangstel en betrokke raak om ondersteuning te begin bied.

Ek lees die week in Die Burger dat Anton Rupert op ‘n keer hierdie ongelooflike ding gesê het: “Hier kan ek ‘n verskil maak.”  Dit is wysheid.  Dit is gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al.

Ons gaan vannaand ‘n (kort) inter-ras gesprek hê n.a.v. die huidige situasie. Wimke gaan gesels met ‘n swart pastoor, Zolile.

Stilte:

Daar is nou ‘n moment van stilte waar elkeen die Here antwoord op sy opdrag om Hom gehoorsaam te wees al kos dit wat ook al.  Dink spesifiek aan geleenthede waar dit iets van jou gaan kos, en vra die Here vra om jou innerlik te versterk om aan Hom getrou te bly.

 

Ps 22 – Vry 2 April 2010

Goeie Vrydag 2010
Psalm 22

Wie roep daarbuite?  Hy?
Is dit vir my?
Ek, seun van mense, bloed uit bloed
gebore, blind.
Hy bloed uit Gees,
uit water, wind.
En tog uit bloed,
bloed van ’n vrou;
Hy óók ‘n kind.
Eloï! Eloï!
Een met ’n riet gaan nader.
Dit is donker buite.
Vader ? Vader
( I L de Villiers in Gelykenisse en ander verse 1975, bl 50).

Stilte & beelde van Jesus se lydensweg deur Audrey Anastasie

Votum (Jes 53:1-5)
Seëngroet (Gal 1:4)
Lied 389

Gebed
Skriflesing:  Psalm 22:2-22a
Preek

In donkerste oomblik in wêreld se geskiedenis,
wanneer Jesus gebroke aan kruis hang,
kies hy woorde van Ps 22 om ellende aan God te verwoord:
My God, my God, waarom het u my verlaat?

Hierdie Psalm gee vir Jesus woorde
om sy diepste gevoel,
klaaglike toestand,
voor God se troon uit te stort.

Rede hoekom Paasnaweek herdenk op manier wat doen,
ons help om onsself in God storie te vind.

As mense ken gevoelens van Godverlatenheid.

CS Lewis,
Grief Observed,
oor sy eensaamheid na dood van vrou.

Wanneer ons God onthou in tye van geluk en vrede,
skryf hy,
voel dit op God ons met ope arms ontvang.

Maar wanneer jy in desperaatheid na God gaan,
wanneer alle ander hulp van nul en gener waarde blyk te wees,
vind jy ‘n deur wat in jou gesig toegemaak word,
die sleutel wat aan die binnekant gedraai word.

En dan stilte.

Ja kan net sowel wegstap,
sê hy,
want hoe langer jy wag,
hoe duideliker sal die stilte word.

Daar is geen lig in die vensters nie.
Dit kon maar net sowel leë huis geweet het.

Waarom, vra Lewis,
is God so teenwoordig in ons voorspoed
en so afwesig in tye van smart?

Selfde gevoel wat digter van Ps 22 verwoord.
Digterlik, allerhande beelde, druk verlatenheid uit:

• Ek is ‘n wurm wat deur mense bespot word;
• Wreedaardige mense, soos beeste uit Basan, slaan op my toe (die beeste uit Basan was bekend vir hul krag en sterkte);
• Verskeurende, brullende leeus storm met oop bekke op hom af;
• Soos die dwalende, honger honde wat so bekend was in elke Midde-Oosterse stad, word hy omsingel en bekyk vir die geskikte oomblik om die doodslag toe te dien;
• Hy is liggaamlik uitgeteer, net been en vel.
Beskryf verlatenheid as iets jou hele bestaan opslurp.
Voel sosiaal geïsoleer,
fisies uitgeteer,
geestelik uitgeput,
psigies afgestomp,
sonder hoop,
sonder raad.
Magteloosheid oorweldig jou.

Op manier –
mindere of meerdere mate –
ken almal gevoel van Godverlatenheid. 

As vir ongelowige wil verduidelik waaroor ons geloof gaan,
sal nie graag Ps 22 aanhaal.

Maar tog waardevol,
want dit sê ons hoe Bybel – en God – is.
Geen menslike ervaring onbelangrik.
Geen diepte van menslike lyding bly ongesê.

Ons mag praat oor diepe ellende waarin ons bevind.
Kernmoment van ons geloof –
Jesus aan kruis –
was juis deur ervaring van ellende gestempel.

Vandag Goeie Vrydag.
Herdenk Jesus sterwe aan kruis.

Jesus neem gebroke en vervalle bestaan van skepping
vrywillig op self.

Dra ons skuld,
namens ons,
twv ons,
voor God.

En deur ons sonde,
opstandigheid
en vervreemding van God
op homself te neem,
word hy vervreem van God.

Maar deur sy sterwe aan die kruis,
haal hy alle Godverlatenheid vir altyd uit die wêreld uit.
Jesus was van God verlaat,
sodat ons nooit van God verlaat sal wees nie.

Selfs al beleef ons diepe Godsverduistering,
beteken dit steeds dat ons nie van God geskei is nie.

God se teenwoordigheid is ‘n belofte,
selfs al beleef ons dit nie.

Soos Emmausgangers,
Jesus by hulle,
beleef diepe gevoel van verlatenheid,
herken Jesus nie. 

Wat moet ons dan doen met ons gevoelens van Godverlateneheid?
Kyk wat Jesus gedoen:
In Godverlatenheid roep  na God!

Hy kies hierdie aangrypende Psalm
om sy krisis voor God
onder woorde te bring.

Sommige skrifverklaarders dink
hy hele Psalm aan kruis geprewel.

Hoe ook al sy,
Psalm word Jesus se noodkreet voor God.

Daarmee leer Jesus ons
om te doen wat digter van Ps 22 gedoen het:
om ons verlatenheid voor God te verwoord.

Duitse teoloog,
Jürgen Moltmann,
vertel dat hy na 2e wêreldoorlog
as jong, ongelowige man,
in geallieerde konsentrasiekamp was.

Daar was kapelaan wat Bybeltjies uitgedeel.
Motlmann begin Evangelies te lees,
maar dit hom geen raad midde omstandighede gegee.
Gelukkig was ook Psalms in Bybeltjie.
Daarin het hy –
tot sy verwondering –
sy eie ellende verwoord gevind,
daar het hy gelees van sy vrese
en sy hulpeloosheid.
En vir God gevind.

My gunsteling teoloog,
Walter Brueggemann,
sê Psalms soos hierdie,
nooi ons uit om elke enkele menslike ervaring
voor God te verwoord,
om niks ongesê te laat nie.

Ons word uitgenooi om vir God te sê hoe ons voel,
en die Psalms gee vir ons die woorde om dit te doen.

Geleentheid,
gevoelens van Godverlatenheid verwoord.
Soms nie woorde –
dalk Ps 22,
of woordloos voor God sit,
dele van persoonlike lewe,
van land,
verlate voel,
vir God bring.

Stilte

Feit dat met God bly praat,
veronderstel dat ook aan God bly vashou.

Luther gesê aanvegting van ons geloof
dat God vreemd voorkom, verborge.
Kuns van geloof egter
te bly reken met goeie, genadige,
barmhartige, openbaarde God.

Gebruik beeld van son wat agter wolke bedek word,
maar tog daar is,
al nie sien of ervaar.

Kuns van geloof is om in jou hart son te bly sien,
al sien jou oë dit nie. 

Ps 22 natuurlik nie hele Psalm gelees.
Klag gelees,
skuif later na hoop.
Here verhoor uiteindelik digter se gebede.
Herdenk Goeie Vrydag met wete Paassondag voorlê. 

Ons troos nie in antwoorde of verduidelikings,
maar in Een op wie hoop gerig is. 
Hy wat self van God verlaat is –
ter wille van ons –
sodat ons nooit weer van God verlaat sal wees nie. 

Vandag saam,
juis aan God vashou,
onsself identifiseer Christus storie –
ook ons storie.

Manier wat Christus ons gegee
om aan hom vas te hou –
manier ons ingenooi in sy storie,
is Nagmaal.

In Nagmaal word ons verbintenis met Jesus,
elke keer ons daaraan deel,
vernuwe.

Brood en wyn
herinner ons aan God teenwoordigheid,
aan Jesus godverlatenheid t.w.v. ons,
help ons om aan God bly vashou.

Jesus is hier.
In Nagmaal besondere manier teenwoordig. 
Brood en wyn gegee,
woorde:
dit is my liggaam,
dit is my bloed.

Nooi vanoggend deel sakrament,
hou ons vas aan God.
Ontvang lewe uit liggaam en bloed van Christus.

Tafel gereed,
gebed:
Lied 379.

Daarna (sonder aank.) tekens uitdeel,
hou,
dink biddend Christus lyding,
liggaam & bloed,
teenwoordigheid,
vashou.

Lied 379,
tafel gereed, tekens uitgedeel.

Jesus het
in die nag waarin Hy oorgelewer is,
brood Geneem en,
nadat Hy God daarvoor gedank het,
het Hy dit gebreek en gesê:
‘Dit is my liggaam;
dit is vir julle.
Gebruik dit tot my gedagtenis.’

Die brood wat ons breek,
 is die gemeenskap met die Liggaam van ons Here Jesus Christus.
 Neem,
eet,
dink daaraan
en glo
dat sy liggaam gebreek is
tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.

“Net so ook het Hy
ná die maaltyd
die beker geneem
en gesê:
‘Hierdie beker is die nuwe verbond,
wat deur my bloed beseël is.
Gebruik dit,
 elke keer as julle daaruit drink,
tot my gedagtenis.’

Die beker van danksegging
is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus.
Neem, drink,
dink daaraan
 en glo
dat sy kosbare bloed vergiet is
tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.

Lied 399:1, 4&5

(Gaan kerk in stilte verlaat – afwagting Paasfees,
kyk voorstelle Graf Saterdag,
oordink sterwe,
berei voor Paasfees)
Gebed

Verlaat kerk in stilte

Lukas 19:28-40 – Jesus se reisgenote – Son 28 Maart 2010

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.

Dink na oor wat die Here die afgelope week vir jou beteken het.  Dank Hom vir die goeie en dra die bekommernisse aan Hom op.

Toetrede

Lied 577 Die Heer, my herder, sorg vir my – sit

Votum en seëngroet
Aanbidding

Lied 390 Ons kniel hier aan u voete neer – sit

Lied 379 Jesus Christus, Lam van God, wat die las van sonde dra – sit

Gebed

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Skriflesing

Lukas 19:28-40

Woordverkondiging

Die héle Suid-Afrika vier fees

Mens is soms deel van iets wat jou opgewonde maak, maar waarvan jy die wonderlike gevolge nie kon voorsien nie.  Die uiteinde is soveel groter as die vreugde om deel te neem aan die aksie self.

Die Rugby-Wêreldbeker van 1995 was so ‘n ervaring vir baie Suid-Afrikaners.  Elke onderdeel was ‘n wonderlike ervaring vir Springbok-ondersteuners.  Dink aan die oorwinning teen Australië in die onvergeetlike openingswedstryd.  Al die hoogtepunte langs die pad.  Uiteindelik hou Francois Pienaar die beker hoog … en ‘n hele nasie juig!  Wie sou ook kon dink, soos die onlangse film Invictus dit uitbeeld, dat die héle Suid-Afrika sou feesvier?

Jesus se missie

Jesus is op ‘n missie, Sy passie is om in Jerusalem te kom.  Hierdie dringende reis na Jerusalem loop soos ‘n goue draad deur die Lukasevangelie.  Jesus moet in Jerusalem kom om die roeping uit te voer waarvoor die Vader Hom gestuur en die Heilige Gees Hom bekragtig het – die aflê van sy lewe aan die kruis ter wille van ‘n gevalle wêreld.

Sy volgelinge juig

As Hy by die stad aankom, bars daar spontane lofprysing onder Jesus se volgelinge uit.  Die reis kom tot ‘n einde, die bestemming is bereik.

Die “hele skare juigende volgelinge” doen wat by die aanskoue van so ‘n Koning pas: hulle “begin God uit volle bors prys” (19:37):

“Loof die koning,
Hy wat in die Naam van die Here kom!
Vrede in die hemel,
en eer aan God in die hoogste hemel!” (19:38).

Daarmee bring hulle die koninklike hulde aan Jesus waarvan Sagaria 9:9 reeds praat: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom.  Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”

En tog sou die skare eers later die volle betekenis van hierdie feestelikheid verstaan.  Hierdie was maar die openingstoneel van ‘n besondere week met diep en donker laagtepunte.  Die laagtepunte sou hoogtepunte blyk te wees.  Uit hierdie week sou daar vreugde en blydskap regoor die wêreld versprei.

Jesus op reis na Jerusalem

Hierdie fokus op Jerusalem is natuurlik iets wat van die begin van die Lukasevangelie af kom. Reg aan die begin, in die tempel in Jerusalem, herken die bejaarde Anna en Simeon in Jesus God se verlossing vir Israel (2:23-38). Op 12-jarige ouderdom is dit juis in die tempel in Jerusalem wat Jesus met die dinge van sy Vader besig is, tot verbasing van die skrifgeleerdes, en tot ontsteltenis van sy ouers.  En dit is opmerklik dat wanneer Jesus begin agterkom dat sy bediening in Galilea (die noordelike provinsie van Israel) voltooiing nader, stel Hy Homself in om na Jerusalem te gaan (9:51): “Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin.”

Hierdie reis na Jerusalem word as ‘n goddelike noodwendigheid uitgebeeld: Hy móét gaan.

Op pad gebeur daar natuurlik nog ‘n hele aantal wonderlike dinge, gesprekke, die uitsending van die 70 dissipels, ‘n hele aantal gelykenisse en leringe, genesings.  Maar dit word die hele tyd in ‘n konteks van hierdie reis na Jerusalem geplaas.  Telkens word daar gesê dat Jesus “op weg, “op reis” is.

Hierdie reismotief beteken dat ‘n mens toenemend begin wonder: Wat gaan gebeur?  En te vra: wat beteken dit vir my om hierdie Jesus-op-reis te volg?

En dan ry Jesus Jerusale binne, in die groot lydensweek, en word die volle betekenis van Jesus se roeping duidelik.  En kom ‘n mens agter, dat dit in die Lukas evangelie nie oor Jerusalem as sodanig gaan nie, maar oor Jesus en oor wat met Hom in Jerusalem sal gebeur.

Aan die een kant word Sy karakter, identiteit en roeping hier beskryf as die nederige, dienende Koning, as die lydende Messias. Hy is die Een wat in die Naam van die Here kom en hemelse vrede na die aarde bring.  Selfs die hemel beleef die vrede, soos die volgelinge dit uitroep.  Daarom swaai ons ook palmtakke en sing lofsange op Palmsondag.  Die uitkoms van die reis is ons hoop en ons vrede.

Aan die ander kant doen Hy dit deur die Paaslam vir sy volk te word; om in ons plek die straf van God te dra; om deur sy dood en opstanding vergifnis en nuwe lewe moontlik te maak.  Gee Hy Homself vir die diepste laagtepunt van ‘n menslike lewe, die dood, die dood aan die kruis.  En weet ons vandag dat die vreugde van die uitkoms Hom ‘n groot prys, die hoogste prys gekos het.

Jesus vorm reisgenote

Maar Lukas vestig nie net ons aandag op Jesus by sy intog in Jerusalem nie.  Hy fokus ook op die mense, die dissipels, wat saam met Jesus Jerusalem binnegaan.  In sy vertelling is dit die dissipels wat Jesus se lof besing op Palmsondag. In die ander evangelies word na mense verwys wat oppervlakkig Jesus se lof besing, maar binne dae teen Hom sou draai en sy kruisiging eis.  In Lukas gaan dit oor die dissipels, “die hele skare juigende volgelinge” (19:37) wat saam met Hom die stad binnegaan.

Vanaf die begin van die Lukasevangelie is Jesus immers doelgerig besig om dissipels rondom hom te versamel en so ‘n reisgeselskap te vorm.  Jesus roep sondaars as dissipels: Simon, wat eers vir Jesus sê, “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.”, en die twee seuns van die donder, Johannes en Jakobus (5:1-11).  En Jesus roep tollenaars, Levi Matteus (5:27).

En wonder bo wonder, hulle laat alles agter om Hom te volg.  Uiteindelik kies Jesus ‘n binnekring van twaalf, wat apostels genoem word (6:13).  ‘n Kern van volgelinge word dus gevorm, terwyl daar ook ‘n groep ondersteunende vroue saam met hulle is (8:1-3).  Hierdie klein groepie volgelinge is alreeds die kern van die herstelde Israel wat Jesus op aarde kom skep het.  Maar dit word elke keer weer uitgebrei, soos met die uitstuur van die 72 dissipels, in hoofstuk 10, om, op Jesus se reis na Jerusalem, die evangelie oral, in elke dorp, en in elke laag van die samelewing te bring, sodat die vrede van God mense se lewens kan verander.

Op reis na Jerusalem word ‘n wyer dissipelkring dus gevorm wat Jesus se werk sou voortsit nadat die gebeure van Groot Lydensweek, nadat die sending van Jesus op aarde, voltooi is, ‘n groep mense wat Hom as Koning erken, Hom verheerlik, sy lof en heerlikheid oral waar hulle kom, uitdra, en as getuies leef van sy lyding, sterwe en opstanding.

En hulle kan nie stil gemaak word nie!  Anders sal die klippe dit uitroep.

Ons is Jesus se reisgenote

En dít is die evangelie vir vandag, die goeie nuus.  Want, Jesus gaan tot vandag toe voort om deur sy Woord en Gees dissipels te vorm.  Óns is deel van sy reisgeselskap.  Óns is deel van die skare volgelinge wat Hom as die dienende, lydende en verheerlikte Koning herken, en lof en eer aan Hom toebring.

Waar Jesus se sending hulle na Jerusalem geneem het, neem Sy reis saam met ons ons sedertdien weg van Jerusalem af, die wêreld in.  Dit is die hele punt van die Handelinge van die apostels, dat ons sy getuies moet wees “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).

Op Palmsondag ontmoet ons dus vir Jesus by die poorte van Jerusalem, en ons besing sy lof.  Ons weet hoe daardie week geëindig het, en watter impak dit op ons wêreld gehad het.  Ons ken die seën wat Jesus gebring het. En ons verheug ons daarin.

Maar dit roep ons ook op om die reis met Jesus van Jerusalem af verder te onderneem en sy vrede na elke duimbreedte van hierdie wêreld uit te dra.

Gevorm tot ‘n gemeenskap van navolgers

Hoe doen ons dit?

Lesslie Newbigin het ‘n wonderlike waar ding gesê: “Jesus het nie ‘n boek nagelaat nie, maar ‘n gemeenskap van navolgers”, mense wat in die voetspore van Jesus volg.  Presies die tema wat ons in die laaste helfte van die kwartaal hanteer het: in die voetspore van Jesus.

Hy verduidelik dan dat ‘n gemeente die evangelie deur haar lewenswyse en haar getuienis oor Jesus se groot dade uitlê.  Ons interpreteer dit vir mense.  Ons wys vir hulle hoe dit werk.

En dit is hoe ons Jesus se boodskap uitdra.  In mense wat leef soos Jesus hulle geleer het,  herken en leer mense die betekenis van die evangelie.  Daarom is ons die manier waarop ons lewe en die wyse waarop ons teenwoordig is in hierdie wêreld so belangrik.

U ken daardie uitdrukking:  “Jou dade praat so hard, ek kan jou woorde nie hoor nie”. As ek myself ‘n dissipel noem, ‘n navolger van Jesus, moet my lewe wys dat ek inderdaad ‘n dissipel is.

Dawn Husnick, ‘n verpleegsuster, vertel van haar werk in die noodgevalle afdeling van ‘n groot Amerikaanse hospitaal.

“In my diensjare by Noodgevalle het ek Jesus daagliks sy koninkrykswerk sien doen deur ‘n groep van sy volgelinge.  Een dag staan egter bo al die ander uit … daardie dag het ek Jesus self gesien.”

Sy vertel dan hoe ‘n pasiënt opgeneem is wat walglik gestink het.  Kom ons noem hom Sakkie. Hy is vasgebind opgeneem, wat beteken het hy was gewelddadig of ‘n psigiatries onstabiele persoon. Nadat die dokter hom vlugtig ondersoek is, is bevind dat hy behoorlik gebad en met anti-bakteriële middels skoongemaak moet word.  Die opdrag was dat Dawn dit moet doen.

“Toe ek na Sakkie kyk, is ek oorweldig deur hartseer.  Hy was rusteloos en het omsamehangend gebrabbel deur sy dik baard en snor.  Sy oë was versluier agter sy lang, woeste hare.  Hierdie arme man het niemand gehad wat hom kon liefhê nie.  Wat sou in die verlede gebeur het om hom in hierdie toestand te laat eindig?  Niemand in Noodgevalle wou regtig na hom kyk, of hom aanraak nie.  Hulle wou hom, en sy gebroke lewe, ignoreer.  Eintlik wou ek ook, maar ek kon nie – ek het aangetrokke tot sy nood gevoel.”

Dawn besluit dat Sakkie in die wasproses vir tien minute lank die liefde van die Here sou ervaar.  Die wagte neem hom na die stort, wat sy, gevul met die Here se liefde, voorberei asof dit ‘n hotel is.  Hierdie vergete man sou soos ‘n koning behandel word.  Terwyl sy hare en liggaam gewas word, sy septiese voete geskrop word en sy naels geknip word, begin die skeptiese twee wagte verstaan wat gebeur, en begin heelhartig saamwerk.  Hulle gee handdoeke aan, en help Dawn met die proses.

“Terwyl ek sy voete doogvee, kyk ek op in Sakkie se oë.  Vir die eerste keer kyk Sakkie se oë in myne.  Vir daardie oomblik was hy by, sy oë wakker en sy gees helder.  Terwyl trane uit sy oë stroom, mompel hy ‘dankie’.  Op daardie oomblik het ek Jesus gesien.  Hy was daar, die hele tyd, daar waar Hy altyd gesê het Hy sal wees”:

“Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg … Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.'” (Matteus 25:35-40)

As reisgenote van Jesus is ons nie bedoel om noodwendig suksesvol te wees nie, in elk geval nie in wêreldse terme nie.  En die evangelie word nie uitgedra deur menslike prestasies, of ‘n kragtige vertoon of behoede ons, geweld nie.  Soos Jesus, is dit deur ons dienende teenwoordigheid in die wêreld dat ons draers van sy goedheid, liefde en herstel kan wees.  Dit is in ons diens aan die minstes wat die grootse boodskap van die evangelie versprei.

Ek sluit af

Dit is ons missie in die wêreld.  Ons is van Jerusalem af en vandag van Somerstrand af gestuur om draers van God se goedheid, sy liefde en die herstel wat Hy kan bring na elke huis, plek en werkplek te wees.

Ons neem so deel aan dinge wat groter eindig as wat ons ooit kan dink of droom.

Rugby-Wêreldbeker 1995 was ‘n wonderlike gebeurtenis.  Maar, in die duisende kleiner en groter dade van toewyding en eerbetoon aan die lydende Dienskneg, wat die vrede van God bring vir gewone mense, neem ons aan iets baie groters deel.  Ons neem deel aan die wedergeboorte van die wêreld.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer
Slotlied

Lied 519 Wees stil en weet: Ek is die Heer – staan

Seën

Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee (Num 6:24-26).

Amen

Lied 313 Amen – staan

My Man het Dementia – Christine Veldsman

My Man het Dementia – Christine Veldsman

Ons is bevoorreg om vir Christine as deel van die liggaam van Christus in Somerstrand te hê.  Ons ken haar hartlike vriendelikheid, haar passie vir gebed en haar getroue betrokkenheid by baie van die gemeente se aktiwiteite.  Haar boek  is aangrypend …, nie net omdat die agtergrond waarteen dit plaasvind ons bekende omgewing is nie, maar omdat die mense waarvan vertel word, vir ons bekend is en die storie van die invloed van dementia daarom ook soveel meer werklik, naby.

Luister na wat Christine en ander sê:

My man Danie het in 1998 ʼn aneurisme operasie ondergaan as gevolg waarvan hy vermoedelik breinskade, dementia, opgedoen het. Dit word beskryf as “a most devastating illness. We are  not concerned about the patient but about the carer. They are a candidate for chronical depression.” Daar is geen hoop op herstel of beterskap nie.  Die psigotiese medikasie het hoogstens ʼn kalmerende uitwerking op die emosionele en aggressiewe uitbarstings.

Ek was gekonfronteer met die grootste krisis in my lewe. Sou ek as gelowige dit regkry om saam met Habakuk te kan sê: “nogtans sal ek jubel in die Here my God?”

Ek het begin skryf en so het my boek “My man het dementia” oor die 12 jaar wat hy siek was, die lig gesien.

Wat die inhoud van die boek betref, sê dr J C E Bouwer op die flapteks:

In hierdie boek maak die lewe kennis met die ervaring en gewaarwordings van ʼn eggenote wat ten nouste met haar man se dementia saamleef. Dit is geen wetenskaplike bespreking van die siekte nie, hoewel daar by tye noodwendig bepaalde feite genoem word.

Dit is eerder die intelligente, begrypende waarneming en evaluering van ʼn lewensmaat se verlies van breinfunksies deur dementia.

Hierdie werk sal ʼn kosbare bydrae maak in talle huishoudings vir liefdevolle begrip en deernis.

Dinie van Pretoria wat die boek gelees het, skryf:  Dele daarvan is vir my oorbekend, en al wil ek die probleem ontken en  weg dink onderstreep dit net weereens vir my die werklikheid. Die goeie van die boekie is dat u hoop bring. Die pad wat die Here met u geloop het en die wyse waarop u geestelik versterk is, beteken vir my baie.

Elsabe van die Kaap bedank in ʼn brief aan hulle vriende vir Cicile wat die boek vir haar gestuur het en sê: dit beteken oneindig baie vir my. Die hoofstukkie wat Christine “Laaste dinge” noem is ook deel van die rouproses waarin ons verkeer. Ek het al die brille vandag gebêre, behalwe die enigste een wat nog darem help. Neem nie meer grootdurkboeke uit nie, want hy wend nie meer enige poging om te lees nie.

Die boek kan van die skryfster by faksnommer  041 583 3341 bestel word.

Dag 5 – Lees Filippense 2:25-30

Daar is heelwat leiers in die Bybel wat glad nie “groot name” is nie.  Hulle is mense wat nooit so bekend soos Moses of Dawid of Paulus geword het nie, al het hulle ’n belangrike rol in die Koninkryk gespeel.  Epafroditos was so ’n mens.  Daar word net in Filippense van hom gepraat.  Daar is nie boeke oor hom geskryf nie, en hyself het nie ’n boek geskryf nie.  Hy was nie ’n groot naam nie.  En tog word hy vir Paulus belangrik.  Hy kom al die pad van Filippi na Rome om by Paulus in die tronk te kom aansluit om hom te versorg.  Hy neem ook hierdie brief terug na die Filippense.  Paulus sê van hom dat hy ’n medestryder en medewerker is, iemand wat sy lewe gewaag en amper verloor het, ’n leier-helper wat onselfsugtig gedien het!

Dag 4 – Lees Filippense 2:3-11

Paulus gebruik Jesus as voorbeeld van ’n dienende leier.  Nadat hy by sy lesers daarop aangedring het dat hulle in nederigheid onselfsugtig moet leef (Fil 2:2-4), herinner hy hulle aan Jesus se menswording.  Hy het die heerlikheid van die hemel en die hoogste posisie agtergelaat om nie net mens te word nie, maar die nederigste vorm van menswees, die misdadigersdood aan die kruis, aan te neem.   ’n Leier wat onselfsugtig dien roep ons op om dieselfde te doen en te wees!