Skip to main content

Dag 14: Gebedsfokus op herlewing: Moenie jou hart verhard nie

Maandag 26 April 2010

Hebreërs 3:13: Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

Oordenking: Die eerste vereiste vir intimiteit met God, is ‘n sagte en gevoelige hart wat met onmiddellike gehoorsaamheid aan God se wil reageer. Hierdie openheid vir God kan verlore gaan as ons toelaat dat wêreldse dinge soos sorge, rykdom en plesier ons harte weglok en veroorsaak dat ons ons fokus weg van God na onsself verskuif. Dan word die verhouding bloot godsdiens. Geloof word selfgenoegsaam en oppervlakkig. Die hart maak stadig toe en sluit God uit.

Persoonlik: Is jou hart tot so ‘n mate deur die wêreldse dinge geïnfiltreer dat jy nie meer vir ander omgee of lief is vir hulle nie? Het jou verhouding met Jesus koud en oppervlakkig geword, fokus jy net op jou behoeftes, jou oorlewing en jou bekommernisse? Laat die Heilige Gees toe om jou hart te ondersoek. Laat Hom toe om jou hart te versag wanneer jy nederig voor Hom staan, deur jouself gewillig aan Sy weë ondergeskik te stel, selfs al mag die proses pynlik wees.

Gemeente: Bid dat die Heilige Gees in jou gemeente sal beweeg om harte te oortuig van diegene wat in so ‘n mate met die wêreld verstrengel geraak het dat hulle nie meer op God se stem kan reageer nie. Bid dat God se Gees die hardheid sal binnedring en dat die Kerk weer sag en buigsaam sal word in God se hande.

Dag 13: Gebedsfokus op herlewing: Die sonde van ongeloof

Sondag 25 April 2010

Dag 13: Gebedsfokus op herlewing: Die sonde van ongeloof

Hebreërs 3:12: Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.

Oordenking: Alle ongeloof is sonde. Ongeloof is nie iets wat as ‘n swakheid geduld kan word nie. ‘n Ongelowige hart het tot so ‘n mate gevul geraak met duisternis dat die persoon God buite rekening begin laat en Hom tot leuenaar maak. Ongeloof mag geen plek in ons harte hê nie.

Persoonlik: Die manier om ongeloof teen te werk, is om na God te draai in die volle vertroue dat Hy is wie Hy sê Hy is. As jy vermoed dat ongeloof besig is om in jou hart in te kruip, begin dan dadelik om Hom in stilte te aanbid en die waarheid uit te spreek oor wie Hy is. Sê vir God dat jy glo dat Hy die Waarheid is en dat alles wat Hy sê, die Waarheid is. Laat jou hart toe om die teenwoordigheid van die lewende God te ervaar. Hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jou hart met geloof vervul word.

Gemeente: Ongeloof ontstaan ook as gevolg van te min gemeenskap met God. Bid dat jou mede-gemeentelede gemeenskap met God sal hê deur gereelde gesamentlike en individuele gebed. Voortdurende gesprekke met God, veral om te leer om Sy stem te hoor, stimuleer geloof.

Dag 12: Gebedsfokus op herlewing: Vul jou siel met Sy heerlikheid

Saterdag 24 April 2010

Dag 12: Gebedsfokus op herlewing: Vul jou siel met Sy heerlikheid

Hebreërs 3:2-3: Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God. Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat ‘n huis bou, meer eer waardig is as die huis.

Oordenking: Jesus se heerlikheid is gegrond op wat die Vader van Hom dink. Jesus se getrouheid is bewys en daarom het God Hom verhef tot die hoogste ereposisie. Ons word nou genooi om hierdie vertroue wat God in Jesus stel, te reken as die versekering dat Jesus vir ons kan doen wat God van Hom verwag – om ons na die Vader te lei.

Persoonlik: Ons reaksie op die vertroue tussen God die Vader en Jesus is om Hom te aanbid. Kyk op na Jesus en aanbid Hom tot jou hele siel gevul is met die kennis van Sy getrouheid aan die Vader en aan jou. Laat hierdie heerlike werklikheid jou hart vervul met volkome vertroue in Hom.

Gemeente: Bid dat Jesus se getrouheid die Kerk met hoop sal vervul, sodat die Kerk weer in die waarheid van God en Sy Woord sal glo. Bid dat die Kerk ‘n nuwe vlak van geloof en gehoorsaamheid sal bereik.

Dag 11: Gebedsfokus op herlewing: Kyk op na Jesus!

Vrydag 23 April 2010

Dag 11: Gebedsfokus op herlewing: Kyk op na Jesus!

Hebreërs 3:1: Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely.

Oordenking: Die geheim van die Christelike lewe is geloof wat op Jesus gefokus is. Dit behels om ons harte op Hom in te stel en Hom te vertrou vir die vervulling van al God se beloftes. Dit is om te glo dat, ten spyte van al ons swakhede en sonde, Jesus in staat is om ‘n heerlike transformasie in ons te bewerkstellig. Maar dan moet Hy die middelpunt en fokus van ons geloof wees.

Persoonlik: Baie mense se geloof in Jesus is net daarop gemik om eendag “hemel toe te gaan”. Hulle begryp nie dat geloof ‘n lewende, elke-oomblik-van-die-dag-interaksie met Jesus is nie. Met betrekking tot Jesus, beteken dit dat jy jou hart en gedagtes op Hom rig en op Sy vermoë om jou meer as ‘n oorwinnaar te maak. Hy wil jou ‘n deelgenoot maak van Sy hemelse roeping. As jy dit begeer, moet jy vroeg-oggend jou hart op Hom instel en so gereeld as moontlik deur die dag, en dit moet die laaste ding wees wat jy doen voordat jy saans gaan slaap.

Gemeente: Bid dat die Kerk sal terugkeer na die feit dat Jesus die Kern van ons geloof is. Bid dat mense sal begeer om Hom te leer ken vir wie Hy werklik is.

Dag 10: Gebedsfokus op herlewing: Oorwinning oor Satan!

Donderdag 22 April 2010

Dag 10: Gebedsfokus op herlewing: Oorwinning oor Satan!

Hebreërs 2:14-15: Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

Oordenking: Satan se mag kom a.g.v. God se oordeel oor die sonde. Sonde verdien die dood en daarom het die dood mag. Satan mislei mense om te glo dat hulle magteloos is in die aangesig van die dood. Deur die straf van die dood weg te neem, het God Satan se mag oor mense verbreek. Diegene wat in Jesus glo, hoef nie die dood te vrees nie, want die dood is net ‘n deur na die ewige lewe.

Persoonlik: Is jy bang om dood te gaan? Waarom nie jou lewe oorgee in die hande van Jesus met die volle versekering dat jy die ewige lewe sal hê nie? Vertrou Hom om jou volkome van alle vrees te bevry en om die ewige lewe ‘n werklikheid vir jou te maak. Bid om van alle boosheid in jou lewe verlos te word.

Gemeente: Bid dat die Kerk sal verstaan wat dit beteken dat die mag van Satan en die vrees vir die dood verbreek is. Bid dat ons as Christene sal verstaan dat ware mag verkry word deur op Jesus te vertrou vir die ewige lewe en om bereid te wees om ons lewens vir Hom af te lê, sodat ander van die bindinge van Satan verlos kan word.

Dag 9: Gebedsfokus op herlewing: Oorwinning oor sonde!

Woensdag 21 April 2010

Dag 9: Gebedsfokus op herlewing: Oorwinning oor sonde!

Hebreërs 2:16-18: Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Oordenking: Jesus kry nie skaam en word nie in die verleentheid gebring deur enige mens nie. Hy weet presies waardeur ons in hierdie lewe gaan. Hy verstaan elke sonde, elke mislukking, elke versoeking, elke emosie en elke verlies. Hy het Homself gegee sodat ons gehelp kan word om alle sonde, versoeking en pyn te oorkom. Ons kan áltyd op Hom vertrou om ons te help.

Persoonlik: Jesus deel in jou lyding en wil hê jy moet deel in Sy vreugde en liefde vir die Vader. Hy is jou Broer. Hy kan jou na die Vader neem en aan die Vader voorstel. Kan jy Hom vertrou om jou te help wanneer jy in die versoeking is? Hy wil jou vertroue met Sy hulp wen. Gee jouself en jou stryd om sonde te oorwin, aan Hom oor. Laat Hom toe om jou te oortuig en jou tot inkeer te bring.

Gemeente: Bid dat Christene sal besef dat Jesus daar is om ons te help om elke versoeking om sonde te doen, te oorwin. Hy het dit oorwin, dus weet Hy hoe om ons te help om ook te oorwin. Bid dat ons as die Kerk Hom sal vertrou om ons te help om sonde en versoeking te oorkom, en nie ‘n kompromie met die wêreld aan te gaan as gevolg van ons eie onvermoë om sonde met wilskrag alleen te oorwin nie.