Dag 5 – Lees Filippense 2:25-30
Daar is heelwat leiers in die Bybel wat glad nie “groot name” is nie. Hulle is mense wat nooit so bekend soos Moses of Dawid of Paulus geword het nie, al het hulle ’n belangrike rol in die Koninkryk gespeel. Epafroditos was so ’n mens. Daar word net in Filippense van hom gepraat. Daar is nie boeke oor hom geskryf nie, en hyself het nie ’n boek geskryf nie. Hy was nie ’n groot naam nie. En tog word hy vir Paulus belangrik. Hy kom al die pad van Filippi na Rome om by Paulus in die tronk te kom aansluit om hom te versorg. Hy neem ook hierdie brief terug na die Filippense. Paulus sê van hom dat hy ’n medestryder en medewerker is, iemand wat sy lewe gewaag en amper verloor het, ’n leier-helper wat onselfsugtig gedien het!