Skip to main content

Saterdag 17 April 2010 – Dag 5: Gebedsfokus op herlewing: Geregtigheid en vreugde

Hebreërs 1:8-9: “Maar van die Seun sê Hy: ‘U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.'”

Oordenking: Geregtigheid is hoe God ons karakter toets aan Sy standaard van reg en verkeerd. Wat beteken die woord “karakter” vir jou? Hoe het Jesus karaktergewys aan God se standaarde voldoen?

Persoonlik: Kan jy eerlik sê dat vreugde die oorweldigende, aanhoudende toestand van jou siel is? Indien nie, het jy jou al ooit onderwerp aan God s evaluering van die toestand van jou siel? Wil jy dit nie nou doen en Hom vertrou om jou van enige ongeregtigheid te oortuig nie?

Gemeente: Die karakter van die Kerk is die weerspieëling van die gemeenskaplike reaksie van die gemeentelede teenoor God self. Bid dat gemeentelede sal reageer op die Heilige Gees se verlange om mense na God te trek.

Vrydag 16 April 2010 – Dag 4: Gebedsfokus op herlewing: Die heerlikheid van die Seun

Hebreërs 1:2-3: “…die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.”

Oordenking: As Jesus die ewebeeld van die Vader is, kan ons dan die ewebeeld van Jesus wees? By implikasie – as die heerlikheid van God uit Jesus straal, moet die heerlikheid van Jesus dan nie uit ons straal nie?

Persoonlik: Glo jy dat God Sy natuur op jou wil afdruk deur ‘n persoonlike, intieme verhouding met Hom? Sê vir Hom dat jy verlang om die onsigbare heerlikheid van God deur Sy werk in jou te sien, om jou sodoende te herskep na die beeld van Sy Seun.

Gemeente: Bid dat jou gemeente die heerlikheid van God so sal uitstraal dat die hele plaaslike gemeenskap Hom sal sien.

Donderdag 15 April 2010 – Dag 3: Gebedsfokus op herlewing: Die heerlikheid van die Seun

Hebreërs 1:2-3: “… die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.”

Oordenking: Hoe kwalifiseer Jesus om deur God aangewys te word om Hom by die mense te verteenwoordig?

Persoonlik: Hunker jy daarna om deel te hê aan die verhouding tussen die Vader en die Seun? Verwoord hierdie verlange in ‘n gebed tot Jesus om een met Hom te wees.

Gemeente: Bid dat die lidmate van jou gemeente ‘n honger sal ontwikkel om God intiem te ken en met Hom een te wees soos wat Hy beloof het.

Woensdag 14 April 2010 – Dag 2: Gebedsfokus op herlewing: God praat

Hebreërs 1:1-2: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”

Oordenking: Is daar ‘n verskil tussen wanneer God deur die profete praat en wanneer Hy deur Jesus praat?

Persoonlik: Weet jy wat dit beteken dat God deur Sy Seun met jou praat? Spreek jou begeerte uit dat God deur Jesus met jou moet praat. Onderwerp jouself aan die leiding van die Heilige Gees wanneer Hy die Seun aan jou bekend maak.

Gemeente: Bid dat die Heilige Gees oor julle gemeente sal sweef soos Hy in die begin oor die waters gesweef het voordat God lig gespreek en die hele skepping tot stand gekom het.

Dinsdag 13 April 2010 – Dag 1: Gebedsfokus op herlewing: God praat

Gebedsfokus: Herlewing – 13 April – 12 Mei

Ps.69:33… dié wat by God hulp soek, sal moed skep…

Die volgende 30 dae gaan ons spesifiek fokus op herlewing in die kerk wêreldwyd. Die gebedsaanwysings fokus op jou eie verhouding met God sowel as op die plaaslike gemeente waaraan jy behoort se verhouding met Hom. Dit is goed om vir die groter Kerk te bid, maar wanneer jy bid, bid dat die mense wat jy ken, nuut sal word en nuut sal leef.

  1. Begeer met jou hele hart dat die Here jou weer sal vernuwe.
  2. Laat jou hart stil word voor Hom en stel jou hart oop vir die Gees van God om in jou en deur jou te werk.
  3. Stop na elke Skrifverwysing en gebedsversoek en laat die Woord toe om jou ontvanklik vir God se teenwoordigheid te maak, voordat jy bid.
  4. Na jou gebed, raak stil voor die Here en wag op die Heilige Gees om met jou te praat en in jou hart te werk.

Hebreërs 1:1-2: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”

Oordenking: Watter taal gebruik God? Hoe praat Hy vandag met ons?

Persoonlik: Verklaar dat jy glo dat God vandag steeds kan praat en wel praat. Vertel Hom van jou begeerte dat Hy persoonlik en verstaanbaar met jou moet praat. Vra dat die Heilige Gees aan jou bekend moet maak hoe God met jou praat. Vra dat Hy Homself aan jou sal openbaar deur Sy Woord, Jesus Christus.

Gemeente: Bid dat God se stem oor jou gemeente sal weerklink. Vra dat die mense se ore ingestel sal wees om na Sy stem te luister.

Maandag 12 April 2010 – Dag 10: Onthou die fonteine van herlewing van ouds

Esegiël 47:9, 12: “Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe …Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”

Die uitstorting van God se guns en genade op die Kerk sal outomaties elke aspek van ons samelewing beïnvloed. Wanneer die Kerk in die regte verhouding met God staan, sal die nasie genesing ervaar. Vra dat die Kerk in ons nasie weereens ‘n weerspieëling van die hart en ontferming van Jesus sal wees. Bid dat God jou as ‘n instrument sal gebruik om heling vir mense om jou te bring.