Skip to main content

Dag 23: Gebedsfokus op herlewing: Vertroue om nader te gaan

Woensdag 5 Mei 2010

Hebreërs 4:16 Kom ons gaan dan met vertroue na Sy genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

OORDENKING: Ons vertroue is gegrond op die medelye en krag van ons Hoëpriester. Het jy hierdie vertroue? Hoe word Sy medelye en krag in jou lewe vertoon?

PERSOONLIK Oefen hierdie vertroue: 1. Gaan na God as die Een wat op die troon sit. Hy is genadig. Hy wag om jou te ontvang. Hy het jou lief. Bestee tyd om jou hart aan Hom te gee om hierdie waarhede te aanvaar en joune te maak. Buig voor Hom. 2. Gaan met vertroue en geloof dat Hy jou ter wille van Jesus sal ontvang. Vertroue beteken ek aanvaar  ie offer van Jesus; ek eer die werk wat Hy doen; ek eer die Vader; ek gee erkenning aan die Hoëpriester en wil gemeenskap met Hom hê. Terwyl jy bid en nadat jy gebid het, wees stil en dink na oor wat tussen jou en Hom gebeur. 3. Hoe meer jou siel met Jesus as die Hoëpriester besig is, hoe groter sal jou vertroue word. Hy wil met groot teerheid een wees met jou. Hy verstaan, Hy voel wat jy voel, Hy stel Hom in jou plek. Vertoef in Sy teenwoordigheid.

GEMEENTE: Bid dat die Kerk hierdie wonderlike waarheid sal begryp: By die troon van die Here kan die hele mensdom steeds genade en barmhartigheid vind. Dit is nog nie die tyd van oordeel nie. Bid dat elke lidmaat van die Kerk dit sal verstaan en van die geleentheid gebruik sal maak om na die troon te gaan en genade en ontferming te vind in ‘n tyd van nood.

Dag 22: Gebedsfokus op herlewing: ‘n Simpatieke Hoëpriester

Dinsdag 4 Mei 2010

Hebreërs 4:15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.

OORDENKING: Jesus is bekend met al die kwessies waarvoor die mens te staan kom. Hy het dit immers self ondervind. Hy het Homself ontledig van Sy goddelike mag sodat Hy werklik mens kon word. Hy is geduldig met ons swakhede omdat Hy presies weet hoe ons voel. Sy fokus is nie in die eerste plek om te oordeel nie, maar om ons te help om ons swakhede te oorwin net soos Hy ook die sonde oorwin het. As jy jou daarop instel om hierdie waarheid te verstaan, sal jou hart vertroos word en sal jy hoop ontvang dat jy van enige vorm van sonde vrygemaak en verlos kan word.

PERSOONLIK: Jesus is ons vertroue waardig! Al wat nodig is, is dat ek myself onvoorwaardelik en volkome aan Hom oorgee. Ek moet nooit terneergedruk of teleurgesteld oor myself word omdat ek skynbaar nie ‘n sondelose lewe kan voer nie. Ek moet myself volkome aan Hom onderwerp en op geen manier Sy planne met my teenstaan nie. Wil jy jouself nie nou volkome aan Hom oorgee nie?

GEMEENTE: Bid dat die Kerk ‘n intense begeerte sal hê om ‘n liggaam te word wat geheel en al en volkome sonder sonde is. Bid dat die Kerk ook so barmhartig en simpatiek teenoor sondaars sal wees as wat Jesus was. Laat ons ons veroordelende houding bely en die Here Jesus vra om Sy hart vir ons te gee.

Dag 21: Gebedsfokus op herlewing: Jesus in die hemel

Maandag 3 Mei 2010

Hebreërs 4:14 Terwyl ons nou ‘n groot hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.

OORDENKING:Die werk van Jesus ons Hoëpriester het ‘n tweeledige doel. Op die aarde het Hy Homself aan die kruis geoffer as die Lam van God. In die hemel sit Hy aan die regterhand van God en tree op as ons Hoëpriester en Voorspraak. Dit is nodig dat ons al twee ampte verstaan. Jesus verteenwoordig ons in die hemel, maar ons moet ook weet dat ons saam met Hom regeer vanuit die hemele (Ef.2:6).

PERSOONLIK: Bely jy gereeld dat Jesus jou Hoëpriester is? Deur dit te doen gee jy erkenning aan Hom en die werk wat Hy doen. Jou interaksie met Hom as die Hoëpriester beteken ook dat die krag van die hemelse lewe tot jou beskikking is. As jy aan hierdie belydenis vashou, sal die houvas van die sonde en van die duiwel op jou lewe verbreek word. Kyk na Jesus in die hemel. Plaas jou vertroue op Hom en laat jou hart by Hom bly. Sy vrede sal dan in jou hart inkom.

GEMEENTE: Bid dat die Kerk die openbaring van Jesus as Hoëpriester sal ontvang. Bid dat hierdie waarheid die houding van die kerk oor sonde en Satan sal transformeer van een van tou opgooi na een waarin alle hindernisse oorkom kan word in ooreenstemming met God se beloftes.

Dag 20: Gebedsfokus op herlewing: Die Woord is aktief

Sondag 2 Mei 2010

Hebreërs 4:12-13 Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur tot selfs die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor Sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Oordenking: Die Woord van God is die swaard van die Gees. Ons verstaan dit gewoonlik binne die konteks van geestelike oorlogvoering teen die bose, maar hier is dit duidelik dat die eerste doel van die Woord is om ons harte binne te dring, en om daar die oorgeblewe duisternis in ons te konfronteer. Die Woord van God moet op so ‘n wyse gelees en gebruik word dat die bedoelings van ons harte geopenbaar word. Is jy op so ‘n wyse by die Woord betrokke?

Persoonlik: Jou interaksie met God hang af van jou interaksie met Sy Woord. Die Woord is die Waarheid. Jou lewe moet by die Waarheid aangepas word. Wanneer jy die Woord lees, moet jy die Woord toelaat om jou lewe te ondersoek en jou van jou sonde te oortuig. Bely jou oortredinge en vra die Heilige Gees om jou optrede aan te pas in ooreenstemming met die Woord. Laat jou hart toe om naak en ontbloot voor God se oë te staan.

Gemeente: In tye van herlewing kom geloofsoortuiging grotendeels wanneer die Woord in krag en in waarheid verkondig word. Bid dat die Kerk na die stewige fondament van die Woord sal terugkeer. Bid vir predikers wat die Woord sonder kompromie preek, sodat dit soos ‘n swaard is wat mense se harte sal binnedring.

Dag 19: Gebedsfokus op herlewing: Rus van werk

Saterdag 1 Mei 2010

Hebreërs 4:10-11 … want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan.

Oordenking: Dit is oënskynlik twee teenoorgesteldes: “rus van werk” en “beywer om in te gaan”. Rus van werk beteken nie om niks te doen nie. Dit beteken dat ‘besigwees vir God’ nie noodwendig vir jou die vrede sal gee waarna jy soek nie. Hierdie vrede kom slegs wanneer jy geleer het om in intieme gemeenskap met God deur Jesus Christus te rus. Die strewe is om in te gaan; dit beteken om lang tye in God se teenwoordigheid deur te bring, en die Heilige Gees en Jesus toe te laat om in jou te bewerk wat jy self nie kan doen nie.

Persoonlik: Die werk wat gedoen moet word, is om jou geloof te oefen. Om jou geloof te oefen moet jy jou in God se teenwoordigheid plaas, glo dat Hy jou hoor en op Hom wag om met jou te praat. Dan bly jy daar by Hom, terwyl jy partykeer luister, partykeer aanbid en partykeer die Woord se beloftes as’t ware ‘terugbid’ na Hom. Here, help ons om in te gaan en U teenwoordigheid te ervaar!

Gemeente: Bid dat God barmhartig sal wees en ‘n gees van gebed op die kerk sal uitstort. Soek ander gemeentelede op en begin om saam te bid en God te soek vir jou gemeente.