Skip to main content

Jesaja 50:4-9 – Son 5 April 09

Skriflesing

Die boek Jesaja kan volgens geleerdes in drie dele verdeel word.

  • Hoofstuk 1 tot 39 is voor die ballingskap geskrywe in die 8ste eeu, toe Juda bedreig was deur Sirië en Assirië as gevolg van veral hulle sosiale sondes en die Here se straf daarop.
  • Hoofstuk 40 tot 55 is heel moontlik geskrywe gedurende die ballingskap in Babilon.  Dit is vol hoop dat God binnekort die ballingskap sal ophef.
  • Die laaste deel in hoofstuk 56 tot 66 is heel moontlik geskrywe ná die terugkeer na die beloofde land, met ‘n mengsel van hoop en wanhoop, hoop op God se trou om sy volk te herstel, wanhoop omdat die volk só traag is om op sy ingrype te reageer.

Hoofstuk 40-55 het vier dienskneg liedere, dele wat eintlik die vloei van die boek onderbreek, maar tog ‘n onderlinge eenheid het.

  • In die eerste lied (42:1-7) gaan dit oor die keuse van God se dienskneg, wat God se Gees ontvang en God se wil bekend maak en ‘n lig vir die nasies word.
  • in die tweede lied (49:1-7) gaan dit oor die worsteling van die dienskneg of sy arbeid die moeite werd sou wees, en wat verseker word dat dit nie net Israel is wat baat daarby sal vind nie, maar al die nasies.
  • In die derde lied, die lied wat ons gaan lees (50:4-9), gaan dit oor die dienskneg wat getrou bly aan sy opdrag, presies sê wat hy hoor, ten spyte van die lyding wat hy ervaar.
  • In die vierde lied, (52:13-53:12) gaan dit oor die ontsag vir die lydende en verworpe dienskneg, selfs onder die heidene, juis omdat hy goed gedoen het terwyl hy ly, vir ander die straf gedra het, en deur dit alles geduldig gewag het op God se verlossing.

Dié dienskneg is die volmaakte Israeliet, een van onoortreflike heiligheid, die Messias, dié een waarmee Jesus Homself identifiseer het, en dié een met wie die evangelieskrywers Hom ook identifiseer het.

Jesaja 50:4-9

Woordverkondiging

Ek is gefassineer met die laaste week van Jesus se lewe.

Die Saterdagaand na die Sabbat het Jesus nog in Betanië, naby die Olyfberg (Mark. 11), gekuier by Lasarus, Marta en Maria, in die huis van Simon, waar Maria sy voete gesalf het met nardusolie.  En het Hy gesê dat sy dit gedoen het vir sy begrafnis (Joh. 12).

Die volgende oggend, Sondag, wat ooreenkom met vandag, het hy Jerusalem binne gery op die rug van ‘n donkie met die skare wat geskree het, Prys Hom!  Hosanna vir Hom wat kom in die Naam van die Here (Joh. 12).

Die eerste ding wat Hy in Jerusalem gedoen het, was om die tempel in te gaan en die handelaars uit te jaag.  My Vader se huis is ‘n huis van gebed – en Ek sal nie toelaat dat dit ‘n rowersnes gemaak word nie (Luk. 20 – al 4 evangelies vertel hiervan), het Hy gesê.

Dan begin Hy om die mense in die tempel te leer – en die volk het gretig na Hom geluister (Luk. 20).

Die komende Lyding

Van die dinge wat Hy die mense leer, het te make met die komende lyding:

Hy vertel bv. die gelykenis van die boere en die wingerd wat die eienaar se seun doodmaak en hulle blootstel aan vergelding (Luk. 20).   Daarmee sit Hy die komende stryd met die Joodse establishment vierkantig op die tafel (Luk. 22).

In dieselfde lyn weier Hy om na die pype te dans van die priesterhoofde en skrifgeleerdes en familiehoofde wat Hom uitvra na sy gesag – omdat die vraag volgens Hom uit skynheiligheid gebore is (Luk. 20).  En Hy troef hulle vrae oor belasting en die opstanding uit die dood (as jy nou meer as een vrou hier het, wie is jou vrou aan die ander kant?) en sy afkoms van Dawid (Luk. 20).

Daarom berispe Hy ook sy dissipels oor hulle sug na mag (Luk 22) en praat oor die ware grootheid, die grootheid van een wat dien, ten spyte van lyding wat jou deel kan wees, soos Hy met die voete was episode illustreer op die laaste aand by die nagmaal se instelling (Joh. 13).

Die komende koninkryk

Van die dinge wat Hy die mense leer, het te make met die komende koninkryk:

Hy praat eintlik die hele tyd oor wat in die koninkryk belangrik is: die gawe van die arm weduwee (Luk. 21) en die volharding in tye van swaarkry (profetiese rede Luk. 21 en die ander evangelies) en die groot gebod (Mark. 12 en Matt 22) en wie nou eintlik in die koninkryk sal ingaan – sondaars wat glo (Matt. 21 en ander).

Hy skets die koms van die koninkryk met die wonderlike verhaal van ‘n bruilofsfees, wanneer die ongenooide gaste sal aansit by die koning se bruilofsfees (Matt. 22).  En brei daarop uit met die gelykenisse van die getroue en ongetroue slaaf (Matt. 24), die vyf onverstandige en vyf verstandige meisies (Matt. 25), die gawe van die muntstukke en die pragtige gelykenis van die laaste oordeel, met die metafoor van die skape en die bokke.

Hy vertoef elke nag op die Olyfberg

Maar wat my die meeste tref, is dat Hy elke aand, na Hy die mense deur die dag in die tempel geleer het, regdeur Sondag, Maandag, Dinsdag en Woensdag, uit die stad uitgaan en buite op die Olyfberg vertoef – om die volgende dag maar weer in die tempel die mense te leer.  Soos Lukas sê: “In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister (21:38)”.

En dan die laaste aand, Donderdagaand, na die nagmaal, sê Lukas, dat Jesus weer die stad verlaat en “volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan” het (22:39).  D.w.s. Jesus gaan na die plek waar Hy al van Sondagnag af vertoef het, uiteindelik na die tuin Getsemane op die Olyfberg, waar Hy sou worstel in gebed en uiteindelik deur Judas verraai sou word.  Judas het natuurlik saam met Hom die week daar vertoef, en het dus goed geweet waar Jesus dié nag sou wees.

Hoekom tref dit my so?

Wel, ek dink, dit het te make met my eie blootstelling aan die verhaal van Jesus in die Bybelskool die afgelope kwartaal.  Ons het Lukas en Handelinge deurgelees en dit het ‘n groot effek op my gehad.

Die evangelie en die uitbreiding van die evangelie het met Jesus te make.

Selfs al is Handelinge die verhaal van die Gees en die kerk, sentreer dit steeds om die boodskap van die Goeie Nuus in Jesus.

Maar, daar is nog ‘n dieper rede.  In my kyk na Jesaja 50, en onthou, Jesus haal gereeld uit Jesaja aan reg deur sy bediening, is dit asof ek nie anders kan as om Jesus in elke woord daarvan te herken nie.

Ek herken Jesus in elke woord van Jesaja 50.

Die dienskneg word in Jesaja 50 as volg geteken:

  • Die dienskneg is ‘n dissipel/leerling van God – God het sy oor geopen, geleer om te luister, en geleer om die regte woorde te gebruik.  Dit gebeur daagliks, en dit gebeur sonder teëstribbeling, en dit gebeur ten spyte van die aanslae en teenstand teen sy bediening.
    • En ek sien Jesus op die berg besig met God, met oop ore, besig om te luister vir die volgende dag, vir die regte woorde, vir die moed om nie terug te deins vir die skerp kante daarvan nie, maar ook die deernis daarin raak te sien, om mense te bemoedig.
  • Die dienskneg is ‘n prediker-profeet – Hy praat dié wat moeg is moed in, selfs dié wat in rebellie is teen God.  Ten spyte van selfs die fisiese leed wat Hom aangedoen word, gaan Hy aan met bemoediging, maar nie net in die algemeen nie, woorde vir spesifieke situasies.  Hy is ‘n profeet-prediker.
    • Lees juis dié week iets van Gordon MacDonald, waar hy ‘n onderskeid tref tussen predikers en profete – predikers verkondig die meer tydlose waarheid van God, profete die spesifieke woord van God vir die spesifieke situasie waarin mense en die volk hulle bevind – hulle onderskei die kairos van God, die tyd van beslissing, die tyd wat jy nie kan vermy nie.
    • En dit is hoe ek Jesus ook daar op die berg en dan weer in die tempel sien: besig met die indringendste dialoog van sy lewe, besig om nie net te antwoord op vrae nie, maar ook die werklikheid te skep, die sonde van die leiers aan die kaak te stel, en nie terug te deins vir die onvermydelike reaksie, om die boodskapper te kruisig.  Hy kies wel sy tyd, moes eers die hele volk aan die boodskap bloot stel, maar Hy het geweet, aan die einde wag die kruis, en Hy is onwrikbaar in sy oortuiging.
  • Die dienskneg is volledig getrou aan God – Hy rebelleer nie teen sy opdrag nie; Hy draai nie weg van bespotting en veragting en fisiese marteling nie; Hy ontstel Hom nie oor enigiets wat met Hom gebeur in die uitvoering van sy opdrag nie.  Hoekom nie?  Omdat Hy weet 1) die woorde kom van die Here af, Hy hoor dit immers elke dag 2) die Here help Hom in die uitvoering van sy opdrag, 3) God is naby, en dié sal Hom onskuldig verklaar tot die verleentheid van dié wat Hom aankla.
    • Weereens, dié woorde kan op baie mense van toepassing gemaak word, maar dit pas Jesus doodgewoon die beste, veral in hierdie laaste week van sy lewe – Hy hoor God se woorde vir elke dag en lewer dit onverdund, Hy maak nie staat op sy eie krag nie, maar op dít wat God Hom gee, ontstel Hom nie oor die teenstand nie, deins nie terug daarvoor nie, rebelleer nie teen sy opdraggewer, God, nie, en verlaat Hom in die laaste instansie op dié Een wat sy onskuld ken.  Hy is tot in die laaste instansie getrou aan God.
En dít is die Woord van God aan elkeen van ons.

1. Ons is geroep om radikaal anders as die wêreld te lewe.

Ek het al die storie vertel van die vriende wat besluit het om ‘n speelhok vir ‘n vriendin te gee wat so pas geboorte gegee het aan haar vierde kind. Sy het hierdie dankie-sê briefie vir hulle geskrywe: “Baie dankie vir die speelhok. Dit is wonderlik. Ek sit elke middag daarin en lees. Die kinders kan nie naby my kom nie!”

As ‘n mens dink dat Christenskap dít vir jou sal doen, die lewe net vir so rukkie van jou af kan weghou … dan gaan jy teleurgestel word, want Jesaja 50 vertel ons van die teendeel – die lewe is in jou gesig en op jou rug …

“You can’t have an omelet without breaking eggs. The same is true in confronting evil.” (Utah Phillips)  Dit is die ervaring van almal wat regtig getrou wou wees in hulle dissipelskap, dat daar ongelooflike risiko’s in die navolging van die Here Jesus is, dat dit ‘n pad van groot lyding en ontbering is, maar dat daar geen ander manier is nie.

Ons is geroep om radikaal anders as die wêreld te lewe.  En nie op te hou daarmee as dit groot eise aan ons stel nie.

Handdoek ingooi, is nie waarvoor handdoeke gemaak is.  Opgee is nie waarvoor gelowiges gemaak is.

Daar is ‘n groot stuk wysheid en “tot-rus-kom” as ‘n mens aanvaar dat jou pad … jou pad is … en dat daar niks meer verskrikliks is as dat jy nie meer jou pad … die pad wat die Here vir jou uitgestippel het … sal loop nie. Uiteraard moet ‘n mens daagliks luister na die leiding van die Here … en dit is presies wat God doen … Hy lei ons daagliks, nie weekliks of maandeliks of jaarliks nie … daagliks.  Soos ‘n leerling laat God ons elke oggend opnuut luister … en dít is jou pad, die pad wat jy moet loop.

Daar is ‘n groot stuk berusting wat kom as ‘n mens dit aanvaar en jou fokus plaas op die doen van God se wil vir jou lewe … en jy nie daarteen teenstribbel nie.

2. Ons is geroep om nie direkte vergoeding vir ons lyding te verwag nie

Een van die moeilikste uitdagings vir diens, is hierdie stryd teen selfsug. Ons ego’s roep uit na erkenning en kollig! Ons wil graag ‘n klop op die skouer ontvang… maar Jesaja 50 vertel ‘n ander storie – “luister” neem jou uit die kollig, dit plaas die kollig op die persoon wat gedien word en uiteindelik op die Persoon wat jou inspireer om te dien… Dis so anders as wat die geval is in die wêreld.

Die beloning vir die goeie wat jy doen, lê baie keer, eintlik meesal, in die toekoms.  Die beste beloning is eintlik in die blote gehoorsaamheid van die Here se wil, nie in die dankie-sê van mense en/of die Here nie.  Wanneer dit kom, geniet dit.  As dit uitbly, soos dit gewoonlik gebeur, neem verlief daarmee.

3. Ons is geroep om ons diens te verrig met grasie en elegansie

Dit is een van die dinge wat ek die moeilikste leer, om met grasie en elegansie, ‘n tweede en derde en vierde myl te stap, ten spyte van onkunde en/of onbekwaamheid en/of kwaadwilligheid.

  • Jesus het Judas, sy verraaier, verdra … selfs hier saam met Hom op die berg … sou ek nie ook my verraaiers verdra nie?
  • Hy het Petrus, sy verloëner, verdra … sou ek nie ook dié wat my verloën verdra nie?
  • Hy het Paulus verdra, sy vyand … en van hom een van sy getrouste diensknegte gemaak … sou ek nie ook dieselfde doen om van my opponente my vennote te maak nie?

4. Ons is geroep om met alles in ons lief te hê

Daar is nie kortpaaie na die vervulling van ons lewensroeping nie.  Dit loop deur die seer van omgee.  Dit kom tot stand deur die pyn van misverstand en teëstand. Dit vra van ons dat ons die kruis sal opneem en enduit sal dra.

Maar, as ons bereid is om die risiko’s te neem, as ons bereid is om lief te hê ten spyte van die koste daarvan, dan kan ons uitsien na wat God kan doen met ons lewens, soos wat Jesus illustreer met sy verhale van die komende koninkryk, veral na die bruilofsfees wat wag vir dié wat getrou was aan hierdie Jesus.

Jer 31:31-34 – Son 29 Maart 09

Daar is baie dinge wat ons ontstel in die lewe.
  • Onreg – dink maar net aan die debakel met die Kouga waardasies en die regering se weiering van die Dalai Lama se visum,
  • Misdaad – Greenacres onlangs weer mense geskiet met ‘n rooftog,
  • Immoraliteit – saak van Barbie wat voortsleep,
  • Siekte – Japie en Dalene in die hospitaal en ‘n hele paar ander op die lys,
  • Dood – Len Hudson se vrou nou onlangs en my vriend Piet Delport wat selfmoord gepleeg het.

En ons kan lank gesels oor die redes daarvoor, en hoe ‘n mens dit verwerk, en hoe ‘n mens jou beskerm teen die onsekerhede van die lewe.  Maar, laat ons eerlik wees, die lewe is nie en sal nooit maklik wees nie.

Ek het baie geworstel hiermee die afgelope tyd, en het Vrydag ‘n woord in Psalm 46 gekry wat my hoop gegee het.  Dit is die bekende vers 11: “Wees stil en weet, Ek is die Heer.” Een van die kommentare vertaal dit met: “Relax, and know that I am God” wat ooreenkom met die Hebreeuse רָפָה wat letterlik beteken “hang limp“.  En die tweede deel van die vers gee die motivering vir die ontspan aan: God is hoog bo die nasies, en hoog bo die aarde, d.w.s. onaantasbaar deur die historiese verloop van dinge, onaantasbaar deur die werklikheid van die aarde en alles wat hier verkeerd kan gaan.

Nou, dit beteken nie dat ‘n mens moet slaplê nie. Dit beteken net dat jy jou fokus moet verander na God toe – minder bekommerd wees oor wat jy kan sien, meer bewus van wat jy nie kan sien nie, en dit is, van God wat betrokke is in die geskiedenis en die werklikheid, die verlede en die hede en boonop die toekoms ook.

En die boodskap wat dit vir my gehad het, is dat ek moet werk met die idee dat God sorg vanuit ‘n onaantasbare posisie, sodat ek die moed het om te doen wat Hy oor my pad bring.

En ek moet sê die Here het op besondere en verskillende maniere in my eie lewe die afgelope tyd ingegryp en ek dank Hom daarvoor.  En hoewel ek nog sukkel met die ontspan deel, werk ek darem al ten minste met die idee dat God daar is en dat ek Hom kan vertrou!

Maar daar is iets waarteen ons geen verweer het nie.  Dit is ons eie hart.

Kyk jy kan nog werk aan die regering en mense monster en briewe skryf en koukus en wat nog ook al.  Jy kan jou mure hoër bou en perimeter defences insit en gesond lewe en oefen en nog ‘n klomp ander goed doen om jou teen die onsekerheid van die lewe te beskerm.  En ek probeer dit glad nie afmaak nie.

Maar jy kan self niks aan jou hart doen nie.

Die hart is verraderlik.  Jeremia skryf in hoofstuk 17: “9 Die hart is bedriegliker as enigiets anders, dit is ongeneeslik; wie kan dit verstaan?” Verdorwe, sê die Ou Vertaling van die eerste Hebreeuse beskrywing עָקֹב.  Deceitful, sê ‘n hele paar Engelse vertalings.  Glibberig sê ‘n ander!  En die volgende beskrywende woord vir die hart in Hebreeus is אָנוּשׁ.  Beyond cure!  Ongeneeslik .

Kortom: die hart is soos ‘n glyerige slymerige donker put, en ‘n ongeneeslike bose sweer wat alles infekteer en tot die dood lei.

Hoekom?

Vers 1 sê: “Die sonde van Juda is ingegraveer met ‘n ysterpen, ingegrif met ‘n diamantpunt op hulle harte.”

In plaas van God se wil, is ons eie wil ingeskrywe op ons harte.  In plaas van liefde vir God en ons naaste, is liefde vir ons self en vir ons eie belange ingeskrywe op ons harte.

En dit is nie iets wat ons op ons eie ongedaan kan maak nie.

Reëls

Dit is nie dat mense nie al in die geskiedenis probeer het om die hart te genees nie.  Maar niks het gewerk nie.  Moses se wet het ‘n stel reëls gegee waaraan ‘n mens jou kon hou en wat die belofte van sukses gehad het.  As jy net God aanbid en niemand anders nie – dan is jy reg.  As jy net een dag rus en die ander werk – dan is jy reg.  As jy net jou vrou liefhet en niemand anders nie – dan is jy reg.  As jy net niks van iemand anders vat nie – dan is jy reg.  En noem maar nog uitsprake van die Tien Gebooie op.

Maar, dit kon nie slaag nie, want al werk dit, en jy doen niks uiterliks verkeerd nie – dan sit jy nog steeds met ‘n bedrieglike en ongeneeslike hart, wat net met die volgende versoeking in glibberigheid  kan verval.  Die sonde is ingeskryf op ons harte.

Vrees

Die profete het probeer deur die volk bang te maak met die oordeel van God, wat ‘n paar keer letterlik ook in vervulling gegaan het.  Maar selfs dié vrees vir die oordeel van God het nie geslaag om die hart van die mens te genees nie.

En laat ons maar eerlik met mekaar wees, wat nie toe gehelp het nie, sal ook nie vandag help nie.

  • Dit help nie om ‘n stel reëls te hê waarmee jy gehoorsaamheid wil afdwing nie, selfs nie iets soos ons Grondwet nie.
  • En dit help nie jy probeer mense bang maak met die oordeel van God nie – dié week het iemand met my kom gesels om my bang te maak met die idee van die wegraping en dat besighede probleme gaan hê as van die vennote skielik weg is en jy nie by die geld kan uitkom nie! Hello!

Die probleem is, dat nie reëls of vrees jou hart gaan regmaak nie.

Net God kan dit doen!

“Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek my woord op julle harte (קֶרֶב – binneste/ingewande) skryf en dit in julle gedagte (לֵב – hart) vaslê. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. Jy sal nie meer vir jou buurman of vir jou familie hoef te sê: ‘Jy moet die Here dien’ nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal julle oortredings vergewe en nie meer aan julle sondes dink nie.”

Jeremia noem dit ‘n nuwe ooreenkoms, ‘n nuwe verbond.  En uit die Nuwe Testament weet ons dat die ooreenkoms met die bloed van Jesus Christus verseël is.

Toe dit donker geraak het vir Hom aan die kruis, toe Hy ervaar het God self het Hom verlaat, het die lig vir ons begin aanbreek.

Wat doen God?

Hy vergewe ons die sonde wat op ons harte ingeskryf is, en Hy skryf nuwe woorde daarop, Sy woorde, woorde wat van binne af ons gehoorsaam maak.  In ons binneste en in ons gedagtes raak die woorde aktief om vir God en ons naaste lief te hê.

Hoe ontvang ons dit?
Eenmalig

Nou – en dit is belangrik – daar is ‘n eenmaligheid hieraan, ‘n dag wat dít vir ons in vervulling begin gaan het.  Ons kan dit die dag of die tydperk noem van ons bekering of ons wedergeboorte of of ons bewussyn van God se teenwoordigheid.  Daardie tyd toe ons vir die eerste keer bewus geraak het van die roering van God in ons binneste – die dag wat ons ja gesê het, die dag wat ons fees gevier het oor ons kinders van God is en ons gevoel het, niks kan ooit weer verkeerd gaan nie, niks kan ons uit die hand van God uitruk nie.

Alledaags

Maar – en dit is nog meer belangrik – daar is ook ‘n alledaagsheid hieraan – die vinger van God wat elke oggend in my lewe sy woorde vir daardie dag skryf, wat regdeur die dag my herinner aan die woorde wat nodig is vir my om van te lewe.

As Jesus in die woestyn vir die duiwel sê, dat Hy lewe van elke woord wat uit die mond van God gaan, is dit hierdie alledaagse woord waarvan Hy praat, die woord vir die versoeking van daardie dag.  Jesus haal Moses aan in Deuteronomium 8:3 wat vir die volk geleer het: “dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat jy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Soos Jesus ook later vir die dissipels sou sê, terwyl die Samaritaanse vrou haar dorpie gaan haal het, “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4).  En dit is iets wat Jesus op ‘n daaglikse basis ontvang het – elke dag, sonder uitsondering.

U sien, as ons toelaat dat daar ‘n dag verby gaan dat ons nie die woord van God op ons harte ontvang nie, dan word dit met ander goed beskrywe – dit hoef nie altyd sonde te wees, growwe dinge wat skeiding bring tussen ons en God nie, maar dit is net nie God se woorde nie.  En as ons nie ons hartswoorde van Hom ontvang nie, dan is dit baie maklik om ander dinge te ontvang, wat in die plek van God se woorde kom, en wat dan nie noodwendig ons heeltemal weglei van God af nie, nie noodwendig ons slegte goed laat doen nie, maar net nie die dinge is wat God wil hê nie.

En dit maak ons moeg, en dit put ons uit, en dit maak ons oneffektief.  Jesus sê nie verniet dat dit voedsel is vir Hom om God se woorde, sy wil, te doen nie.

Uitdaging en pleidooi

U hoor ons die afgelope 6 maande baie spesifiek praat oor geestelike groei.  Want ons het oortuig geraak dat daar niks meer belangrik is as dit nie.  Dat dit is waarom gemeente-wees gaan, mense wat God se woorde hoor en dit gaan doen in hierdie wêreld.

En ons het nou al twee reekse gedoen die afgelope twee kwartale, wat klem lê op hoe geestelike groei werk, en hoe ‘n mens daarby kan inskakel: Hulle het hulle heelhartig toegelê en Druppels vir die dors.  Ons het ook al twee reekse aanbiedinge gehad op Woensdae, Didage, wat vir jou as ‘n hulp gegee is om God se woorde vir jou te ontvang – vir jou huwelik, vir jou eie geestelike groei met Adele Calhoun se goed en John Ackerman se goed en die Bybelskool en Lectio Divina en Op pad met God met ‘n joernaal.

En ons het ‘n ongeveer 80 mense wat verlede jaar en dié afgelope kwartaal daarby ingeskakel het – en dit is goed, ‘n baie goeie begin.

Maar – ons is nie 80 mense in die gemeente nie.  Ons is 1500.  Kom ons laat die kinders buite berekening, hulle gaan immers na kategese toe, en die tieners doen dissipelskap – hulle is ongeveer 300.  En ‘n hele aantal mense bly ver van die kerk af en vir mense in ons tehuise is dit soms onmoontlik om hier te kom.  Kom ons sê daar is ongeveer 800 mense uit die gemeente wat Didage kan bywoon, dan is net 10% van ons mense besig hiermee.

En dit is te min.

En dit gaan nie oor die sukses of nie-sukses van die projek van geestelike groei nie en van Woensdagaande nie.

Dit gaan oor die saak van God se woorde wat elke dag op ons harte geskryf word.  Óf ons leer hoe dit werk en groei geestelik …  óf ons harte word beskrywe met ons eie woorde óf nog erger met die woorde van die wêreld, en ons stagneer geestelik, raak ongeduldig met dié en daaí, begin fout vind, en raak onbetrokke.

God se woorde op ons harte moet ‘n alledaagse werklikheid word – en ons kan mekaar help daarmee.  Ek weet persoonlik, uit eie ervaring, hoe moeilik dit is om alleen te luister, as ek dit dag in en dag uit op my eie doen.

Daar is in my ‘n bekommernis, dat ons hierdie dinge van die kansel af sê, en dat dit aankom by jou, maar sodra jy by die deur uit is, die sorge van hierdie lewe die woorde van God verstrik en uitvee op jou hart.

En ek moet bely: Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is die dag vir my ‘n mislukking.  Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is vir my ‘n vermorsing.  Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is vir my ‘n fiasko.  En ek wonder vir hoe baie van ons dit nie so is nie?

Dit is nie die dramatiese goed wat in my lewe gebeur wat dit ‘n mislukking en ‘n vermorsing en ‘n fiasko maak nie.  Nee, dit is die middelmatigheid, die insigloosheid, die hooploosheid van die daaglikse gesprekke waarvan ek lees in die koerante en wat ek sien op die TV en wat ek hoor in ons onderlinge gesprekke, wat  die lewe uit my pers en wat, as dit al is wat ek hoor, van my lewe ‘n mislukking en ‘n vermorsing en ‘n fiasko maak.

Jy sien, ons harte word daagliks beskrywe – en as dit nie ook God is wat daarop skrywe nie – dan word ons harte gou-gou hard en onbuigsaam en ongevoelig.

Ek rig dus ‘n uitdaging en ‘n pleidooi – nie ‘n reël nie, en ek maak jou ook nie bang nie.  Skryf in vir een van ons aanbiedinge vir geestelike groei.  Maak die afspraak en hou daarby.  As jy uitstedig moet wees, kom dan die ander tye.  Gebruik ons webtuiste om by te bly – dit is waarvoor ons dit geskep het.  En as jy iets anders wil voorstel wat jy graag saam met ons wil doen – stel dit voor.  As jy liewer in ‘n kleingroep wil inskakel of een wil begin, kom gesels met ons. Dit wil voorkom asof dit makliker is om nuwe groepe te begin – so kry ‘n maat en kom sien my.

Maar moenie wegbly nie.  Ons het mekaar nodig om mekaar moed in te praat en by mekaar te leer en saam die teenwoordigheid van die Here te ervaar.

Soos God met ons ‘n ooreenkoms gesluit het – Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees – kom ons sluit ‘n ooreenkoms met mekaar – om mekaar te ondersteun in ons eie luister na sy stem.

Amen.

Ps 107 – So 22 Mrt 09

Sondag, 22 Maart 2009

Ps 107:1 – 3, 17 – 22

Deon Binneman

Inleiding tot die
erediens

Tradisioneel is die
Vierde Sondag in Lydenstyd se naam Laetare, of Wees bly! Op hierdie Sondag wil ons bly wees oor God se
redding, want sy redding is redding uit
die grootste nood
. Wanneer jy
bedreiging in die ergste aard beleef, kan jy op God vertrou om jou te red. Hieroor kan ons ons verheug. Daarom is vreugde en blydskap die kenmerk
hierdie Sondag se liturgie, al is dit ’n gedempte vreugde, omdat ons weet dat
dit Jesus se kruisiging gekos het om ons te verlos.

Skriflesing

Voordat ons begin lees, is dit miskien goed om eers ’n
geheelbeeld van hierdie baie mooi psalm te kry.
Die herstel waaroor daar in die
eerste drie verse van die psalm gepraat word, word in die volgende verse (4-32)
aan die hand van vier voorbeelde uit
die lewe verduidelik
. Die
ballingskap was baie om soos ’n karavaan in die
woestyn
verdwaal te wees (4-9). Dit was ook soos om in ’n gevangenis (10-16) te wees. Die verlossing was baie soos die herstel van ’n
terminale siekte
(17-22). Die
bevryding het ook baie ooreenkomste met die redding van ’n skip uit
die gevaar van ’n groot storm
wat die lewe van almal aan boord bedreig het
(23-32). Die tweede helfte van die psalm (33-43) is ’n veralgemening en samevatting
van die voorafgaande gedagtes. Die
oorspronklike doel van die psalm was lof vir die verslossing uit die
ballingskap. Maar reeds van so vroeg as
van Martin Luther af egter, is hierdie psalm gesien as ’n psalm van danksegging
vir alle vorme van hulp wat God aan mense in hulle uiterste nood bied.

Psalm 107

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar
geen einde nie!” 2 So moet die mense sê wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3 en uit baie lande versamel
het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.

17 Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse
optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. 18 Alle kos
het hulle laat walg, en hulle het by die dood omgedraai, 19 maar in
hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van
hulle ellende. 20 Hy het hulle met ’n enkele woord gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom. 21 Hulle moet die Here loof vir sy
troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 22 Hulle moet
dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.

Woordverkondiging

Ons het gisteraand
weer ʼn keer na die rolprent Chocolat gekyk. Die meeste van u het dit sekerlik al
gesien. Dit speel in die sestigerjare in
ʼn klein dorpie in Frankryk af. Vianne en
haar opgeskote dogter open ʼn sjokoladewinkel, maar ongelukkig tydens die vas
gedurende die lydenstyd. Die burgemeester
is die bewaker van die dorp se sedes en probeer hierdie verderflike invloed uit
sy dorp kry. Maar haar warm
betrokkenheid by mense maak haar geliefd.
So ontwikkel die verhaal as ʼn kontrasterende tekening van die burgemeester
se vreugdelose vermyding van aangename dinge teenoor Vianne se liefdevolle,
helpende betrokkenheid by ander.

Nadat die burgemeester
tot ʼn val gekom het, kry die bloedjong priester vir die eerste keer die
geleentheid om self sy preek voor te berei.
En sy aangrypende boodskap is: Ons goedheid word gemeet nie aan wat ons nié
doen nie, maar aan dit wat ons wél doen!
Lydenstyd kan juis ’n tyd van blydskap vir
die verlossing wees waartydens ons op ons nuwe lewe en die nuwe moontlikhede
fokus.

Daarom: Al is
dit Lydenstyd, is dit tegelyk ook vreugdetyd.
Want dit is verlossingstyd!

Terwyl Lydenstyd in
die vroeë kerk met vas en dus boetedoening
gepaard gegaan het, was die element van
vreugde nie afwesig
nie. Daarom het die vierde Lydensondag as Laetare (“wees bly”) bekend gestaan. Te midde van die meelewing van
gelowiges met die onpeilbare lyding en smart van die Here Jesus, was daar ’n
diep vreugde oor die weldaad van verlossing wat dit teweeggebring het. Ook by die kerke van die Reformasie, waar die
klem op lydensprediking val, kan dit nooit losgemaak word van die blye wete dat
Jesus se lyding die onontwykbare aanloop tot die opstandingsvreugde was nie
.
Op die vierde Lydensondag word
die hele verlossingsplan in oënskou
geneem en die gemeente opgeroep om die Here daarvoor te loof.

Die voorbeeld van die genesing van
’n terminale siekte help ons om te verstaan hoe ingrypend ons verlossing uit
die sonde is en hoe dankbaar bly ons daarvoor behoort te wees!
Daar is algemene eenstemmigheid dat dit in
hierdie gedeelte oor die verlossing uit ’n siekte wat deur ’n sondige lewenswyse veroorsaak is, gaan. Die persoon is dus skuldig en siek. Verlossing beteken dus liggaamlike genesing
en bevryding van die verwyt oor die sondeskuld!
’n Dodelike siek mens wat skielik nie meer die simptome van die siekte
ervaar nie, en ook kan ervaar dat hy/sy vergewe is, kan nie anders as om baie,
baie bly te wees nie!

Ons kan die driedeling
wat ook in die Heidelbergse Kategismus voorkom,
naamlik Sonde, Verlossing en Dankbaarheid, ook hier van toepassing maak
aangesien dit ook so
in Ps 107 na vore kom.

1. Sonde

Ons vind dit moeilik
om ’n diepgaande besef van die sonde te hê.
Ons gebruik dikwels ander woorde daarvoor. Mense se sondige lewenswyse word dikwels dit
wat hulle bekend en gewild maak!

Om oor sonde te praat,
het in ons dag ongewild geraak. Daar is
mense wat sê dat dit nie meer in ’n Nuwe Testamentiese erediens tuishoort
nie. Dit ontmoedig mense. Daar moet veel eerder op die nuwe lewe of
ander positiewe dinge gefokus word. Ek
het al by geleentheid die bekende skildery van Fernand Cormon, Die Vlug van Kaïn, wat in
die Orsay-museum in Parys hang, tydens
die skuldbelydenis in die erediens gebruik.
Dit het soms kommentaar ontlok wat daarop neerkom dat dit darem ’n baie
harde, Ou Testamentiese, uitbeelding van die stukkendheid van die sonde is. Dink jy hierdie skildery pas in die
erediens?

Kain

Onthou: Dit is slegs as jy die diepte van die sonde
verstaan, dat jy diep dankbaar kan wees oor die Here se liefde wat die verlossing bewerkstellig.
Is ’n vreugdelose geloofslewe nie
toe te skryf aan ’n oppervlakkige begrip van die sonde nie?

2. Verlossing

God verlos omdat
Hy volgens Johannes 3:16 uit die drang van sy liefde, wat inderdaad
volgens 1 Johannes 4:16 sy wesenseienskap is
, sy Seun tot redding van
die wêreld gegee. In die konteks van die
lydensprediking kan dit toegepas word op die sondaars wat uit alle nasies en
tale oor die hele wêreld heen verlos is van hulle straf en vir wie nuwe
lewensmoontlikhede gegee is. Vergelyk
die vader in die gelykenis van die Verlore Seun. Toe die seun nog ver aangekom het, het die
vader hom al gesien en na hom toe gehardloop … So is God, die Vader. Hy wil vergewe, Hy wag vir ons.

Vers 19 en 20 gee ’n
bondige beskrywing van die bevryding van die sondaars uit die nood, sowel as
hulle genesing van die siekte tot die dood toe. In hulle ellende roep hulle na
die Here om hulp. Dit kan hulle slegs doen omdat hulle aan die een kant van
hulle dwaasheid en aan die ander kant van die Here se reddingsvermoë bewus oortuig
kon word. Hierdie insig kan nie uit hulle self kom nie. Die Here het sy woord
uitgestuur (v 20 OAV) om die hele verlossingsproses te bemiddel. In Job 33:23
en 24 tree ’n engel, vir die mens in nood, as bemiddelaar op wat (a) hom
aansê wat sy plig is, (b) wat vir hom pleit en (c) wat ’n losprys vir hom
aanbied. Sy reaksie daarop en die Here se antwoord bewerk sy volkome genesing. Uiteindelik
weet ons dat God se Woord in Jesus
Christus mens geword het (Joh 1). Hy
bewerk as M
iddelaar die vergiffenis, die verlossing en die genesing vir die
sterwende sondaar wanneer Hy aan die kruis sterf. Hierdie losprys wat Hy betaal, het nie alleen
die sondaar se skuld vereffen nie, maar hom losgekoop van die dood sodat hy die
ewige lewe kan verkry en dit sonder enige verdienste aan sy kant. So word ons verhouding met die Vader herstel,
so word ons weer ’n kind vir wie die skoene en die nuwe klere en die ring
gebring word, en vir wie daar ’n feesmaal voorberei word. Want
hierdie kind van my was verlore, maar is gevind …

3. Dankbaarheid

As die geneesde mens,
die verlosde mens, regtig besef wat die implikasies daarvan vir sy/haar lewe
is, kan hy/sy nie anders as om die Here
met dankoffers te loof en met blydskap van sy dade te getuig nie
.

Hebreërs 13:12-16 som
die handelinge van danksegging op deur klem te lê op ’n lewe wat in hierdie wêreld geleef word met die oog op ’n vaste
toekomstige verblyfplek, ’n voortdurende lofoffer deur Jesus aan God en ’n
diens van goed doen en mededeelsaamheid aan ander
.

Die lydensweg van die
Middelaar vind sy hoogtepunt in die bewerking van die opstanding uit die dood.
Daarvoor ken die dankbaarheid van die verlostes geen perke nie en moet dit
volgens die voorskrif van 1 Korintiërs 15:58 uitgedruk word: “Daarom, liewe
broers (en susters), wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die
werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here
nie tevergeefs is nie.”

Om so ’n Here te dien,
kan nie ’n vreugdelose plig wees nie. Om
getrou aan jou lewensmaat vir wie jy liefhet, te leef, is nie ’n langgesig
onderneming nie. Dit is ’n spontane vreugde!
So behoort dit ook te wees in ons
verhouding met God!

Hebr 4:12-13 – Son 8 Mrt 09

Kindertyd

Luister julle maklik?

Sê nou jou ma sê – maak jou kamer aan kant en sit al jou klere in die kas?

Sê nou sy sê – kom help my gou skottelgoed was?

Sê nou sy sê – daar is koek op die tafel?

Dan sit jy mos jou spesiale ore aan!

Dan luister ons met alles wat ons kan.

Nou ek wil julle vertel van ‘n man wat dit geleer het toe hy al ‘n groot man was.

Sy naam was Naäman

Eerste skyfie – hy was ‘n belangrike man – hoof van die weermag van die Arameërs

Tweede skyfie – hy was melaats

Derde skyfie – daar was ‘n jong dogtertjie in sy huis, wat ‘n slaaf was.  Sy vertel vir hom van die profeet Elisa in Samaria in Israel wat kan bid vir hom, dan sal hy gesond word.

Vierde skyfie – hy besluit om te gaan met baie geld en klere

Vyfde skyfie – groot was sy verbasing toe die profeet hom nie eers wil sien nie, en vir hom sê hy moet hom sewe keer in die Jordaan gaan was.

Sesde skyfie – O en hy wou dit nie doen nie – tot sy amptenare vir hom sê: sit jou spesiale ore aan. Hulle sê, sê nou hy het iets moeiliks gevra, sou jy dit dan nie gedoen het nie?  Nou het hy iets eenvoudigs gevra, hoekom sou ‘n mens nou nie dit wil doen nie!  En wat doen Naäman?  Hy sit sy spesiale ore aan en hy luister.

Sewende skyfie – hy duik in en na sewe keer is hy silwerskoon gesond, sy vel was soos ‘n klein seuntjie s’n.

Spesiale ore help!

Teks

12 Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Woordverkondiging

Ek lees die Bybel al van laerskool dae af. Dit is ná my voorskoolse dae met die Kinderbybel en sy prente.

Ek help mense om die Bybel te lees van my hoërskool dae af.

En dit is nie so maklik as wat ‘n mens dink nie.

Om my te help is ek blootgestel aan ‘n verskeidenheid akademiese dissiplines in my studies – Grieks, Hebreeus, Aramees, tekskritiek, vertalingstegnieke, Ou Testament Teologie, Nuwe Testament Teologie, Dogmatiek en al die voortvloeiende vakke wat meer op ‘n praktiese vlak lê, liturgiek, gemeentebediening, jeug, pastoraat, ens.

En julle sal weet dat ek baie keer van dié insigte invleg in my hulp aan mense om die Bybel te lees, ook by die Bybelskool.

En dit is goed om te weet hoe die Bybel in mekaar steek.  Dit is goed om te weet wat die spesifieke woord is wat in ‘n vers gebruik word, want dan keer dit dat jy verkeerde interpretasies maak.  Dwaling het immers net een vers, en soms net ‘n frase of ‘n woord in ‘n vers nodig wat verkeerd gelees word!  En niemand van ons wil tog doelbewus dwaal nie, of ten minste die meeste van ons.

En dié manier van Bybel lees is ‘n ou tradisie. Dit kom van die skool van Antiochië af uit die eerste eeue.  Dit is die stad waar Paulus gewerk het en vanwaar af hy sy sendingreise gedoen het.  Dit was vir die Antiochiërs ontsettend belangrik om die regte grammaties-histories betekenis van ‘n teks vas te stel, want het hulle geglo, dit help dat ‘n mens presies weet wat ‘n teks sê en dan kan jy reg daarop reageer.

Calvyn het dit die sensus simplex genoem – die plein, eenvoudige betekenis van ‘n teks. ‘n Mens kan dit ook ‘n informatiewe lees van die teks noem.

Informatiewe lees

Ek het van hierdie tipe inligting oor die teks in die joernaal gesit.

Kom ons kyk kortliks daarna:

Oorhoofs: Die teks gaan oor die effektiwiteit en deurdringendheid van die Woord van God

Twee temas: 1) wat die Woord doen , 2) wat ons moet doen.

Die eerste word uitvoerig beskryf – die tweede in 5 kort Griekse woorde aan die einde opgesom: “aan Hom moet ons rekenskap gee”.

Agtergrond: Die teks sluit aan by die verhaal van Israel wat God se Woord verontagsaam het in die woestyn (Psalm 95 vertel dit poëties: die ongehoorsaamheid by Massa en Meriba toe hulle in opstand gekom het teen die Here oor hulle gebrek aan water – hulle kon net nie hulleself so ver kry om die Here te vertrou dat Hy vir hulle sal sorg nie).

En die Hebreër skrywer sê: moenie in dieselfde strik trap van opstand en ongehoorsaamheid as hulle nie!  Hierdie Woord van God is ‘n swaard met twee snykante – maar nie saak wat jy doen nie, sny gaan hy jou sny, as hy ongehoorsaam is!  En daarby is daar sy oë wat alles sien – letterlik oral!

So die skrywer probeer vir ons wys dat die Woord kan doen en eintlik sê hy, die Woord kan doen wat niks anders kan nie – daar is niemand wat daarteen bestand is nie – jy kan dit verontagsaam, maar jy kan dit nie keer nie.

Nou as jy dit weet – dan kan jy ‘n bietjie dieper kyk na wat die teks sê, die Woord doen.

Die skrywer sê, dit is lewend (persoonlik) en dit is kragtig (energiek).

En dit werk persoonlik en energiek in op drie aspekte van ons menswees:

Dit raak ons identiteit:

Die skrywer praat hier van die woord wat in dring tot by die skeiding van siel en gees – daarmee wil hy sê: die woord skei dinge wat ons soms dink is onskeibaar, dinge in ons binne-wêreld, daar waar ons persoonlikheid en ons geestelike aanvoeling setel.  Kortom: God se Woord dring deur tot in die plek waar ons identiteit is, ons mens-wees, ons ervaring van wie ons is, die kontakpunt met die wêreld en met God – en dit help ons onderskei wat in ons van God is en wat nie.

Dit raak ons energie punte:

Die woord dring deur tot die skeiding van gewrigte en murg.  Die twee, gewrigte en murg, is altwee liggaamseienskappe wat met krag te make het, die een bring die boodskappe van die brein an die ledemate, die ander sorg dat daar beweging kan wees, deur beweging toe te laat vir die spiere en ledemate.  En die skrywer sê daarmee, dat niks die krag van die Woord kan troef nie – dit dring deur tot dít wat ons energie gee, dit wat ons in beweging bring, en doen sy werk – en dit help ons onderskei waar die energie van God ons heen neem.

Dit raak ons diepste motiveringe:

Die skrywer sê die Woord beoordeel die bedoelings en gedagtes van ons hart.  Met gedagtes bedoel hy ons intellektuele kapasiteit en met bedoelinge het in gedagte dié dinge wat ons motiveer, die dinge van ons hart.  Kortom, die Woord dring deur tot ons diepste motivering, dit wat ons sin en betekenis en motivering gee om te lewe – en dit help ons onderskei wat agter die dinge sit wat ons doen en help ons om opreg en eg te wees.

En die boodskap is, God se Woord penetreer en ontmasker en beoordeel en onderskei wat reg en goed is van wat sleg en boos is – en niks kan dit keer nie.

En wat ons moet doen?

Ons moet rekenskap gee (logos)  aan dié God. (“aan Hom ons die rekenskap” – letterlik)

In terme van ons tema: ons moet sê: Ek sal luister.

Formatiewe lees van die Bybel

Die probleem is net, dat só ‘n Bybel lees nou ook weer nie so eenvoudig is nie.  As ek presies weet wat die teks sê, is dit nog net die eerste deel van die proses van verstaan. Om regtig te kan hoor, moet die teks in my lewe inkom en my lewe verander. En ten spyte van die hoop dat mense met ‘n regte lees van die teks dit ook sal regkry om dit te doen, het die hoop baie keer beskaam.

En die gevaar is natuurlik lewensgroot dat ons so besig raak met ‘n teks, so ingegrawe daarin, dat ons half begin dink, ons beheer die teks, ons het die teks onder die knie, ons kan met dit maak wat ons wil.

En dan luister ons nie meer na die teks nie.  Ons laat die teks luister na ons!

Nee, wat ook nodig is, is ‘n formatiewe lees van die Bybel, ‘n geestelike lees.

Dit is iets wat ‘n ander groot skool uit die eerste eeue geleer het, die skool van Alexandrië.  Hulle het geleer dat die teks ‘n geestelike impak in ons lewe wil maak, dat die teks besig wil raak met ons, dat God besig wil raak met ons.  En daarvoor moet jy nie net bly by die plein betekenis van die teks nie – dit bly altyd daar as ‘n korrektief. Maar jy moet vra, nou maar wat beteken dit vir my?  Wat moet ek hiermee maak?  Wat wil die Here hierdeur vir my sê?  Hoe maak dit my pad vorentoe meer duidelik?

Calvyn het ook hierby aangesluit en dit genoem die usus van die teks, die praktiese of geestelike waarde van die teks.

En met al my studies en al my leeswerk en al my praktiese ondervinding, weet ek vandag dat albei dié aspekte belangrik is – ‘n mens moet weet wat die sensus simplex is en jy moet vra wat is die usus, die praktiese nut hiervan vir my, informatief en formatief.

En ek moet bely, ons kerk het meer klem gelê op die eerste, die informatiewe lees van die Bybel, vir baie lank en selfs dié mense wat meer geestelik wou lees, afgekraak!

Daarom dat ons half vandag wil oorhel en sê, nee, genoeg informasie, vorm my Here, Ek sal Luister.

En dit is waarmee ek vandag vir ons wil help, om só te kan luister dat dit jou lewe aanraak en jou lewe vorm.   Die informasie bly belangrik, daarom het ek daarmee begin, maar dit gaan vanoggend oor die tema: “Ek sal luister”, en gaan oor die oproep dat jy sal toelaat dat die Woord jou vorm.

Om jou te help om só vormend na die Bybel te luister wil ek twee aspekte van luister beklemtoon.

Kom ek begin met ‘n metafoor: Die Bybel is soos water.

  • Jy voel die water as jy induik en dit jou hele liggaam nat maak.
  • Jy kan die water beskryf as H2O en jy kan sê dit is helder of troebel, maar jy kan dit net ervaar as jy daarin induik of daarvan drink.

Kom ek pas dit toe op Bybel lees en luister en verduidelik die twee aspekte van luister:

  • Die eerste is: dat ‘n mens die Bybel nadenkend moet lees – en dit help om te bly by een woord of een frase TOTDAT jy dit verstaan en jy dit gehoor het. Dit is soos om in te duik in die water en daarin rond te swem om dit te geniet.
  • Die tweede is: dat ‘n mens die Bybel persoonlik moet lees – wat wil God VIR MY in hierdie gedeelte sê. En net te konsentreer op dit wat jou tref of ontstel of bemoedig of uitdaag – en ek kan dit nie vir jou doen nie, en jy kan dit nie vir my doen nie. Ons kan vir mekaar tekste gee wat ons voel die Here op ons hart lê, maar ons kan nie bepaal wat persoonlik sal gebeur met die lees en luister van die teksgedeelte nie. Dit is soos die water metafoor: ek kan nie vir jou induik in die water nie.

Só ‘n lees van die Bybel neem dus meer van ons as ons intellek, dit is direk, dit is reflekterend, dit is persoonlik dit is ‘n wag op die ervaring van God se aanraking diep binne ons lewe.

Om só te kan lees, veronderstel ‘n verhouding met God.  Dit veronderstel dat jy in Hom glo, nie as ‘n vêraf Skepper God nie, maar as ‘n naby persoonlike God.  Dit veronderstel dat jy op Hom vertrou.

En nie een van die dinge, ‘n verhouding, geloof, vertroue, is iets wat jy kan verstaan of beleef deur ‘n aantal boeke daaroor te lees nie.  As jy nie in ‘n verhouding met God is nie, dan sal jy dit nie ervaar of verstaan nie.  As jy nie glo in God nie, dan sal jy geloof nie ervaar of verstaan nie.  As jy nie vertrou op God nie, sal jy vertroue nie ervaar of verstaan nie.

En dan is jou eerste opdrag – om in ‘n verhouding met God te kom, om in Hom te begin glo, en om op Hom te begin vertrou.

Hoe kan ek dus die Bybel nadenkend en persoonlik lees, sodat ek kan luister en die Woord my lewe kan verander?

Die eerste en belangrikste is:

MAAK ‘N GEREELDE AFSPRAAK EN HOU DAARBY.

Dit is wanneer ‘n mens tyd spandeer met God en met die Bybel dat jy sy stem sal hoor.  As jy nie in water induik nie, sal jy dit nie ervaar nie.  Petersen vertaal Matt 11:28-30 in The Message as volg: “Walk with me and work with me – watch how I do it.  Learn the unforced rhythms of grace . .. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.” O hoe wens ek, ek kan elkeen van julle hiermee help – en in Staying in Touch en die Spiritual Disciplines help ons mos mense hiermee – maar dit is uiteindelik iets wat jy self moet begin.

Die tweede is:

LEES DIESELFDE TEKS ‘N PAAR KEER EN LUISTER VIR ‘N PERSOONLIKE WOORD.

Daar is die wonderlike belofte van Jesus, dat elkeen wat soek, sal vind, en elkeen wat klop, vir hom sal oopgemaak word, en vir elkeen wat vra, sal gegee word.  Dit kan ‘n woord wees of ‘n frase of die gedagte van die hele gedeelte.

Gister oggend het ek ‘n teks gelees in die Psalms waarin ek ‘n woord gehoor het wat eintlik die teenoorgestelde was as wat die situasie van Dawid was – en dit was helend om God se aanraking via die teks te kry, al was dit selfs nie eers in die direkte woorde geleë nie.

En in hierdie teks het die rede vir die ongehoorsaamheid van die Israeliete my getref: dat hulle hulleself nie sover kon kry om God te vertrou nie.  Dit het my lewe op verskillende vlakke aangespreek.

Die derde is:

BLY IN DIE TEKS TOTDAT JY ‘N PERSOONLIKE WOORD HOOR.

Hierdie stap is miskien die moeilikste as ‘n mens begin, omdat jy half simpel kan voel, en half kan voel, maar is dit so eenvoudig, en wat as ek verkeerd hoor.  Ek onthou in Staying in Touch, Bly in Voeling, hoe half huiwerig mense dinge die eerste of tweede keer deel – “ek weet nou nie of ek reg gehoor het nie” – en hoe dít verander in ‘n ontspanne vrymoedige wandel met die Here.

Die vierde is:

DINK NA OOR DIE PERSOONLIKE WOORD TOT DIT BEGIN LEWE IN JOU EN JOU VOLMAAK VAN BINNE.

Dit is iets wat jou hele menswees, intellek, hart, gees, wil en gevoel betrek.

  • Soms inspireer die struktuur van ‘n boek my só ongelooflik -bv. Lukas wat sy verhaal in drie dele in sy evangelie vertel, die begin van die evangelie in die platteland, die omvattende reis na Jerusalem wat uitmond in die verhoor in Jerusalem, en in Handelinge dieselfde drie dele, die begin van die verspreiding van die evangelie in die platteland, die omvattende 3 sendingreise van Paulus uiteindelik op pad na Jerusalem en dan die verhoor in Jerusalem en uiteindelik in Rome.
  • Soms die emosie van ‘n Dawid wat skreeu om hulp van sy vervolgers soos in gister se Psalm (35), of
  • die uitdaging van ‘n Maria, moeder van Jesus, “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Luk 1:38) – soos ek onlangs in ‘n boek oor haar gelees het.

Geen wonder dat van ‘n hele paar profete gesê word dat hulle die Woord geëet het, Johannes op Patmos (Open 10:10 “Ek het dit … opgeëet.  In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword.” ), Jeremia (15:16 – “Ek het u woorde verslind”), Esegiël (3:3 “Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond”).

Die vyfde is:

REAGEER IN GEBED EN LEWENSTYL OP DIE PERSOONLIKE WOORD.

God wil met ons in ‘n verhouding staan, waarin Hy praat en ons praat, waarin Hy opdragte gee en ons gehoorsaam, waarin Hy vir ons sê Hy het ons lief en ons dit vir Hom terugsê, waarin Hy ons bemoedig en ons daarop reageer.

Die sesde is:

LAAT DIE BYBEL JOU GESPREK MET GOD BEPAAL.

Daarom is dit so nodig om ‘n gereelde tyd met God te spandeer.  Sodat soos jy deur die Psalms werk of deur ‘n evangelie of deur ‘n historiese boek in die Ou Testament God jou begin begelei.  Ek kan onomwonde verklaar, God lei deur enige deel in sy Woord en uit enige woord daarin.  Al wat nodig is dat jy jouself sistematies daaraan blootstel.  Die wonder is dat die Woord dan so lewendig en kragtig raak dat dit soos ‘n elektriese draad is – jy weet daarvan as jy daaraan raak!

 

Hebr 13 – Son 1 Maart 09

Verwelkoming
Kinders blomme
Toetrede Lied 164
Votum & Seëngroet
Lofsang   Psalm 23   & Lied 523
Gebed     Lied 253 (sit)
Skriflesing Hebreërs 13:1-6

Prediking
Reeks Geestelike Gewoontes –
Verlede week geregtigheid as manier Chr liefde beliggaam.

Vandag:  gasvryheid as manier lewe met ander deel.

Daarom teks:
2  Moenie nalaat om gasvry te wees nie,
want deur gasvry te wees,
het sommige mense
sonder dat hulle dit geweet het,
engele as gaste gehuisves.

Bekende storie van Leo Tolstoy oor Vader Panov.

Ons gemeente hawe –
Manier sê gasvry.

Afrikaanssprekendes  – Suid-Afrikaners,
Gasvryheid lê na aan hart –
Is wêreldbekend.
Ontvang graag mense in huise,
Eet graag saam.

Maar veels te oppervlakkig om dissipline
Of deug van gasvryheid te wees.

Gasvryheid is meer as om mense in huis te ontvang.
Gasvryheid gaan juis oor vreemdelinge,
Manier wat vreemdelingskap oorkom.

Gasvryheid is om veilige ruimte om ons te skep
Waar ander mense God se gasvryheid,
God se verwelkoming kan beleef.

Vertel verhaal van Charlie.
Charlie een van dáárdie kinders.
Kategete kon net nie beheer.

Tyd kom vir Kersopvoering,
Besluit wys vir Charlie eenvoudige rol te gee.
So word Charlie herbergier.

Beteken sê 3 keer:  Geen plek nie!

Aand van Kersspel twee kinders aangetrek Maria en Josef kom in.
Geen plek nie!  sê Charlie.
Paartjie klop tweede keer.
Geen plek nie, herhaal Charlie.

Toe selfs harder aan deur klop,
Desperaat blyplek,
Pleit by herbergier:
Asseblief, is daar geen blyplek nie?

Waarop Charlie nie meer kan hou, sê:
Ag, hoekom slaap julle nie vanaand in my kamer nie?

Gevaar met beeld soos hawe,
Dat nie gasvry,
Maar juis eksklusief,
Afsluit –
Branders uithou,
Muur raak wat wêreld buite daar buite hou,
Terwyl hier binne veilige ruimte vir onsself.

Daarom ons sê hawe wat versorg en STUUR.
Want gasvryheid beteken nie net mense na ons toe kom,
Maar dat ons uitgaan,
Nie net mense gasvry ontvang,
Maar ook gasvry leef,
Gasvrye ruimte om self skep oral waar gaan.

Gasvryheid in die Bybel

Gasvryheid baie NB hele Bybel.

Anders as wat ons dit ken.
In ons kultuur konsep gasvryheid baie van krag verloor.

OT & NT wys baie ernstig was oor vreemdeling verwelkom.
Meer as dit:
Gaste is eintlik kosbare geskenke
Ons lewens verryk.

Abraham ontvang drie vreemdelinge,
Eintlik Here wat aankondig Sara seun sal hê.
(Gen. 18:1-15)

Weduwee van Sarfat vir Elia kos en blyplek gee
Hy man van God
Haar help met oorvloed olie en meel
En kind uit dood opwek
(1 Konings 17:9-24)

Emmausgangers nooi vreemdeling uit,
Wat dan self gasheer word –
En Jesus is
(Lukas 24:13-35)

Wat God wil hê (verlede week)
6  Is die vas wat Ek wil hê,
nie dít nie:
 om dié wat onregverdig gevange gehou word,
te bevry,
om die juk wat op mense druk,
af te haal,
om verdruktes vry te maak,
om elke juk te breek?

7  Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,
van jou brood gee nie,
dat jy aan die armes
en die dakloses
‘n blyplek gee nie,
dat wanneer jy iemand sonder klere sien,
 jy vir hom klere gee nie,
dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
(Jesaja 58)

1 Tim 3 oa vereiste van ouderling = gasvry wees.
(Ook Titus 1:8)

Wanneer Timoteus praat van weduwees,
Sê weduwee moet bekend wees dat vreemdelinge gehuisves het.
(1 Tim 4:15)

Petrus sê moet gasvry teenoor mekaar wees sonder om te kla.
(1 Pet 4:9)

Hierdie gasvryheid natuurlik nie net letterlik vreemdeling in huis ontvang –
Hoewel dit ook nie afskeep –
Maar gaan oor houding teenoor ander mense,
Wat op verskillende maniere sigbaar is.

Dubbelsinnige gevoel teenoor vreemdelinge

Maar moet ook eerlik wees met mekaar as praat oor vreemdelinge:
Ons gevoel teenoor vreemdelinge nie sommer dadelik positief,
Maar eintlik heel dubbelsinnig.

Teks vandag sê  
ek ken geen vrees nie:
wat kan ‘n mens aan my doen?”

Maar eerlik moet wees,
Vrees sentrale deel van lewe geraak.
Kan aan allerhande dinge dink mens aan ons kan doen.

Ursula vertel iemand aan haar ma deur klop,
Ingenooi,
By kombuistafel gesit en eet.

Vandag nie eers daarvan droom bedelaar in huis te laat inkom.

Woord ons land bekend:  xenofobia,
Letterlik vrees vir vreemdeling –
By ons sommer haat geword.  

Interessant NT woord vir gasvryheid:
Philoxenos –
I.p.v. xenophobia,
Philosxenos –
Letterlik liefde teenoor vreemdeling.

Iemand ook gesê al woorde met hierdie stam – xen –
Kan óf beteken vreemdeling of buitelander
Of gas of vriend.
Selfde woord kan albei beteken.  

Leef in huise met hoë mure,
Rye slotte,
Hekke,
Tralies voor vensters.
Alles te sê:
Bly uit!

Dubbelsinnige gevoel,
Want meeste van ons gee beslis om.
Wil graag armes,
Eensames
Verwerptes,
Dakloses help.

Daarom dikwels met skuldgevoel
Wanneer vreemdeling aan deur klop en kos vra –
Of aan venster by robot klop.
Bêre jou handsak onder jou sitplek,
Sluit jou deur.  

Mense wat vir ons onbekend is,
Wat dalk ‘n ander taal praat
Of ‘n ander kleur is,
Ander tipe klere dra
Dalk ander gewoontes het as ons,
Maak ons bang –
En dalk selfs vyandig.  
Maar dit hoef regtig nie so dramaties te wees nie.  

Vrees en vyandigheid beïnvloed nie net ons verhouding met
Bedelaars en
Vreemdelinge in sentraal nie.

Ons wêreld so vol kompetisie,
Dat klasmaats,
Spanmaats,
Kollegas,
Almal deel raak van vrees en vyandigheid.

Plekke bedoel mense bymekaar te bring –
Klaskamer, sportveld –
Raak plekke van vyandigheid.  

Gasvryheid is om teen hierdie vrees en vyandigheid te kies.  

Gasvryheid is om verwelkomende ruimtes te skep

Gasvryheid is letterlik wat woord sê:
Vryheid van die gas.

Gasvryheid is om vry, vriendelike ruimtes rondom jouself te skep
Wat mense innooi en laat tuis voel
Sonder om hulle te bind aan jou gewoontes en verwagtings.

As ouers kom kuier – TV, etenstye.
Ook ons lewenswyse.

Gasvryheid is om ruimte te skep
Waar vreemdelinge kan inkom
En vriende kan word.

Baie vlakke waarop hierdie gasvryheid beoefen.
NIE net vreemdelinge in huis innooi.
Gaan oor ruimte wat om onsself skep,
Manier van menswees tussen vreemdelinge.

(Nouwen blog:
Gasvryheid ouers teenoor kinders;
Onderwysers / dosente en leerders / studente
Genesers en pasiënte)

(Storie my gehelp verstaan wat gasvryheid beteken:)
Chris Robbeneiland –
Vreemdelinge sit by “men of God”.
Veilige ruimte op Robbeneiland,
Weet welkom, aanvaar,
Iemand sal opstaan –
Was nie almal Christene!

Gasvryheid is om die mense raak te sien met wie elke dag in kontak –
Kinders, eggenoot, ouers, boetie/sussie
By werk
Langs pad
Garage
Winkel…

Baie van ons lewens so haastig,
Vergeet dat God deur ons mense wil bereik,
Hardloop deur lewe
Sonder om eers mense raak te sien ons pad kruis.

Gasvryheid almal raak sien
 elkeen te behandel asof engel
Bevestig eerder as beskaam.
Belangstel.

Storie van Ma in Somerset Mall
Gaan nie goed met haar.
(Moslem Ramadan – groet, ken op naam;
Vreemde vrou in koffiewinkel)

Week weer gedink aan waardes van luisterseisoen:
Leerbaarheid
Vertroue
Deernis
Openheid.

Kon goedskiks opsomming van waardes onderliggend dissipline van gasvryheid.

Want gasvryheid veilige ruimte skep
Mense raakgesien word
Welkom voel
Aanvaar / bevestig voel
Tuis kom.  

Elkeen van ons kan dit doen –
In huise
Werk
Teenoor mekaar
Teenoor “vreemdelinge” in ons buurt.

JOERNAAL
Dink na oor jou kontak met mense die laaste week.
Lys almal wat jy kon groet.
Omkring een of twee persone wat jy ervaar die Here jou na toe terugstuur.

Sendelinge Terugvoer
Ons gemeente: elkeen van ons gestuurd,
Ook sturend
Daarom ons mense uitgestuur gasvry te gaan wees vir vreemdelinge in wêreld.
Steeds verantwoordelikheid teenoor hulle –
Gasvry te wees vir hulle.
•    Lourens
•    Wolmarans
•    Evelyn
•    Brinks
•    Zithulele
•    Elspeth

BID
Dankoffer
•    Gasvryheid – offers
•    Kinders bring geld vir Thandusana (kan later nog.)
Koor  Lied 298 en 303

Nagmaal
Kan net gasvry wees
As self gasvryheid beleef –
Ande aanvaar as self aanvaarding beleef het,
Tuiskom as self tuisgekom.

Daarom nooi vanoggend die Here Jesus self se gasvryheid beleef.

Jesus self hierdie tafel gedek,
Ons uitgenooi na hierdie maal.
Lees in 1 Kor 11:
Die Here Jesus het
in die nag waarin Hy oorgelewer is,
 brood geneem en,
nadat Hy God daarvoor gedank het,
het Hy dit gebreek en gesê:
“Dit is my liggaam;
dit is vir júlle.
Gebruik dit tot my gedagtenis.”

25  Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê:
“Hierdie beker is die nuwe verbond,
wat deur my bloed beseël is.
Gebruik dit,
elke keer as julle daaruit drink,
tot my gedagtenis.”

26  Elke keer as julle van hierdie brood eet
en uit die beker drink,
verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Deur saam aan hierdie tafel te sit,
Beleef die gasvryheid van Christus,
Bevestig en herinner
Dat hy ons aanvaar, verwelkom,
Ons aan hom behoort en veilig by hom.

Natuurlik ook saam aan tafel sit,
Word ook aan mekaar verbind.
Deur saam hierdie maaltyd Christus vir ons voorberei geniet,
Word ook ons band met mekaar versterk.

Sien saam uit na beloofde maaltyd,
Bruilofmaal van Lam.

Tafel voorberei, mense voor sit,
Kinders help uitdeel:
Lied 302

DANKGEBED

Gasvryheid hier ontvang
Tafel gesit –
Neem uit,
Deel met almal in kontak:
Lied 486

Seën

Lied  314

Miga 6 – Son 22 Feb 09

Verwelkoming en Afkondigings
Toetrede     “Dankie” Koor v 1 & 3, gem v 2 & 4
Votum (Ps 146:6-10)
Seëngroet
Lofsang Psalm 125 & Lied 332
Dankoffer
Kindertyd
Epiklese
Lied 528

Skriflesing & Prediking
Reeks:  Druppels vir Dors
Geestelike gewoontes.
Ruil bietjie om:  druplpes.
Vandag:  Leef reg,
Gedink gepas belydenisaflegging –
Geloof openbaar bely,
Ook vra wat bely,
Veral:  wat beteken,
Wat eise van belofte wat maak.

Res van ons weer herinner.

Adele Calhoun:  Leef reg =
Christus liefde beliggaam.
Storie seuntjie – soek Jesus met lyf om.
Ons liggaam van Christus,
Daarom sy liefde liggaam gee hier.

Verskillende maniere:
Aarde versorg
Empatie
Tong beheer
Nederigheid
Geregtigheid
Rentmeesterskap – besittings, dankoffer
Waarheid praat.

Nie almal, daarom vandag fokus net een,
Dink een ons tradisie meeste afskeep:

Miga 6:1-12
1  Hoor wat die Here sê:
Maak klaar,
roep die berge as getuie,
laat die heuwels hoor wat jy te sê het.
2  Berge,
vaste fondamente van die aarde,
 julle moet luister na die saak wat die Here het.
Die Here het ‘n saak teen sy volk,
Hy het Israel aangekla.
•    [hofsaak, klag teen volk]

3  My volk,
wat het Ek jou aangedoen?
Hoe het Ek jou moeg gemaak?
Antwoord My!
4  Ek het jou uit Egipte gebring,
Ek het jou uit die plek van slawerny gered,
Ek het vir Moses gestuur om jou te lei,
 ook vir Aäron en Mirjam.
•    Herinner aan sorg in verlede, ook identiteit, verbond

5  My volk,
dink aan die planne van koning Balak van Moab,
 en wat Bileam seun van Beor hom geantwoord het.
 Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal,
 en weet dat die Here julle die oorwinning laat behaal het.
•    Nou antwoord volk.
Nie so boos as ons eintlik dink.
Wil God dien, tevrede stel –
Eintlik baie godsdienstig!
Daarom vra dan vir profeet, wat moet doen?
Verwys na godsdienstige praktyke bekend is:

6  Wat sal ek saamvat
as ek na die Here toe gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?
•    [beste wat kan gee – duurste, kos meeste]
7  Sal die Here duisende ramme aanvaar
 saam met tien duisende offers van olie?
•    [wys hoe ernstig volk – duisende ramme, olie – eintlik net bietjie nodig]
•    Gaan selfs so ver te sê:
Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom,
vir my oortreding?
•    Moet ek kosbaarste gee – hoewel teen wet was in Israel.

•    Antwoord profeet,
Sê nie hierdie offers,
Eintlik weet julle wat is wat God vra:

8  Mens,
die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou
dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
 dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

9  Om die Here te dien, dit is wysheid.
Die Here roep die stad;
luister, leier en julle almal wat aanhou roof:
•    [klagtes teen volk, wat verkeerd doen:
10  Goddelose plek, ‘
moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra,
of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat?
11  Moet Ek die eienaar van ‘n onbetroubare weegskaal vryspreek,
een met ‘n sak vol vals gewigte?
12  Die stad se ryk mense pleeg geweld,
sy inwoners lieg
en hulle bedrieg.

As tema leef reg,
Dan kan nie duideliker stel as dit:
8  Mens,
die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou
dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
 dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Kyk gou vinnig wat elkeen beteken:
Dink ingewikkeldste, bedagsaam.

Moeilik vertaal.
OAV “ootmoedig”.
Weldeurdag, versigtig,
Met wysheid te doen:
Omsigtig te werk gaan
Be -DAG-saam.
Beteken ingestel op God se leiding in lewe,
Be-dink wat God van jou vra,
Nie eie voordeel / behoeftes eerste,
God wil eerste –
Daardie wil soek,
Sensitief wees vir God se wil,
Daarop reageer.

As God wil soek,
Sê teks duidelik wat is,
Tweede ding:
Liefde en trou sal bewys.

Christus liefde beliggaam.
Ons, wat na Beeld van God geskape,
Wat saam Liggaam van Christus,
Op so manier leef,
Dat mense deur ons lewe God liefde kan sien.

Reeks aanddiens 1 Johannes,
Baie duidelik –
As kind van God is,
Het naaste lief.

Jesus wet:
Here jou God liefhê –
En jou naaste soos jouself.

Romeine 13:8
Wie sy medemens liefhet,
voer die hele wet van God uit.

Teks spel eintlik helder uit hoe God wil hê ons liefde moet lyk:
Deur reg te laat geskied.

In ons (evangeliese) tradisie iets waaraan nie veel aandag gee –
Ten beste dink nie só belangrik,
Slegste met suspisie bejeën soos liberalisme, pous…

Maar helder dat God verwag reg laat geskied.

Snoopy:
Charlie Brown:
Be of Good cheer, Snoopy… Yes, be of good cheer.
Bibber steeds van koue.
Is nie liefde.

Liefde konkreet gestalte kry
Wanneer weerloses raaksien
Behoeftes identifiseer,
Armes, weduwees, wese daadwerklik met verligting van nood help.

Liefde is meer as net empatie en barmhartigheid –
Ook geregtigheid.

Barmhartigheid by geleentheid,
Geregtigheid altyd
Een troos
Ander regstelling,
Een simptome
Ander oorsaak
Een verander individuel
Ander verander samelewings.

Reg deur OT is geregtigheid baie sentrale tema –
So sentraal, eintlik bizarre dat in ons tradisie nie elke Sondag hoor!

Geregtigheid belangrik,
Omdat sentrale aspek van God wese –
God is regverdig –

  • Psalms (146, votum),
  • Deutr
  • Elke keer iemand geroep – bv. Moses Eksodus -God volk geroep gehoor.

God is regverdig.  

Uit hele Bybel duidelik God spesiaal omsien na armes en onderdruktes en kwesbares.  

Vreemd:
Gode van tyd, selfs later – Romeine, Grieke –
Aan kant van koning, regeerders, elite, mense politieke ekonomiese mag.

God van Israel uniek,
Kant van swakke.

Vir ons ook vreemd.
Prent van reg:
Blinde vrou skaal –
Reg is blind,
Almal gelyk voor reg.

Maar Bybel anders,
Aangesien konsekwent voorkeur toon vir gemarginaliseerdes en onderdruktes.  

Vir ons moeilik te verstaan,
Want wêreldbeeld radikaal anders.
Ons:  individue, leef onafhanklik / afgeskei van mekaar.
Reg taak is mense te beskerm dat nie mekaar skade aandoen.

Bybelse model –
Mense MEKAAR beskerm,
Want almal deel van mekaar,
Van een gemeenskap.

Hierdie geregtigheid van God is in verbond ingebou –
Hele verbond gebaseer op God geregtigheid –
Volk hoor kla,
Verlos,
Verbond sluit.
Verbond is seën vir volke.

Hele doel van verbond is verhouding:
Om verhouding tussen God en volk in stand te hou
En volk en bure.

So reg deur OT geregtigheid sentraal –
Al profete.  

  • Woorde van Miga eintlik opsomming van al profete boodskap.
  • Amos sentraal – volk onreg pleeg, God verwag reg laat geskied.
  • Jeremia noem verdedig van armes en gemarginaliseerdes as sentrale fokus van Israel taak.
  • Hosea –
  • Noem maar op, noem profeet, Boodskap was volk taak geregtigheid.

  • Wette:  Deuteronomium, jubeljaar, mense in skuld verval skuld afgeskryf,Sodat mense nie in armoede en slawerny verval.

  • Selfs Psalms, Spreuke, Job.

Elke keer boodskap:
Volk bring offers,
Beoefen ryk godsdiens,
Maar dis leeg,
Beteken niks.

As eredienste bywoon,
Offers bring,
Gebede opsê,
Maar by onreg verbystap,
Beteken godsdiens niks.  

Wat God van volk wag,
Is dat regverdig sal handel met naaste
(Ons weet wie naaste n.a.v. Barmhartige Samaritaan)
Geloof wat impak het op
Fisieke lewe
Politieke lewe
Besluitneming
Sosiale interaksie
Ekonomiese produksie
Opvoeding
Kultuur
Noem maar op.  

Hierdie fokus ons roeping reg te laat geskied,
Lank sentrale deel van kerk selfverstaan.  

Toe slawehandel hoogty gevier
Mense slawehandel geregverdig omdat in Bybel genoem,
Was dit groep getroue Christene
Gelei deur William Wilberforce in Brittanje –
Wat teen geveg tot gestop.

Dikwels al vertel van navorsing hoekom vroeë Christelike kerk so vinnig gegroei –
Mense versorg, ten koste van self.
Dikwels nie vinger gelig te evangeliseer.
Maar daar was iets rondom hulle:
Nie selfsugtig gelewe,
Maar lewe van liefde.  

Verder besig gehou met werklike vraagstukke van stedelike bestaan van tyd:

  • Armoede
  • Mense uitgeskuif uit hoofstroom van samelewing
  • Vervreemding
  • klasseongelykheid

Maar êrens langs pad hierdie passie vir geregtigheid verloor.
God opdrag reg te laat geskied vergeestelik,
Sendingwerk verskraal – mense siele red,
Maak nie saak watter omstandighede op aarde,
Solank regte plek na dood.

En dink weet wat God van Christene verwag:
Nie rook, drink, dans.
Bybel lees, bid, kerk toe kom.

8  Mens,
die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou
dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Jesus sê presies dieselfde:
Wanneer praat met godsdienstige mense van tyd,
Gedink doen wat God wil, sê:
23  “Ellende wag vir julle,
 skrifgeleerdes en Fariseërs,
huigelaars!
Julle gee tiendes
van kruisement,
anys en
koljander,
maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg,
laat julle na:
geregtigheid,
barmhartigheid
en betroubaarheid.
Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen
 en die ander nie nalaat nie.
24  Blinde leiers!
Julle skep die muggie uit julle beker uit,
maar julle sluk die kameel in.

(Verduidelik muggies).
Verwagting Jesus geboorte,
Lied van Maria in Luk 1,
Geringes,

Wanneer Jesus bediening begin:
Luk 4:18-19
18  “Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid uit te stuur,
19  om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Sommige Christene vergeestelik,
Maar as kyk wat Jesus bediening op aarde,
Duidelik letterlik bedoel.  

En wanneer Jesus aankondig wat aan einde gaan gebeur
Spel waardes van koninkryk –
En ons taak –
Helder uit,
Wanneer skape van bokke geskei:
Selfde van albei gesê:  skape wat hét gedoen, bokke nié gedoen:
Matt 25:25-26
Ek was honger,
en julle het My iets gegee om te eet;
Ek was dors,
en julle het My iets gegee om te drink;
Ek was ‘n vreemdeling,
en julle het My gehuisves;
36  Ek was sonder klere,
 en julle het vir My klere gegee;
siek, en julle het My verpleeg;
in die tronk, en julle het My besoek.’

En toe Jesus opgevaar hemel toe,
Sy Gees oor ons uitgestort.
Ons word Liggaam van Christus genoem –
Julle vandag Belydenis aflê,
Liggaam van Christus hier op aarde –
Jy is beeld van God op aarde,
Deur jou optrede sien mense vir God.

Franciscus van Assisi:
Verkondig die evangelie onder alle omstandighede.
As dit regtig nodig is,
Gebruik woorde
.

Storie teologiestudente eksamen filosofie Immanuel Kant –
2 ure, 10 min tussenin
Skryf, gaan uit –
Sit student gang, gehawend, duidelik ontsteld,
Studente badkamer, gesels – niemand kyk eers.

Twee weke later –
Almal dop.
Eintlike toets daardie tien minute.  
Punte of ou op vloer nader,
Vriendelike woorde spreek.
Niemand het nie.

Geregtigheid konkrete dade –
Uitdaag hoe –
Vb kerke Somerstrand Humewood.

JOERNAALBLAD

  • Wat nood jy raaksien?
  • Wat maak woedend?
  • Waartoe roep God jou?
  • Hoe in hierdie situasies liefde Christus beliggaam?

Gebed
Belydenisaflegging
St Theresa’s Prayer

Lied 284 (staan)
Seën
Wegsending
Lied 311