Skip to main content

Handelinge 4:5-12 – Son 3 Mei 09

Die getuienis van ‘n 5-jarige

‘n Predikant vertel van ‘n 5 jarige dogtertjie, Lauren wat sy elke Sondag na Sondagskool raakloop en vir wie sy dan vra: “Lauren, wat het jy vandag by die Sondagskool geleer?” en dan antwoord sy:  “Ek het geleer dat Jesus my liefhet”.

So was dit elke week … die predikant vra dieselfde vraag en Lauren gee dieselfde antwoord.

Na etlike weke van hierdie selfde gesprekke, het Lauren se ma haar onderbreek:  “Maar jy sê dit elke week.”

Die predikant het vir die ma gesê:  “Wel, sy is reg!  Dis wat dit op neerkom – vir 52 Sondae probeer ons hierdie boodskap deurgee: ‘Jesus het jou lief!’ Ek wens meer mense snap dit.”

Terwyl sy dit sê, stap klein Lauren na die ingang van die kerk en sê vir ‘n besoeker:  “Jesus het jou lief.” Haar eerste preek … die besoeker glimlag.

Sy was nie ‘n predikant se kind nie, ook nie die ster van haar klas nie, net ‘n gewone 5 jarige ….

Die getuienis van Petrus en Johannes

Jesus gebruik gewone mense om Sy boodskap van liefde aan die wêreld te bring.

Dit is die boodskap van hierdie gedeelte in Handelinge, soos vers 4:13 dit stel: “die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense.”

Petrus en Johannes, twee baie gewone eenvoudige mense, vissermanne nie geleerdes nie, bring die boodskap van Jesus se liefde aan ‘n wêreld wat dit nodig het.

Want onthou, hierdie verhoor vind plaas in reaksie op die genesing van die verlamde man deur Petrus een middag kort na Pinksterdag (3:1-10).  Hy en Johannes het gaan bid by die tempel, so 3-uur die middag, die tweede gebed van die dag (godvresende  Jode het 3 keer ‘n dag gebid by die tempel, 9-uur, 3-uur en 6-uur) en op pad die verlamde man genees, omdat Jesus hom liefhet.

As kinders het ons Petrus se woorde gesing: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop.” Ons het nog van goud en silwer gesing, soos dit in die oorspronklike teks staan: “Argurion kai chrusion ouch hupargei moi.” – “silwer en goud besit ek nie.”

En Petrus (en Johannes – sy stille vennoot) het sommer die geleentheid gebruik om hulle Pinksterdag preek voort te sit by die Pilaargang van Salomo.  “Hoekom is julle hieroor (die genesing) verbaas?  … Deur die geloof in sy Naam het Hy (Jesus) die bene van hierdie man … sterk gemaak.  God … (het) Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ‘n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Die genesing lok reaksie uit van die Joodse Raad

Die Joodse Raad kon darem nie dié optrede toelaat nie en laat vang hulle laat middag, net voor die laaste bidtyd, en sit hulle oornag in die tronk.  Uit Josefus se geskrifte weet ons dat die Joodse Raad ‘n raadsaal direk aan die westekant van die tempelterrein gehad het, vanwaar hulle die preek seker kon hoor en waar die verhoor die volgende dag waarskynlik ook plaasvind het.

Die volgende môre het die Joodse Raad (waarskynlik sinoniem met die Sanhedrin) vergader.  Die Joodse Raad was die hoogste regsprekende en godsdienstige liggaam van die Jode.  Hulle het bestaan uit 71 lede, afkomstig uit invloedryke families, en saamgestel uit die geledere van die priesters en die Sadduseërs (wat die liggaam gedomineer het), met die hoëpriester aan die hoof.  Dit was die politieke en religieuse elite van die Jode.  Hulle het oor alle sake wat op die godsdienstige en algemene lewe van die Jode betrekking gehad het, die beslissende sê gehad.

Ons lees hier van die familiehoofde (letterlik “die oudstes”), die senior priesters, en die skrifgeleerdes.  In vers 6 word enkele leidende priesters by die naam genoem.  In hierdie stadium het Annas al afgetree as hoëpriester (hy het van 6-14 n.C. as sulks gedien) en het Kajafas die amp beklee (18-36 n.C.).  Annas het steeds groot aansien geniet as patriarg van die familie waaruit die meeste hoëpriesters gekom het.

Terloops, Kajafas se been-kis is onlangs opgegrawe.  Die Johannes wat hier vermeld word, het hoëpriester geword in 37 n.C.

Die apostels het voor die raad verskyn wat in ‘n halfsirkel gesit het.  Die vraag wat die raad wou ondersoek, was deur watter krag en in wie se naam die apostels die wonders verrig het wat hulle gedoen het.

Petrus tree op vol van die Heilige Gees

Lukas vertel dan dat Petrus onder die leiding van die Heilige Gees geantwoord het (vers 8): “vol van die Heilige Gees”.  Só word Jesus se woorde in Matteus 10:17-20 waar, dat die dissipels nie sou hoef bang te wees wat hulle moes sê as hulle voor hooggeplaastes oor Hom moet getuig nie.

Let op hoe beleefd Petrus begin (vers 8).  Hy maak dit egter duidelik dat die apostels verhoor word oor ‘n goeie daad wat hulle verrig het (vers 9).  Hy bely vervolgens dat hy die verlamde man in die Naam van Jesus gesond gemaak het (vers 10).  Hy het dit reeds in 3:16 aan die skare verklaar, so dit was nie ‘n geheim nie.

Hy maak dit nou ook duidelik dat dit dié Jesus is wat die raad laat doodmaak het, in wie se naam die apostels optree.  Die uitspraak moes die spanningsvlakke in die vertrek opgejaag het!  Dis nie meer die Petrus wat vir ‘n slavin skrik nie.

Dan haal hy uit Psalm 118:22 aan (vers 11).  Dié Psalm is telkens deur die vroeë Christene op Jesus se optrede van toepassing gemaak (vgl. Ef. 2:20; 1 Pet 2:4-6).  Die Psalm getuig dat God vir Jesus, wat deur die Jode verwerp is, verhoog en verheerlik het.

Petrus insinueer dus dat hulle oordeel oor wie in die naam van God optree, in die verlede verkeerd was.  Dit is daarom ook eerder die Joodse Raad wie hier verhoor word en nie hy nie.

Jesus bring die verlossing en niemand anders nie

Petrus gaan voort en sê dat net Jesus nou mense in die regte verhouding met God kan bring (vers 12).  Daar is letterlik geen ander een na wie toe mense kan draai nie.  “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”

Dit moes die Sadduseërs en die priesters wat die tempel beheer het, ernstig ontstel het.  Jesus maak dus nie net siekes gesond, soos die verlamde man by die Mooipoort nie (in vers 10 sê Petrus letterlik dat die man nou “heel” is).  Jesus se dood en opstanding bied nou ook hoop en verlossing vir almal (nie net die Jode nie) wat ver van God af leef.  Jesus se Naam bring dus universele redding.

Na Petrus se skerp woorde aan die Joodse Raad, was hulle almal verbaas oor sy vrymoedigheid omdat hy en Johannes geen formele opleiding in die wet van Moses by een van die amptelike rabbynse skole ondergaan het nie.  Hulle kon ook nie veel aan die apostels doen nie, want die verlamde man van vroeër het immers nou gesond langs hulle gestaan as die lewende bewys van Petrus se woorde (vers 14)!

Uiteindelik kon hulle net die apostels dreig en hulle loslaat.

Wat is hier op die spel?

Twee goed:

1.      die gesag van Jesus as Verlosser vir die wêreld en

2.      die getuies wat dit met gesag kan verkondig.

Die gesag van Jesus as Verlosser van die wêreld

Watter gesag lê daar in Jesus as Verlosser van die wêreld, soos Petrus hier sê, die enigste een wat die verlossing bring en niemand anders nie?

1) Ek dink ons begryp nie altyd hoe sentraal Jesus in die wêreldgeskiedenis is nie.

‘n Mens word soms verlei deur die agnostici en ateïste in die media se uitsprake oor geloof  in die algemeen en Jesus se boodskap in die besonder om te dink dat geloof as sodanig en meer spesifiek geloof in Jesus eintlik iets is wat net in jou huis gehoor moet word, en darem ook in die kerk.

Maar die media en die regering en die ekonomiese – en vermaaklikheidswêreld is van meer belang op die publieke terrein en eintlik van groter historiese belang.

Nou dit is bog.

H.G. Wells, die beroemde skrywer en geskiedkundige, was een van die grootste kritici van die Christendom, maar hy het wel gesê: “I am an historian, I am not a believer, but I must confess as an historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very centre of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history.“

2) Nog dieper as dit, Petrus maak dit duidelik dat Jesus nie net nóg ‘n weg na God en vergifnis is nie.  Hy is volgens sy getuienis die enigste weg.

Dit is nie ‘n populêre standpunt vandag nie.  Dit klink vir baie net te kompromieloos, te kontroversieel, te eksklusief.  Kan dit regtig so wees dat verlossing net in een Naam beskikbaar is: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”?

Daar is immers 10 000 onderskeibare godsdienste, waarvan ‘n 150 meer as ‘n miljoen volgelinge het (Barrett).

Kan dit wees dat net 1 godsdiens reg is en 9 999 verkeerd?

Daarom dat baie mense, ook Christene, een of ander vorm van pluralisme aanvaar – die geloof dat nie een enkele godsdiens daarop kan of mag aanspraak maak dat dit normatief vir alle mense is en meerderwaardig is as al die ander godsdienste nie.

As jy só ‘n pluralistiese standpunt konsekwent wil handhaaf, moet jy ook aanvaar dat alle godsdienste gelyk is.  Soos ‘n Japanese idioom sê: “Alhoewel alle paaie na die kruin verskil, van die bergtop sien ‘n mens dieselfde maan.” Of die Hindoes se godsdiens-figuur Krishna wat in die Ghagava-Gita sê: “Watter pad mense ook neem, dit is my pad; maak nie saak waar hulle loop nie, dit lei na my toe.”

Maar, al klink dit ook hoe goed, kan ‘n mens pluralisme nie konsekwent handhaaf nie:

  • Sommige godsdienste se idees en praktyke stuit ‘n mens teen die bors. Die menslike offers van sommige Amasone stamme of die Hindoes se verbranding van weduwees, hoewel daar hervormings hier rondom gekom het in die vorige eeu, kan tog nie op dieselfde vlak as ander godsdienste gestel word wat ‘n etiek van liefde en verantwoordelikheid verkondig nie?
  • En dit is onsinnig om te sê dat alle godsdienste uiteindelik min of meer dieselfde dinge sê, want dit is doodgewoon nie waar nie, en die meeste godsdienste sal self sê dat hulle verskillend is.

Natuurlik hoef ons nie alles te verwerp van ander godsdienste nie.  In Pinkster sal ek bv. aandui hoe Paulus in Athene aansluit by die idees van twee Griekse groepe, die Epikureërs en Stoïsyne, en die evangelie aan hulle verkondig.

Daar is immers ooreenkomste sowel as verskille.

Maar ons kan verseker onderskei en ‘n ingeligte keuse maak, terwyl jy oopbly vir nuwe insigte – anders as bv. ateïste wat glad nie verdraagsaam is teenoor mense wat in God glo nie, maak nie saak in watter een nie.

Waarom is Jesus die enigste weg?

Wat sit Petrus op die tafel vir sy standpunt wat geloof in Jesus die enigste verlossende geloof maak?

Drie goed:

  1. Die opstanding van Jesus uit die dood en
  2. die goeie dade, wat in Jesus se Naam gedoen word, soos met die wonder-genesing van die verlamde man geïllustreer is.  En
  3. die inspirasie en oortuiging van die charisma wat kom van die Heilige Gees (4:8), en wat duidelik sigbaar was in die welsprekende en oortuigende getuienis wat hy voor die Joodse Raad kon lewer.

Nou oor die laaste twee sou jy nog argumente kon voer, ander godsdienste doen ook goed aan ander, en daar is baie charismatiese leiers, maar jy kan beswaarlik kies om te glo in die opstanding van Jesus uit die dode, en dan ook nog dink dat Jesus en Mohammed op dieselfde vlak is.  Die opstanding is dié onderskeidende faktor.

Die verlossing is in Jesus en nie in ons nie

Terwyl ‘n mens dus, soos Petrus, kies vir die standpunt dat Jesus die enigste verlossende geloof is, kan ‘n mens Kurt Marti se styl in gedagte hou.  Hy maak 2 opmerkings :

  1. Die verlossing is in Jesus Christus – nie in ons wat Christene is nie.
  2. Die verlossing is in ‘n Persoon – nie in dogmas of ideologiese standpunte nie.

Dit beteken dat ons nie kan dink en praat oor die verlossing asof dit ons geestelike besitting is nie. En hierdie verlossing word slegs ‘n werklikheid in gesprekke met en getuienis oor grense heen wat met gasvryheid en liefde  gedoen word … wat meer is as die konfrontasie van opponente, waar elkeen net harder praat sonder om ook te luister.

Jesus is dus die enigste weg na God, die enigste verlosser.  Hy bring die verlossing en niemand anders nie.

Maar daar is nog baie meer op die spel.

Wie kan die boodskap van Jesus met gesag verkondig?

Wie se boodskap is dit?  Wie kan dit met gesag verkondig?

In ‘n merkwaardige studie van Elliot het hy aangetoon dat daar twee dominante sosiologiese ruimtes in Lukas en Handelinge is, naamlik die “tempel” en die “huishouding“.

Lukas evangelie begin en eindig by die tempel (Luk 1:5-23 / 24:50-53), maar Handelinge begin en eindig by huishoudingstonele in die bovertrek (Hand 1 – weliswaar nog by die tempel, maar as mense wat aan ‘n nuwe huishouding behoort) en Paulus in die gevangenis-huis waar hy die evangelie “vrymoedig en onverhinderd” verkondig (28:30).

Wat het gebeur dat Lukas se twee verhale in twee sulke verskillende sosiologiese ruimtes afspeel?

In Handelinge 3 met die genesing van die verlamde man vind ons die antwoord. Hier vind die sosiologiese verskuiwing plaas!

  • In Handelinge 1-8 kry ons talle huis-tonele … dit is waar die gelowiges vergader, eendragtig saambid, brood breek, in eenvoud saameet, die Gees ontvang, mededeelsaamheid beoefen, versterk word en groei.
  • In dieselfde hoofstukke word die tempel (die sentrum vir politieke en godsdienstige beheer van die volk) geteken as die plek waar mense jare verlam lê, aalmoese soek, oproer beleef en skaregeweld, gearresteer word, in tronke gestop word, gedreig word, ‘n swygverbod opgelê word, geslaan word en selfs ‘n moord gepleeg word (Stefanus).

Dié twee instellings dra dus elkeen ‘n afsonderlike karakter en gesag.

  • Die tempel is (volgens Elliot) “an alienating form of collective institutional life”
    • terwyl die huishouding “a creative form of integrative group life” weerspieël.
  • By die een word regeer en oorheers (= om lewe te neem) en
    • by die ander word getuig van die opstanding deur na elkeen se behoefte om te sien (= om lewe te gee).

Die dissipels het nog aanvanklik die tempel besoek (hfst. 3), maar na al die moeilikheid by die tempel en ook Stefanus se steniging omdat hy “dinge teen die heilige tempel sê” (6:13) word die huishouding die draende ruimte van die evangelie.

En Paulus se bediening onder die heidene loop eweneens deur huishoudings en “huisgemeentes”.   Hy begin weliswaar by die sinagoges, maar dit is telkens in die huishoudings wat geloof groei.

Die tempel word in die res van Handelinge plekke van sameswerings, beplande moorde, politieke gekonkel en strydgesprekke oor reinheid.

Die huishouding vervang dus die tempel as sfeer van die reddende teenwoordigheid van God.

Wat het dit alles met die Naam van Jesus te doen?

Wel, Jesus se lewe en naam kon duidelik nie meer aan die tempel gekoppel word nie, so maak Handelinge 4 duidelik, maar wel aan ‘n nuwe sosiale groepering waar sy waardes gelewe word, die gemeenskap van gelowiges in hulle huisgemeenskappe.

Iets wat Jesus self natuurlik al voorspel het in die gesprek met die Samaritaanse vrou by die put van Sigar: “daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg (Gerisim) en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie … (maar) deur die Gees en in waarheid sal aanbid.” (Joh. 4:21-24)

Slot

Wat ons terugbring by die verhaal van Lauren.

Die eenvoudige boodskap van Handelinge 4 is dat Jesus jou liefhet, en dat elkeen wat dit vir ‘n ander persoon sê, ‘n getuie word van die mees ongelooflike boodskap wat dié wêreld ooit gekry het.

En daarvoor gebruik God eenvoudige en doodgewone mense, mense soos jy en mense soos ek.  En hy gebruik ons in ons huise en ons buurtes.  Die kerk kan net effektief bestaan en funksioneer as ons as ‘n huishouding funksioneer, en nie as ‘n tempel nie.

“The essence of hospitality is a heart open to God, with room prepared for the Guestness of the Holy Spirit, that welcomes the presence of Christ.  This is what we share with those to whom we open our doors.  We give them Him.” Karen Burton Mains

 

Luk 24 – Son 26 April 09

VERWELKOMING

VOTUM
God het sy Dienaar
Na die wêreld toe laat kom
En Hom na ons toe gestuur
Om vir ons tot ‘n seën te wees
Deur elkeen van ons
Van ons verkeerde paaie af terug te bring.

SEËNGROET
Daarom groet in woorde van Jesus:
Vrede vir julle!

LOFSANG
Paastyd – Paasliedere, vier Jesus opstanding:
•    Lied 414 (staan)
•    Lied 417 (staan)

WET
1 Johannes 3:16-19; 23-24 (Leesrooster)

GENADEVERKONDIGING
Heidelbergse Kategismus Vraag 45:
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Eerstens
het hy deur sy opstanding
die dood oorwin
sodat hy ons die geregtigheid
wat hy deur sy dood verwerf het,
deelagtig kon maak. 
Tweedens
word ons nou ook
deur sy krag
tot ‘n nuwe lewe opgewek. 
Derdens
is die opstanding van Christus
vir ons ‘n betroubare waarborg
van ons salige opstanding.

Lied 219:1-2 (Staan)

EPIKLESE
Jesus verskyn dissipels, open verstand Skrif te verstaan. 
Opdrag te verkondig.
Ons gebed:
Lied 271 (sit)

SKRIFLESING
Lukas 24:36-48

PREEK
Vir Michael O’Neill (foto) van Middleborough, England,
was ‘dood’ net ’n vakansie…
Op 2 Junie 2008 het Michael besluit om ’n skielike (daardie laaste minuut besluit) reis na Australië te onderneem om ’n vriend daar te gaan besoek.  Hy het egter die fout gemaak en niemand van sy planne ingelig nie.
Sy bure, wat hom vir dae nie gesien het nie, het bekommerd geraak en die polisie hieroor ingelig.  Hulle het die deur van sy woonstel afgebreek, net om te ontdek dat hy verdwyn het – sonder enige leidrade van wat met hom gebeur het.
Eerlike fout? Wel, dit word nog meer ingewikkeld! ’n Paar weke daarna verskyn ’n doodsberig in die plaaslike koerant vir ’n ‘Michael O’Neill’, ook van Middleborough, wat dieselfde ouderdom is as ons reisiger na Down Under, en wat twee broers het met die name Kevin and Terry.  Hou vas aan jou stoel, want die ‘reisiger Michael’ het ook twee broers wie se name Kevin en Terry is.
Die vriende en bure van die springlewendige – maar rondreisende – O’Neill het toe gedink hulle ergste vrese het waar geword…
Toe Michael op 11 Augustus by die huis aankom, ontdek hy sy voordeur is stukkend, polisie wat sy woonstel dophou en sy bure wat hom weer eens op die straat sien loop én in spoke begin glo.
“Everywhere I’m going, people I know are grabbing hold of my hand, saying, I thought you were dead!’” het O’Neill The Daily Telegraph vertel. “They can’t believe it’s me and I’m still alive. I’m a nervous wreck because everywhere I go people keep grabbing me!”
Jammer, Mike, maar dis ’n natuurlike reaksie as iemand wat “dood” is, terugkeer van Down Under!

Dissipels in bo-vertrek,
Bang, verwilder, onseker –
Jesus gemartel, gesterf.
Sommige weggehardloop,
Ander gesien.

Dan, Sondag-oggend
Boodskap van vroue,
Graf leeg,
Jesus opgestaan.

Dan verskyn Jesus aan 2 reisigers,
Stap pad na Emmaus saam,
Verduidelik skrifte,
Wanneer saam eet,
Oë oop, herken Jesus.
Jesus verdwyn,
2 staan dadelik op,
Terug na Jerusalem,
Vertel dissipels dat Jesus gesien.

Nou dissipels saam in bo-vertrek.
Het al hierdie stories gehoor –
Beslis besige dag!

Seker gesit en spekuleer,
Wat gaan aan,
Mense verward?

Dan verskyn Jesus aan hulle met woorde:
Vrede vir julle!

Algemene groet van tyd.

Waarskynlik hier ook woorde wat volle vergifnis vir mislukkings uitspreek,
Al het weggehardloop,
Verloën,
Getwyfel…

Maar dissipels dink sien ‘n spook. 
Dink hoe jy sal voel as spook sien?

Dissipels heeltemal verskrik.

Jesus bewys dat nie spook is,
Wys hande en voete,
Eet saam met hulle.

Ete natuurlik ook bevestiging van vergifnis,
Herstel van gemeenskap,
Herinner al ander kere Jesus saam dissipels geëet,
Veral laaste maaltyd, Nagmaal ingestel.

Maar hoofsaak van stukkie vis Jesus hier eet,
Is dat dissipels besef Jesus nie spook.
Jesus leef.
Jesus werklik opgestaan,
Dood oorwin. 

Maar vandag veral fokus hierdie wonderlike uitnodiging Jesus aan dissipels om na hande en voete te kyk,
Aan hande en voete te vat.

In evangelie van Johannes gebeur iets soortgelyk ‘n week later –
Ken verhaal, Thomas genooi om te kyk, te vat.

Hier in Lukas verhaal,
Almal uitgenooi te kyk, te vat.

Interessant,
Jesus nie sê:
Kyk na my gesig.  Luister na my stem.
Manier in flieks:  vra paar vrae, iets net ek sal weet.

Jesus sê:  kyk na my hande en voete.

Jesus wil waarskynlik hê moet merke aan hande en voete sien,
Weet dat hy is –
Selfde liggaam wat aan kruis sien hang,
Sien sterf. 

Hoewel Lukas noem nie gate,
Gewoon vleis en been,
Jesus regtig, liggaamlik teenwoordig. 

Kan jy iemand identifiseer net aan hande en voete?
Eggenoot, gesin. 
As geliefde se identiteit vir jou wegsteek,
Jy net hande en voete om te herken – sal kan doen?
Vermoed baie van ons sal kan.

Maar hande en voete nie in die reël die eerste ding wat van mekaar sien.

Maar as van naderby kyk,
Vertel hande en voete storie.
Sê wie ons is,
Vertel waar ons was.

Ek massiewe eelt linker middelvinger.
Uit skooldae, skryf.
Skryf vandag byna nooit,
Eelt bly.

Iemand vertel dat vinger het wat nie buig,
Nadat verstuit by kerk krieketwedstryd.

Sommige mense eelte van instrument wat speel.
Byt naels.
Gedeelte van vinger verloor,
Sommige hande effense bewe
Ander nie so effense bewe.

Delikate hande
Goed versorgde hande
Growwe hande
Gespanne hande
Dokters-hande
motorwerktuigkundige hande, olie.

Hande vertel ‘n storie. 
Linus sê vir Lucy  (van Peanuts faam):
Kyk na hierdie hande”.  Eendag kan hande wees van konsert-vioolspeler…  internasionaal bekende wetenskaplike…  wêreldbekende chirurg.
Lucy antwoord Linus: “Daar’s konfyt op hulle.”
Wanneer in nood,
Ondersteuning nodig,
Dikwels iemand hand vashou.

Of wanneer liefde,
Kameraadskap wil wys,
Hou hand vas. 

Kyk na my hande en voete,
Sê Jesus.
Voel aan my en kyk.

Daarin wys dat regtig Jesus is.
En wie Jesus regtig is.

Wat sien,
Is hande wat brood gebreek het,
Wat brood en vissies geneem en vermeerder
Wat spoeg en grond modder gemeng en op blinde se oë gedruk
Wat in grond geskryf terwyl mense sondaar met klippe wou doodgooi
Wat meisie aangeraak, uit dood opgewek
Wat onreines aangeraak.

Hande wat deurboor aan kruis,
Wat liefde wys
Wat vergifnis wys
Wat oorwinning wys. 

Hande wat wonderwerke gedoen,
Aangeraak,
Genees.

Interessant Lukas Jesus uitbeeld dat na dood selfde doen as voor dit.
Vertel volgelinge nie bang te wees.
Verduidelik skrif.
Verkondig bevryding van sonde en skuld.
O en eet stukkie vis.

Jesus na sy opstanding doen selfde as voor kruisiging.
Hy eet saam met volgelinge.
Hy verkondig vrede.
Jesus boodskap steeds dieselfde.

Maar veral interessant,
Wat Jesus doen nadat hande en voete wys,
Nadat saam eet,
Nadat Skrifte verduidelik:
47  en in sy Naam moet bekering
en vergewing van sondes
aan al die nasies verkondig word,
van Jerusalem af
en verder.’
48  Julle is getuies van hierdie dinge.
Ons is liggaam van Christus.
Ons is Jesus se hande en voete.

Wat wêreld,
Wat jou bure,
Jou eggenoot,
Jou gesin,
Jou kollegas van Jesus gaan sien,
Is dikwels vir jou –
Jou hande en voete,
Wat jy doen,
Waar jy gaan.

Ons vier passie van Paastyd –
Jesus leef!
Kan aan sy voete sit,
Kan sy hand in ons lewe beleef.

Ook fokus op ons gasvryheid as gemeente,
Op ons hande en voete wees vir Jesus.

Hoe kan jy Jesus se hande en voete wees?

Gereeld geleenthede,
Soek gereeld mense bereid te dien:
Kategete,
Kinders help sing, knip,
Bosslapers kos
Klank agter in kerk.

En het mense nodig dit te doen.
Maar weet jy wat…
Jy hoef dit nie te doen nie.

Hoor my mooi: het mense nodig dit te doen.
Sal altyd vra.

Maar lewe oorweldig,
Kerk sê Jesus hande en voete,
Sommer moedeloos.

Maar om Jesus hande en voete te wees,
Beteken nie noodwendig moet Timboektoe toe
(hoewel dit kan beteken!)

Hoe kan jy jou hande en voete gebruik,
Om Jesus se hande en voete te wees,
Elke dag,
Waarmee reeds besig?

Gebruik verbeelding.

Kan iets bak of maak,
Aanraak,
Uitreik,
Oplig,
Dra,
Bymekaarmaak,
Gee.

Jou voete kan opstaan,
Besoek,
‘n brug oorsteek. 

Een kyk na Jesus hande en voete,
Weet waar hy was.

Mense na ons hande en voete kyk,
Wat sien?

Uitdaag:
Gasvry.
Hande en voete wat uitreik,
Aanraak,
Omarm. 

In bedieninge,
Ook waar elke dag beweeg,
Mense van eie gemeenskap,
Oor grense:
Student in agterplaas,
Moslem saam werk.

Kom sê vir hulle:
Vrede vir julle!
Deur Jesus hande en voete te wees
OMDAT Jesus opgestaan het.

GEBED
DANKOFFER

LIED 308 (STAAN)
SEËN
‘Die Christus moet ly
en op die derde dag uit die dood opstaan,
47  en in sy Naam moet bekering
en vergewing van sondes
aan al die nasies verkondig word,
van Jerusalem af
en verder.’
48  Julle is getuies van hierdie dinge.

Lied 533

Die Gees stuur ons oor grense

Pinkster 2009

Die term ruach het verskillende betekenisse in die Ou Testament:

  1. wind, ‘n onsigbare, misterieuse, magtige krag wat baie keer aan die idee van krag en geweld verbind word;
  2. asem (wind op ‘n kleiner skaal!) of gees, dieselfde misterieuse krag wat ons waarneem as die lewe en vitaliteit van menslike lewe, wat geaktiveer kan word in ‘n sekere rigting, gehinder of onderdruk kan word en weer lewe gegee kan word.  Dit is ‘n dinamiese lewenskrag wat by tye laag kan wees (dit verdwyn by die dood) of kan opbeur in ‘n skielike opbruising van krag.
  3. Goddelike krag of Gees waar iemand meegevoer word, nie net deur ‘n natuurlike opbruising van energie nie, maar deur ‘n bo-natuurlike krag wat besit neem, soos ons sien in die vroeë charismatiese leiers (Ehud, Debora, Gideon, Jefta, Simson) en profete (Samuel, Elia, Elisa).

Dit is duidelik dat ruach ‘n eksistensiële term is, dat dit gaan oor die ervaring van ‘n misterieuse awesome krag, wat alles ‘n manifestasie is van Goddelike energie.  Soos Psalm 139:7 sê, dié kragtige teenwoordigheid van God is kosmies en onontwykbaar.  Dit vul alles met lewe-gewende energie.

En dit is dié Gees wat Jesus met Pinksterdag uitstort oor sy 120 dissipels in die bovertrek.

“Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.  Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.  Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.” (Hand 2:2-4)

En dit is dié Gees wat my dring om dié Pinkster grense oor te steek in reaksie op sy lewe-gewende energieke werking.

In 7 Pinksterdienste gaan ons die Gees se werking naspeur en ondervind. 

En ek wil baie graag saam met ‘n paar mense die pad stap om saam te bid, te lees en die Gees se leiding te volg …

1         God steek grense oor
  • Ons fokus op die Gees se werking en dinamika binne die Triniteit en die kosmos.
  • Ons kyk spesifiek hoe die Gees grense oorsteek in en met gemarginaliseerde mense (Rigters).
2         Jesus steek gender grense oor
  • Ons leer by Jesus hoe die Gees Hom oor die gender en godsdiens grens lei om ‘n vrou en ‘n dorpie te bereik (Johannes 4) – en ons dink na oor hoe ons in gasvryheid die grense na ons eie omgewing kan oorsteek.
3         Jerusalem steek armoede grense oor
  • Ons leer by die eerste gemeente hoe die Gees hulle lei om die armoede grens oor te steek (Handelinge 2 en 4) – en ons dink na oor ander uitdagings vir ons vandag: armoede, MIV en Vigs, geweld, werkloosheid.
4         Filippus steek etniese grense oor
  • Ons leer by Filippus hoe die Gees hom lei om die etniese grens na die Ethiopiese amptenaar oor te steek (Handelinge 8) – en ons dink na oor die 3 groot vrese van Afrika (voorvaders, heksery en towery, onreinheid).
5         Petrus steek politiese grense oor
  • Ons leer by Petrus hoe die Gees hom ‘n politieke grens laat oorsteek na die Italiaanse soldaat, Kornelius (Handelinge 10 ) – en ons dink na hoe ons na die verkiesing met mekaar as gelowiges in hierdie land van ons kan saamwerk.
6         Paulus steek godsdiens grense oor
  • Ons leer by Paulus hoe die Gees hom die godsdiens grens laat oorsteek na die Ateense wysgere, Epikureërs en Stoïsyne (Handelinge 17) – en dink na hoe ons dit in ons land kan doen na die ander godsdienste in ons land.
7         Die Gees stuur ons oor grense
  • Ons verbind ons aan die Gees wat alles met sy teenwoordigheid wil volmaak en ons in die proses wil stuur oor ons selfgemaakte grense.

Sal graag met ‘n paar mense ‘n pad wil stap tot en met die Pinksterdienste.  Bid, lees, lewer kommentaar en raak betrokke!

Chris van Wyk (acv.vanwyk@gmail.com)

Handelinge 4:32-35 – Son 19 April 09

Skriflesing
Agtergrond oor armoede

Getrou aan Lukas se perspektief, wat ook in sy evangelie wys hoe Jesus se boodskap goeie nuus was vir veral die armes onder die volk (Luk 4), is dit een van die belangrike hoeke waaruit hy die gemeenskapslewe van die eerste gemeente beskryf.

Vir ons wat in ander omstandighede lewe, en miskien nie altyd armoede goed verstaan nie, is dit goed om ‘n bietjie te dink oor die redes hoekom daar so baie arm Jode was in die tyd van Jesus (nie dat Jode vandag as ‘n groep meer regtig arm is nie, maar ons praat van toe!)

  • Voor die vestiging van die koningshuis, was die ekonomie van Israel gebaseer op selfversorgende gesinne wat die min beskikbare landbougrond in Palestina bewerk het. Die land as geheel was baie arm. Jerusalem se reënval is ongeveer 500 mm per jaar met die gevolg dat die boere grootliks ‘n bestaanstryd gevoer het.
  • Die koms van die koningstyd het alles verander (1000-597 v.C.). Die koning met sy voltydse weermag, hofhouding en amptenare wat nie geproduseer het nie, was afhanklik van die boere se belasting (klink bekend nê!). Soos wat die nie-produserende sektor toegeneem het, het belasting toegeneem. Salomo se geweldige bouprojekte het die belasting-las nog verder verhoog (vgl. die profete soos Amos wat toe begin optree het).
  • Boere se skuld het toegeneem totdat hulle hulle grond verloor het. Daarna moes hulle as arm ambagmanne werk (vgl. Josef en Maria wat oënskynlik nie grond besit nie).
  • Toe kom die periode van vreemde oorheersing: Babilonië, die Perse, die Grieke, Egipte, Sirië en toe Rome. Almal het die land geplunder en verwoes, en daarna die belasting verhoog.
  • Ten tye van Jesus was die mense dus brandarm, en het hulle nog verder verarm. Herodes het van die arm boere onteien en aan ryk landhere verkoop vir politieke gunste. Die infrastruktuur is oorweldig deur die bevolkingsgroei. ‘n Reeks natuurrampe (droogtes) het die land getref. Aangesien ‘n huwelik grootliks ‘n ekonomiese transaksie was, het armes met armes getrou, en só nog verder verarm.

Die gelowiges van die eerste gemeente is ook stelselmatig uit die Joodse gemeenskap, wat hulle as families in staat gestel het om te oorleef, gewerp.  Op hulle eie was hulle dus die armste, religieuse groepering onder die Jode.

Lees Hand 4:32-35

Woordverkondiging

Hulle was een van hart en siel – niemand het gebrek gely nie

Wie is die grootste?

Iemand het op ‘n keer vir Albert Schweitzer gevra:  “Doctor, name the greatest person alive in the world at this moment.”  Hy het ‘n oomblik gedink en toe hierdie antwoord gegee:

“The greatest person alive in the world at this moment, is some unknown individual in some obscure place who, at this hour, has gone in love, to be with another person in need.”

Dié wat help, is die grootste

En dit is een van die eerste dinge wat Lukas vir ons in Handelinge vertel van die vroeë kerk, dat dit ‘n plek was waar mense mekaar gehelp het. Duisende klein dade van gehoorsaamheid was die lewensasem van die eerste gemeente.

Eenheid en mededeelsaamheid

Lukas vertel vir ons, dat binne die eerste paar weke na Pinkster, hulle getalle gegroei het tot 5 000 ( 4:4).  En dié getal gelowiges was veral uit die armer dele van die gemeenskap van Jerusalem.

En, soos ons weet, dit is van die allergrootste belang, veral in so ‘n groot gemeenskap, dat daar geestelike eenheid en eensgesindheid onder gelowiges moet wees ten opsigte van toewyding, lojaliteit en liefde vir God en sy Woord. Die kerk kan nie sonder geestelike eenheid oorleef nie.

En al het ons gesonde meningsverskil oor die beste manier om dinge te doen, moet daar in ‘n gemeente ‘n basiese eenheid wees in die toewyding aan God en sy Woord – en as ons oor Somerstrand dink, ‘n eenheid van toewyding aan God in ons wyke, in ons kleingroepe, in ons eredienste, in ons Didage aanbiedinge.

Die eerste boodskap van hierdie teksgedeelte, is dus dat ons hulle voorbeeld moet volg, en nog meer ons eenheid as gelowiges moet vier en vertroetel.

Praktiese eenheid in mededeelsaamheid

Maar – en dit is die tweede boodskap van die gedeelte – kerklike eenheid is nooit net ‘n geestelike saak nie.  Dit is altyd ook ‘n praktiese kwessie.  Die onderlinge liefde en eenheid moet uitmond in ‘n praktiese manier waarop ons teenoor mekaar en die wêreld optree.

Ons kan ongelooflik baie leer by hierdie eerste gemeente.  Lukas sê vir ons, nie een van hierdie Christene het gevoel dat hulle besittings net hulle eie was nie, daarom het hulle dít wat hulle gehad het, met die ander gedeel. Op dié manier het hulle die armes ook gehelp. Hulle wou nie een broer of suster in die geloof laat swaarkry terwyl daar ander was wat oorvloed het nie.

Alles behoort aan God (Rethie vannaand)

En dit is wonderlik dat die redes hoekom hulle dit gedoen het, gewortel was in een ding en een ding alleen: hulle besef van wie God is.

Daar is maar een rede hoekom ons ooit kans sal sien vir mededeelsaamheid.  En dit is wie God is vir ons.

As ‘n mens die belydenis van Genesis ernstig neem, dat God uit die niks en uit die chaos alles gemaak het wat ons vandag kan sien, selfs ons menswees, dan behoort alles aan God.  En as ek dit glo, dan is enigiets wat ek het ‘n gawe van God, ‘n geskenk, deel van sy genade aan my.  Dan is die enigste manier om met jou besittings om te gaan, om uit dankbaarheid vir God, jou besittings tot voordeel van God en van ander op aarde te bestuur.

Die volgende storie illustreer iets hiervan.

‘n Tiener wonderkind het sy hart op die verhoog voor ‘n groot gehoor uitgespeel. Hy kon die klavier speel! Toe hy klaar is, het hy van die verhoog afgeloop, terwyl die gehoor hom ‘n staande applous gegee het. Die man agter die gordyn het blykbaar die tiener aangemoedig om weer uit stap en voor die gehoor te buig.

“Nee” het die seun geantwoord “ek kan nie!”

“Waarom nie?” het die verhoogbestuurder gevra  “Hulle almal staan en klap vir jou.”

“Nie almal nie” het die tiener geantwoord  “Die man in die agterste ry op die balkon, sit nog.”

“Dis die enigste een!” sê die verhoogbestuurder  “Wat maak hom so belangrik?”

“Hy is my leermeester.” het hy saggies geantwoord, terwyl hy skelmpies agter die gordyn uitloer  “Ek het vir hom gespeel.”

Net toe het die man op gestaan en deel van die staande applous vir sy leerling geword.

Is dit nie waaroor die lewe gaan nie? Soos Paulus dit mooi opsom:

“Ons wil nie guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God van ons verwag.”  (1 Tess 2:4)

Dit maak ons een in hart en siel – al verskil ons dikwels soos dag en nag van mekaar- dit gaan vir ons oor God die Vader, God die Seun en God die Gees.

Nog dieper, as ek regtig glo in die opstanding van Jesus uit die dood, kan ek my nooit weer losmaak van wie Hy is vir die gemeenskap van gelowiges en vir die wêreld nie.  Sonder die opstanding sou daar natuurlik nooit ‘n kerk gewees het nie.  Dit is vanweë die opstanding van Jesus dat daar ‘n gemeenskap van gelowiges ontstaan het wat deur hierdie sentrale waarheid en werklikheid saamgesnoer is.

Hulle het ‘n eenheid van hart en siel ervaar, soos Lukas hier skrywe, omdat elkeen in Jesus geglo en die krag van die opstanding persoonlik ervaar het. En omdat almal dit ervaar het, was daar ‘n amper onkeerbare drang om dit wat hulle het met ander wat soos hulle glo, te deel.

“True love and faith inspire social concern, especially within the community of believers” (Evangelical Commentary)

En jy kan maar dit toets – as iemand nie sy besittings deel met ander nie, lê die fout eintlik maar net op een plek: hy of sy erken nie hulle goed as gawes van God nie, en daarom voel hulle nie deel van die gemeenskap van gelowiges nie.  En die omgekeerde is net so waar – as jy God erken as die Skepper, dan kan jy nie anders om dit in oorleg met Hom te bestuur nie; netso as jy ander gelowiges as jou medegelowiges ervaar, dan kan jy nie anders om hulle belange in ag te neem in jou hantering van jou besittings nie.

Daarom het die eerste Christene nie net ‘n tiende van alles gegee nie, maar alles wat hulle het.  Hulle het nie gevra wat hulle moet gee nie, eerder wat mag hulle vir hulleself hou in die lig van die behoeftes van die gemeenskap.

Scott Russell Sanders vertel van ‘n vooraanstaande bouer in ‘n klein  Ohio dorpie wat gevra is of hy as vrywilliger wil aansluit by die plaaslike brandweer wat net bestaan uit vrywilligers.  Hy het dit vriendelik van die hand gewys, want wat kon hy daaruit kry? Sy huis was van baksteen gemaak en brand bestand.

Maar een dag het sy huis aan die brand geslaan. Die brandweer, wat bestaan het  uit vrywilligers, het met hulle brandweerwa daar aangekom.

Maar voor hulle die begin het om die brand in sy huis te blus, het hulle speels vir hom gevra of hy steeds geen rede het om by hulle aan te sluit nie.  Sonder huiwering het hy ingestem om dadelik by hulle aan te sluit!

Sanders hou daarvan om die storie te vertel omdat sy pa een van daardie vrywilligers was wat daar opgedaag het om die bouer se huisbrand te blus. Hy hou daarvan om dit ook te vertel omdat dit presies verduidelik wat dit beteken om deel van ‘n gemeenskap te wees. Hy skryf dan:

“We should not have to wait until our houses are burning before we see the wisdom of facing our local needs by joining in common work… We had better learn how to live well together, or we will live miserably apart.”

En God se genade was groot oor almal, dit wil sê God het almal vervul, ook hul praktiese lewe ten opsigte van dinge soos mededeelsaamheid.

Ek lees in Vincent Brümmer se wonderlike boek oor gebed (What are we doing when we pray?) dat God altyd die eerste oorsaak van gebedsverhoring is.  Dit is Hy wat intree en help waar daar behoefte is.  Maar, en dit is die wonder van die geloofsgemeenskap, ons is die tweede oorsaak van gebedsverhoring.  God tree deur ons hande en ons besittings in om te help waar daar behoefte is.

Die gelowiges in die vroeë kerk het dus hulle besittings en eiendom met mekaar gedeel omdat daar ‘n werklike eenheid en liefde onder hulle was en dit omdat hulle aan God self verbind was.

Kommunisme?

Maar – ‘n mens moet dit nie verkeerd verstaan nie.  Dit was geen kommunistiese stelsel waarin hulle noodwendig afgesien het van besitreg nie.

Een van die kommentare (De Villiers) sê dat ‘n mens hier gebruiksgemeenskap van goedere vind, maar nie ‘n eiendomsgemeenskap nie. Lukas wys eerder dat die meer vermoënde Christene hulle besittings nie net as hulle eie beskou het of uitsluitlik vir hulleself aangewend het nie, maar ook met opregte liefde omgesien het na die behoeftes van die medegelowiges.  Privaatbesit is dus nie opgehef nie.  Beskikkingsreg het steeds aan die individuele gelowiges behoort.

Dit blyk bv. uit die feit dat Barnabas nog sy eie grond besit het en dit op eie inisiatief verkoop het, soos ons hier in 4:37 lees (hy was uit die geslag van Levi en mag streng gesproke nie grond besit het nie, maar dit daar gelaat), en dat Petrus aan Ananias, wat ook nog sy eie grond besit het, gesê het dat by die grond en die opbrengs daarvan kon bly behou het (5:3).

Ons lees ook verder aan in Handelinge dat Maria, die moeder van Markus, nog haar eie huis besit het (12:12).

Privaatbesit is dus in geen opsig opgehef nie, maar eiendom is van tyd tot tyd verkoop om in die behoeftes van medegelowiges te voorsien. Die mededeelsaamheid is dus op die basis van behoefte nie op die basis van gelykheid of gelykstelling uitgevoer nie (“carried out not on the basis of equality but on the basis of personal need” – Wycliffe Bible Commentary).  Dit is nie bv. net gelykop verdeel, wat in elk geval eintlik dan net die armoede gelykop verdeel.

En dit is belangrik om te besef dat dit gereeld gebeur het.  Lukas vertel van minstens 3 keer wat hierdie verkoop van besittings gebeur het.

Wat dus gebeur het, is dat die lidmate, uit hulle ervaring van eenheid en mededeelsaamheid sélf besluit het om hulle besittings met ander te deel.  En hulle het nie nodig gehad om álles met die ander te deel nie, maar slegs soveel dat dit in almal se behoeftes voorsien het.

Dit het spontaan vir die eerste Christene gekom. Wanneer nie die wet ons dwing om te deel met ander nie, maar wanneer ons harte beweeg word om te deel en te help, dan is ‘n gemeenskap regtig ‘Christelik’.

Die visie van Deuteronomium 15

Die visie van Deut. 15:4, dat daar nie ‘n arme onder die volk sal wees, as hulle regtig die Here gehoorsaam nie, het dus hier in vervulling gegaan.  Soos Lukas sê: “nie een van hulle het gebrek gelei nie …”

Dit is ‘n visie wat in gevaar gestel is deur Ananias se optrede, soos ons in hfst. 5 lees, en later deur die vervolging wat ook ‘n ekonomiese impak op die eerste gemeente gehad het, maar toe deur die hulp van ander gemeentes in Europa en Asië in stand gehou is.

En terloops – vir dié wat wonder oor die volgende verhaal van Ananias en Saffira – hulle probleem was dat hulle met hulle gewaande mededeelsaamheid indruk wou maak. Deur so vir die gemeente te lieg, het Ananias en Saffira bedrog teen God sélf gepleeg. Die verskriklike gevolge het gedien as voorbeeld vir die hele kerk (Handboek by die Bybel).

Laat my dink aan die storie van die koning wat ‘n klomp kleinboere op sy grond met wingerd laat boer het.  Hy wou nie meer geld maak nie, maar wou baie graag genoeg wyn hê wat vir hom ‘n jaar lank kon hou tot die volgende oes.  Sy reëling met die kleinboere was dat hulle ‘n bottel van hulle beste wyn in ‘n vat by sy kasteel moes kom gooi.  Die koning het geweet dat as almal dit doen, hy genoeg wyn vir die jaar sou hê en ook van die lekkerste wyn wat jy kon kry – praat van ‘n goeie versnit!

So het die klein boere jaar na jaar ‘n bottel van hulle lekkerste wyn gebring en die koning was baie tevrede.

Een van die boere het egter een jaar gedink dat as hy daardie jaar nie wyn ingooi nie, die koning dit tog nie sou agterkom nie.  Hy het toe, in plaas van die wyn, ‘n bottel water gaan ingooi.

Toe die oestyd verby was en die koning van sy wyn wou geniet, het hy woedend al die kleinboere geroep.  Voor hulle oë het hy van die wyn uit die vat geskep en tot almal se verbasing was daar net suiwer water in die vat.  Elkeen van die boere het dieselfde gedagte gehad – dat hulle beskeie bydrae tot die koning se wynvat tog nie so belangrik is nie.

Die koning het toe al die boere van hulle wingerde verjaag en die grond vir ander mense gegee.

Ek sluit af

Ons fokus dié kwartaal op gasvryheid.  Ons gaan nie soseer preek daaroor nie, maar dit beoefen.  Dit is reeds so dat daar ‘n ongelooflike omgee in ons gemeente vaardig is. Praat net met mense wat deur een of ander krisis gaan, en hoe mense regtig betrokke raak en uitreik na hulle.

Ons wil aansluit daarby en die Here vertrou dat dit nog groter sal groei, die mense sal insluit wat soms oorgeslaan word en veral die mense in ons buurte wat nie van ons gemeente of selfs geloof is nie, ook sal insluit.

Alexander Irvine het ‘n wonderlike ding geskryf in sy roman, My Lady of the Chimney Corner. Die heldin van die boek gaan na ‘n buurvrou wat in rou is en plaas haar hand om haar en sê:

“God takes a hand whenever he can find it and just does what he likes with it. Sometimes he takes a bishop’s hand and lays it on a child’s head in benediction. And then he takes the hand of a doctor to relieve the pain, the hand of a mother to guide a child. And sometimes he takes the hand of a poor old creature like me to give comfort to a neighbor. But they’re all hands touched by his Spirit, and his Spirit’s everywhere lookin’ for hands to use.”

Gedagtes oor armoede
Strategieë vir die hantering van armoede (Seisoen van Luister)

Watter riglyne gee Lukas vir ʼn gemeente wat oorval word met armes?  Lukas gee vir ons meer as een antwoord.  Unieke situasies vra dus om verskillende optredes.  Die volgende blyk egter belangrike riglyne te wees:

1.  Ons moet waak om materiële dinge te begeer (Luk. 12:15-21).  Ons moet eerder begeer om barmhartig te wees soos wat God is (Luk 6:36).

2. Daar moet verder as ‘n gevoel van jammerte gegaan word deurdat daar konkreet iets gedoen is.  Daarom praat ons van liefdadigheid.

3. Die gee van Aalmoese en die verlening van gasvryheid is deel van ons taak as kerk (dis Jesus se oproep – Luk 12:33 en word deur gelowiges gemodelleer: Paulus gee in Hand. 11:27-30, 12:25, 24:17; en in Hand. 10:2 gee Cornelius ruim).  Dis immers saliger om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35b).  Die vraag is ook nie hoeveel jy gee nie, maar hoeveel jy vir jouself hou.

4.  Lukas vermeld drie keer (dus ʼn algemene gebruik) dat die gelowiges hulle besittings verkoop het en alles met mekaar gedeel het  (Hand. 2:45, 4:32 en 4:34).  Dit gaan in die gedeeltes egter eerder oor mededeelsaamheid as besitloosheid.  Jesus word bv. nie as ‘n askeet geskets nie (vgl. sy optrede by die troue in Joh. 2 en die aanklag teen Hom in Luk. 7:34).  Hand. 4:32-37 getuig van die verdeling van besittings eerder as die totale afsien daarvan.  Liefdadigheid en die verligting van lyding, is die motief.  Die grammatika van die verse dui ook eerder op ‘n voortdurende (soos nood ontstaan het?) proses as ‘n eenmalige een.

5.  Die oproep tot mededeelsaamheid geld vir almal.  Die rykes ten opsigte van die armes, maar ook ten opsigte van die minder armes teenoor die meer armes (vgl. Luk. 3:11 waar die wat net twee het, ook moet ook deel).  Daar was egter geen dwang om alles te verkoop en weg te gee nie soos wat Ananias-hulle voorgegee het nie (5:3-4).

6.  Waar moontlik, moet die armes selfversorgend wees (vgl. Paulus as tentmaker – Hand 20:35).

7.  Gelowiges moet alle uitbuiters met liefde behandel (Luk. 6:27 & 35), maar hulle moet weer met hulle onreg breek (Luk. 19:8).  Let op Saggeüs se weggee van die helfte van sy besittings!

8.  Dis ‘n geestelike gawe om te kan gee (Rom. 12:8).  Miskien moet ons meer (indien ons ooit wel), daarvoor bid as vir ander gawes wat vir ons as mense meer belangrik lyk.

9.  Dit is duidelik in vers 35 dat die apostels ‘n leidende rol gespeel het in die insameling en die verdeling van die gemeente se middele.  Die geld wat ingesamel is, is letterlik aan hulle voete neergelê as simbool van die onderwerping daarvan aan hulle beheer (Hand. 4:35, 37, 5:2).

Jesaja 25:6-9 – Paas Sondag – 12 April 09



Skriflesing

Soos ek reeds verlede Sondag gesê het, beslaan die boek Jesaja eintlik 3 dele wat met die voor-ballingskap tyd (hfst. 1-39), die tyd in die ballingskap (hfst. 40-55) en die tyd na die ballingskap (hfst.. 56-66) van die 6de eeu v.C. verbind kan word.

Jesaja 25 is deel van Eerste Jesaja (hoofstukke 1-39).  In die tydperk gaan dit aanvanklik op ekonomiese gebied nog goed met die volk.  Die samelewing was egter inherent siek deurdat die mense volgens Jesaja uiterlik baie godsdienstig was, maar innerlik verrot.  Hy het vervolgens veral die uitbuiting van armes, oneerlikheid en eiebelang aan die kaak gestel en aangekondig dat God sy volk gaan straf.  Uiteindelik sou die volk in ballingskap weggevoer word, die eerste keer in die 8ste eeu v.C. veral die 10 stamme van Israel en in die 6de eeu v. C. die 2 stamme van Juda.

Die klem val baie sterk in Jes. 1-39 op die oordeel oor Juda en Jerusalem (1-12), die nasies (13-23), die wêreld (24-27) en uiteindelik ook die verbondsvolk (28-35).  In elk van die onderafdelings is daar egter ook ondertone van hoop, soos met dié gedeelte in hfst. 25.

Woordverkondiging

‘n Mens word nogal honger as jy die evangelies lees, dis die een ete na die ander … Jesus was lief vir eet … om te “kuier-eet” saam met mense en so die lewe én God se goedheid te vier.

Ek dink Jesus sou vandag die restaurante geniet het.  Geen wonder dat een van die sakramente wat Hy ingestel het rondom eet was nie – die Nagmaal. Dis die beste uiteet-geleentheid wat daar is!

Hier in Jesaja 25 word ook gepraat van ‘n uiteet-geleentheid … en dis vol van vreugde-gevulde woorde. Dit lyk asof die teks ‘n kronings banket beskryf, waar God as die Heerser gekroon word, in NT terme, waar Jesus se opstanding gevier sal word. Dit is ‘n gelukkige, vreugdevolle geleentheid. Ek kan in my geestesoog sien hoe kreun die tafels onder die wonderlike oorvloed wat God vir ons en die wêreld opdis!

God hou ‘n feesmaal

Feeste en die gode is natuurlik eintlik half sinoniem.  In al die mitologieë lees ‘n mens van groot en uitspattige feeste wat die gode gehou het.  Dit is waar van Egipte, Griekeland, Assirië en Babilonië.

Jesaja se visie op die eindtyd, dat dit ‘n feesmaal sal wees, is dus heeltemal in lyn met wat in ander godsdienste ook die geval is.  Daar is ‘n hele paar ooreenkomste.  Maar wat Jesaja uniek maak, is dat die gaste nie ander gode is nie, maar mense.  In al die mitologieë nooi die gode ander gode uit om saam met hulle fees te vier – baie keer met die mense wat dit moes ontgeld.

Mense is God se gaste

Wanneer God ‘n feesmaal hou, hou Hy dit met mense, mense soos jy en ek.

Om die waarheid te sê, omring soos Hy is in die hemel met die vier lewende wesens, met die 24 ouderlinge, met die skare engele, is sy gaste mense, mense uit elke deel van die wêreld, mense wat Hy verlos het, mense van wie Hy die kleed van skuld verwyder het, letterlik staan daar, Hy het dit opgeëet en ingesluk, mense van wie Hy die trane afvee.

God gee sy beste

En Hy gee die beste wyn, verouderde wyn, kan seker net rooiwyn wees, ander wyn verouder nie so goed nie.  Hy gee die beste kos, en dit in oorvloed.  En Hy verwyder die skande wat oor sy volk gekom het vanweë hulle ongehoorsaamheid, en laat hulle in ere herstel weer saam aansit saam met al die ander volke oor wie Sy Naam uitgeroep is.  Soos Dawid ook in Psalm 23 ervaar – U laat my by ‘n feesmaal aansit, al was daar donker dieptes op die pad daarheen.

Sulke oorvloed moet ‘n mens met vreugde vier!  Paastyd is mos die tyd wat oorloop van vreugde omdat Paastyd vir ons sê:  “Ek het die toekoms gesien en dis wonderlik!”

Jesaja 25 roep ons ook tot vreugde:  “Laat ons bly wees en juig omdat God ons gered het.” Dis die Paasboodskap in ‘n neutedop.

Jesus se lyding van Goeie Vrydag word omgesit in die vreugde van die verlossing op Paas Sondag.

God sluk die dood in

En die wonderlikste van alles, God sluk die dood in.  Soos Goeie Vrydag die begrafnis van sy Seun was, is hierdie Feesmaal die begrafnis van die Dood.

Interessant, van die ander gode se feesmaaltye het baie keer een of ander helde daad ingesluit.  Marduk bv., die hoof Babiloniese god, in die Enuma Elish (Babiloniese skeppingsverhaal), een van die stories wat die Bybelskrywers moes geken het, het by een só ‘n feesmaal ‘n kledingstuk laat verdwyn en weer laat verskyn.

Maar Jesaja teken God as die een wat nie maar net sommer ‘n towerkunsie doen nie.  Hy sluk die skuld van mense in, en Hy sluk die dood (hamôt) in, en wis die oordeel en die straf van sy mense uit.

Die doek waarvan hier gepraat word, is die doek van onkunde, die doek van verydeling, die doek wat soos ‘n skaduwee oor die nasies gelê het en alles wat hulle doen, beïnvloed het.

Anders as die Satan, wat in die NT geteken word as die een wat mense soek om te verslind (1 Pet 5:8) om hulle lewens te vernietig,  soos sy voorganger die Leviatan, eet God die dinge op wat skeiding bring tussen Hom en die mens, sodat hulle die lewe kan hê.  Hy eet die vloek van die sonde op, Hy sluk dit in, en Hy eet die gevolge van die sonde ook op, die dood.

Jesus het immers gekom dat ons lewe sal hê en dit in oorvloed (Joh. 10).

God gee ons hoop

En die wonder van hierdie feesmaal is dat dit vir ewig is.  Die dood word nie net vernietig vir ‘n tyd nie, so half soos in die sikliese verstaan van die Hindoeïsme nie, waar lewe en dood mekaar afwissel nie.  Nee, die dood word as entiteit vernietig.  Daarom word daar van DIE DOOD hier gepraat.  Dit is DIE DOOD wat vernietig word.

Net so terloops – dit is dan ook die probleem van die hele idee van reïnkarnasie – daar is nooit ‘n einde aan nie.  Jy kan opgaan in die hiërargie, maar jy kan ook daal – daar is geen versekering dat jy ooit genoeg karma gaan hê om geluksaligheid te bereik nie.

God werk nie so nie.  Hy deurbreek die effek wat die dood en die skuld en die sonde kan hê, en wis dit uit, sluk dit in, sodat ons die lewe en dit vir ewig kan hê.

Eugene O’Neill het ‘n toneelstuk geskryf: “Lazarus Laughed” (1925).  Dit handel oor wat gebeur het nadat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het.

Die toneelstuk wys, hoe vanaf die eerste oomblik wat Lasarus se vriende hom weer sien nadat hy uit die dood opgewek is, sy lewe gevul is met vreugde en blydskap.

“What did you see on the other side of death?” vra hulle hom. En Lasarus antwoord, “There is no death! There is no death! There is only life!” En dan bars hy uit van die lag – O’Neill beskryf hierdie lag as, “full of acceptance of life and a profound joy.”

En die toneelstuk gaan aan om Lasarus te skets as ‘n prediker met net een boodskap: dat die lewende Christus mense kan bevry van die vrees wat die dood bring.

Aan die einde kom daar dan ‘n groot konfrontasie met die wrede Caligula, opvolger van die Romeinse troon. Caligula dreig Lasarus met marteling en teregstelling oor sy boodskap. Maar Lasarus kyk hom in die oë en lag saggies, “Death is dead, Caligula, Death is dead!”

O’Neill sê dus met dié toneelstuk, die grootste verandering in Lasarus se lewe, nadat hy die nuwe lewe in Christus ontdek het, is dat hy nie meer bang was nie. Hy kon lewe met hoop. Lasarus kon op ‘n ander manier as tevore leef en lag. Hy sou wéér moes sterf omdat sy opstanding uit die dood nog nie die uiteindelike opstanding uit die dood in die voetspore van die Opgestane Christus was nie. Maar hy het die dood nie meer gevrees nie. Vir hom was Die Dood, dood! Nou kon hy leef sonder die vrees vir die dood!

Soos John Donne skryf in “Death be not Proud” in die eerste twee reëls:

DEATH be not proud, though some have called thee

Mighty and dreadfull, for, thou art not so,

En dan sluit hy af met die laaste reël:

And death shall be no more; death, thou shalt die.

Ons kan hoop

Nou wat is die effek op ons?  Watter hoop lê in hierdie Feesmaal, hierdie Paasmaaltyd vir ons?

‘n Paar jaar gelede was daar ‘n ondersoek waarin gevra is: “Watter sin sou jy baie graag wou hoor iemand opreg vir jou sê?”

Kan jy raai wat die eerste ding was wat mense graag wou hoor?

  • Die eerste was: “Ek is lief vir jou!”
  • Die tweede een was “Jy is vergewe.”
  • Die derde een was eintlik ‘n verrassing: “Ete is reg!” (D.w.s. Kom eet!)

En dít is wat hierdie Feesmaal, waarvan die nagmaal natuurlik ‘n voorloper is, vir ons sê:

Eerstens: Dit sê vir ons God is lief vir ons.

Die liefde wat God vir sy Seun het, bly my hart roer.  Want dit is eintlik net in God die Vader se liefde vir sy Seun, Jesus, wat ek sy liefde vir my kan raaksien en daarop kan vertrou.  Die wonder van hierdie Paas Sondag is dat die offer wat Jesus op Goeie Vrydag gemaak het, deur God die Vader met die opstanding van Paas Sondag begroet is.

  • Waar Jesus op die Donderdag in Getsémané gevra het, Laat die beker tog by my verbygaan, en nogtans steeds gehoorsaam gesê het, nogtans nie my wil nie, maar U s’n,
  • en op Goeie Vrydag gevra het, Waarom het U my verlaat en nogtans uiteindelik in gehoorsaamheid sy Gees aan God die Vader teruggegee het …
  • so antwoord God die Vader uiteindelik met die opstanding uit die dode en met die verheerliking van Hom as mens bo alle ander op die aarde, voor Hom en na Hom.

En in hierdie liefde vir Sy Seun, lê daar vir my die hoop dat Hy ook vir my liefhet.  Dat Hy ook aan my getrou sal bly.  Dat ek ook hierdie feesmaal aan die einde van die tyd sal kan bywoon.  En elke keer by die nagmaal, soos ook weer by Goeie Vrydag, versterk word in my hoop.

Tweedens: Dit sê vir ons, ons skuld is vergewe:

In ‘n droom het Martin Luther beleef hy word deur die duiwel aangeval. Die duiwel het ‘n lang boekrol, wat ‘n lys van Luther se sondes opgehad het, vir hom gelees. Nadat hy klaar gelees het, het Luther vir hom gevra: “Is dit al?” “Nee” het die antwoord gekom en ‘n tweede boekrol is oopgemaak met nog sondes. Na dit was daar ‘n derde lys, maar toe was die duiwel klaar.

“Jy het iets vergeet!” het Luther uitgeroep.  “Skryf gou vinnig op elkeen van hulle – die bloed van Christus, God se seun, was al ons sondes weg!”

Dit is die wonder van hierdie Paas Sondag – die sonde en die skuld en die straf vir die sonde, die dood, is vernietig, dit is ingesluk, dit is opgeëet.  Ons is vry mense wat met vrymoedigheid (parresia – Hebreërs 4) met God kan praat en met Hom gemeenskap kan hê.

Derdens: En die boodskap sê vir ons – in die taal van Jesaja 25 –  “ete is reg”.

Ek lees die verhaal van ‘n Ier wat, soos baie ander in die 1820’s, met sy familie na Amerika toe wou verhuis. Hy het gespaar, geleen, hard gewerk totdat hy die kaartjies vir die bootreis kon koop. Hulle het die reis aangepak met die klere wat hulle aangehad het en paar muntstukke wat die pa in sy sak gehad het. Hulle sou in Amerika ‘n nuwe, vars begin maak.

Vriende en familie het vir hulle op die kaai kom totsiens sê. Daar het hulle vir hulle sakke vol brood, kaas en aartappels gegee.  Die familie was maar te dankbaar vir al die geskenke, want dit sou die honger weghou van hulle af.

Aan boord het hulle op die onderste dek ‘n slaapplek gekry: ouma, ma, pa en 6 kinders. Die pa het sy reëls uitgespel: wees versigtig, bly naby aan mekaar en moenie verlore raak. Hierdie goed was veral bedoel vir die ore van die familie se 6-jarige woelwater.  Dié was ‘n ontdekker uit die boonste rakke!

Soos die boot verder gevaar het, het die kos opgeraak, behalwe vir ‘n paar gemufte aartappels. Hulle was honger en moedeloos. Die woelwater het gepleit vir iets vars om te eet.  Die ma het na die pa gedraai en gesê:  “Laat hy vir ons ‘n paar vars lemoene gaan koop met die geld wat jy oor het, dan kan ons dit onder mekaar verdeel en vier dat daar nog net ‘n paar dae oor is voor ons voet aan wal sit.”

Die seuntjie is toe opgestuur.  Na ‘n halfuur was daar nog geen teken van die woelwater nie.  Almal was bekommerd, veral die ouma en ma.  Die pa het op die groot boot begin rondsoek.  Einde ten laaste kry hy hom in die eetsaal van alle plekke!  Hy was besig om alles te eet wat hy kon sien!  Die pa het hom aan sy arm gegryp en sê:  “Hoe kon jy?  Ons het geen geld om vir al hierdie kos te betaal nie!  Jy sal ons vernietig nog voor ons by Amerika uitkom” Met sy mond vol kos het die seuntjie sukkel-sukkel die volgende woorde uitgekry:  “Pappa! Pappa!  Jy verstaan nie.  Die kos is verniet.  Die kos is ons s’n. Dit is ingesluit in die prys van die kaartjie!”

Die pa was verstom.  Hy het in die kelner wat naby gestaan het se gesig gekyk en dié het dit bevestig.  Al wat die pa kon uitkry was:  “Goeie genade!”  Hy het die seuntjie gestuur om die res van die familie te roep. Terwyl hulle dankbaar in stilte die wonderlike kos geniet het, het die woorde in hulle kop rondgemaal: “Die kos is verniet.  Die kos is verniet. Dit is ingesluit in die prys.”

Slot

Ek sluit af met ‘n gebed van Ds Stefan Louw wat hy twee jaar voor sy dood in September, 2006 as deel van ‘n meditasie geskryf het.

“Here, laat die dood die sin wees waaruit ek my broosheid put, laat dit die hals wees wat my lewe versier met nederigheid, met vrede, met diensbaarheid, met hoop. Laat dit die laaste woord wees wat elke dag die lewe nuut opbreek, laat my weerloosheid terugval in U Vaderhand, laat die stort oor die rand slegs die vryval wees en dan die sprei van die vlerke, die vlug, die oorgee aan U my Vader van wie my Gees kom en na terugkeer. U die lewensGees, die bron van alle Goeie dinge.

Ek wil Hom nie vrees nie Heer, ek wil Hom verstaan en op die regte tyd ontmoet soos iemand by ‘n deur staan en klop, nie as iemand nie, maar juis as niks, as bloot ‘n oomblik van nietigheid, as bloot ‘n ingang, ‘n donker ingang met U stem wat anderkant klink. Amen.”

Hebreërs 4:14-16 & 5:7-9 – Goeie Vrydag – Vry 10 April 09

Skriflesing

Die brief aan die Hebreërs draai in ‘n groot mate om die belydenis dat Jesus ons Hoëpriester is.  In hoofstuk 1 word Hy as God se laaste en beste woord aan die mense geteken.  Hy is groter as die profete en engele (hfst. 1), groter as Moses met die uittog uit Egipte (hfst. 3) en groter as Josua met die intog in Israel (hfst. 4) – d.w.s. groter as enigiets wat die Ou Testament aan gelowiges gebied het.

Hoekom?  Want Hy is die een wat TUSSEN ons en God kan staan, wat barmhartig is met ons EN getrou is aan God – ‘n ware Hoëpriester.  Dit is die rede waarom gelowiges met vrymoedigheid tot God kan nader (hfst. 10) – die grootste voorreg wat ‘n mens kan hê – want Jesus staan tussen ons, soos nie een van die Ou Testament karakters dit kon wees nie, nie eers die Hemelse karakters nie.

Hebreërs 4:14-16, wat ons nou gaan lees, is ‘n oproep om vas te hou aan hierdie Hoëpriester, en met Hom die pad te stap met vrymoedigheid, met hfst. 5 ‘n verduideliking van hoe dit moontlik geraak het, deur Sy lyding, dit wat ons op Goeie Vrydag in herinnering roep.

Woordverkondiging

Vandag draai om Jesus en om Hom as die gekruisigde, Heer.

Ek wil dus op Hom fokus, en selfs as ek gaan gesels oor die toepassing in ons eie lewe, dan bly die fokus op Hom en nie op ons nie.

Ek lees dié week by die Seisoen van Luister span die volgende storie:

‘n Sewe jarige seuntjie het geld van sy pa gekry om ‘n verjaarsdag geskenk vir sy ma te koop. Hy wou dit op sy eie doen. Sy pa het hom van ‘n afstand dopgehou, terwyl hy na een van die verkoopsdames toe loop.

“Ek wil vir my ma ‘n rok koop, maar ek weet nie watter grootte sy dra nie.”

Die verkoopsdame het met ‘n glimlag gevra: “Wel, is sy lank of kort, vet of maer, groot of klein?”

Die seuntjie het vir tydjie gedink en toe met ‘n groot glimlag geantwoord:  “Sy’s net perfek!”

Pragtige storie!

Jesus is volmaak

Maar op ‘n diep vlak is dit ook waar van Jesus.

Jesus was perfek, of dan volmaak, soos ons miskien eerder sou sê – daar was nie ‘n gebrek van watter aard ook al in Hom nie.  Hy was ‘n innemende, liefdevolle, wyse, joviale, geestige mens.  Hy kon lag en Hy kon huil.  Hy het Hom, met respek gesê, “dood”-gewerk, maar tog genoeg tyd vir stilword gemaak, en vir loop langs die see en in die oeslande.  Hy het feesmaaltye geniet en was doodgewoon iemand wat jy graag as gas wou onthaal.  En Hy kon, weer met respek gesê, toor met wyn.

Maar nog dieper as dit, Hy was volmaak omdat Hy deur God vir ‘n baie spesifieke werk aangestel is, en dit is om die kosmos met Homself te versoen.

En hoe het Jesus dit gedoen?

Jesus identifiseer volledig met mense

In die eerste plek het Hy Homself volledig  geïdentifiseer met mense, sonder om daarmee in dieselfde strik van sonde te trap as ons.  Jesus is in elke opsig aan elke versoeking onderwerp wat ons maar aan kan dink, Hy ken dus ons stryd, maar met dié verskil, Hy het nie gesondig nie.  Hy het rein gebly, om daarmee aan God gehoorsaam te bly.

Terloops, dit beteken dat Jesus met sy  verhoging tot die hemel Hom ook nie verwyder van ons, soos ‘n politikus wat kontak verloor met die gepeupel nie.  Inteendeel, Sy aardse lyding bind Hom steeds aan ons, maar daaroor meer met die Hemelvaart diens.

Jesus het dus simpatie met ons, nie as een wat van buite af vir ons jammer is nie.  Nee, Hy was al daar waar ons was!

Hulle vertel dat een van die beste rehabilitasie-sentrums vir dwelms verslaafdes ter wêreld ‘n sentrum is wat beheer word deur ‘n voormalige dwelmbaas wat self verslaaf was, en nou gerehabiliteer is.  Daar word vertel dat die verslaafdes, wanneer hulle so sukkel met die proses, wanneer hulle die heeltyd wil opgee, hulle vir die verpleegsters en raadgewers sê hulle kan nie meer nie, dis onmoontlik.  Maar die oomblik as die bestuurder daar instap, het hulle geen verskoning meer nie… Dan moet hulle maar net vasbyt.

Dit is ook die waarde wat Jesus vir ons het in ons stryd.  Hy weet waardeur ons gaan.  Hy was voor ons al daardeur.  Daarom kan ons met vrymoedigheid na Hom toe gaan en weet Hy sal ons nie in die steek laat nie.  En kan ons vasbyt in ons eie stryd.

Gisteraand met die reis deur die stasies hier in die kerk, het ek selfs terug gegaan na die Getsémané uitbeelding, omdat dit vir my die boodskap gehad het – Ek het vasgebyt – en dit vir my ook moed gegee het om in my eie lewe vas te byt.

Jesus is volledig gehoorsaam aan God

Maar in die tweede plek het Jesus sy aanstelling as Versoener in die mees volledige gehoorsaamheid aan God uitgevoer.  En dis belangrik om te besef, dat dié gehoorsaamheid nie maklik gekom het nie.  Daarom skryf die evangelies so baie oor sy gebede en sy smekinge wat Hy met harde geroep en met trane  aan God geoffer het, soos ook hier in Hebreërs.

Jesus het dus gedeel in die angs wat dikwels ons lewens kenmerk … as ons gehoorsaam wil wees.  As die Hebreër skrywer hier skryf oor sy angs gebede, verwys hy heel waarskynlik na Jesus se gebed in die tuin van Getsémané (Matt 26:39).  In hierdie volmaakte gebed het Jesus vir God gevra om Hom die lydensbeker te spaar. (Mat 26:39).

As ‘n mens dié gebed van Jesus ontleed, dan is dit opvallend dat dit aan alle moontlike gebedsvereistes voldoen:

  • Jesus het God korrek aangespreek (Abba, Vader);
  • Die omstandighede was dié van afsondering (Hy was heeltemal alleen) en nie ter wille van ‘n gehoor gedoen nie;
  • Hy het God met die volmaakte gesindheid genader (dringend, maar sonder om God se arm te probeer draai);
  • Hy het die gepaste houding gehad (Met nederigheid en onderwerping );
  • Daar was ‘n duidelike en spesifieke inhoud in sy gebed – (laat hierdie beker by my verby gaan);
  • Dit was ‘n gebed met die geloof wat berge kon versit (Vader, alles is vir U moontlik);
  • Dit is met onwrikbare vertroue gedoen (nogtans nie my wil nie, maar U wil);
  • Dit is met uiterste konsentrasie en inspanning gedoen (Sy sweetdruppels het in bloed verander);
  • Dit was ‘n volhardende gebed (Hy het drie maal gebid – die volmaakte getal).

Tog het God hierdie volmaakte en aangrypende gebed nie geantwoord, op die manier wat Jesus dit sou wou hê nie!

En ten spyte daarvan, bly Jesus getrou en gehoorsaam aan die opdrag wat God vir Hom gegee het.

Jesus word hiermee die volmaakte tussenganger tussen ons – Hy identifiseer volledig met ons – en God – en Hy bly gehoorsaam tot die dood toe.

Ons verstaan moeilik die radikaliteit van hierdie gehoorsaamheid.

Wanneer Jesus aan die kruis hang, nadat God die Vader sy versoek weier, staar Hy nie net die dood in die oë nie.  Hy staar die verwydering van God se teenwoordigheid, van Sy Gees, in die oë.  Dit is soos ‘n afgrond wat voor Hom oopmaak, ‘n donker bodemlose put, waar Hy God en Homself moet laat los, sy eie mag moet prysgee, moet besluit om nie op te tree nie, die onreg en die geknoeiery en die verraad moet verdra, en iets moet deurmaak waarvan Hy die hoop het dat Hy daarvan verlos sal word, maar nie self die hoop kan waarmaak nie.  Hy is volledig afhanklik van God die Vader.

Dit is die krisis van die kruis – dat die toeganklikheid van God vir Hom toegesluit word;  dat die gemeenskap wat Hulle ononderbroke van voor die begin van alles af gehad het, deurbreek word; dat die teenwoordigheid van die Gees in sy lewe tot niet gaan; dat Hy die alleenheid van die niks moet trotseer, van nie-wees, van nie-bestaan, van nie-mand wees.

En al wat Hom laat volhard aan die kruis, is sy vashou aan die hoop op verlossing, die hoop op die opstanding, die hoop op die herstel van God se teenwoordigheid.  En daarom gee Hy sy Gees terug aan die Vader, in die hoop dat die Vader dit vir Hom sal teruggee.

Ons navolging

As ons nadink oor die effek van dié boodskap op ons eie lewe, dan kan ons vier goed daaroor sê:

Eerstens: Jesus het gesterf sodat ons nooit weer op dieselfde wyse deur God verlaat sal word nie. Daar is niks wat ons kan skei van die liefde van God in Jesus Christus nie.

Tweedens: Jesus het gesterf om vir ons ‘n vrye toegang na sy Vader te verwerf. Gelowiges kan op grond van Jesus se hoëpriesterskap met vrymoedigheid (parresia) na die genadetroon gaan.  Parresia het in sekulêre Grieks gedui op die vryheid van spraak wat die vryburgers van ‘n stad geniet het.  Gelowiges het egter méér as vryheid van spraak (d.m.v. gebed) in God se troonkamer.  Hulle het die sekerheid dat hulle daar oorvloedige barmhartigheid en genade sal ontvang.

Ons kan dus dag en nag met God praat en ons kan weet dat Hy ons hoor en verhoor.  Jesus is in die hemel om dit vir ons te verseker.

Derdens: Jesus kan na sy dood ons nog beter bystaan in die krisisse wat ons self moet deur.

En dan bedoel ek spesifiek die krisis van gebede wat anders beantwoord word as wat ons dit vra.  Dit is immers so dat ons nie alles kry waarvoor ons vra nie.  Ons het ook ons eie kwota ongeluk en lyding en siekte en onreg wat ons kant toe kom, wat nie deur gebede voorkom kan word nie.  Selfs wanneer ons gebede en lewenstyl in ons eie oë voldoen aan al die voorwaardes wat die Woord vra, weet ons mos dat God soms vir ons “Nee” sê, en dat daar slegte dinge oor ons pad kom.

Maar die kruis van Jesus help ons om verder te kyk as die krisis self. Toe God Jesus se gebedsversoek geweier het, het Hy die redding van die mensdom in gedagte gehad. Hy het Nee gesê op die spesifieke gebedsversoek, omdat Hy ‘n veel wonderlike en heerlike verlossing  waar wou laat word.  Hy het dus geantwoord, maar nie soos Jesus dit wou hê nie.

Al is dit vir ons moeilik,  moet ons ook ons  “onverhoorde gebede”  in die raamwerk van God se plan plaas en moet ons in ons eie krisisse ons vertroue in God plaas – soos Jesus gedoen het! Gewoonlik sien ons nie die groter prentjie onmiddellik raak nie en soms sien ons dit nooit raak nie. Dit is wat ‘n krisistyd so intens kan maak.  En dan nog steeds moet ons ons hoop en ons vertroue in God plaas.

Vierdens: Jesus moedig ons aan om op dieselfde manier as Hy regtig om te gee vir mense

Jesus sit op hierdie Goeie Vrydag ons voete uit dankbaarheid in beweging na ‘n wêreld wat verlang na iemand wat regtig omgee, sodat hulle deur ons liefde kan weet daar is Iemand wat regtig omgee …  Jesus, die bron van ewige saligheid  (vers  9).

En as dít die enigste effek is wat Goeie Vrydag op ons het vandag, dan was dit ook al genoeg.