Skip to main content

Jesus sê … EK IS – Lydens- en Paassangdiens – 17 April 2011

Ek is die Goeie Herder

Liturg

Jesus het gesê: “Ek is die goeie herder.”

Ons doop vandag een van Jesus se skape – Dawid Fanus van Zyl (Louis en Madelize [LD, Jan-Hendrik])

Doop en Dankoffer

Dankoffer tydens die dooplied aan die einde van die doop

Gemeente: 288:1 Ons dank U, Heer, en bring U eer

Liturg

Sy herderskap beteken: “Hy lê sy lewe af vir sy skape.” (Joh 10:10).

Dit is die evangelie, die goeie nuus van die Goeie Herder wat sy lewe nie belangriker ag as dié van sy skape nie.  Hy het sy lewe vir ons afgelê.

Koor: Laat ons Heer u dood gedenk, lewe vind in u dood – Ave Verum Mozart

Ek is die brood wat lewe gee

 Liturg

En terwyl hulle eet met die laaste paasmaaltyd, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.’” (Matt 26:26).  Daarmee het Hy sy uitspraak vervul : “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” (Joh 6:35)

Gemeente: 399:1-2 Aan die tafel met die Paasmaal, breek die Here self die brood: Dis my liggaam, dis vir julle

Ek is die weg

Liturg

In Jesus se afskeidsgesprekke in Johannes 14-17 praat Jesus indringend oor sy kruisdood.  En Hy spel uit dat Hy die weg, en die waarheid en die lewe is (Joh 14:6).  En Hy illustreer dit deur op te staan van die Nagmaalstafel en deur die worsteling van Getsemane die weg na God vir ons te word.

Koor: Bly by my en waak hier met my

Liturg

Petrus, ons lees dat jy en Johannes en Jakobus in die tuin van Getsemane uitgekies is deur Jesus om saam met Hom te bid in sy worsteling met die pad wat Hy moes gaan.  Maar julle het dit baie moeilik gevind om saam met Hom te bid.  Was julle net baie vaak?

Petrus

Ons het ’n besige program gehad daardie laaste week.  Elke dag het Jesus in die tempel met die mense gesels.  En deurentyd het Hy ook vir ons geleer oor sy naderende lyding en dood.  Nie dat ons toe baie daarvan begryp het nie.  En met die Paasmaaltyd – die vleis, die verskillende bekers wyn – was dit alreeds moeilik om wakker te bly.  Maar dit was asof ons ook nie geweet het hoe ons moet bid nie.  Jesus was so doodsbenoud, so ontsteld, so beangs – maar tog het ons steeds so min verstaan van wat regtig aan die gang was.  As ons maar geweet het.  Maar as ’n mens nie met insig bid nie, oorval die vaak jou so ongemerk.  Ons kon dit nie keer nie.

Liturg

Die wonder is dat Hy deurgedruk het, en dit bring vir ons die lewe.

Koor: O my Vader laat hierdie beker by my verbygaan

Ek is die waarheid

Liturg

Wanneer Jesus voor Pilatus in die beskuldigingsbank staan, verdedig Hy Homself nie teen die beskuldigings van die Joodse Raad nie.  Hy wat die waarheid is, word in die rug gesteek en verraai deur dié mense wat vir die waarheid moes opkom.  Maar deur sy dood verlos Hy ons juis van alle valsheid en vertoon.  En kan ons God die Vader nou self in waarheid aanbid.

Liturg

Pilatus, jy het tog duidelik te kenne gegee dat jy geen skuld in Jesus gevind het nie.  Hoekom het jy jou deur die Joodse Raad in ’n skuldigbevinding laat inboelie en nie vir die waarheid opgekom nie?

Pilatus

Wel, ek weet nou nie van inboelie nie.  Ek dink dit is nie soseer ’n geval van die waarheid wat gesneuwel het nie, eerder ’n geval van verkeerde keuses wat geseëvier het.  As Jesus net homself sou verdedig het, my iets gegee het waarmee ek die aanklagte teen hom kon afweer!  Dan sou hy vry gewees het.  Maar hy het net daar gestaan, niks gesê nie, en my daarom niks gegee om mee te werk nie.  In ’n sekere sin het hy dus sy eie dood veroorsaak.  As die skare ook net so ’n bietjie meer intelligent was. Ek dog my troefkaart sou briljant werk.  Ek het immers elke Paasfees iemand kwytgeskeld, en het regtig gedink dat die skare eerder vir Jesus as vir Barabbas sou kies, maar helaas.  Toe hulle so oproerig raak, het ek besef ek moet dit onder beheer bring, anders sal ek uiteindelik vir ’n opstand verantwoordelik gehou word.  En ek het hulle gegee wat hulle gevra het: die lewe van Jesus.  Ironies dat hy daardeur presies bereik het waarvoor hy volgens julle gestuur is.  Miskien gee ek hom dus nie genoeg krediet vir die waarheid nie.

Liturg

Die genade is dat Hy ten spyte van ons eie gebreke vir elkeen wat in Hom glo, die waarheid word.

Koor: Kruisig Hom!

Ek is die lewe

Liturg

Terwyl Jesus aan die kruis hang om die prys vir ons sondes te betaal, illustreer Hy dat Hy die lewe is.  ’n Moordenaar hang saam met Hom en neem sy toevlug tot Jesus, selfs al is hy op sy laaste.

Koor: Jesus o dink aan my

Liturg

Ons ken jou net as die moordenaar aan die kruis.  Wat het deur jou kop gegaan toe jy dié man Jesus langs jou sien hang?

Moordenaar

Wel, ek kon net sien dat Hy anders was.  Sy geduld selfs in die pyn en die worsteling het my aangespreek.  Dat Hy boonop nog aan ander gedink het, soos aan sy ma, en die een dissipel gevra het om na haar te kyk na sy dood, dit het my baie beïndruk.  En hoe Hy met Sy Vader gepraat het om sy vyande te vergewe – dit was die finale stukkie wat my oortuig het, dié man is van God af.  Daarom het ek Hom gevra om aan my te dink as Hy in sy koninkryk kom.  En aan die einde van my lewe kry ek toe die boodskap dat daar ’n paradys vir my wag.  Praat van ’n lewenslyn!  Ek was so bly, al moes ek nog eers die pad van die kruis voltooi.

Liturg

Liewer laat as nooit – want Hy is die lewe en dit in ’n oortreffende trap.

Solis: Pie Jesu (G Fauré)

399:4-5 Na ‘n nag van ondervraging – in die pyn, daar aan die kruishout

Ek is die opstanding

Liturg

Die spits van die verhaal van Jesus lê in die opstanding.  Jesus het reeds by die opwekking van Lasarus gesê: ““Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. ” (Joh 11:25-26)  Maar sy eie  leë graf span die kroon op sy bediening en betekenis vir ons.

Solis: Moenie skrik nie

Liturg

Maria, die oggend toe julle by die graf kom om Jesus met die reukolie te salf, was julle totaal uit die veld geslaan toe die graf leeg is.  Geen wonder die engele het vir julle gesê om nie te skrik nie!  Julle het seker nie geweet wat om daarvan te dink nie?

Maria

Ja, ons was totaal verskrik.  Want jy moet onthou, ons het wel die opwekking van Lasarus ervaar, en dit was al wonderlik.  Maar, dit was Jesus wat hom opgewek het.  Hoe kon Hy Homself opwek?  Ons was baie verward.  En toe die leë graf.  Ons het nie geweet wat om daarmee te maak nie.  En om toe nog die opdrag te hoor om die ander daarvan te gaan vertel.  Dit was amper te veel om te verteer.  Die mans het per slot van rekening nie graag na ons vrouens geluister nie. Wat sou hulle sê as ons met dié storie by hulle aankom?  Maar, dit was darem net kortstondig – die feit dat Jesus lewe was so oorweldigend.  Ons sou in elk geval nie kon stilbly nie.  Dit was net te groot en te goeie nuus – selfs al het Petrus en die ander ons nie onmiddellik geglo nie.

Liturg

Dit is aan mense soos jy te danke, dat ons kan glo – al moes jy ook eers die ongeloof van jou mense trotseer.  Mag ons self in hierdie oortuiging van Jesus se opstanding vasstaan.

Koor: Die Heer het waarlik opgestaan

Vonkk 5 Vreugde! Vreugde!

Liturg

Tomas, jou storie word vandag nog vertel, hoe jy getwyfel het in die opstanding, en eers jou vinger in die gate in sy hande en jou hand in sy sy wou steek voordat jy sou glo.  Het jy dit toe uiteindelik gedoen?

Tomas

Nee, ek het nie kans gesien daarvoor nie.  Ek bedoel, wat sou jy gedoen het?  Ek het eintlik nie geweet waar om my kop in te steek nie!  Ek was net oorbluf, heeltemal oorweldig, en in my het daar net hierdie refrein gemaal: “My Here en my God!” En voor ek my kon kry, het ek dit ook vir Hom gesê.  En dit was asof my hele binneste tot rus gekom het.  Al my vrae en al my twyfel het gaan lê.  Want hier staan Jesus in al sy heerlikheid, as God, voor my.  Ek kon niks anders doen as om Hom te aanbid nie.  En my te verwonder oor sy genade wat ook vir my, ’n twyfelaar, genoeg was.

Liturg

Ek geniet jou storie regtig, want as Jesus soveel moeite met jou gedoen het, is daar hoop vir ons ook.

Koor: Christus het waarlik opgestaan

Koor: Kom laat ons almal vrolik

Liturg

Hierdie greep van 24 uur uit Jesus se lewe het die wêreld verander, vir altyd.

Hy het Homself bekendgestel as die Goeie Herder wat sy lewe aflê vir sy skape.  Ons doop herinner ons daaraan dat Hy dit ook vir ons gedoen het.

Hy het Homself bewys as die weg en die waarheid en die lewe.  Pilatus het dit teengestaan en homself uitgeskryf uit die storie uit.  Petrus het gevou onder die druk van die oomblik, maar toegelaat dat Jesus hom weer terugskryf in die storie na die opstanding.  Die moordenaar aan die kruis het ’n gaping gesien in sy doodsworsteling en met sy vertroue in Jesus deel van Sy storie geword.

Die toppunt van alles is dat Jesus die opstanding en die lewe geword het met sy leë graf.  Hy het aan Maria Magdalena verskyn en sy het in geloof gereageer.  Selfs ’n twyfelende Tomas kon sy opgestane teenwoordigheid nie weerstaan nie.

Jy het ’n keuse: Weerstaan Hom soos ’n Pilatus, en jy skryf jou uit die storie uit, en uit die ervaring van die vrede en vreugde wat net Hy kan gee.  Laat Hy jou lewe bepaal – en jy sal die vreugde van sy teenwoordigheid ervaar, soos ’n Petrus, soos ’n moordenaar, soos ’n Maria, soos ’n Tomas.  Hy sal vir jou die brood wees wat lewe gee.

En ons kan ons keuse uitoefen met sang – dit is ons getuienis

Koor: Daar klink ’n lied

414 Juig verlostes, juig en sing

Liturg

Seën en amen

Johannes 11:1-45 – Erediens: Jesus is die opstanding en die lewe


GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Lied 391:1-2 Vervul, o Heer, my hart met stille wyding – staan

Votum

Seëngroet

Lofprysing

Lied 220 Met ons harte sing ons, Here – staan

Lied 577 Die Heer, my herder, sorg vir my – sit

Koor: Sy lyding en sterwe: Bly by my en waak hier met my en U wil geskied

Verootmoediging

Lied 379 Wisselsang koor/gemeente – sit

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Gebed

Skriflesing

Johannes vertel vir ons hier ’n diep menslike drama, ’n paar tonele gelaai met intense emosies.  Jesus ontvang berig dat Lasarus, broer van sy goeie vriende, Maria en Marta, siek is, vriende vir wie Hy liefgehad het.  Jesus vertoef egter nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië, die dorpie net langs Jerusalem, vertrek.  Nie omdat Hy traag was nie, maar omdat Hy oortuig was dat dié siekte God se mag gaan openbaar, en dat Hy, God se Seun daardeur verheerlik sal word.

Maar as Hy uiteindelik tog die pad vat na Betanië toe, dan kom ’n mens agter dat die dissipels glad nie lus is vir die reis nie.  Hulle is intens bewus van die feit dat die spanning tussen Jesus en die Joodse leiers van Jerusalem teen hierdie tyd al breekpunt bereik het.  ’n Paar dae terug wou die Jode Jesus in Jerusalem stenig (Joh 9).  Dié dat hulle oorkant die Jordaan gaan vertoef het, die plek waar Johannes die Doper gedoop het.  Tomas veral is baie moedeloos met dié terugreis – en is nie lus om weer deel van die konflik situasie te raak nie.  Betanië was net te naby aan Jerusalem vir sy gevoel.

Dan lees ons:

17Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”

Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”

35Jesus het gehuil. 36Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”

37Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ’n rotsgraf, en daar was ’n klip voor die ingang gerol. 39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

Woordverkondiging

Die evangelie van Johannes is met die eerste oogopslag eenvoudig geskryf, maar verras jou met ’n ryk en geskakeerde teologiese betekenis soos jy dieper daarin delf.  Dit is tegelyk ’n evangelie wat ’n mens se intellek uitdaag en stimuleer, maar ook jou hart roer en meevoer.  Niemand kan onaangeraak bly met die lees van die goeie nuus van die vleeswording van die Woord van God nie.  Dit prikkel jou verbeelding, stimuleer jou gedagtes, en slaan tegelykertyd jou asem weg.

Die kerkvaders het graag die arend as simbool vir die evangelie van Johannes gebruik, nie net omdat die arend die hoogste van alle voëls kon vlieg nie, maar ook omdat mense gereken het dat die arend die langste in die son kan kyk.  Die evangelie van Johannes was dus vir die vroeë kerk nie net die hoogtepunt van die beskrywing van die goeie nuus oor Jesus nie, maar ook een van die diepste openbarings van die wese en bedoelinge van God self.

En hoofstuk 11 is ’n besondere kykie in dié openbaring van die wese van God.  En wat dit besonders maak, is dat dit nie vanuit die hoogtepunte van die lewe daarna kyk nie, maar vanuit die laagtepunte, vanuit die hartseer van ’n Marta en Maria oor hulle broer Lasarus se dood.

Want sien, dit is een ding om oor God te praat wanneer alles goed gaan, wanneer alles vlot verloop, wanneer dinge uitwerk.  Maar waar is God en hoe is God wanneer dinge skeef loop, en dinge nie uitwerk nie?  Dit is wat die verhaal van Lasarus vir ons wil vertel.

Die kern van die verhaal

Die verhaal van Lasarus se opwekking is só opgeteken, dat die ontknoping daarvan in die gesprek met Marta en Maria, verse 20 tot 33, plaasvind.

Albei die susters glo dat Jesus Lasarus van die dood sou kon red: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie” (21, 32).  Jesus kon die dood van hulle broer voorkom.  “Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra” (22).  Trouens van die omstanders het Jesus verwyt dat hy dit nie gedoen het nie.  Het hy dan nie net tevore die blinde man genees nie.  Hoekom nie vir Lasarus ook nie?  Hy was dan sy vriend?

Maar, op só ’n wondergeloof sou Jesus nooit reageer nie.  Hy het dit telkens afgewys soos ons in die res van die evangelie lees (skare by die Paasfees – 2:23-25; Galileërs – 3:2-3; Jesus se broers – 7:3-7).  Jesus doen nie wonders omdat mense dit van Hom vra, soos hulle dit van ’n kunstenaar of ’n guru sou vra nie.  Daar is eintlik geen vertoon in sy optrede nie.  Hy gee net die teken van die kruis vir sulke mense, die teendeel van wat hulle vra, omdat Hy daardie spel nie speel nie.  Hy is nie daar vir die skares wat opgewonde wil raak oor die nuutste en die beste en die hoogste soos by ’n sportbyeenkoms nie.

Maar Marta en Maria se woorde getuig juis van hulle geloof en vertroue in Jesus, ook in ’n slegte situasie.  Dit kan Hy nooit net afmaak en ignoreer nie.  Dit is nie uit ongeloof nie, nie uit ’n wondergeloof nie, maar uit geloof dat hulle dié vrae vra en die geloof verwoord.

Maar hulle woorde verraai ook die konflik wat daar in hulle is.  Wat kan jy van God glo as dit hier diep binne-in jou so oorweldigend seer is?  Waarvoor kan jy vra?  Wat kan jy verwag van God in die diep slote van die lewe?

Kom ons kyk wat Jesus vir hulle doen:

Een:  Jesus bevestig en versterk hulle geloof

In Maria se diepste pyn sê Jesus dat pyn en verlies nie die laaste woord te sê het nie.  Die dood is nie die einde nie.  Trane is nie die finale werklikheid nie: “Jou broer sal uit die dood opstaan” (23).  Toe Maria hierdie woorde toepas op die opstanding op die laaste dag uit die dood, maak Jesus die betekenis wyer.  Opstanding is nie net deel van die eindtyd nie, maar ’n werklikheid wat reeds elke dag ervaar kan word.

Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe.  Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.  Glo jy dit?”

Jesus hanteer Marta se pyn deur dit aan die egte, rotsvaste basis van geloof vas te knoop.  Jesus self, en die lewe wat Hy bring, is die troos in die pyn van die doodsverlies. “Glo jy dit, Marta?”  Dan haar antwoord “Ja, Here, ek glo as dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (27)

Dis nie die intensiteit van Marta se geloof wat so belangrik is nie.  Die fokus, die anker van die geloof, Jesus self, is die bron van troos.

En onthou, dit sê Jesus voordat Hy Lasarus uit die dood opwek.  Hy bevestig hulle geloof voordat hulle enigiets kan sien wat vir hulle ’n bewys sou kon wees van die krag van hulle geloof.  Om die waarheid te sê, daarmee sê Jesus juis dat daar geen krag in die geloof as sodanig is nie, maar in die Een in wie geglo word.  Dit is Hy wat geloof sy krag gee.  Dit is uit Hom wat daar krag uitgaan wat genesing en wonderwerke bring.  Dit is wanneer jy aan Hom vashou, dat jy bevestig word, voordat jy enigiets sien, en voordat daar enigiets gebeur.

Geloof is nie verniet die hoop op die dinge wat ons nie sien nie, soos Hebreërs 11 dit so pragtig sê nie.  Dit is ’n bewys van dinge wat nog moet gebeur, of die oortuiging van dinge wat nog geopenbaar moet word, voordat jy en ander dit kan sien.

En dit is dié geloof wat Jesus bevestig en versterk.

Daar is ook ’n tweede manier waarop Jesus help:

Twee: Jesus huil

Jesus betoon egte menslike meelewing in Marta en Maria se hartseer. Eerder as om lang, teologiese verduidelikings te gee, huil Jesus saam met hulle.  Jesus probeer nie allerhande verklarings gee oor lyding in die algemeen, of oor die rede agter Lasarus se dood nie, hoewel Johannes ons reeds daaroor ingelig het aan die begin van die verhaal en aan die einde dit weer sal herhaal.  Dit gaan oor God se werke wat hier sigbaar gaan word.

Maar Jesus sê dit nie vir haar nie.  Hy leer haar nie in dié situasie nie.  Nee, hy huil omdat Marta en Maria huil, en Hy huil saam met hulle as hulle vriende.  Goeie raad vir enigeen van ons wat met die dood gekonfronteer word.  Geen wonder dat in sommige kulture mense gehuur word om te huil nie … want dit is wat jy doen wanneer jy mense bystaan.

En let op, hierdie trane van Jesus is egte trane.  Een verklaring van die Griekse woord wat hier vir Jesus se trane gebruik word, is dat Hy “innerlik gegloei het van aandoening.”  Jesus tree nie hier soos ’n Superman op wat ’n kitsoplossing vir elke probleem het nie.  Hy vee nie die egte menslike smart uit die pad met ’n goedkoop “toemaar” nie.

In sy trane word Jesus op ’n baie diep vlak vir Maria en Marta ’n medemens wat hulle pyn help dra.

Daar is natuurlik ook  ’n dieper rede waarom Jesus huil.  Hy huil nie net omdat Hy met hulle meegevoel het nie.  Jan du Rand sê Jesus se hartseer strek verder as net ’n meelewing met Lasarus se dood.  Jesus staan voor die dood as manifestasie van die mag van die Bose en weldra moet Hy met sy eie lewe die hoogste offer betaal om juis die mag van die lig te laat seëvier oor die Bose.

Jesus huil dus ook oor sy eie naderende dood.  Hy weet Hy kan en gaan Lasarus opwek.  Hy weet Hy self gaan opgewek word uit die dood.  Maar Hy sal eers self die pyn van die dood moet ervaar. Hy kan dit nie systap nie.

En daar is waarskynlik nog ’n rede.  Hy weet ook dat Hy Lasarus kan en gaan opwek, maar dat dit nie vir ewig kon wees nie, ten minste nie toe nie.  Die dood sou eers volledig oorwin word met sy eie dood en opstanding en finaal met die wederkoms wanneer dit ook vir alle gelowiges ’n werklikheid sal word.

Lasarus sou dus weer sterf, en eers aan die einde van die tyd die finale opwekking beleef.  Trouens, ons lees na sy opwekking, dat die Jode besluit om hom dood te maak (12:10), omdat daar so baie oor sy opwekking gesels is, en dit so baie mense in Jesus laat glo het.  Jesus weet dit, en Hy huil oor die verydeling en die verganklikheid, en weet dat Sy wonderwerk dit nie kan uitwis nie … nie toe nie.

Sy opwekking sou dus net ’n teken wees van God se mag, ’n teken wat wel wonderlik goed sou wees, maar Lasarus nie van alle smart en pyn kon bewaar nie, ook nie dié wat die Jode vir hom hierna beplan nie.

Maar, dit is tog dan die derde manier waarop Jesus help, Hy wek Lasarus juis uit die dood op.

Drie: Jesus wek Lasarus op uit die dood

En dit is belangrik om te verstaan: Jesus wek hom nie uit die dood op, 1) alleenlik ter wille van hulle en hulle smart nie, 2) nie net om aan hulle die gawe van die lewe te gee nie, maar 3) om God se krag en heerlikheid te wys.

Met hierdie opwekking van Lasarus uit die dood, herinner Jesus ons aan wie Hy is.  Hy is die Gestuurde van die Vader.  Hy het gekom om lewe te bring.  Hy is die Goeie Herder.  Daarom roep Hy kragtig na Lasarus in vers 43.  En Lasarus staan op uit die dood.  Want dit is God wat met hom praat.

Dit is belangrik om raak te sien dat Johannes die gebeure van Lasarus se opwekking omraam met die verwysings na die wonderbaarlike mag van God aan die begin en die einde van hierdie gedeelte.

  • In vers 4 hoor Jesus die nuus van Lasarus se siekte en sê dan: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”
  • Hierdie woorde kom weer aan die einde, in vers 40, op ’n kragtige manier na vore: “As jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien.”

Lasarus se opwekking bevestig daarom die waarheid van Jesus se woorde.  Lasarus word opgewek, sodat ons die krag van God kan sien, en kan weet die kragtige woord van God, wat tot lewe wek, is ook op ons van toepassing.

Vier: Jesus gee die lewe

Die opwekking van Lasarus hou ook verband met ’n ander “Ek is”-uitspraak van Jesus, die een in hoofstuk 10: “Ek is die goeie herder” (10:11,14).  Van die Goeie Herder word daar gesê dat Hy die lewe gee en dit in oorvloed.

En dit is presies wat ’n mens in hoofstuk 11 sien – Die Goeie Herder kan selfs sy skape uit die dood uit opwek, selfs wanneer hulle reeds gesterf het.  Dit is die hoop waarmee ons leef, dat die dood nie meer ’n finale gordyn is vir ons nie; dat daar lewe anderkant die grens van die dood is; dat ons sal lewe al het ons ook gesterwe, soos ’n Lasarus.

Toepassing

Wat sê dit dus vir ons vandag?  Wat kan ons van God verwag?  Wat kan ons van Hom vra in ons nood?  En waarop kan ons staatmaak in sy antwoord aan ons?

  1. Dat Hy ons in ons geloof sal bevestig en versterk. Daar is ’n tipe geloof wat nodig is vir ons waar ’n mens vashou sonder dat jy sien.  Hebreërs 11 praat van mense wat gekry het waarop hulle hul geloof gerig het – en dit is fantasties.  EN hy praat van mense wat nie gekry het waarop hulle hul geloof gerig het nie – en dit is ook fantasties.

Albei dié groepe gelowiges word geprys en as helde van die geloof vereer. Hoekom?  Nogtans sal ek jubel … sê Habakuk.  Dit is hoe God lief het, nogtans sal Ek jubel oor jou, al is jy van klei aan mekaar gesit.  Dit is hoe ons God lief het, al is ons wie ons is, en al gebeur wat ook al.  Dit is ’n keuse wat gemaak word, al gaan alles verkeerd.  Dit is die tipe geloof van ’n Daniël in die oond van vuur – my God kan my uit hierdie oond red, selfs al sou Hy nie, sal ek steeds aan Hom bly vasklou.  Hoekom?  Want Hy is die moeite werd om te vertrou.

  1. Dat Hy saam met ons huil. Ek weet nie hoe dit jou raak nie, maar dit is vir my miskien die grootste troos, dat Jesus nie onaangeraak is deur die dinge wat my seermaak of my hartseer maak nie.  Wanneer ek op my tande wil kners oor dinge wat verkeerd is, as ek uiters gefrustreerd raak met dinge wat nie reg uitwerk nie, as ek moedeloos raak oor my beste bedoelings en pogings nie goed genoeg is nie, as ek my hare uit my kop wil trek, as ek self nie regkry wat ek so hard probeer doen nie, wanneer ek wil veg met ander of wanneer ek wil vlug van myself – dan is Hy daar en wéét Hy wat ek voel en wat ek dink en hóé dit voel en hóé dit ’n mens raak.  En dit is eintlik al genoeg – dit is asof my binneste tot rus kom as ek weet dat Hy weet.
  2. Dat Hy vir ons wonders kan doen. God dank!  Hy doen vandag nog wonders!  Maar onthou, dit is nie voor die voet nie.  Dit is sodat sy mag en sy heerlikheid in hierdie wêreld onderstreep kan word. Daarom dat ons nie kan voorskryf nie, en nie kan verwyt nie.  Maar kan vra … en kan weet sy vrede sal ons harte en sinne bewaar in Christus Jesus soos Filippense 4 vir ons sê.  Dit moet ons nie angstig maak nie – ons mag vra … maar ook nie arrogant maak nie – God antwoord soos Hy wil.
  3. Dat Hy vir ons lewe gee. Dit is die hele idee van ’n Goeie Herder, Een wat weet wat sy skape nodig het EN daarin voorsien.  Ek het gekom dat julle die lewe sal hê en dit in oorvloed (10:10).  En dit is so wonderlik, as ek Filippense 4 weer kan intrek hier: dink aan alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – bring dit voor die Here en vra vir die oorvloed van lewe wat Hy belowe.  En Hy sal dit gee op maniere wat jou verstand te bowe sal gaan.

Daarom, kan ek net soos Jesus voor die graf gaan staan en vir Lasarus uitgeroep het, ook voor jou vandag kom staan, en net só vir jou roep: Lasarus kom uit.  En Hy het dit met ’n harde stem gedoen, sodat Lasarus kon hoor!  Hy roep jou tot lewe, ook nou.

En elkeen van ons wat glo, sal nou hierdie kragtige roep tot lewe hoor en daarop reageer.  Ons deel in Sy  geskenk van die lewe.  Die lewe breek reeds hier en nou vir ons aan, selfs al moet ons ook sterwe.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Koor: Lied 402:1,3,4 Die Heer het waarlik opgestaan

Slotsang

Lied 167 Jesus, bron van al my vreugde – staan

Seën

Amen

Lied 533 Stuur ons, Here (Koor is voorsangers)

Johannes 9 – Erediens: Jesus help ons sien – 3 April 2011

HIER VOLG DIE VOLLEDIGE EREDIENS …

Evelyn Lotz

PowerPoint oor haar werk in Israel

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

 

Toetrede

Liedboek 390 Ons kniel hier aan U voete neer – sit – vers 1,4 almal, vers 2 koor, vers 3 dames

 

Votum

Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie, Hy laat my neerlê in groen weivelde, Hy lei my heen na waters waar rus is, Hy verkwik my siel, Hy lei my in die spore van geregtigheid om sy Naam ontwil

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

 

Seëngroet

Genade en vrede van

God, die Vader, wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,

en van Jesus Christus die Gekruisigde,

en van die Heilige Gees wat ons herskep. Amen

 

Lofprysing

Psalm 25:1,2 In U stel ek my verwagting – sit

Liedboek 393:1,4 Middelpunt van ons verlange – sit

Liedboek 396 Aanskou die Heiland, sien die kruis – staan – vers 1,4 almal, vers 2 koor, vers 3 mans

 

Doop

Liedboek 390:1,4

 

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

 

Gebed

Gemeente bid saam – Onse Vader (op die skerm)

Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

gee ons vandag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

 

Skriflesing

Johannes praat van 2 poele in sy evangelie.  In hoofstuk 5 noem hy die poel van Betesda en hier in hoofstuk 9 praat hy van die poel van Siloam.  Volgens nuwe navorsing (Ronny Reich) is dit moontlik dat dié 2 poele albei gebruik is vir rituele reiniging, voordat jy na die tempel toe is.  Albei het trappe wat na ’n platform toe lei, wat ooreenkom met ander sulke bekende plekke (mikvoth) in Jerusalem.

Dit beteken dat Jesus se opdrag aan die blinde man om hom by die poel van Siloam te gaan was, het hom in kontak gebring met die pelgrims wat hulle daar kom reinig het.  Omdat hy egter uit die gemeenskap van die Jode geban is oor sy genesing, kon hy nie die tempel meer betree nie.  Dit is dan wanneer Jesus hom weer opsoek en Homself aan die man openbaar, waarna hy Jesus aanbid!

Die poel van Betesda het dieselfde doel gedien.  Interessant genoeg (Charlesworth) is daar ’n hele aantal slang figure uitgegrawe by hierdie poel wat aan Asclepius, die god van genesing, verbind is.  Dit is daarom moontlik dat daar ’n spanning in die storie is, dat die verlamdes by die poel nie net vir die Here se ingrype in hulle lewens gewag het nie, maar ook vir Asclepius.  Jesus se genesing van die verlamde man kon dus ook die betekenis gedra het dat dit God is wat genees en nie Asclepius nie.

Johannes 9:1-41

 

Jesus genees ’n man wat blind gebore is

9 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”

3En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. 5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ’n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë 7en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.

Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.

8Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”

9Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”

Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”

“Dit is ek!” het hy self gesê.

10Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het ’n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”

12“Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.

“Ek weet nie,” was sy antwoord.

Die Fariseërs ondervra die man en sy ouers

13Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. 14Dit was op ’n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. 15Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”

Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?”

En daar was verdeeldheid onder hulle.

17Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”

“Hy is ’n profeet,” het hy geantwoord.

18Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep 19en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

20“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. 21“Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

Die man word uitgeban

24Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ’n sondaar.”

25Daarop het hy gesê: “Of hy ’n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

26Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”

27“Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is ’n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. 29Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man—ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

30“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”

En hulle het hom uitgeban.

Geestelike blindheid

35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”

36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”

37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”

38Die man sê toe: “Ek glo, Here!”

En hy het Hom aanbid.

39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

40Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”

41Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

Woordverkondiging

Ons het hulp nodig om te kan sien

Ek wil begin deur vir jou ‘n paar prente te wys.

  • Skyfie 1: Dit is moeilik om die swart kolletjies te tel, want as jy direk vir hulle kyk, verdwyn hulle.  Dit is ’n optiese illusie.
  • Skyfie 2: Die olifant lyk asof hy 8 bene het, maar dit is maar net die kunstenaar wat die voete in die spasies tussen die bene in geteken het.
  • Skyfie 3: En die bekende – die ou en die jong vrou, afhangende van waarna jy kyk.

 

Ons het hulp nodig om te kan onderskei.  As ek dit nie verduidelik nie, sal jy moeite hê om dit raak te sien.

Armes help ons sien

Dit is ook waar van die lewe.  Ons het hulp nodig om dit wat regtig aangaan, raak te sien.

Weer ’n verhaal uit Indië, wat tans in die nuus is met die krieket finaal gister in Moembaai.

Shane Claiborne (The Irresistible Revolution 2006) spandeer sy lewe daaraan om die evangelie na armes te neem.  Hy het onder andere in die krotbuurte van Kalkutta gewerk, in die oorlogsgebiede van Irak, en ook intens gewerk aan die versorging van armes in die VSA.

Hy vertel hoe ons oë vir die lewe oopgemaak word deur die armes en die straatlopers:

  • Hy het ’n vrou sien veg om sop by ’n sopkombuis te kry, wat toegesak is deur ’n groot skare.  Toe hy haar vra of die sop regtig die geveg werd is, het sy gesê: “O ja, maar ek eet dit nie myself nie.  Ek neem dit na ’n ander ontredderde dame, ’n bejaarde hier om die hoek wat nie self kan veg vir ’n bietjie kos nie.”
  • Hy het ’n straatmusikant ontmoet wat wreed deur jong mans geterroriseer is.  Hulle het met haar gespot, haar gevloek, en selfs deodorant in haar oë gespuit as ’n grappie.  Toe ons haar daardie aand vashou en troos, sê iemand: “Daar is darem baie slegte mense in die wêreld, nè?”  Waarop sy sê: “Ja, maar daar is baie goeie mense ook.  En die slegtes laat die goeies sommer dadelik nog beter lyk.”
  • Hy het ’n klein meisietjie op straat raakgeloop, sonder ’n huis, ’n straatkind, en haar gevra wat sy wil doen as sy groot is.  “Ek wil ’n winkel met kruideniersware besit,” het sy gesê.  “Waarom?”  “Sodat ek kos vir al die honger mense kan uitdeel.”

Die hele Bybel gaan oor sien

Dit is ook waar van die Bybel en van die verhale wat ons daarin lees.  Dit help ons sien wat ons anders heeltemal sou mis.

Let op hoe hierdie hele gedeelte sinspeel op die vermoë om te sien, asook die afwesigheid van sien – om blind te wees.

  • Diegene wat kan sien, sien nie, want hulle kan Jesus nie herken as die Messias nie.  Daar is verskeie faktore wat hulle totaal blind maak.
  • Die arm man, wat nie kan sien nie, word genees en kan sien.  Wanneer hy kan sien, leer hy algaande om ook geestelik te kan sien.  Op hierdie manier leer hy Jesus herken as die Seun van die Mens, die Een wat waarlik van God kom.

Geen wonder nie, want Jesus noem Homself die Lig vir die wêreld (9:5).  In Johannes 8:12 net hiervoor sê Jesus: “Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Johannes 9 gaan dus oor sien

Hoofstuk 9 vertel in ’n aantal tonele hoe die Lig vir die wêreld aan ’n blinde man fisiek en geestelik sig gee, terwyl die Joodse leiers steeds in die donker rondtas.  Merkwaardig genoeg word hierdie arme drommel vir ons die voorbeeld waarin ons die werk van Jesus so duidelik leer sien.

Kom ons vra onsself af wat het 4 van die verskillende rolspelers in hierdie gedeelte gesien?

Wat sien die DISSIPELS?

Terwyl hulle van die tempel wegstap, waar Jesus mense geleer het, sien die dissipels die man wat van sy geboorte af blind was.  Die dissipels wil by Jesus weet of dit vanweë sy eie sonde of sy ouers s’n is dat hy blind is.  Die Jode het geglo dat siekte en lyding op sonde en ongehoorsaamheid volg (Eks 20:5).

Dieselfde gesindheid word deur Job se drie vriende aan die dag gelê.  Wanneer Job alles verloor, en bitter swaarkry, adviseer sy vriende dat Job net sy sonde moet bely, dan sal die Here hom vergewe, en alles sal weer regkom.

Wanneer die dissipels die blinde man sien, sien hulle nie die mens raak nie.  Hulle sien ’n sonde- en skuld probleem. Hulle sien ’n debat oor sonde en die gevolge van sonde raak.  Hulle wil argumenteer oor wie se sonde wat veroorsaak.

Só ’n ingesteldheid maak egte, menslike konneksie onmoontlik.  Hulle kan die blinde man nie as ’n medemens eien nie.  Hy is ’n saak, ’n teologiese vraag: wie se sonde is hiervoor verantwoordelik?

Wat die sonde en die skuld-debat so destruktief maak, is dat dit nie genade kan betoon nie.  Die veronderstelling is immers dat dit die arme drommel se loon is dat hy so ly.  Iewers het iemand iets verkeerd gedoen – hy of sy ouers – en daarom is dit net reg dat hy in hierdie toestand is.

Wat sien JESUS?

Jesus sien ’n medemens in nood raak. Aan die begin van hoofstuk 9 vlug Hy letterlik van die tempel weg.  Die Jode tel klippe op om Hom te stenig oor sy leer.  Hy moes blitsig skuiling gaan soek.

Opvallend genoeg, sien Jesus die blinde bedelaar raak terwyl Hy van die Jode wegvlug.  In die druk van die teenstand sien hy steeds iemand in nood raak en neem inisiatief om na die man uit te reik en genade aan hom te betoon.

En, sê Jesus, nee, die siekte en die genesing is nie die gevolg van die blindgebore man of sy ouers se sonde nie.  “Maar hy is blind, sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” (3)

Jesus sien dus ’n geleentheid om die werke van God te doen.  Daar is trouens dringendheid by Jesus: “Solank dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het…” (4).  Jesus weet dat sy eie dood op hande is, daar is nie meer baie tyd nie.

Mens dink onwillekeurig aan Efesiërs 5:16: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.”  Mense kom oor ons pad, en geleenthede doen hulle voor.  As ons soos Jesus kan sien, kan ons mense en hulle nood eien, en daarop reageer.

Jesus maak die beste gebruik van hierdie geleentheid.  Hy maak met spoeg en grond ’n bietjie klei aan, smeer dit op die blinde se oë, en gee opdrag dat hy hom in die Siloambad moet gaan was.  Dit bring genesing.  Daarmee bewys Jesus dat God siekte en gebreke, die tekens van sonde en dood, kan oorwin.  En God se verlossing word nou in die blinde sigbaar.  Sy genesing bewys dat Jesus God is.

Wat sien die FARISEËRS?

Die Fariseërs sien ’n bedreiging vir hul godsdienstige mag. Hulle sien die reëlboek.  Hulle sien die bekende raamwerk waarbinne hulle God se openbaring verstaan.  Hulle het geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts kan doen in Jesus nie.

In verse 13-17 word vertel hoe dat die Fariseërs die eens blinde man ondervra.  Hulle ondersoek die godsdienstige implikasies van sy genesing.  Dit is ’n probleem dat hy op die Sabbat genees is.  Jesus kan nie van God kom nie, anders sou hy nie op die Sabbat genees het nie.  Ander voel weer as Hy ’n sondaar was, sou Hy nie wondertekens kon doen nie.

In die volgende rondte ondervra hulle die man se ouers (18-23).  Miskien was die man nooit blind nie?  Die ouers weet hulle loop die risiko om uit die sinagoge geban te word.  Hulle beroep hulle dus op die kind se eie regsaanspreeklikheid: “Hy is oud genoeg, vra hom self.” (23)

In ’n derde rondte van ondervraging loods die Joodse leiers ’n finale aanslag.  Die man word eintlik half gedwing om met hulle saam te stem. As hy nie met hulle saamstem nie, kies hy die kant van ’n sondaar.  Hulle is tog aan die kant van Moses wat aan hulle die wet toevertrou het (Eks 33:11; Num 12:8).

Hulle bevraagteken dus Jesus se gesag.  Die Jode weet dat God sy wil deur die wet van Moses bekend gemaak het.  Nou oortree Jesus die wet en daarom kan Hy niks anders as ’n sondaar wees nie.  Maar die man wat genees is, vra met ’n sweem van sarkasme, of die Joodse leiers só uitvra omdat hulle Jesus se dissipels wil word (27).  Ironies genoeg antwoord die geneesde dat Jesus se herkoms net van God af kan wees, anders sou Hy nie hierdie dinge kon doen nie.  Hy bely dus wat die geestelike leiers nie kan insien nie.  En, soos ’n mens kan verwag, die Fariseërs word kwaad en gooi die man wat genees is uit die sinagoge en tempel.

Hoe verskriklik is dit  nie.  Diegene wat meen dat hulle kan sien, is eintlik blind.  Hulle is blind, want God kan hulle nie verras nie.  God kan net in terme van Moses en die wet verstaan word.  God sal altyd by die menslike verstaan hou van hoe die reëls werk, meen hulle.  Hulle wat meen hulle kan sien, en spesifiek namens ander sien, is eintlik blind.

Wat sien DIE BLINDE MAN?

Die verhaal vertel hoedat die blinde man se oë eers fisies “oopgegaan” het.  Hy wat glad nie kon sien nie, ontvang die geskenk van sig.  Hy gaan was hom in die Siloambad, waar water opgevang is wat van die tempelheuwel gekom het.  Siloam beteken “gestuurde”, die water kom letterlik uit die teenwoordigheid van God uit.  Jesus se opdrag om na Siloam te gaan, is ryk aan betekenis.  Dis letterlik die water wat van God kom, wat hom genees, die plek waar pelgrims hulle gaan reinig het voor hulle na die tempel toe is.

Maar die blinde man ontvang nie net fisiese sig nie.  Soos die verhaal ontplooi, leer hy om Jesus raak te sien as Gestuurde van die Vader. Hy leer om in Jesus as Seun van die Mens (die Een wat van God kom) te herken en te bely:

  • Eers praat hy nog bloot van die “man met die naam Jesus” – ’n neutrale begrip (11)
  • In die daaropvolgende gesprek met die Fariseërs noem hy Jesus al ’n profeet (17)
  • Vervolgens bely hy in ’n konfrontasie met die Fariseërs dat Jesus “van God af kom” (33) en word hy uit die sinagoge geban
  • Dan ontmoet hy Jesus weer, sê dat hy in die Seun van die Mens glo, bely Jesus as Here, “Ek glo, Here!” en aanbid Jesus (38).

So sien die blinde man twee keer die lig.  Eers word sy fisiese oë geopen.  Dan word sy geloofsoë geopen.  Hy herken die Lig vir die wêreld.

Wat sien ONS?

Eerstens: Herken jy dalk die dissipels en die Fariseërs in jouself?

Mens moet jou eie rol in die verhaal kies.  Wie is jy?

Hier moet mens liefs nie te fyngevoelig wees nie, maar jouself oopstel vir selfondersoek.

  • Is jy die dissipels wat teologiese debatte, en sonde- en skuld vrae raaksien wanneer jou oë op ander mense se ellende val?
  • Voel jy dat ander seker kry wat hulle verdien, daarom is jou genesende betrokkenheid by hul lewens nie op jou radar nie?
  • Of is jy die Fariseërs wat God se wonderwerke altyd bedink in terme van die implikasies vir die georganiseerde godsdiens waarby jy betrokke is?
  • Kan jy net aanvaar wat inpas by jou opvatting oor wat God se reëls is?

Beide die dissipels en die Fariseërs ly aan ’n vorm van blindheid.  Hulle kan nie met die oë van Jesus kyk nie.

Hier praat ons nie net van indiwidue nie.  Die kerk kan ook soos die dissipelkring of die Fariseërs wees.  Ons verpas die bus wanneer ons vergeet dat ons in diens van die Lig vir die wêreld staan.

Tweedens: kies om die blinde te wees

Mens kwalifiseer vir die genesing van Jesus deur die blinde te wees.  Blindheid is immers die minste van jou probleme.  Volgens die teks moet mens jou eie blindheid net raaksien (!) en voor Jesus herken.  Dan help Hy jou sien!  Die gevaar is om blind te wees, maar dit te ontken.  Vers 41: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’  Daarom bly julle skuldig.”

Wanneer mens jou blindheid eien, en daarvoor verantwoordelikheid neem, help dit jou na die Messias draai.  Hy help jou sien, Hy wek geloof in jou, Hy laat jou in alle opsigte sien.

Derdens: Neem deel aan die werk wat God doen

Jesus leer ons om die beste gebruik van elke geleentheid te maak – ons moet die werk doen van God wat ons gestuur het.

Hoe doen ’n mens dit?

Die lig wat hierdie teks verskaf, is as volg:

  • Mens moet God kan raaksien om deel te neem aan God se werk.  Ons het ’n hoë bewussyn van God nodig, ons moet God kan raaksien in die kleinste dingetjies rondom ons, ons moet God veral kan raaksien in die mense rondom ons.  Jesus kon.  Jesus leer ons hoe.
  • Mens moet ander mense kan raaksien.  Mens moet Jesus, soos Hy in die gestalte van die noodlydendes rondom ons verskyn, kan raaksien.

Wanneer Jesus ons blindheid wegneem, leer ons sien.  Hy was die skille van ons oë af.  Hy reinig ons harte van verblindende sonde, Hy laat ons uitreik na mekaar.

Dit kan gedoen word.  Soos moeder Teresa gesê het: “In die armes sien ons Jesus raak, in Sy mees hartverskeurende gestaltes.”  In Jesus het ons iets om vir hulle te gee.  Die Lig vir die wêreld leer ons sien en doen.

 

Gebed

 

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

 

Dankoffer

Slotsang

Liedboek 532     Ons Vader, neem ons hande en maak ons één

 

Seën

Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.

Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.

Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.

Mag die seën van die almagtige God,

Vader, Seun en Heilige Gees,

met ons wees

en vir altyd by ons bly.

 

Amen

Liedboek 533 Stuur ons Heer – koor voorsangers

 

 

 

 

Jesaja 61 – Erediens: God maak ons ‘n blye boodskap – 27 Maart 2010

Votum

Wys video – Jesaja61withnarrator (+klank)

Seëngroet

Lofsang

• Vonkk 80 Ek is bly [ORREL] (staan)
• Flam 6 Heer Jesus, My Redder [BAND] (sit)
• Flam 108 Sonstraal [BAND] (sit)

Gebed

Skriflesing

Jesaja 61

Lukas 4:16-21

Kindertyd

Watter seisoen begin nou? (Herfs)
Wat gebeur bome? (Verloor blare)
Nie almal – immergroen.
Gaan vertel waarom bome blare verloor:
[storie]

Een dag,
lank lank gelede,
was baie koud – winter op pad.

Al voëls vlieg na suide, waar warmer,
te wag vir lente.

Een klein voëltjie vlerkie gebreek,
kan nie lekker vlieg.
Weet nie wat te doen.
Kyk oral rond,
sien of plek is waar kan warm bly.
Sien groot woud, bome.
“Dalk sal die bome my warm hou in die winter” vir self gesê.

So gaan na rand van woud,
hop en vlieg effentjies met een heel vlerk.
Eerste boom,
pragtige silwer berk.

“Pragtige berk, sal jy my toelaat om in jou warm takke te leef totdat lente kom?”

“Liewe aarde” antwoord berk, “wat ‘n ding om te vra!
Ek moet na my eie blare omsien in die winter,
dis genoeg vir my om te doen,
kan nie nog na jou ook kyk nie!
Gaan weg!”

Voëltjie hop tot volgende boom,
reuse, ou akkerboom.

“Liewe reuse akkerboom, sal jy my in jou warm takke laat woon tot die lente kom?”

“Liewe aarde” antwoord eik, “wat ‘n ding om te vra!
As jy heel winter in my takke woon,
sal jy al my akkers opeet!
Gaan weg!”

So klein voëltjie hop maar verder
tot by wilger langs stroompie kom.

“Liewe wilgerboom, sal jy my tussen jou warm takke laat woon totdat lente kom?”

“Nee, beslis nie!
Ek praat nie met vreemdelinge nie.
Gaan weg!”

Arme voëltjie weet nie meer waar te gaan,
hop tot by denneboom.

Denneboom sien voëltjie sukkel,
vra: “Waarheen is jy op pad, klein voëltjie?”

“Weet nie.
Bome wil nie dat ek tussen hulle takke woon,
vlerk gebreek,
kan nie vlieg.”

“Jy kan tussen my takke woon.
Dit is die warmste plek wat daar is!”

“maar kan ek die hele winter bly.”

“Ja sal lekker wees as jy by my bly.”

Sparboom was langs akkerboom,
sien voëltjie hop,
sê: my takke nie so warm,
Maar kan wind weghou,
want groot en sterk.”

So voëltjie in takke van akkerboom gaan sit,
terwyl sparboom wind weghou.
Toe besembos dit sien,
sê sal sorg dat voëltjie heel winterkos het,
kan haar bessies eet –
baie goed vir voëltjies.

Voëltjie was lekker warm en veilig,
met genoeg om te eet.

Ander bome op rand van woud gesê:
“Ek sal nie na ‘n vreemde voëltjie kyk nie!”
“Ek sal nie my akkers weggee nie!”
“Ek sal nie met vreemdelinge praat nie!”

Al drie het lank en trots gestaan.

Daardie nag kom Noordewind in die woud speel.
Blare geplaas met yskoue asem.
Elke blaar geraak, het op grond geval.

Wou elke blaar in woud blaas,
want hy het baie gehou van bome sonder blare!

Maar sy pa,
die Woudkoning,
het hom gestop.
“Die bome wat die voëltjie gehelp het,
mag hulle blare hou.”

Daarom het die Noordewind hulle uitgelos,
sodat hulle die hele winter lank hulle blare gehou het.
En vandag nog kan hulle elke winter hul blare hou.

Teks gelees, sê ons bome van Redding.
Gaan verduidelik wat beteken – luister.
Terwyl luister:
boom,
groen papier, skeur, plak blare
(gom deel)
prentjie: voëltjie in nes, eekhoring
Gee iets te doen, omdat weet kan luister & teken/plak

Video

 Practice Compassion – Narayan Krishnan_ a companion to the forgotten

Preek

Watter soort boom is jy?

Ek peperboom –
uitheems
karaktervol
geur aan lewe.

Lynette (Didage) Immergroen Ouerskap:
• Palmboom
• Roosboom
• Sierboom
• Denneboom

Ek nie gedoen,
vinnig verstaan –
as kursus doen, baie meer insig:

Van palmbome sê mense:
• jy is lewe van partytjie
• niks kry jou onder
• adrenalien-junky
• kan woestynsand aan arabier verkoop
• dink nie voordoen

Roosboom:
Mense sê:
• jy’s control freak
• vat nie “nee” vir antwoord
• is go-getter
• as jy dit nie kan doen, kan niemand nie
• draai nie doekies om
• rus nooit

Sierboom:
• gee vir jou die werk wanneer rég gedoen wil hê
• jy’s baie ernstig
• fokus op negatiewe
• georganiseerd
Denneboom:
• stabiel
• dra nie hart op mou
• liewer bang jan as dooie jan
• wat sien is wat kry

Teks:
ons is Bome van Redding.
(Dalk ander bome ook, maar)
God maak ons bome van redding.
HY plant ons –
om sy roem te vermeerder.

Paar weke terug ook hieroor gepraat:
hoekom hier,
wat doel op aarde –
God roem vermeerder.
Gaan oor God,
gaan nie oor boompie hier op aarde.

Ons is gered,
behoort aan God,
Gees van die Here is op ons –
elkeen gesalf met Gees.

Ons ongelukkig gawe van Gees –
Geesvervulling –
geprivatiseer.
Dink salwing van Gees
vir private doeleindes:
gebed
sing.

Deel van geesvervulde lewe.
Maar soveel meer as dit!

Dis hoekom NB dat onthou Jesus hierdie teks lees –
Jesus verstaan van roeping.

Jesus lees nie presies soos staan –
amper asof nog méér prakties,
meer konkreet lees.

Ons geneig evangelie vergeestelik:
goeie nuus armes –
nie mense fisies arm, ons almal.
Gevangenes – nie fisies tronk,
elkeen geestelik gevange.
ens.

Maar evangelie nie ideologie
Evangelie is “goeie nuus” –
goeie nuus van herstel
goeie nuus van genesing.

Jesaja: tyd waarop God genade betoon.
Jesus: genadejaar.
Jaar almal slawe skuld, vrygestel
Skuld afgeskryf.

Sien Jesus bediening,
letterlik verstaan:
blindes gesond gemaak,
mense van siektes genees,
uitgeworpenes verwelkom.

Nou interessante ding van God –
nie verstaan,
nie logies klink,
maar God gebruik mense!

God salf ons met Gees,
gee roeping –
sluit ons in by vestiging van koninkryk op aarde.

God laat nie arme van ashoop opstaan
deur bonatuurlik straal krag nie.

Kies anders te doen –
om Gees op ons uit te stort,
sodat ons hand kan uitsteek
armes kan ophelp.

Kanadese predikant, Mark Buchanan,
skryf kerk se bediening is
messy, costly, dirty.
Morsig, duur, vuil.

Vertel hoe saam met past Jim Cymbala van Brooklyn Tabernacle geëet het.
Tydens ete vra Jim vir Mark:
Weet jy wat nommer een sonde kerk in Amerika is?

Retoriese vraag,
Jim aangegaan antwoord:
is nie plaag internet pornografie.
is nie egskeidingsyfers wat net so hoog onder Christene as wêreld.

Wat is grootste sonde van kerk?
(Wat dink jy?)

Jim:
Nommer een sonde
kerk in Amerika
dat leiers
nie op knieë is,
uitroep tot God:
Bring vir ons dwelm-verslaafdes
bring vir ons prostitute
bring vir ons haweloses
bring vir ons bendeleiers
bring vir ons mense MIV-positief
bring vir ons mense wat niemand anders wil hê,
mense wat net u kan genees
en laat ons hulle liefhê
in u naam
totdat hulle heel is.

Wat sou gebeur ons,
wat sê dat hawe is,
begin bid:
Here,
stuur ons mense wat niemand anders wil hê,
mense wat U alleen kan heelmaak
en laat ons hulle in u Naam liefhê
totdat hulle heel is?

Sonde van kerk,
nie profetiese roeping ernstig opneem.

Jesaja 63,
skrikwekkende beeld,
God aankom,
klere rooi,
mense vertrap:
v3: niemand van die volke het my bygestaan nie.
v5:
Ek het rondgekyk,
maar daar was niemand om te help nie,
Ek was ontsteld toe niemand My bystaan nie.
Ek het self opgetree,
my woede het My bygestaan.

Storie vertel van vrou inkopiesentrum gegaan,
wandel by nuwe winkel in.
Sien Jesus agter toonbank.

Vra: Is u Jesus?
Ja
Werk u hier?
Nee, besit winkel.
O, wat verkoop?

Omtrent enigiets.
Kyk rond,
kyk wat wil hê,
maak lysie,
kom terug –
ek sal kyk wat vir jou kan doen.

Vrou stap tussen rakke,
sien wonderlikste goed:
vrede op aarde
niemand meer honger of arm,
vrede in families
geen dwelms
geen mensehandel
skoon lug.
Sy skryf naarstigtelik alles neer.

Teen tyd terug by toonbank,
lang lys.

Jesus kyk lys,
glimlag
“geen probleem”,
buk agter toonbank,
grawe bietjie rond,
gee klomp pakkies.

Wat die? wil vrou weet.

Pakkies saad, Jesus antwoord.
Hierdie saadwinkel.
Jy kom,
sien wat nodig het,
ek gee saad.
Jy plant,
versorg,
ek laat groei,
wêreld pluk vrug.

O, vrou gesê
en winkel verlaat sonder enigiets saam te vat.

Storie natuurlik nie heeltemal akkuraat –
God gee nie vir ons saad en sê: daar gaan jy.

God werk –
God laat groei, laat vrugte dra.

Maar God kies ons in te sluit in sy werk,
ons te gebruik.

Ons gesalf
blye boodskap te bring aan mense in nood,
gestuur die wat moedeloos is, op te beur
vrylating vir gevangenes aan te kondig.
Boom van redding gemaak,
sy roem te vermeerder.

Beteken nie ons almal alles doen.
Jy weet waar God jou geplant,
wat jou passie.
Dááraan kan iets doen,
daardie situasie boom van redding wees:
• Ondersteun Japan rampfonds
• Help mense van Chesire aanry kerk toe
• doen hare
• besoek siekes
• voorskool vistarus
• klere & produkte CMR
• Uitstappies kinders MTR Smit
• Barcelona Voedingskema
• Bosslapers sop
• ID’s
• Families ondersteun.
• ens

Wat nié kan doen nie,
is niks,
want God ons gesalf,
Bome van Redding gemaak,
om sy roem te vermeerder.

Wangari Maathai grootgeword Kenya.
Land toe onder bome.

Studeer VSA,
terugkeer Keny,
geskok land warm, droog, leeg –
bome so lief gehad as kind,
afgekap.

Begin in eie agterplaas,
plant bome.
Moedig ander vroue aan bome te plant.

Begin Green Belt Movement.
Sedertdien meer as 30 miljoen bome geplant,
2004 Nobelprys vrede ontvang.

“Die Gees van die Here
is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie
aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating
vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig
vir blindes,
om onderdruktes
in vryheid uit te stuur,
om die genadejaar van die Here
aan te kondig.”

Hoe is jy ‘n boom van redding?

Gebed

Dankoffers

Musiek: Gekruisigde Hande – Louis Brittz

Slotlied

Flam 113 Here Jesus, U skyn oor almal [band] (staan)

Seën

Wys video – Jesaja61withnarrator (+klank)

Jesaja 61 – Erediens: God maak ons ‘n blye boodskap – 27 Maart 2010

Watter soort boom is jy?

Ek peperboom –
uitheems
karaktervol
geur aan lewe.

Lynette (Didage) Immergroen Ouerskap:
• Palmboom
• Roosboom
• Sierboom
• Denneboom

Ek nie gedoen,
vinnig verstaan –
as kursus doen, baie meer insig:

Van palmbome sê mense:
• jy is lewe van partytjie
• niks kry jou onder
• adrenalien-junky
• kan woestynsand aan arabier verkoop
• dink nie voordoen

Roosboom:
Mense sê:
• jy’s control freak
• vat nie “nee” vir antwoord
• is go-getter
• as jy dit nie kan doen, kan niemand nie
• draai nie doekies om
• rus nooit

Sierboom:
• gee vir jou die werk wanneer rég gedoen wil hê
• jy’s baie ernstig
• fokus op negatiewe
• georganiseerd
Denneboom:
• stabiel
• dra nie hart op mou
• liewer bang jan as dooie jan
• wat sien is wat kry

Teks:
ons is Bome van Redding.
(Dalk ander bome ook, maar)
God maak ons bome van redding.
HY plant ons –
om sy roem te vermeerder.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Continue reading

Jesaja 56:1-8 – Erediens: God trek ander mense by ons in – 20 Maart 2011

Verwelkoming

NG KERK SOMERSTRAND

PASTORALE BEDIENINGSFONDS

Doelstelling:

‘n Anonieme lidmaat het ‘n fonds in die gemeente begin, spesifiek vir Pastorale Bediening, oorwegend vir senior lidmate van die gemeente. Die doel van die fonds is om ‘n kapitale basis op te bou, waaruit die kostes van ‘n moontlike voltydse pastorale bediener gefinansier kan word. Die rente op die kapitaal sal aangewend word vir die bediening. Donasies aan die fonds kan gemaak word deur skenkings of in die vorm van ‘n lening aan die fonds, vir vyf jaar. Hierdie lenings, terugbetaalbaar aan die donateur, is gewaarborg.

Datums van inligtings sessies sal mettertyd aan die gemeente bekend gemaak word.

Befondsing:

Eenmalige of herhalende donasies per kontant inbetaling of per debietorder.

Bankbesonderhede:

Bank:                        ABSA

Rekeninghouer:          NG Kerk Somerstrand – Pastorale Bedieningsfonds

Rekeningnommer:      9259176740

Tipe Rekening:          Spaar

Takkode:                  632005

Verwysing:                Donateur se Naam

Alternatiewelik kan enige donasies by die kerkkantoor in betaal word.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Liedboek 391:1,4 Vervul, o Heer, my hart met stille wyding – sit

Votum

Seëngroet

Verootmoediging

Liedboek 379 Jesus Christus, Lam van God – sit

Liedboek 384 (x3 – Afr, Eng, Afr) Jesus, o dink aan my – sit

Aanbidding

Liedboek 399:1,5 Aan die tafel met die Paasmaal – si

Lofprysing

Liedboek 400 Juig, juig in Hom, ons Heiland aan die kruis – staan

Gebed

God praat en ons luister

Skriflesing

Jesaja 56:1-8 – God trek ander mense by ons in

Woordverkondiging

Die Christelike lewe kan op verskillende maniere beskryf word.  ‘n Mens kan sê dat dit oor God gaan wat hierdie wêreld met sy liefde en genade wil oorrompel – die sogenaamde Missio Dei.  ‘n Mens kan sê dat dit gaan oor die koninkryk van God gaan waaraan ons as gemeente meewerk.

Maar, in die praktyk van elke dag gaan dit doodgewoon oor ‘n Christelike lewenstyl.  Dit is wat mense van ons raaksien.  Dit is die cutting edge van die Christelike lewe, nie wat ons sê oor God of oor die kerk of oor die koninkryk nie, maar wat ons leef.

Paulus sê op ‘n kol: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees” (Fil 1:27).

Een van die maniere waarop die kerk deur die eeue hierdie Christelike lewenstyl aangeleer en gekoester het, was deur praktiese geestelike gewoontes.

En dit is met dié bril wat ek na hierdie perikoop in Jesaja wil kyk, om agter te kom, wat se lewenstyl verwag God van ons?  Hoe wil Hy hê moet ons lewe?  Of anders gestel, wat wil God hê moet ander in my lewe raaksien?

En daar is drie dinge wat vir my hier uitstaan van die tipe lewenstyl wat God van ons vra, drie geestelike gewoontes wat ons moet beoefen – dit het met die onderhouding van die sabbat te make, met die insluiting van anderse mense, en met gebed.

EEN: Doen reg en onderhou die sabbat

God vra hier van Israel dat hulle reg sal laat geskied, self reg sal doen en eksplisiet tot die onderhouding van die sabbat verbind.

Nou voor ek oor die sabbat self gesels, een opmerking: Let op dat regdoen hier nie ‘n verdienstelike karakter aanneem nie, maar ‘n voorbereidende karakter.  Die sabbat berei die volk voor om God se uitkoms te kan verwelkom.   Dit help hulle om die redding wat die Here bring, te verwelkom.

Nou, waarom is die sabbat dan so belangrik vir Jesaja?

Ons moet eers ‘n entjie teruggaan in die geskiedenis om die betekenis reg te kan interpreteer.

  • Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1).  Dit was ’n noodsaaklike verposing in ’n harde week se werk, wat jou laat asem skep het, weer die lewe laat waardeer het, weer ’n lied in jou hart gebring het na die swaar van jou daaglikse arbeid.
  • Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Deut 5).  Dit was dus die teken van die verbond (Eks 20:22).  Hulle het rus gekry van die swaar las wat in Egipte op hulle gelê is.  Dit het nes aan die begin weer ’n lied in hulle hart gesit.
  • Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev 23).  Hulle het die Here opgesoek, Hom geloof, na Sy Woord geluister, gebid om sy uitkoms vir allerlei, en hulle offers gebring waardeur hulle die ervaring van skuldvergifnis geniet het.  Dit het ook ’n lied in hulle hart gesit, deurdat hulle vryheid van hulle sondes kon ervaar.
  • Maar in Jesaja se tyd, en dan meer spesifiek in die tyd van die ballingskap, het die sabbat ‘n ekstra betekenis bygekry.  Die sabbat het ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk in die vreemde saamgebind is, en mense uit die onderhouding van die sabbat kon sien dat hulle Jode was wat God gedien het.  En laat ons vir geen oomblik dié funksie onderskat nie.  Dit het in ’n vreemde wêreld – waar hulle vreemd was, en min invloed in die samelewing gehad het – vir hulle ’n identiteit gegee, ’n samebindende krag wat hulle week na week kon laat volhard het in die geloof.
  • Daarom het die sabbat ook ‘n godsdiensbevestigende funksie gehad, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie.  Vandaar die baie belangrike opdrag in Jesaja hier rondom.

Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En dit het ‘n spesifieke lewenstyl gevestig by die Jode – hulle het ‘n gesonde ritme gehad tussen werk en rus, hulle het God se uitkoms in die verlede gevier, hulle het hulle eredienste op die sabbat gehou, hulle het hulle gemeenskap met mekaar gevier, en hulle het hulle geloof gevier en bevestig.

Die sabbat was hulle lewensreël, hulle lewenspraktyk, hulle lewenstyl.  Jy kon hulle uitken daaraan, en hulle is saamgebind daardeur.

Hoekom vier ons dan nie vandag die sabbat nie?

Wel, weer ‘n bietjie inligting:

Oor die volgende paar eeue na die ballingskap het die Fariseërs ‘n magdom wette vir die korrekte nakoming van die sabbat geskep.  Hulle het as’t ware oorboord gegaan en die vreugde uit die onderhouding van die sabbat geneem.  Dit het ‘n sware las geword, en nie meer iets wat lewe gegee het nie.  Jy mag net so ver loop, en nie dit of dat of die volgende doen nie.

Met Jesus se koms in die Nuwe Testamentiese tyd reageer Hy hierop en maak mense weer vry van die benepe reëlbeheptheid.  Hy herstel die oorspronklike betekenis van die sabbat deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark 2:27).  Hy genees bv. ‘n man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag (Joh 5).  Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word op vryword en vryheid, nie beperkings nie.

En omdat Hy self God was, en is, bring Hy in sy persoon die sabbat tot sy volle vervulling.  Hy is in ‘n sekere sin die sabbat van die nuwe bedeling.  Waar ons in sy teenwoordigheid lewe, ervaar ons die sabbat.

Daarom het die kerk na die opstanding begin om die sabbat as vervuld in Jesus self te vier.  En omdat Jesus op die eerste dag van die week opgestaan het, het hulle dié dag as ‘n besondere dag begin vier.  Die opstandingsdag het die sabbat geword.

Toe die kerk bv. moes besluit watter dinge die gelowiges uit die heidene moet nakom, was die Joodse sabbat op Saterdag nie een van die voorskrifte nie (Hand 15).  Dit sou immers van heidense gelowiges Jode maak, hulle ‘n Joodse lewenstyl aanleer en nie ‘n Christelike lewenstyl nie.  Daardeur sou die evangelie ingeperk en eksklusief gemaak word.  Jy sou eers ‘n Jood moes word, voor jy ‘n Christen sou word.

Daarom dat Paulus gelowiges in sy brief aan die Kolossense aanraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak  nie (Kol 2:19).  Hy gaan selfs so ver om te sê, dat as jy alle dae tot eer van die Here wil leef, voel vry om dit te doen, en dié wat een dag as belangriker as die ander wil vier, maak so, maar moet net nie die ander daaroor verag of veroordeel nie (Rom 14).

Wat vier ons dan?

Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark 16:2; Matt 28:1; Luk 24:1; Joh 20:1) te vier.

Terloops, Johannes het die eerste dag van die week die eerste keer “die dag van die Here”(Open 1:10) genoem, wat deur latere vroeg-kerklike geskrifte verklaar is as die eerste dag van die week (bv. die Didage), en wat later Sondag genoem is op voetspoor van die Romeine se name vir die dae van die week.

Die Christene het dus begin om die nagmaal op Sondae te vier (Hand 20:7) en die dankoffers in te samel (1 Kor 16:2).  Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword, ‘n gebruik wat tot vandag toe die hoofstroom keuse is.

Maar, dieselfde gedagtes wat deel van die sabbat was, is vandag nog deel van die Christelike lewenstyl wat ons op die Sondag, of ‘n ander dag soos die Here jou lei, of op alle dae, vier: ‘n gesonde ritme tussen werk en rus, om God te loof vir sy uitkomste, om ons eredienste te hou, om ons gemeenskap met mekaar te vier, en ons geloof te vier en te bevestig.

Dit is dus die eerste geestelike gewoonte wat hierdie gedeelte op die tafel sit, wat ons lewenstyl moet vorm.

TWEE: God gee uitkoms vir alle mense

Die tweede ding wat my tref van die gedeelte, is die verstommende hoopvolle belofte wat oor die nie-Israeliete sowel as die ontmandes uitgespreek word.

Nie-Israeliete is baie keer uitgesluit  van die volk en die tempelgemeenskap weens die gevaar van afgodsdiens (Esra 9:1; Neh 9:2), hoewel mense soos Rut en Ragab wel weens hulle verbintenis aan God toegelaat is in die volk.  Nou word hulle volledig toegelaat.

Ontmandes is egter altyd uitgesluit (Deut 23:1; Lev 21:20).  Teenoor die voorskrifte van die wet word hulle dus nou ingesluit in die verbond. In taal wat herinner aan wat Johannes veel later in Openbaring sou skryf (bv. 2:17; 3:5, 12; 20:15; 22:4) word hulle nou deel van die volk van God.  In die Nuwe Testament word die Etiopiese finansiële amptenaar dus sonder enige probleem ingesluit in die gemeenskap van die gelowiges (Hand 8).

Dit beteken dat God van ons vra om insluitend en akkommoderend te wees.  Ons moet die geestelike gewoonte van gemeenskap van die gelowiges, van insluiting, bemeester.  Ek is oortuig dat die insluiting van ander mense die belangrikste verandering is wat die evangelie bring.  Dit is immers iets wat God doen – Hy trek ander mense by ons in!  En dit verander die manier waarop ek na anderse mense, mense wat anders as ek is, kyk.

Wat nodig is, is dat ons mekaar as geskenke van die Here leer ervaar; dat ons in ware gemeenskap met mekaar leer leef.  En daarvoor moet ons doelbewus grense na mekaar toe oorsteek, met deernis en openheid, met leerbaarheid en vertroue.  En dit moet ‘n gewoonte word, iets waaraan ander mense my ook kan uitken

Don Browning sê dat daar eintlik net twee soorte geloofsgemeenskappe is:

  • Die een is waar jy binnekom en gevra word om in die teenwoordigheid van God te wees, maar jouself en dit waarmee jy tans in jou lewe besig is liefs buite moet laat.
  • Die ander geloofsgemeenskap is waar mense in die teenwoordigheid van God ingenooi word en waar hulle volle menswees óók teenwoordig mag wees.

Dit is natuurlik hierdie laasgenoemde soort geloofsgemeenskap waaroor dit in hierdie teksgedeelte gaan.  En dit is waaraan ons onsself moet toewy.  Dit is die tipe lewenspraktyk wat ons moet vestig.

DRIE: Die kerk se mense is ‘n huis van gebed

Die derde aspek van die Christelike lewenstyl, is gebed.

Dit tref my hoe die tempel – met al die nie-Israeliete en al die ontmandes daar – tot ‘n huis van gebed vir al die volke uitgeroep word, wat vreugde aan hulle sal verskaf.

Dit is God se droom vir sy mense.  Trouens, Salomo het alreeds hieroor gepraat in sy gebed by die inwyding van die tempel waar hy eintlik gebed as die primêre funksie van die tempel uitgespel het.

En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus se woede met die tempelreiniging waar  hy die handelaars verkwalik het dat hulle dié droom van God in gevaar gestel het met die besigheid wat hulle op die templeplein bedryf het (Matt 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46).

Ek kan baie hieroor sê, maar ek gaan oor gebed julle net herinner aan die eeue-oue gebruik van die daaglikse ondersoek (daily examen) as ‘n geestelike gewoonte wat ons kan beoefen om ‘n Christelike lewenstyl te ontwikkel.

Die daaglikse ondersoek is  die gebruik om God se teenwoordigheid in die alledaagse gebeure in my en ander se lewe te soek (Kol 1:9; Fil 1:9-10).  Dit word veral verbind met Ignatius van Loyola  van die Jesuïete wat ’n hele paar verskillende maniere daarvoor ontwikkel het wat ’n mens persoonlik en in ’n groep kan gebruik. Dit sluit in om:

  • van God se teenwoordigheid bewus te word;
  • die gebeure van die afgelope dag te deurdink;
  • op te let na jou emosies oor die gebeure – beide die positiewe en die negatiewe, wat jou getroos het en wat jou geruk het;
  • te vra na God se perspektief daarop;
  • na te dink oor waar jy die beste konneksie met God gehad het – en waar nie;
  • jou begeertes na Hom te bring met gebed en smeking sodat sy vrede jou hart en gedagtes tot rus kan bring (Fil 4:6-7).

Ons het al verskeie kere John Ackerman se bekende weergawe hiervan in die gemeente en in ons eredienste beoefen: “Stop, Neem waar, Luister” (Stop. Look. Listen). Jy kan gerus die preek gaan aflaai op die web – ek het aan die einde daarvan ‘n voorbeeld gegee wat jy kan gaan beoefen hierdie week.

Lewenspraktyk

Ek sluit af.  In die praktyk van elke dag gaan dit uiteindelik doodgewoon oor ‘n Christelike lewenstyl.  Dit is wat mense van ons raaksien.  Dit is die sigbare getuienis van die Christelike lewe, nie wat ons sê oor God of oor die kerk of oor die koninkryk nie, maar wat ons leef.

Soos Paulus sê: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees” (Fil 1:27).

Daar is natuurlik baie ander geestelike gewoontes, Bybelstudie, gasvryheid ensomeer.  Jesaja sit hier drie aspekte van só ‘n lewenstyl op die tafel en sê, die Here wil ons vorm deur hierdie spesifieke geestelike gewoontes:

  • onderhouding van die sabbat,
  • insluiting van anderse mense in jou gemeenskap,
  • om ‘n huis van gebed te word.

Gebed

God stuur ons om te leef

Dankoffers

Slotlied

Liedboek 406 Ons loof U, Vader, op die troon! – staan

Seën

Liedboek 228 Halleluja! – staan

Daaglikse Ondersoek

STOP:  Stop met wat jy besig is om te doen en te dink.  Probeer so sit dat jy na ‘n venster kyk of gaan sit of stap buite.  Jy kan ook kniel. Om jou te help stilword, kan jy fokus op jou asemhaling.  Wanneer jy uitasem, herhaal jy stilweg die woorde “ek gee oor aan U” en met elke inaseming, “ek wil luister”.

NEEM WAAR:   Dink terug aan die gebeure van die afgelope dag.  Het jy iets ontvang wat goed of onverwags was?  Neem tyd om daaroor na te dink en waarderend te wees.  Probeer, ten spyte van al die slegte nuus wat jy daagliks hoor en ervaar, die goeie in jou buurt, gemeenskap, land en in die wêreld raak te sien.  Herinner jouself daaraan dat jy nie in die sentrum van die heelal is nie.

Dink ook terug aan die pyn wat jy ervaar het.  Vir dele daarvan is jy verantwoordelik.  Vra vir vergifnis.  Ondersoek die aard van die seerkry.  Gaan dit regtig oor jou, is dit regtig so belangrik, of is jy vasgevang in iets waarvan die Here jou moet vrymaak?  As iemand jou te na gekom het, bid dat jy sal kan vergewe.  Dink ook aan die pyn in die wêreld.  Bid vir dié wat daardeur geraak is.

LUISTER: Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies, ‘n lied of gedig wat by jou opkom.  Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ontsteld laat.  Dink na oor wat God daardeur vir jou wil sê.  Bid om helderheid, oortuiging en vrede.  Skryf jou gedagtes in jou joernaal, sodat jy oor tyd kan agterkom hoe die Here besig is om jou te begelei rondom herhalende insigte en ingewings. Wees gehoorsaam aan die lig wat jy ontvang.  Gaan leef dit!