Skip to main content

Johannes 13:31-14:14 – Erediens: Ek is die weg, die waarheid en die lewe – 22 Mei 2011

Liturgie

Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofsang

  • Lied 164 Ons is almal hier tesaam vergader in sy Naam – staan – Bruce Ballinger (We have come into His house) – Attie van der Colf
  • Lied 209 Heer, met my hele hart kom sing ek ’n lofsang – sit – Claude Fraysse (Je Iouerai l’Eternal – 1976) – Elsabé Kloppers

Kindertyd

  • Sakkie en Sieg – sakkeresies

Gebed

Skriflesing

  • Johannes 13:31-14:14

Jesus se heengaan is naby

31Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Petrus sal Jesus verloën

(Matt 26:31–35; Mark 14:27–31; Luk 22:31–34)

36Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?”

Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.”

37Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”

38“Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Jesus gaan na sy Vader toe

14 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Woordverkondiging

Ons Vader neem ons hande

Ek het dié week regtig gesukkel om die woord van die Here te onderskei.  Daar is so baie wat oor hierdie gedeelte gesê kan word.  Ek het daaroor geskrywe vir die Bybelskool, ek het so drie keer ’n halwe preek geskryf, en dan weer vasgehaak.  Ek het gebid en gewag, en ons het by die sel hieroor gesels en ’n hele klompie wonderlike insigte gedeel.

Maar ek kon net nie hoor wat die Here vir ons as gemeente wil sê nie.

Ons Vader neem ons hande en maak ons één

Gelukkig moes ek die week ’n lied se woorde leer, een wat Cantatori nou-nou gaan sing.  Lied 532 in die Liedboek: So nimm denn meine Hände van Friedrich Silcher, waarvan ons die weergawe van Hans du Plessis in ons Liedboek het: Ons Vader neem ons hande en maak ons één.

En toe ek die lied oor en oor lees, so tussen die preekmaak deur, het ek skielik besef, maar dié lied gee vir my die invalshoek wat ek nodig het.  En het ek uiteindelik rigting gekry, omdat dit so presies is wat die tipe reaksie is wat Jesus van ons vra in hierdie gedeelte.  Want sien, ek kan sê wat hier staan, ek kan dit in konteks plaas, maar my probleem was om te weet wat ons reaksie daarop moet wees en die woord van die Here daar rondom te verkondig.

En dit is wat die lied my mee gehelp het.  Dit voel vir my asof Silcher Johannes 13-14 gelees het toe hy dié lied gekomponeer het – het nie ’n manier gehad om dit uit te vind nie.  Maar u kan self beoordeel, uit die aanhoor van die lied.  Luister na 2 van die verse:

Ons Vader, neem ons hande en maak ons één.
Versterk U self die bande – gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer.

Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe op liefde bou.
Laat heers oor ons u vrede, en bind ons saam.
Verhoor tog ons gebede in Jesus Naam.

Judas se verraad

Kyk, die situasie wat hier vir ons in Johannes 13-14 geskets word, is benard.

Judas se verraad het ’n yskoue wind laat waai deur die gemoed van die dissipels.

Hulle was geskok dat Jesus so duidelik daaroor praat, dat iemand Hom gaan verraai.  En verslae het hulle rondom hulle gekyk, en gewonder wie van hulle gaan só ’n grusame daad doen. Hulle was so lank saam. Hulle het so baie deurgemaak.  Hulle het so baie keer ’n noue ontkoming gehad, maar elke keer het hulle dit reggekry om die Jode se planne te ontwyk.

Maar nou sê Jesus die verraad kom uit eie kring.  Dit is een van hulle wat om die tafel sit, wat Hom sal verraai.

Toe Jesus vir Judas aanwys met die stukkie nagmaalsbrood, het hulle hom nog die voordeel van die twyfel probeer gee – miskien moes hy net iets gaan koop, of miskien wou Jesus hê hy moes iets vir die armes gaan gee – Judas was immers baie bekommerd oor die armes, al sou hulle later uitvind dit was eintlik maar net om self die geld wat vir die armes bedoel was, te steel.

Maar tog het hulle geweet iets drasties het gebeur met hierdie nagmaal – hulle sou nooit weer dieselfde kon dink oor hulle dissipelkring nie.  Verraad het ingedring in eie kring, en hulle onderlinge gemeenskap het diep seergekry.

En dit is waar hierdie lied my help om te weet hoe ’n mens in só ’n situasie moet reageer.  Die enigste manier waarop ’n mens sulke verraad kan hanteer, is om saam met Silcher te sing en die verraad te troef:

Ons Vader, neem ons hande en maak ons één.
Versterk U self die bande – gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer, u naam te eer.

Dit is net God wat ons kan laat vasstaan wanneer dinge dreig om uit mekaar te spat.  Dit is net Hy wat die bande wat ons aan mekaar moet bind, kan versterk en ons kan seën met ’n onderlinge verbondenheid.

En die enigste manier waarop dit ’n werklikheid kan word, is as ons aan God self verbind word, sodat ons Hy ons kan leer om met ons dade tot Sy eer te lewe.

Petrus se verloëning

Maar daar was meer.  Van Judas kon ’n mens miskien nog die verraad verwag het.  Die tekens was immers daar dat hy ontevrede was, dat hy ’n ander verwagting gehad het.  En dit is ook duidelik dat God agter alles in beheer was en letterlik hier vir hom die opdrag gee om te doen wat sy bose hart beplan het.  Jesus stuur hom om te gaan doen wat die duiwel hom ingegee het om te doen.

En die dissipels kon miskien gedink het, good riddance.  Die res van ons sal nie faal nie.  Ons sal getrou bly.  Daarom het hulle heel moontlik hande geklap toe Petrus met sy kenmerkende bravade indons en sê.  “Ek sal my lewe vir U aflê.”  Maak nie saak wat gebeur nie – al sal almal U verlaat, Ek sal nie!  Basta!

Jesus se reaksie daarop het egter die koue wind sterker laat waai deur hulle gemoed:     “Sal jy jou lewe vir My aflê?  Dit verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Dit het hulle nie verwag nie.  Judas sal Jesus verraai.  Dit is nog verstaanbaar.  Maar nie Petrus nie!  Petrus sal nooit vir Jesus verloën nie.  Maar nou sê Jesus dat dit presies is wat gaan gebeur.

Dit het hulle nie verwag nie.  En hoe moet hulle hierop reageer?  Wat moet hulle met Petrus doen na sy verloëning?  Hy is dan hulle leier, die een waarop jy kan staatmaak om die voortou in goed te neem.  En nog dieper: wat dan van hulle self?  Het hulle enigsins ’n kans om getrou te bly, as Petrus nie getrou kan bly nie?  Wat gaan van hulle word?  Sonder leier, sonder Jesus …

Weereens is die reaksie van Siclher hier van toepassing:
Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe op liefde bou.

en

Laat heers oor ons u vrede, en bind ons saam.

Jy sien, natuurlik kom die verbintenis aan God eerste en daarsonder kan niks goeds gebeur nie.

Maar as dit nie insluit dat ons ’n pad met mekaar stap en mekaar vergewe, leer om mekaar te vertrou nie, dan sal ons gemeenskap altyd gebrekkig bly.  Jesus leer ons hier dat die hele lewe op liefde gebou moet wees – en let op nie ’n liefde net soos wat die opsomming van die wet van ons vra – jy moet jou naaste liefhê soos jouself – nie.  Nee, soos EK julle liefhet, só moet julle mekaar liefhê.  Dit is die nuwe gebod wat Jesus vir hulle gee.

Dit bly vir my ongelooflik as ’n mens hoofstuk 21 lees en sien hoe Jesus Petrus weer na Sy opstanding herstel en intrek in die kring van die dissipels, en dat Hy aan hom weer sy leierskapsrol gee, meer nog, aan hom die rol van herderleier gee, die rol wat Jesus gehad het.

Petrus het die gevaar geloop om weer ’n visserman te word, soos aan die begin.  Jesus keer egter dat die opsie pos vat in sy lewe.  En soos Jesus die Goeie Herder was (Joh 10), so gee Jesus aan Petrus die opdrag om Sy skape te versorg en te laat wei.  Jesus raak dus vir Petrus aan, herstel sy status as leier, sodat dit moontlik was vir die ander om hom te vergewe en hom te vertrou.

Jesus is die weg

En as ’n mens dit goed verstaan – God verstrek die onderlinge bande sodat ons mekaar kan vergewe – dan begin jy die sentrale boodskap van Johannes 14 verstaan.  Jesus is die Weg, die waarheid en die lewe. Dit is wanneer ek met Hóm in ’n intieme persoonlike verhouding lewe dat Hy vir my die weg word, die weg na liefde, die weg na insig, die weg na waarheid, die weg na die lewe – binne die gemeenskap van die gelowiges, al sluit dit in dat sommige van hulle jou teleurstel of dat jy die een is wat hulle teleurstel.

Dan maak dit sin dat Jesus my ook  troos met die boodskap dat Hy ’n plek vir my gaan berei, en dat Hy eendag sal terugkom en my na Hom toe sal neem.  Ek hoef dus nie bang te wees vir die prys wat die liefde van my kan vra nie.  Selfs al sou dit beteken dat ek my lewe moet aflê vir my mense, soos Jesus dit vir my gedoen het, is my toekoms verseker.

Maar die beste is vir laaste, Silcher sluit die laaste vers af met:

Verhoor tog ons gebede in Jesus Naam, in Jesus Naam.

Dit is vir my die hoogtepunt van Johannes 14 – dat Jesus nie hier in die eerste plek die doel van hierdie gemeenskap van gelowiges uitspel as die verkondiging van die evangelie tot aan die einde van die aarde nie – hoewel dit natuurlik ook in die visier is.

Nee, soos Hy die tempel aan die begin van die Johannes evangelie skoonmaak om ’n huis van gebed te wees, so sê Hy dat die punt van ons gemeenskap is om met God in gebed in gemeenskap te lewe om die vreugde van gebedsverhoring te kan geniet.

Daar is dinge wat ons doen wat net so belangrik is as gebed – om te getuig, om barmhartig te wees, om gasvry te wees.  Maar nie een van hulle is belangriker as gebed nie.  En nie een van die ander dinge wat ons vir die Here kan doen, kan ons sonder gebed doen nie.

Dit is wanneer ons God aanroep – dat dinge begin gebeur.  Dit is wanneer ons van God vra – dat Hy gebede begin verhoor.  Dit is wanneer ons die behoeftes rondom ons in die wêreld na God toe bring – dat grootskaalse veranderinge gebeur.  En ons het mekaar nodig om hierin te volhard.  En dit moet nie net in ons binnekamer gebeur nie.  Dit moet ook publiek wees, hier in die erediens, en daarbuite waar ons God se teenwoordigheid kan indra in die lewe.

Gebed

Koor stap op terwyl die tafel in gereedheid gebring word.

Koor: Cantatori

  • Jesus, Rots vir my geslaan – J van der Waart
  • Ons Vader, neem ons hande – F Silcher (verw. D Hyman)

Nagmaalsviering

Neem net jou eie glasie met die uitstap – span bietjie uitgedun vandag.

Koor: Cantatori

  • Die Here seën ons uit Sion – W Lüderitz
  • Zum Offertorium – F Schubert

Dankoffer

Slotlied

  • Lied 286 Here God van liefde, waar ons ook mag gaan – staan – Greta Delport-Benadé

Seën

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Amen

  • Lied 313 – Deense oorsprong

Johannes 10 – Erediens: Ek is die Goeie Herder – 15 Mei 2011

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Verwelkoming

Toetrede

Lied 163 (sit)

Votum

Liturg:           Die Here is my herder,

ek kom niks kort nie.

Gemeente:     Ons glo in die goedheid van God.

Ons glo God voorsien alles wat vir ons goed is.

Liturg:           Hy laat my rus

in groen weivelde.

Gemeente:     Ons glo dat Jesus Christus die Goeie Herder is.

Ons vind rus in Jesus se lewe

en in sy liefde wat aan ons bedien word.

Ons voedsel is om Hom te gehoorsaam.

Liturg:           Hy bring my by waters

waar daar vrede is.

Gemeente:     Ons glo dat die Heilige Gees vrede bring.

Ons les ons dors in die vergifnis van ons sondes.

Liturg:           Hy gee my nuwe krag.

Gemeente:     Ons lewe word van dag tot dag deur Christus

in gemeenskap met die Gees aan die Vader gewy.

In Hom het ons die ewige lewe.

Seëngroet

Lofsang

Lied 417  (staan)

Ps 23  Spies beryming vv 1-2 (sit)

Gebed

 GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

Johannes 10:1-15

Kindertyd

Verwelkoming & verjaarsdae

Herinner Pinkster

Ø Video: Sakkie Verdwaal

Teks gelees, Jesus roep

Soms weg van Jesus –

stout is – maar bly altyd Jesus kind,

hy jou roep, jy behoort aan hom.

Preek

Woensdag munisipale verkiesing –

tyd voor verkiesing altyd effens plofbaar,

opbloei protes-optredes (bv dienslewering),

elke party probeer bewys is regte een land regeer –

gewoonlik strategie deur wys hoe ander NIE reg is.

 

Week voorberei,

kon net nie wegkom –

glo my, het probeer! –

hoe relevant hierdie teks dan juis hierdie week.

 

Dink almal ken teks –

Jesus:  Ek is goeie herder.

Hoor teen agtergrond Ps. 23,

versorging.

 

Maar as teks regtig gaan lees,

kom agter ken eintlik nie,

verstaan nog minder.

 

Teks nie lees agtergrond Ps. 23,

eerder agtergrond Joh. 8 & 9,

van wat vorentoe gaan gebeur tydens Paasfees,

van v 22:

“dit was die tyd van die fees van die tempelwyding in Jerusalem”.

 

Fees van tempelwyding (Hannuka),

vier Makkabese oorwinning oor Siriërs,

wat tempel in Jerusalem vir drie jaar ontheilig het

deur beeld van Baal te bou op brandofferaltaar.

 

Judas Makkabeus het Siriërs uit tempel verdryf,

nuwe altaar gebou,

tempel her-toegewy aan God.

 

Fees van tempelwyding jaarlikse gevier

as her-toewyding van altaar en tempel.

 

By hierdie geleentheid Eseg. 34 gelees

(gerus hele teks lees).

In teks sê God gaan optree teen herders.

 

Herderskap hele OT –

eintlik hele ONO –

gelykgestel leierskap:

Word na aartsvaders, Moses, Dawid,

as herders verwys.

 

Eseg. 34 klag teen herders,

leiers van volk:

sorg net vir self

Eseg. 34:4:

  • het nie swakkes gehelp nie
  • het nie siekes gedokter nie
  • nie wonde van dié wat seergekry het, versorg nie,
  • nie dié wat verdwaal het, teruggebring nie
  • was harde en wrede regeerders

 

Kleinvee het prooi van al wat wilde dier is geword.

Sê God sal herders straf,

sal self herder wees.

 

Nou kom in Johannes…

 

Joh. 8,

vrou owerspel betrap.

Leiers wil straf – doodmaak.

Jesus direkte konflik leiers,

daag hul toepassing van wet – dus leierskap – uit.

Stry met hulle oor reg om leiers te wees

(hele gesprek wie Vader is,

hul navolging van Abraham).

 

Joh. 9 man blind gebore,

Jesus genees.

Maar verhaal genesing 5 verse –

res (daar’s 41 verse!)

konflik tussen leiers –

wie se skuld hierdie man in eerste plek blind was?

Wie is Jesus om hom te genees?

 

Vraag:  Wie is eintlik hier in beheer.

 

Jesus beskuldig leiers vandag van geestelike blindheid.

 

En DAN,

dan sê Jesus alles in Joh. 10 van self sê.

 

Nou kan mos hoor,

wanneer Jesus hierdie omstandighede sê

“Ek is goeie herder”,

dan nie besig vir skape te sê gaan versorg,

is veilig by my –

(hoewel geïmpliseer).

 

Praat nog ook oor diewe en huurlinge…

 

Jesus besig te sê

HY is eintlik leier,

nie Joodse leiers.

Dan kontrasteer eie leierskap dié van leiers van dag.

 

Eerstens 4 11:

Ek is die goeie herder.

Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

 

Jesus eintlik paar dae voor dit reeds gewys,

in Joh. 8 & 9 lees.

 

Deur vergifnis vrou owerspel gevang,

genesing blinde man,

wys Jesus leiers se gebrek aan wysheid,

liefde

en barmhartigheid,

onderstreep hulle selfgerigtheid,

selfsug,

gevolglik gebrekkige leierskap.

 

Aan eenkant hulle mense gesagsposisies beklee,

wette toepas,

op dié manier gesag probeer afdwing.

 

In teenstelling daarmee Jesus leierskap

gekenmerk deur diensbaarheid.

 

Gee om vir mense soos goeie herder vir skape omgee –

hy het hulle lief.

Vergewe hulle,

herstel hul menswaardigheid,

genees hulle.

 

Goeie herder lê lewe af.

Nou kan mens nogal wonder hieroor –

as herder lewe aflê,

is skape nie dan éérs uitgelewer nie?

 

Tensy Jesus se sterwe natuurlik iets dóén –

iets tot stand bring.

Jesus se sterwe is nie ‘n herder wat doodgaan,

skape nou alleen.

(Sien Joernaalblad).

 

Jesus sterwe verander die skape se status.

Dit gee vir hulle lewe –

deur vooruit deur die hek na die altaar te gaan geoffer te word,

bevry skape van selfde altaar,

word skape ontvangers van offer.

 

MAAR sterwe doen ook iets aan die bose aanvallers –

hulle word geneutraliseer,

vernietig.

 

Jesus se doodmaak die bose dood

en verseker die lewe van sy skape.

 

Dit is die een daad van die herder

wat die huurlinge en diewe

heeltemal ontmagtig,

neutraliseer.

 

Dan sê Jesus:

v 14:

Ek is die goeie herder,

Ek ken my skape.

 

Elke nood

elke pyn

elke vrees

elke vreugde

van sy skape –

hy ken hulle.

 

Hierdie ken is nie maar net

kennisneem

of koue rasionele weet nie.

“Ken” onbeskryflik intiem,

soos wat verhouding tussen God en Seun is.

 

Hierdie “ken” wil dat ons intiem met hom saamleef,

hom ken,

in gemeenskap met hom leef.

 

Gevolg hiervan,

gevolg van Jesus herderskap,

is dat ons lewe in oorvloed kan hê (v10).

 

Oorvloed hier ter sprake

natuurlik nie materiële oorvloed,

maar oorvloed van verhouding Herder,

oorvloed van lewe ontvang deur sy sterwe,

van leef in intieme verhouding met hom.

Wanneer Jesus self as goeie herder aan volgelinge bekend stel,

lewe in oorvloed gee,

beteken dit dat hy ‘n nuwe gemeenskap tot stand bring.

 

Sy volgelinge staan voortaan in nuwe verhouding met hom

as hulle leier.

 

Dit wat hulle by Jesus leer,

sáám met hom beleef,

van om ontvang,

by hom sien gebeur,

bring hulle nader aan hom.

 

En in die proses vorm Jesus hierdie nuwe gemeenskap.

Sy diensbaarheid

en versorging

en omgee

vloei oor na meer en meer mense.

 

Wanneer ons verhouding met die Goeie Herder

onderliggend

en bepalend is

vir al die ander verhoudings in ons lewe,

kan ons nie anders

as om in ‘n stukkende wêreld

vir mekaar

en ons medemens

om te gee

en om medeverantwoordelikheid te aanvaar nie!

 

Dan kan ons nie anders

as om inklusiewe gemeenskap te wees

wat met waardes van herder leef –

mense innooi,

t.s.v. sondes,

omgee,

versorg,

dien.

 

Daarom so belangrik kennis neem werk bedieningsraad doen –

omdat hulle ons juis hierin lei,

in konkrete gestalte gee

aan hierdie gemeenskap Jesus kom skep.

(Kyk almanak).

 

Hier in Paastyd

word ons weer bewus gemaak van –

en uitgedaag tot! –

‘n ander soort leierskap

en ‘n ander soort oorvloed:

leiers wie se oorvloed nie gekenmerk word deur

grypsug

en selfgerigtheid nie,

maar deur oorvloed

wat juis uitmond

in ‘n leegmaak van jouself

ter wille van ander,

‘n oorvloed wat bestaan uit

omgee

en diensbaarheid.

 

My gebed

is dat ons gemeente

‘n gemeenskap sal wees

gekenmerk deur die Goeie Herder se leierskap.

En dat elkeen van ons

hierdie waardes sal uitleef,

dat ons almal met wie ons te doen het,

sal dien –

onselfsugtig,

sonder om vir onsself eer of mag of finansiële gewin in te palm,

maar omdat ons omgee,

omdat ons skape is van die Goeie Herder.

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Gebed

Gebed vir verkiesing – Martin Oosthuizen

Lied 282:1, 4, 6     (sit)

Kerkraadsvoorstelling

Gebed: Lied 304:2-3

Afkondigings

Dankoffer

Slotlied

Lied 577:1, 2, 5                          (staan)

Seën

Liturg:           Die Here sal julle seën

en julle beskerm.

Gemeente:     U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly;

Liturg:           Die Here sal tot julle redding verskyn

en julle genadig wees;

Gemeente:     en ek sal tuis wees in die huis van die Here

tot in lengte van dae.

Liturg:           die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

Gemeente:     Lied 313

Johannes 6 – Erediens: Ek is die brood wat lewe gee – 8 Mei 2011

Skriflesing

Die verhaal van die broodvermeerdering vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).

Die verhaallyn in hoofstuk 6 is as volg –1) Jesus vermeerder brood, 2) loop op die see, 3) verduidelik dat Hy die brood is wat lewe gee, en dan is daar verskillende reaksies onder 4) die Jode en 5) ook sy dissipels:

  • 6:1-15: Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig.

o   Interessant die verskillende reaksies van die dissipels:

o    Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, 5 garsbroodjies en 2 vissies, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie.  Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk.

o   Daar bly 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.

o   Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.

  • 6:16-21: Jesus loop op die see wat ’n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels.
  • 6:22-40: Jesus verduidelik dan dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus.  Hulle loop die gevaar om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Jesus is die brood wat lewe gee.
  • 6:41-59: Die Jode verstaan egter nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê.  Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word.  Dit is dié mense wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).
  • 6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie.  ’n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor.  Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees.  Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie.  Die gevolg is dat ’n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas Iskariot.  Geloof is inderdaad ’n geskenk wat God gee!

Dit is wat ons dan nou gaan lees:

60Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

61Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af? 62Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. 64Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.

65Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

66Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. 67Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

68Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. 69En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

70Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ’n duiwel!” 71Hy het Judas die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.

Woordverkondiging

Johannes vertel ons van sewe wondertekens wat Jesus voor sy kruis en opstanding doen.

  • Vier wondertekens het met genesings te make, waarvan een die opwekking van Lasarus uit die dood is.
  • Een wonderteken het met Sy mag oor die natuur te make, waar Jesus op die water loop.
  • En twee wondertekens het met alledaagse goed te make: water en brood.

o   In die eerste geval verander Jesus water in wyn toe sy familie en dissipels die begroting van die bruidegom onder druk plaas, en sy wyn opraak toe daar te veel mense saam met Jesus daar opdaag, en red die huweliksonthaal.

o   In die tweede geval vermeerder Jesus die 5 broodjies en 2 vissies (wat amper soos anchovies op toast gebruik is) om die groot skare van 5 000 plus te voed wat na Hom kom luister het (terloops die enigste wonder wat in al vier evangelies voorkom wat die belangrikheid daarvan onderstreep).

Jesus gee om vir ons worsteling met die gewone krisisse van elke dag

Daarmee illustreer Jesus dat Hy omgee vir ons worsteling met die gewone krisisse van elke dag.

  • Hy staan in vir sy groot gevolg wat dreig om die bruidegom te beskaam dat hy nie genoeg voorsiening gemaak het nie.
  • En Hy staan in vir die mense wat nie padkos geneem het om na Hom te kom luister nie.
  • En Hy doen dit in oorvloed:

o   800 bottels wyn vir ’n troue,

o   en ’n magtige hoop brood en vis vir ’n skare van meer as 5 000, soveel so dat daar 12 mandjies garsbrood oorbly, een vir elke dissipel!

En as Jesus dit vir ’n skare gedoen het wat na Hom kom luister het een maak lank gelede, hoeveel te meer sal Hy dit nie ook vir ons doen, wat sy kinders is, en wat vandag in afhanklikheid van Hom lewe nie?

Jesus is die groot Profeet

Hy illustreer ook dat Hy die groot Profeet is, dié een waarvan Moses gepraat het.  Geen wonder dat Johannes ’n direkte verband na die wonder van die manna in die woestyn trek nie.  Want  Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4) en die kwartels (Eks 16:13).

En dit bewys nog ’n keer sy goddelikheid, sodat selfs die skare die verband kan trek, en kan erken dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14).

Jesus is nie maar net ’n gewone mens, ’n groot leraar, ’n groot man nie.  Hy is God, wat dit is net God wat sulke dinge kan doen.

Jesus is die Brood wat lewe gee

Hy illustreer ook hiermee dat Hy self die wyn en brood gaan word wat ons geestelik voed.  En dit doen Hy op twee maniere.

Aan die een kant verwys Jesus hier na wat aan die kruis gaan gebeur, veral in die gesprek met die Joodse leiers.  Hy praat hier daarvan dat Hy letterlik sy liggaam en sy bloed sal gee om in ons plek aan die kruis te sterf.  En elke keer wat ons bv. die nagmaal gebruik, en ons die wyn en brood drink en eet, versterk dit ons geloof dat Hy ons geestelik verlos het.

Maar Jesus verwys ook na die geestelike voeding wat Hy ons gee.  Sy woorde is die wyse waarop Hy ons geestelik voed.  Soos wat ons dit inneem en dit oordink en dit deel van ons binnewêreld en ons leefwêreld word, so voed Hy ons en verander Hy ons om al hoe meer soos Hy te word.  Jesus is inderdaad die brood wat lewe gee.

Dit is waar van al die “Ek-is”-uitsprake van Jesus oor Homself.  Hy het 8 uitsprake oor Homself waarin Hy sy Goddelikheid bevestig en wys wat Hy vir ons beteken.  Hy gee ons insig in die lewe – Hy is die lig vir die wêreld (Joh 8:12). Hy beskerm ons – Hy is die Goeie Here (Joh 10).  Hy begelei ons – Hy is die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14).  En ons lewe kom van Hom af – Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6).

Jesus nooi ons uit om in Hom te glo

Die wonderwerke is vir Johannes tekens van God se werk wat in Jesus sigbaar raak.  En dit vra van ons ’n keuse – om te glo, nie net in die wondertekens as sodanig, soos wat ons sien in die wondergeloof van die skares nie, maar in die wonderdoener, Jesus .

  • Dit is duidelik uit die gedeelte dat die meeste van die Jode, veral die skrifgeleerdes en Fariseërs Jesus se woorde nie verstaan het nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê.  Hulle volhard in hulle ongeloof – 6:41-59.
  • Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
  • Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.

Maar vir dié wat die in geloof reageer – soos die geval was by die meeste van die dissipels, die regeringsamptenaar (Joh 4), die blinde man (Joh 9), Maria en Marta en Lasarus (Joh 11) en later darem ook van sy familie spesifiek sy broer Jakobus – vir diegene raak God ’n werklikheid, kom hulle in Sy teenwoordigheid, kry hulle die ewige lewe.  Want Jesus is die brood wat lewe gee.

God roep ons vandag dus op om die Gees se roering in ons te gehoorsaam.  Hetsy om Hom te vertrou vir die gewone goed in jou lewe, of net om die keuse te maak om jou hele lewe om Hom te laat sentreer.

Psalm 16 – Erediens – 1 Mei 2011

Verwelkoming

Toetrede Lied 159:1-2 (staan)

Votum
Seëngroet

Lied 417 (staan)
Ps. 16 Krog (sit)

Gebed
Skriflesing

Psalm 16

Preek
Pinkster – Sakkie en Sieg –
toe hulle gesels oor vanoggend teks,
volgende gebeur:

VIDEO- Sakkie-naby

Sakkie – soms soek goed of Iemand,
terwyl eintlik heeltyd by hulle!

Dink ons almal begeer God te sien –
minstens versekering hê God in ons lewens is.
Voel soos Moses,
sê: “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eks 33:18).

Wil in God teenwoordigheid leef –
hoekom kerk toe –
hoop God sien.

Psalm praat van alles mens beleef naby God:
• veilig
• lei in regte rigting
• nie struikel
• blydskap
• God sorg.

Is goed naby God te wees.

Probleem eerste Opstandingsondag –
nie geweet waar God is!

Soos boeke kinders –
Where’s Wally –
soek,
kan nie kry.

Dink soms selfde van Here –
maar moet weer en weer kyk,
mooi soek,
ontdek: Jesus oral,
naby jou, soos Sakkie vir Sieg wys.

Toe ek kind: Arrive Alive:
Kyk, dink, bly leef

Teks vanoggend – God teenwoordigheid –
Kyk, dink, bly leef.

Soos wanneer Wally soek,
KYK – weet is daar.

God is teenwoordig.
Psalm:
Here,
U is my lewe,
U sorg vir my.
Wat ek ontvang,
kom alles van U af.
‘n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het,
is vir my mooi.
Wat interessant hierdie Psalm –
en stelling wat ontvang, mooi –
is omstandighede waarin Dawid sê.
Besig Saul en ander konings te vlug –
lewe in gevaar.
Geen land.
Bedreig.

Tog: mooiste deel ontvang: God.
Toe alles verloor, niks anders gehad,
steeds God teenwoordigheid gehad.

God is teenw.!
Jong man Duitse ds. gesê:
Ek gee u 100 euro as u vir my kan sê waar God is.
Predikant: Ek gee jou 200 euro jy my kan sê waar God NIE is.
Jong man stil-til omgedraai, weggestap.

Dit Dawid aan lyf ervaar het-
Daar is geen plek waar God ie is nie!

Luther:
God is nader aan jou as jou hemp!
Hy is nog nader – hy is in jou.
KYK –
God is by jou.
Dis realiteit Psalm bevestig.

Tweedens: Dink.

v 7
Selfs in die nag bly ek bewus van wat hy my leer –
as wakker lê, nie skape tel,
dink aan Skaapwagter.

v8:
Ek het die Here altyd by my.
Letterlik:
Ek STEL die Here gedurig voor my.

God IS teenwoordig.
Om dit te sien,
vra geloofsdaad –
keuse gedagtes te rig op God.

Beteken natuurlik gedagtes rig op Woord –
v7 – bewus van wat God my leer –
want God openbaar homself deur Woord.
Deur besig wees Woord,
word oë ingestel,
God kan raaksien,
tussen alle ander goed deur.

Deurslaggewend
Petrus hierdie teks aanhaal sy Pinksterpreek (Hand 2).
Want tydens Paasfees,
veral opstanding Christus wat voor oë moet stel,
wat help God teenwoordigheid sien.

Natuurlik makliker gesê as gedaan.

Ons maklik kruis voor oë stel –
maar vergeet belangrikheid kruis leeg.

Ongelukkig opstanding baie van ons vae saak.
Maar juis opstanding ding wat ons oortuiging gee God teenw. lewe.

Wanneer nie leef oortuiging opstanding,
dan wat verval moralisering.
Al wat dan oorbly, is wet –
godsdiens bestaan moets en moenies.

Maar wanneer leef oortuiging opstanding,
dan leef oortuiging God teenwoordigheid.

En dan kan ons bly leef.
v11:
U leer my hoe om te lewe.
By u is daar oorvloedige blydskap.
Uit U hand kom net wat mooi is.

Hoor hoe anders as modalistiese lewe gefokus op wet?

Lewe gefokus God teenwoordigheid,
is lewe waarvan God lewenskoers bepaal.

Omdat Christus opgestaan het uit dood,
leef ons in werklike verhouding met hom
het elkeen van ons twee-rigting kommunikasie God.
In hierdie kommunikasie word weg van lewe aan ons bekend.

Here leer ons hoe om te lewe.
Hy weet hoe,
want Hy is skepper van lewe.

Daarom leef Christene anders,
want is vrygemaak
van lewe se laste.
Jesus dra dit vir ons –
daarom leef ons met blydskap.

Leef ons vry,
juigende,
borrelende lewe,
wat alles te make het
met nimmereindigende teenwoordigheid van God.

Kyk, dink en bly leef.

Gebed
Dankoffer

Lied 421:1-2 (staan)

Seën
Die Here is ons lewe.
Hy sorg vir ons.
Wat ons ontvang,
kom alles van hom af.

Jy het die Here altyd by jou:
omdat Hy by jou is,
sal jy nie struikel nie.
Wees daarom bly
en juig
By God is daar oorvloedige blydskap.
Uit sy hand kom net wat mooi is.
Lied 228

Kolossense 3:1-17 – Erediens: Paassondag – 24 April 2011

Liturgie

Lofsang

409:1,2 Hoor jy die Paasfeesklokke?

420:1,2 Daar klink ’n lied, daar juig ’n stem

421:1,2 Die Here Jesus lewe

Doop

Liam van Eyk (Jacques en Tracey)

288:1,3 Ons dan U, Heer, en bring U eer

Kolossense 3:1-17

Ek het aanvanklik gedink om net by die leesrooster teks vir vandag te bly – Kolossense 3:1-4 – maar in my voorbereiding net besef dat vers 5-17, en eintlik die hele res van die brief, so ’n integrale uitspel is van die beginsels wat in vers 1-4 aangeraak word, dat ’n mens nie net die vier verse kan lees nie.  Daarom gaan ek vers 16-17 ook lees, omdat dit die praktiese uitlewing van verse 1-4 uitspel.  Vers 12-15 is net so belangrik, maar dit het meer met ons onderlinge geloofsgemeenskap te make, wat ek op ’n ander dag weer sal beklemtoon.

1 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2 Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3 want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel …

16 Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17 En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Woordverkondiging

Dit is ongelooflik hoe een enkel gebeurtenis die wêreld kan verander.

1994 was ’n jaar van 2 sulke gebeurtenisse:

  • Dit was die jaar van die eerste volle demokratiese verkiesing wat in Suid-Afrika gehou is, wat die wyse waarop mense in hierdie land met mekaar saamleef, vir altyd verander het.  Baie sal sê dit was goed, sommige sal sê dit was sleg, maar niemand sal kan sê, dit het nie dinge verander nie.
  • En dit is die jaar wat selfone ons land getref het, en vir altyd die wyse waarop mense met mekaar kommunikeer verander het.  Die eerste voorspellings was natuurlik dat daar na 10 jaar net 250 000 gebruikers sou wees.  In die eerste maand, Julie, het Vodacom reeds 50 000 gebruikers gehad, en teen die einde van daardie jaar, 140 000.  En dan tel ’n mens nie eers MTN se gebruikers nie.  Vandag is daar omtrent ’n selfoon vir elke inwoner van Suid-Afrika, meer as 45 miljoen!

’n Enkel gebeurtenis kan ’n land en ’n wêreld verander!

Christus is opgewek uit die dood

So ’n gebeurtenis is ook die opstanding van Jesus Christus uit die dood.  Op Paassondag amper 2000 jaar gelede is Jesus Christus opgewek uit die dood (ongeveer 27 vC van ons jaartelling).  En dit het ons lewe totaal verander.  Nie net die lewe van 45 miljoen mense nie, maar inderdaad biljoene, selfs nie net dié wat vandag lewe nie, maar dié wat voor Hom gelewe het, en dié wat nog kom.  Voorwaar ’n verandering wat die wêreld verander het.

Die opstanding van Christus was `n eiesoortige historiese daad van God, iets wat totaal buite ons toedoen om gebeur het. Hoe dit presies gebeur het, is deels ’n misterie – daar was niemand wat Jesus se opstanding as sodanig gesien het nie – en deels ’n historiese verifieerbare feit – daar was honderde wat die leë graf gesien het, meer nog, wat Hóm gesien het en in Hom dieselfde persoon herken het as wat hulle aan die kruis vasgespyker gesien het.

  • Maar die gebeurtenis het nie net ’n verskil gemaak aan hoe ons met mekaar saamleef nie – hoewel dit ’n belangrike invloed daarop het.
  • Dit het nie net ’n verskil gemaak aan hoe ons met mekaar kommunikeer nie – hoewel dit verseker ook ’n groot impak het daarop.
  • Dit het ’n verskil gemaak aan hoe ons met God saamleef en met Hom kommunikeer. Dit het ons verhouding met Hom verander, vir altyd.

Dit is die blye boodskap van hierdie Paassondag.  Jesus het opgestaan. Die dood is oorwin. Maran-ata!

Meer nog, Hy het ook opgevaar na die hemel, en sit aan die regterhand van God die Vader, soos Paulus hier sê, en belowe dat Hy weer sal kom.

En as waarborg daarvan het Hy ons sy Gees gegee wat volgens Paulus drie geloofsfeite lewend in ons hou.

Geloofsfeit EEN: Ons is saam met Christus uit die dood opgewek

Die wonder van Paulus se boodskap, is dat hy hierdie feit ook op ons, wat in Christus glo, en aan Hom verbind is, van toepassing maak.  Soos in sy brief aan die Romeine, sê Paulus, ons is saam met Christus uit die dood opgewek.  Wat van Christus waar is, is ook van ons waar.  Ons hoef nie daaraan te werk om hopelik eendag uit die dood op te staan nie.  Al leef ons hier nog duskant die dood: in Christus het ons reeds deel gekry aan die opstanding uit die dood.

Dit beteken dat die ou lewe, die sondige lewe, nie meer ’n houvas op ons het nie.  Ons is dood – in Christus – vir hierdie wêreld.  Die ou raamwerke het hulle greep op ons verloor.  Ons is dood daarvoor.  Die doodsbestaan het nie langer mag oor ons nie.

Geloofsfeit TWEE: Ons lewe is saam met Christus verborge in God

Nog meer as dit: ons lewe is nou saam met Christus verborge in God.

Dit is vir my ’n ongelooflik gedagte.  Omdat Christus nou aan die regterhand van God sit, hou Hy ons lewe daar in veilige bewaring.  Ons is nie net deur Hom verteenwoordig by God nie.  In ’n baie spesifieke sin is ons self teenwoordig by God – in Christus.

Wat beteken, ons het hier en nou reeds die ewige lewe – om God te ken, is immers die ewige lewe soos Jesus ons in Johannes 17 geleer het – EN ons lewe is vir ewig veilig in die hemelse bank, daar waar Christus dit weggebêre het en dit met sy lewe bewaar.  Ons lewe, nou en vir ewig,  is dus weggebêre saam met Christus by God. Daarom is ons lewe in Christus onwankelbaar, vas en seker, geborge.

Dit is ’n ongelooflike troos, vir onsself, en vir ons geliefdes.

Maar die beste is:

Geloofsfeit DRIE: Christus sal in heerlikheid by sy wederkoms verskyn, en ons saam met Hom

Wanneer Christus, wat ons lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal ons ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.  Ons geloof in Hom sal eendag bevestig word. Ons sal saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid, oorwinning, heerskappy en koningskap deel, as ons erfenis saam met Hom. Dit is ons hoop.

Hierdie drie lewensveranderende geloofsfeite gee vir ons ’n nuwe raamwerk waarbinne ons oor ons lewens kan dink.  Dit is nie ’n mog ‘t troffe, hoop-vir-die-beste, poginkie tot geloofsoptimisme nie.  Christus het dit vir ons, in ons en aan ons gedoen.  Hy het ons lewe onherroeplik verander.

Dit het die oriëntasiepunt vir ons lewe geword.

Strewe na die dinge daarbo

Dit is waarom Paulus die gemeente van Kolosse oproep om te strewe na die dinge daarbo waar Christus is, en hulle gedagtes te rig op die dinge daarbo waar Christus is.

Sien, die opstanding is iets wat God vir ons gedoen het.  Dit het buite ons beheer gebeur.  Ons kon dit nie self bewerk nie. God het dit vir ons gedoen.

Maar daar is ook iets wat ons moet doen. Ons moet in ons strewe en in ons gedagtes die opgestane Christus ons oriëntasiepunt maak.

Dit beteken nie wêreldvermyding nie

“Daarbo”, die dinge “daarbo waar Christus is” moenie in ’n ruimtelike sin verstaan word nie.  Paulus sê nie ons moet onsself los dink van die wêreld en wegvlug na ’n geestelike wêreld nie.  Hy bedoel nie ons moet hierdie wêreld vermy nie.

Christus se storie moet my storie raak

“Daarbo” wil sê ons moet ons lewens laat rig en laat beheer deur die dinge wat Christus ons geleer het.  Christus se storie is my storie. Ék het gesterwe saam met Christus, en is opgewek saam met Christus.  Mý lewe is in Christus veilig weggebêre by God.  Ék sal in Christus se heerlikheid deel …  en hoe dit vir my ’n lewende werklikheid bly, is as ék leef vanuit ’n fokus op Christus.

Dit is wat die beteken om te strewe na die dinge daarbo waar Christus is.

Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly

Ons kan nie verwag dat ons sal groei in ons geloof en dat ons die vrugte daarvan sal sien as ons geen tyd aan die verhouding met God spandeer nie en dink dat dit maar vanself moet gebeur nie.  Dit is immers hierdie verhouding wat so ingrypend deur die opstanding van Christus, en ons met Hom, verander is.  Dit is waaraan die opstanding ’n verskil gemaak het, die wyse waarop ons verhouding met God werk.

Paulus herinner ons hier daaraan dat `n mens kwalik kan groei in jou geloof of kan hoop om vrug te dra as jy nie aandag gee aan die dinge waarop jy jou gedagtes rig nie, dit wat jou gedagtes besig hou nie.  “Jy kan nie hoop om `n betekenisvolle verhouding met Christus te hê as jou hart en gedagtes ongedissiplineerd hardloop waar hulle wil en flirteer met enige inhoud of objek wat verby kom nie.” (Coenie Burger)

En die beste manier om dit ’n lewenstyl te maak, is deur praktiese geestelike gewoontes, dinge wat kan sorg dat “die boodskap van Christus in sy volle rykdom in julle bly”, soos Paulus dit ’n paar verse verder in vers 16-17 uitspel (vers 12-15 is net so belangrik, maar dit het meer met die onderlinge gemeenskap as sodanig te make, dinge soos meelewendheid en geduld).

Nou, dit is nie vandag die tyd of die plek om in te veel detail op die praktyk van sulke geestelike gewoontes uit te brei nie, maar luister net na die vier dinge wat Paulus sê die fokus op die boodskap van Christus prakties insluit:

  1. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid – dit is iets wat veral in die geestelike gewoonte van Bybelstudie wat ons in kleingroepe saam met mekaar doen, gebeur. Dit is die basis van ’n groeiende Christelike lewenstyl, ’n lewe wat gerig is op die dinge daarbo.  Geen groeiende Christen kan sonder só ’n groep wees nie.
  2. Sing tot eer van God – om psalms, en lofgesange en ander geestelike liedere te sing, en baie tyd daaraan af te staan, soos ons self doen in ons normale liturgie in ons eredienste en ook toenemend doen in die lof- en aanbiddingsessies van ons jongmense, is ’n ander geestelike gewoonte wat ons lewens fokus op Christus en die dinge daarbo.  Dit is moeilik om iemand te ignoreer tot Wie jy saam met ander lof- en aanbiddingsliedere sing.
  3. Sê en doen alles vir Christus – Paulus beskryf hier iets wat miskien die beste met Practicing the Presence of God, die bekende geestelike gewoonte van broer Lawrence, beoefen kan word – alles wat jy sê en doen bewustelik vir God te doen.  Hieruit het ander geestelike gewoontes gespruit, die daaglikse ondersoek, bv., waarin ’n mens elke dag nadink oor waar jy God ervaar het, wat ons lewens gefokus hou op Christus.  Dit moet eintlik ons lewensreël word, dié ding wat ons bo alles doen.
  4. Gebed – Paulus gebruik spesifiek die frase: “dank God die Vader deur Hom” om dit aan die vorige opdrag te koppel, wat ek met die geestelike gewoontes van die Practicing the Presence of God en die daaglikse ondersoek beskryf het.  Want dít is die punt van die daaglikse ondersoek, om die spore van God in jou lewe agter te kom en só jou gedagtes op Hom te fokus en Hom te dank vir wat Hy in jou lewe doen.  Dit is baie keer ook die begin van ’n publieke getuienis, nog ’n geestelike gewoonte, want waarvan die hart vol is, loop die mond van oor.

En hier moet ek myself stop, al het ek nog net begin om die eerste rimpelings te beskrywe van wat die impak van geestelike gewoontes op ’n mens se geestelike lewe kan wees.

Christus se storie moet jou storie raak.  Jy doen dit deur te strewe na die dinge daarbo, in die praktyk van jou lewe, en dit begin vandag, nie môre nie.

Ons lewe is saam met Christus verborge in God

Ek wil terugkeer na geloofsfeit drie en daarmee afsluit.  Dit is ’n wonderlike troosgedagte dat “ons lewe saam met Christus verborge is in God”.

Dit gee ons die diep troos dat ons Christus en al sy beloftes gerus kan vertrou en maar kan waag om Hom te gehoorsaam – al voel dit soms of ons ons lewens op die spel plaas en dit sou kon verloor!  Dit sal nie gebeur nie, want niemand kan buite God se wil om iets aan sy kinders doen nie.  Sekerlik kan ander nie ons lewens, die lewe, van ons wegneem nie. Want ons lewens is saam met Christus verborge in God!

Slotlied

414:1-2 Juig verlostes, juig en sing

Seën

228 Halleluja

Jesaja 52:13-53:12 – Erediens: Goeie Vrydag

Aanbidding

387:1-4 O Heer, uit bloed en wonde

391:1,3,5 Vervul, o Heer, my hart

395:1-3 My  Verlosser aan die kruis

Jesaja 52:13-53:12

Woordverkondiging

Fynbos groei in ’n strook van 100 tot 200 km wyd, al teen die kus af vanaf Clanwilliam aan die Weskus tot hier by Port Elizabeth.  Dit is deel van die sogenaamde Kaapse Blommeryk.

Van die ses blommeryke wat oor die wêreld voorkom, is die Kaapse Blommeryk die kleinste, maar beskik oor die grootste variëteit per oppervlakeenheid.  Meer as 9,000 plantspesies kom hier voor, waarvan ongeveer 6,200 spesies uniek aan dié area is.  Dit kom regtig nêrens anders ter wêreld voor nie.

Die term fynbos is ontleen aan die fyn, naaldagtige blaartjies van baie van die plantspesies in dié gebied, bv. die Proteas en die Erikas.

Vuur in die vorm van veldbrande vorm ’n noodsaaklike fase in die lewensiklus van byna alle fynbos.  Baie van die saad ontkiem slegs na die intense hitte van ’n veldbrand.  Spesifiek met hierdie doel in gedagte dra Proteas hul sade aan die plant vir minstens ’n jaar.  Ander fynbos dra hul sade in ’n vorm wat aantreklik vir miere is, sodat die miere die saadjies in hul hope stoor, waar dit beskerm is teen die hitte van die veldbrand.  Dit PowerPoint het juis ‘n foto van só ‘n brand teen die hange van Duiwelspiek in 2008 (Kaapstad).

Die smeltkroes van vuur is verantwoordelik vir die ryk plantelewe in Kaapse fynbos.  Wanneer vuur die veld swart en verwoes agterlaat, lyk dit asof verwoesting aan die wenkant is.  Die swart geskroeide aarde dek egter die tafel vir die wonderbaarlike skoonheid van die fynbosveld.

Uit die pyn en verwoesting van vuur, word skoonheid gebore.  Verbasend, maar waar.

Verrassende skoonheid

Jesaja 53:2 laat ons in geen twyfel oor die voorkoms van die dienaar van die Here nie:

Die dienaar was soos ’n loot wat voor die Here uitspruit, soos ’n plant wat wortel skiet in droë grond.  Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

Die dienaar van die Here was – om presies te wees – misvormd, sodat hy nie langer soos ’n mens gelyk het nie (52:14).  Hy het nie skoonheid of prag gehad nie (53:2).  Hy was verag en deur mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie mense die gesig wegdraai.  Hy was verag, ons het hom nie gereken nie ((53:3)

Tóg het daar uit die veragte dienaar genesing en herstel gekom.  Uit die smeltkroes van die dienaar se lyding, het daar verrassende skoonheid en seën vir ons gekom!

Verwerp en verstoot

Die hele Israel het ’n Messias verwag.  Regdeur Jesus se bediening was daar mense wat Hom as die Messias bely het.  Tog was dit vir almal ondenkbaar dat die Messias moes ly en sterf.  Vir ’n lydende Messias was daar onder die gelowiges van Jesus se tyd nie ruimte nie.  Daarom lees ons dat Jesus deur Petrus bestraf word wanneer Hy sy lyding en dood aankondig (vergelyk bv. Matt 16:31-33).

Hierdie ontsteltenis en verbasing  word reeds deur die lied in Jesaja 52 en 53 verwoord.  Baie mense sou ontsteld wees oor die lyding wat die dienaar van die Here misvorm.  Baie mense sou verbaas wees, want die dienaar is ’n lydende dienaar.  Die hoop en lewe wat die dienaar bring, sê Jesaja, word uit lyding gebore (52:14-15).  Die dienaar dra die verlossing wat die Here gee, maar mense sal dit nie herken nie.  Die voorkoms van die dienaar, sy smart en lyding, sal hulle mislei.

Hierdie woorde pas presies op die verwerping wat Jesus van Nasaret moes deurleef.   Mense hét Hom só hanteer.

En laat ons nie te gou met veroordeling vir hulle stiksienigheid kom nie.  Ons sou waarskynlik Hom ook só hanteer as ons daar was.  Verloën het soos ’n Petrus.  Weggehardloop het soos die dissipels.  Die hand wat die spykers ingeslaan het, sou ons hand kon wees.  Ons het die kapasiteit om Hom te verraai of te verloën.  Ons sou waarskynlik ook ons koppe wegdraai.  Behalwe vir ’n paar vroue by die kruis, en waarskynlik ’n Johannes, was Hy alleen in sy doodsworsteling.

In ons plek

Hoekom doen Jesus dit?  Jesaja sê, omdat Hy óns sonde op Hom geneem het (53:4-5):

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra … Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom…

Óns het gedwaal soos skape … en Hy is in ons plek mishandel.
Ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom (53:6).

In ’n stygende crescendo word beskryf hoedat die Dienaar van die Here ons sonde op Hom geneem het.  Dit vervul ’n mens met verstomming.  En met dankbaarheid en verwondering.

’n Verrassing uit die smeltkroes

Wanneer ’n verwoestende veldbrand die aarde swart geskroei het, word mens verras deur die eerste tekens van nuwe lewe.

Net so bring die straf en verwoesting van die Dienaar nuwe lewe voort vir diegene wat op Hom ingeplant word.

Die verwondering dat daar deur die lyding van Een genesing vir baie kom, is ’n stygende lyn wat in ons teks oorgaan in nóg ’n magtige crescendo:

  • Deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom (5);
  • Hy gee sy lewe en skuldoffer en verkry so ’n nageslag en ’n lang lewe (10)
  • Hy maak baie mense regverdig (11)
  • Hy gee hom in die dood oor en vier daarom die oorwinning saam met magtiges (12)

Uit die dood kom nuwe lewe.

Goeie Vrydag bring ons voor hierdie wonderlike misterie te staan.  Wie kan die weë van die Here deurgrond dat ons rasioneel kan uitspel hoe die versoening wat die Dienaar verkry, werk?  Ons kan nie.  Maar die versoening is ’n saak vir geloof.  Deur sy dood kom daar vir ons lewe.  Die smeltkroes waardeur Hy moes gaan, is ons bron van lewe.

Lof en aanbidding

Die styl waarin die Dienaar ly, is verstommend.  Soos ’n lam ter slagting en ’n skaap wat geskeer word, het Hy nie gekla nie.  Terwyl Hy mishandel is, het Hy geduldig gebly en nie gekla nie (7).

Vir die Nuwe Testament is hierdie vrywillige, liefdevolle selfoorgawe van die Lam ’n bron van lof en aanbidding.  Uit eie keuse en gedryf deur liefde neem die Lam ons sonde op Hom, soos Johannes in Openbaring skryf:

Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en die rykdom, die wysheid en die sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer,  die heerlikheid en die krag,  tot in alle ewigheid. (Open. 5)

Goeie Vrydag staan in die somber teken van die dood van die Here Jesus aan die kruis.  Ons is stil voor die Here, want dit is ons sonde wat sy dood gekos het.  Hy is verwerp vanweë ons oortredinge.

Tog is dit ook ’n dag waarop ons in Christus kan roem, die Een wat as dienaar van die Here vrywillig in ons plek, en vir ons, gesterf het.

Ons bring ook dank aan die Vader wat sy Seun ter wille van ons oorgegee het.  Presies hoe die logika van die versoening werk, is nie duidelik nie.  Ons versoening in Christus is ’n plan wat nie in ‘n menslike hart opgekom het nie.  Tog is dit die wil van die Here God om ons sonde op die Here Jesus te laat neerkom.  God die Vader se regverdige oordeel kom op Christus neer, en so kom daar versoening vir ons sonde.

Die vuur van lyding wat Christus tref, bring vir ons wonderbaarlike insluiting in die pragtige koninkryk van God.

Daarvoor loof ons Vader, Seun en Heilige Gees.

Met die oog op die ereplek

Christus se lyding as dienaar van die Here loop uit op heerlikheid (53:12):

Daarom gee Ek hom ’n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.

Die Nuwe Testament sluit by hierdie tema aan:

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. (Fil 2:8-11)

Christus kon ly, omdat die heerlikheid wat die Vader gee Hom gedra het.

Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God (Hebreërs 12:2).

Ons eie lyding

Die volk van God, die Here se kerk, is ook ’n dienaar van die Here.  Ons loop vandag ook langs paaie van gehoorsaamheid wat vir ons lyding inhou.

Soms bring ons hierdie lyding oor onsself vanweë ons eie sonde, soos Israel destyds.  Dan verdra ons die lyding as die opvoeding van die Here.  Soms ly ons vanweë gehoorsaamheid aan die Here.  Daardie lyding geskied onder die belofte van God se seën en oorwinning.

Laat ons in alles die geduldige en gewillige lyding van Christus voor oë hou. Soos Hebreërs 12:3 sê:

Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie (Hebreërs 12:3).

Ons hoop is die misterie van die vuur wat geboorte gee aan wonderbaarlike lewe.

Nagmaal

303 Eet die brood

Alternatiewe Nagmaal Formulier

(Verwerk deur Marius Lourens, gebaseer op hoofstuk 10 (p113 vv) van Piet Naudé se boek “Brug na môre”, 1994: Lux Verbi, Kaapstad.)

God het geweet dat dit vir ons as mense uiters moeilik is om entoesiasties te bly in die geloof. Daarom het Hy vir ons die Nagmaal gegee, en die tekens van die brood en die wyn, om ons te herinner aan die Here Jesus se liggaam wat vir ons gebreek is, en sy bloed wat vir ons gevloei het.  Want God het geweet, as ons siele nie gevoed word nie, en ons as mense nie goed eet en drink nie, dan is dit vir ons moeilik om in ‘n feestelike stemming te bly.  En daarom gee Hy vir ons die brood van die kruis om ons lam knieë sterker te maak, en streel Hy ons kele met die wyn van die kruis, om ons droë kele te lawe sodat ons nie van uitputting omkom nie.

Daarom, wanneer die feesgangers bymekaar is, moet ons die brood neem en die wyn drink en moet ons ons oë rig op die ewige feesmaal, en dan sien ons ‘n onbeskryflike mooi gesig, en tussen die feesgangers staan die Lam van God. Hy het die kruis wat op die heuwel geplant was uit die grond getrek, en Hy neem dit in Sy hand, en dit word die Groot Komponis se dirigeerstok waarmee Hy die maat aandui…  En so begelei die kruis ons van noot tot noot, van maatstreep tot maatstreep, totdat ons lied saamvloei in een magtige akkoord aan die voete van die Lam: SACTUS DOMINUM: Heilig is die Here God.

Slotlied

384 Jesus, o dink aan my

Gemeente verlaat die kerk in stilte, sonder die seëngroet of orrelspel