Skip to main content

Galasiërs 5:1,13-25 – Laat die Gees jou gedrag bepaal – Son 27 Junie 2010

Kom ons lees dit:

5 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.

Die Christelike vryheid

2Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. 3Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. 4Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur. 5Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. 6In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

7Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? 8Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid. 9’n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg. 10Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf.

11Wat my betref, broers, as ek nog verkondig dat ‘n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim. 12Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!

Die Gees van God en ons sondige natuur

13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Woordverkondiging

Min woorde is vandag so gewild soos die woord vryheid.

  • Vryheid was een van die sentrale temas van die kerkhervorming. Een van Martin Luther se bekendste boeke heet “Die vryheid van ‘n Christen.”
  • Vryheid was ook een van die temas wat die moderne era gekenmerk het, onder andere in die vrymaking van slawe in die 19de eeu, en die vryheidsoorloë van Afrika in die 20ste eeu, beide hier in ons land as in die res van die koloniale state van Afrika.
  • Ons het selfs ‘n dorp in ons land met die naam Vryheid . . .

Dit is natuurlik ook ‘n woord wat in die Nuwe Testament belangrik is.  Soos Paulus hier skrywe, is vryheid iets waartoe Christene geroep is … en dit is ‘n ongelooflike kosbare iets, iets waarin ons moet vasstaan, iets wat ons moet beskerm en bewaar.

Hoekom?  Want hierdie gawe van vryheid bevat altyd die element van risiko.  Daar is voortdurend twee staatsgrepe wat ons vryheid bedreig en dit van ons wil wegneem, die staatsgreep van wettisisme en moralisme en die staatsgreep van bandeloosheid of liberalisme.

Die staatsgreep van wettisisme en moralisme

So dikwels word Christene belas met ekstra “voorwaardes” waaraan hulle moet voldoen om vir God aanvaarbaar te wees. By die gemeente van Galate was dit veral die Joodse kulturele en godsdienstige reëls wat vir die nie-Joodse gelowiges voorgehou is as die “voorwaardes” vir die Christelike lewe.  Ons hoor hiervan in Galasiërs 4:

“Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs” (4:9-11).

Johan Cilliers noem wettisisme en moralisme die uitwissing van God en van God se genade.  Wettisisme laai die harde juk op ons dat ons deur ons eie gehoorsaamheid God se genade moet verdien.  Wettisisme verskaf, náás Christus, ander kwalifikasies om deel van die gemeente van God te wees.

Dit kan kleredrag wees, dit kan die viering van die Sabbat op Sondag wees, dit kan kulturele gebruike wees, enigiets wat nie in die sentrum van geloof in Christus staan nie, maar waardeur ander mense ingesluit of uitgesluit word van die hart van ons gemeenskap.

Maar daar is ook ‘n tweede staatsgreep moontlik, die teenoorgestelde van wettisisme, nl bandeloosheid.

Die staatsgreep van bandeloosheid

Bandeloosheid verstaan vryheid só dat ons vry is van alle verantwoordelikheid.  Ons kan doen net wat ons wil.  Vryheid as bandeloosheid is egter ook slawerny.  Dan word ons die slawe van ons sondige begeertes.

Bandeloosheid verwoes mens se lewe omdat dit geen grense van verantwoordelikheid ken nie.  Dit is soos ‘n verwoestende vuur wat brand totdat net as oor is.  Soos Paulus sê:

“19 Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”

Bandeloosheid misbruik vryheid as ‘n verskoning om sonde te doen (5:13).  In plaas van om die ander te dien, verskeur, verslind en gebruik bandelose mense mekaar.  Dit vervreem ons van mekaar.  Dit is die beeld van wilde diere wat nie rus voordat die ander een heeltemal verslind is nie.

Wat is ware vryheid dan?

Ware vryheid

Paulus kwalifiseer vryheid in ons teks op drie maniere:

  • Vryheid is om mekaar in liefde te dien (5:13);
  • Vryheid is om jou steeds deur die Gees van God te laat beheers (5:16), om Hom toe te laat om jou gedrag te bepaal (5:25);
  • Vryheid is om die vrug van die Gees te dra (5:22).

Christelike vryheid is nie vryheid ván alles nie (bandeloosheid), of verslawing aan wette nie, maar vryheid tót liefdesdiens (5:13), tót beheersing deur die Gees (5:16), en tót die dra van die vrug van die Gees (5:22).

Vryheid en verantwoordelikheid gaan hand aan hand.  Vryheid kom tot sy reg in die verbintenis aan mekaar en aan God, in die liefde vir God en mekaar.

1.  Vryheid is om mekaar in liefde te dien

Op ‘n manier sê Paulus dat vryheid en die liefde een ding is, want liefde vind sy betekenis net in die verbintenis aan ‘n ander, aan ons naaste en aan God.  Nog dieper, ons kan slegs lief wees vir ons naaste as ons lief is vir God.  En ons kan net lief wees vir God as ons ons naaste nie vergeet nie.

Daarom dat Paulus op ‘n hele paar plekke, 1 Kor 13 vir een, die liefde as die diepste en hoogste werklikheid beskryf. Dit is wanneer ons in liefde ons verbind aan mekaar en aan die wêreld en aan God dat ons menswees tot sy reg kom, dat ons waarlik vry is, vry van die wettiese reëls van ‘n eng godsdienstigheid en vry van die bandeloosheid wat die moderne kultuur ons heen wil verlei.

2.  Vryheid is om deur die Gees gelei te word

Maar ons kan natuurlik net sulke liefdesdiens verrig wanneer ons ons deur die Gees van God laat lei (5:16).

Paulus teken die Heilige Gees hier as ‘n afrigter wat ons leer hoe om die Here te gehoorsaam.  Dit is die Gees wat ons loswikkel uit die staatsgrepe wat beheer van ons lewe wil oorneem, wat ons wil verkneg aan óf ons sondige begeertes óf aan wettiese reëls wat vir alle praktiese doeleindes God uit die prentjie laat verdwyn.  Die Gees maak ons vry tot diens.

Ons kan dus net vry leef as ons oorgegee is aan die Gees van God, en die Gees toelaat om ons te beheers.  Dit is ‘n doelbewuste keuse.  Vryheid in Christus is ‘n wilsbesluit om ‘n bepaalde gedragslyn te volg.  Dan kan die Gees hierdie patrone in ons lewens inoefen sodat dit ons gedrag, gevoelens en gewoontes toenemend stempel.

Om deur die Gees beheer te word, beteken dat die pad van die Gees bewandel word. Bruce skryf: “‘Walk by the Spirit’ means ‘let your conduct be directed by the Spirit’. The way of the Spirit is the way of freedom; the way of the Spirit is the way of love.” Hierdie liefde word egter nie deur iets uiterliks beheer nie. Niemand kan ons dwing om ons naaste lief te hê nie: “Such love must be generated from within-by the Spirit” (Bruce).

Dws – Laat die Gees jou gedrag bepaal.

En hoe weet ek dat ek die Gees toelaat om my gedrag te bepaal?

3.  Vryheid is om die vrug van die Gees te dra

Ek weet dit deur die vrug wat my lewe dra.  Want vryheid is om die vrug van die Gees te dra.

Wie die Gees navolg, en die Gees toelaat om ons deur die Woord te lei, beleef dat die Gees die karakter van Christus in ons lewens inweef.  Want dit is na alles wat die vrug van die Gees is, dit is die karakter van Christus.  Waar ons die Gees toelaat om ons gedrag te bepaal, kry ons deel aan die Here se liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Geleerdes wys baie keer daarop dat daar drie groepe in die vrug van die Gees is, naamlik: 1) liefde, vreugde, en vrede; 2) geduld, vriendelikheid en goedhartigheid; 3) getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Maar soos Ebeling skryf: “The fruit of the Spirit, however, is one and indivisible. Although it is de­scribed here in three triplets, this harmonious organization is meant to symbolize perfect totality.” Dit is die “spon­taneous product of the presence of the Spirit of Christ within the heart of the Christian” (Cole).

John Stott skryf daarom tereg dat die vrug van die Gees in ons hele lewenstyl gesien word, die ontspanning wat ons beoefen, die manier waarop ons werk, die boeke wat ons lees en die vriende wat ons maak. Dit sal gesien word in die gebruik wat ons maak van die genade, die dissipline wat ons beoefen deur te bid en die Bybel te bestudeer, die gemeenskap wat ons met ander gelowiges beoefen wat ons tot liefde en goeie dade lei, deur die dag van die Here as sy dag te vier, deur gereeld saam te kom as gelowiges en in nagmaal.

4.  Vryheid is ‘n groeiende verhouding met God

Maar dit is nie iets wat op óf ‘n wettiese manier nagevolg kan word  nie óf deur ‘n laat maar gaan bandelose houding nie.  Ek kan nie ‘n deel van die vrug kies vir elke dag en probeer om lief te wees, en dan blydskap na te jaag, en dan geduld nie.  Ek kan nie van die vrug ‘n reël maak om na te volg nie.  Uiteraard kan ek ook nie niks doen nie, want dan sal my eie luste en begeertes my geestelike lewe kaap en my bandeloos laat lewe.

Wat moet ek dan doen?  Ek moet fokus op die Gees, besig wees met God self, deur sy Woord en gebed, sodat Hy my gedrag elke dag kan begin bepaal.  Vers 25 spel dit uit:  “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ons gedrag bepaal”.  In ‘n groeiende verhouding met God, lê die geheim van ‘n lewe wat bepaal word deur die Gees opgesluit.

Dirkie Smit beskryf hierdie verhouding as volg en noem dit die logika van die NT:

“gelowiges is gered, dáárom moet hulle … Geleerdes sê: die indikatief, die genade, dit wat aan ons geskenk word, kom eerste. Dit is die begin. En dit is vas en seker. Maar daarop volg dan die imperatief, die gebod, of opgawe . . . Die evangelie sê nie eers die gebod en dan die genade nie. Die evangelie sê nie doen dit, en dan sal jy gered word nie. Nee, die evangelie sê die omgekeerde: éérs die genade, maar dan óók die gebod. Eers die gawe, maar dan ook die opdrag. Eers die nuwe lewe, maar dan moet dit ook sigbaar word in die alledaagse lewe.”

Ons is vry en verantwoordelik

Dit gebeur natuurlik nie sonder stryd nie.

Dit is so, dat namate ons langer in die Gees “wandel”, in pas met die Gees kom, en ons lewe deur Hom bepaal word, word die sondige natuur meer en meer onderwerp.

Maar, soos John Stott op die voetspoor van Martin Luther sê:

“But the flesh and the Spirit remain, and the conflict between them is fierce and unremitting. Indeed, one may go further and say that this is a specifically Christian conflict. We do not deny that there is such a thing as moral conflict in non-Christian people, but we assert that it is fiercer in Christians because they possess two natures – flesh and Spirit – in irreconcilable antagonism.”

Heel dikwels is gereformeerdes bang vir die woord “keuse”, omdat ons bely dat die korrupte sondaar geen vrye wil het nie. Dit is ook goed om versigtig te wees. Tog is daar ‘n keuse wat Christene kan uitoefen.

Mense wat reeds die Gees ontvang het, moet besluit of hulle die leiding van die Gees gaan aanvaar.

Betz skryf:

“Freedom can only mean what it says if the Christian has a choice; he can allow his existence to become a base of operations for the flesh or for the Spirit. If the Christian allows the flesh to get the upper hand, the loss of his freedom is the immediate result, because this freedom is a gift of the Spirit.”

Ons moet dus kies om in die vryheid vas te staan, nie deur ons toevlug te neem tot ‘n wet nie, en ook nie om bandeloos te lewe nie.  As vry mense, neem ons verantwoordelikheid om oor grense lief te hê, met integriteit te lewe en so anders te wees as die wêreld.

Ons is vry én verantwoordelik.

 

Galasiërs 6:1-17 – Saai op die akker van die Gees – Son 4 Julie 2010

Cast Away

‘n Onlangse Robinson Crusoe-verhaal is die fliek “Cast Away”, met Tom Hanks as die Crusoe.

Op sy verlate eiland is daar net twee dinge wat hom bewaar van kranksinnigheid: die piepklein fototjie van sy verloofde, wat hy op ‘n rots probeer oorteken. En Wilson, die wit sokkerbal, met die gesig wat hy met sy eie bloed daarop geteken het.

Sy verloofde word net ‘n vae herinnering en motivering hoekom hy wil teruggaan na die wêreld. Al geselskap wat oorbly, is Wilson.

Aan die begin pla dit hom en word hy woedend dat Wilson nie terugpraat nie. Later pla dit hom nie meer nie, solank Wilson net daar is, kan hy maar praat.

Soos die storie vorder, en dit duidelik word dat Wilson net maar ‘n voorwerp is, ‘n skepping van ‘n alleen-mens, word die alleen-man (Hanks) al meer soos ‘n dier, verloor hy al meer sy menswees.

Daar is nog net een ding wat hom sy sinne op ‘n manier laat behou: die ander mense, iewers anderkant die horison.

Op ‘n stadium oorweeg hy selfmoord, maar besluit dan daarteen omdat daar nie ander mense sal wees wat van sy dood sal weet nie – en dit daarom sinloos sal wees.

Daar is net een sinvolle ding oor om te doen: hy bou ‘n vlot met die hoop om in die diepsee opgepik te word. Want iewers is daar (weer) lewe… want daar is ander mense!

Met die “morele steun” van Wilson se teenwoordigheid kry hy dit reg. Toe Wilson iewers in die see losraak en wegdryf, is sy smarte groot. Hy is nou man alleen.

En op ‘n manier weer mens, meer mens as die dier wat hy geword het. Want nou het daar net een hoop vir hom voorgelê… ander mense. Medemense.

Die oomblik as mens dink nou is die fliek klaar, nou is alles verby, die Cast Away totaal uitgeput en bewusteloos op die laaste oorblyfsel van sy vlot, dan is daar nuwe lewe, word hy wakker. In die regte wêreld van regte mense! Regtig gered deur regte mense!

Genesis 2

Miskien is dit wat Genesis 2 vir ons wil sê: so is ons regtig gemaak. Met die behoefte aan mense. Medemense. ‘n Gemeenskap.

Natuurlik word dit daar meer van toepassing gemaak op ‘n spesiale medemens. Iemand wat ons regtig kan help.  Iemand wat regtig kan terugpraat. Saam met ons kan dink, kan voel, kan speel, werk, lag, die lewe in God se wêreld kan geniet. Iemand vir wie ons kan liefhê en iemand deur wie ons liefgehê word.

Dit is eintlik die enigste ding wat ons van dierlikheid en kranksinnigheid bewaar. Ons lewe word behou, sinvol, deur mense. Daardie spesiale mens, waarvan ek op die ou end kan sê God het ons vir mekaar gemaak. Dit is wat Genesis 2 vertel…

Galasiërs 6

Maar dit is ook wat Galasiërs 6 vir ons sê van medegelowiges.

God het ons gemaak om by mekaar te pas, om ons menswees so tot sy volle reg te laat kom.

Daarom dat Paulus aan die begin van die hoofstuk sê: “Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (6:2)

Twee emmers water

“Wanneer ek hierdie opdrag hoor,” vertel Chris Jones, “dink ek altyd terug na my kinderdae toe ek ‘n swaar emmer water vir my pa moes aandra.  Ek het skeef-skeef aangesukkel.  Die emmer het kort-kort teen my knie gekap en ek het water gemors.  Ek was ongebalanseerd.  Ek het soms van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.  Al wat regtig gehelp het, was om nog ‘n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra.  Op die manier was jy meer gebalanseerd, het jy makliker geloop en niks water gemors nie.”

‘n Lewe wat by die evangelie pas

Liefdevolle omgee vir die medemens bring balans en perspektief in ‘n mens se lewe.  Dit is die boodskap van die eerste 6 verse van Galasiërs 6.  Om getrou aan onsself en die evangelie te wees, moet ons bereid wees om goed te doen aan ander mense.  Die dien van mekaar skep balans in die lewe.

In elkeen se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die weegskaal ophoop. Dit trek ‘n mens van balans af. Maar net soos die emmer water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie. Baie keer kan jy nie.  Dit is beter om nog laste op die ander kant van die weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd. Deur met ander woorde die gewig te verdubbel, het jy jou las ‘ligter’ gemaak.

Hoe dikwels dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer? Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir iemand rondom jou te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou medemens se kruis ook op en so sal jy perspektief kry en verligting ervaar.

Om grensloos vir ander te lewe

Baie keer wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke persoon het self die probleem oor hom of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ‘n man wat daardie uiters gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy. Die priester en Leviet het verbygestap, maar ‘n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp. Hy het nie die man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en so sy las op hom geneem.

In verse sewe tot tien vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan medegelowiges, maar ook aan nie-gelowiges.  Hy voer die argument op ander plekke selfs verder.  Ons moenie net self goed doen nie, maar ook toesien dat ander nie benadeel nie.  Vergelyk 1 Tes 5:15:  “Sorg dat niemand ‘n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie.  Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.”

Daar is soveel bewyse van hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir die fisiese nood en behoeftes van mekaar en van ander.  (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27).  Belangrik om te onthou, is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook teenoor nie-gelowiges geld.  Romeine 12:20: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet….”  Galasiërs 5:14: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself…”

Twee akkers

Hoekom maak Paulus so baie hiervan?

In verse 7 tot 10 verduidelik Paulus dit met die beeld van ‘n akker, ‘n stukkie land.  En hy maak die punt dat daar twee akkers is, twee stukkies grond, waarop jy kan saai, die akker van jou sondige natuur en die akker van die Gees.

En dan is dit interessant.  Die manier waarop jy op die akker van die Gees saai, is deur goed te doen aan ander, aan almal, maar veral aan medegelowiges.  Dit wil sê, dit gaan nie soseer oor die geestelike dissiplines van Bybelstudie en aanbidding en selfondersoek nie, dws die dissiplines waar ons direk met God werk nie.  Dit gaan oor die geestelike dissipline van diens en goed doen aan ander, waar ons besig is met ons medemense.

Dit is soos om met twee emmers water te loop, soos Chris Jones se voorbeeld – om ander se laste jou eie te maak, om nie ‘n geleentheid te laat verbygaan om goed te doen aan ander nie.  Dit is hoe ‘n mens op die akker van die Gees saai.  Jy doen goed aan ander.

Ons lewe lewer ‘n oes op

Eintlik werk hy hier met die idee dat elke mens se lewe ‘n oes oplewer.  Elke ding wat ons elke dag doen, berei daardie oes voor. Elke ding waarop ons fokus, is ‘n saadjie wat ons plant.  Elke keuse wat ons maak om mense te help of nie te help nie, is ‘n saadjie op die akker van ons eie selfsug of op die akker van die
Gees.  En as ons selfsugtige dinge saai, as ons sondige dinge doen, dan lewer dit ‘n oes van die dood en verderf op.  En as ons deur die krag van die Gees omgee vir ander en goeddoen vir ander, as ons in liefde en in naastediens saai op die akker van die Gees, sal ons die ewige lewe as oes verwerf (6:8).

Hierdie beginsel geld vir indiwidue en geloofsgemeenskappe.

Vroeë kerk het op die akker van die Gees gesaai

Die vroeë Christelike kerk, soos ons verlede week in die boodskap rondom Antiogië gehoor het, het lewe en oorvloed geoes omdat hulle grense na alle mense oorgesteek het en die lig van die evangelie oral versprei het.  Hulle was sout en suurdeeg, wierook, wat die omgewing en medemense se nood genees het.  Die vroeë kerk het kwessies soos armoede aangespreek. Die vroeë Christene het ook uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes het aandag ontvang en klasse-ongelykheid is sover as moontlik uit die weg geruim. Uit die navorsing is dit duidelik dat die vroeë Christendom die mees dinamiese alternatief op ‘n sisteem van ekonomiese onreg was!

PE Noord saai op die akker van die Gees

En ek het twee weke terug so ‘n paar verhale vertel van gemeentes in die Oos-Kaap wat hierdie voorbeeld van die vroeë kerk begin volg.  Ek herinner julle net aan PE Noord se storie, ‘n gemeete hier in ons stad, waar talle ander gemeentes toegemaak het omdat tradisionele lidmate weggetrek het na beter en mooier areas.  Hierdie gemeente het begin uitreik na die nuwe inwoners van die omgewing.  Saterdae gee hulle vir tussen 200-400 haweloses sop en brood.  Hulle bring hoop deur bemagtigingsprojekte vir vroue aan te bied.  Hulle saal het die plek geword waar die kinders van die gemeenskap Vrydagaand kos vir hulle magies en vir hulle siele kry.  Hulle speel saam sokker, wat ‘n ongelooflike manier is om kontakte te maak en uit te bou.

En die interessante is die oes wat dit oplewer.  Besighede en sakemanne se harte het begin oopgaan vir hierdie gemeente, omdat hulle werk duidelik uit God gebore is, en help waar hulle kan.  Die gemeente het ‘n ongelooflike Christelike geloofwaardigheid omdat hulle dien.  Hulle het iets gesnap van die feit dat hulle nie onder die wet van Moses staan nie, maar onder die wet van Christus. En dit beteken om Hom te vergestalt en gevolglik deernis aan ander mense te betoon!  Hulle saai op die akker van die Gees – en dit lewer ‘n oes op!

Jy oes wat jy saai

Daar is ‘n baie belangrike waarheid in die lewe: jy oes wat jy saai.  Soos in rekenaartaal: Garbish in, garbish out.  Jy kry wat jy insit.

Paulus herinner ons dan ook daaraan dat dit ook in die geestelike lewe waar is.  Ons sal oes dit wat ons saai. Ons kan God nie mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai op die akker van ons selfsugtige begeertes, sal ons die dood oes (Rom 8:6,13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai op die akker van Gods Gees, deur goed te doen aan ander, sal ons die lewe oes. Soos Christus sy lewe vir die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.

Moenie moeg word om goed te doen nie

Daarom moedig Paulus ons aan om nie moeg te word om goed te doen nie. Saai op die akker van die Gees, is ‘n lewenslange taak.  Hiermee herinner Paulus ons sterk aan Jesus se storie in verband met die laaste oordeel (Mat 25:31-46). Daar word die skape en die bokke geskei oor die eenvoudige alledaagse dade van goedhartigheid wat hulle moes doen, soos byvoorbeeld om kos, water, klere en huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Die skape wat op die akker van die Gees gesaai het, gaan in God se heerlikheid in.  Die bokke wat op die akker van selfsug en sonde gesaai het, gaan die ewige verderf in.

In vetdruk geskryf!

Paulus sluit die brief aan die Galasiërs af deur eiehandig in vetdruk te skryf.  Hy gebruik, sal ons vandag sê, hoofletters, skryf die letters vet en onderstreep dit.  Dalk gebruik hy ‘n rooi pen.  Daar is ‘n paar uitroeptekens. Wat nou volg is belangrik!

Wat is so belangrik?

Daar is mense wat dink dat hulle op ‘n ander manier kan leef, en die eis om goed te doen aan ander kan ontwyk.  Dit is mense, soos hierdie Joodse Christene in Galasiërs, wat dink dat hulle godsdienstige reëls kan nakom, en dit op ander van toepassing kan maak, en op dié manier vir God kan behaag.

Maar Paulus sê, sulke godsdiens is ‘n blote wind.  Hulle druk hulle reëls in ander se kele af, bloot om mag om oor ander te kry.  Die Joodse Christene forseer bv. die besnydenis op die Galasiërs af, “sodat hulle kan roem oor wat met julle liggame gebeur het”.  Dit gaan oor mag en beheer en nie oor omgee en uitreik en insluit nie.

Dis nie die hart van die Christelike geloof nie.  Die hart van die Christelike geloof sien ons in die kruis, waar Jesus, die verhewe Seun van God, sy lewe in die gestalte van ‘n slaaf gee vir mense wat toe nog God se vyande was.  Ons sien dit waar mense nie moeg word om goed te doen nie, mense wat nie verslap nie, maar enduit saai op die akker van die Gees.

1 Konings 3: Erediens – Om te luister in ‘n wêreld waar wysheid nodig is – Son 18 Julie 2010

Salomo luister

Wel die eerste ding wat ons sien uitstaan, is dat Salomo dit reggekry het om te luister.

In ‘n sekere sin was dit natuurlik ook die enigste ding wat hy kon doen.  Hy kon net luister, aandagtig luister, dit oordink, en met die insig wat die Here hom gee, ‘n uitspraak maak.

  • Dit kan wees dat hy die hart van ‘n vrou geken het, en geweet het dat die werklike ma se hart inmekaar sou krimp as sy moes toesien dat haar kind in twee stukke gekap sou word – soos inderdaad gebeur het toe hy die kind wou middeldeur sny.
  • Dit kan wees dat hy die storie van Rispa sou onthou, die vrou wat onverpoosd, dag en nag, van die oestyd af tot die reëntyd oor haar seuns se lyke gewaak het, toe hulle deur die Gibeoniete doodgemaak is, soveel so dat koning Dawid se hart versag het, en hy beveel het dat hulle ordentlik begrawe kon word (2 Sam 21).

Die punt is, hy het met insig geluister, en kon vanweë daardie insig ‘n wyse uitspraak gee.  Die ma wie se kind dit was, kon doodgewoon nie toesien dat hy doodgemaak word om tussen haar en haar opponent verdeel te word nie.  En sy offer haar belang in hom op, en kies dat die kind lewe, al beteken dit dat sy hom sal verloor.  Solank die kind net lewe … en onmiddellik weet Salomo, maar sy is die ma … en gee die kind vir haar.

En die skrywers vertel ons, die hele Israel het ‘n hoë agting vir Salomo gekry en gesien en erken dat God vir hom die wysheid gegee het.

Wysheid is ‘n geskenk

Maar dieper as dit illustreer die storie die geskenk wat God vir Salomo gegee het.  Want wysheid kom nie net deur te luister, maar dit is ook ‘n gawe van God.

Dit sien ons in die kostelike verhaal aan die begin van hierdie hoofstuk.

‘n Bietjie agtergrond.  Salomo se pad na die kroon was besaai met dorings.  Sy ouer broer Adonia het Salomo teengestaan, homself eers as koning laat uitroep, met die hulp van die vorige aanvoerder van die leër, Jaob en die invloedryke priester Abjatar, die nasaat van Eli.

Gelukkig het Salomo ook gedugte mense gehad wat hom ondersteun het.  Benaja, die een wat in die put afgeklim en ‘n leeu daar doodgemaak het (2 Sam 23:20) , en wat later die aanvoerdersrol oorneem.  Sadok, wat uiteindelik hoëpriester word, en wie se nageslag die nageslag van Eli as uitverkorenes vir die priesterlike dinastie vervang, sowel as die profeet Natan, ‘n gedugte man van God, en ook sy ma Batseba.  En só raak hy die opvolger van Dawid, die eerste dinastieke koning, die eerste koning in Israel wat die koningskap erf van sy pa.

Terug by ons verhaal: dan gaan Salomo om te offer, interessant genoeg by die hoogte in Gibeon, die vernaamste een in Israel, want dit was ook die plek waar die tent van ontmoeting (2 Kronieke 1:2-13) was.

God verskyn die nag aan hom in ‘n droom en gee Salomo carte blanche: ”Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”

Interessant genoeg, gee Salomo eers erkenning aan sy pa, en spesifiek aan wat die Here vir sy pa gedoen het, maar vra dan nie iets vir homself nie, iets wat hy natuurlik later ook raaksien by die vrou wie se kind nog lewe, maar iets vir sy koninkryk, vir die taak wat die Here hom opgelê het.  Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê, ten spyte van die feit dat hy nog jonk en onervare is.

Maar die manier waarop hy dit stel, is verstommend.  Gehoorsaamheid in die oorspronklike word met twee woorde geskryf.  Salomo vra die Here vir ‘n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.

En die Here is só beïndruk met dié versoek van Salomo, dat Hy nie net aan sy versoek voldoen nie, maar sommer ook vir hom rykdom, aansien en ‘n lang lewe gee, amper soos Salomo dat later vir die vrou doen.  Maar die belangrikste is dat God vir Salomo wysheid en insig gee, ‘n luisterende hart.

En die wysheid was inderdaad indrukwekkend.

  • Ons sien dit in die verhaal van die 2 vroue wat stry oor die oorlewende kind, hoe hy met insig luister.
  • Ons sien dit in die uitstekende plan wat Salomo beraam met die houtkappery vir die tempel bouplanne.  Hy  werk met die gedagte van skofte vir sy werkers: 1 maand weg met die kappery in Libanon en 2 maande terug by die huis (1 Kon 5).  En laat ons ook onthou dat met die bou van die tempel hy daarin geslaag het om die godsdiensbeoefening van Israel te verenig, iets wat daarvoor nog nie moontlik was nie.
  • Hy is verantwoordelik vir ‘n hele aantal spreuke en psalms waarvan ‘n hele paar in die Bybel opgeneem is (Spreuke, Hooglied, Prediker, Psalm 72 en 127).
  • In plaas van veldslae, gaan hy verdrae aan met die ander volke en raak bekend vir sy oorleg en wysheid.  Hy is nie net bekend vir ons deur die Bybel en die Spreuke van Salomo nie.  Daar is talle verhale van hom in die Arabiese en Ethiopiese geskiedenis.  In talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hulle hom as ‘n wyse, en verheerlik sy intellek en ander vermoëns.  In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie.

Die feit dat Salomo uiteindelik in sy middel-vyftigs die pad byster geraak het, lief geword het vir perde (simbool van mag) en die afgode van sy baie vroue, ten minste liewer vir hulle geword het as vir die Here, neem nie weg dat hy ‘n ongelooflike gawe gehad het nie, die gawe van wysheid.

En dit is dié kant van Salomo, sy wysheid, wat ons inspireer.

Hoe kry ons wysheid?

Op dieselfde twee maniere:

  • Een: Ons leer om te luister.
  • En twee: ons luister totdat ons insig kry, en die Here dit vir ons gee.

Jy leer wysheid deur na te dink oor wat gebeur, deur te luister na wat God daaroor sê, in die Bybel, in gebed, in die kleingroep waaraan jy behoort, en met die insig wat jy kry op te tree, en verder te luister.

Want, onthou, Salomo het nie net ‘n besluit geneem, dit is jóú kind nie.  Nee, hy het ‘n onverwagse opdrag gegee, na hy goed geluister het, sny die kind in twee stukke en gee vir elke vrou een.  Hy lok dus reaksie uit deur hierdie vreemde opdrag.  Sielkundiges sal ‘n “reframing” tegniek hierin herken.  Sy opdrag plaas die 2 vroue skielik in ‘n ander situasie as dié waarin hulle gestry het.  Hulle het gestry oor wie se kind dit is.  Salomo laat hulle nie verder toe om dít te doen nie, maar laat hulle nadink oor die lewe van die kind. En dit verander alles!

En let op hoe Salomo toe weer luister – wat gaan hulle sê, wat gaan hulle doen?  En het hulle nie gepraat nie: “Sny hom deur” donder die een … en “Asseblief, moet hom tog net nie doodmaak nie,” smeek die ander vrou.

En eers toe Salomo dít hoor, en weer geluister het na hulle, daal die insig neer en weet hy, die kind behoort aan die ma wat bereid is om haarself op te offer ter wille van haar kind.  Sy is bereid om afstand te doen van haar kind, sodat hy nie doodgemaak word nie.  Eers toe Salomo dít hoor, het hy ‘n besluit geneem en die kind vir die regte ma gegee.

Die geestelike dissipline wat jy en ek dus moet aanleer, is om te luister.  Luister lei na insig.  Luister lei na helderheid.  Luister lei na wysheid.

En dit is so eenvoudig soos,

  • Om in ‘n groep aan te leer om te eggo.  Dit is een van die maklikste dinge om te sê, en soms een van die moeilikste dinge om te doen.  Eggo beteken jy sê vir iemand wat jy gehoor het by hom of haar, totdat hy of sy vir jou sê, jy het reg gehoor.  Jy hoef nie saam te stem met wat hy hoor nie.  Om die waarheid te sê, jy sal meesal nie noodwendig saamstem daarmee nie.  Jy mag ook nie iemand reg help nie.  Want dan oordonder jy die persoon.  Jy mag ook nie iemand doodpraat nie.  Dan domineer jy eenvoudig die gesprek.  Jy het eers geluister, as die ander persoon ervaar dat hy of sy gehoor is.
  • Om in jou stiltetyd na te dink oor wat met jou gebeur het, die vorige dag, die vorige week, die vorige jaar – en te luister na die insigte wat na vore kom.  Dit is die eeue-oue gebruik van die Daaglikse Ondersoek (daily examen).
  • Om die Bybel nie net te lees om te analiseer nie, maar om te luister na wat God vir jou sê.  En dit beteken dat jy jou gedagtestrooom stiller moet kry, deur af te skakel, tyd te neem, te reflekteer, totdat daar vir jou insig oopgaan.  En dit is baie keer ‘n woord of ‘n frase in ‘n Bybelgedeelte.  Een van die maniere om dit te doen is deur die eeue-oue gebruik van Lectio Divina.
  • Om soms te gaan sit en net te begin skrywe – dit is ongelooflik watter kreatiewe nadenke dit by jou losmaak.
  • Of ‘n Joernaal te hou en getrou te skryf oor wat gebeur en daaroor te reflekteer.
  • Om soms vir ‘n retreat te gaan, en tyd te spandeer met die Here, alleen of saam met mense wat naby aan jou is, en te luister watter insigte die Here vir jou gee.
  • Om te leer om “koerant te luister”, nie net te lees nie, en te leer om nie net kwaad te word as iemand iets skryf wat van jou idee van die werklikheid verskil nie, maar om só te probeer luister dat jy vir hom die kernpunt van sy argument sou kon weergee as jy met hom in gesprek sou gaan, of daaroor met ander mense gesels.

Ek vermoed dat dit die enkele grootste ding is wat ons moet leer as ons as gemeente en as kerk nog ‘n funksie in ons gemeenskap, land en wêreld wil hê, om te luister.

Want dit sal die wyse insig bring oor die pad vorentoe, verryk met tallose perspektiewe, veral ook van mense wat anders as ons is, en anders as ons dink.

Ons het wysheid nodig

En ons het dit so nodig!

Dink aan die taaldebat in ons land.  Lees weer die week prof Russel Botman se artikel in Die Burger en die saak wat hy uitmaak vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal in ‘n meertalige omgewing.  En ek kan my al indink aan die argumente wat Leopoldt Scholtz op die tafel sal sit wat met navorsing probeer aantoon dat dit nie kan werk nie.  Daar is baie wysheid nodig om mense mekaar te laat vind in die proses.

Dink aan die regstellende aksie debat in ons land.

Dink aan die afloop van die Wêreldbeker in ons land.  Daar is wysheid nodig om die energie en die eensgesindheid en die hulpbronne in terme van mense en geriewe en vaardighede te kanaliseer en tot voordeel van almal aan te wend.  Daarom is hierdie Keep on flying projek so belangrik.

Soms is dit so dat dit juis deur skande en skade is wat ‘n mens wys word.  Jy stamp jou kop en leer daaruit.  Maar dit is natuurlik die kritiese voorwaarde, dat jy daaruit leer.

En om te leer uit jou foute, moet jy leer om te luister.

Bybelse wysheid draai dus eintlik om een kern vermoë, die vermoë om te luister, na God in die eerste plek en na die mense met wie ons in aanraking kom.

God wil vir ons wysheid gee

Die wonder is, wysheid is presies wat God vir ons wil gee!

Jakobus 1:5-6

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,

Net soos hier vir Salomo – die Here wil vir ons ‘n “luisterende hart” gee.  Soos die Kronieke skrywer op ‘n ander plek sê: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9).

Daarom nooi ek jou uit dié week en die kwartaal om op reis met ons te gaan.  Ons het 10 stories wat ons inspireer, sommige is uitdagend soos dié storie van Salomo, ander is ontstellend, soos die storie van Jerobeam, waarmee ons volgende week gaan werk, ander is gerustellend, soos die verhaal van Elia op die berg.  Maar, in almal, gaan ons die Here se stem hoor wat ons inspirereer om geestelik te groei.

Gebruik die blaadjie met die kleingroep materiaal.  Gebruik die Joernaal vir die erediens.  Woon die Didage by.  Daar is 4 heerlike opsies om uit te kies.  En as jy nie daarby kan uitkom nie, lees dan die dagstukkies by bybelskool.com en skryf jou kommentaar en ook jou vrae daar. Registreer net daar, en jy sal die bydraes outomaties elke weekdsdag in jou e-pos Inbox ontvang.  En ons sal reageer.

  • Die Here wil jou geestelik laat groei.  Dit is Hy wat die insig gee.  Dit is Hy wat ons lewens rig.
  • Ons as leiers se verantwoordelikheid is om materiaal voor te berei wat jou kan help om geestelik te laat groei.
  • Maar, jy is verantwoordelik om aan te meld, betrokke te raak, deel te neem.

Mag díe kwartaal se reeks jou daartoe help, met die Stories wat inspireer.

Liturgie

Toetrede

  • Luisterlied

Lofsang

  1. Lied 449 – Halleluja! Ons loof U, Heer; aanbid U, Vader, gee U eer – staan
  2. Lied 199 – Loof die Here uit die hemel, loof Hom deur wie ons bestaan – staan
  3. Lied 221 – Loof die Heer omdat Hy goed is; daar’s geen einde aan sy liefde – sit

Kindertyd

Hoe was die vakansie?  Het julle sokker gekyk?

Ek wil hoor hoe slim julle is?

Koning Salomo het eenmaal ‘n baie belangrike besluit neem.

In Jerusalem was daar 2 vroue.  Hulle het in dieselfde huis gebly en in dieselfde week elkeen ‘n baba gekry, 2 seuntjies.  Die seuntjies is net 3 dae na mekaar gebore.  Een nag het die een ma haar seuntjie doodgelê.  Sy was baie hartseer.  Maar toe staan sy stilletjies op en gaan ruil haar dooie seuntjie om met die ander vrou se lewendige seuntjie.  Die volgende oggend toe raak die ander mamma met die dooie seuntjie wakker.  En toe is sy baie hartseer.  Maar toe sy mooi kyk, toe sien sy, maar dit is nie my seun nie.  Dit is die ander vrou s’n.  En toe sy nog mooier kyk, sien sy, maar die ander vrou hou haar seun vas.  “Gee my kind” sê sy vir die ander vrou.  Maar die ander vrou wil niks weet nie.  Sy sê, dit is my kind.

En so kom die 2 vroue by koning Salomo aan en vertel vir hom hulle storie, en hulle stry met mekaar oor wie se kind is die lewendige seuntjie.

En hy dink by homself.  Die een vrou sê die ander se kind is dood, en myne lewe.  En die ander vrou sê haar kind is lewendig en jou seun is dood.

Wat sou julle gedoen het?  Hoe sou julle besluit het?

Wel, koning Salomo het gesê: “Bring vir my ‘n swaard!” En toe sê hy vir sy mense: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ‘n helfte!”

Maar die ma, wie se kind dit eintlik was, skrik toe só groot, die Bybel sê: “haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba,” dat sy vir die koning begin smeek en vra dat hy asseblief nie die seuntjie wat nog lewe moet doodmaak nie, maar liewer vir die ander vrou sal gee.  Sy wil net nie hê die seuntjie moet ook doodgemaak word nie.

En wat dink julle sê die ander vrou?  Sy sê: “As ek hom nie kan kry nie, kry hy hom ook nie.  Sny hom deur!”

En wat dink julle sê koning Salomo?  Hy weet onmiddellik hierdie laaste vrou is nie die ma van die kind nie.  Sy wil die enigste kind wat lewe ook nog doodmaak.  Dit moet die eerste vrou wees wat vra dat hy die kind se lewe moet spaar.

En hy gee die seuntjie vir die eerste vrou.

Darem slim nê?

Die Here het Salomo wysheid gegee.  En hier sien ons hoe wonderlik die Here hom gehelp het om ‘n moeilike saak op te los.

Gebed

Lied 254 – Spreek Heer, spreek Heer, want u dienaar luister. (x2) – sit

Gebed

Dankoffers

Slotsang

  1. Lied 524 – God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk – staan

Seën

Amen

Lied 313

‘n Paar Wyshede om aan te herkou

Rick Warren

  • God did not bring you this far just to leave you where you are. “He who began a good work in you will complete it” Ph.1:6
  • “Socialism always eventually runs out of other people’s money to spend” – James Robison
  • Talking about your own suffering in an attempt to identify with someone in pain NEVER helps. Just be there & listen in love.
  • “Never abandon yourselves to despair! We are the Easter people and hallelujah is our song.!” – John Paul II Pope John Paul II
  • Integrity is like virginity. Once you give it up it’s gone for good.”The dishonest are ruined by their own duplicity”Pr11:3
  • Jesus began his Church as a FAMILY. It changed to an institution in Rome, a political view in Europe,& a business in America.
  • Many activities aren’t necessarily wrong, just not necessary! Do what’s indispensible. “Let the dead bury the dead” Lk.9:60
  • Imperfections make your face uniquely YOU -proof God didn’t want a clone of anyone else. Every mark is a beauty mark to God.
  • God watches how accurately u represent the words of those u disagree with..It’s dishonest to use their words out of context

Alexander Solzhetnitsyn

  • Violence can only be concealed by a lie, and the lie can only be maintained by violence.

Harper Lee

  • You never really understand a person until you consider things from his point of view. (from the character Atticus Finch)

Onbekend

  • “The spaces between your fingers were created so that another’s could fill them in.”

2 Kronieke 16: Erediens – Om te vertrou in ‘n wêreld waar broedertwis is – Son 1 Augustus 2010

Koning Asa was ’n goeie koning.

Hy is as die 6de koning van Juda ingehuldig, 20 jaar na die skeuring van die Suid-ryk Juda en die Noord-ryk Israel, met die twee hoofstede Jerusalem en Samaria onderskeidelik.

Rehabeam is na 17 jaar se koningskap dood.  Sy seun Abia, Asa se pa, het toe koning geword.  En hoewel hy ’n beter koning was en selfs in ’n groot veldslag teen die Noord-ryk, vir koning Jerobeam van Israel verslaan het, het sy regering net 3 jaar gehou.  Hy is skielik dood, ons weet nie hoekom nie.

Asa se koningskap begin met die voortslepende konflik met die 10 noordelike stamme.  Die skeuring moes nog steeds ’n groot bron van verwyt vir die koningshuis gewees het.  Dit was immers die gevolg van sy oupa Rehabeam, die seun van Salomo, se dwase poging om die volk verder met dwangarbeid te onderdruk, wat die ryk in twee helftes geskeur het, 10 stamme na die Noorde, die sogenaamde Josef-stamme, en 2 stamme na die Suide, Juda en Benjamin.

En midde-in die voortdurende konflik met sy broers (en susters) in die Noorde, moet hy die koninkryk van Juda regeer en in stand hou.  En dit is nie al nie.  Daar is ook nog die aanslae van die omringende volke, onder andere van die Kussiete (Ethiopiërs of Soedannese) vanuit Egipte en die Libiërs.

Asa roep die Here aan

Maar wonder bo wonder, dié aanslag van die Kussiete word nie net afgeweer deur hom nie, maar in ‘n beslissende veldslag teen hulle breek hy hulle mag.  En dit was nie omdat hy so baie soldate gehad het, of so ‘n goeie strateeg was nie.  Nee, hy het die Here aangeroep, en dié het hom gehelp.  In hoofstuk 14 vertel die Kroniekeskrywer ons dat Asa die Here op aangrypende wyse aangeroep het en gesê het: “Net U kan die swakke teen ‘n oormag help.  Help ons, Here ons God!  Ons steun op U, en in u Naam trek ons teen dié menigte op.  Us is ons God, Here, moenie dat ‘n méns teen U seëvier nie.” (vers 11) En die Here het hom gehelp.

Asa luister

Dan verskyn daar ‘n profeet, Asarja, en moedig hom en die ander Jode van Juda en Benjamin aan om die Here te vertrou.  Kronieke 15 vertel vir ons die verhaal.  Hy kondig aan Asa aan: “As julle by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind.”  Klink amper soos in die NT!  Maar, die waarskuwing word daarmee saam gegee: “As julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” Daarom pleit hy by hulle dat hulle sal vasstaan en nie moedeloos word nie, die Here vertrou en by Hom sal bly.

En Asa luister na Asarja en bring groot hervormings aan.  Hy het die tempelprostitute verban, die afgodsbeelde verwoes, selfs sy ouma Maäka as koninginmoeder onttroon, weens haar afgodediens, en haar Asjerabeeld vernietig.  Hoewel die hoogtes nie heeltemal verdwyn het nie, was Asa, getrou aan die Here.

Asa se lojaliteit skuif

Maar toe gebeur daar iets wat sy lojaliteit laat skuif.  Hy word vir die soveelste keer aangeval vanuit die noordelike stamme.  En onthou, dit was ‘n voortdurende stryd in die 41 jaar wat hy koning was.  Om die waarheid te sê, hy moes teen 7 opeenvolgende konings van Israel sy land beskerm: Jerobeam, Nadab, Baesa, Ela, Simri, Omri en Agab!

Kronieke 16 vertel ons dat Baesa, die derde koning van Israel in die termyn van Asa, teen Juda optrek.  En Asa besluit om ‘n bondgenootskap te sluit met die Arameërs teen sy broers.  Strategies was dit natuurlik ‘n uitstekende plan. Maar geestelik dwaas.

Asa luister nie meer nie

Hy slaag daarin om die konflik met Israel te vermy, maar hy haal hom die gramskap van nog ‘n profeet op die hals, die siener Ganani.  Ganani veroordeel hom omdat hy nie op God in sy stryd met Israel gesteun het nie, maar op die Arameërs.  En dit is in dié konteks wat Ganani sê: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9)

Maar daarmee veroordeel hy vir Asa omdat dié hom nie aan hierdie belofte van die Here gesteur het nie.  Asa straf wel die siener deur hom in die tronk te gooi, maar verloor daarmee eintlik die hele plot van sy koningskap.

Hy begin om van sy mense sleg te behandel.  En toe hy later siek word aan ‘n voetkwaal kies hy om eerder dokters te vertrou as die Here.  En hy sterf met ‘n wolk oor sy koningskap twee jaar later.

Toepassing

Wat het fout gegaan met Asa?

Aanvanklik was dit opmerklik hoe Asa na die Here gesoek het, en bereid was om te luister na die uitsprake van God se profete, bv. Asarja.  Hy het hom toegelê op ’n persoonlike verhouding met God EN was bereid om verantwoordelik gehou te word deur die profete.  Hy het ’n leerbare gees gehad, soveel so dat hy selfs die koningmoeder teëgegaan het oor haar afgodediens, toe die profeet dit aangespreek het.

Maar, op ’n punt het hy besluit, ek het nou genoeg gehad.  Ek gaan nie toelaat dat ’n eenvoudige siener my aksies beoordeel en veral nie veroordeel nie.  Hy het vir homself ’n norm geword.  Sy besluite was van groter belang as die besluite van die profete, en ten diepste die Here self.

En omdat hy sy verhouding met die profete afgesny het, nie meer bereid was om aangespreek te word nie, het sy verhouding met God ook skipbreuk gelei.  En is dit net logies dat hy nie meer die Here sou raadpleeg oor ’n voetkwaal nie.  Hy het immers ’n goeie besluit geneem, in sy eie oë, toe hy die verbond met die Arameërs angegaan het.  Hy en die dokters sou ook dié voetprobleem uitsorteer.

Maar, toe nie.  Sy eie besluite boemerang en hy sterwe met ’n wolk oor sy koningskap.

En wat leer ons by hom?

Dat ons nooit die oop verhouding met God en met ons profete, mense wat na aan ons lewe en wat ons verantwoordelik moet hou, moet afskeep nie.

Ons is nie bedoel om te lewe as selfstandige onafhanklike konings nie.  Tog, is ons bang om sulke oop lewens te lewe.  Miskien is dit omdat ons bang is dat ons mislukkings en swakhede teen ons gehou sal word.  Miskien is dit omdat al ons vingers verbrand het met mense wat nie met integriteit met ons lewens omgegaan het nie.

Maar ons kan nie die Christelike lewe leef sonder betekenisvolle ander mense in ons lewe nie, mense wat nie sal terugdeins om ons verantwoordelik te hou vir dít waarin ons self sê dat ons glo nie.  Ons is immers gemaak vir gemeenskap met ander mense, nie net sodat dit ons kan koester en versorg nie, maar ook dat dit ons kan beskerm teen onsself, en teen ons swakhede en mislukkings.

Daarom het ons nodig om mense in ons lewe toe te laat wat ons verantwoordelik kan hou.  Jak 5:16 sê immers: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Het Asa maar dié raad gevolg!

En die Hebreërskrywer raai ons aan: “Julle moet mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (3:13)

Die Here roep ons vandag op tot twee reaksies:

  1. Om na te dink oor iemand met wie ons oor ons geestelike lewe kan gesels.  En met wie ons eerlik kan wees en met wie ons ’n oop verhouding kan handhaaf.  Dit hoef nie iemand te wees wat ouer as jy is nie, of wat wyser is as jy nie.  Maar dit moet iemand wees met wie jy die vrymoedigheid sal hê om jou lewe mee te deel.
  2. Om na te dink oor iemand vir wie jy ’n oop deur wil gee, om met jou oor hulle geestelike lewe te gesels.

2 Konings 5: Erediens – Om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen – Son 22 Augustus 2010

1. Die heldin in hierdie verhaal is ‘n klein dogtertjie.

Ons weet van haar net ‘n paar goed.  Ons weet sy kom van Israel af en is in een van die oorloë tussen Israel en die Arameërs weggevoer deur die soldate. Sy was nog ‘n baie jong dogtertjie en het ‘n slaaf geword vir Naäman, die bevelvoerder van die Aramese leër.  So sy was Joods, jonk en ‘n slaaf.

Maar daar is iets anders wat ons van haar agterkom.  Sy word nie die heldin in dié verhaal omdat sy Joods is of jonk of ‘n slaaf nie.  Sy word die held in die verhaal omdat sy weet wat niemand anders weet nie.  Sy weet wie haar baas kan help toe hy siek raak van melaatsheid.

Nou, ons lees nie in die Bybel dat sy vir Elisa geken het nie.  Ons weet nie verseker of sy geweet het van die wonder van die broodvermeerdering waarvan ons in hoofstuk 4 gelees het nie.  Ons weet nie of sy verseker geweet het van die weduwee se kruik wat nooit leeggeraak het nie.

Maar iets soortgelyks moes sy geweet het, want dit is haar kennis van wat Elisa, die profeet van die Here, gedoen het, wat lei tot die genesing van Naäman.

Maar wat vir my veral interessant is, is dat sy hoegenaamd iets sê!  Sy kon stilgebly het.  Sy het nie nodig gehad om enigiets te sê.  Die Armameërs het haar leed aangedoen.  Sy is weggeneem by haar mense, en onthou sy was nog baie jonk.  Sy het nie meer vryheid gehad nie.  Sy moes vir haar nuwe base help in die huis.

En tog – toe sy hoor van haar baas se melaatsheid, en sy weet sy het inligting wat vir hom iets kan beteken, toe sê sy dit vir hom.  Sy help haar vyande – en word so vir ons almal ‘n voorbeeld van wat dit beteken om God te ken en die goeie nuus te vertel wat ander mense se lewens kan verander.

Ons sien dus hier dat kinders – maak nie saak hoe klein hulle is nie, maar nie saak hoe min hulle eintlik in tel is in die groter wêreld waar ander baie keer bo-oor hulle en hulle belange loop nie – hulle het ‘n rol te speel.  En daarmee is sy ‘n voorbeeld vir almal van ons.

2. Gewone goed is belangrik, nie net die buitengewone nie.

Dit is ‘n klein dogtertjie se inligting, ‘n bad in die Jordaanrivier, olie by die weduwee, brood by die ete vir 100 mense, ‘n dankie-sê van die generaal eerder as die baie goud en silwer wat hy aangebied het, wat in hierdie verhale van Elisa belangrik is.  En dit leer ons dat God se wonderwerke baie keer, ek wonder of dit nie meesal is nie, deur gewone goed gebeur.  Ons leer dat God net so aan die werk is in en deur gewone goed as in en deur die buitengewones.  God se buitengewone goed gebeur deur die gewone goed.

Dit is wat Naäman geleer het.  Hy het eers teëgestribbel teen die idee om in die water van die Jordaan hom te gaan was, want hy het gedink, dit is darem net te eenvoudig.

Gelukkig luister hy na die amptenare, net soos hy aanvanklik na die dogtertjie geluister het.  En deur die gewone te doen, word hy gesond.

Die verhaal spoor ons dus aan om nie net vir wonders te kyk in die groot goed nie.  God is aan die werk in die normale goed wat elke dag gebeur.  Hy is besig in die ontmoetings wat ons met mense het, selfs as ons soms dink mense is onderbrekings.

Ek het die week ‘n hele paar ontmoetings gehad met mense waar my raad gevra is, waar ek as klankbord gebruik is.  Maar, die interessante is dat dit my wêreld ook verander het – ek het ‘n paar dinge geleer, ek kon kyk na die pad wat die Here met my loop en moed skep uit die goed waardeur ek al is, sodat ek met meer empatie kon luister, en raad kon gee wat nie teoreties is nie, maar goed wat ek deur ervaring geleer het.  Gewone goed, waarin God se buitengewone voorsiening sigbaar word.

3. God doen wonders deur die gewone goed wat ons doen

Maar die verhaal spoor ons ook aan om net so gewillig te wees om die gewone goed te doen, as wat ons graag die buitengewone sou wou doen. Dit is nie net ter wille van onsself nie, maar ook en juis vir ander.

Dink net wat beteken dit vir iemand as jy geduldig is of ‘n klip uit iemand se pad rol.

Ons wil baie keer die groot goed doen, ‘n boek skryf wat 10 miljoen kopieë verkoop en baie mense se lewens verander.  Of ons raak baie keer juis moedeloos omdat ons met een oplossing alle probleme uit die weg wil ruim – terwyl dit soms net iets kleins is wat ons moet doen, wat saam met ‘n paar ander mense se klein liefdesdiensies ‘n groot verskil maak.

Dit tref my ook bv. dat Elisa in die verhaal van die weduwee sy kruik, terloops die vrou van ‘n profeet wat dood is, nie bv. met die skuldeiser gaan gesels om haar skuld af te skryf nie, maar dat hy haar in staat stel om haar skuld af te betaal met die wonder vermeerdering van die olie in die erdekannetjie.  Dit is hoe dit in die koninkryk van God werk – hy help ons IN die situasie, en neem ons nie eers UIT die situasie om ons die pyn daarvan te spaar nie.

Ons moet deur hierdie verhaal leer dat God deur die klein goed wat ons doen werk om groot goed reg te kry.  Want, die klein dogtertjie het net vertel wat sy geweet het: Elisa die profeet in Samaria kan wonderlike goed doen.  Dit is al wat sy gedoen het.  Ons weet nie eers haar naam nie.

Maar daardeur het sy nie net gesorg dat Naäman van sy melaatsheid genees is nie, maar sy het hom aan die Here bekendgestel, soveel so dat hy die Here begin aanbid het.

Daar is niks wat ons doen, hoe klein ook al, wat nie deur God gebruik word om groot dinge te doen nie.  ‘n Paar boere het gesorg dat ‘n ambulans kinders hospitaal vervoer in Elliot, en die hele gemeenskap verander en begin misdaad bestry, en mekaar help as mense.  ‘n Paar gemeentelede skenk 3 rekenaars in Oos-Londen en ‘n hele woonstelblok se kinders kan hulle skoolprojekte begin inhandig, en 4 van hulle ouers woon die katkisasieklas by en raak lidmate van die gemeente.

Ons kan met verwagting lewe – dat God nog wonders doen, deur die klein dade van gehoorsaamheid wat ons doen.

4. Dankbaarheid is die draad wat ons lewens lappieskombers aan mekaar weef.

Maar daar is ‘n laaste ding van die dogtertjie se lewe wat my tref.  Sy kon op ‘n hopie gaan sit het en haar hart uitgehuil het oor die slegte situasie waarin sy beland het.  Nou, dit is moontlik dat sy gehuil het, dat sy hartseer was, dat sy alleen en eensaam gevoel het.  Om die waarheid te sê, sy het heel waarskynlik baie bang en baie weerloos gevoel daar in die vreemde.

Maar sy het gekies om nie ten gronde te gaan nie, en iets aan die nood van die mense rondom haar te doen.  Sy was dankbaar dat sy lewe, en het meer as haar deel gedoen in die vreemde huishouding, sy het hulle die geheim van Elisa, die geheim van God, vertel.  En dit lei tot genesing vir haar baas, toevallig ook haar vyand.  En dit lei nie net tot genesing nie, hy leer ook die Here ken.

Ek sien dus by haar wat Paulus veel later sou skryf:

1 Tes 5:16-18 sê: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Dankbaarheid is die draad wat die lappieskombers van ons lewe aan mekaar weef.  Moeilike en maklike tye, geluk en ongeluk, kan in iets kosbaar saamgevoeg word deur met dankbaarheid en erkentlikheid te lewe.  Soos Jesus 5 broodjies en 2 vissies met dank aan God gebruik het om so iets besonders vir mense te doen, so kan ons ook met dankbaarheid dit wat ons het, al is dit min of doodgewoon, gebruik om ander se lewens te verryk, soos wat hierdie dogtertjie gedoen het met haar kennis.

Haar voorbeeld nooi ons dus uit om God se teenwoordigheid in ons lewe Ste erken en met dankbaarheid te lewe, en ander te dien met wat ons ook al het.

Ons kan leef met die verwagting dat God vandag nog wonders doen, en ons kan verwag dat Hy dit steeds sal doen, en meermale deur die gewone goed wat ons vir ander doen.

2 Konings 11-12: Erediens – Om God te aanbid in ‘n wêreld waar geestelike strukture bouvallig raak – Son 5 September 2010

Haar troue met Joram, die koning van Juda, was bedoel om hierdie twee dinge na te jaag.  Aan die een kant kon sy met die troue die Baälgodsdiens van haar ma en pa uitbrei na die hoof geestelike sentrum van Juda, Jerusalem.  Maar aan die ander kant kon sy daarmee ‘n band te skep tussen die twee koningshuise, Agab s’n en Joram s’n, wat moontlik kon lei tot een koninkryk, onder haar pa Agab se vaandel, die sogenaamde Omri-dinastie, en later natuurlik haar eie.  Omri was haar oupa en Agab se pa, ‘n baie suksesvolle koning in die Noord-ryk.

Dinge het egter nie presies uitgewerk soos sy dit wou hê nie.  Haar pa Agab het sy kanse verspeel in Samaria.  Die Here se oordeel is oor hom voltrek, onder andere weens sy Baälaanbidding, maar ook omdat hy Nabot se wingerd vir homself toegeëien het op ‘n moorddadige manier – soos ons verlede week gehoor het.  Sy dood het gekom in ‘n oorlog, waar ‘n onbekende soldaat hom met ‘n pyl en boog doodgeskiet het.

In die onsekerheid na sy dood het Jehu, in opdrag van die Here en deur Elisa tot koning gesalf, sy kans waargeneem, die troon bestyg en om alle moontlike teenstand uit die weg te ruim, elke enkele een van Agab se nageslag in Samaria doodgemaak, 70 van hulle!  Op die koop toe het hy die Baälprofete ook laat doodmaak, sodat nie net die mag van Atalia se pa gebreek is nie, maar ook die godsdiens van Baäl in Samaria in gedrang gekom het.

In Juda het dinge beter gelyk vir haar.  Soos haar ma, Isebel, was sy ‘n stoere Baälaanbidder.  Met haar troue met Joram, die koning van Juda in Jerusalem, het sy ‘n groot invloed op hom uitgeoefen sodat ook hy Baäl begin aanbid het. En hoewel dit die toorn van die Here ook oor hom laat ontvlam het, en hy deur die Edomiete vermoor is na net 8 jaar op die troon, het Atalia daarmee skielik ‘n vry hand gehad in Jerusalem om die Baälgodsdiens te promoveer en uit te brei.

Maar dit was nie al nie.  Toe haar man Joram so vroeg oorlede is, en haar seun Ahasia net ‘n jaar na sy troonbestyging ook deur Jehu doodgemaak is (en die meeste van sy broers), het sy eenvoudig haar kans waargeneem, en probeer om op haar beurt, soos Jehu, alle ander moontlike troonopvolgers uit te wis. En so het sy die eerste en enigste koningin van Juda geword.

Heel moontlik het sy geweet, en daaroor gedroom, dat as sy die troon van Juda bestyg, sy ‘n kans sou hê om die teenstand van Jehu, wat nou die koning in Samaria was, die hoof te bied, en moontlik weer haar pa Agab se troon te verower om dan koning oor die hele Israel te wees.  Lank lewe die Omri-dinastie, sou sy moontlik vir haar self gesê het.

Hoe dit ook al sy, dat sy deur haar koningskap en deur haar godsdiens, die Baälgodsdiens, nou die mag in die belangrikste geestelike en politieke sentrum van Israel, in Jerusalam gehad het, het haar ‘n ongelooflike invloedryke en magtige persoon gemaak.  Sy was die matriarg, die koningin van die trop, en almal het vir haar gesidder.

Dit is die prentjie wat ‘n mens sien, as jy na Atalia kyk en die geskiedenis wat uit haar perspektief vir ons hier in Konings beskrywe is.

Jehoseba

Maar daar is ook ‘n ander prentjie.  Dit is die prentjie wat ons sien as ons kyk na haar dogter, Jehoseba.  In ‘n sekere sin kan ‘n mens hierdie verhaal in Konings as die verhaal van twee vrouens beskryf!  Want alles wat Joas hierna reggekry het, die herstel van die tempel en die herstel van die diens en aanbidding van die Here, kom uit die konflik tussen ma en dogter, en is die vrug van die oorwinning wat die Jahwe-godsdiens van Jehoseba oor die Baälgodsdiens van Atalia behaal het.

Wat sien ons as ons na Jehoseba kyk?

Wel ons sien dat sy en haar ma een ding in gemeen gehad het.  Hulle godsdiens, hoewel radikaal verskillend, was ‘n belangrike dryfveer in hulle lewe.  Jehoseba het die Here gedien met haar hele hart.  Trouens sy het getrou met ‘n priester, Jojada (2 Kron 22:11), en gekies vir ‘n lewe wat nie net in die aristokratiese omgewing van die koningshuis spandeer sou word nie, maar veral in die huis van die Here, die tempel.

Maar daar stop die ooreenkoms.  Die groot ander dryfveer in haar lewe was nie mag nie, maar omgee.  Sy het nie mag vir haarself nagestreef nie, maar die voortbestaan van ‘n klein eenjarige seuntjie, Joas.  Toe Atalia van moordadigheid geblaas het en in haar magsug alle nasate van Dawid probeer uitwis het, het Jehoseba ingegryp en gedoen wat sy kon om die doodslus te troef, en soos ‘n wafferse Miriam, ‘n Moses-kind, nie in die riete nie, maar in die huis van God gaan wegsteek.

Dit is eintlik ongelooflik – in ‘n sekere sin gee Jehoseba mag weg, want as sy stil sou bly en niks sou doen nie, was daar ‘n kans dat sy êrens in die lyn sou kom om self die troon te kon bestyg of ten minste ‘n kind van haar.  Maar sy kies om nie vir haarself te veg nie, maar vir ‘n ander een wat die kans sou kon hê om die troon te bestyg.

‘n Mens sien dus by haar dat haar godsdiens, haar aanbidding, haar fokus in die lewe, dié dinge wat haar gedryf het, nie om haarself gedraai het nie.  Sy wou die Here bo alles dien, en seker maak dat Sy wil in alle fasette van die lewe tot sy reg kom, ook in terme van die koningshuis, en in die beloftes wat God gegee het wat verbind was aan die huis van Dawid.  Uit sy nageslag sou immers die Koning van die hele wêreld gebore word, die Messias, die Verlosser, Jesus, die Christus.

Die aanbidding van haar God, en dit wat betekenis aan haar lewe gegee het, het dus nie om haarself gedraai nie, maar om ‘n weerlose kind, en haar God en sy beloftes.  En toe sy sien dat dié beloftes in gevaar kom met die dreigende uitwissing van die hele Dawidgeslag, het sy ingetree, en een van die kinders, die eenjarige Joas, gered en weggesteek.

En die draaiboek is daarmee eintlik vir haar geskryf.  Met die redding van die kind, is die eerste treë gegee om stukkie vir stukkie die planne bymekaar te sit om vanuit die tempel, en met die hulp van die ander gelowiges in die stad, en uiteindelik ook die gelowiges in die platteland, die koningshuis, nogal op ‘n sabbat!, weer terug te eis vir haar God, en te verseker dat die bloedlyn, wat uiteindelik op Christus uitloop, intakt gehou sou word.

Hoe mooi staan dit nie daar nie: “al die burgers van die land was bly” (11:20) en “die stad was weer rustig”.  Met die Baäldiens ’n gevoelige slag toegedien in die stadskonteks het die meer konserwatiewe platteland weer deel gevoel van die verbond, soos Jojada dit dan ook hernu het, en het ook die stadsmense tot rus gekom in hulle aanbidding van God.

En dié rol van beskerming en beveiliging van die jong Joas sou sy en haar man nog lank daarna in die lewe van hom as nuwe koning vervul.  Hulle het hom gementor en ondersteun in sy koningskap waarvan die belangrikste bydrae was die herstel van die aanbiddingsplek, die tempel, in Jerusalem.  En dit is ‘n interessante geskiedenis, wat julle gerus verder kan gaan lees in hoofstuk 12 – maar dis vir ‘n ander dag in terme van die prediking.

Wat my uitbring by die punt van dié gedeelte.

Die verhaal spreek my aan op twee maniere.

  1. Dit vra van my wat is vir my die belangrikste ding in die lewe?  Wat of wie aanbid ek?  En ..
  2. Dit vra van my waar maak ek ‘n verskil in die lewe?

Aanbidding

Ek het begin deur te sê dat die woord aanbidding nie net met godsdiens en ‘n erediens te make het nie.  Aanbidding beskryf eintlik al die dinge waarvoor ons lief is, die dinge wat ons waardeer, die dinge waarop fokus.

En die verhaal laat my die vraag vra – wat is regtig vir my die belangrikste ding in die lewe?  En let op, dit tel nie eintlik dat jy sê dat dit die Here is nie, as ‘n mens dit nie kan sien in jou hele lewe nie en dat jy kan sien alles wat jy doen word daardeur bepaal nie.

Wat jy aanbid, sien jy in die dinge wat jou dag bepaal, sien jy in wat dit is wat jou uit die bed kry in die oggend en wat jou aan die gang hou deur die dag.

As die aanbidding met God vir jou die belangrikste ding is, dan kan niks, MAAR NIKS, jou gemeenskap met God bedreig of in gevaar stel nie.  Gemeenskap met God is dan ononderhandelbaar.  Dit moet nagejaag word met alles wat in jou is, elke dag en elke oomblik van elke dag.

Dit is die waarde van die lewe van Brother Lawrence, die ongeletterde kok in ‘n klooster, wat met sy lewenspraktyk wat bekend geword het as Practicing the Presence of God die verbeelding van die Christelike wêreld aangegryp het.  Hy het geleer, alles wat jy doen, selfs as jy ‘n vloer vee of ‘n omelet vir iemand maak, moet eintlik vir God en in sy teenwoordigheid gedoen word.

Jy sien, ware aanbidding, as ‘n geestelike gewoonte, beteken nie in die eerste plek dat jy kerk toe kom op ‘n Sondag nie.  Dit gebeur wanneer jy God eerste plaas in jou lewe.  Dit gebeur wanneer wat God vir jou sê, deur sy Gees en sy Woord, vir jou meer beteken as wat ander sê.  Dit beteken om God hoër te ag as enigiets anders in ons lewe.

Ware aanbidding is om jou in te stel om God te ken en lief te hê op jou eie unieke manier.

Daarom die voorstel in die Joernaal om hierdie week een of meer van die volgende oefeninge te kies om jou aanbidding van God te verdiep:

  • Skryf ‘n brief (of lied) aan God om jou liefde en waardering vir Hom uit te spreek.
  • Spandeer elke oggend 10 minute om oor die goed en sleg van die vorige dag na te dink.  Vra jouself, waar het ek God ervaar in my dag?  Sê dan vir Hom dankie en aanbid Hom vir wat Hy vir jou doen.
  • Maak ‘n uur afspraak met God.  Vat ‘n stuk papier en skryf bo-aan die vraag: “Wat beteken vir my die meeste?”  Skryf jou antwoord daaronder.  Beantwoord die vraag dan uit die hoek van ander:  “Wat sal jou kinders, jou maat, jou kollegas, jou familie, jou gemeentevriende … en God dink: ‘Wat beteken vir jou die meeste?’”.  Vergelyk dan jou eie antwoorde met die van die ander.  Watter ooreenkomste en watter verskille is daar?  Wat sien jy van jouself raak deur hulle oë?  Vra dan vir jouself af: “Hoe moet ek my aanbidding verander?”

Waar maak ons ‘n verskil?

Maar die verhaal van Atalia en Jehoseba vra ook van my: Waar maak ek ‘n verskil?  Jaag ek my eie belang na – soos Atalia?  Of maak ek ‘n verskil in iemand se lewe – soos Jehoseba?

Jehoseba het God se stem gehoor in die krisis wat besig was om te ontvou. En met die redding van ‘n kind word die deur geopen vir die verdere optrede om die ware aanbidding van God te herstel en die belofte van die Messias uit die Juda-geslag vir nog ‘n geslag te waarborg.  Só word Jehoseba ‘n instrument in God se hand om sy plan vir die wêreld te verwesenlik.  Sonder haar bydrae sou ons die Verlosser van die wêreld, Jesus, nie geken het nie.

Die vraag wat dié verhaal dus aan ons stel, is:

  • Waar kan ons vandag nog ‘n verskil maak in die krisisse rondom ons, soos Jehoseba en Jojada?

En krisisse is daar genoeg – die onderwys, die hospitale, die gemeenskap, jou buurt, vriende, jou gesin en jou familie.

Laat dít jou aanbidding wees – om God te ken en met Hom bo alles die pad te stap, en om jou naaste te help op enige manier wat binne jou vermoë is.