Skip to main content

Handelinge 5:27-32 – Gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al

Arrestasie

Dit is die derde arrestasie van Petrus en Johannes. Die eerste was nadat hulle ‘n verlamde man by die tempel genees het (4:3).  Die tweede was nadat daar so baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind het dat die siekes in Jerusalem selfs op straat uitgedra is sodat hulle genees kan word (5:18).

Gedurende die nag is hulle egter op ‘n wonderbaarlike wyse bevry. Vroeg die volgende dag het die Sanhedrin uitgevind dat die apostels nie meer in die tronk was nie. Boonop was die apostels in die tempel besig om die mense oor Jesus en sy opstanding te leer.

Die bevelvoerder van die tempelwag is toe saam met sy wagte gestuur om die apostels te gaan haal en na die plek waar die Sanhedrin vergader, te bring.

Aanklag

Die hoëpriester val sommer met die deur in die huis voor die hele Raad, 116 van hulle, en kla die apostels van twee sake aan. Eerstens, dat hulle die bevel van die Sanhedrin om nie die mense in die naam van Jesus te leer nie, geïgnoreer het. Tweedens, dat hulle gepoog het om die Sanhedrin vir die dood van Jesus verantwoordelik te hou.  Ironies – net ‘n paar weke tevore het hulle Hom ter dood veroordeel en laat kruisig!  Praat van ‘n sirkel redenasie!

Let op hoe die hoëpriester Jesus nie op sy naam noem nie, maar net verwys na Hom met die woorde “in hierdie Naam”. Vir die hoëpriester is Jesus dus ‘n non-entiteit. Alhoewel Hy ‘n paar weke tevore nog tussen hulle gestaan het en voor hulle uit met die kruis gestap het na Golgota, word na Hom slegs in die derde persoon verwys.

Rede

Maar ten spyte van hierdie houding kan hulle Jesus nie ignoreer nie. Hoekom?  Omdat daar twee goed gebeur: 1) die apostels doen tekens en wonders, en het ‘n groot impak onder die volk, en 2) die apostels verkondig iets wat lynreg teenoor hulle eie leer staan, die opstanding van Jesus.

Die Sadduseërs het die opstanding in sy totaliteit ontken en het ook nie geglo aan engele of geeste nie.  Eintlik was daar volgens hulle nie ‘n geestelike wêreld nie.  Hulle was dus gelowiges in naam, maar in die praktyk ateïste, mense wat die geestelike wêreld se bestaan ontken het.

Die apostels en hulle werk moet daarom in die kiem gesmoor word.  Dit kan nie so aangaan nie.  Die Joodse Raad begin sleg lyk.  En hulle beskouing van die werklikheid word in twyfel getrek – en dit deur eenvoudige mense wat met soveel oortuiging hul boodskap bring.

Daarom die dreigende houding en die slegte behandeling wat hulle die apostels gee.

Verweer

En dan staan Petrus op en antwoord op die aanklagte dat ‘n mens aan God meer gehoorsaam behoort te wees as aan die mens. Petrus dink dus dat God se opdragte belangriker is as die opdragte van die Raad.  En hy spel in geen onduidelike taal die wonder van die opstanding uit nie, en die effek wat dit op die volk het nie.  Want in Jesus se Naam word vergifnis verkondig en dit is vir almal.  Daarvan is hulle getuies en aan dié boodskap sal hulle getrou en gehoorsaam bly.

Vervolging begin

Geen wonder dat die Raad hierop woedend gereageer het nie.  Hoewel hulle hier die apostels net laat slaan en daarna vrylaat met ‘n klomp dreigemente, sou die Joodse Raad in volskaalse vervolging kort hierna teen die kerk begin optree, wat sou begin met die dood van Stefanus.

Maar soos ons weet, ook dít sou boemerang, want só sou die evangelie oor die wêreld versprei.  En dit bring my by die punt van hierdie gedeelte.

Lyding en weerstand teen die evangelie is ‘n werklikheid

Lyding om Christus ontwil is ‘n werklikheid.  Daar is regdeur die geskiedenis en regdeur die wêreld ‘n weerstand teen die evangelie van Jesus Christus.  En dit is ‘n weerstand wat baie keer ook binne die kerk voorkom.

Maar, soos hier in die begin, met die apostels se ervaring, sien ‘n mens telkens dat die kerk gewillig is om hierdie lyding te aanvaar, om gehoorsaam te bly, al kos dit wat ook al.

Die apostels hou nie op met hulle werk nie.  Hulle bly getuig.  Onverstoord verlaat hulle die toneel, “bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly.  En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” (5:41-42).

Waar kom die gewilligheid om te ly vandaan?

Waaruit word Christene se kapasiteit om te ly, en selfs te sterf gebore?  En ek wil nie dat ons Christene deur die eeue romantiseer nie.  Baie was deur die eeue afvallig en het Christus in die aangesig van vervolging verloën.  Maar, baie het egter nie, soveel so dat die bloed van die martelare die saad van die evangelie genoem word.

Waar kom die kapasiteit om te ly vandaan?

Een: Verbind aan God en aan sy Seun

In tye van vervolging en swaarkry kan die tronkdeure, die blokke waarin jou voete vasgesluit word, die boeie, die martelinstrumente, die brutale behandeling, die sweepslae, of die sosiale verwerping en fisiese vernedering so maklik die finale werklikheid word.  Die bedreiging kan God verduister.

Petrus en die ander apostels antwoord:  “‘n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!”  God bly die oriëntasiepunt, die Een aan wie hulle verbind is.

En die motivering om so aan God vas te hou, kom van Jesus af.  Hy was bereid om lyding te verduur en nie daarvan terug te deins nie.  Sy gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al, motiveer hulle om, as God dit so wil, lyding uit die hande van die Raad te ontvang.  Só weet hulle, ly hulle soos Christus, en om Sy ontwil.

Meer deurslaggewend nog: God het bewys dat die reg aan Jesus se kant is deur Hom uit die dood te verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand (5:31).  Die uitsig op die vermoorde, opgestane en verhoogde Jesus, wat nou in die leiersposisie is, verklein die bedreiging van die Raad.  Die dreigemente van die Joodse Raad en selfs hulle vermoë om te straf, word gesien vir wat dit is:  kleiner en minder deurslaggewend as gehoorsaamheid en getrouheid aan Jesus.

Daarom kan die apostels die Raad ook vermaan:  Jesus is verhoog tot Leidsman en Verlosser, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe (5:31).  Hiermee dui die apostels boonop aan dat daar ‘n alternatief vir die Joodse Raad is.  Eerder as om met geweld hulle eie posisie te verskans, en hulle hardgebakte weerstand voort te sit, behoort die Joodse Raad hul te bekeer.  Deur na God as die “God van ons voorvaders” (5:30) te verwys, wil die apostels beklemtoon dat hulle nie ‘n nuwe godsdiens wil verkondig nie, maar die Joodse Raad wil help om hulself in die regte verhouding met God te bring.

Die visie op die verhoogde Jesus help die apostels dus om vervolging in die oë te staar en getrou en gehoorsaam te bly.  Uiteindelik is hulle, ten spyte van sweepslae, bly dat hulle vir die Naam van Jesus kan ly (5:40).

Twee: Verbind aan mekaar

Die apostels en gelowiges staan mekaar ook by.  Dit is opvallend dat die apostels as geloofsgemeenskap ly.  Hulle bly in mekaar se teenwoordigheid.  Hulle help mekaar om die gebeure reg te interpreteer.  Toe Petrus en Johannes by die vorige arrestasie losgelaat word, soek hulle onmiddellik die medegelowiges op en bid saam vir die vrymoedigheid om te getuig.  Hulle herken die vervolging as opstand teen God en sy “heilige Dienaar, Jesus” (4:23-31).

In die vervolging bly die apostels ‘n duidelike besef van hulle gesamentlike roeping behou:  “En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is”.

Lyding en vervolging het ‘n intense disoriënterende effek.  Mens kan maklik begin glo dat jy verkeerd is en verward begin raak.  Vervolging kan baie maklik gelowiges onseker en twyfelend maak.

Met die krag wat hulle van die Heilige Gees ontvang, getuig hulle egter met vrymoedigheid.  Ten spyte van die uiteindelike straf, hou hulle nie op om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie (5:42).  En hierin ondersteun hulle mekaar.

Lyding en vervolging is normaal

In ‘n mindere of meerdere mate roep die getuienis oor Jesus Christus as die Here altyd weerstand en lyding op.  In sommige situasies is dit meer, in ander minder.  Ons moet weet:  lyding en vervolging is normaal.  Hierdie wete kom vir Westerlinge nie vanself nie.  Ons kultuur leer ons dat ons wenners moet wees.  Wanneer ons teenstand kry, is ons geneig om te dink iets is fout, en wil ons maatreëls tref om die lyding uit die weg te ruim.  Om weg te draai van lyding, en die opneem van ons kruis ter wille van Jesus te systap, is ‘n ernstige versoeking vir die kerk van die Here.

Hoe hanteer ‘n mens dan lyding? Lyding is iets wat in die geloofsgemeenskap verduur moet word.  Dit beteken dat ONS diegene wat ly moet omarm, en moet bystaan.  Dit geld ons eie, plaaslike geloofsgemeenskappe.

Maar nie net ons eie mense hier rondom ons moet ondersteun word nie.  Ons moet ook die ervaring van die lydende kerk van die Here in lande waar daar ernstige verdrukking, marteling en moord plaasvind, ons eie maak.  As een lid ly, ly almal.  Die lyding van gelowiges in lande soos China, Saudi-Arabië, Noord-Afrika, Turkye en Noord-Korea is iets waarvan ons bewus moet wees en waarvoor ons voortdurend moet bid.

Ons mag die geloofsgemeenskap nie geringskat in sy vermoë om die uitdaging van lyding die hoof te bied nie.  Dit is in gemeenskap met ander gelowiges dat ons die kapasiteit het om te ly.

Toepassing

Ek sluit af met iets wat nie direk hiermee verband het nie, maar wel baie raakpunte.  Ons is almal geraak deur die gebeure van die afgelope paar dae rondom die gruwelike moord van Eugene Terre’Blanche en die opruiende woorde van Julius Malema en sy liedjie.  En baie van ons het die veg of vlug reaksie.  Dit is eerste orde emosionele reaksies – en daar is niks fout daarmee nie.  Dit is deel van ons verwerking daarvan.

Maar gelowiges wat met God ‘n pad stap deur die eeue het gesê: ons kan nooit net op grond van daardie eerste orde reaksies reageer nie.  Ons het nie net ‘n hart wat voel nodig nie, maar veral ‘n hart wat onderskei.  Dit is die wysheid wat Salomo van God gevra het: ‘n luisterende hart, ‘n hart wat kan onderskei, ‘n hart wat God se wil in ‘n situasie kan onderskei (1 Kon 3:9 – “luisterende hart” is met die woord gehoorsaamheid in die NAV vertaal).

En wat kan ons onderskei in dié situasie?

  • 1. Die moord was publiek – dus daar moet ‘n publieke reaksie wees om binne die wette van die land en binne die politieke en burgerlike arena vir optrede en verandering te vra.  En daar was ‘n hele paar publieke reaksies van die kerk daaroor – Piet Strauss namens die Algemene Sinode, Braam Hanekom in Die Burger.  En daar is ‘n regstelsel wat die waarheid rondom die gebeure moet uitvind en daarvolgens moet optree.
  • 2. Die moord het ‘n gesin en familie geraak – dit beteken daar moet pastoraal versorg word, soos daar klaarblyklik gedoen word.  Ons harte moet saam met hulle huil.
  • Maar laat ons tegelykertyd ook saam met al die ander gesinne wie se tragiese ervarings nie die koerante gehaal het nie, huil.  ‘n Kwartmiljoen mense is volgens my inligting die afgelope 16 jaar in ons land vermoor, waarvan 3300 boere was.  Elkeen van hulle het ‘n gesin en ‘n familie wat treur en smart moet verwerk.
  • En ons moet daar wees vir hulle, en probeer om dit wyer net as ons eie gesins- en familie kring te doen.  Dit was die uitstaande kenmerk van die eerste Christene se manier van leef – hulle was ‘n hawe vir die mense wat nood gehad het.  Bv. buite-huwelikse swangerskappe – dié mense is opgeneem in die Christelike gemeenskap en versorg.  Dit lyk my sommige kerke het nou dié boodskap gehoor, want in plaas van om vuur te spoeg oor mense wat aborsies ondergaan, bied hulle nou aan om vir die kinders te sorg.
  • 3. Die moord kom van ‘n spesifieke omgewing af, wat duidelik maatskaplike en morele gebreke het, beide op werkersvlak as werknemersvlak – dit beteken ons moet die maatskaplike en arbeidsituasie aanspreek en iets daaromtrent doen.  En daar is 6 vlakke waarop ons iets kan doen, nie net in Ventersdorp nie, maar ook hier by ons: onderwys, mediese dienste, water, werk, sanitasie, voedselverbouing.

Elspeth Liebenberg vertel dié week vir ons sel van die wonderlike projek van Life Ministries in Zimbabwe.  Een van hulle vennote, John, ‘n swart Zimbabwiër (ek sê dit net omdat dit in dié konteks nogal betekenisvol is), het ‘n groot plaas, nie een wat afgevat is nie, maar jare al in hulle familie-besit is.  En van die plaas af voorsien hulle tans ondersteuning, met bokke en mielies, vir ‘n projek wat die potensiaal het om die land te verander.

Dit werk so: ‘n Life Ministries span gaan na ‘n klein dorpie in Zimbabwe, koop ‘n stuk grond en doen dan twee goed daar.  Hulle wys die Jesus film en bring so die evangelie boodskap.  En hulle begin mielies plant.  Soos die mense tot bekering kom, leer hulle vir hulle om selfonderhoudend te wees met die mielies en die bokke.  Na ‘n paar maande gee hulle die stuk land vir die plaaslike gemeenskap met die opdrag om dieselfde vir hulle omgewing te doen, dws mense met die evangelie te bereik en te help om selfonderhoudend met mielies en bokke te wees.

Dit is so suksesvol dat internasionale organisasie begin belangstel en betrokke raak om ondersteuning te begin bied.

Ek lees die week in Die Burger dat Anton Rupert op ‘n keer hierdie ongelooflike ding gesê het: “Hier kan ek ‘n verskil maak.”  Dit is wysheid.  Dit is gehoorsaamheid, al kos dit wat ook al.

Ons gaan vannaand ‘n (kort) inter-ras gesprek hê n.a.v. die huidige situasie. Wimke gaan gesels met ‘n swart pastoor, Zolile.

Stilte:

Daar is nou ‘n moment van stilte waar elkeen die Here antwoord op sy opdrag om Hom gehoorsaam te wees al kos dit wat ook al.  Dink spesifiek aan geleenthede waar dit iets van jou gaan kos, en vra die Here vra om jou innerlik te versterk om aan Hom getrou te bly.

 

Handelinge 9:32-42 – God gee vir gewone mense om – Son 18 April 2010

Verwelkoming

Baie welkom.  Groet mekaar.

Verjaarsdae – almal wat verjaar, kan staan, dat ons geluk kan sê.

Terugblik

In die eerste kwartaal het ons bevestig dat die Bybel vir ons belangrik is – ons is ‘n Woord-gemeente.  Ons het ook gesels oor wat dissipelskap beteken, hoe ons in die voetspore van Jesus volg.

Program

Aan die begin van die nuwe kwartaal, heers daar nou ‘n gees van afwagting.  Ons kon sien hoe die Here verlede kwartaal die pad gereed maak.  Ons sien opgewonde uit na die pad wat die Here in die komende kwartaal met ons wil stap.  As gemeente gaan ons in afhanklikheid van die Heilige Gees leef.  Ons wil onsself volledig in God se hande plaas en op sý krag vertrou, nie op ons eie kragte en planne nie.

Gebed speel daarom hierdie kwartaal ‘n baie belangrike rol – meer nog as gewoonlik.  Saam met baie gemeentes in die land wag ons 40 dae lank op die Here en pleit om herlewing.  Dit is vanjaar 150 jaar sedert die vorige herlewing soos ‘n golf oor SA gespoel het en die Pinkster-bidure daaruit ontstaan het.  As ons kyk na die plofbare, onversoende situasie wat op die oomblik in ons land heers, is dit duidelik dat ons dringend weer so ‘n herlewing nodig het.

  • In ons eredienste gaan ons nadink oor wat gebeur wanneer ons in afhanklikheid van die Gees leef met die tema Gestuur deur die Gees.
  • In die weeklikse Joernaalblad sal daar riglyne vir daaglikse gebed wees. Jy kan ook jou naam op die “muur” skryf en deel vorm van die 24 uur gebedsketting. Die kerk sal elke dag van 15:00 tot 16:00 oop wees vir mense wat hier wil kom stil raak.
  • Tydens Didage kan jy in die kerk, met behulp van stilte, Skrif en kuns, op die Here wag. Of jy kan inskakel by die Bybelskool, Op pad met God of GriefShare.
  • Terwyl ons bid om die uitstorting van die Gees op ons gemeente, gaan ons ook geleenthede skep vir ons lidmate om die verskillende plekke waar ons betrokke is, te besoek.
    • Arbeidsbediening: Dinsdag 4 Mei.
    • ACVV Khayalethu Jeugsentrum: Hier is 30 kinders en jongmense. Ons besoek hulle in Noordeinde op Woensdag, 5 Mei.
    • Chesire Homes: Ons gaan drink op Sondag 9 Mei net na die oggenddiens saam met hulle tee.
    • ACVV Kamvalethu Invalsentrum: Ons besoek hulle in Noordeinde op Woensdag, 12 Mei. Hier word 10 straatkinders versorg en gemotiveer om na hulle ouers terug te keer.
  • Ons gaan Pinkster vier soos wat dit oorspronklik, 150 jaar gelede, gevier is. Terwyl die kinders in die Ark Pinkster hou, gaan die grootmense saam sing, bid en die Here se aangesig soek. Soos met die eerste bidure gaan ons onsself voor God verootmoedig, in afwagting van die werk wat Hy in en deur ons wil doen.

Votum en Seëngroet

Lofprysing

Doop

Garth en Elana Löest en hulle dogtertjie Nickela

Kindertyd

Hangman

Het julle al Hangman gespeel?  Dit is as jy net ‘n paar letters van ‘n woord kry en die ander moet raai.  Elke verkeerde raai teken ‘n mens ‘n prentjie van ‘n man wat gaan hang.

Kom ons speel dit met die volgende woord.  Ek gee vir julle W_D_W__ (Weduwee).

Wat is ‘n weduwee?

Dit is ‘n getroude vrou wie se man dood is.

Ken julle sulke mense?

Tabita

Ons lees van ‘n vrou in die Bybel wat vir sulke mense gesorg het. Haar naam was Tabita. Kyk hoe mooi lyk sy (foto op die skerm).

En sy kon goed kleremaak en het vir die weduwees in haar dorpie Joppe klere gemaak.  Dit was so wonderlik dat die mense vir haar twee name gegee het.  Die Hebreeuse mense het haar Tabita genoem.  Maar sy het so baie Grieke ook gehelp, dat die Grieke vir haar Dorkas genoem het.

Maar, toe raak sy siek en gaan dood.  En almal was baie hartseer. Hulle stuur toe 2 mans om vir Petrus te gaan roep.  En hulle wys vir hom van die pragtige klere wat sy gemaak het, toe sy nog gelewe het.

En Petrus stuur almal uit en vra vir die Here om Tabita weer lewendig te maak.

En wat gebeur toe?  God antwoord en maak haar weer lewendig.

God wys daarmee dat Hy vir gewone mense omgee, want nou het die weduwees weer iemand gehad wat vir hulle kon sorg.

Ons kan ook soos Tabita vir ander help.  Ek wil graag vra dat julle volgende week klere vir weeskinders bring.

Sal wonderlik wees as julle dit kan doen.  Dan maak ons ‘n paar kinderhartjies bly.

Sal julle dit doen?  Ek weet julle sal!

Ek gaan nou vir elkeen van julle ‘n papier pop gee (twee prentjies op die skerm).  Haar naam is Tabita.  Julle kan vir haar ‘n rokkie aantrek en met haar speel tydens die kerk.  Dit sal julle sommer ook herinner om klere volgende week kerk toe te bring.

Gebed

Handelinge 9:36-43

Terwyl die Here besig is om vir Paulus te vorm in die nuwe mens wat hy moet wees (Hand 9:1-31), is Hy ook besig om te werk aan die ander reus wat Hy gebruik in die vroeë kerk, Simon Bar-Jona. Die Here het ook aan hom ‘n nuwe naam gegee; ‘n paar jaar tevore – Kepha in Aramees of Petros in Grieks. Dit beteken “rots”. Jesus het gesê: “Op die rots sal ek My kerk bou” (Matt 16:18). Daarmee is nie net die man, Simon, bedoel nie, maar ook sy geloof. “While Saul prayed, Peter was used to open the way for a ministry to the world” (Ogilvie). Deur sy werk en sy geloof en gehoorsaamheid sou die pad na die heidene oopgebreek word.

Voordat Lukas nou beskrywe hoe die eerste heidene deur die optrede van Petrus in die kerk opgeneem is (Hand 10), vertel hy ons van twee wonderwerke wat deur Petrus verrig is. In die hele Judea het die kerk ‘n tyd van rus en vrede geniet, maar deurdat Lidda en Joppe hier genoem word, was dit duidelik dat die grense van Judea bereik is. As die kerk nog verder sou moes uitbrei, sou die evangelie na die land van die heidene gaan. Dit gebeur ook hiervandaan verder. Na die verhale van Petrus se genesings hier in ‘n etnies gemengde gebied, beweeg die kerk van Jerusalem na die heidene (10:1-11:18).

Die genesing van Eneas

32Petrus het baie rondgereis en het op ‘n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het. 33Daar het hy ‘n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was.

34”Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.”

Hy het dadelik opgestaan. 35Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

Die opwekking van Tabita

36In Joppe was daar ‘n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ‘n bokamer neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.

43Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.

Woordverkondiging

God se groot dade

Handelinge is die verhaal van God se groot dade. Dit is die prentjie wat Lukas die dokter-skrywer by sy vriend Theofilus skilder. In die boek gebeur groot ingrypende dinge, soos Jesus se hemelvaart, die Gees se uitstorting, 3000 mense wat op een slag tot bekering kom, heidene wat begin glo en dan die grootste sending-uitreike ooit!

God is besig om met groot kwashale die wêreldtoneel permanent te verander.

  • God is met Petrus op pad.
  • God is met sy kerk op pad.
  • God is met die goeie boodskap van die opgestane Jesus Christus op pad na die hele wêreld toe.

God gee vir gewone mense om

Binne hierdie Groot Storie is daar twee klein los storietjies wat eintlik nie so lekker inpas nie. Paulus, nog ‘n groot verhaal, is al op die toneel en eintlik is alles reg vir die groot geestelike beweging na die heidene … en dan glip daar hierdie twee storietjies in. Een van Eneas in Lidda en die ander van Tabita in Joppe. Eneas was verlam en het geruime tyd (8jr) gelê. Tabita was siek en het dood gegaan.

In hierdie twee klein storietjies word vertel dat die lewendmakende krag van God – in die Naam van Jesus – mense opwek, gesond en lewend maak.

En laat ons mekaar herinner:

  • Oral langs ons pad is daar klein liggies – helder maar klein.
  • Met ‘n doel – wat hulle waarskynlik self nie eens begryp nie.
  • Ons sien ‘n Eneas; ‘n Tabita; later die leerlooier, Simon, en so kan ons hulle opnoem . . . ‘n Willem en Sannie en Marie en wie ook al oor God se pad mag kom.

Lukas laat ons stop en hy laat ons kyk – na die onopsigtelike mense, doodgewone mense, wat God aanraak, vir wie Hy omgee, en dan gebruik op die groot en belangrike pad wat Hy vir die evangelie – die goeie boodskap van die opgestane Here Jesus, oopmaak.

Dit is die duidelike boodskap van dié twee stories:

  • Geen mens – hoe gering ook al – is vir God onbelangrik nie. God gee om vir gewone mense.

God gee om vir Tabita

Tabita – ‘n gewone vrou daar eenkant in ‘n klein dorpie wat goed doen en besonder mededeelsaam is – sterf.

  • Sy word ‘n dissipel (Gr mathetria) genoem wat baie insiggewend is. Dié vroulike vorm van die woord kom net hier in die Nuwe Testament voor. Die NAV het dit ongelukkig wegvertaal en haar net ‘n “gelowige vrou” genoem.
  • Sy was ‘altyd besig’ , ‘besig om goed te doen’ ‘die armes te help’. ‘n Besige by in die goeie sin van die woord.
  • Eneas was relatief onaktief vir agt jaar omdat hy verlam was; Tabita daarteenoor, was weer besonder aktief in haar diens aan die behoeftiges (:36).
  • Ons kan ‘n groot groep hartseer mense hoor wat snikkend daar rondstaan terwyl hulle vertel van al die mooi kledingstukkies wat sy al vir hulle gemaak het.
  • ‘n Mens lei af dat sy een van daardie besondere mense was wat oor grense heen barmhartigheid verleen het. Sy het ‘n Joodse en ‘n Griekse naam, Tabita en Dorkas, want beide die Jode en die Grieke het in haar barmhartigheid ‘n heenkome gevind. Sy het nie gediskrimineer tussen groepe nie. In haar barmhartigheid het sy dit reggekry om oor grense liefde te bewys. Dit is juis wat groot en belangrike mense baie keer nie kan regkry nie!
  • In Tabita gee Lukas ons dus ‘n model van Christelike omgee in ‘n gemarginaliseerde gemeenskap. Weduwees en weeskinders was immers die mees kwesbare mense in die destydse gemeenskappe. Daar was geen regeringsondersteuning of welsynsorganisasies om hulle te hulp te kom nie. Tabita het omgegee en gehelp. Sy het goed gedoen.

En haar vriende en diegene wat sy gehelp het, weet dit … en hoor dan van Petrus, ‘n gestuurde, ‘n apostel van Jesus  Christus.

  • Jesus, wat self mense uit die dood opgewek het.
  • Jesus, wat self uit die dood opgestaan het.
  • Jesus, wat aan sy dissipels die mag gegee het om mense uit die dood op te wek.

Hulle vra vir Petrus om dringend na hulle te kom.

  • En Petrus kom ook hier tot stilstand, by die gewone mense.
  • En hy buig voor die God wat mag het oor die dood.
  • Petrus praat in geloof – praat sy Meester na – en beveel die gestorwe Tabita – klein wildsbokkie – om op te staan.
  • En die dood moet wyk – sy maak haar oë oop.

Wat ons moet raaksien is dat dit God is wat Hom ontferm oor Tabita.  Vir Hom is mense wat barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm hom en gee die lewe aan Tabita – sodat sy kan voortgaan om ander te help en hulle lewe mooi te maak.

Soos Heidi Petersen sê: “The widows would not be abandoned. God would not allow it.”[1]

God is nie so besig met die groot werke van die geskiedenis dat hy die kleintjies wat aan hom behoort, vergeet nie. Die Here is nie net geïnteresseerd in die Paulusse, Petrusse en Johannesse nie – maar ook in die Tabita’s en vele anonieme goed-doeners in die wêreld. Inteendeel, ‘n mens kry die indruk dat Hy juis in die kleintjies geïnteresseerd is … dié wat gewone mooi goed doen.

Ons is vandag te dikwels behep met die groot stories en die groot getalle, groot syfers en groot geld. Selfs in die kerk is ons geneig om die lewe en die sorg van God te soek en te sien in die groot dinge. Hier sien ons hoe ook die klein dingetjies van die alledaagse, die klein mense en die eenvoudige by die Here gereken word.

Soos Tom Wright sê:

“Do not belittle the ministry of stitching, sewing, knitting and generally providing for the needs of the larger community – especially at a time before anyone dreamed of mass-produced clothes. And do not forget to celebrate, as Luke does here, the fact that the apparently ordinary people are not ordinary to God, and that when we tell the story of the great sweep of God’s purposes in history there are, at every point, the Aeneases and the Dorcases who smile out of the page at us, like the robin in the garden, and remind us what it’s really all about. Luke is right to draw our eyes down to the small-scale and immediate, in case we should ever forget that these are the people who form the heart of the church, while the apostles and evangelists go about making important decisions, getting locked up, stoned on, shipwrecked, preaching great sermons, writing great letters, and generally being great and good all over the place.”

God  is op pad na die hele wêreld.

Petrus het ‘n ongelooflike ding hier gedoen –  net soos Jesus ‘n dooie mens opgewek in God se naam.

Maar Petrus weet dis nie sy vermoë wat die dood oorwin het nie – en NB gaan bly by Simon die leerlooier. Die uitgestotene van die dorp. Die onrein man wat met dooie diere werk!

Hierdie laaste feit is betekenisvol. Leerlooiery het by die Jode tot een van die veragte beroepe behoort. ‘n Rabbi het gesê: “It is impossible for the world to do without tanners; but woe to him who is a tanner.” ‘n Jodin kon ‘n egskeiding aanvra as sy sou uitvind haar man is ‘n leerlooier.

Dit was so, omdat ‘n mens in die beroep verplig was om die dooie liggaam van diere aan te raak en sodoende onrein geword het (Lev 11:39). ‘n Leerlooier se huis of werkplek moes daarom op die buitewyke van die dorp wees as gevolg van die stank wat met die leerwerk gepaard gegaan het. Dit is heel moontlik waarom Simon se huis by die see was (10:6).

Petrus bly by so iemand oor. Dit was waarskynlik sy eerste tree op die pad om later saam met heidene te eet.   Aangesien die leerlooiers deur die Grieke en Jode verag is, getuig hierdie optrede van Petrus reeds van die vryer opvattings wat hy gehuldig het teenoor sy volksgenote. Hiermee begin hy hom reeds van die vooroordele van sy volksgenote losmaak. Sy verblyf by Simon berei hom voor vir sy ontmoeting met Kornelius in hoofstuk 10.

  • Daarvandaan doen Petrus nou God se werk.
  • God is op pad met Sy groot sending en met een van Sy groot apostels – en die pad loop deur die huis van die wildsbokkie en die leerlooier!
  • So werk God – en so mag ons nooit die geringstes verby gaan nie.
  • So mag ek ook nooit dink my stinkende huis is nie goed genoeg nie.
  • Dalk moet die apostel daar kom oorbly.

Dankoffers

Charel du Toit sing ‘n lied wat sy broer gesing het wat baie mooi by die tema van die Gees wat ons oor grense stuur aansluit: “Lewe sonder grense”.

Slotlied

Seën

[1] Heidi Peterson Clothed With Compassion (Acts 9:36-43) by http://www.religion-online.org/showarticle.asp?title=2184

Handelinge 11:19-30 – God werk deur gewone mense – Son 2 Mei 2010



GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Tema: God werk deur gewone mense

Toetrede

  • Lied 420:1 Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem, dit klink oor heel Jerusalem – sit

Votum en seëngroet

Lofprysing

  • Lied 411 Kom, almal, laat julle stem verrys! Kom laat ons die Verlosser prys. – staan
  • Lied 414 Juig, verlostes, juig en sing. Halleluja! Halleluja! – staan
  • Lied 524 God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk – sit

Verootmoediging en geloofsbelydenis

  • Lied 260 Ek glo vas in God, die Vader, wat almagtig, wys en goed – sit

Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

  • Handelinge 11:19-30

Woordverkondiging: God werk deur gewone mense

Twee uiteenlopende gebeure – dieselfde uitwerking

Dit is interessant hoe twee uiteenlopende gebeure dieselfde uitwerking kan hê.

Die eerste is die gebeure van Handelinge 10.  God beweeg hemel en aarde om Petrus by Kornelius uit te kry, waar hy die evangelie die eerste keer vir nie-Jode verkondig.  En dit het vêrreikende gevolge.  Die gemeente in Jerusalem omarm hierdie nuwe interpretasie dat die evangelie vir heidene ook bedoel is.  En dit is asof die Christelike evangelie skielik soos ‘n veldbrand begin versprei.  Dit is soos ‘n damwal wat gebreek het.  Aan die boodskap van Christus is daar nou geen keer nie.

Die tweede is die gebeure van Handelinge 8, ‘n tydjie te vore.  Met Stefanus se getuienis voor die Joodse Raad, waarvoor hulle hom stenig breek daar ‘n hewige en gewelddadige vervolging teenoor Joodse Christene uit.  Al die gelowiges is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria.

Die interessante is dat dié gelowiges nie skuiling gesoek en weggekruip het nie.  ‘n Mens sou dit immers verwag dat jy eers weer bestek sou wou opneem, en jou voete eers weer probeer vind in ‘n nuwe gebied. Maar dit was nie die geval nie.  Die vlugteling gelowiges verkondig die evangelie so ver as wat hulle gaan.  Die storie van Filippus en die Etiopiër val in hierdie tydvak, wat lei tot ‘n gelowige gemeenskap in Ethiopië, reeds voor die eerste gemeente in Europa gestig wou word.

En dan steek hierdie vlugteling gelowiges ‘n grens oor.  Hierdie gewone gelowiges begin die evangelie aan Griekssprekendes verkondig. Dit lei tot die stigting van die gemeente van Antiochië vanwaar Klein-Asië en Europa bereik sou word met drie sendingreise van Paulus.

Twee uiteenlopende gebeure – met dieselfde eindresultaat.  Die evangelie gaan oor grense na ander mense.

1.      In die een geval is dit die leiers van die kerk wat die werk van God doen.

2.      In die ander geval is dit gewone gelowiges, mense soos ons, wat die werk van God doen en deur Hom gebruik word.

Petrus se ervaring is belangrik, want dit legitimeer die uitbreiding van die evangelie onder heidense gelowiges.

Maar die uitbreiding gebeur deur gewone gelowiges!

En dit is hoe dit steeds is.

  • Geestelike leiers is belangrik. Baie keer moet hulle ook beweeg word om die visie te snap, soos hier met Petrus. Soms kos dit ook die Here om hemel en aarde te beweeg om leiers aan die gang te kry. En sonder leiers is daar baie keer nie genoeg motivering vir mense om aan die gang te kom nie.
  • Maar as nuwe uitbreidings van die evangelie regtig in getalle ‘n groot effek moet hê, kom dit van die gewone gelowiges wat aan Christus toegewy is en deur die Heilige Gees gebruik word.

Delf bietjie dieper

Kom ons kyk ‘n bietjie dieper na wat gebeur het.

Vlugteling gelowiges verkondig die evangelie net waar hulle gaan, en bereik mense in Fenisië, Siprus en Antiochië, hoewel aanvanklik net onder Jode.  Fenisië was net noord van Seserea, waar Petrus net kort tevore die evangelie aan Kornelius gebring het.

Onder hulle was daar egter gewone gelowiges uit Siprus (Griekse Jode sowel as Grieke wat die Joodse geloof aangeneem het) en Sirene (Libiese Jode uit Afrika, natuurlike Jode sowel as Libiërs wat die Joodse geloof aangeneem het) wat die evangelie aan Griekssprekendes begin verkondig het.

Barnabas kom natuurlik van die eiland Siprus (Hd 4:36), en op die eerste sendingreis is dit ook die eerste plek waar hy en Saulus aandoen (hfst. 13).

Maar die verwysing na Sirene is nogal besonders.

1.      Ons lees in Markus 15:21 van Simon van Sirene, die pa van Aleksander en Rufus, wat Jesus se kruis gedra het, heel moontlik ‘n Libiese Jood.

2.      In Handelinge 2:7 lees ons dat met die uitstorting van die Heilige Gees daar ook mense van die “dele van Libië om Sirene” teenwoordig was, “Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het” aanwesig was wat tot bekering gekom het.

3.      Volgens Handelinge 6:9 was daar ‘n Joodse gemeenskap van vrygemaakte slawe afkomstig uit Sirene en Aleksandrië, en hulle nakomelinge, die sogenaamde Sinagoge van vrygelate slawe.

4.      En in Handelinge 13:1 lees ons dat “Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was … Simeon wat ook Niger genoem is (Niger was ‘n Latynse naam wat swart beteken – dit is waarskynlik dat hy ‘n swart Jood was of ten minste swart van gelaatskleur, want dit word spesifiek deur Lukas uitgelig – dit is selfs moontlik dat hy dieselfde man is as die Simon wat Jesus se kruis gedra het), Lucius van Sirene (vgl ook Rom. 16:21)” en dan natuurlik Barnabas, Manaen, wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus.

Die getuienis van die gewone gelowiges lei dus tot die stigting van die gemeente van Antiochië vanwaar Klein-Asië en Europa bereik sou word met drie sendingreise van Paulus.

Antiochië was die derde grootste stad in die Romeinse ryk, en was daarom ‘n betekenisvolle uitbreiding van die evangelie.  Die grootste was natuurlik Rome.  Geen wonder dat Paulus se bediening onafwendbaar na ‘n tydperk ook in Rome gelei het.  Die tweede grootste stad was Alexandrië in Egipte, wat eweneens ‘n baie belangrike Christelike bastion in die vroeë dae van die kerk geword het.  Barnabas en Markus word byvoorbeeld met die stad verbind.

Terloops: dat Jesus as die Here verkondig word en nie as Christus nie aan hierdie Griekssprekende heidene is betekenisvol.  Christus was ‘n konsep wat meer tot Jode gespreek het as tot heidene, weens die lang Messias verwagting in Israel.  Die konsep Here was weer meer bekend aan die Grieke, want so is  hulle eie gode genoem.

En dit is ook interessant hoe ‘n goeie band hulle met die gemeente in Jerusalem behou.  Daar is oor en weer besoeke en met die groot hongersnood samel hulle geld in vir ‘n hulpfonds om die medegelowiges in Judea te help.  Geen magsbasisse en geen gevestigde belange nie.  Daarom kon hulle hulp verleen uit die oorvloed waarmee die Here hulle geseën het.

En dit is gewone gelowiges wat hierdie dinge gedoen het, sonder ‘n lang en deeglike teologiese opleiding.  En ek wil nie die opleiding misken nie, Paulus was ‘n baie geleerde man en was ‘n evangelis sonder weerga.  Maar die insig om oor Jesus as Here te praat, omdat dit ‘n beter ingang sou kry by die Grieke is deur die Gees aan gewone gelowiges gegee.

Wat ons verder moet raaksien, is dat dit Joodse gelowiges is uit ander wêrelddele wat die brug word vir die evangelie na die wêreld toe.

  • Jesus van Nasaret was ‘n Jood. Die twaalf volgelinge van Jesus was Jode. Paulus, Barnabas, Silas en Apollos was almal Jode. Die eerste Christene was Jode. Die eerste gemeentes ontstaan binne die verband van die Joodse sinagoge.
  • Onder die eerste volgelinge van Jesus is daar egter reeds Jode met Griekse name: Andreas en Filippus.
  • Paulus kom uit die Griekse stad Tarsus in Klein-Asië (Hd 21:39; 22:3).
  • Barnabas kom van die eiland Siprus (Hd 4:36).
  • Die gemeente in Antiogië word deur Joodse Christene uit die Diaspora (Siprus, Sirene) gestig en deur ander Christene uit die Joodse Diaspora soos Paulus en Barnabas (Hd 11:19-26) opgebou.

Daar is dus ‘n kruis-kulturele aspek aan die verspreiding van die evangelie wat ons nie moet ligskat nie.  Ons moet mense met ‘n ander kultuur toelaat om die Here te dien, en ook vir ons te bedien, want dit bring gewoonlik ‘n verdieping en uitbreiding van die evangelie wat ons nie self kan bewerk nie.

Dit moet ons anders laat dink oor onsself.

Leiers is belangrik, en deur die gehoorsaamheid van hierdie gewone gelowiges sou die beste leier wat ooit in die kerk gewerk het, op drie wêreldveranderende reise gestuur word.

Maar sonder die gewone gelowiges se eie evangeliese ywer, en die ouderlinge se onbaatsugtige werk, sou die evangelie baie maklik tot ‘n Joodse sektegroep beperk kon gewees het.

Om die feit te staaf, is dit Interessant dat die apostels nie genoem word in vers 30 nie, as Antiochië geld stuur vir Jerusalem vir die hongersnood nie, net die ouderlinge.  Dit is asof die apostels op die agtergrond begin tree, en behalwe in Handelinge 15 word hulle nie verder genoem nie.  Wel die ouderlinge!

Die boodskap is duidelik: die evangelie se uitbreiding hang van jou af, van die ouderlinge in hierdie gemeente, en van my af: maar dan duidelik in daardie volgorde.

En dit is vir my wonderlik om te hoor van Danie Mouton wat baie rondgaan by gemeentes in die Oos-Kaap.  Hy sê oral kom hy Somerstrand lidmate teë wat in die gemeenskap werk.  Dit laat my anders dink oor ons bedieninge.  Ons het baie bedieninge, maar elke lidmaat van ons is eintlik ‘n bediening op sy eie!

Ons gaan in hierdie volgende paar weke ‘n paar besoeke aflê aan plekke waar ons lidmate betrokke is in die stad en omgewing.  Daar is pamflette wat vir u inligting gee oor die plekke wat ons gaan besoek, die tye wat ons vertrek en wat ons daar gaan doen daarin kry.

Kom kyk en stap in die voetspore van Jesus in ons stad in en gaan kyk waar oral Hy besig is.

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotlied

  • Lied 527 Die werk behoort aan U, ons Heer – die werk waarin ons staan – staan

Seën

Amen

  • Lied 313 Amen – staan

Johannes 16:12-15 – Ons sal die waarheid ken – Son 30 Mei 2010



Kindertyd

Ons kom by die hoogtepunt van die kerklike jaar:

  • Kersfees
  • Kruisiging
  • Hemelvaart
  • Pinkster

Vandag dink ons aan God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.  En ons loof Hom omdat Hy vir ons so lief is.

Kom ons dink gou eers oor ‘n GPS.  Ken julle dit?

‘n GPS is ‘n baie handige instrument.  Dit help jou om nie te verdwaal nie. Om die waarheid te sê, as jy wel verdwaal, help die GPS jou om die pad terug te vind.

Wat sou gebeur as die GPS niks sê as jy van koers af gaan nie?  ‘n Mens sou heeltemal verdwaal en nie weet waar jy is nie!  Die GPS moet altyd vir jou terugbring op die regte pad, sodat dit jou kan help om jou rigting te kry.

Die Here het vir ons ‘n betroubare GPS gegee, ‘n geestelike GPS.  Ons geestelike GPS is die Heilige Gees.  Waarheen bring die Heilige Gees ons altyd weer terug?  Hy wys altyd weer terug na die Bybel.  Dit is waar ons geestelike kos kry en waar ons weet wat God wil hê dat ons moet doen.  Die Heilige Gees is soos die GPS, so ‘n stemmetjie hierbinne ons, ‘n wete, wat ons help om te weet wat God wil hê, hoe Jesus wil hê dat ons moet lewe.

Sommige mense wil vertrou op hulle gevoelens.  Maar dit help nie.  Ons gevoelens kan verander.  En as ons goed voel oor iets, beteken dit mos nog nie dat iets goed is nie, of hoe?

Sommige mense kyk weer wat ander mense doen.  Dit help ook nie.  Net omdat almal iets doen, beteken dit nog nie dit is reg nie, of hoe?  Môre doen hulle weer iets anders.

Die Heilige Gees lei ons deur die Bybel om God se wil te verstaan.  Meer nog.  Hy help ons om God se wil te doen.  Hoe doen Hy dit?  Hy is binne ons en oortuig ons van wat reg is.  En Hy gee vir ons die krag om God se pad te kies.  Om in die Bybelse pad te loop.

Elke keer as jy nie weet hoe verder nie, kan jy die Bybel oopmaak en die Heilige Gees vertrou dat Hy vir jou die regte woorde sal gee, sodat jy kan weet in watter rigting jy moet gaan.  Nes ‘n GPS.

Kom ons dank die Here dat Hy sy Gees vir ons gegee het, sodat ons sy wil in die Bybel kan verstaan en dit kan doen.

Gebed

Skriflesing

  • Johannes 16:12-15

12”Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Woordverkondiging

Die fokus van Drie-eenheidsondag is nie op die misterie van die dogma nie, maar op die misterie van God self.

Jesus is op pad na Getsemane en dit is die laaste keer dat Hy en sy dissipels voor sy kruisiging saam is. Hy lig die sluier oor die Gees se werk ná sy kruisiging. En daarmee troos Hy sy dissipels, gee Hy vir hulle iets om aan vas te hou, terwyl die donker van die kruis al hoe nader kom.

En die wonder is dat Hy nie praat oor hulle wat moet probeer doen om by God uit te kom nie.  Nee, God kom na ons toe. Dit is die evangelie in hierdie teks.  Ons sal die waarheid ken, sê Jesus, want Hy is die Gees van waarheid.  En dit is Hy wat na ons toe kom.

Hy fokus dus die dissipels se aandag weg van sy naderende afwesigheid.  Sy afwesigheid, sy weggaan met die Hemelvaart, gaan sy Teenwoordigheid in die Gees bring, wat Hom meer teenwoordig sal maak as wat Hy met sy lewe op aarde was.  Meer nog.  Die Gees verteenwoordig nie net vir Hom nie, maar ook vir God die Vader, so aldrie is tegelyk by ons.

Soos iemand gesê het: “Absence becomes an experience of incredible fullness of presence.”

Maar is dit nie te misterieus nie?  Kan dit so wees?  Het ons die waarheid hieroor beet?

“In ‘n dorpie in La Mancha het daar nie lank gelede nie ‘n ware heer gewoon, wat ‘n lans, ‘n antieke skild, ‘n uitgeteerde perd, en ‘n vinnige jaghond aangehou het.”

Só begin Miguel Cervantes sy fiktiewe verhaal van ene Alonso Quixano, wat op die La Mancha-vlakte in sentrale Spanje woon.  En hy is duidelik iemand wat kontak met die werklikheid verloor het.

Hy noem homself Don Quixote de la Mancha en herdoop sy uitgeteerde ou perd met ‘n aristokratiese naam: Rocinante.  ‘n Naburige plaasmeisie Aldonza Lorenzo word sy edele beminde, al weet sy self niks daarvan nie.  Haar gesofistikeerde nuwe naam is Dulcine adel Toboso,

Vroegmôre vertrek onse Don, geklee in sy verweerde borswering, en eindig by ‘n herberg, wat hy vir ‘n kasteel aansien.  Die bestuurder, vir Don Quixote die edelman in bevel van die kasteel, word versoek om Don tot ridder te slaan.

En Don vertrek op ‘n soektog na roem en heldedade.  ‘n Buurman, Sancho Panza, word sy assistent, met die belofte dat hy goewerneur van ‘n eiland sal word.  En sy eerste avontuur is wanneer hy ‘n paar windmeulens  aanval wat hy aansien vir groot reuse.

Ja, windmeulens word aangesien as reuse.  Die edelvrou Dulcinea is eintlik ‘n plaasmeisie.  Die hings Rocinante is eintlik ‘n brandmaer gedierte.  Sancho Panza, die goewerneur, is eintlik spreekwoordelik een van die stomper messe in die laai…

Wat kan ons glo?

Is dit moontlik dat die dissipels van Jesus dalk uit hulle verbeelding geleef het, en dinge gesien het wat nie bestaan nie?  Was Jesus nie dalk soos Don Quixote besig met ‘n dwase avontuur nie?  Berus ons geloof dalk op lugkastele?  Het ons nie miskien net te min kontak met die werklikheid nie?  Kan ons inderdaad die waarheid ken?

Wat bedoel Jesus as Hy sê: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (16:13)?

Die eerste ding wat ons weer onsself aan moet herinner, is: Waarheid word geopenbaar

Volgens moderne opvattings is waarheid iets wat mens sintuiglik en met jou verstand bepaal.  Jy ondersoek iets, jy neem dit waar, jy meet en toets dit, jy formuleer teorieë en bepaal die waarheid daarvan.  In die soeke na waarheid moet mens skepties wees.  Jy kom by waarheid net uit wanneer jy dinge nie vir soetkoek opeet nie, en deurdring na die diepste kern van daarvan.

Geen wonder ons dink naderhand iets wat ons nie kan waarneem of meet nie, bestaan in werklikheid nie.  Op hierdie manier word geloof eintlik onmoontlik.  Niemand kan God in die fokus van ‘n mikroskoop kry nie.  Ons kan God nie optel, vermenigvuldig, deel of aftrek nie.  Bestaan God dan nog?  Vandaar dat sommige mense kies vir ateïsme (“God bestaan nie”) of agnostisisme (“Ons kan nie met sekerheid sê of God is of nie”).

Maar, as ons enigste waarheid die kennis is wat ons self verwerf, is ons spoedig diep in die moeilikheid. Die lewe het dan geen groter doel meer nie.  En ons kan nie meer die volgende vrae antwoord nie: Waar kom die wêreld vandaan?  Waar gaan die wêreld heen?  Wat is die doel en betekenis van ons bestaan?

Die wêreld het immers begin lank voor ons lewe begin het.  En waarskynlik gaan die wêreld na ons dood nog voortbestaan.  Ons is iewers in die middel van die wêreld se geskiedenis gebore en in onsself het ons geen idee wat die plot van ons werklikheid is nie.  Waarom bestaan ons?  Waarvoor leef ons?

Daar is baie mense wat hierdie vrae ontwyk.

  • Sommige mense sê ons bestaan om handel te dryf, ons vir onsself ‘n lewe te skep.  Die diepste werklikheid is die finansiële waarde en potensiaal van die dinge rondom ons.
  • Nog ‘n idee is dat ons volksverband die hoogste werklikheid is – ons lewe vir ons genetiese of etniese groep.
  • Ander sê weer ons lewe om die beste daarvan te maak sodat ons in ‘n volgende lewe in ‘n beter gestalte kan terugkeer. Uiteindelik, na ‘n proses van selfverbetering in verskillende lewens, sal ons geluk smaak.
  • Of ons lewe omdat ons DNA ten alle koste wil voortplant en voortleef.  Ons staan in diens van ons genetiese kode.
  • Nog ‘n moontlikheid, wat ons baie keer in die koerante lees: ons lewe omdat ons uit oerchaos ontstaan het, en dinge bloot toevallig so uitgewerk het.  Ontwikkeling en toeval is die skepper.

Jesus verduidelik dat ons nodig het om waarheidskennis van buite onsself te ontvang. Ons kry die Gees van waarheid as geskenk, en die Gees lei ons in die volle waarheid.  Daar is dinge wat mens nooit sal weet, tensy jy die inligting as openbaringsgeskenk kry nie.  Voorbeelde van hierdie soort inligting is:

  • Kennis van wie God is, en wat God se bedoelinge is – Hy is liefde en wil alles vul met sy liefde.
  • Kennis van waar die wêreld vandaan kom en waarheen dit op pad is – God het dit gemaak en roep ons na Hom toe.
  • Kennis waarom die wêreld in ‘n gebroke toestand is en hoe God dit hanteer – Hy is in die herstel en versoeningsbesigheid.  Hy maak alles  nuut met sy teenwoordigheid.
  • Kennis van wie ek is en wat die doel is van my lewe – Ek is ‘n verteenwoordiger van God en ek moet Hom verheerlik.

Deur die eeue het God mense betroubaar hieroor onderrig. Die onderrig het ‘n hoogtepunt in die voorbeeld lewenswandel, dade en lering van Jesus Christus van Nasaret, die Seun van God, bereik.  Jesus is die waarheid.  Die waarheid is nie ‘n beginsel, ‘n feit, ‘n genoom of ‘n formule nie, maar ‘n Persoon.  In Hom was God persoonlik aanwesig op aangesig van hierdie wêreld.  Die Heilige Gees word aan ons gegee om Jesus se lering en voorbeeld by ons in te skerp.  Trouens, deur die werk van die Gees is Jesus, en die Vader wat Hom gestuur het, steeds by ons teenwoordig.

Die Gees herinner ons aan wat Jesus geleer het.  Vandaar die belydenis dat die Gees die kandelaar is by die Boek wat getuig oor Jesus.  Die Gees staan ons by om die Skrifte vanuit die lewe en werke van die lewende Here te lees, te verstaan en toe te pas.  Hy is, soos ek vir die kinders gesê het, die GPS, wat ons onfeilbaar weer terug bring na die Boek van die Lewe, die Bybel.

Die tweede herinnering:  God, as Vader, Seun en Heilige Gees is die diepste waarheid en die hoogste realiteit

Die belydenis dat ons ‘n God aanbid wat een in die verhouding van Vader, Seun en Heilige Gees is, beskryf die diepste waarheid en hoogste, finale realiteit.  Daarom kan Eugene Peterson sê:

“Early on the Christian community realized that everything about us – our worshipping and learning, conversing and listening, teaching and preaching, obeying and deciding, working and playing, eating and sleeping – takes place in the ‘country’ of the Trinity, that is, in the presence and among the operations of God the Father, God the Son, and God the Holy Spirit.  If God’s presence and work are not understood to define who we are and what we are doing, nothing we come up with will be understood and lived properly.” (Christ plays in ten thousand places).

Vir ons is die konsep van die Drie-eenheid dikwels ‘n dogma wat ons probeer verduidelik, nie regtig verstaan nie, en waaroor ons wonder wat die werklike waarde daarvan kan wees.  Die laaste ding wat mens met die Drie-eenheid moet probeer doen, sê Calvyn, is om dit te probeer verduidelik.  Mens kan nie, en enige poging doen afbreek aan die diepe geheimenis van wie God is.

Die punt is:  die lewende, liefdevolle verhouding tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees, is die goddelike geselskap van waaruit die wêreld in aanskyn geroep is.  En hierdie Goddelike Geselskap reik uit na ons, tree met ons in ‘n verhouding, leer ons en staan ons by.  Op ‘n menslik-verstaanbare vlak word die diepste geheime van die Goddelike Gemeenskap se gedagtes oor ons, werk met ons, en uiteindelike bedoelinge met ons aan ons gekommunikeer.

Ons leef in die landskap van die Drie-eenheid. Die eerste en laaste feit waarmee ons rekening moet hou, is die werklikheid van God.  Die eerste en laaste feit wat ons lewe en ons reaksies op dinge moet verreken, is die bestaan van God.  ‘n God wat vir ons lewe gee, met ons praat, en in wie se gemeenskap ons ons altyd bevind.

Daaroor kan ons die Here loof en prys.  In hierdie lof kan ons elke dag lewe.  En oor hierdie lewe van lof kan ons ons laat leer deur die Heilige Gees.

Die derde herinnering is:  Waarheid het met verhoudinge te doen

Op grond van die Bybel bely die Christelike kerk dus dat die hoogste waarheid persoonlik is.  Waarheid setel in die persoon van God, waarvan die Heilige Gees ons deur die Woord leer.

Hierdie persoonlike Waarheid is boonop verhoudingsmatig, want die drie-enige God bestaan in die verhoudinge van Vader, Seun en Heilige Gees.

Die leer van die Drie-eenheid is daarom nie ‘n poging om God te verklaar nie, maar ‘n getuienis dat God God-self as persoonlik en in verhoudinge openbaar.  God leef in gemeenskap met mans, vroue en kinders wat geroep word om met God in gemeenskap van liefde te leef.  Hierdie lewe met God is persoonlik – ons beleef onsself as persoonlik geliefd, mense wat vergewe is, met ‘n persoonlike hoop en ‘n persoonlike behoefte om God te dien en te prys.  Ons ken God nie omdat ons God kan definieer nie, maar omdat God ons persoonlik liefhet en ons leer om God lief te hê.

Weer Eugene Peterson:

The consequences of this are personally revelatory: another does not know me, nor do I know another, by defining or explaining, by categorizing or psychologizing, but only relationally, by accepting and loving, by giving and receiving.  The personal and interpersonal provide the primary images (Father, Son and Holy Spirit) for both knowing God and being known by God.  This is living, not thinking about living, living with, not performing for.

Die vierde herinnering en ook die toepassing: wat beteken dit vir my?

Wat beteken dit vir my dat die diepste waarheid met God Drie-enig te doene het, en persoonlik en verhoudingsmatig is?  Wat beteken dit vir my dat die Heilige Gees spesifiek gegee word om ons in hierdie Waarheid te lei?

•        Enige poging om ons wêreld los van God te bedink of te verstaan, kan nooit betroubare waarheid aan ons verskaf nie.  Ons het God en God se openbaring nodig.

  • Die diepste waarheid is die persoon van God, en die verhoudingmatige karakter van God. Waarheid kan daarop nie in ‘n slagspreuk vasgevang word nie. Geen mens beskik oor die volkome waarheid nie. Ook nie die kerk kan in die naam van Waarheid optree asof dit mag gee, of die reg om ander te veroordeel nie. Mens kan waarheid nie op ‘n kanonloop verf nie. Jy kan dit nie in ‘n politieke beleid vasvang, waarmee jy dan ander platskiet nie. Jy kan God nie opeis vir jou party nie. Jy kan die waarheid nie beheer en diensbaar maak aan jou eie motiewe nie. Die waarheid is persoonlik en relasioneel. Die waarheid kom in die Persoon van God na ons toe.
  • Wanneer Christene die waarheid probeer gebruik om verdeeldheid te saai, ander te veroordeel en te verdoem, het ons die waarheid verloor. Die Waarheid eer altyd verhoudinge, wil die kwaad oorwin deur die goeie, wil verskeurdheid vervang met genesing, wil die leeu en die lam saam laat wei. Die Waarheid is liefdevol en geduldig, en ly dikwels onder die leuen. Die reg om te oordeel en wraak te neem kom aan God alleen toe. Ons kennis en insig is te beperk om onsself as finale regters oor ander aan te stel. Ons is die lammers wat die vrede van herstelde verhoudinge met ander deel.
  • Aangesien die Gees ons lei in die volle waarheid, kan ons die boodskap van die waarheid versprei. Ons kan dit doen op ‘n manier wat ander intrek in verhouding met die hoogste Waarheid. Ons kan die geur van die evangelie versprei, en die evangelie toelaat om mense te vernuwe. Hierdie waarheid wys die onreg uit, vernuwe lewens, skep wedergeboorte en bekering, oorwin die kwaad, vernietig die leuen. Die waarheid doen dit, omdat dit die waarheid van God is. Die Gees gebruik die waarheid vir hierdie doel : om te oortuig van sonde, om mense na God te laat gryp, om mense tuis te laat kom in die lewensvernuwende waarheid van ‘n verhouding met God
  • Die waarheid van God is publieke waarheid. Dit beteken dat waarheid nie net geestelik is nie, dit is waarheid vir die volle lewe van die hele wêreld. Die waarheid is nooit net indiwiduele opinie nie, of net waar vir diegene wat dit erken nie. Die waarheid is publiek, geldend vir die hele wêreld. Daarom word ons geroep om te getuig oor die waarheid waarin die Gees ons lei. Die wêreld moet hoor van die werklikheid van God.

Ons kan met oortuiging sê ons jaag nie windmeulens nie.  Ons leef uit die betroubare waarheid van God.  Ons sal die waarheid ken.

Galasiërs 2:15-21 – Jy is welkom net soos jy is – Son 13 Junie 2010

Teks – Galasiërs 2:15-21

15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ‘n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Woordverkondiging

Pa- en Ma-Koedoe moes vir twee dae na ‘n ver plek vir noodsaaklike sake vertrek.  Hulle roep hulle koedoe-kindertjies bymekaar en vra mooi dat hulle by die ander koedoes in die ruigtes moet bly.  Die kinders mag onder geen omstandighede naby die rivier gaan nie, want daar skuil gevaar.  Koning Leeu is in die omgewing en ‘n hele klomp luiperds het hulle by die rivier tuisgemaak.  Dis doodsake.  Die klein koedoetjies beloof hand en mond hulle sal gehoorsaam wees.

Toe pa en ma terugkom, is die kinders skoonveld.  Dit gee ‘n vreeslike soektog af.  “Moet ons nie by die rivier gaan kyk nie?” vra Oupa-koedoe, ‘n ringkop in die koedoe-familie.  Einde ten laaste, toe dit al amper donker was, soek die koedoes rivier langs.  Hulle kom op ‘n klomp klein koedoe-ore af wat daar teen die rivier se wal lê.  Leeu-spore lê die hele wêreld vol. Die oortjies is al wat van die ongelukkige koedoes oorgebly het.

“Nee,” sê pa- en ma-koedoe, “dis beslis nie ons kinders se ore nie, want ons kinders hét nie ore nie!”

Daar was al baie hartseer en ongeluk in die wêreld omdat mense nie luister nie.  Hulle hoor, maar sukkel om werklik te luister en te reageer op wat hulle hoor.

Paulus se brief aan die gemeentes wat hy in Galasië gestig het, is vol van hierdie worsteling.  Luister tog! Hoor tog!  Verstaan tog!  Lewe tog soos ek julle geleer het!

Paulus se stryd met Petrus

Galasiërs is Paulus se mees intense brief.  Die apostel is opgewerk, ontsteld, soms self brutaal en ongenaakbaar.  Die gemeentes moet die regte boodskap hoor!  Hulle moet van die waarheid oortuig word, en so die valsheid kan raaksien.  Hy argumenteer indringend met hulle, sodat hulle die regte keuse vir die waarheid kan uitoefen.

In die gedeelte wat ons teks voorafgaan, vertel Paulus van sy pynlike ervaring met Petrus.  Hy moes hom openlik teen Petrus verset.  Petrus het gelowiges uit die heidendom aanvaar en saam met hulle geëet totdat daar Jode uit Jerusalem opgedaag het.  Skielik word die nie-Jode toe uitgesluit, Petrus begin hom eenkant te hou.  Alles omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.  Op ‘n harde, reguit manier noem Paulus dit huigel (2:13) en ‘n afwyking van die reguit pad van die evangeliese waarheid (2:14).

Dit was ‘n pynlike situasie.  Vandaar die opgewonde trant van die Galasiërbrief.  Terwyl die reddende krag van Jesus Christus mense tot een verloste gemeenskap saambind, bo-oor die beperkende grense van die Joodse wet, wil die Galasiërs nou weer die grense van die wet handhaaf.

Mense en hulle insluiting in die liggaam van Christus is op die spel

Sien, die probleem met die Joodse Christene was nie dat hulle gedink het redding kom deur gehoorsaamheid aan die wet nie.  Hulle het geweet redding is ‘n onverdiende gawe van God.  Máár, hulle het gemeen die gepaste manier om die redding uit te leef, is deur die onderhouding van Joodse gebruike, rondom veral die besnydenis, die dieetwette en die onderhouding van die feesdae.  As jy in Christus glo, en jy is gered, moet jy dit toon deur soos ‘n Jood leef.

Maar die probleem met só ‘n standpunt, is dat dit mense om die verkeerde redes uitsluit.  Die gelowiges uit die heidendom word dus uitgesluit op grond van hulle onvermoë of onwilligheid om aan die Joodse wetsvereistes te voldoen.  Daarmee word die goeie nuus van Jesus Christus beperk.

Die Joodse Christene het dus van die Joodse wet ‘n lewenstyl gemaak wat as ‘n verpligting op alle nuwe bekeerlinge geplaas is.  Daarmee het hulle ‘n “plus” by die goeie nuus geplaas wat die evangelie self bedreig het.  Dit lê ‘n beperking op Christus se werk, volgens vers 17.

Jy is welkom net soos jy is

Die toegang tot verlossing in Jesus Christus setel nie in jouself nie, maar in die genade van God deur Jesus Christus.  Daarom kan niemand voorspel wie die genade sal hoor en aangryp nie.  ‘n Voorwaarde vir insluiting in die geloofsgemeenskap is nooit hoe ordentlik, aanneemlik, aanvaarbaar en verdienstelik jy is nie.

Don Browning sê graag, dat daar eintlik net twee soorte geloofsgemeenskappe is:

  • Die een is waar jy binnekom en gevra word om in die teenwoordigheid van God te wees, maar jouself en dit waarmee jy tans in jou lewe besig is liefs buite moet laat.
  • Die ander geloofsgemeenskap is waar mense in die teenwoordigheid van God ingenooi word en waar hulle volle menswees óók teenwoordig mag wees.

Dit is soos hierdie tweede tipe geloofsgemeenskap wat ons moet wees.  Mense moet kan kom na die Here en na sy kerk letterlik soos hulle is.  Of jy die onrein Samaritaanse vrou by die put is, of Saggeus die hooftollenaar en hoofskurk, die ryk jongman, die Kanaänitiese vrou, Saulus die hoofvervolger van die kerk, Nineve die politieke vyand, of wie ook al is, jy kwalifiseer vir genade.  Jy moet kan kom soos jy is.  Jy is welkom net soos jy is.

Vanuit menslike oorwegings kan die vrye toegang en die oorvloedige genade van God in Jesus ‘n skandaal vir die kerk wees.  Die omhelsing van die sondaar kan vir ons smerig raak, en ons reputasie in gedrang bring.  Letterlik en figuurlik.

Steve Biggs van ‘n gemeente in Melville, Johannesburg, vertel hoedat hulle onlangs T-hemde uitgeruil het in hul straatkinderprojek.  Lidmate het letterlik hul eie T-hemde uitgetrek, dit vir die kinders aangetrek, en die kinders se hemde vir hulself aangetrek.  Die volgende dag het hulle die kinders in die erediens ingenooi, en die skoongewaste flenterklere van die vorige dag saamgebring kerk toe, sonder om hul eie T-hemde terug te verwag.  Dit was verskriklik moeilik om dit te doen, maar dit het die kinders op ‘n kragtige manier ingesluit.  Christus sluit almal in, sy genade is vir ‘n ieder en ‘n elk.  Gelowiges in Melville het die evangelie nuut gehoor, en dit daarom gedoen.

Mense is geskenke van die Here

Wat baie help, is om aan mense te dink as geskenke van die Here.  Mens ontvang mos jou natuurlike broers en susters, jy kies hulle nie self nie.  Dieselfde in die kerklike gemeenskap.  Jou broers en susters in die Here ontvang jy ook.  Hulle is geskenke van die Here aan ons.

Daarom is dit so deurslaggewend hoe ons kyk na mense wat oor ons pad kom.  Mense is geskep na die beeld van God – die ou teologiese gesegde van die Imago Dei. Dit is waar van alle mense wat ons pad kruis.

In ‘n wêreld waar die kitsbank jou waarsku dat alle vreemdelinge as gevaarlik beskou moet word, is dit belangrik om hierdie ingesteldheid van Imago Dei ‘n gewoonte te maak. ‘n Imago Dei blik in jou oë maak nogal ‘n verskil in die manier waarop jy na mense kyk, oor hulle dink en na hulle luister.

Dit geld natuurlik nie net vir die mense met wie ons ‘n natuurlike gevoel van toegeneentheid het nie, maar juis hulle by wie ons sou verby stap omdat hulle anders as ons is. Leer die gewoonte aan om hulle in die oë te kyk, gereed te wees om deur hulle “disrupt” te word en tyd te maak om na hulle te luister.

Mense wat van my verskil is steeds welkom

Wanneer weet ‘n mens iemand behoort aan die Here?  Wanneer is iemand waarlik ‘n Christen?  Is dit wanneer mense my lewenstyl aanneem en daarvolgens lewe?  My reëls van ordentlikheid en behoorlikheid navolg?  Moet mense aantrek, praat, dink, sing, in die erediens vergader, soos ek dink hulle moet?  Of is daar ander gestaltes van gehoorsaamheid moontlik wat mag verskil van my voorkeure?

Paulus gee vir die Galasiërs net een oorweging as kriterium vir Christenska[.  Leef Christus in jou, of nie? En as jy in Christus glo en Hy in jou leef, dan is jy welkom net soos jy is!

Dit is dan ook die betekenis van die moeilike tweede gedeelte van die perikoop wat ons geleeS het.  Want sien, as ons aan Christus behoort, is ons eintlik saam met Hom gekruisig, gekruisig vir ‘n ou manier van leef, volgens die standaarde en reëls van die kultuur waaruit ek kom.  Daarom kan Paulus sê in vers 20: “nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

En “Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Dit is wat Johannes Calvyn ook bedoel het, toe hy ‘n onderskeid gemaak het tussen die kern van die evangelie en sake van middelmatige belang.  Dit wat van middelmatige belang is (voorkeure, ‘n bepaalde lewenstyl, ons gedragreëls) mag nie verhef word asof dit van die hoogste belang is nie.  Jesus is van die hoogste belang, en Jesus sluit almal in wat deur geloof hulle vertroue op Hom as Redder en Here stel.

En in ons tyd het die bekende sendeling en ekumeniese teoloog Lesslie Newbigin verder hierop uitgebrei en gewaarsku daarteen dat Christene etiese reëls formuleer vir mense wat uit ander kulture of uit ander agtergronde as hulle tot bekering kom.  Wanneer ons reëls aan hulle oplê wat eintlik bloot ons voorkeure is – hoe ons teenoor mekaar in die samelewing moet optree, hoe ons verhoudinge moet werk of selfs hoe ons moet aantrek of hoe ons moet sing of dans – onderskat ons die werk wat die lewende Christus deur sy Woord en Gees in hulle lewens doen.

Dit het ‘n vernietigende effek om mense in of uit te sluit op grond van die lewenstyl wat ons vir onsself gekies het.  Mense moet te alle tye welkom wees net soos hulle is.

Ons het in Suid-Afrika ‘n ongelukkige geskiedenis waarin velkleur by meer as een groep gesien word as deurslaggewend om te bepaal met wie ek my meng, en wie ek bereid is om in te sluit of wie ek uitsluit.  En die effek daarvan is nog lank nie verby nie, en lankal nie meer net ‘n wit fenomeen nie.  En dit bly ‘n vergryp teen die evangelie, en teen die Here van die evangelie.

Maar dit is waar van ‘n hele klomp ander goed ook.  In gemeentes sluit Christene van verskillende ouderdomme mekaar dikwels uit, en veroordeel mekaar, of skep nie ruimte vir mekaar, op grond van voorkeure oor die uitlewing van die evangelie asof dit die evangelie self is.  Dit raak ons musiek, ons style van geloofsbelewing, en kleredrag – om enkele voorbeelde te noem.

Ons moet mekaar hier rondom akkommodeer en insluit eerder as in aparte kerke of gemeentes of selfs binne gemeentes in verskillend groepe te organiseer.  Want ons kan mekaar nie as geskenke van die Here in  verskillende kampe belewe nie.

Ons bou aan ‘n inklusiewe gemeenskap

Ek sluit af.

Die vraag vir die Galasiërs was: Gaan hulle luister na wat Paulus sê, of die gedagtes van die Joodse Christene navolg?  Want dit sou bepaal of hulle regtig ‘n kruis-kulturele gemeenskap sou wees, een waar jy welkom is net soos jy is.  En dit was nie ‘n klein bysaak nie.  Die hart van die evangelie was op die spel.

Die vraag vir ons is net so dringend: Gaan ons luister na wat Paulus sê en ‘n gemeenskap wees waarin kinders en bejaardes, vriende en vreemdelinge, klassieke en kontemporêre musiek welkom sal wees?  Miskien is musiek die volgende groot hekkie vir ons om te oorkom en steeds inklusief te bly, veral vir die 20-40 jariges in ons gemeente, wat ‘n duidelik voorkeur vir ‘n ander styl musiek het.

Die uitdaging vir ons is om te bou aan ‘n inklusiewe gemeenskap en nie net te bly vasklou aan die veilige gemaksones van die bekende en gerieflike nie.  Dan sal ons kan uitleef wat Paulus hier sê, dat “dit nie meer ek (is) wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

Galasiërs 3:23-29 – In Christus is julle almal één – Son 20 Junie 2010

2) Om die konteks van hierdie teks egter nog beter te verstaan, moet ons nog verder teruggaan in die Ou Testament. In Genesis 11, die verhaal van die “Toring van Babel”, probeer die mens “vir homself ‘n naam maak” (v 4) en so verklaar hy sy onafhanklikheid  van God. Die straf vir dié hoogmoed is die verdeling van die volke.

Maar onmiddellik (Gen 12) maak God weer ‘n plan met die volke as Hy vir Abraham roep en sê (v 3): “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” Die belofte is om deur Abraham en dan uiteindelik in Christus, die straf van die toring van Babel (die verdeling van die volke) op te hef.

Daarom is Galasiërs 28:3 so ‘n belangrike vers: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een”,  en is dit ‘n vervulling van die verbond wat reeds met Abraham aangegaan is. Vers 29 voeg pertinent by: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.” Dis soos ‘n legkaart wat in mekaar pas.

Daarom was die eerste gemeentes ook multikultureel van aard. Jode en Grieke het saam aanbid, saam deel gevorm van die een geloofsgemeenskap.

Dit was natuurlik ‘n geweldige kulturele aanpassing vir die Joodse Christene wat voorheen slegs saam met Jode aanbid het. Soos Scot McKnight sê: “een van die grootste uitdagings vir die eerste gemeentes was vir die Joodse Christene om nie net heidense Christene te aanvaar nie, maar ook deel te laat voel van die kerk. Om die eenheid van die liggaam van Christus te behou ten spyte van diversiteit.”

En dit bly steeds ‘n uitdaging, waar een kulturele groep in ‘n kerk of gemeente die meerderheid is.

Teks

Slawe en seuns

21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As ‘n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ‘n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Woordverkondiging

As jy mooi kyk, sal jy op Skotse skaapplase een of meer lammetjies sien rondhardloop met ‘n ekstra velletjie om hulle lyfies gewikkel.  Dit beteken die lammetjie se ma het gesterf.  Nou, die velletjie is nie daar om hulle warmer te maak nie.  Nee, dit is daar om ‘n heel ander rede.

‘n Lammetjie sonder die versorging van ‘n skaapooi het geen kans op oorlewing nie.  Sonder kos en sonder die aanvaarding binne die trop, sal geen lammetjie dit maak nie.  Maar, as jy nou net so ‘n wesie na ‘n ander ooi sou neem, sal sy dit bloot wegstoot.  Sy sal nie die lammetjie se reuk herken nie, en daarom weet dit is nie haar eie nie.

Gewoonlik het so ‘n skaapkudde egter ook ‘n ooi wie se lammetjie gesterf het.  Die skaapwagters neem die dooie lam se vel en wikkel dit om die wees-lammetjie.  Die lam word dan na die ooi geneem wie se kleinding dood is.  Wanneer sy die wees-lammetjie ruik, ruik sy haar eie lam.  In plaas van om die lam te verdryf, eien sy dit as haar eie toe.

Op dieselfde manier, in Christus, word ons deel van God se kudde.  Deur die geloof in Christus is ons almal nou kinders van God, ons is deur die doop deel van Christus (Gal 3:26-28).  Jesus is soos die velletjie wat vir die trop en vir die ma sê: hierdie een behoort by julle. (Oorvertel deur Peter Grant,  in ‘n preek getiteld “In What Way Is Jesus Christ Different?”)

Ons is in Christus.  Almal wat glo is nou in Christus kinders van God – “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal één”.

Konfrontasie in Antiogië

Ek het verlede week vertel van die konfrontasie tussen Paulus en Petrus.  Paulus moes hom in Antiogië openlik teen Petrus verset.

In Antiogië het Joodse gelowiges aanvanklik die evangelie gedeel met persone van Grieks-Romeinse afkoms, en dié wat tot geloof gekom het, as deel van die Christelie gemeenskap aanvaar. Saam het hierdie Joodse gelowiges en die Griekse bekeerling, soos ‘n mosaïek, een gemeente gevorm.  Hulle was een in die Here.

Petrus het op sy besoek daar gewoonweg saam met die nie-Joodse gelowiges geëet.  Die oomblik toe daar egter ander Joodse gelowiges van Jerusalem daar aankom, het Petrus daarmee opgehou, ter wille van die Joodse gelowiges se idee dat ‘n mens steeds ook die wet moet nakom.

Paulus noem dit egter onomwonde huigelary.  Die hart van die evangelie is daarmee aangetas.

Daarom herhaal Paulus regdeur hierdie brief: net deur Christus kry jy toegang tot die geloofsgemeenskap.  Dit maak nie saak of jy Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie (hier noem Paulus van die groot sosiale skeidslyne van die destydse wêreld): in Christus Jesus is julle almal één!

Waarom is dit belangrik?

Protestantse Christene het ‘n slegte geskiedenis as dit kom by die skeuring van die kerk.  Ons het ongelukkig nie ‘n vreeslik hoë agting vir die eenheid van gelowiges in Christus, ingebind in die een liggaam van die Here nie.

Maar dit was nie altyd so nie!

Die godsdiens-sosioloog Rodney Stark vertel die geskiedenis van die antieke Antiogië, toneel van die konflik tussen Petrus en Paulus, in sy boek The Rise of Christianity. Wanneer mens dit lees, besef jy waarom die konkrete en praktiese eenheid van ‘n verskeidenheid gelowiges in Christus die hart van die evangelie en die krag van die evangelie is.

Antiogië

Antiogië was die vierde grootste stad in die Romeinse Ryk in die tyd van die Nuwe Testament.  Soos die ander stede, was dit ‘n verskriklike plek.

  • Die bevolking was 150,000 mense, met ‘n bevolkingsdigtheid van 48000 mense per km2. Vergelyk dit met Chicago (5 000 persone per km2) of Calcutta (30000 mense per km2).
  • Antiogië was ongelooflik oorbevolk, mense was ingedruk, met feitlik geen privaatheid nie.  Die strate was ongelooflik nou, en mens moes dit deel met diere soos perde en osse.  Selfs die heel breedste straat in Antiogië, bewonder deur die hele Romeinse Ryk, was 9 meter wyd.  Dit is ongeveer so breed soos ‘n normale pad in Somerstrand.
  • Romeinse stede het geen rioolsisteme gehad nie.  Kamerpotte en rioolputte was die res van die bevolking se voorland.  Potte is dikwels sommer uit die boonste verdieping op straat leeggemaak.  Aangesien seep nog nie uitgevind is nie, en water aangedra moes word huise toe, was die bevolking nie juis gewoond aan bad nie.
  • Waar daar vullis ophoop, insekte versamel, en ‘n hoë konsentrasie van mense is, is daar ‘n oorvloed siektes. Daar was nie seep, antibiotika of kennis van bakterieë nie. Daarom was die gemiddelde lewensduur van mense, veral stedelinge, destyds baie laag. Tog was daar ‘n verstedelikingsproses aan die gang, mense wat ‘n beter heenkome kom soek het of uitgeboer het of doodgewoon by die leër aangesluit het as soldate.
  • Enige stad se bevolking word onstabiel wanneer daar ‘n voortdurende invloei van nuwelinge is.  Dit verhoog die potensiaal vir misdaad.  Daar is nie ‘n verenigde tradisie of gemeenskaplike moraliteit nie.  Oproer was ‘n gevreesde verskynsel in Romeinse stede, iets waarvoor die stede baie vatbaar was.
  • Aangesien die Romeine baie volke oorwin het, was Romeinse stede ook die versamelpunte van mense wat etnies uiteenlopend was.  Hierdie mense het letterlik en figuurlik hulle mes vir mekaar in gehad.  Die Romeine het die stad daarom in sektore verdeel wat dikwels met mure afgeskort was.  Daar is aanduidings dat Antiogië 18 ghettos of etniese woonbuurte gehad het.  Na donker was dit lewensgevaarlik om jou huis te verlaat.

Alles in ag genome was stede lewensbedreigende plekke.  Redding en verlossing was nodig.  Spesifiek publieke redding en verlossing.

Vir Antiogië het die dag van redding aangebreek toe Joodse gelowiges, anders as op ander plekke, ook die evangelie aan die nie-Joodse inwoners verkondig het (Handelinge 11).  Antiogiërs het vir Jesus Christus as Here aanvaar, wat beteken het ‘n nuwe geloofsgemeenskap het ontstaan waarbinne almal welkom was, Griek, Romein, Jood, barbaar, slaaf en vryman, man en vrou.

Hoe red die evangelie Antiogië?

Wat gebeur wanneer ‘n nuwe gemeenskap van mense wat vir mekaar omgee, mekaar lief het en mekaar versorg, ongeag jou etniese agtergrond, tot stand kom in ‘n geweldgeteisterde, siek stad? Wat gebeur wanneer tradisionele vyandigheid afgebreek word binne ‘n nuwe gemeenskap wat geleer word om lief te hê eerder as te vergeld, om vir ander om te gee eerder as om jou eie belange te dien?

Wat gebeur wanneer die Heilige Gees die liefde van God in mense se harte uitstort (Rom 5:5) en hulle leer om in vrede met ander te lewe?  Wat gebeur wanneer siekes versorg word, ongeag hulle agtergrond, en waar ‘n nuwe, verenigde gemeenskap tot stand kom?

Die antwoord is eenvoudig: die boodskap van Jesus en die één, nuwe gemeenskap wat Hy deur die getuienis van sy volgelinge geskep het, het stede veiliger plekke gemaak. Die misdaad het gedaal.  Liefde en versorging het gestyg.  Mense is geleer om vir mekaar om te gee.  Die publieke ruimtes het veiliger geword.

Daarom, sê Rodney Stark, het die Christelike geloof soos ‘n veldbrand deur die Romeinse stede versprei.  Jesus het werklik konkrete, praktiese hoop vir mense gebring.  Die geloof in Jesus het mense saamgebind, aan hulle identiteit verskaf, en hulle gemeenskappe getransformeer,

…providing new norms and new kinds of social relationships able to cope with many urgent urban problems.  To cities filled with the homeless and impoverished, Christianity offered charity as well as hope.  Top cities filled with newcomers and strangers, Christianity offered an immediate basis for attachments.  To cities filled with orphans and widows, Christianity offered a new and expanded sense of family.  To cities torn by violent ethnic strife, Christianity offered a new basis for social solidarity.

Die volle omvang van ons redding in Christus

Dink aan die publieke en sosiale impak van die evangelie wanneer mense in Jesus se naam geleer word om die gevangenes te besoek, die naaktes te klee, water en belangstelling, liefde en genade te gee aan mense wat dit ontbeer (Matt 25).  Dit ontketen ‘n sosiale hervorming wat nie grense ken nie.

Die evangelie red ons nie net van die hel wat na hierdie lewe aanbreek nie.  Dit red ons ook van die hel duskant die graf, van geweld en misdaad, sosiale disintegrasie en publieke chaos. Ons redding het nie net te doen met waar ons die ewigheid deurbring nie.  Die evangelie red ons nou reeds, en skep ‘n nuwe, alternatiewe gemeenskap wat die bestaande sosiale orde omkeer en vernuwe, omdat die mense verander en tot ‘n nuwe gemeenskap saambind, die liggaam van Christus.

Die evangelie doen dit omdat Christus mense, ten spyte van hul herkoms, saambind tot ‘n nuwe mensheid.  Daarom dat Paulus hier vir die mense van Galasië sê dat dit hoort tot die kern van die ware evangelie, soos hy reeds met die mense van Antiochië gedoen het.  Wie die evangelie ontkrag deur mensgemaakte, etniese voorkeure te wil gebruik om toegang tot die nuwe mensheid in Christus te beperk, skep ‘n valse evangelie.

Soos Paulus in ons teks sê: “Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.”

Ons het in ons land ook gelowiges nodig wat die transformerende krag van die evangelie onverskrokke uitleef.  Almal in hierdie land wat deur Christus toegang tot die Vader gekry het, is saamgebind tot een, nuwe mensheid.  Ons is aan mekaar gegee.  In die mate wat ons dit uitleef, na mekaar uitreik, mekaar vind, mekaar liefhet en dien, sal ons die veranderende krag van die evangelie in ons samelewings beleef.

Die evangelie is nie net ‘n private, persoonlike ervaring wat net met my binnekamer en my belewenis van God te doen het nie.  Dit is ‘n skeefgetrekte, valse, Westerse evangelie.  Ons het Christene nodig wat die samelewing takel, wat ons broers en susters in die Here wat anders as ons is, ontdek, en tot vennote in diens van Christus maak.  Ons het ‘n evangeliese sosiale agenda nodig.

Dit is wonderlik bemoedigend om te sien hoeveel gelowiges reeds hierdie werk doen.  Talle gryp bv die Wêreldsokkerbeker aan as geleentheid om gemeenskappe oor grense met mekaar te konnekteer in diens van God en gemeenskap.

Stories

Ek sluit af met ‘n paar stories van hoop.  In ons gemeente is daar gelukkig reeds ‘n hele paar sulke verhale, Theo met sy 30 000 borde kos jaarliks, Hannes met die werkskeppingsprojek, die komberse projek, ons betrokkenheid by MTR Smit en nog vele ander barmhartigheid en uitreik projekte hier en reg deur die wêreld.

Maar, ek haal die stories uit ons Oos-Kaap sinode, om net ‘n prentjie te gee van wat op ander plekke gebeur, wat van ons kerk en van die samelewing algaande ‘n ander plek maak.

PE-Noord

‘n Aangrypende seremonie het onlangs op 13 Junie 2010 in Port Elizabeth-Noord gemeente afgespeel.  Dit het alles begin met ds Johan Marais wat byna ‘n jaar gelede aangekondig het hy begin ‘n groep met die oog op volwasse kategese.  Twaalf volwassenes meld toe aan, waarvan sewe end-uit deel van die groep gebly het.

Eers word vier volwassenes gedoop as deel van belydenisaflegging.  Daarna kom hierdie persone se huweliksmaats na vore, en word hulle kinders ingebring om gedoop te word.

Vier volwassenes en daarna hul vyf kinders word op een dag gedoop.  Nege dope op een dag en almal gesinsdope!

Waarom meld ‘n groot groep volwassenes vir kategese in ‘n NG Gemeente aan?

Dit het te doen met publieke geloofwaardigheid.  PE-Noord se geloofwaardigheid hou verband met hul betrokkenheid by die omliggende gemeenskap in die sentrale, semi-geïndustrialeerde stadsgebied waar die gemeente geleë is.  Die gemeente bedryf ‘n vroue-bemagtigingsprojek, gee Saterdae ‘n maaltyd aan byna 400 gemarginaliseerde straatlopers, besoek die gevangenes in die nabygeleë gevangenis, reik uit na en gee om vir die hele gemeenskap se kinders. Hulle is ook betrokke by die plaaslike laerskool.

Die diens en betrokkenheid by die gemeenskap gee aan die gemeente publieke geloofwaardigheid.  Mense herken Christus in die lewe van die gemeente.

Daarom is meer as 50% van persone wat die aanddienste bywoon nie lidmate van die gemeente in die klassieke sin van die woord nie.  Daarom gee sakemanne en besighede gereeld finansiële steun aan die gemeente se gemeenskapsprojekte.

Persone wat inskakel by die volwasse kategese kom dus nie vir verhelderende teoretiese insigte en toeligting van die kerk se dogma nie – hoe lofwaardig dit ook al mag wees.  Hulle kom omdat hulle Jesus aantreklik vind, en self ook vir Jesus saam met mede-gelowiges wil volg.

NGK Cambridge

Die Garcia sub-ekonomiese munisipale woonstelle is nie die soort plek waar mens graag wil bly nie.  ‘n Hele katologus van sosiaal-maatskaplike probleme, soos gesinsgeweld, verslawing, dwelmhandel, kinderverwaarlosing – en meer – kom hier voor.

Die woonstelblok is geleë in die Cambridge woonbuurt, so ‘n kilometer of wat van die kerkgebou van die NG Kerk Cambridge af.

Ds Sas Swart vertel die verhaal hoe die gemeente by hierdie woonstelblok, en spesifiek die kinders betrokke geraak het.  Hulle doen wonderlike werk om te verseker dat die kinders by die skool kom, in die middae geleentheid het om huiswerk te doen (in die kerksaal) en ook die geleentheid kry om Jesus van Nasaret te leer ken en te volg.

Daar is bitter min romanties aan dié werk.  Maar Jesus dring die gemeente, en daar is vrug op die werk.

Deel van hierdie vrug is die ouers van hierdie kinders wat kerklik ingeskakel raak en op hulle beurt óf leer om die Here te volg, óf weer die geleentheid kry om betekenisvol by deel van ‘n geloofsgemeenskap te word.

Onlangs, in Mei 2010, het vier volwassenes uit hierdie woonstelblok belydenis van geloof in die Cambridge-gemeente afgelê.

Die briefies wat hulle geskryf het om hul aansoeke om lidmaatskap te motiveer, is van die wonderlikste getuigskrifte wat ‘n gemeente kan kry.

Grace Devereaux skryf oor ‘n “‘n Kerk wat omgee vir mense.”  Dit is ‘n kerk wat om die regte redes aantreklik is en iets van die Here se hart vertoon.

Loretta Pillay se seun is aan ‘n rolstoel gekluister.  Die kerk se uitreik het hom weer ‘n ruimte gegee waarbinne hy kon sosialiseer en waarin hy veilig kan wees.  Sy vertel dat wat die kerk vir haar seun gedoen het,haar beweeg het om in te skakel.  Sy het gasvryheid ervaar.

Elliot

Vier kinders sterf op slag toe die taxi voor ‘n vragmotor beland.  Dié tragedie speel af op ‘n herfsmiddag in Mei 2009, terwyl die taxi skoolkinders na Elliot, ‘n klein dorpie in die Noord-Oos-Kaap, vervoer.

Daar is vyftien kinders in die bussie, waarvan ‘n paar ook ernstig beseer word.  Die meeste benodig noodbehandeling.  ‘n Aantal boere uit die omgewing is eerste op die toneel.  Hulle spring aan die werk en vervoer die kinders na die hospitaal op Elliot.  Dadelik – dieselfde middag – word genoeg geld ingesamel en ambulanse gereël om die erg-beseerdes Oos-Londen toe te neem, honderde kilometer vêr.

Die volgende oggend stig die plaaslike NG gemeente ‘n rampfonds ten bate van die slagoffers.  Die opbrengs word gebruik om die begrafniskoste van die oorlede kinders te dra, hospitaal- en mediese uitgawes te dek, en nuwe skoolklere te koop vir die beseerdes, meeste van wie net oor ‘n enkele stel skoolklere beskik het.  Verskeie boere maak onder andere ruim bydraes tot die rampfonds.

Hierdie spontane Christelike liefdesdiens en ondersteuning is kleurblind.  In die onbeskryflike smart van ouers wat kinders verloor, of wie se kinders ernstig beseer word, is dit bloot medemens wat medemens bystaan.  Niemand sou die uitkoms kon voorsien nie….

Dis nou ‘n jaar later.  “Wat is die gevolg van dié hulpvaardigheid in die gemeenskap?” vra ons op ons onlangse sinodale padberade vir ds Conrad Thomas, plaaslike leraar van Elliot.

“Verstommende gevolge.  Daar is ‘n dramatiese toename in onderlinge vertroue in die gemeenskap,” antwoord hy.  “Die taxi-vereniging op Elliot se houding het radikaal verander teenoor spesifiek die boere-gemeenskap, maar ook die blanke bevolking in die algemeen.  Taxi-bestuurders help ons byvoorbeeld nou misdaad bekamp.  Wanneer hulle bewus word van persone wat onwettige goedere vervoer, word dit aangemeld.  Verskeie taxi-operateurs beskik oor landbougrond en boer ook self.  Boere het ingespring en hulle gehelp om die grond om te ploeg en die lande vir die saaityd voor te berei.  In die afgelope oestyd het boere ook hul stropers ingestuur om die mielies te help oes.”

Daar is ‘n besliste afname in misdaad op Elliot.  “Dit staan in skrille kontras met die spanning wat daar ‘n paar jaar gelde op Elliot geheers het”, vertel ds Thomas.  “Terwyl die Here nie ongelukke stuur nie, het die Here tog hierdie ongeluk gebruik om die situasie op ons dorp om te keer.”