Skip to main content

Filippense 3:12-14 – Paulus: om met passie ‘n doel na te streef – Son 22 Nov 09



Paulus – Filippense 3 – om met passie ‘n doel na te streef

Vooraf

10 minute video clip van 6 wêreld rekords van Usain Bolt – eer aan God!

CD van Almal hier tesaam (Retief Burger)

Verwelkoming

  • Begin met ‘n storie wat my bly maak:
    • Dankoffer inkomste staan al op R332000 vir die maand November, met vandag en volgende Sondag nog oor!
    • Kerkraad, ouderlingeraad en finansies kommissie het ‘n meningsopname goedgekeur Maandag wat in die volgende paar weke deur die hele gemeente geneem gaan word. Ons kan daarin ons mening oor die eredienste, die kleingroepe en ander sake in die gemeente uitspreek, sowel as ons commit vir betrokkenheid by die verskeie kleingroepe en ook vir die begroting vir volgende jaar.
    • Intense plesier in my stiltetyd en die Bybelskool.
  • Wat maak jou bly?
  • Vertel vir mekaar.

Votum en Seëngroet

  • Blydskap oor saamwees en oor God se teenwoordigheid

Lofprysing

  • Een prentjie van God wat baie keer in die Bybel voorkom, is dat Hy bly is oor ons.
  • Gen 1 – God het gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.
  • Job 1:8 – Sy gelyke kry jy nie op aarde nie.
  • Jes 43:1 – Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

Liedere

  • Ek is so bly
  • Loof Hom met die tromme
  • Alle volke klap jul hande (547)

Reflekteer

  • Kom ons gaan ‘n bietjie dieper in op hierdie blydskap.
  • Wat fassineer jou?
  • Wat neem jou heeltemal in beslag?
  • Verhale vertel van navorsers
    • Robert Evans, ‘n predikant in die Blue Mountains van Australië. 80 km wes van Sydney, doen ‘n uitsonderlike ding. Hy het ‘n groterige teleskoop en het die ongelooflike vermoë ontwikkel om dooie sterre te ontdek. Hy soek vir Supernovas. Dit is sterre, baie groter as ons eie son, inmekaar stort en dan op ‘n skouspelagtige manier ontplof. Dit is soos ‘n triljoen waterstof bomme wat tegelykertyd afgaan. As so iets binne ‘n 500 ligjare van ons af sal gebeur, is die aarde en die sonnestelsel daarmee heen. Maar, die meeste hiervan is gelukkig so ver van ons af dat dit net ‘n opflikkering in die hemelruim is. So vir ‘n maand is hulle sigbaar, dan verdwyn hulle weer. En dit is dié supernovas wat Robert soek en vind.
    • Dit is ongelooflik moeilik – as jy ‘n tafel vat met ‘n swart doek op en jy gooi ‘n handvol sout daaroor, dan het jy galaksie, ‘n sterrestelsel. Nou dink só daaraan: as jy nog 1500 tafels langs mekaar sit met ‘n handvol sout op elkeen, en jy vat een korrel sout en jy sit dit op een van die 1500 tafels, en laat Robert Evans daar verby loop – dan sal hy dit optel!
    • Daar is niemand in die wêreld wat dit kan doen nie! Praat van wêreldrekords! Hy het reeds 36 opgespoor teen 2003 in net meer as 20 jaar (1980 begin). (A short history of nearly everything – Bill Bryson)
  • Vertel mekaar wat is jou passie?

Kinders

  • Teken ‘n prent oor iets wat jou bly of opgewonde maak. Die ding waarvan jy die meeste van hou.
  • Julle kan dit na die tyd vir my kom wys.

Deel in die kerk

  • Vertel vir die groter gehoor.
  • Dit is so belangrik dat ons mekaar ‘n platform gee om te deel wat die Here nou besig is om te doen.

Liedere

  • Ek is bly ek ken vir Jesus (553)
  • Waar daar liefde is (526)
  • Majesteit (175)

Skriflesing

  • Filippense 3:12-14

Woordverkondiging

Ek dink ek kan

Die kinders moet nou mooi luister:

Ken julle die verhaal van The Little Engine That Could – Die klein lokomotief wat kon.

Dit is die storie van ‘n klein treintjie, ‘n lokomotief, wat baie kleiner as die ander treine was.  Die ander treine was groter en sterker en kon baie meer trokke trek tussen die groot stede en op en af met die heuwels.  Die klein treintjie is vir kleiner werkies gebruik soos om ‘n paar trokke in die stasie self rond te trek.

Eendag het een van die groter lokomotiewe gebreek terwyl dit ‘n groot klomp trokke met speelgoed teen ‘n heuwel uitgetrek het.  Die kinders aan die ander kant van die heuwel wou baie graag hulle speelgoed hê, maar hoe nou gemaak.  Die enigste trein wat kon help was die klein lokomotief.  Maar sou hy dit kon maak? Was hy nie net te klein nie?

Selfs die klein lokomotief het getwyfel.  Maar dan probeer die klein treintjie tog om die trokke met speelgoed oor die heuwel te trek.  En soos hy stadig uitbeur teen die heuwel, sê hy vir homself, “Ek dink ek kan, ek dink ek kan, ek dink ek kan.” Absolute commitment.  Wonderlike moed.  Geweldige inspanning.  “Ek dink ek kan, ek dink ek kan, ek dink ek kan.”  Absolute passie.  Hy gaan nie die seuns en dogters in die steek laat nie.  “Ek dink ek kan, ek dink ek kan, ek dink ek kan.”  En stukkie vir stukkie beur die klein lokomotief teen die heuwel uit en maak dit sowaar!

En terwyl die klein lokomotief teen die anderkant afry, sê hy: “Ek weet ek kan, ek weet ek kan, ek weet ek kan.”  Sy passie en durf het hom deurgetrek en laat slaag.  En die kinders kon hulle speelgoed kry.

Om met passie ‘n doel na te streef

Ons hou van sulke heldeverhale, van mense wat dit maak, van ‘n Usain Bolt wat 6 wêreld rekords in ‘n kort tydperk breek en ‘n Robert Evans wat 36 supernovas ontdek.

Ook in die kerk – ons eer die nagedagtenis van ‘n Andrew Murray, en ‘n Hudson Taylor, en ‘n Maartin Luther, en die grootste van hulle almal, Paulus.

Daar is niemand wat meer gedoen het dat die evangelie oor die aardbol versprei as Paulus nie.  Hy was ‘n intense gedrewe man.  Niks of niemand kon hom onderkry nie.

  • Met sy reuse intellek was hy enige tyd die beste redenaars van die tyd se gelyke.
  • Met sy indringende fokus op die opbou van gelowiges, het hy die mindset van gelowiges vir altyd verander.
  • En oral waar hy kom het hy die politiese en kulture grense na dié wat anders was, oorgesteek.
  • Hy het gepreek, geskryf, gereis, die magte en kragte uitgedaag, wonderwerke gedoen, en die wêreld verander.
  • En dit, terwyl hy male sonder tal geslaan is, verwerp is, in die tronk gegooi is, skipbreuk gely het, deur slange gepik is, honger gely het, en die swakheid van mense om hom moes verdra.

Hy het passie gehad.  Hy  het alles ingesit en alles gegee. En dit alles om sy doel te bereik: om Christus te ken, en mense te help om Christus te ken.

As hy hier aan die einde van sy lewe in die tronk in Rome sit en vir die Filippense skryf, geleerdes raai dat dit in die lente van 60 nC was, dan kan hy ook soos die klein treintjie sê: “Ek weet ek kan, ek weet ek kan, ek weet ek kan.” Want hy het al 27 jaar lank die pad geloop, en die hele bekende wêreld van daardie tyd is met die evangelie bereik.  Drie groot sendingreise, ‘n groot aantal nuwe gemeentes, meer as die helfte van die Nuwe Testament geskrifte geskrywe.  Met een woord, verstommend.

Passie is ononderhandelbaar

Kyk, daar is niks so sleg as ‘n passielose lewe nie.  Dit is nog erger as dit waar is van leiers, hetsy in ‘n gemeente of in die besigheidswêreld of in die gemeenskap.  Dit is nie net oninspirerend nie, dit suig die inspirasie uit jou dat jy in mekaar krimp soos ‘n leë Liquifruit boksie.

Tog interessant dat dit juis God is wat ‘n hele paar keer in die Skrif hieroor sy keel skoonmaak, by wyse van spreke.  In Openbaring 3 sê hy bv. vir die gemeente van Laodisea: “Ek weet alles wat julle doen.  Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie.  As julle tog maar koud of warm was!  Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” (:15-16)  (Johannes het vermoedelik die omgewing geken en weet dat daar sowat 10 km weg in die buurt van Hiërapolis ’n warmbron was waarvan die water afgevloei het na Laodisea. Die mense het geweet van die lou water wat walglik is om te drink. ’n Mens spoeg dit liewer uit.)

‘n Doel is eweneens ononderhandelbaar

Maar, weet jy, passie sonder ‘n doel, is net so sleg.  Dis soos ‘n groot motorfiets enjin op ‘n garagevloer.  Jy kan hom so hard rev as wat jy wil, maar vorentoe sal hy nie gaan nie.

Daarom is dit so krities om te onderskei tussen dit wat belangrik is en dit wat onbelangrik is, tussen dit wat ‘n lofwaardige doel is om na te streef en dit wat dit nie is nie.

En hieroor kan ons baie leer by Paulus.

Hy kyk terug op alles wat deel van sy lewe was tot hier in Rome.  En hy besef, daar is dinge wat lofwaardig was en ander wat dit nie was nie.  Daar is dinge wat belangrik is en daar is dinge wat nie belangrik is nie.

En die interessante is, daar is baie dinge aan die onbelangrike kant, en eintlik net een ding aan die belangrike kant.

  • Hy beskou bv. sy afkoms en herkoms as waardeloos. En onthou, hy kom uit die stam van Benjamin, uit wie die eerste koning gekom het. En met die skeuring van die ryk na Salomo, het Benjamin saam met Juda getrou gebly aan Dawid se nageslag. Dit is ook net dié twee stamme se mense wat na die ballingskap teruggekom het na Israel toe. Maar Paulus ag dit as waardeloos.
  • Ditto sy religieuse opleiding. Hy het van die beste opleiding gehad wat beskikbaar was en daarin het hy ook uitgeblink. Maar hy beskou selfs dit ook as waardeloos.
  • Ditto sy onberispelike lewe. Hy was die Jood der Jode, en hy beskou dit as waardeloos.

Wat is dan vir hom aan die belangrike kant?  Net een ding: Hy beskou Christus as die enigste regtige bate.  Vroeër in die hoofstuk skryf hy hieroor, die enigste ding wat van waarde is, die enigste ding wat hy met sy hele lewe najaag, die enigste doel wat die moeite werd is, is :

  • Om Christus te ken,
  • Om die krag van sy opstanding te ondervind – om sy lewe deur jou te voel bruis,
  • En deel te hê aan sy lyding – om te wees waar Jesus is, by die mense wat nood ervaar, by die mense wat verguis word omdat hulle Jesus dien,
  • In die verwagting dat hy self die opstanding uit die dood sal ervaar – om soos Jesus by God te wees en vir ewig die vreugde van kindskap te kan vier.

Dis wat Paulus bedoel as hy sê, hy het ervaar dat God hom roep na die wenstreep in die hemel, en hy het besluit om dit met alles in hom na te jaag – om Christus te ken en Hom aan ander bekend te stel.  Dit was sy passie, en dit was sy doel, om die lewe Christus te maak.

Ek verbeel my nie dat ek alles al het nie

Maar – dan sê Paulus hier ‘n verdere belangrike ding – “Ek sê nie nie dat ek dit alles al het nie.”  En hy herhaal dit: “Ek verbeel my nie dat ek alles al het nie.”

Paulus sou hier met reg kon sê, ek het die goeie stryd gestry, ek het bereik wat ek kon, ek het ‘n nalatenskap, ek kan nou rustiger wees hier in die tronk, terwyl ek wag vir die einde.

Nee, die vlam brand nog te sterk, daar is nog meer om te leer, daar is nog meer om te doen, daar is nog meer om te ervaar.

Hy sê selfs: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.”  Dws, selfs die goeie dinge wat gebeur het, die goeie dinge wat bereik is, kan nooit die einde wees van ‘n passievolle lewe gemik op Christus nie.  Ek maak my los en strek my uit na wat voorlê.

Die verlede is altyd minder belangrik as die hede, en nog minder belangrik as dít wat in die toekoms wag.  Dit is soos Usain Bolt – met elke rekord is die vorige een vergete: 9.71; 9.69; 9.58.  Waar gaan dit eindig?  Ons weet nie, maar “Ek strek my uit na wat voor is.”

Wat is ons passie en ons doel as individue en as gemeente?

Dit laat my vra: hoe is dit met my en hoe is dit met jou?

  • Persoonlik – wat is daar wat ek belangriker ag as Christus? Indien dit my afkoms is – dan moet ek die belang wat dit vir my het, laat los. Indien dit my opleiding is – dan moet ek die belang wat dit vir my het, selfs die trots en die waarde wat ek daaraan heg, laat los. Indien dit my onberispelike lewe binne ‘n sekere gemeenskap is – dan moet ek dit herwaardeer. Om Christus te ken oortref alles. Alles is minder belangrik as Hy.
  • Gemeenskap – waar lê ons lojaliteit regtig, aan Christus, en daarom aan sy volgelinge, of aan die groep wat soos ons groot geword het en aan dieselfde tradisies vashou? En laat ons maar eerlik wees – daardie lojaliteite is baie keer subtiel. Hoe ouer ‘n mens ook word, hoe vaster klou jy aan sekere maniere van doen. Dit raak later vir jou soos die evangelie. En dan hou ons vas aan kleredrag en vorme van musiek, en is iemand wat anders aantrek en van ander musiek hou, benede ons, of anders as ons.

As gemeente het ons ‘n visie geformuleer, en dit is nou maar eenmaal so – visie lek.  As ons mekaar nie gedurig daaraan herinner en gedurig weer onsself daaraan verbind nie, dan verswak ons commitment daaraan:

  • Om met vreugde te lewe en met liefde te dien vanuit ‘n vaste geloofsverbintenis aan Jesus Christus ons Hoof.

Hoe doen ‘n mens as gemeente dit?

Rick Warren sê:

  • Programmeer jou doelwit in die lewe
  • Rus mense toe vir die doelwitte
  • Stig kleingroepe om die doel te bereik
  • Stel personeel aan om daardie doel te bereik
  • Skep strukture om daardie doel te bereik
  • En evalueer telkens alles aan hoe die doel bereik word.

Ons is pas deur ‘n groot proses om ‘n gemeenteplan vir volgende jaar op te stel.  Die kerkraad oorweeg dit oor ‘n week.  Daarna gaan ons ‘n implementeringsplan opstel en doelgerig begin uitvoer: eredienste, kleingroepe, besoekwerk.

En daar kom ‘n meningsopname wat ons baie gaan help daarmee.  Ouderlinge en lidmate gaan binnekort by julle besoek kom aflê om die vraelys te laat invul.  Ons beoog om teen 11 Desember die inligting te kan begin verwerk in samewerking met die universiteit.

En die doel: om met vreugde te lewe, en met liefde te dien, vanuit ‘n vaste geloofsverbintenis aan Jesus Christus ons Hoof.  Ons wil Hom ken, en Hom dien, en Hom in liefde aan mense bekend stel.  Niks anders is belangriker as dit nie.

Die kruks is – Christus Jesus het my reeds Syne gemaak

Ek sluit af met die kruks van die gedeelte, die hart van alles wat Paulus oor sy passie en sy doelwit om Christus te ken, sê.

En nou moet jy mooi luister, want ‘n mens mis dit maklik in die bruising van jou passie: Belangriker as sy passie en sy ywer om Christus te ken en Hom bekend te maak, is die rede waarom Paulus dit doen, sy motivering.  Dit is eintlik die groot geheim van die Christelike lewe.

Paulus sê hier in vers 12: “Ek span my in om dit alles myne te maak OMDAT Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Hy gebruik die woordjie lambano, gryp, om dit uit te druk – Hy leef met passie om Christus te ken, omdat Christus hom gegryp het.

Dit was dus nie iets in homself nie, dit was nie ‘n spesiale eienskap waarop hy sou kon roem nie … dit het van God af gekom.  Soos hy sê hier, ek span my in, omdat Christus my Syne gemaak het.  Ek gryp daarna, omdat ek gegryp is.

Hoe hardloop jy jou wedloop?

As jy na jou eie geestelike lewe kyk, hoe hardloop jy jou resies?

Daar is ten minste drie moontlikhede (uit Bybel in Praktyk).

(1)   Jy hardloop gemaklik, rus-rus, effens doelloos. Jy het jou eie momentum, en jy geniet die afdraande. Jy sê vir jouself: Christus het aan die kruis vir my gesterf, en ek gaan gereeld kerk toe. Alles is pluis, ek kan voortgaan met my lewe.   Maar jy stap teen die opdraendes en jy sorg dat jy wegkom met die minimum.  Geen kleingroep byeenkoms, niks nuuts wat jy leer by die baie geleenthede wat ons aanbied nie.  Net jy en die pas wat vir jou gemaklik is.

(2)   Jy kan die resies ook angstig en senuagtig hardloop, terwyl jy die horlosie dophou en bang is jy gaan nie klaarmaak nie. Jy sê vir jouself: Ek moet die hele wêreld bereik; en jy raak vervaard en ‘n pyn om mee saam te leef, omdat jy ander die hele tyd laat skuldig voel. Dit is ook ‘n gevaar wat ons moet vermy.

(3)   Die ware gelowige hardloop die resies egter vasbeslote en doelgerig, met die wenstreep in die oog. So moet jy dit doen. Omdat Christus jou syne gemaak het, kan jy uithaal om alles wat Hy vir jou gedoen het, te gryp, joune te maak. Dan is die lewenswedloop ‘n vreugde, ‘n diepe blydskap.

Dan sal jy jou lewe kan afsluit met die frase: nie “Ek dink ek kan, ek dink ek kan”nie, ook nie “Ek weet ek kan, ek weet ek kan” nie, MAAR “Ek weet HY kan, Ek weet HY kan.”

Toewyding

Ek wil jou kans gee om te beplan hoe jy van nou af die wedloop gaan hardloop – om Christus te ken en te sorg dat ander Hom leer ken.  Ons het baie toerustingsgeleenthede in die gemeente en baie geleenthede tot diens.  En as die Here iets nuuts op jou hart lê, beplan dit dan op ‘n doelgerigte wyse:

  • Dag 5 in Joernaal is spesifiek geskryf om jou met die beplanning te help
  • Ons is op reis – sommige ver, ander aan die begin.
  • Is jy besig met dit wat God jou voor roep?
  • Wat is die eerste stappe wat jy nou moet doen?

Gebed

Dankoffers

Almal hier tesaam (Retief Burger)

Kinders se kunswerke – bring vir my

Liedere

  • Soek allereers die koninkryk van God (471)

Seën

  • Stuur ons Heer (533)

Sefanja 3:14-20 – God is bly oor jou – Son 13 Des 09



Sefanja 3:14-20

13 Desember 2009

Verwelkoming

Hierdie Sondag word Vreugde Sondag genoem. Pienk kers.  Dit is ook die simboliek agter die trompet prent van die PowerPoint.

Hier is sommer ‘n storie op Vreugde Sondag om ons te laat glimlag:

Many years ago, before anti-discrimination laws were in effect, Mrs. Rosenberg was stranded late one night at a fashionable resort on Cape Cod – one that did not admit Jews.

The desk clerk looked down at his book and said, “Sorry, no room. The hotel is full.”

The lady said, “But your sign says that you have vacancies.”
The desk clerk stammered and then said curtly, “You know that we do not admit Jews. Please try the other side of town.”

Mrs. Rosenberg stiffened noticeably and said, “I’ll have you know, I have converted to your religion.”

The desk clerk said, “Oh, yeah, let me give you a little test. How was Jesus born?”
“He was born to a virgin named Mary in a little town called Bethlehem,” she replied.
“Very good,” replied the clerk. “Tell me more.”

“He was born in a manger.”

“That’s right,” said the hotel clerk. “And why was he born in a manger?”
Mrs. Rosenberg said loudly, “Because some idiot behind a hotel desk wouldn’t give a Jewish lady a room for the night! Any more questions?”
“No.”
“Didn’t think so.”

Toetrede

Lied 334 staan

Votum

Seëngroet

Lofsang

Lied 209 (2x) staan

Lank, lank terug in Betlehem v1 en 3 sit

Gebed

Skriflesing

Die opskrif van Sefanja plaas dié boek in die tyd van koning Josia van Juda (640-609 v.C.).  Op internasionale gebied was dit die laaste jare van die Assiriese Ryk met die hoofstad in Nineve (die stad Mosul aan die Tigris in moderne Irak).  Sedert die dood van koning Assurbanipal in 633 v.C., was dié Ryk sodanig verswak dat Juda prakties weer as ‘n onafhanklike land gefunksioneer het.

Koning Josia is bekend vir sy hervormingsmaatreëls wat hy in 622 v.C. begin het.  Te oordeel aan die sondes waarteen Sefanja profeteer, moes hy as profeet vóór die hervormings opgetree het.  Die twee konings wat voor Josia regeer het, Manasse en Amon, se bewind was juis gekenmerk deur die aanbidding van ander gode, sosiale ongeregtigheid en korrupsie.  Sefanja se prediking voor die hervormings van Josia, het dus bygedra tot die terugkeer tot die Here tydens sy regeringsjare.  Sefanja waarsku die volk dan ook telkens teen die oordeel van die Here wat uiteindelik sou uitloop op die Babiloniese ballingskap van die ballingskap van 586 v.C.

Sefanja begin met ‘n inleiding (1:1) wat beklemtoon dat wat nou volg, die Woord van die Here is tydens die regeringstyd van koning Josia van Juda.

Die res van Sefanja kan in vier groot afdelings verdeel word.

  • 1:2-2:3 – Die eerste deel van die boek bestaan uit ‘n oordeelsaankondiging oor Juda en Jerusalem. Die oordeelsuitspraak begin universeel (“Ek gaan ‘n einde maak aan alles op aarde, sê die Here” – 1:2) en word dan toegespits op Juda en Jerusalem. Die oordeel gaan plaasvind op die dag van die Here. Let wel, die moontlikheid van uitkoms is egter nog daar (“Miskien bly julle die straf gespaar…” – 2:1-3).
  • 2:4-15 – Die tweede deel bestaan uit ‘n oordeelsuitspraak teen die heidense bure van Juda.
  • 3:1-8 – Die derde deel is ‘n samevatting van die eerste twee dele en bevat ‘n oordeelsuitspraak teen Jerusalem (3:1-5) én die heidense nasies (3:6-8).
  • 3:9-20 – Deel vier van Sefanja bevat egter ‘n boodskap van troos en redding vir beide die heidense nasies én Juda.

Lees Sefanja 3:14-20

Woordverkondiging

Ons is baie gewoond daaraan om oor God te dink as ‘n God van oordeel.  Soos dit ook duidelik blyk uit die eerste drie dele van die boek Sefanja.

Ons dink ook oor Hom as ‘n God van genade, soos Sefanja beskryf in hoofstuk 3.

Maar, hoe baie dink jy aan God as ‘n God wat bly is oor jou, soos Sefanja hier doen in vers 17?

God is bly oor jou

Sefanja beskryf God besig om te sing, vers 17: “Hy is vol vreugde oor jou … Hy jubel en juig oor jou.”

En dit is nie ‘n sagte ingehoue lied nie.  Die Hebreeuse woorde praat van jubeling.  Dit is ‘n jubeling soos ‘n bruidegom oor sy bruid bly is.  Of ‘n blydskap soos toe Dawid voor die ark gedans het.  God is bly.

Die prentjie wat hy teken is van ‘n God wat nie daar ver besig is om ons met arendsoë dop te hou nie.  Hy is nie die God van Bette Midler se lied: “From a Distance” nie.  Nee, Hy is naby, Hy is by jou.  Hy is vol vreugde.  Hy is bly oor jou.

Hoe pragtig staan daar nie in vers 17 nie: “Hy is stil-tevrede in sy liefde.”  Die woordjie stil-tevrede kan ook met rus vertaal word.  Hy is rustig-tevrede in sy liefde oor jou.

Geen wonder dat CS Lewis gesê het nie: “The chief business of heaven is joy.”

Ek lees dié week die verhaal van die Ledford familie in Amerika.  Burnam Ledford was ‘n formidabele man, gebore in die laat 19de eeu.  As hy terugdink aan sy vormingsjare is daar een spesifieke insident wat uitstaan bo al die ander.  Dit was toe hy sy ouma-grootjie gaan besoek het toe hy 5 jaar oud ws.  Sy is reeds die vorige eeu gebore, in die tyd van George Washington, en reeds vir baie jare blind.  Ledford onthou haar hoe sy in ‘n groot stoel gesit het.  Sy het hom nader getrek na haar toe, en met haar krom vingers oor sy oë, neus en gesig gevoel om uit te vind na wie hy lyk.  En toe gesê: “Yep, he’s one or ours.” Lenford onthou dit as ‘n moment wat hom gehelp het om te verstaan wie hy was: Een van ons.

Dis hoe God oor ons voel: Jy is een van myne.  En Hy is bly oor jou.

Dit laat my dink aan die predikant wat besig was met preekmaak toe sy 3 jarige dogtertjie inkom en vra of hy nie met haar wil speel nie.  Hy sê toe, hy kan nie nou nie, maar so oor ‘n uur.  Sy is toe heel tevrede, en sê, ek sal pappa ‘n groot drukkie gee as ons netnou speel.  Terwyl sy so uit sy studeerkamer loop, draai sy egter om en hardloop na hom toe en gee vir hom ‘n groot druk.

Hy sê toe vir haar, maar ek dog jy gaan my netnou eers druk?  Haar antwoord – ek wou vir pappa wys waarna pappa kan uitsien.

Dit is hoe God oor ons voel – soos ‘n drie-jarige dogter wat nie kan wag om ‘n groot drukkie uit te deel nie.

Daarom is dit so merkwaardig vir my dat wanneer God Sy eerste Woord spreek in die Nuwe Testament, die Woord ‘n baba word! ‘n Kind word met ‘n loflied aangekondig, nie met die donderweer en weerligstrale van ‘n oordeelswoord nie. ‘n Kind word gebore by flou lig, in die stilte van die nag.  In plaas van ‘n Woord wat die berge skud, wat riviere van lava oor die berge laat afvloei, word die Woord ‘n kind, wat aangeneem kan word en ons nie kan seermaak nie, ‘n  Woord wat ons nie kom bangmaak nie.

Dit is ‘n prentjie van God wat ons vandag moet omhels.

Mense is baie keer gereed vir God se woede en glo God is geregtig daarop om so oor mense te voel. Wat egter so merkwaardig is, is wanneer Hy onder ons bly, ongeag hoe ons Hom seergemaak het, kom Hy na ons in liefde, selfs as ‘n Kind wat vatbaar en broos is.

Geen wonder dat Henri Nouwen sê in The Life of the Beloved, die belangrikste ding wat jy en ek oor onsself behoort te weet, is dat ons die geliefde van God is.

En Sefanja bevestig dit alreeds in die OT!

Dis met die wete waarmee jy en ek moet leef!

God verander jou lot

Maar dit is nie al manier waarop God hier geteken word nie.

God word ook hier geteken as die Krygsman, die een wat ‘n einde maak aan die straffende vyand; wat die rampe afweer, wat die moedeloses opbeur: “moenie jou hande moedeloos laat hang nie!” – vers 16.   Hy red en Hy maak bymekaar, dié wat treur van ver af in die ballingskap, wat die smaad namens almal gedra het, en dié wat vernederd agtergebly het in Jerusalem.

Dit sê vir ons, God se glimlag oor ons, sy blydskap oor ons, is die glimlag van ‘n Oorlogsheld, wat sy swaard gebruik om die kwaad af te weer, en weer orde en vrede bring.  Dit is waarom Hy ‘n lied kan sing oor sy mense, want Hy kan hulle lot verander.

En let op hoe groot God se visie van die verandering is.  Dit is opvallend dat in vers 14 en 15 Israel telkens naas en uitruilbaar met Jerusalem gebruik word. Die inwoners van Jerusalem sowel as die verstrooide volk van die Here (vgl. 10) sal in die heil deel as die nuwe volk van God.

D.w.s., beide dié mense wat weggevoer is, as dié wat agtergebly het met die ballingskap gaan deel in God se vreugde en die verandering wat Hy gaan bring.

Nou, ons weet uit Jeremia se brief aan die ballinge in Babel, dat die mense in ballingskap ongelooflik moedeloos was, toe dít wat Sefanja aangekondig het gaan gebeur, inderdaad plaasgevind het, en veral die Joodse adel weggevoer is.  En dat dié wat agtergebly het, gedink het dat hulle beter daaraan toe was, en eintlik neergesien het op die ballinge.

God se visie is egter, dat beide dié wat weggevoer is, én dié wat agtergebly het, in sy nuwe volk saamgesnoer sal word.

Hy bring dié wat ver van die feestelikheid af is nader.  Hy help die kreupeles.  Hy maak die verstrooides bymekaar.  Hy verander hulle vernedering dat hulle weer in ere herstel is.

En voeg Hy daaraan toe – Julle sal dit met julle eie oë sien. Julle lot sal verander word.

Wat sê dit vir my?

Eerstens – eien dit vir jouself toe

Julle sal dit met julle eie oë sien!  Vers 20!

Ek weet nie wat jou pyn of verwagting is nie.  Maar dié boodskap is nie vir ‘n veraf tyd nie.  Dit is vir nou.  Jy kan dit vandag vir jou toe-eien.

Tweedens – wees altyd bly

1 Tessalonisense 5:16: “Wees altyd bly.”

In ‘n tyd waar jy nie die koerant kan oopslaan sonder om ‘n angsaanval te kry oor watter ramp nou al weer die land of die wêreld getref het nie, kom hierdie oproep tot lewensvreugde. En dit uit die Bybel!

Ons moet ontdek dat ons geskape is om vir God ‘n plesier te wees. Die pragtige Westminster belydenis sê immers dat die hoofdoel van die mens is om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet.

Is dit nie waarvan die engele sing by Christus se geboorte nie, oor die groot blydskap wat met Hom gekom het? Noem die dissipels nie die Christusverhaal die goeie tyding, die blye nuus, die evangelie nie? Sê Jesus nie self: “Dit sê ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees” nie?

C S Lewis was reg toe hy sy boek oor redding Surprised by Joy genoem het en gesê het dat die hemel se hoofsaak die vreugde is.

Dit is die wonder van Kersfees, en van die geboorte van Jesus in ‘n stal in Bethlehem.  God wat bly is, wat sing, wie se stem weergalm oor die aarde, daar by die herders eenmaal, maar ook hier by ons.  Ek is bly oor jou.  Ek stuur my Seun vir jou.  Ek sing omdat Ek bly is oor Hom en wat Hy vir jou kan beteken.  En jy sal dit vandag ervaar – die belofte is vir nou.

Derdens – sing jou lied oor God met hande wat omgee vir ander

God se lied moet ons aansteek om self ‘n lied oor Hom te sing.

Interessant is hoe Sefanja hier die volk aanmoedig om op drie maniere te sing:

  • Eerstens moet hulle bly wees oor die groot krag van hulle koning, die een wat hulle vyande kan oorwin.
  • Tweedens moet hulle bly wees oor die Koning se invloed regoor die wêreld, want hy kan nasies oordeel.
  • Derdens moet hulle bly wees, want dié Koning is in hulle midde.

Hierdie dinge moet hulle laat uit jubel en sing.  Soos Sefanja sê: “Wees met alles wat jy is, vrolik en bly!  … Die Here jou God is by jou.”

Maar, en dit is belangrik, dié lied is ook ‘n lied wat ons met ons hande moet sing – ons hande hoef mos nie meer moedeloos langs ons sye te hang nie, soos vers 16 sê!

Dit beteken dat ons na ons naaste moet omsien en ‘n lied in hulle hart moet bring (verhaal van Nxelo).

Feredinand Deist het gesê, soos Christus in ons gestalte kry, neem Hy soms die gestalte van armes, noodlydendes en verdruktes aan. En Hy wag gespanne om te sien of die liefde ons na ons naaste dryf, soos ons ook Matteus 25 lees, waar die skape en die bokke juis geskei word oor wat hulle aan hulle naaste gedoen het.

En waar dit gebeur, bring ons ‘n stukkie van die toekoms in die hede in en breek ‘n deel van die nuwe hemel en aarde deur waarop ware blydskap en vreugde vir ewig sal woon.

Voorbidding

Dankoffers

Orrel: Lied 358 (Somerkersfees)

Slotsang

Lied 417 staan

Seën

Lied 228

Miga 4:14-5:5 – Son 20 Desember 09

Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofsang

Coetzer kinders speel saam met Albert

Lied 332 – God se liefde, so oneindig, sien die nood van sondaars raak

Lied 344 – O die goeie tyding, o die blye tyding, helder klink dit met Kersfeestyd

Toewyding

Miga 6:6-8

Lied 353:1,3 – vers 1: Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel.  Daar in die stad van Dawid word Hy Immanuel … vers 3: Wie glo in Jesus Christus, word nou sy eiendom.

Gebed

Skriflesing

Om oor die profete te preek, is ‘n groot uitdaging.  Dit is maklik om ‘n teks uit te lig, soos hierdie pragtige een in Miga 5:1 oor die Messias wat uit Betlehem gaan kom, en daaroor te preek.  Maar om dit in sy konteks te plaas in die 8ste eeu v C, en boonop die onderlinge dele van die boek met mekaar te versoen, is nie so maklik nie.

1.      Wat my help in my hantering van die profete, is om in die eerste plek te onthou dat hulle nie gaan sit het om ‘n verhaal te skrywe wat met ‘n plot en karakters werk nie, en ‘n begin, en ‘n einde, en ‘n inhoudsgedeelte gehad het nie.  Daarom is daar so min kronologie in hulle uitsprake, en is die uitsprake boonop selde gedateer.

2.      Miga dateer wel al sy uitsprake in die tyd van drie konings, Jotam, Agas en Hiskia, ‘n tydperk van meer as 50 jaar, in die 8ste eeu v C, maar sonder om te sê: hierdie woorde kom nou uit dié tyd (1:1).  Sy profesieë is daarom eerder ‘n versameling uitsprake wat oor ‘n tyd gelewer is, en uiteindelik deur ‘n profeteskool saamgegroepeer is, en mettertyd in ‘n boek saamgestel is.

3.      As ‘n mens, in die tweede plek, goed lees, kan jy sekere merkers in die teks kry wat jou help om die organisasie van die uitsprake te begryp.

a.      Bv., die woordjie Luister, in 1:2, 3:1 en 6:1, deel Miga gerieflik  in drie dele op: hfst 1-2; hfst 3-5; en hfst 6-7.

b.      In elkeen van die drie dele is daar verder gedeeltes wat onheil voorspel, sowel as gedeeltes wat hoop gee.  Dit gee ‘n mens alreeds ‘n goeie idee van die oorhoofse boodskap van Miga: God bring onheil oor die volk weens hulle ongehoorsaamheid, hulle nie-luister.  Maar, Hy laat hulle nie in sak en as nie, Hy gee ook die hoop dat dinge anders kan word.

c.       Nog dieper: die deel wat ons gaan lees, 4:14-5:5, is die middelste aankondiging van hoop, amper soos die middelste sirkel van ‘n aantal konsentriese sirkels, die bulls-eye, wat geleerdes (Allen) laat dink dat die belofte van die ideale koning die hoofboodskap van Miga is.

Maar daar is nog ‘n laaste ding wat belangrik is om die teksgedeelte te kan verstaan.  Ons moet bepaal wie is aan die woord in die verse, net Miga of moontlik ook ander stemme:

1.      Volgens die tradisionele uitleg is Miga die hele tyd aan die woord.  Dit maak vers 4-5 egter baie moeilik om te verstaan.  Waar God se krag in vers 3  die deurslag gee, gee die volk se krag die deurslag in vers 4-5.  Waar vers 3 van die vrede praat wat God sal bring, praat vers 4-5 van geweld en oorlog.  Dit maak die uitleg baie moeilik omdat die temas mekaar weerspreek.

2.      ‘n Ander manier om dit te verstaan (van Woude), is dat Miga in gesprek is met sy opponente in Jerusalem.  In die eerste deel tot vers 4a is Miga aan die woord.  En in vers 4b-5 is sy opponente aan die woord.

a.      Waar Miga dus sê in vers 14 dat die Assiriërs die huidige koning sal oorwin, sê die opponente in vers 4-5 dat die huidige koning die Assiriërs sal platloop met die swaard en dat die regeerder uit Betlehem vir Israel sal red uit die hand van die Assiriërs.

b.      Waar Miga praat oor ‘n koning wat sal kom ná die nederlaag teen Assirië, verskil sy opponente en sê dit sal nou gebeur.  Israel sal nie ondergaan nie, maar die Assiriërs verslaan.

c.       Met só ‘n interpretasie maak die hele gedeelte van hoofstuk 2 af meer sin.  Dit is bv. ook waar van net die volgende verse, vers 6 en 7 van hoofstuk 5, waar Miga in vers 6 praat van vrede wat sal heers, Jakob wat soos dou sal wees wat van die Here af kom, en die opponente in vers 7 wat praat van geweld wat sal heers, Jakob wat sal wees soos ‘n leeu tussen ‘n trop skape.  Vers 6 kom van Miga en vers 7 van die opponente.

Ek kies vir die tweede manier van interpretasie en gaan dit dan nou só lees: Miga 4:14-5:5

Woordverkondiging

Miga se skerp oordeel

Die tyd waarin Miga optree is ‘n tyd waarin sosiale en ekonomiese ongeregtigheid hoogty vier. Ryk grondeienaars lê snags wakker en bedink nuwe planne om hulle mag en rykdom uit te brei (2:1-2). Vroue en jong kinders word hulle huise ontneem, omdat hulle nie die mag het om vir hulleself op te staan nie (2:9). Die politieke leiers is daarop uit om hulle onderdane te misbruik en mishandel (3:1-3). Arbeiders word uitgebuit (3:10) en in die howe is omkopery aan die orde van die dag (3:11).

Op godsdienstige gebied is die posisie ewe benard. Miga veroordeel die afgodery van die volk (1:6-7). Die profete verlei die volk en pas hulle profesie aan om by hulle betaling te pas (3:5, 11). Die godsdienstige leiers is met ‘n gerusstellende teologie besig en stel die wederstrewige volk gerus, al is alles ver van reg af.

Miga, die profeet van Moreset, so 40 km van Jerusalem af in die Suide, tydgenoot van Jesaja, spreek daaroor ‘n verdoemende oordeel uit.  Hy is besonder skerp in die oordeel wat hy uitspreek oor mense wat dink hulle kan onafhanklik van God leef, dat hulle selfgenoegsaam is.  Hy verdoem die eensydige Sionsteologie wat voorspoed gepredik het al is die mense ver van God af; mense wat sê ” Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie.”

Hy oordeel skerp oor die feit dat God voorgestel word as ‘n goedige oupa, een wat net goed sal wees vir sy mense, maak nie saak wat hulle doen nie.  Selfs Vader Krismis het meer tande as dié God – hy gee immers net presente vir dié wat soet was deur die jaar.

Daarom, sê Miga, móét die Here ingryp en sy volk tot hulle sinne ruk. Telkens. Dalk vandag ook nog?

God se teenwoordigheid is ‘n tweesnydende swaard

Miga is geen mooi-weer-teoloog nie. Sy uitsprake wissel tussen oordeel en hoop. Daardeur bring hy ons by die ongemaklike waarheid dat God se teenwoordigheid soos ‘n tweesnydende swaard is. En wat op die oog af lyk na magtig en veilig – die stad Jerusalem met sy mure, die vooraanstaandes se sosiale status, die regering se politieke mag – word deur die profeet ontmasker as onder God se oordeel.

Die koning, heel moontlik Hiskia, sal deur die vyand met ‘n kierie op die kakebeen geslaan word.  Julle kan gaan lees in 2 Konings 18-20 oor die stryd van Hiskia met Assirië en die afloop daarvan.  Hoewel die Here hom die gevaar van Sanherib die hoof laat bied, val hy in die strik van hoogmoed toe hy later gesante van die koning van Babel al sy skatte wys.  Die skatte, soos Jesaja voorspel, is uiteindelik weggevoer na Babel in die 6de eeu v C met die ballingskap.

Maar, sê Miga, God wil nie net voor die voet straf nie.  Nee, Hy wil oë oopmaak vir die ware toedrag van sake – dat hulle Hom verlaat het, en op hulleself en hulle eie planne begin vertrou het.  En in die ontmaskering, wil Hy juis ‘n boodskap van hoop bring, sodat as mense luister, Hy hulle kan red en ware vrede kan bring.

God straf dus om die goeie weer te vestig, om ‘n nuwe verhouding met Hom en ‘n nuwe verhouding met mekaar tot stand te bring.  God se oordeel is nooit doelloos of boos nie.  Hy straf om dinge anders te maak, om dinge beter te maak, om die goeie uit die kwade na vore te bring.

God se redding kom uit ‘n onverwagse hoek

Maar, daarom kom God se redding uit ‘n plek waar mense dit die minste verwag. Nie vanuit die vooruitstrewende Jerusalem nie, maar vanuit die kleine Betlehem; nie met duisende soldate red Hy nie, maar met ‘n Gideonsbende; nie met die belangrike broers van Dawid hou Hy Hom op nie, maar met die een wat nie eens belangrik genoeg geag is om by die huis te wees nie, en skape moes oppas, Dawid.

Die wonder van die God van Abraham, Isak en Jakob is dat Hy hom telkens met die geringstes bemoei en dat sy ingrype telkens vanuit die onwaarskynlikste nederigste hoek kom.

Wat wel kenmerkend van die koning sal wees, is dat hy aan God sal behoort; hy sal die volk lei met die krag wat die Here gee; en sy heerskappy sal universeel wees, en tot in die uithoeke van die aarde strek.  Hy sal sterk wees en vrede bring.

Voorwaar ‘n groot visie, wat verder as die grondgebied van Israel sou strek, en wat God se koningskap oor die hele aarde sou vestig.

Matteus en die belofte van Miga

Die geskiedenis leer ons dat dié belofte van Miga nie in die tyd van Hiskia of enige ander koning na hom gerealiseer het nie.  Die ongehoorsaamheid van die volk het so toegeneem dat die Here toegelaat het dat hulle weggevoer is in ballingskap.  En selfs met die terugkeer na die ballingskap, is hierdie belofte nooit volledig vervul nie.

Tot met die geboorte van Jesus in Betlehem aan die begin van ons jaartelling.

Matteus beskryf in 2:6 Jesus se geboorte as die vervulling van die profesie van Miga 5:1: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.  Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”

Interessant dat Matteus die despotiese Herodes kontrasteer met die Nuwe Koning van die Jode wat uit Betlehem kom.  Die skynbaar veilige Herodes, die Grote, in Jerusalem word gekontrasteer met ‘n bedreigde Jesuskindjie in Betlehem. En die drie wyse manne kom van buite Israel se grense om hulde te kom bring aan die Koning van die Jode – die wêreld wat kennis neem van Jesus, toe die Jode dit nog nie kon raaksien nie.

Daarmee verkondig Matteus die hoop dat daar ‘n redder oppad is, juis toe alles nie daarop gedui het nie, juis toe hulle in ‘n staat van beleg was en al die tekens daarop gedui het dat daar nie redding is nie, selfs nie van die koning wat rigter/redder moes wees nie, maar gruwelik in sy doel faal.

Jesus se geboorte vind dus plaas in ‘n staat van beleg, soortgelyk aan die situasie in Juda in die 8ste eeu, waar Herodes hier probeer om die Jesuskind te vermoor deur alle seuntjies onder die ouderdom van 2 jaar uit te wis.  Terloops: Hierdie Herodes is self kort hierna dood, in 4 v C, wat beteken dat Jesus net voor hierdie datum gebore is.

Matteus gebruik dus Miga se profesie nie net om bloot die geboorteplek van Jesus aan te dui nie. Hy wys hoe die hoop midde in die wanhoop gestalte kry; hoe die Redder gebore word as ‘n kind en deur die ingrype van die Here beskerm word van die magtige koning wat sy lewe bedreig en daarmee saam die hoop vir die volk van God.

Wat sê dit vir ons?

1.  Die Here wil vanoggend aan moontlike siniese en mismoedige mense sê dat Hy nog steeds met ons besig is. En met ons geskiedenis. Ek dink ons lees die koerante en neem kennis van soveel onreg en verydeling, dat ons wanhoop aan ‘n toekoms.  En dit is nie net in die koerante wat ons van ander mense dié dinge lees nie, ons ervaar dit aan ons lyf.  Net in my kleiner vriendekring dié week was daar drie gevalle waar ons deel van die statistiek van dié land geraak het: ‘n Taxi wat Rethie van Niekerk se motor afskryf, vier jong mans wat Stephan en Alida Bothma se dogter Karlien en ‘n vriend probeer beroof, en twee vrouens wat in ‘n restaurant Christelle Strydom se handsak onder ons oë steel.

Nou, ‘n mens kan alreeds dankbaar wees dat daar soveel geluk by die ongeluk was, Rethie kon dood gewees het, as die motor voor haar nie begin beweeg het nie, Karlien hulle het net skrape opgedoen en het niks verloor nie, en Christelle kon haar kaarte stop voor daar geld uitgetrek is.  En die waarde van ‘n gemeenskap waarbinne ‘n mens opgevang is en wat oor en weer kan sorg en instaan en omgee, kan ‘n mens nie oorskat nie.

Maar breër as dit kan ons moed skep uit ‘n paar ander goed wat ons ook in die koerante kan lees, dié week bv. oor die hele projek by Addo, met mense wat op grondvlak die nood in die vorige eeu raakgesien het, toe die olifante byna uitgeroei is, grond gekoop het, ‘n natuurbewaringsprojek begin het en dit uitgebou het sodat ons nie nou net meer as 400 olifante in Addo het nie, maar die grondgebied gaan uitbrei en die enigste plek in die wêreld gaan wees waar die Groot Sewe besigtig kan word.

Dit is sulke tipe inisiatiewe wat nodig is, ook hier by ons, sodat misdaad en roekeloosheid die hoof gebied kan word.  En ek probeer nou nie sê dat ek daarmee ‘n aller antwoord gee wat die pyn van verlies gaan verlig nie, maar slegs sê dat waar meer sulke inisiatiewe kom, sal die impak van wetteloosheid minder wees.

En moenie dink dat sulke dinge nie vir God belangrik is nie. Hy wil nie net vir ons in die hemel kry nie.  Hy wil sy koningskap oor alle terreine van die aarde uitbrei, soos Miga dit al voorspel het.  En elke inisiatief wat orde en verantwoordelikheid en veiligheid en respek vir ander bring, is ‘n inisiatief wat die koninkryk laat kom.

2. Die gedeelte wil ook sê dat God meesal (altyd?) anders opereer as wat ons dink en wil. Dat ons tragedies sy triomfe kan word. Hiskia het gefaal in sy koningskap in die tyd van Miga.  Sy pa, Manasse het ook gefaal.  Ten spyte van Josia se hervormings in die tyd van Jeremia geleef het, het sy opvolgers ook gefaal en is die volk in ballingskap weggevoer.  En ten spyte van die terugkeer na die ballingskap het die volk nooit weer dieselfde hoogtes bereik as in die tyd van Dawid en Salomo nie.  Selfs die profete stem het stil geword na Maleagi … totdat Jesus in Betlehem gebore is.  En alles het daarna verander.  Die tragedie van die Joodse konings het die triomf van die Seun van Dawid, Jesus geword.

Wat nodig is, is dat ons Hom nie in die slegte tye verlaat nie. Dit is waar dat ons, soos Johan Rossouw sê, God as ‘kontrasterend’ kan beleef. Dat ons Hom soms as oordelend kan ervaar. Dat die God wat vir ons is, soms as die God wat teen ons is, ervaar kan word; Een wat teister in plaas van troos; Een wat aanval in plaas van red. Hy is immers nie net Redder nie, Hy is ook Regter.

Maar ons moet onthou, dat al sal God nie noodwendig altyd die goeie oor ons bring nie, is die goeie nuus, dat HÝ in die slegte tye nie verander nie, dat Hy steeds die Een bly wat ons tragedies in triomfe kan verander.

Die gedeelte wil ons dus aanspoor om aan hierdie God vas te hou. As die lewe vir ons ‘n raaisel word, kan ons weet dit is tog ‘n raaisel met hoop, want daar is vir ons Een gebore, en Hý is vir ons prysgegee, en Hy sal vrede bring.

As ons vanoggend hierdie boodskap gehoor het, kan ons hoopvol hier uitgaan – dit is wat Miga, Matteus en Kersfees wil sê.

Gebed

Geloofsbelydenis

Dankoffers

Slotlied

Lied 345 – Kom, alle getroues, vrolik en vol vreugde, o kom in die gees nou na Betlehem! Vers 2 dames eerste deel, almal refrein; vers 3 mans eerste deel, almal refrein

Seën

Amen

Lied 314

Jesaja 8:23-9:6 – Kersdag 09

Verwelkoming

Ons vier vandag die misterie van die menswording van God in Christus Jesus.

Die 4 kerse hiervoor staan vir Hoop, Vrede, Vreugde en Liefde.  Dit is 4 kerse, en vier beloftes wat God gedurig aan ons maak.  Met die aansteek van die wit Christuskers herinner dit ons daaraan dat alles in Hom vervul is.  In Christus vind ons die hoop, die vrede, die vreugde en die liefde.  In Christus vind ons lig en lewe en die moed om soos Hy te wees, om op Sy roepstem te antwoord én in Sy voetspore te volg!

Terwyl ons die Christuskers aansteek, steek ons dit aan die brand in die naam van die Een wat die lig self is en soos Maria en Josef lank terug gemaak het, noem ons hierdie lig ‘Jesus’.

Votum

Here Jesus, mag die lig van U lewe in ons brand

Mag dit ons lei om opnuut te ontdek

die brandende waarheid van God met ons,

God vir ons

en God in ons.

Amen.

Lofsang

Lied 365:1-3 – Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied

Lied 345:1-4 – Kom, alle getroues, vrolik en vol vreugde, o kom in die gees nou na Betlehem

Toewyding

Lees Titus 2:11-14

Lied 344:1-3 – O die goeie tyding, o die blye tyding – helder klink dit met Kersfeestyd

Kindertyd

Storie: Die heel belangrikste werk (Wendy Hartmann)

Gebed

Skriflesing

Twee opmerkings vooraf:

Die Siro-efraimitiese oorlog van 735-732 v C

1.  Die profesie van Jesaja moet in die lig van die Siro-Efraimitiese oorlog (735-732 v.C.) gelees word.

Sirië en die noordelike stamme van Israel het ‘n veldtog onderneem om Juda se koning, Agas, te forseer om by hulle alliansie teen die Assiriërs aan te sluit.  Agas het hom egter eerder by die Assiriërs geskaar teen Israel se noordelike stamme en Sirië (2 Kon 16:5-9). Assirië het teen Damaskus (die hoofstad van Sirië) opgetrek en hulle oorwin.

Groot dele van die noordelike stamme van Israel is by die Assiriese Ryk ingelyf.  Dele van Israel se bevolking is weggevoer en verskeie stede is verwoes (dié dat vers 2 verwys na die wat nie meer ‘n nasie is nie – vgl 2 Kon 15:29).  Vir Israel se noordelike stamme was dit die begin van die einde, wat 10 jaar later finaal in 722 v.C. aangebreek het.

Vir Juda was die gevolg dat hulle voortaan onderdanig aan Assirië moes wees.  Dit het godsdienstige onderdanigheid aan die gode van Assirië beteken (lees 2 Konings 16:10-18; Jesaja 2:6-8 en Miga 5:12-14) én swaar belastings (daar is selfs van die tempelskatte geneem om Assirië mee te betaal).

Dit was dus ‘n donker tyd, waarin baie mense gewanhoop het.

Hoop kom deur ‘n Kind

2.  Jesaja verkondig dat God sy volk vir hulle ongehoorsaamheid gaan straf, maar dat Hy tog midde-in die krisis hoop bring.  En die interessante van sy aankondiging van verandering is dat telkens met ‘n kind verband staan. In hoofstuk 7-11 word daar telkens in 8 gedeeltes gepraat van die verandering wat gaan kom, en dat dit nie deur volwassenes gaan kom nie. Nee, die verlossing kom in sommige gedeeltes deur kinders of word ervaar in ander gedeeltes deur kinders.

  • In hoofstuk 7 is dit die Immanuel wat vir die maagd gebore sal word, die God-met-ons.
  • In hoofstuk 7-8 is dit twee van Jesaja se eie seuns wat die naam kry van Oorblyfsel-keer-terug en Plunder-en-Roof waarmee voorspel word dat Samaria oorwin gaan word, maar ook dat ‘n oorblyfsel sal terugkeer.
  • In hoofstuk 8-9 is dit die seun, die Vors van Vrede, waarvan ons vanoggend gaan lees, wat God self is wat verandering gaan bring, maar as ‘n kind in die wêreld sal kom.
  • In hoofstuk 10 is dit ‘n klein seuntjie wat die getal van die Assiriërs sal kan tel wat oorbly na God met hulle klaar is.
  • In hoofstuk 11 word van die takkie uit die loot van Isai gepraat, op wie die Gees van die Here sal rus en wat ‘n regverdige en betroubare regering sal vestig. En weereens is twee kinders die simbool van hierdie regering, een wat vee aanjaag en ‘n ander een wat by die gat van ‘n slang speel, om te wys hoe anders en vol vrede sy regering sal wees.

Lees Jesaja 8:23-9:6

Woordverkondiging

Agas se dilemma

Ons kan ons indink in die dilemma van Agas in die Siro-Efraimitiese oorlog.  Sy bure maak teen hom oorlog, omdat hy nie saam met hulle teen Assirië wil veg nie.  Hy wil sy onafhanklikheid behou en nie betrokke raak in ‘n stryd teen die wêreldmoondheid van daardie tyd nie.  Maar sy opsies op politieke vlak is min.  Hy kon sy voelers uitsteek na Egipte, maar dan sou hy in elk geval in ‘n oorlog betrokke wees, en dit teen die magtige Assiriërs.

Hy soek op alle maniere hulp, onder andere by ander gode, met die gruwelike besluit om ‘n kind van hom te verbrand as ‘n offer (2 Kon 16:3).  Einde ten laaste besluit hy om die weg van die minste weerstand te volg, en sluit ‘n alliansie met die vyand van sy bure, juis die een teen wie hulle hom wil inspan, en soek beskerming by die grootste mag van die tyd, Tiglat-Pileser, die koning van die Assiriës.  Hy noem homself nogal die seun van die Assiriese koning.  Hoe ironies!

Maar dit beteken dat hy ‘n onderdaan van Assirië word, en selfs ‘n altaar vir hulle gode in die tempel aanbring.  Sy soewereiniteit is daarmee heen en sy godsdiens en dié van sy volk is gekompromitteer.

Sy fout?

Dat hy die Here nie geraadpleeg het nie, maar op sy eie planne staat gemaak het.

Nie dat die Here nie verskeie kere met hom probeer praat het deur sy profeet Jesaja nie. In die 16 jaar van sy regering was daar konstant ‘n woord van God aan hom deur die profeet Jesaja.  Maar hy het gekies om dit te ignoreer en sy eie kop te volg, tot groot skade vir sy volk, vir hulle aanbidding van die Here en vir homself.

God bring hoop wanneer dit hopeloos lyk

Maar, en dit is die eerste verrassende boodskap van die gedeelte, die Here laat Hom nie afsit deur ‘n halsstarrige koning nie.  Hy bring hoop selfs wanneer dit regtig hopeloos lyk. Daarmee los Hy nie net eensklaps alle probleme op nie.  Hy bring ook oordeel oor Agas en sy volk in die hoop dat dit hulle tot inkeer sal bring.  Maar in die aankondiging van die oordeel, blink daar alreeds die lig wat hoop bring vir die volk wat verdruk word.

Die tweede verrassende aspek van die verandering wat die Here gaan bring, is dat dit kom deur ‘n kind.

Nou, dit is alreeds baie betekenisvol, omdat dit wys hoe anders God is as koning Agas, wat een van sy eie kinders doodgemaak het.  Jesaja gebruik dus doelbewus die voorbeeld van ‘n kind, maar verkondig onomwonde dat God nie in die dood van kinders belangstel nie, soos Agas gedoen het, maar in die lewe van kinders.

En, nog dieper as dit, wys dit hoe God nie magtiges nodig het om sy wil te laat geskied nie.  Hy kan dit laat gebeur deur die lewe van ‘n kind, ‘n kind wat aan Hom behoort en in verhouding met God lewe.

God stuur ‘n kind

En om die boodskap helder te verkondig, wys Jesaja hoe God deur kinders sy nuwe bedeling in werking kan stel.

Die kind gaan drie dinge doen:

  • As gevolg van hulle ligging in die noorde van die land was die gebiede Sebulon en Naftali eerste aan die inval en invloed van heidense magte blootgestel. Juis hulle gebied word in ere herstel (vers 23). God gee hulle ‘n tuiste, ‘n plek om te veilig te bly.
  • Weens die oorlog en wegvoering was die oorblywende mense eintlik geen nasie meer nie. Die belofte is dat hulle weer baie sal word en hulle blydskap groot sal wees (vers 2). ‘n Nuwe gemeenskap word moontlik.
  • Met ‘n verwysing na die oorwinning van Gideon oor die Midianiete (Rigters 7), word belowe dat die juk van die vyand verbreek sal word en dat daar vrede sal kom (vers 3-4). Hulle sal vryheid ervaar.

En dit draai om een werklikheid: God wat weer sy teenwoordigheid in die volk sal laat geld (vers 2) deur die belofte van hierdie kind (vers 5-6).

Daarom sal dié ryk nie gebou word met militêre geweld soos met Dawid en die ander konings die geval was nie.  Dit sal gebou word deur reg en geregtigheid, dit sal billik en betroubaar wees.  Want dit is hoe God is, en dit is hoe sy regering sal wees.  En die waarborg van dit alles lê in God se onverdeelde trou.  Hy sal sorg dat dit gebeur.

Die Seun sal genoem word …

Watter tipe kind?

‘n Seun sal gebore word wat koning sal wees en vrede en voorspoed sal bring (vers 5-6).

  • Hy sal soos God self kan raad gee – Wonderbare Raadsman.
  • Hy sal goddelike krag hê om alle teenstand die hoof te bied – Sterke God of soos Watts vertaal God-Hero.
  • Hy sal soos ‘n Vader sorg vir sy kinders – Ewige Vader of soos Watts vertaal Father of the Future.
  • En Hy sal rus bring, vrede, vir almal en vir altyd – Vredevors.

Kom ons dink bietjie na oor elkeen van hierdie aspekte.

1.  Wonderbare Raadsman

Wat beteken dit?

Een kommentaar vertaal dit met Intelligente Strateeg. Dit is iemand wat met praktiese wysheid kan optree om ingewikkelde en komplekse probleme op te los.

Henry Carter, ‘n dominee en direkteur van ‘n kinderhuis waar die kinders bly wat regtig emosioneel verwaarloos is deur hulle ouerhuise, vertel van een ou Kersaand wat hy nooit sou vergeet nie.  Een van die huismoeders het vir hom kom sê dat Tommy onder sy bed lê en weier om uit te kom.

Hy het by Tommy se bed gaan staan. Hy het Tommy vertel van die liggies op die kersboom en die geskenke onder die boom. Alles wag vir hom as hy net onder sy bed sou uit kom … maar geen antwoord.

Henry het op sy knieë geval en die duvet opgetel.  Kyk, hy kon vir Tommy maklik uittrek onder die bed uit. Hy was net 8, maar het gelyk soos ‘n 5jarige.

Maar uittrek – hardhandigheid – was nie wat Tommy nodig gehad het nie. Nee, dit was vertroue en die vermoë om dinge op sy eie te besluit. Hy het onder die bed ingeloer en vir Tommy vertel van die Oukersaandete – in MONDWATERENDE detail. Maar daar was algehele stilte – geen reaksie van Tommy nie.

Ten einde laaste – kruip Henry onder die bed in en gaan lê langs Tommy. Hy het weer gepraat van die groot adventskrans en die kerse wat hulle gaan aansteek en die kersliedere wat hulle gaan sing!  Toe bly hy stil en lê langs hom.  Na ‘n tydjie, glip daar ‘n kinderhand by sy hand in.

“Weet jy Tommy, dis kwaai beknop hier onder hierdie bed, kom ons kruip hier uit en gaan sit op jou bed.”  En so het Tommy die moed gekry om saam met almal Kersfees te vier.

Henry vertel die storie en verbind dit dan aan Jesus, die Wonderbare Raadsman, die Intelligente Strateeg.

  • Het God nie na ons geroep, soos Henry vir Tommy, van Bo af nie?
  • Het Hy nie ons vertel van al die wonderlike dinge wat vir ons wag as ons saam met Hom lewe nie?
  • Toe ons nie wou luister nie, het HÝ nader gekom – deur sy profete en heilige manne – maar steeds wou mense soos Agas nie luister nie.
  • Maar dit was net waar tot die eerste Kersfees, toe God self onder die bed kom inkruip – een van ons geword – langs ons kom lê het – die Wonderbare Raadsman en ons ons hand in Syne kon plaas!

Dit is wat die Kind van Kersfees vir ons gee – die Wonderbare Raadsman – Iemand wat langs ons kom lê en ons van onder ons beddens na vryheid uitlei.

2.  Sterke God

Letterlik staan daar God-held of God-kryger. Wat beteken dit?

Dit beteken dat hierdie kind nie slegs groot planne maak en magtige besluite neem nie, maar dat Hy die vermoë het en die moed om dit alles uit te voer. Alles is vir Hom moontlik.

Kyk, Kersfees herinner my weer dat die onmoontlike – oorleef in hierdie bose wêreld – God se werk is.  Die moontlike is ons werk.  Die onmoontlike is God se werk.  Eintlik moet ‘n mens natuurlik sê, selfs die moontlike kan net met hope hulp van Bo gedoen word!

Ons het ‘n Sterke God wat die vermoë en die moed het om sy beloftes vir ons waar te maak.

Dit is wat Kersfees vir ons gee – ‘n Sterke God – Iemand wat voor ons die pad kan gelyk maak en ons deur alles kan dra na die bestemming wat Hy vir ons het.

3.  Ewige Vader

Wat beteken dit?

Dit beteken Hy is Pa van dit wat was, die geskiedenis, en dit was ism, die hede, en dit wat kom, die toekoms. Daarom is  “history always His Story”.

Wat ook al jy vandag mag glo, die geboorte van Jesus was so belangrik dat dit die geskiedenis in twee dele verdeel het. Alles wat op planeet aarde gebeur het val in ‘n kategorie – voor Christus of na Christus.

Hierdie Jesus het die wêreld meer as enige persoon verander. Selfs as mense vloek, gebruik mense Sy naam. Dit sou vreemd klink as ‘n golfer sy set mis en hy uitskree: “My Mandela!” of ‘n loodgieter sy vinger raakkap en skreeu: “My Gandhi!”

Ons kan nie wegkom van hierdie man Jesus nie. Hy het die wêreld verander of jy dit nou glo of nie. En Hy hou steeds die hele wêreld in sy hande.

Soos HG Wells tereg oor Jesus gesê het: “Jy kan die grootte van ‘n skip skat deur die volgstroom wat dit agterlaat. Jesus was ‘n groot skip!” Ons sien nou nog die volgstroom!

En dit is nie net vir die verlede nie.  Hy is ook die Vader van die toekoms, die Een wat Ewig lewe.

4.  Vredevors  (Prins van vrede)

Wat beteken dit?

Hy is die Kaptein (soos een kommentaar dit vertaal) wat ons lei na ‘n era van vrede.  Daarvoor het Hy vir ons ‘n stel nuwe lewensreëls kom gee, riglyne wat die vrede kan bring wat ons verstand te bowe gaan. (Matt 5-7 kom nie verniet net na dié verwysing in Matteus 4 na hierdie profesie uit Jesaja nie!)

Maar, en dit is betekenisvol, Hy doen dit anders as wat ons sou verwag:

Daar was ‘n man wat eenmaal in die land van die dwase beland het. Hy het agtergekom dat hulle vreesbevange is vir iets in die koringland waarin hulle werk.  “Daar is ‘n monster in die land” het hulle hom vertel.  Hy het gaan kyk en sien toe dat die monster ‘n groot waatlemoen is.

Hy bied toe aan om die monster dood te maak.  Hy het die waatlemoen gepluk, dit oopgesny en daarvan begin eet.  Toe raak hulle banger vir hom as vir die waatlemoen!  En hulle verdryf hom, want sê hulle: “Hy gaan ons hierna doodmaak, tensy ons van hom ontslae raak.”

Kort hierna het nog ‘n man in die land van die dwase aangekom.  Maar in plaas van om die monster uit hulle midde te verwyder – het hy saamgestem dat dit gevaarlik móét wees. Hy het stilletjies saam met hulle van die waatlemoen af weggesluip en het so hulle vertroue gewen.

Hy het ‘n lang tyd saam met hulle gebly.  Bietjie vir bietjie het hy hulle die basiese feite geleer wat hulle nie net instaat sou stel om hulle vrees vir waatlemoene te verloor nie, maar ook uiteindelik vir hulle te leer om waatlemoene te plant.

Dis presies soos Jesus gedoen het – die lewe is soos ‘n waatlemoen – eet, leef, groei dit en geniet dit – Hy het vir ons gewys hoe! Sy manier van lewe bly nog steeds die beste !

Slot

Ek het nou reeds verkondig dat dié kind Jesus was, soos Matteus in hoofstuk 4:12-25 sê.

Maar wat my tref in dié gedeelte van Matteus is hoe Jesus se bediening direk verband hou met die boodskap van Jesaja, nie net in die enkele vers wat aangehaal word nie, maar in die hele wyse waarop die begin van Jesus se bediening vertel word:

  • Dit is Hy wat spesifiek kies om aan die begin van sy bediening in Kapernaum te gaan bly, in dié gebied van Sebulon en Naftali, wat later Galilea genoem is. En eer bring aan dié gebied soos Jesaja voorspel het. Jesus kon op baie ander plekke begin het, Betlehem waar Hy gebore is, Nasaret waar Hy groot geword het, Jerusalem waar die tempel van God was. Maar, nee, Hy kies Galilea, die plek wat in die tyd van Jesaja so ernstig getref is deur die oorlog en die magspel van die politieke heersers van die tyd. En daardeur kom hulle tuis by God, soos die belofte in Jesaja 9 belowe het.
  • En Jesus kies mense van dié gebied as sy dissipels, twee stelle broers, mense wat gewone vissermanne was, kinders in die oë van die rykes en magtiges van die tyd. En Hy word hulle God-held, die Een wat voor hulle uitloop en hulle aan ‘n nuwe wêreld blootstel en uiteindelik van hulle self helde maak wat voor kon loop in die era van die Heilige Gees en die kerk se uitbreiding oor die aarde. En daardeur vorm hulle ‘n nuwe gemeenskap, die gemeenskap van die gelowiges, soos die belofte in Jesaja 9 belowe het.
  • En dan vertel Matteus dat Jesus in die hele gebied van Galilea rondgaan, die mense van God leer, elke soort kwaal en siekte genees, en vryheid vir almal bring. Hy bevry hulle van onderdrukking, van elke kwaal en siekte. En daardeur kom ‘n ware vryheid, wat die hoop laat opvlam vir ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar geen kwaad of boosheid sal heers nie, soos die belofte in Jesaja 9 belowe het.

Maar, en daarmee sluit ek af, wat my die meeste tref in Matteus se evangelie, is dat hy sê dat berigte oor Jesus deur die hele provinsie Sirië versprei het en almal van daar af na Hom gekom het en deur Hom aangeraak is en verander het.

Dit verstom my, dat selfs hierdie vyandige gebied, dié mense wat toentertyd uit Damaskus teen Agas en die Jode oorlog gevoer het, dat hulle ook die woord van God hoor, die woord van vrede en vreugde.

Wat my bring by die hoofboodskap van hierdie Kersfees.

“Daar is nie genoeg donkerte in die ganse wêreld wat die lig van een klein kersie kan verdoof nie” (Robert Alden).

Die lig van ‘n Kind in die stal by Betlehem het alles verander.

Een liggie verander alles – Een kind verander alles.

Dit was waar van Jesus.

Dit is waar van elkeen van ons.

Herinnering

Lied 348 – Stille nag, heilige nag

Gebed

Slotlied

Dankoffers by die deure

Lied 364 – Herders op die ope velde het dié nag die eng’lekoor met die blye evangelie uit die hemel aangehoor

Seën

Amen

Lied 314

1 Samuel 2:13-26 – Son 27 Desember 09

Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofsang

Lied 344 – O die goeie tyding, o die blye tyding – helder klink dit met Kersfeestyd

Lied 342 – O Jesus, ons Heer, U het ons verbly, uit boeie kom U ons bevry

Doop

Lied 290:1 & 4 – Dit is my troos dat ek gedoop is

Gebed

Skriflesing

Samuel word geskryf vanuit die perspektief van die katastrofe van die ballingskap. Die samestellers van die boek neem al die ou verhale van Samuel, Saul en Dawid en wys met ‘n baie eerlike oorsig waar dinge in hulle lewens in die verlede verkeerd gegaan het.  Dit moes vir die mense van die ballingskap help om hulle slegte situasie beter te begryp, omdat die verhale goeie redes gee vir die katastrofe.  Maar die samestellers vertel ook die hoopvolle stories van die verlede, in die lewens van Samuel en Dawid veral, om ‘n weg van hoop uit die ballingskap aan te toon.

In die gedeelte wat ons gaan lees, word die lewe van Eli se seuns met dié van Elkana en Hanna se seun Samuel gekontrasteer.  Dit word in 4 gedeeltes gedoen: 2:11-12; 2:13-21;  2:22-26; 2:27-4:1.

Ons lees net die middelste twee.  En ek wil hê dat ons aan die hand van dié verhaal nadink oor die vraag: Wat is ‘n goeie lewe? En dan nog dieper: Wat is ‘n goeie mens?

Lees 1 Samuel 2:13-26

Woordverkondiging

Die sterre van ons wêreld

Ons lees graag verhale van die sterre van ons wêreld.  Ons is gefassineer met die glans van hulle prestasies en hulle leefwêreld.

Daarom is dit eintlik onmoontlik om die storie van Tiger Woods in die nuus mis te lees.  Die man wat vir baie ‘n held was, het ook voete van klei.

Maar wat sit agter ons fassinasie met sulke sterre?

Dallas Willard dink dat dit te make het met die vraag na ‘n goeie lewe.  Wat is ‘n goeie lewe?  En nog dieper: Wat is ‘n goeie mens?

Wat is ‘n goeie lewe?

Almal van ons worstel met dié vraag.  Dit is in ons natuur om ‘n goeie lewe na te jaag.  Ons wil graag suksesvol wees.  Ons wil die vrugte van sukses pluk.  En selfs wanneer ons dit nie maak in ons eie of ander se oë nie, bly dit vir ons ‘n droom.  En reageer ons op ons mislukkings met óf rebellie – ons raak teenstanders van sukses of die establishment – óf depressie – ons gooi tou op en raak moedeloos met ons lewe.

En laat ons nou maar eerlik wees, dit help nie om negatief te reageer op dié drang in elkeen van ons nie. Want dit is in ons make-up ingeweef.  Dit is baie beter om konstruktief na te dink oor die maniere waarop ons die goeie lewe najaag waarmee ons ook die gevolge van ons keuses kan uitspel.

Een manier waarop ons die goeie lewe najaag, is deur te fokus op geld en besittings en status en eer en prestasies en aantreklikheid, want dit is waarmee ons die goeie lewe assosieer.  Die sterre van ons wêreld het immers baie keer hierdie goed.  Daarom dink ons dat hulle die goeie lewe het.  En, heimlik wil ons ook dié tipe lewe hê, want dit is tog ‘n goeie lewe!

As ‘n ster blyk voete van klei te hê, bly ons steeds gefassineer met hulle, baie keer omdat ons dink, as ons darem in só ‘n posisie was, sou ons slimmer gewees het.  Ons sou die goeie lewe kon geniet, sonder om dwaas op te tree en alles prys te gee.

Die geheim van ‘n goeie lewe

Ons moet egter dieper nadink oor die goeie lewe.  Wat is die geheim van ‘n goeie lewe?

Die geheim van ‘n goeie lewe is om ‘n goeie mens te wees.

Dit is so, omdat ‘n goeie lewe jou kan verlei om jou geld of besittings of aantreklikheid te misbruik.  En hoewel jy vir ‘n lang tyd die versoekings kan ignoreer, of as jy uiteindelik aan die versoekings toegee, vir ‘n tyd daarmee kan wegkom, kan jy dit nie vir altyd weggesteek nie.  Êrens kom dit uit, en dan bars die bubble.

‘n Mens kry nie ‘n goeie lewe deur te fokus op ‘n goeie lewe nie.  Jy kry dit deur te fokus daarop om ‘n goeie mens te wees.

Dit is omdat daar altyd ‘n konstante spanning sal wees tussen ons behoefte aan ‘n goeie lewe en ons behoefte om goeie mense te wees.  En die bepalende faktor gaan wees waaraan jy jou meeste tyd gaan spandeer.

John Ortberg skryf hieroor en sê dat ons hierdie spanning in die koerante kan sien as ons die advertensies met die huldeblyke vergelyk.

  • Advertensies vertel vir jou hoe jy pragtige hare kan hê, en wit tande, en mooi klere, en heerlike kos, en vinnige motors en ‘n pragtige liggaam en lekker kan ruik. “Femininity is Timeless” (Chanel No. 5)
  • Maar huldeblyke sê nooit, sy het pragtige hare gehad en wit tande en mooi klere en lekker geruik nie. Dit sê nooit hy het lekker kos gemaak en vinnige motors gery en ‘n pragtige liggaam gehad nie. Nee, dit praat oor watter goeie mens sy was, of watter navolgenswaardige pa hy was.
  • Die spanning lê in die feit dat ons wil hê wat die goeie lewe bied, terwyl ons die mens is waarvan die huldeblyke praat.

Ek kyk Kersdag na oom Danie Veldsman se grafsteen wat in ons kerkkantoor lê, en sien daar hierdie pragtige huldeblyk: “Wat hy kon, het hy gedoen.” Dit vat pragtig saam watter mens hy was en watter lewe hy gevolglik gehad het.

Daarom is dit baie meer belangrik om te fokus op hoe om ‘n goeie mens te wees. Dit gee vir jou ‘n goeie lewe, al is dit nie noodwendig geassosieer met geld en besittings en prestasies nie.  “Wat hy kon, het hy gedoen.”

Samuel was ‘n goeie mens

Dit bring my die verhaal van die kind Samuel.

Hy het van baie vroeg af verstaan wat dit beteken om ‘n goeie mens te wees.

Twee invloede het ‘n rol gespeel:

  • Sy ma Hanna wat hom nie net afgebid het van die Here, toe sy kinderloos was, maar aan die Here gegee het om Hom te dien in die tempel. En sy het hom steeds ondersteun deur hom te besoek en klere vir hom te neem.
  • Die toesig van Eli, wat op kritieke tye in Samuel se lewe, vir hom ‘n mentor was. Was hy maar so met sy eie seuns, het dinge miskien verskillend vir hulle almal uitgedraai.

Die belangrikste van Samuel egter was dat hy die Here gedien het, selfs voordat hy God se stem gehoor het, soos ons in hoofstuk 3 lees.  Ons lees daarvan in vers 11 en 18 en later in 3:1.

Vers 21 sê selfs dat Samuel by die Here grootgeword het, d.w.s. in die teenwoordigheid van God: letterlik “saam met Jahwe”.  Dieselfde frase kry ons wanneer Moses se posisie in Eks 34:28 beskryf word: “Moses was veertig dae en nagte by die Here”.  Samuel het dus ‘n Moses-tipe verhouding met die Here.

En die gevolge vir hom word uitgespel in vers 26: “en die Here en die mense was hom goedgesind.”  ‘n Goeie mens wat geëer word deur God en in die guns van mense gekom het.

En dit is interessant hoe hy dié goeie mens gebly het tot aan die einde van sy lewe – sonder dat hy ooit geval het vir die versoekings van ‘n goeie lewe.  1 Samuel 12 vertel hoe hy aan die einde van sy lewe verwys daarna dat hy niemand se os of donkie gevat het nie; dat hy niemand benadeel of verdruk het nie; dat hy nie omkoopgeld aanvaar het nie.

Eli se seuns was slegte mense wat die goeie lewe nagejaag het

Dit is in sterk kontras met die seuns van Eli.

Hulle het die goeie lewe nagejaag, sonder om enige effort in te sit om goeie mense te wees (of te bly).

Hulle het eintlik soos celebrities gelewe, met baie kos en baie vrouens:

  • Hulle het net rou vleis van die Israeliete gevat en nie gekookte vleis nie (want dan kon jy meer vleis uithaal, omdat rou vleis makliker vassit aan ‘n vurk as gaar vleis) en dit boonop ook met geweld afgedreig; daarmee het hulle nie net die wet oortree nie, maar die mense ook hulle agting laat verloor vir die offer van die Here; die hele idee van versoening met God het daarmee gedreig om in diskrediet te kom (2:15-17);
  • Hulle het by die vrouens geslaap wat by die ingang van die tent van ontmoeting diens doen, wat nie net immoreel was nie, maar ook die Israelitiese godsdiens daarmee tot dieselfde vlak as die Kanaänitiese vrugbaarheidsgodsdiens laat daal, en die volk verlei om God te dien, soos wat Baäl onder die Kanaäniete gedien is (2:22-25).
  • Eli se sonde in dié verband was dat hy net gekla het daaroor, maar nie opgetree en dit voorkom het nie, wat hy in staat was om te doen.

Die Here besluit daarom om Hofni en Pinehas dood te maak, soos een kommentaar sê: “they sinned past the zone of grace.  They had entered the zone of judgement, where the Lord’s activity hardens the heart rather than convicting of sin.” (vgl farao in Eks 4:21 en die “sonde wat tot die dood lei” in 1 Joh 5:16)

Let ook op hoe Eli blykbaar meer bekommerd is oor wat die mense oor sy seuns sê as oor hulle gedrag per se en die effek wat dit op die eer van die Here het.

En die gevolge vir die seuns en vir Eli is aardskuddend.  Hulle verloor letterlik alles.

Eli verspil só die uitsoek posisie wat sy voorvader Pinehas, kleinseun van Aäron, en na wie sy een seun vernoem is, vir hulle familie verwerf het, dat God ‘n verbond met hulle gesluit het dat hulle ‘n blywende priesterskap sou hê (Num 25:5-8)!  Hulle voorvader Pinehas het met dapper gehoorsaamheid en toewyding aan die Here opgetree, deur die Israeliet wat ‘n Midianitiese vrou binne die laer ingebring het, dood te maak,  en so God se toorn laat bedaar het weens Israel se afgodsdiens, en 24 000 van hulle al omgekom het.

Die priesterlike dinastie van Sadok (2 Sam 8:17) vervang dié van Pinehas-Eli, wat tot in die Nuwe Testament so bly.

Eli se nageslag word ook op een na uitgewis.

  • Dit het gebeur met die bloedbad op die priesters van Nob (22:6-18), toe daar net een uit Eli se nageslag vrygekom het, naamlik Abjatar (22:19-23). Hy het egter nie lank hierdie posisie beklee nie, maar is verban na Anatot toe (1 Kon 2:26) en Sadok, die “betroubare priester” (2:35), is in sy plek aangestel (1 Kon 2:25).
  • Met die hervormings van Josia is sy afstammelinge nie toegelaat om langer op die platteland werksaam te wees nie (2 Kon 23:8-9), maar is na Jerusalem toe verskuif waar hulle van die Sadokitiese priesters afhanklik was (vgl 2:36). Nogal ‘n hele omkeer in hulle hele verhaal.

Die geheim van ‘n goeie lewe lê dus onomwonde in die fokus om ‘n goeie mens te wees.

Maar wat sê die Nuwe Testament hieroor?

Wat is die goeie lewe en wie is ‘n goeie mens?

Jesus maak van ons goeie mense

Die goeie nuus van die Kersfees-kind Jesus is dat Hy die geheim van ‘n goeie lewe verstaan het.  Daarom noem Hy mense gelukkig wat sy lewensweg gevind het.  Hoe pragtig spel Hy dit nie uit in die Bergrede nie:

“Gelukkig is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt 5:3).

‘n Mens sou kon sê dat Samuel alreeds hierdie waarheid verstaan en uitgelewe het.

Die boodskap van die Nuwe Testament is daarom dat dit sulke mense is wat ‘n goeie lewe het, omdat God besig is om hulle goeie mense te maak, deurdat hulle sy kinders geword het, en Hy daagliks besig is om dit meer en meer ‘n werklikheid in hulle lewe te maak.

En die verrassende van God se werk, is dat Hy selfs vir gevalle sterre, ‘n uitkoms bied.  Oral waar die pad van belydenis en vergifnis gestap word, maak God van slegte mense goeie mense, want Hy maak van hulle sy kinders.

En die resultate van só ‘n goeie lewe is nie van verbygaande aard, soos geld en besittings en aantreklikheid nie.  Dit het ook nie net te make met jou eie selfsugtige belange nie, maar met God s’n.  Die impak van só ‘n lewe is dus nie net rondom jou eie belange nie, maar in die groter prentjie van God se wêreld.

Appèl

Ons moet vanoggend dus hoor dat ons weer ons fokus op die regte plek moet sit: om goeie mense te wees soos God dit vir ons uitspel.  Die geheim van ‘n goeie lewe lê in die fokus daarop om ‘n goeie mens te wees.

Daarvoor sal ons moet onthou, dat die prentjie wat in die tydskrifte en advertensies en flieks en TV van die goeie lewe geteken word, inherent gebroke en selfs vals is.

En moet ons strewe daarna om eerder te werk met die lewenswaardes van die huldeblyke as met die slogans van die advertensie wese.

Gebed

Dankoffers

Slotsang

Lied 367 – Ere aan God, in die hoogste!

Seën

Lied 314 – Amen

Matteus 2:1-12 – Oujaarsdiens 09



Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 365:1,2 – Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied: Vrede op aarde – God die eer – Hy daal tot die sondaar neer.

Lied 363:1-2 – In die nag by hulle weiding hoor die herders stemme sing.  Helder klink die goeie tyding deur ‘n eng’leskaar gebring.

Gebed

Skriflesing

Een van die stories wat telkens gelees word in die Epifanie tyd is die verhaal van die magi, die sterrekykers, wat met Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom het om aan die nuwe koning van die Jode hulde te bring.

Dit is ‘n besondere verhaal, wat net deur Matteus vertel word.

En dit is veral besonders, omdat dit 3 groepe mense se reaksies op God se menswording kontrasteer: 1) dié van Herodus en Jerusalem, 2) dié van die priesterhoofde en skrifgeleerdes en 3) dié van die sterrekykers.

En omdat ons vannaand die einde van 2009 bereik, is dit goed om aan die hand van dié drie groepe mense se reaksies op Jesus, ons eie verhaal van hierdie jaar te beoordeel, en na te dink oor wat ons reaksie op Jesus dié jaar was en hoe ons graag die nuwe jaar sou wou binnegaan.

Lees Matteus 2:1-12

Woordverkondiging

Needful Things

Randy Calvo vertel van die 1991 boek van Stephen King Needful Things.  Die boek gaan oor ‘n geskenke winkel in die fiktiewe Engelse dorpie Castle Rock.  Die eienaar, Leland Gaunt, het ‘n wye reeks geskenke in sy winkel.  Maar die aantrekkingskrag van die winkel is nie in die wye reeks geskenke nie.  Nee, wat die mense in die dorpie aantrek, is dat hy vir elkeen van hulle EEN ding het wat hy hulle wysmaak hulle die graagste wil hê in die lewe.  Maar, die probleem is, dat dié geskenk onbetaalbaar duur is.

Dan bied Leland vir elkeen van hulle ‘n ruiltransaksie.  Al wat hulle moet doen, om dié EEN ding, wat hulle die graagste in die lewe wil hê, te kry, is om ‘n eenvoudige poets – of so laat hy dit klink – op ‘n ander dorpenaar te bak.  En dan begin die dorpie se mense teen mekaar draai totdat die hele dorpie in chaos is.

Leland, kom ‘n mens mettertyd agter, is niemand anders as die duiwel self nie, wat regdeur Engeland toer en junk verkoop aan mense, wat dink dat hulle die EEN ding koop wat hulle die graagste wil hê.  Wat die mense mis, is dat bokant die voordeur van die winkel, daar ‘n bordjie opgeplak is, wat sê: Caveat Emptor … “Let the Buyer beware.”

Wat is die EEN ding wat jy graag wou hê hierdie jaar?  Wat het jou besig gehou en vasgevang?  Wat was die hoof ding in jou lewe?

God se teenwoordigheid in die wêreld – Epifanie

Dit is ‘n goeie tyd aan die einde van ‘n jaar om ‘n mens met dié vraag besig te hou.  Dit is die tyd van Christus se verskyning, die Epifanie.  Ons vier in dié tyd die wonderlike feit dat God in ons wêreld ingekom het, by ons kom woning maak het.

En Epifanie help ons om ons lewens te beoordeel in die lig van God se teenwoordigheid in die wêreld.  En om te oorweeg of die ding wat ons besig gehou het met Hom en sy teenwoordigheid te make gehad het.

Kom ons kyk ‘n bietjie meer in diepte na die verhaal van Matteus en veral na die 3 groepe mense se reaksie op Jesus.

Matteus se verhaal

1.  Herodes reageer met berekende ontsteltenis, en Matteus sê die hele Jerusalem saam met hom. ‘n Mens kan aanvaar dat hier van die mense na aan die koningshuis of ten minste die middelklas gepraat word.

Op slinkse wyse ontbied hy die sterrekykers in die geheim, nadat hy deur die profesie van Miga agtergekom het dat die Messias in Betlehem gebore sou word, en beplan om hulle niksvermoedend te gebruik om die koning uit te roei.

Herodes reageer dus uit ‘n magsposisie wat geen kompetisie duld nie. Hy is van die begin af ‘n aktiewe teëstander van die boodskap van Kersfees.  Hy verteenwoordig daarmee die gevestigde belange van die magte van die dag. Gaan so ver om deur die sterrekykers die kompetisie uit die weg te probeer ruim – sy manier van “hulde bring”.  En as die sterrekykers te slim is vir hom, en op God se waarskuwing nie teruggaan Jerusalem toe nie, pleeg hy ‘n wrede kindermoord om Jesus by te kom.

Daarmee is hy vir ons ‘n voorbeeld van iemand wat in God se teenwoordigheid kompetisie ruik, en net nie te vinde is daarvoor dat Hy ook ‘n plek in sy lewe kry nie.

Die teenstand kan baie aktief wees – dan sal ‘n mens seker nou nie vannaand hier in die kerk sit nie, moet ek darem bysê – of dit kan meer subtiel wees, waar God net ingeperk word tot ‘n area wat klein genoeg is om nie die hoof dinge in jou lewe te benadeel of bedreig nie.  Jy staan Hom nie aktief teë nie, maar Hy het net toegang tot jou by ‘n erediens of ‘n noodsituasie, wanneer nood leer bid.

2.  Die priesterhoofde en skrifgeleerdes is weer interessant genoeg tevrede om net die Bybel te lees, die regte antwoord daaruit te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie.  Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie.  Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis. Hulle is eintlik tragies-komiese figure.  Hulle verteenwoordig die godsdienstige establishment, wat alles weet, maar nooit so ver kom om tot aksie oor te gaan nie.  Hulle sit met al die antwoorde, maar kan nie die brug slaan na die avontuur van die regte lewe, waar die wonder van die gemeenskap met God wag nie.

Want sien, ‘n mens kan so in die Bybel boer, by wyse van spreke, dat jy die God van die Bybel mis.  Jesus verkwalik op ‘n keer self die skrifgeleerdes dat hulle die Bybel met groot oorgawe ondersoek, maar nie na Hom toe kom en in Sy teenwoordigheid vir God vind nie.

Ek wil nou definitief nie daarmee sê dat julle nie die Bybel moet lees nie, maar wel sê dat die Bybel ‘n pad na God toe moet wees, na luister wat Hy as die Lewende God sê.  En om Hom ook in die glimlag van ‘n kind en in die wind by die see te soek en te vind.

Daar is só ‘n groot gevaar dat ‘n mens in die vergadering van gelowiges kan wees, alles kan hoor en selfs kan saamstem oor die waarheid van die evangelieboodskap, maar nooit die vreugde en die vrede en die uitdagings daarvan ervaar nie.

3.  Die sterrekykers het egter net een doel voor oë: hulle wil die koning sien en sal nie dat iets hulle verhinder om hulle doel te bereik nie.  Hulle wil in die teenwoordigheid van die koning kom, want dit verander alles.

Ons weet min van hierdie sterrekykers.  In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior and Balthazar, maar daar is geen historiese getuienis wat dit bevestig nie.  Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie – dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het.  Ons weet ook nie baie van die ster af nie, of dit ‘n supernova was of ‘n samekoms van ‘n paar planete of doodgewoon ‘n natuurwonder.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – ons weet dit ook nie.

Ons weet net een ding, en dit is dat hulle die koning wou sien en dat hulle alles in die stryd gewerp het om dit reg te kry.  Hulle, uit ‘n vreemde kultuur, en heel moontlik uit ‘n vreemde godsdiens, het die kairos onderskei, die moment van beslissing in die geskiedenis, die dag dat Christus gebore is.

En daarmee word hulle natuurlik ook verander en ingetrek in die Kersverhaal.  As hulle na hulle besoek aan Jesus terug wil gaan, word hulle in ‘n droom deur God gewaarsku om nie vir Herodes te sê waar Jesus is nie.  Dit beteken dat hulle, heidene uit ‘n veraf land, saam met die herders, wat ook nie gerekende mense was nie, ingetrek is in die kring wat om Jesus ontstaan het.  Hulle kom in kontak met God, wat selfs van hulle beskermers van die Kind maak, deurdat hulle Herodes se planne fnuik.

Dit is wonderlik hoe ryk en arm, geleerd en ongeleerd, Jood en heiden mekaar voor die krip ontmoet en in harmonie voor God verkeer.  Dit is regtig ‘n ontmoeting van hemel en aarde, waar die aardse verander en hemels maak.

En hulle is vir my daarom ‘n voorbeeld van mense wat die moment van beslissing, die dinge waarop dit regtig aankom, kon onderskei.  En wat die een ding, die passie om in die teenwoordigheid van God te wees, met alles in hulle nagejaag het.

Toepassing

As ons nou dink aan die drie groepe en met wie ons wil identifiseer, dink ek ons sal twee goed agterkom: 1) dat ons graag soos die sterrekykers wil wees, en 2) dat daar tog soms trekke van die twee ander groepe ook in ons menswees sigbaar is, ‘n besig wees met die dinge van God sonder om met die God van die dinge besig te wees, en soms selfs ‘n aktiewe beskerming van ons eie belange, waar ons die Here nie wil toelaat om God te wees nie.

Daar is natuurlik niks verkeerd om met die sterrekykers te wil identifiseer nie, en die gedeelte wil juis dit met ons regkry.  Maar ons sal goed doen om ook te bely waar ons soos Herodes of soos die priesterhoofde en die skrifgeleerdes hierdie jaar opgetree het.

As jy dus terugdink aan dié jaar, bely die punte waar jy tekort geskiet het, en laat dit vannaand hier.

En onthou dan die momente van God se teenwoordigheid.  Want dit is die dinge wat regtig saak maak, die momente dié jaar waar jy die Here se teenwoordigheid ervaar het.  Waar jy net geweet het, ek is by Hom en Hy is by my en alles is reg, selfs al is alles verkeerd.

Wat jy dus met jou saamvat in die nuwe jaar in, is dié momente. En die enigste voorneme wat gaan sin maak vir die nuwe jaar, is om hierdie Godsmomente te soek en te onderskei en te vertroetel.

Kom ons gee ‘n tyd waar ons ons opnuut aan die Here kan toewy.

Gebed

Ek gaan julle begelei in ‘n gebed van aflê – jy kan jou hande simbolies ondertoe draai – en dan daarna in ‘n gebed van onthou en vertroetel – jy kan jou hande simbolies boontoe draai.

Slotlied

Lied 355 – Al was ek nie daar nie – ek weet dit is waar: Die krip en Maria met die Kindjie by haar.

Seën

Amen

Lied 314