Skip to main content

Josua 1:1-9 – God praat deur sy Woord

Voor Josua het God op baie maniere met mense gepraat

  • direk met die oermense: Adam, Eva, Abel, Kain en Noag ook met natuurtekens, soos die reënboog, en deur engele;
  • steeds direk met die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob, sowel as deur gesigte en engele en dan uiteindelik veral deur drome met Josef.
  • Wanneer Moses op die toneel verskyn, sien ‘n mens aan die eenkant hoe God in die natuur praat, die braambos wat brand in die woestyn, die plae wat die Here stuur in Egipte en die donderslae op die berg Sinai wat die gawe van die wet begelei, maar aan die ander kant is daar ook ‘n persoonlike kant waar Moses letterlik so naby aan God kom dat hy toegelaat word om God van agter te sien.

In Eksodus 33 word hulle gemeenskap met mekaar as volg beskryf: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend.” (vers 11).

Maar met Josua kom daar ‘n verskuiwing.

Ons tref Josua vir die eerste keer aan in Eksodus 17:8-16 in die geveg teen die Amelekiete.  En die konflik tussen Amalek en Israel sou baie jare voortduur. Selfs in die verhaal van Ester sou dit nog ’n rol speel – Haman wat die Jode wou uitmoor, was ’n Amalekiet.

Sommige geleerdes dink dat hier ’n dispuut oor “die water uit die rots” by Refidim ontstaan het.  Moses het daar met die kierie in opdrag van die Here op ’n rots geslaan waaruit daar toe water uitgeloop het.  Amalek wil dié wonderwater vir hulleself inpalm.  Moses kies dan vir Josua om ’n weermag saam te stel om die bedreiging van die Amelekiete af te weer.  Julle sal miskien die verhaal onthou uit die prentjie van Aäron en Hur wat Moses se arms omhoog gehou het waarmee op ’n bonatuurlike wyse Josua se oorwinning bepaal is.

Maar dan is daar hierdie wonderlike ding wat in vers 14 gesê word: “die Here het vir Moses gesê: ‘Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg.”!

Hierdie geskrif was die begin van wat die Bybel as die woorde van Moses aan ons bekendstel – en dit word hier baie spesifiek en in die eerste plek deur die Here aan Josua gerig.

En daarmee is die patroon vir Josua vasgestel, waarop Josua 1 voortborduur.  God praat op baie maniere – selfs met Josua – maar die manier wat God begin verkies, is om deur die geskrewe Woord te praat.

Josua probeer ook op ander maniere na God luister

Die volgende plek waar ons van Josua lees is in Eksodus 24:1-18 waar Josua, – hy word as Moses se “assistent” beskryf (:13) – saam met Moses verder op teen die berg op bevel van God gaan, terwyl die volk agterbly onder Aäron se leierskap.  Nou ons lees nie veel oor Josua se rol in hierdie ongelooflike gebeurtenis nie.  Maar dat hy baie geïnteresseerd was in wat daar gebeur, kan ons sonder twyfel aanvaar.  Maar, hy word nie in die gesprek met God ingesluit nie.  Aan die einde van hierdie 40 dae op die berg tref ons Josua wel aan in gesprek met Moses, moontlik met die terugkeer na die kamp, maar sonder dat dit lyk asof God ook met hom gepraat het (32:17).

Hierna lyk dit asof Josua Moses nie onder sy oë laat uitgaan nie, en deurentyd naby aan Moses probeer bly, aan die een kant natuurlik om te leer van Moses, maar aan die ander kant moontlik ook om dieselfde ervarings met God te hê as wat Moses gehad het. Ons lees bv in Eksodus 33:7-23 – van verskillende ontmoetinge wat Moses met God in die tent van ontmoeting gehad het.  En dan lees ons hierdie interessante mededeling.

Na die verskyning van God aan Moses, is Moses terug kamp toe, “maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.” (:11)  Josua het dus alles probeer om in die teenwoordigheid van God te bly, of ten minste so na as moontlik daaraan te kom.  Tog het dit nie met hom gebeur nie op dieselfde wyse as met Moses nie.

En so verloop sy verhaal deurgaans.  Hy is ’n uitnemende ontwikkelende leier, waarvan sy rol in die storie van die mislukte eerste Intog uitstaan –  Numeri 13-15 – waar hy saam met Kaleb, anders as die ander 10 verkenners, gedink het hulle het ’n goeie kans om die land in te neem – met God aan hulle kant – hoewel dit hom die gramskap van die ander verkenners en die volk op die hals haal.  En ons weet sy stem het hier ongelukkig nog nie genoeg gewig gedra nie en die volk moes uiteindelik 40 jaar rondtrek in die woestyn.

God praat deur Sy Woord

En hier in Josua 1 tref ons Josua uiteindelik aan as die leier van die volk, wat deur Moses aangestel is as sy opvolger (Deut 31) en wat die volk suksesvol in Kanaän inlei.

Maar dit wat ons reeds aan die begin van sy leierskap sien, dat God met geskrewe woorde met hom praat, dít maak die Here nou die fokus van sy hele lewe – soos God dit vandag nog met ons doen – deur die geskrewe Woord.

Let op:

1) ’n Omvattende belofte word aan hom in vers 5-6 gegee.  “Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees.  Ek sal jou nie in die steek laat nie.  Ek sal jou nie verlaat nie.”

Josua kan die uitdaging van die Intog aanpak in volle versekering dat God met hom sal wees.  En hierdie belofte word uitgebrei dat dit die roeping wat God vir hom het, insluit.  “Jy moet hierdie volk die land in besit laat neem – Wees daarom sterk, want Ek is by jou.”

2)  Maar daarmee saam kom ’n verdere opdrag aan hom – “Wees veral … sterk en vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het.  Jy moet daarvan nie links of regs afwyk nie.” Hy moet die wet dus prakties uitvoer in sy lewe.

En hoe moet hy dit doen?

1.      Josua moet dit die rigsnoer maak vir alles wat hy sê.  Sy woorde moet daardeur bepaal word.

2.      Hy moet dit dag en nag oordink.  Sy gedagtes moet dus vol word van die woorde van God.

3.      Hy moet sorg dat hy alles uitvoer wat daarin geskryf staan.  Sy dade moet dit ten uitvoer bring.  Die Woord moet prakties word in sy lewe.

Kortom, sy hele lewe moet deur die geskrewe Woord van God begelei word.

Weliswaar gebeur daar ook nog wonders in sy lewe.  In Jos 5:13 vertel die skrywer ons dat Josua ‘n engel, die leërowerste van die Here, sien, net voor hy Jerigo inval, maar die primêre manier waarop God met hom praat, bly die geskrewe woorde van God.

Josua kry ook die voorreg om self later by te dra tot die Bybel.  Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan (Jos 24:26).  En so is daar Sameul na hom, en Dawid en die profete en later die NT skrywers, wat almal God se gesproke woorde en hulle nadenke daaroor op skrif gestel het, sodat ons vandag die geskrewe Woord van God in ons hand kan vashou.

Kom ons raak prakties

Kyk, niks kom daarby om God te hoor praat deur sy Woord nie. Niks is ook meer belangrik as om God se Woord te hoor en daarop te reageer nie.  Die Woord moet vir ons soos ‘n huis word waarin ons woon, dit moet soos klere word wat jy aantrek, dit moet soos kos word wat jy eet en wat jou versadig.

Maar hoe?

Daar is baie verskillende Bybelstudie metodes.  Sommige is meer informatief van aard en ander meer formatief van aard.  En julle kan meer daaroor gaan lees by Bybelskool.com.  Kyk by Inligting/Bybellees.

Die idee met alle metodes is om beide die breë lyne van boek of hoofstuk van die Bybel asook die fyner detail daarvan raak te lees en die betekenis en die impak daarvan vir ons lewe te oorweeg. Want, dit is hoe jy uiteindelik God hoor praat, en die Woord ’n riglyn word vir jou lewe.  Dit is juis in die refleksie en nadenke oor die betekenis van die Bybel dat on God hoor praat en geestelike groei plaasvind.

Jy kan enige sisteem gebruik om vir jou aantekeninge te maak, selfs kort aantekeninge in die kantlyn van die Bybel.  Hier is ’n aantal metodes waaruit jy kan kies – ek lus 8, daar is meer. Kies 1 of probeer ’n paar uit vir afwisseling.

Drie simbole

Werk met drie simbole waaroor jy dan kan reflekteer:

! – IETS WAT JOU GETREF HET

? – IETS WAAROOR JY ‘N VRAAG HET

– IETS VAN GROOT BETEKENIS

Drie pyl metode

Jy kan drie pyle gebruik:

← Kyk terug

↑ Kyk boontoe

→ Kyk vorentoe

Eenvoudige luistersiklus

  • RUS
    • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
    • Gee dit in gebed aan God.
  • HOOR
    • Lees die Skrifgedeelte hardop.
    • Dink na oor wat jou daarin tref.
  • LEEF
    • Wat lê die Here nou op jou hart?
    • Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af.

Lees soos ‘n Kunstenaar[1]

  • Wat tref my?
  • Watter nuwe gedagtes kry ek?
  • Wat moet ek daarmee doen?

Lees soos ‘n Speurder

  • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
  • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
  • Wat nou (aksie, met wie)?

Lees soos ‘n Skatkisjagter

  • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
  • Wat moet ek hiermee doen?

Lees soos ‘n Vakleerling

  • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
  • Wat moet ek hiermee doen?

Lectio Divina

Lectio divina, of “geestelike lees” word op verskillende maniere gedoen.

Die een wat ek die sinvolste vind (Alice Fryling – The Art of Listening), werk as volg:

1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te lewe

2. Lectio – lees die Skrifgedeelte hardop en fokus op ‘n vers of gedagte wat jou tref

3. Meditatio – oordink die praktiese impak daarvan op jou lewe

4. Oratio – antwoord God in gebed daarop

5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat

6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.

As jy meer oor die tradisionele aanpak van Lectio Divina wil lees, kan jy by Bybelskool.com meer lees.

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.


Vir verdere nadenke oor Josua 1:1-9

  • Lees Josua 1:5-6 as God se belofte ook vir jou.   Dink na oor die jaar wat kom en die roeping wat God vir jou het.  Verbind jou daaraan in gebed.
  • Stel vir jou ’n werkbare plan op om Josua 1:7-8 se opdrag hierdie jaar uit te voer.

[1] Hierdie en die volgende 3 metodes kom van Adele Calhoun af (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief.

 

Jesaja 2:1-5 – Erediens: God gee lig vir die lewe deur sy mense – 23 Januarie 2011

Voorbereiding vir ‘n besoek

My suster bel middel Desember en sê, hulle bring my ma en pa met die trein vir ‘n kort kuier.  Ons sê ja, maar moet toe ons vakansieplanne met 2 dae uitstel, omdat ons eintlik op pad is Kaap toe.  ‘n Dag voor die tyd bel my broer en sê hulle reën uit op Nature’s Valley, het ons plek vir hulle?

En skielik is ons 17 mense wat geslaap en geëet moet kom.  In ons familie dink ons eerste aan hoe ons saam gaan eet – so 3 kg fillet en ‘n paar lekker bottels wyn en 60 eiers en hope spek en 4 brode vind hulle plek in ons kombuis.  Dit is net vir een dag en nag!

Volgende aan die beurt is slaapplek, en dis matrasse en rondskuif en regmaak.  En toe skoonmaak, badkamers, kombuis, kamers, sorg vir beddegoed, en handdoeke en parkering om te sorg dat alles reg is, sodat ons darem almal kan saamkuier, en ons mekaar se teenwoordigheid kan geniet.

Ken julle dit?

Dit is wat ‘n mens doen as jy uitsien na die koms van mense na aan jou.  En dit was ‘n fees.  Natuurlik hopeloos te veel eiers gewees, maar die fillet het heerlik gesmaak en dit was ‘n onthou-fees, een wat ons lank sal onthou, al was dit so ’n kort kuier.

En dit is uit dié hoek wat ek ons teks wil ontsluit.

Hier volg die hele erediens

Continue reading

Jesaja 2:1-5 – Erediens: God gee lig vir die lewe deur sy mense – 23 Januarie 2011

Hier volg die hele erediens

Verwelkoming

Baie welkom.

Ons het geleer om gasvry te wees, veral ook met mense van ’n ander ouderdomsgroep.

Groet mekaar en kyk veral na iemand wat jonger as jy is, of ouer as jy is.

Verjaarsdae – almal wat verjaar, kan staan, dat ons geluk kan sê.

Aankondigings

Votum en Seëngroet

Lofprysing

Vonkk 82 Laat ons skyn vir Jesus met ‘n helder glans – staan

Flam 108 Jesus maak my soos ’n sonstraal (x2) – staan

Vonkk 23 Jesus, U is die lig in ons lewe (x2) – sit

Vonkk 83 Kom ons wandel in die lig van God (Afr/Eng/Afr) – sit

Liedboek 488:1,2,5 Helder skyn ons lig vir die nasies – staan

Kindertyd

  • Graad Eens – opwindende jaar, haasbekkies, stralend, nuwe ervarings
  • Dinosaurus – wat is oulik aan dié een?
  • Hy gloei.
  • Hoekom?
  • Lig val op hom.
  • Kom ons kyk hoe hy werk – ek ’n box hier met ’n gat in.  Ek gaan hom nou in die lig van hierdie lampie hou, en dan insit.  Dan kan julle sien hoe hy gloei.
  • Dit is hoe ons ook is.  God se lig val op ons, dan verander ons lewens.
  • Hoe kan ons in sy lig lewe?
  • Wat dink julle?

o   Kerktoe kom

o   Saam bid by die huis

o   Bybellees

  • Ek wil hê julle moet in die banke ’n prent gaan teken.
  • Neem ’n papier  – onderaan staan die teksvers: “Kom, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.”
  • Teken vir my jou familie wat lewe in die lig wat van die Here af kom.
  • Kom wys vir my as ons dankoffers opneem.
  • Bring sommer die kryte dan terug ook.
  • Dan kan julle die prent gaan opplak in julle huis.

Gebed

Skriflesing

Jesaja 2:1-5

Die hoofstuk word in drie dele opgedeel:

1.       ’n profesie oor die toekoms wat God in Sion vir die nasies skep – vers 2-5;

2.       ’n oordeel oor die volk wat hulleself met afgode verneder – vers 6-11;

3.       ’n oordeel oor die aarde wat selfs die afgode insluit – vers 12-22

Woordverkondiging

God gee lig vir die lewe deur sy mense

Preek

Voorbereiding vir ‘n besoek

My suster bel middel Desember en sê, hulle bring my ma en pa met die trein vir ‘n kort kuier.  Ons sê ja, maar moet toe ons vakansieplanne met 2 dae uitstel, omdat ons eintlik op pad is Kaap toe.  ‘n Dag voor die tyd bel my broer en sê hulle reën uit op Nature’s Valley, het ons plek vir hulle?

En skielik is ons 17 mense wat geslaap en geëet moet kom.  In ons familie dink ons eerste aan hoe ons saam gaan eet – so 3 kg fillet en ‘n paar lekker bottels wyn en 60 eiers en hope spek en 4 brode vind hulle plek in ons kombuis.  Dit is net vir een dag en nag!

Volgende aan die beurt is slaapplek, en dis matrasse en rondskuif en regmaak.  En toe skoonmaak, badkamers, kombuis, kamers, sorg vir beddegoed, en handdoeke en parkering om te sorg dat alles reg is, sodat ons darem almal kan saamkuier, en ons mekaar se teenwoordigheid kan geniet.

Ken julle dit?

Dit is wat ‘n mens doen as jy uitsien na die koms van mense na aan jou.  En dit was ‘n fees.  Natuurlik hopeloos te veel eiers gewees, maar die fillet het heerlik gesmaak en dit was ‘n onthou-fees, een wat ons lank sal onthou, al was dit so ’n kort kuier.

En dit is uit dié hoek wat ek ons teks wil ontsluit.

God wys Jesaja ’n prentjie

Eerste ding wat my tref is dat Jesaja in vers 1 sê – die woord wat Jesaja gesien het oor Juda en Jerusalem.  Dit is iets wat God hom gewys het.  Ons weet nie hoe nie.  Jesaja vertel ons nie soos ‘n Esegiël of ‘n Johannes wat met hulle gebeur het nie.  Maar dit maak nie saak nie, want die inhoud van die prentjie wat hy sien, is ongelooflik inspirerend.

Dit is net ongelooflik hoe kragtig ’n prentjie is.  As jy dit eers gesien het, dan maak dit sin, en dan kan dit ongelooflik motiverend inwerk.

God kom kuier by ons

En dit is die tweede ding wat my tref, die visie wat God vir sy volk het, om ’n blywende ontmoetingsplek, te wees – kom ons noem dit ’n kuierplek – vir die nasies te wees, ’n plek waar hulle God kan ontmoet en met Hom kan kontak maak – iets wat alreeds aan Abraham beloof is (Gen 12:1-3) dat hy tot ’n seën vir die nasies sal wees.

Ons het al met baie beelde en prentjies gewerk om te sê waarvoor ons hier is.  Ons praat van die kerk as die liggaam van Christus, en die kerk as die gebou van God waarin ons soos lewende stene ingemessel word.

Maar daar is tog iets besonders om oor die kerk te dink as die kuierplek van God, die plek waar Hy tussen ons is en ons met Hom feesvier, sy wil leer ken, en daar ’n ongelooflike vryheid en gemeensaamheid tussen mense bestaan.

God is ’n kuierplek vir die nasies

Maar Jesaja bedoel nie dat dit net vir die kerk se mense so sal wees nie.  Nee, God belowe in Jesaja dat Hy ‘n kuierplek vir al die nasies gaan wees.  Al die nasies sal daarheen stroom.  Hulle sal sê, kom laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe.

En waarheen kom hulle?  Hulle kom na dié by wie God reeds sy intrek geneem het, dié by wie God reeds kuier.

God kom by ons woon

Maar daar is eintlik nog meer.  Die teks praat natuurlik nie regtig van kuier nie.  Dit praat van woon.  God maak ons sy woonplek sodat Hy deur ons ’n woonplek vir die nasies kan word.  Die kuierplek is ’n woonplek.  Dit is iets wat nie net vir ’n dag gebeur nie.  Dit is blywend.  Dit is iets wat nie tot ’n hoogtepunt lei en daarna kom die afskeid en die verlies nie.  Nee, die woonplek van God is blywend onder sy mense.  Kuier is woon.

Lewe in die lig wat van God af kom

Die derde ding wat my tref is dat die volk opgeroep word in vers 5 om in die lig van hierdie openbaring, hierdie lig wat van die Here af kom, te lewe.

Hoekom?

Wel waar God kom kuier, waar Hy kom woon, in die woorde van Jesaja, is dit nie meer nodig om oorlog te maak nie.  Nee, ons kan fokus op wat ons bestaansdoel is, om eerder te sorg dat daar kos is vir almal, as om te keer dat ander kos in die hande kry.  God maak van soldate boere, boere wat nie meer teen mekaar veg met swaarde en spiese nie, maar saam met mekaar staan, soos een verenigde mag, wat die natuur sal tem met ploegskare en snoeiskêre, sodat daar kos sal wees vir almal.

Dit is iets wat ons met passie moet omarm en ons manier van lewe, die manier waarop ons ander mense hanteer, laat beïnvloed.

Net jammer dat Israel hierdie prentjie nie kon sien nie. En daarom nie probeer het om dit waar te maak nie.

Ons weet uit die geskiedenis dat dié roeping wat God vir sy volk het, nie hulle harte en lewens in beweging gebring het nie.  Daarom dat die oordeel oor hulle in vers 6-11 aangekondig word wat hulle verwerping insluit.

Trouens die res van die boek Jesaja sal ons aandag vestig op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef wat hulle hul doel laat mis om as pelgrimsbestemming, as ontmoetingsplek, as kuierplek vir die nasies te dien.  Hulle kies om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7).  Daarom voltrek God sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Maar die droom bly. God wil die nasies ontvang.  Hy wil hulle leer wat sy wil is.  Hy wil hulle help om sy wil te doen.  En die uitnodiging is vir sy volk, sy kerk, om hierdie droom te omhels en nou al iets daarvan waar te maak.

Die droom bly – dat God se mense ’n punt van kontak tussen mense van die nasies en God sal wees.  Hoekom? Want God het gekies om deur sy mense ’n lig vir die wêreld te wees.  Hy kies dat mense sy wil sal leer ken deur die lewens van sy mense.

In ’n sekere sin is dit al wat ’n kerk ooit mag wees, ’n plek waar God se lig so helder skyn dat dit lewe gee vir ander mense.  Daarom kan die kerk bv. nooit ’n politieke party wees nie.  Hoe ’n kerk lewe sal politieke konsekwensies hê, om op te kom vir die reg en behoeftes van verdruktes en behoeftiges, maar die oomblik as die kerk ’n te onafhanklike rolspeler in die magstryd tussen politieke faksies word, begin hy sy primêre funksie verloor.  En dit is om ’n kontakpunt tussen God en mense te wees.  Eweneens geld dit die ekonomie.

God het dit in Jesus gedoen

En nou kan ons vir mekaar herinner dat hierdie boodskap alreeds vervul is met die eerste koms van Jesus.  Die verwagting van Advent word met Kersfees en Epifanie die kuier saam met God.  Hy het belowe Hy gaan kom kuier, en Hy is nou hier.  Om die waarheid te sê, Hy kuier deur sy Gees in ons harte en lewens.

Dit is een van die wonderlike boodskappe wat die Nuwe Testament vir ons kom gee.  Soos Johannes 14 dit uitspel: “Ons sal na jou toe kom,” en by jou kuier.

God kom weer

En God het belowe dat Hy weer sal kom.  Die eerste koms was om die koninkryk te vestig en dissipels te werf sodat die groot taak om die nasies te gaan uitnooi gedoen kan word.  Maar daar is ook ’n tweede koms, die Wederkoms van die Here Jesus Christus, waar Jesaja 2 finaal bewaarheid gaan word.

En watter implikasies het dit vir ons en die nasies?

In die eerste plek word ons dus gemotiveer deur die eerste koms van Jesus om die boodskap van God aan alle nasies uit te dra, en ’n kuierplek, ’n woonplek vir hulle te word.  Want ons is immers die kontakpunt met God. Mense kan in ons en in ons getuienis en in ons ervarings die lewende God sien.

Maar ons word in die tweede plek ook gemotiveer deur die tweede koms van Jesus.  Omdat Hy weereens op pad is, maak dit ons alledaagse lewe so krities belangrik.

Wat ‘n mooi prentjie.

Hoe?

Ons moet eerstens sorg dat ons mekaar lief het en tyd maak om te luister en te speel.

Ons moet tweedens sorg dat ons dit voor die Here doen sodat ons almal saam ons liefde vir Hom kan uitleef, saam kan bid, saam sy wil kan leer, sodat ons kan lewe in die lig wat van Hom af kom.

Ons moet derdens sorg dat daar nie hindernisse is wat ander mense uitsluit nie.  Ons mag lief wees vir ons taal, maar dit moet nie ander mense uitsluit wat saam met ons wil aanbid en saam met ons wil wees nie.  Ons mag lief wees vir ons kultuur, maar dit moet nie ander mense uitsluit wat ander gewoontes as ons het en saam met ons wil aanbid en saam met ons wil wees nie.

Maar ons moet in die vierde plek nie net ‘n oop plek word vir ander nie. Ons moet ook met gasvryheid uitreik en oor die grense gaan wat mense so baie keer van mekaar skei.

Hoekom?  Want God is vir ’n tweede maal op pad na die aarde toe en sal sy nuwe hemel en aarde kom vestig.  Dit sal ‘n blywende plek hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels.  Ons moet voorberei vir sy koms.  Ons moet gereedmaak, sodat dit ‘n feestelike ontmoeting sal wees, waar ons saam met baie nasies die Here sal ontmoet en Hom sal eer.

Gebed

Dankoffers

Kinders kom wys hulle prente.  Bring kryte terug.

Slotlied

Liedboek  348:3 Stille nag, heilige nag! – veral vers 3: “voor u ryk moet die duisternis swig” – staan

Seën

Halleluja

Liedboek 228

Jesaja 6 – Erediens: God heilig jou vir jou roeping – 30 Januarie 2011

Verwelkoming

God nooi ons uit en ons kom tot rus

In die TV-reeks Murphy Brown, vra Murphy in een episode haar personeel uit oor hulle gedagtes en gevoelens teenoor God.  Die een karakter, Jim, verduidelik dat hy ’n Presbiteriaan is en elke Sondag saam met sy vrou kerk toe gaan.  Hy het die volgende gesê: “I haven’t had any experience of God.  I go because it is obvious to me that the people who attend are experiencing God, and I am hoping that one day I will too.”

Die volk van God is geroep om ’n ontmoetingsplek met God te wees.   Dit is wat Jesaja 2 al op die tafel gesit het.  En dit is my gebed vir elkeen van ons in hierdie erediens.

Kom ons stel ons in om dié God te ontmoet, want Hy is hier en nooi ons uit om Hom te ontvang in ons lewe.

Continue reading

Jesaja 6 – Erediens: God heilig jou vir jou roeping – 30 Januarie 2011

Hier volg die volledige erediens

Verwelkoming

God nooi ons uit en ons kom tot rus

In die TV-reeks Murphy Brown, vra Murphy in een episode haar personeel uit oor hulle gedagtes en gevoelens teenoor God.  Die een karakter, Jim, verduidelik dat hy ’n Presbiteriaan is en elke Sondag saam met sy vrou kerk toe gaan.  Hy het die volgende gesê: “I haven’t had any experience of God.  I go because it is obvious to me that the people who attend are experiencing God, and I am hoping that one day I will too.”

Die volk van God is geroep om ’n ontmoetingsplek met God te wees.   Dit is wat Jesaja 2 al op die tafel gesit het.  En dit is my gebed vir elkeen van ons in hierdie erediens.

Kom ons stel ons in om dié God te ontmoet, want Hy is hier en nooi ons uit om Hom te ontvang in ons lewe.

Votum

Seëngroet

Lofsang

  • Liedboek 158 Bring my na u woning Here – staan
  • Liedboek 190 Grote God, aan U die eer! – staan
  • Liedboek 342 O Jesus, ons Heer, U het ons verbly – sit

Verootmoediging

  • Liedboek 171 Heilig, heilig, heilig is die Heer – sit

Kindertyd

Kan julle die? Wat is dit?  Sjampoe. Waarvoor gebruik ’n mens dit?  Dit word gebruik om ons skoon te maak. ’n Mens voel altyd beter nadat jy gebad het.

Daar is sekere dinge wat ons doen – sonde – wat ons aan die binnekant vuil maak.  Wat kan ons doen om ons skoon te maak aan die binnekant?

Jesaja, die profeet, is een keer tempel toe.  En hy sien toe vir God.  En toe kom hy agter dat hy vuil voel.  En ’n engel het gekom en sy lippe aangeraak met ’n kooltjie vuur.  En wat gebeur toe?  Hy was weer skoon aan die binnekant.  God het hom vergewe.

Kan ons vandag nog kole gebruik om mense aan die binnekant skoon te maak?

Nee, ons kan skoon kom deur jammer te sê vir God.  Die Here sal ons ons sonde vergewe.  Hy neem die vuil gevoel in ons harte weg, beter as wat sjampoe kan doen.

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing

Die volk van God is geroep om ’n ontmoetingsplek met God te wees.   Dit is wat Jesaja 2 al op die tafel gesit het.  Jesaja 6 vertel van só ’n ontmoeting in die tempel.  Dis vir hom ’n  God-oomblik waar sy lewe verander en geheilig word vir sy roeping!

  • Jesaja 6

Woordverkondiging

Dit is die jaar 740 v C.  Jesaja is nog jonk in die bediening.

Dan sterf sy oom Ussia, ’n baie suksesvolle koning wat ’n baie lang regeringstyd gehad het.

Maar Ussia het ook voete van klei gehad.  Hy neem op ’n keer op arrogante wyse – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself (2 Kon 15; 2 Kron 26) en word met melaatsheid gestraf.  Sy jong seun Jotam volg hom op, maar kom nie die mas op nie, en sterf baie jonk.

In die sterfjaar van Ussia, val die mantel op sy kleinseun Agas, terwyl daar groot internasionale bedreiginge is.  Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit.  Alles is in flux en ’n bietjie in chaos.

En dan gebeur daar iets dramaties met Jesaja.

Hy sien vir God op ’n baie hoë troon sit met sy soom wat die tempel vul.  Dit is duidelik dat God groter is as die tempel.  Hy is omring met serafs, wie se taak dit is om Hom te dien en wat Sy grootheid besing met die woorde: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige”.

Die serafs roep verder uit dat hierdie grote God ook op die aarde werksaam is – trouens die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid.  Letterlik sê hulle dat God se gewig soos ‘n kleed oor die aarde lê. Met ander woorde:  God kan nie geïgnoreer word nie – Hy rus op die hele aarde en op elke persoon – en Hy is te swaar om af te gooi.

En met die deure van die tempel wat in hulle kosyne rammel, krimp Jesaja ineen.  Hy raak intens bewus van sy onreinheid.  “Dit is klaar met my.  Ek is verlore!” roep hy uit.

Om dan die wonder te beleef dat hy nie veroordeel word nie, maar gereinig.  ’n Seraf vlieg na hom met ’n gloeiende kool – simbolies van die reinigende en vergewende krag van God – raak Jesaja  aan en verander hom. Sy sonde word versoen en sy oortredinge vergewe.

Dis dan dat Jesaja ’n werksaanbod kry om as boodskapper vir God op te tree (vers 8).  God soek ’n gewillige boodskapper.  Jesaja aanvaar die roeping.  Hy is een van die min vrywilligers in die ganse gestuurde korps.  Al die ander – bv. Moses, Jeremia, Gideon en Esegiël – was teensinnig opgeroep vir diensplig in God se koninkryk.

Eers na sy antwoord besef Jesaja hoe moeilik sy werk as profeet gaan wees – hy moet die totale ondergang van die volk gaan verkondig.  Hulle land sou ’n puinhoop word danksy die oordeel van God (vers 11).  Alles sou tot niet gaan.  Hy sou lynreg teenoor die heersende koning,sy nefie,  standpunt moes inneem.

En net om sy werk nóg ’n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie (vers 9-10)!  Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar.  Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie.  Jesaja kan maar weet hulle gaan hulle nie bekeer nie!  Sy werk as profeet is eerder om hulle verward te laat.

Wat sê die gedeelte vir ons?

Een – God is in beheer

God is in beheer, selfs as alles anders in duie stort.  Dit is na alles nie Ussia se dood wat die toekoms bepaal nie, maar God se teenwoordigheid.  Dit is nie Agas se planne om Assirië te paai wat die deurslag gaan gee nie, maar die vertroue op God wie se gewig oor die hele aarde rus.

Twee – God is heilig

Baie mense werk met die idee, dat hierdie God geen eise stel nie, dat Hy die vriendelike aanvarende goedige kondukteur omie is wat vir ons ‘n kaartjie hemel toe gee en sal sorg dat ons die trein nie verpas nie. Sommige dink dat God ook so teenoor die nasies en hulle gode is.  Alle paaie lei mos na Rome? – ek bedoel die hemel!

Jesaja se oordeelswoorde deurbreek egter só ‘n idee.  God wil mense ontmoet, maar Hy is ook heilig.  Meer nog, Hy duld nie onheiligheid nie.  Hy is ook rein.  Daarom duld Hy nie onreinheid nie.  En dit geld alle mense op die aarde …

Drie – God heilig jou vir jou roeping

Wat ons mooi moet verstaan van die Heiligheid van God is dat dit nie net ’n weggesteekte verborge iets is nie; iets wat jy daarom kan probeer vermy en ignoreer nie.  Die woord wat die Bybel hier gebruik vir heiligheid het nie net die betekenis van afsondering nie, maar kan ook die betekenis hê van ’n suiwering, iets wat met ’n verblindende lig skyn en dinge en mense verander.

God se Heiligheid doen iets aan ons.  Dié God heilig ons.  Dit is die betekenis van die seraf wat met die kool vuur vir Jesaja reinig.   En baie spesifiek word ons geheilig vir die taak wat God vir ons het.

Vir dié wat dit omhels en God toelaat om hulle aan te raak, maak dit dat ons ook begin skyn!  Dit is immers sulke mense wat God begerig is om te stuur, al beteken dit dat die boodskap swaar op ore gaan val, en selfs min positiewe resultate gaan bring.  Hy heilig ons vir ons roeping!

Vier – God stuur

Geen wonder dat Jesaja amper van angstigheid oor sy voete val om gestuur te word!  Dit wil immers voorkom asof God die vraag vra aan die serafs – Wie sal ons stuur? – en dat Jesaja as’t ware inchip en sê, hier is ek.  Dit is die teologie wat ons moet aangryp.  “ Ek sal gaan, Here. Hier is ek. Stuur my!”

En dié roeping is baie spesifiek.

Tony Campolo vertel die storie van Nancy wat ’n baie spesifieke roeping gehad het.  Hoewel sy gestremd en gekluister was aan ’n rolstoel , het sy ’n uitsonderlike bediening gehad.  Elke week het sy ’n advertensie in die plaaslike koerant geplaas: “If you are lonely or have a problem, call me. I am in a wheelchair and I seldom get out. We can share our problems with each other. I’d love to talk.”

Nancy spandeer ’n groot deel van haar dag op die telefoon en praat met meer as 30 eensame en moedelose mense wat haar elke week bel.  Tony was geïnteresseerd hoe sy in ’n rolstoel beland het.  Sy vertel toe dat sy selfmoord probeer pleeg het deur van die balkon van haar woonstel af te spring.  Sy het egter in die hospitaal beland, verlam in haar onderlyf.

Een nag, sê sy, het Jesus na haar gekom en baie helder vir haar gesê: “You have had a healthy body and a crippled soul. From this day on you will have a crippled body, but you will have a healthy soul.”

Sy het haar lewe net daar aan Hom gegee en net geweet dat as sy ’n gesonde siel wil behou, moet sy ander mense help.  En dit is wat sy gedoen het en doen!

Niemand wat deur God aangeraak is, kan stilbly nie.  Al reaksie is:  “Hier is ek, stuur vir my!”  Sulke oomblikke is God-oomblikke, in sulke oomblikke gebeur ‘aanbidding!

Vyf – God verteer dié wat sy roeping weerstaan

Vir dié wat sy roeping weerstaan en God uit hulle lewens wegdruk, is God se heiligheid ‘n vuur wat verbrand en vernietig, tot net ‘n stomp oorbly.  Dit is wat met Israel gebeur het.  Hulle moes ’n pelgrimsplek vir die nasies gewees het.  Mense moes God daar by hulle kon kom ontmoet het.  Maar hulle wou nie.  Telkens het hulle God se bedoeling in die wind geslaan, en nie na Hom geluister nie, nie sy wil gedoen of nagekom nie.

En laat ons eerlik wees met mekaar.  God duld nie onaktiewe gelowiges nie, mense wat nee sê vir sy roeping nie.  In sy oë is hulle slegter as die ongelowiges.  In die brief aan die gemeente in Laodisea sê Hy, Hy spoeg sulke mense uit sy mond uit (die 7de brief aan ’n gemeente in Open 3:14-22).

God gee om vir geknakte riete, mense wat sukkel om te oorleef, maar dié wat hulle rug op Hom draai en sy wil dwarsboom, kry met sy volle mag te doene.  Hy bring ’n onafwendbare oordeel oor hulle.

Dit bly maar swaar vir ons om dit te hoor.  Ons wil nie graag werk met die idee dat God oordeel nie.  Nog minder met die idee dat God ‘n boodskap kan bring, en dan sorg dat die mense dit nie kan hoor nie!

Kan God dit doen?  Mense verblind en laat stol in hulle sonde?  Ja … vra maar vir Farao (Eks 9).

Ek dink wat ons kan help om dit te verstaan, is dat hierdie boodskap reeds deel is van God se oordeelsboodskap.  Dit is nie ‘n uitnodiging tot bekering nie.  Dit kondig die oordeel oor mense aan wat lankal nie meer luister nie, al het hulle hoeveel kanse gehad om dit te doen.

Terloops, Jesus haal die verse in die NT (Mark 4:10-12 en Matt 13:14-15) aan om op dieselfde wyse sy doel met gelykenisse, en meer spesifiek die gelykenis van die Saaier, te verduidelik!  En ook Paulus verwys na dié profesie as hy verduidelik hoekom die evangelie na die heidennasies uitgebrei is, omdat die Jode nie wou luister nie (Hand 28:26-27).

Daar  kom dus ‘n tyd dat jy nie meer God se aanbod om bekering kan aanvaar nie.  En God stuur ook mense om dit te gaan sê!  En hy neem sy boodskap van bekering dan na ander …

Dit torring aan ons heersende idee van God, dat Hy altyd goed is, altyd vergewe, altyd weer ‘n kans gee … en aan wat ons moet sê as ons God se opdrag uitvoer …  Daar kom ’n tyd wat omkeer nie meer moontlik is nie.

Ses – God laat ’n oorblyfsel bly

Hierdie verterende boodskap is egter nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie.  Gelukkig nie!  God laat ’n oorblyfsel bly.

Op die vraag van Jesaja, “Tot wanneer” antwoord die Here, “tot alles verwoes is” … maar vervolg met ‘n boodskap van hoop, dat na die verwoesting, daar ‘n afgekapte stomp sal oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die gewyde geslag, die geslag van die mense van God.

Hoofstuk 11 kom terug hierna en praat van die takkie wat sal uitspruit uit dié stomp, wat jare hierna op Jesus van toepassing gemaak sou word.  Daar is hoop – en dié hoop is in Jesus.

Ek sluit af

In die laaste toneel van die fliek A walk in the clouds, net nadat die wingerd afgebrand het, en almal dink dit is klaar met hulle, hardloop die hoofkarakter, Paul (gespeel deur Keanu Reeves), om ‘n stukkie van die wingerd te gaan haal wat nog lewe – ‘n brandende stomp wat oorgebly het.  Daarmee bring hy weer hoop vir ‘n nuwe begin.

Geen wonder dat Jesaja se naam is: die Here is Verlossing.  Daarin lê die hoop, al is dit ook iets wat groei uit ‘n afgesnyde stomp.

Gebed

God stuur ons om te leef

Dankoffers

Slotsang

  • Liedboek 524 God roep ons om met woord en daad – staan

Seën

Amen

  • Liedboek 314

Jesaja 25 – Erediens: God bring vreugde deur oordeel – 13 Februarie 2011

Die orakel boodskappe van hoofstuk 13-23 word opgevolg in die “Apokalips van Jesaja” in hoofstukke 24-27 waar die oordeel van die Here universeel uitgebrei word na die hele aarde toe.  God gaan oor begin, waarin grootskaalse kosmiese ontwrigting ervaar gaan word (24), hemelse en aardse magte geoordeel sal word (24:21-22) en die oorwinning oor die dood behaal sal word deur die opstanding van die dode, een van die min plekke in die OT waar dié perspektief oopgebreek word (26:19).

Dit word geskryf in taal wat herinner aan die ander apokaliptiese gedeeltes in die Bybel (Daniël, profetiese redes in die evangelies en Openbaring).  Apokalips beteken “om die sluier te lig” en kan daarom ook met die woord openbaring vertaal word.

Dit sluit die wonderlike heilsboodskap in dat God aan die einde ’n feesmaal vir die volke sal voorberei, hoewel dit steeds sommige se vernietiging sal insluit, soos bv. Moab, ’n heuwelagtige gebied in die hedendaagse  Jordanië, oos van die Dooie See (25), maar deurgaans ’n totale lotsverandering vir sy volk inhou (26-27).

Hier volg die teks van die hele erediens

Continue reading