Skip to main content

Lukas 24:13-35: Erediens – Leef met kantlyne – Son 17 Oktober 2010

 

Verwelkoming

Die Here roep ons om gasvry leef.  En ons is oortuig dat dit beteken dat ons lidmate hierdie gasvryheid teenoor mense van ander generasies moet leef.

Kyk rondom jou en groet spesifiek iemand wat ouer of jonger as jy is.

Ons wil ook nie net preek hieroor nie, maar gasvryheid beoefen of in-oefen.  Ons nooi jou dus uit om op hierdie geestelike dissipline te fokus en uit te reik na mense wat ouer of jonger is as jy, en mense ook in te nooi en met gasvryheid te bederf.

Aankondigings

  • Bloemendal gemmerbier – nog 40 bottels.
  • Tiende maand dankofferfees – doelwit, families

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede

  • Psalm 16:1 Heer, bewaar my dig by U (sit)

Lofsang

  • Lied 199 Loof die Here uit die hemel (staan)
  • Lied 200 U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie (staan)

Toewyding

  • Flam 108 Jesus maak my soos ‘n sonstraal om elke dag te skyn (sit)

God praat met ons en ons luister

Kindertyd

Ek wil vandag vir julle ‘n storie van Abraham vertel.

Een dag sit hy by sy tentdeur.  En dit is warm.  Dit is die warmste tyd van die dag.  Die son skyn skerp.  Selfs die kraaie gaap, so warm is dit.  Skielik sien hy drie mans in die verte.  En hulle kom staan so ‘n entjie van hom af.

Dadelik staan Abraham op en draf na hulle toe – onthou dit is baie warm – en buig voor hulle.  En hy sê, “Menere, julle sal my ‘n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie.  Laat ek vir julle ‘n bietjie water gaan haal.  En kom sit hier en rus ‘n bietjie hier onder die boom.  Dan gee ek vir julle ‘n stukkie brood dat julle weer nuwe krag vir die pad kan kry.”

En die drie mans doen dit en gaan sit by onder die boom.  Abraham gaan toe vinnig na Sara in die tent en sê sy moet vir hulle brood maak.  En hoeveel dink julle maak sy?  16 kg se roosterkoeke!  Nogal ‘n stukkie brood nê?!  As dit Nanaga se roosterkoeke was, was dit seker so 100 roosterkoeke!  Vir 3 mans nogal!

Maar dit is nie al nie.  Abraham draf na ‘n slaaf van hom en sê dié moet ‘n mooi jong kalf slag en ‘n vleisie braai.  ‘n Hele kalf vir 3 mans!

En toe dit alles klaar is, vat hy botter en melk en sit dit saam met die roosterkoeke en die vleis vir die 3 mans voor.

En daar onder die boom het hulle lekker geëet met Abraham wat hulle bedien het.

En wat dink julle gebeur toe?

Toe sê die 3 mans, Abraham, jy en jou vrou sal oor ‘n jaar ‘n seun kry.  Mense, maar dit was vir jou ‘n skok!  Abraham was al 99 en Sara 89!  En hier binne die tent lag Sara by haarself.  Sal ek nou ‘n kind kry terwyl ek al oud is en kyk hoe oud is Abraham?  Dit sal die dag wees.

Toe vra een van die mans vir Abraham hoekom Sara dan so lag daar binne die tent?  En sy het gedink niemand weet nie!  Toe weet Abraham, dit is eintlik die Here self wat hier by hom eet.  Hy het vir die Here kos en water gegee, en nou gee die Here vir hom ‘n kind, iets wat hy en Sara so graag wou gehad het.

Wat leer dit vir ons?

Wonderlike goed gebeur as ons goed is vir ander mense.  God seën nie net die mense vir wie ons goed is nie.  Dit seën ook vir ons.

Ek wil julle vra – hierdie week, vat ietsie ekstra skooltoe, ‘n broodjie of ‘n worsie of ‘n appel of wat ook al.  En gee dit vir iemand wat jy wil bederf.  Dit is hoe God wil hê ons moet leef.  Ons moet ander mense bederf, soos Abraham dit lank terug gedoen het.

Ons is mos sonstrale!

Gebed

Skriflesing

Dit is steeds die Sondag, die eerste dag van die week, die dag wat Jesus Christus opgestaan het.  En ons bly by die verhaal van die Emmaus-gangers, Kleopas en sy vrou Maria.

Ons lees weer Lukas 24:13-35.

Woordverkondiging

Gasvryheid – liefde vir die vreemdeling – is ’n risiko.  Dit kan jou duur te staan kom.  Dit kan jou in konflik bring.  Jy kan misbruik word.  Daarom is daar groot wysheid nodig om gasvryheid te beoefen.

Pat Keifert skryf hieroor in Welcoming the Stranger (1992:59): “Provision of hospitality to the stranger is full of dynamic conflict.  It requires a decentering of our self-centred lives that is most disturbing.  It requires risk and wisdom, since the stranger can and does do us harm.”

Waarom lê die Bybel dan soveel klem op liefde vir die vreemdeling?

  • Dit is ’n sentrale tema in die wet (Levitikus 19:34).
  • Dit is ’n baie belangrike deel van Salomo se gebed by die inwyding van die tempel (1 Kon 8:41-42).
  • Jesus steek telkens die grens oor uit liefde vir vreemdelinge: Saggeus (Lukas 19), Siro-Feniciese vrou (Markus 7), Maria Magdalena (Lukas 8 – die vrou met die sewe bose geeste).
  • Selfs Petrus steek die grens oor na die vreemdeling Kornelius (Hand 10).
  • En Paulus se hele bediening word gewy aan die liefde vir vreemdelinge, selfs al kos dit hom tronkstraf en pyn en verwerping.

Waarom?

Want ervaring het geleer dat dit juis in die risiko van gasvryheid is wat God se teenwoordigheid ervaar word.  Dit is wanneer ’n vreemdeling vriendelik ontvang word dat ons oë vir die misterieuse teenwoordigheid van God oopgaan.

  • Wanneer Abraham naderdraf na die 3 vreemdelinge om hulle met 16 kg se roosterkoeke en ’n kalf te bedien, ontmoet hy God self, wat hom seën met ’n kind, en toelaat om sy neef Lot uit die vloek van Sodom en Gomorra te verlos (Gen 18).
  • Wanneer Saggeus Jesus ontvang in sy huis, raak hy weer deel van die Joodse gemeenskap en kan hy regmaak wat hy verbrou het (Luk 19).
  • Wanneer Petrus dit waag om Kornelius se huis binne te gaan, kom die eerste van die ander nasies tot geloof (Hand 10).

Dit is ook wat met die Emmaus-gangers gebeur. Deur die vreemdeling saam met hulle te laat loop (in die publiek) , deur met hom in gesprek te tree (oor hulle geloofsdokument), deur hom in te nooi in hulle huis (in hulle private persoonlike ruimte) en saam met hom te eet (sosiaal te assossieer), raak hulle harte warm, gaan hulle oë oop en raak hulle getuies van die grootste gebeurtenis ooit, die opstandingslewe van Jesus.

Want let op hoe hierdie gesprek met Jesus in ’n Heilige Gesprek verander.  Let op hoe die Bybel sy regmatige plek in hulle lewens inneem, beide in terme van hulle kennis daarvan en die toepassing daarvan in hulle situasie.  En so verdiep hulle verhouding met Jesus en raak hulle sy getuies.

Hoe kan ons dit regkry om hierdie risiko te neem?

Deur met kantlyne te leef.

Waaraan dink jy as jy die woord kantlyn hoor?

Ons gebruik dit veral op twee maniere: ’n kantlyn skei die skryfruimte op jou bladsy van die res; en ’n kantlyn op ’n rugby- of hokkieveld skei die speelruimte van die toeskouers se ruimte.

Maar wat beteken dit in terme van gasvryheid?

Dit beteken dat jy ruimte laat vir ander, dat jy tyd inruim vir ander.

Kathy Callahan – Howell (Finding Home) sê: “The key to true hospitality is an attitude that moves over to allow space for the other, the ability to  set self aside and welcome the other person into authenticity, to welcome them home.”

Ek wil hierdie gasvryheid, hierdie ruimte maak vir ander, hierdie tyd maak vir ander, met twee woorde uitdruk: BEPERK EN BEDERF.

Om met kantlyne te leef sluit in dat jy ophou met sekere goed, en dat jy begin met ander goed.

BEPERK JOU RUIMTE: Dit beteken dat jy ’n bewuste besluit moet neem om nie alles vir jouself op te eis nie.  Moenie die hele bladsy vol skryf nie.  Los spasie daarop vir ander.  Trek ’n kantlyn en bly weg van die spasie wat ander moet inneem.  Stel vir jouself ’n grens, doelbewus, intensioneel.  Dit was eintlik al reeds in die wet ingeskryf: ’n mens moet nie alles van die land afoes nie.  Daar moet ’n paar koringare bly lê vir die vreemdelinge en die armes op op te tel; net so ‘n paar wingerdtrosse (Lev 19:9).  Dit is vir my ’n metafoor van hoe ons ook moet lewe.

BEPERK JOU TYD EN ENERGIE: Dit beteken ook dat jy jouself nie moet opgebruik nie.  Jy moet nie al jou tyd opgebruik nie.  Jy moet nie al jou energie opgebruik vir jou werk nie.  Daar moet tyd en energie oorbly om ander te kan akkommodeer, vir ander ’n klip uit die pad te rol, vir ander jou tyd en energie te gee sodat hulle die vreugde en voordeel daarvan kan hê.

BEDERF JOUSELF: Maar dit gaan nog dieper.  ’n Mens moet nie 7 dae ’n week werk nie.  Jy moet een dag afvat dat jy ook kan ontvang.  Kantlyne beteken ook dat jy jouself toelaat om te ontvang, van God, van ander.  Dit is juis wat met die Emmaus-gangers gebeur het.  Hulle het toegelaat dat hulle die gaste in hulle eie huis word en van die vreemdeling as gasheer ontvang.

BEDERF ANDER: Dan kom die ruimte en die energie en die vermoë om die risiko van gasvryheid te neem, saam met die wysheid om te kan onderskei.  En laat ons eerlik wees – dit vat aan ’n mens om gasvry te wees, dit vra opoffering, dit vra self-ontlediging.  En dit kan jy net doen as jy genoeg oor het van jou tyd en van jouself om met oorgawe en liefde gasvry te wees.

Dus – in hierdie week,

  • Konsentreer daarop om mense wat ouer of jonger as jy is te bederf.  Dit kan wees met ‘n klein geskenkie, of met iets wat jy vir die persoon gaan doen, inkopies doen, gaan kuier, saam êrens gaan, saam gaan eet.
  • In ons kleingroepe – nooi ander mense uit – dit sal spesifiek lekker wees as julle van die Klema kleingroepe uitnooi en saam Bybelstudie hou en gesels oor wat vir julle belangrik is.
  • By jou huis – as jy studente by jou huisves, of studente ken, nooi hulle vir ‘n ete, hoor wat gaan met hulle studies aan (onthou die einde van die jaar kom nader) en stel doodgewoon belang.  As dit kan, bid saam met hulle.

Adele Calhoun sê oor gasvryheid: “to be a safe person who offers others the grace, shelter and presence of Jesus”.

En vertel vir ons die stories.  Jy kan sommer op die webtuiste kommentaar lewer by my artikel hieroor óf in ‘n e-pos stuur.  Ek het juis ‘n wonderlike storie die week gehoor van die gasvryheid waarmee van die koorlede ontvant is, wat nou onlangs oorsee was.  Skryf dit in ‘n paragraaf en deel dit met ons ander dat ons kan leer by mekaar en die gemeente kan wees wat God van ons wil maak, ‘n hawe vir vreemdelinge.

God stuur ons om te leef

Dankoffers

Slotsang

  • Lied 523 Goddelike liefdebande bind in Jesus mense saam (staan)
  • Lied 311 Dit wat ons hier ontvang het, gaan deel ons verder uit – koor is voorsangers

Seën

Amen

Lukas 19:1-10: Erediens – Leef inklusief – Son 31 Oktober 2010

Orrelvoorspel

Lied 476          “’n Vaste burg is onse God”

Verwelkoming

  • Hervormingsondag – Piet Naudé 10 stellings
  • Tiende maand – R305 000 mikpunt
  • Woensdag 3 Nov bid- en dankgeleentheid vir reën 17:15 die middag
  • Bloemendal basaar Donderdag en Vrydag by Bloemendal, 4-5 Nov – skenkings nodig!
  • Bloemendal ontbyt Vrydag 5 Nov – belangrike geleentheid – R100 by Rethie
  • Kensington hou basaar in Walmer se kerksaal, Vrydag 5 Nov van 16:00 af
  • Kermis Waltonpark Saterdag 6 Nov 10:00 in hulle sentrum
  • Scrap book ook Saterdagoggend 6 Nov in Ark 09:00-12:00
  • “Haai”-tee 13 November by rolbalklub
  • Kategete
  • Vergaderings: ouderlingeraad, kerkraad, Klub 65
  • Ander aktiwiteite: Vistarus, CMR, klere nodig, Sihaha Skills Institute, EE III Leierskliniek
  • DINGE GEBEUR HIER!

Aanvangswoord

Voorganger:   God is vir ons ’n toevlug en beskerming.

Gemeente:      Hy was nog altyd bereid om ons te help in nood.

Voorganger:   Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad,

Gemeente:      al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

Voorganger:   al druis en skuim die waters van die see,

Gemeente:      al skud die berge deur sy onstuimigheid.

Voorganger:   Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Gemeente:      Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob

is vir ons ’n beskutting  (uit Ps 46:2-4, 11-12). Amen.

Toetrede

Lied 158          “Bring my na u woning, Here” (sit)

Koor vers 1 en 2, gemeente vers 3

Seëngroet

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 478:1-2    “Op vaste fondamente” (staan)

Lied 476:1,2,4             “’n Vaste burg is onse God” (sit)

Gemeente vers 1 en 4, koor vers 2

Verootmoediging

Voorganger:   Wat is ons enigste troos in lewe en in sterwe?

Gemeente:      Dat ek met liggaam en siel

in lewe en in sterwe

nie aan myself nie,

maar aan my getroue Verlosser,

Jesus Christus, behoort.

Voorganger:   Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Gemeente:      Drie dinge:

hoe groot my sonde en ellende is;

hoe ek van al my sonde en ellende verlos is;

hoe ek God vir hierdie verlossing dankbaar moet wees.

Voorganger:   Waaruit ken jy jou ellende?

Gemeente:      Uit die wet van God.

Voorganger:   Wat vra die wet van God van ons?

Gemeente:      Jy moet die Here jou God liefhê

met jou hele hart

en met jou hele siel

en met jou hele verstand.

En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Voorganger:   Kan jy dit alles ten volle nakom?

Gemeente:      Nee, want ek is van nature geneig

om God en my naaste kwaad aan te doen.

Voorganger:   Kom ons bely ons skuld voor die Here.

Skuldbelydenis

Lied 235:1       “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig” (sit)

Vryspraak

Romeine 6:3-4

Toewyding

Flam 108         “Jesus maak my soos ‘n sonstraal om elke dag te skyn” (sit)

Kindertyd

(Kyk ook onderaan vir die Poppekas dokument wat ek vir die 
kleintjies uitgewerk het, waar die boodskap van God wat
anders kyk na mense, verder in die verhaal van Dawid se
verkiesing as koning uitgewerk word)

In Jesus se tyd was daar ’n man. Sy naam was Saggeus.  Hy het in Jerigo gebly.

Hy was baie ryk.  Maar hy was nie baie eerlik nie.  Hy het ander mense se geld gevat.

Toe hoor Saggeus Jesus was op deur sy stad.  En hy wou só graag vir Jesus sien.

Maar, hy kon hom nie sien nie, want hy was te kort.  Daar was aan mekaar mense voor hom.

Toe besluit hy, ek gaan in ’n boom klim.  En hy hardloop vooruit en klim in ’n wildevyeboom.

Toe Jesus daar verby kom, wat dink julle gebeur?

Ja, Jesus kyk op en sien vir Saggeus raak.

“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”, sê Jesus vir Saggeus.

O, en die mense was kwaad.  Hy het hulle geld gesteel.  Dit is dié dat hy so ryk is.  Jesus kan mos nie by ’n sondige man tuis gaan nie?!

Maar, Saggeus sê vir Jesus: “Ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee.  En as ek iemand se goed gesteel het, sal ek dit vir hom vierdubbeld terug gee.” So Saggeus maak reg wat hy verkeerd gedoen het.

En Jesus was so bly dat Saggeus weer eerlik geword het.  Hulle het te lekker saamgeëet voor Jesus weer op pad was.

Saggeus was die laaste dissipel wat Jesus geroep het.  En baie mense dink dat hy later een van die twaalf dissipels geword het, toe Judas nie meer een was nie.

Wat leer die storie ons?  Jesus sien ons raak, wie ons ook al is.  Of ons nou te kort is, of iets verkeerd gedoen het.  Jesus sien ons raak.  En as ons dít agterkom, dat verander ons lewe ook.  Want Jesus help ons om weer eerlik te wees, en Hy help ons om maats te wees met die ander.

En ons kan dit mos ook doen.  Ons kan ander help deur maats met hulle te wees.  Ons is mos sonstrale, ons is maats met ander kinders.

Doopherinnering

Watter wonderlike dag, Hervormingsondag, om mekaar daaraan te herinner dat ons verlossing vasgemaak is by God deur Jesus Christus alleen. Ons het verlede week Nagmaal gevier, volgende week gaan ons ons Tiende Maand dankoffer vier en ons dankoffer hier voor in die blou kis kom gooi.

Vandag wil ek hê dat ons ons Doop vier.  En ek gaan dit met die kinders doen, maar u kan dit vir uself ook toe-eien.  Aan die einde van die diens sal ek by die doopvont wees as iemand wil kom dat ek as viering van jou doop met my nat hand op jou voorkop druk.

Gebed

Skriflesing

In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf.  Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, tollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf.

Ietsie oor die tollenaars.  Die Romeine het tollenaars gebruik om belasting in te samel.  Anders as vandag moes die belasting vir ’n spesifieke gebied en vir ’n spesifieke tydperk vooraf aan die Romeinse owerheid oorbetaal word.  In ruil vir hierdie belegging in Rome se staatskoffers kon die tollenaars dan gelde of goedere uit die gebied invorder.  In hierdie proses het hulle dan hul finansiële uitleg gedek en ook wins gemaak.

Tollenaars was ook die loan sharks van die tyd.  Sodra jy finansieel in die moeilikheid beland het, kon jy by die tollenaar gaan geld leen, teen geweldige hoë rente.

Deur die toedoen van Saggeus se beroep het mense verarm, was daar nie kos op die tafel nie, en was ’n behoorlike, menswaardige, ekonomies volhoubare lewe vir baie mense nie moontlik nie.  Terselfdertyd het Saggeus die soustrein gery, en waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie.

Kom ons lees sy verhaal in Lukas 19:1-10

Woordverkondiging

Israel Galindo (The Hidden Lives of Congregations – Understanding Church Dynamics) sê daar is net twee goed wat belangrik is in ’n gemeente.  Dit bepaal al die ander dinge:

  • Om ’n gedeelde taal te hê – om te kan saampraat, om te kan verstaan, om ’n bydrae te kan maak wat ander sal verstaan – Shared Language
  • Om saam te wees – om te behoort, om deel te wees van, om in te pas – Being Together.

Gedeelde taal

Die Bybel is ’n gedeelde taal.  Die Nagmaal is ’n gedeelde taal.  Die Doop is ’n gedeelde taal.  Die liefde is ’n gedeelde taal.  Ons geloofsbelydenisse is ’n gedeelde taal. Die hele Hervorming en die nalatenskap van Luther en Calvyn is ’n gedeelde taal.  Ons liedere is ’n gedeelde taal.

En die oomblik as ons daaroor verskil, is daar die moontlikheid van konflik, beïnvloed dit die dinamika van ons gemeenskap met mekaar.  Die verskil kan gesond wees wat ons uiteindelik by ’n beter manier van praat kan uitbring, of ongesond as die taal verskeurdheid bring of selfs net doodgewoon verkeerd is.  Hoe ook al, dit beïnvloed ons gemeentelike lewe.

Want, die ander belangrike ding in ’n gemeente, is om saam te wees.

Saamwees

Dit is waarom ons Sondagmôre aantrek en regmaak, kinders bymekaar maak, en hiernatoe kom.  Ons wil saamwees met mekaar rondom ons gedeelde taal, die Bybel, die liedere, die geloofsbelydenis, die prediking, die gebede.

En ons doen dit hier en in ons kleingroepe, waar ons saam diens doen by die bosslapers, die kinderhuise, die sopkombuise, die pannekoek bak by die kermis – ons vier ons saamwees, ons bou aan ons saamwees, ons groei in ons saamwees.

En die oomblik as ons begin om mekaar te mis en nie meer opdaag nie, dan kom ons gemeentelike lewe in spanning, ontstaan daar ongelukkigheid, en interessant genoeg, begin dit ons gedeelde taal bedreig.  Want ons hoor nie meer wat ander hoor nie, ons eie verstaan word nie meer aangevul met ander se luister nie, en dan beïnvloed dit die dinamika van ons gemeenskap met mekaar.

Die taal wat ons praat, en die saamwees met mekaar, bepaal alles in ons gemeente: Alles.

Dit is wat ons laat voel ons behoort in en aan hierdie gemeente, dit is ons plek dié, dit is ons mense, EN, soos Peter Block sê (Community – the structure of belonging),  dit laat ons voel dat die gemeente aan ons behoort, dit is ons s’n, ons is verantwoordelik, ons is rentmeesters, ons moet dit laat werk.

God is inklusief

Die gevaar is egter dat só ’n taal eksklusief kan raak – dat ons ander, wat anders as ons praat, uitsluit, mense wat anders doen as ons, kan wegstoot en ’n kliek kan vorm.

En dit gaan teen die natuur van God in en die gemeenskap wat Hy stig.  Want ons God is ’n inklusiewe God.  Hy het niks nodig gehad nie.  Hy was volmaak … maar Hy het ’n wêreld geskep, uit die niks uit in aanskyn geroep, en mense daarop geplaas wat in sy kring ingesluit kan word.  Hy het hulle ’n taal geleer, selfs toegelaat dat hulle saam help skep aan ‘n gedeelde taal – Adam wat die diere name gee – en Hy het saamwees met mense op prys gestel: Adam en Eva, Henog, Abraham, Moses, Dawid en so kan ’n mens aangaan.

Dit is die krisis van die sonde, nie net dat dit God se wet oortree nie, maar dat dit ons saamwees beïnvloed, en uiteindelik ons ’n ander taal as God laat praat.

Saggeus

Dit is wat met Saggeus gebeur het.  Hy het sy eie belang vooropgestel.  Hy het met dollar-oë gekyk (of was dit nou shekel-oë, die geld-eenheid van daardie tyd) en mense uitgebuit.  En daarmee nie net van God afvallig geraak nie, maar is met reg uit die gemeenskap van Jerigo uitgestoot.  Hy was net klein in lengte, hy was groot in gierigheid.  Maar dit het hom gekos – die gemeenskap met God en die gemeenskap met Jerigo se mense kon hy nie meer geniet nie.

Wat doen God?  Sê hy, dit is jou verdiende loon, jy wil nie my taal praat nie, jy wil nie saam met My wees nie?  Krepeer in jou ellende?

Nee, Jesus stap verby die vyeboom en sien vir Saggeus raak in die boom en praat met hom, begin weer die gesprek, en gaan nog verder, dring daarop aan dat Hy by hom wil gaan eet.  God reik dus uit en dring Saggeus se ruimte binne om die gemeenskap tussen hulle te herstel.

Hoekom?  Want God is ’n inklusiewe God:  die Een wat die skaap wat verdwaal het, gaan haal; die Een wat die muntstuk wat weggeraak het, soek tot Hy hom vind; die Een wat met verlange wag vir die verlore seun en selfs uitgaan na die oudste broer en hom innooi na die feesmaal toe, as die oudste broer die jongste broer nie terug wil verwelkom in die vaderhuis nie.

Dit is wie God is.  En jy kan maar regdeur die ander verhale van Jesus gaan – dit is wie Hy by uitstek uitgebeeld word: selfs in die Emmaus verhaal met Kleopas en Maria is dit Jésus wat naderkom om saam met hulle te loop, dit is Hý wat die gesprek oor die Bybel aan die gang sit, én uiteindelik in hulle huis Hom aan hulle openbaar.

So, as ons tema vir vandag inklusiwiteit is – Leef inklusief – dan is dit in die eerste plek ’n beskrywing van wie God is.  Dit is die teologie wat ons geloofspraktyk dra.

En uiteraard vra Hy van ons om op dieselfde manier te leef.

Spiritualiteit

Ons dink baie keer oor ons geestelike volwassenheid uit die hoek van ons stiltetyd en ons kerkbywoning en hoe ons met die Bybel en God omgaan.  Ons beskryf dit baie keer as ons spiritualiteit – en in die lig van Galindo se onderskeiding, as ons gedeelde taal.

Maar gasvryheid – soos ons nou al vele kere gehoor het in dié reeks die kwartaal – is net so ’n belangrike eienskap van geestelike volwassenheid, van ons spiritualiteit.  Soos Jimmy Dorrell (Pass the Potatoes, Please) skryf:

“Who sits at our dinner tables is an important indicator of our spiritual condition”

Die Bybel is vol daarvan dat ons geloof gemeet kan word aan doodgewone goed soos om die hongeriges kos te gee, die siekes en die gevangenes te besoek, en vreemdelinge gasvry te ontvang.  Dink maar net aan die skeiding tussen die skape en die bokke aan die einde van die tyd, wat op grond van sulke goed gedoen word (Matt 25:34-36).

Ons naaste is nie die een wat langs ons bly nie. Ons IS ’n naaste as ons stilstaan by die mens in nood en iets aan sy lot doen. Dit is die geméngde ras Samaritaanse man wat vir ons ’n model word van hoe in die koninkryk van God opgetree word.  Ons ken hom as die Barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37) wat vir ons wys hoe ’n naaste is, en wat ’n naaste doen, en hoe gasvryheid werk.

Jimmy skryf spitsvondig oor Jesus se “working lunch” met Saggeus en dat Jesus wys wat inklusiwiteit is, net soseer – moet ek byvoeg – as wat Saggeus wys wat gasvryheid is deur Jesus in te nooi: “met blydskap” (Luk 19:6).

Saggeus se hele lewe verander

En so kom daar verlossing vir hierdie huis.  Saggeus gee die helfte van sy “gesteelde” goed vir die armes, en van iemand wat hy iets afgepers het, gee hy dit vierdubbel terug.  En ten spyte van die beswaar van die gemeenskap (“almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak”!)  maak Jesus hom weer deel van die gemeenskap, sluit Hy hom in in die nageslag van Abraham, en in die gemeenskap van Jesus in.

Hierdie ontmoeting verander sy hele lewe.  Saggeus word wat sy naam in die eerste plek beteken het: “skoon” of “onskuldig” (afgelei van die Hebreeuse woord “Zakka” (Neh 7:14; Esra 2:9).

Klemens van Aleksandrië, ’n vroeë kerkvader, skryf in sy boek Stromata dat Saggeus deur die dissipels Mattias genoem is, dieselfde Mattias wat die plek van Judas Iskariot in die apostelkring na Jesus se hemelvaart oorgeneem het (Hand 1:26).  Latere geskrifte sê dat Saggeus die Tollenaar die eerste biskop (kerklike leier) van Sesarea geword het, die plek war ook Kornelius die Here ontmoet het deur die bediening van Petrus.

Jerigo verander ook

Maar belangrik.  Dit is nie net Saggeus wat verander nie.  Daar kom ook verlossing vir die gemeenskap van Jerigo.  Dink aan die talle mense in Jerigo wat verarm is deur Saggeus se opportunistiese finansiële tegnieke.  Wanneer die hoofskurk Jesus vind, en sy lewe verander, kan mense weer ekonomies asem haal en is hulle lewe veilig.  Saggeus se bekering sit kos terug op kinders se borde.  Dit beteken dat arbeiders, handelaars, boere, alle ekonomies aktiewe persone in die bevolking ’n sug van verligting kan slaak.  Daar het ekonomiese uitkoms gekom.

Jerigo is verlos van ’n parasiet wat dood gesaai het.  Saggeus  kry nie net ’n gemeenskap terug nie.  Die gemeenskap kry ’n weldoener.  Die armes kry ’n versorger.  Die wat afgepers is, word gekompenseer en kry lewensmiddele.

Jesus leef inklusief

Ek sluit af.  ’n Mens kan dié verhaal van verskillende kante af bekyk en wys hoe gasvryheid werk: Saggeus wat God se toenadering aanvaar.  Die skare wat dit mis omdat hulle hom nie in hulle kring wil aanvaar nie.

Wat ek egter wil hê ons moet raaksien en met ons saam moet neem, is hoe Jesus hier optree, en hoe Hy vir ons wys hoe ’n mens Inklusief leef.  Jesus is hier vir ons die model wat ons moet navolg, want HY leef inklusief.

En let op dat dit op ’n  ongeskeduleerde, spontane  manier gebeur – Jesus was immers op pad deur die stad (19:1) na Jerusalem toe (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31; 19:28).  Hy moes die finale uitdaging van die kruis gaan trotseer.  Tog onderbreek Hy sy reis, en sien ’n sondaar-parasiet raak in die boom en verander sy lewe deur by hom stil te staan.

Dit gaan dus nie net oor die eindbestemming van Jerusalem nie, hoe belangrik dit nou ook al is.  Dit gaan nie eers oor die voorbereide etes met uitgesoekte gaste nie.  Dié sou Jesus ook hê by sy vriende in Betanië waar hy die laaste week van sy lewe sou deurbring.

Maar, wat ons moet raaksien, dit gaan in die lewe ook oor die spontane ontmoetings van elke dag, waar uitgereik word, waar ingesluit word, waar bederf word.

En dit sal altyd beteken dat ons ’n grens van een of ander aard moet oorsteek: sosiaal, ekonomies, selfs moreel, as ons Jesus en die Samaritaanse vrou (Joh 4) en die vrou wat in owerspel gevang is (Joh 8) in gedagte hou.

En, laat ons eerlik wees, dit is ’n risiko, dit kan jou kos – soos ek ’n tyd terug gepreek het.

Maar, en dit is ’n belangrike maar, dit is ook die begin van ’n geestelike avontuur, van ’n ervaring van die Heilige Gees se werking, wat verlore mense deur ons aksies van gasvryheid weer insluit in die kring, die gemeenskap van gelowiges.

Elke ontmoeting van elke dag raak dan ’n potensiële punt waar God se werk sigbaar word.

Geestelike gewoonte – Leef inklusief

Dit is nie nodig om te begin met groot treë nie.

  • Nooi ’n nuwe intrekker na jou sel of Bybelstudiegroep – en daar is ’n paar wat die week my daaroor gebel het.
  • Besoek ons bosslapers se sopkombuis op Woensdae.
  • Gaan Barcelona toe en kyk wat daar gebeur.
  • Neem jou kinders saam na MTR Smit toe en begin uitreik na kinders wat nie dieselfde gemeenskapsvoorregte as jy en joune het nie.
  • Kies een mens uit die talle wat voor jou deur verbykom en maak ’n verskil aan ’n enkeling se lewe – deur nie net kos te gee nie, maar uit te vra na ware behoeftes en betrokke te raak.

Natuurlik is dit ’n risiko.  Natuurlik gaan jy soms jou vingers verbrand … gaan jy soms mislei word.

In die proses is jy egter besig om die Here se werk te begin raaksien, om met sy oë te begin kyk en die Saggeuse van die lewe raak te sien … en bring dit ’n nuwe energie in jou geestelike lewe wat kosbaar en kragtig is.

Leef inklusief … soos God inklusief leef.

Soos Jimmy Dorrell, (Pass the Potatoes, Please), sê:

In the mystery of God’s upside-down ways, God uses common acts of hospitality to strangers to  overcome cultural barriers with others and bring us closer to Him.

Gebed

Dankoffers

Lied 531 (koor)            “Ons Here, God van alvermoë”

Slotlied

Lied 414          “Juig, verlostes, juig en sing.” (staan)

Seën

Wegsending

Lied 311          “Dit wat ons hier ontvang het” (staan)

Koor is voorsangers

Doopviering

Kom na die doopvont waar ek as viering van jou doop my nat hand op jou voorkop sal druk.

Orrelnaspel

Psalm 146       “Prys die Here, loof en prys Hom”

Lukas 10:38-42 – Erediens: Leef luisterend – 14 November 2010

Verwelkoming

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede

Luisterlied “Ek wil U hoor, ek wil in stilte by U rus” (sit)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 159 “God is hier teenwoordig; Laat ons biddend nader.” (staan)

Lied 258 “Vreugdevolle tyding, bron van hartverblyding, evangeliewoord!” (staan)

Toewyding

Flam 108 “Jesus maak my soos ‘n sonstraal om elke dag te skyn” (sit)

God praat met ons en ons luister

Kindertyd

  • Geluide
  • Storie vertel – ons moet God se stem so goed leer ken, dat ons onmiddellik weet as Hy praat.

Gebed

Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” (sit)

Skriflesing

Lukas 10:38-42

Woordverkondiging

Jesus is vasbeslote op reis na Jerusalem.  Hy weet dat sy lyding die kruis sal insluit.  Hy het dus ‘n behoefte aan gasvryheid.

Die eerste plek op sy reis waarvan Lukas ons vertel is as Hy deur ‘n dorp van die Samaritane gaan, en hulle weier om Hom te ontvang en Hom verblyf te gee (Luk 9:51-56).  Sy dissipels is woedend daaroor en wil sommer ‘n oordeel oor hulle uitspreek.  Jesus keer hulle egter en in ‘n gesprek met hulle verwoord Hy sy pyn, maar sonder verwyt: “Die Seun van die mens het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie,” sê Jesus (9:58).

Die tweede gebeure waarvan Lukas ons vertel, is as Hy 72 van sy dissipels stuur na ander dorpe om die evangelie te verkondig.  Hy spel spesifiek uit dat hulle hul op die gasvryheid van die mense moet verlaat (10:1-15).  In die mense se gasvryheid en luister, al dan nie, word hulle gehoorsaamheid aan God sigbaar: “Wie na julle luister, luister na My; Wie julle verwerp, verwerp My” (10:16).

En dit het ‘n groot effek – sommige mense ontvang hulle met gasvryheid en hoor só die evangelie.  Die dissipels verbly hulle daaroor en in hulle terugrapport kom ‘n mens agter dat dit Jesus intense plesier gee.

Dan is daar in die derde plek kort hierna ‘n wetsgeleerde wat met Jesus aan die gesels raak oor die koninkryk van God en vra: “wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”   Jesus antwoord hom met ‘n samevatting van die wet, dat jy God en jou naaste moet liefhê (10:25-28).  En vertel dan die verhaal van die Gasvrye Samaritaan, om die wetsgeleerde te leer dat gasvryheid vir die vreemdeling naasteliefde is.  Hy betoon immers gasvryheid aan die man wat onder rowers deurgeloop het deur hom in die herberg te laat versorg, in sy barmhartigheid (10:29-37).

En dan kan ‘n mens nie anders om die volgende verhaal, die verhaal van Marta en Maria met ‘n gans ander bril te lees nie.

Kom ons kyk eers na Marta:

  • Marta ontvang Jesus as gas. Sy doen dus dít wat die Samaritane nie vir Hom wou gee nie.  Sy is die Gasvrye en Barmhartige Samaritaan!  Sy maak alles klaar om Hom te bedien.  En daarin is sy reg.  Dit is gasvry.
  • Maar dan wil Marta hê dat Maria ook soos sy moet optree.  Dit laat haar ongasvry optree deur Jesus te berispe asook haar suster.  Jesus wys haar tereg daaroor tereg!  Lukas vertel van haar dat sy baie bedrywig geraak het (perispaomai – hardloop heen en weer), eintlik té bedrywig en dit eindig by stres en veroordeling van dié wat nie soos sy rondhardloop en bedien nie.  Veral toe sy haar suster “sien” sit en niks doen nie!  Let op hoe sy eintlik die Here Jesus self aanvat: Here, hinder dit nie vir U nie …!?  En let op dat sy Hom beveel: sê vir haar sy moet my kom help!  Haar gasvryheid raak dus vir haar ‘n las … en vir Jesus … en vir Maria!
  • Wat was Marta se probleem? Sy kon nie meer onderskei tussen wat belangrik is en wat nie.
  • Let op dat Jesus haar sag aanspreek: Marta, Marta … sagte vriendelike simpatieke woorde.  Jy is bekommerd oor te veel dinge.  Net een ding is nodig en dít het Maria gekies.  Hy wil eintlik haar net terugkry by haar aanvanklike gedagte om gasvry te wees, en dit met oorgawe te doen.
  • Wat leer ons by Marta?  Ons het ’n balans nodig tussen beleef (luister) en bedien – anders raak jy nie net ‘n pyn nie, maar kan jy nie meer onderskei nie.
  • Dit is uiteindelik ook die balans tussen liefde vir God en liefde vir jou naaste.  Waarmee Jesus eintlik verdere kommentaar lewer op die vraag oor die groot gebod van die wetsgeleerde: wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?

Kom ons kyk ‘n bietjie van naderby na Maria:

  • Maria ontvang Jesus op ‘n ander manier as gas.  Sy doen wat Jesus verwag het die ander dorpe moet doen, om te luister na die dissipels.  Hier luister sy egter net na Hom, dié Een waarvan hulle vir die dorpe van vertel het.  Sy ontvang só die koninkryksboodskap, en in die proses God self!
  • Daarom dat Jesus vir Maria prys, want sy het die beste deel gekies, iets wat nie van haar weggeneem kan word nie – die koninkryk van God.
  • Ons leer hier eerstens dat gasvryheid nie net is om vreemdelinge te ontvang en te dien of te “help” nie.  Ons kan ook iets by hulle leer.  Ons móét trouens ook by hulle leer, want dit is baie keer die manier hoe God self onder ons teenwoordig is, soos ons ook by die Emmausgangers leer!
  • Maar dit laat ons in die tweede plek ook besef dat die lewe om God draai, en ons kontak met Hom.  Daar is geen plaasvervanger vir ‘n intieme verhouding met Hom nie.  Dit is wanneer ons sy stem tussen ander stemme kan begin onderskei, dat ons lewe in plek val.  Dit is wanneer ons met ‘n verwagting begin lewe, dat God met ons gaan praat, dat Hy ons nie oningelig gaan hou oor wat Hy wil doen nie, dat ons lewe betekenisvol raak.
  • En let ook op dat net hierna Jesus sy dissipels ook gaan onderrig oor die groot gebed: Die ons Vader.  Want dit is seker die belangrikste manier waarop hierdie verhouding met God in stand gehou kan word – deur te bid, deur te luister, deur gemeenskap met God te beoefen.

Ek besef dat ons almal verskillend is, en dat vir sommige van ons sal ‘n Marta manier van leef meer natuurlik kom.  En dit is reg so, dit is presies wat nodig is in hierdie lewe, dat daar mense is wat regstaan vir ander en hulle met gasvryheid ontvang en bedien.  Niemand minder as Abraham, die vader van die gelowiges, is die voorbeeld wat ‘n mens daar kan navolg.  En ek noem doelbewus sy naam, want hy was niemand se vloerlap nie, maar doodgewoon volledig ingestel op die behoeftes van die drie mans wat by sy tent opgedaag het.  En daardeur het hy God self ontmoet.

Maar daar is ander van ons vir wie ‘n Maria manier van leef meer natuurlik kom, een waar die kontak met ander, die gesprek, die luister na, die belangstel in, die geskenk is wat hulle gee.  En let op, dit kan net soveel van jou vat om regtig te luister na iemand as wat dit sal vat van jou om iemand te bedien op ‘n gasvry manier.

Maar belangrik, vir almal van ons, die Martas en die Marias, is een of ander manier om tot stilstand te kom en te luister na God van lewensbelang.  ‘n Mens kan nie daarsonder op ‘n geestelike verantwoordelike manier leef nie.

Die boodskap vir vandag is dus om Luisterend te lewe.  Teenoor mekaar is die tegniek van Eggo ‘n wonderlike hulpmiddel. Teenoor God is die tegniek van die daaglikse ondersoek ‘n wonderlike hulpmiddel.

Gebed

God stuur ons om te leef

Dankoffers

Slotlied

Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk.” (staan)

Seën

Amen

Lied 314

Ons reaksie op Kersfees

Hierdie erediens fokus op reaksies op God se koms na ons wêreld.  Maniere waarop ons God verwelkom.  Maniere waarop ons gasvry is teenoor Hom.  Reaksies op Sy gasvryheid aan ons. En ons het ’n aantal karakters, meesal uit die Bybel, wat ons meer gaan vertel oor hulle reaksies.  En ons hoop dat in hulle reaksies ons almal weer nuut ons eie reaksie op God se koms in Jesus Christus na hierdie wêreld toe sal kan oordink.

Jesaja 42:1-9 – Erediens – God bring genesing – 9 Jan 2011

Votum

“So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg:

Ek is die Here.  Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou.” (Jes. 42:5-6)

Lofsang

  • Liedboek 221 – Loof die Heer omdat Hy goed is; daar’s geen einde aan sy liefde – sing dit 2 keer sittend.
  • Liedboek 353 – Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel.  Daar in die stad van Dawid word Hy Immanuel – staan.
  • Liedboek 364 – Herders op die ope velde het dié nag die eng’lekoor met die blye evangelie uit die hemel aangehoor – staan.

Gebed

God praat met ons en ons luister

Die Here praat met ons uit Jesaja 42:1-9, ’n boek waarop ons die hele eerste kwartaal gaan fokus.  Hoofstuk 42 bevat die eerste van vier Dienaar-van-die-Here-liedere in die boek Jesaja.  Die ander drie vind ons in Jesaja 49, 50 en 52-53.

42 Hier is my dienaar, Ek stel hom aan.
Ek het hom uitverkies,
hy geniet my guns.
Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies
bekend maak.
2Hy sal nie roep nie,
hy sal nie hard skree nie,
hy sal nie sy stem op straat
laat hoor nie.
3’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie,
’n lamppit wat dof brand,
sal hy nie uitdoof nie.
Hy sal my wil bekend maak soos dit is.
4Self sal hy ook nie uitgedoof
of geknak word nie
totdat hy my wil op aarde gevestig het.
die eilande wag op wat hy hulle sal leer.
5So sê God, die Here,
Hy wat die hemelkoepel geskep
en dit oopgespan het,
Hy wat die aarde gevorm het
en alles wat dit oplewer,
Hy wat aan al die mense op aarde
die asem gee,
die lewe aan alles
wat op die aarde beweeg:
6Ek is die Here.
Omdat Ek getrou is aan my verbond,
het Ek jou geroep.
Ek hou jou vas,
Ek beskerm jou
en Ek maak jou my verbond
met my volk,
my lig vir die nasies. c7Jy sal blindes laat sien,
jy sal gevangenes uit die tronk bevry;
wie in die donkerte
van die gevangenis sit,
sal jy laat uitgaan.
8Ek is die Here, dit is my Naam,
die eer wat My toekom,
gee Ek aan geen ander nie,
die lof wat My toekom,
gee Ek nie aan gesnede beelde nie.
9Wat Ek vroeër aangekondig het,
het plaasgevind.
Ek kondig nuwe dinge aan.
Voor dit begin gebeur,
laat Ek julle al daarvan hoor.

Woordverkondiging

Jackie Pullinger het op 15 geweet sy is geroep om ’n sendeling te wees.  Aanvanklik voel sy geroepe om Afrika toe te kom.  In ’n droom ontvang sy die oortuiging om Hong Kong toe te gaan.  Sy skryf aan verskeie sendingorganisasies, maar word nie aanvaar nie.  ’n Predikant, Richard Thompson, adviseer haar om ’n kaartjie vir ’n bootreis na die Ooste te koop en te bid vir leiding waar sy moet afklim.  Sy volg dié advies en beland in 1966 in Hong Kong.

Hier kry sy werk as laerskoolonderwyser in die berugte Kowloon-buurt van Hong Kong.  Die area, ook bekend as die Vestingstad van Kowloon (Walled City of Kowloon), is ’n massiewe antieke militêre fort wat in die 1960’s onder beheer van kriminele Chinese bendes was, en een van die wêreld se grootste opium-produsente geword het.  Polisie het uit vrees nie die gebied betree nie.

In hierdie area, wat al ’n menslike rioolplaas genoem is, begin sy ’n jeugklub.  Die doel is om verslaafdes, prostitute en bendelede te help.  Op wonderbaarlike wyse geniet sy op kritieke oomblikke die beskerming van magtige Chinese warlords.  In haar bekende boek, Chasing the Dragon (uitgegee deur Regal Books), beskryf Pullinger haar roeping:

“My mission was to help the Walled City (Hong-Kong, Kowloon) people understand who Christ was. If they could not understand the words about Jesus, then we Christians should show them what He was like by the way He lived.  I remember He said: ‘If someone forces you to go a mile, go with him two miles.’ Those in need that I met seemed to need three.”

Jackie sê Christene het harde voete nodig wat die ekstra myle kan stap met mense wat genesing nodig het.  Maar Christene het ook sagte harte nodig wat maklik met deernis in beweging kan kom vir mense in nood.

Deur Jackie se bediening het daar teen 1990 meer as 500 opium-verslaafdes gerehabiliteer en nuwe lewe in Christus gevind.  Dit is so groot as ’n gemiddelde NG gemeente.  ’n Hele gemeente, bestaande uit mense wat onder die haglikste omstandighede denkbaar uit die greep van die mees verslawende dwelmmiddels tot bekering gekom het.  Te danke aan ’n vrou met harde voete en ’n sagte hart.

Agtergrond oor die teks

Jesaja 42 is ’n woord vir Israel se donkerste uur.  Die volk is in ballingskap.  Die wêreldheersers, Babilon, het hulle aangeval, die meeste van die bevolking uiters wreedaardig doodgemaak, en ’n klompie weggevoer na Babel om daar die toekomstige voorspoed van Babilon te help verseker.

Jesaja help hulle om in sulke donker omstandighede die teenwoordigheid en die dade van die Here raak te sien.  Kyk, dis een ding om te weet die Here is altyd en oral teenwoordig.  Dis iets heeltemal anders om Sy teenwoordigheid, hier en nou, te glo en daarmee rekening te hou.

Jesaja help ons op hierdie pad.  Hy leer ons:

•              om die Here en sy werke in tye soos hierdie raak te sien,

•              dat die Here ’n spesifieke roeping as opdrag in so ’n tyd gee,

•              om ons roeping soos nuwe klere aan te trek en uit te leef.

“Hier is my dienaar”

Die nuwe dinge wat die Here doen het ’n intense persoonlike kleur.  Dit gebeur deur die dienaar van die Here.

Jesaja lê die nouste verband tussen die Here en die dienaar.  Die dienaar is deur God gekies, aangestel en met die Gees toegerus.  Die Here is die Skepper, die troue Verbondsgod, wat spreek en dinge gebeur.  Die dienaar is die instrument van dié Here.  Die dienaar gaan sy taak dienend en op ’n sagte manier verrig, geen geknakte riet sal gebreek of dowwe lamp sal uitgeblus word nie.

Maar belangrik: die taak van die dienaar is nie beperk net tot Israel nie.  Die taak van die dienaar is om die wil van die Here oor die hele wêreld bekend te maak en te vestig.  Selfs die eilande wag op sy leer.  Die eilande is destyds as die eindes van die aarde gesien.  Tot in die wydste uithoeke van die wêreld sal die wil van die Here geleer en gedoen word.

En wat doen die dienaar?

•             Hy tree as tussenganger tussen God en sy volk op – verteenwoordig God by die volk en die volk by God (vers 6)

•             Hy is God se lig vir die nasies – “lig” is hier ’n sinoniem vir “verlossing” – die dienaar dra God se lig na die nasies (vers 6)

•             Hy laat blindes sien (vers 7)

•             Hy bevry gevangenes uit die donker van die gevangenis (vers 7)

Die dienaar bevry dus mense uit allerlei omstandighede van binding en inperking.  Dié bevryding het beide ’n geestelike en fisieke dimensie.

Wie is hierdie dienaar?

Israel is die Dienaar

Op ’n eerste vlak is die dienaar die volk Israel.  Die verskriklike pyn van die ballingskap is die smeltkroes waarin God Israel voorberei het om God se dienaar in die wêreld te wees.  Israel se God is die Skepper wat deur sy volk, sy dienaar, verlossing vir die hele wêreld bring.

Jesus is die Dienaar

Op ’n tweede vlak is die dienaar méér as die volk Israel.  Die wonderlike lig, verlossing en genesing roep om ’n geseënde Middelaar wat die volle inhoud van God se beweging na die wêreld in vervulling laat gaan.

Die Matteus-evangelie vertel van die woorde en dade van Jesus van Nasaret.  Hy maak die wil van God bekend en bring genesing vir alle mense.

In Matteus 12:15-21 word die lied van Jesaja 42 spesifiek op Jesus van toepassing gemaak:

So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het:

“Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het, my Geliefde oor wie Ek My verheug; Ek sal my Gees op Hom laat kom, en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak.

Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.

‘n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ‘n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier.

En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

Jesus is die Gestuurde van God na die nasies.  Jesus is die beweging van God se liefde tot aan die uithoeke van die wêreld.  Jesus is die Epifanie.  Jesus is die verskyning van God se goedheid en genesing.

En interessant, Matteus plaas sy opmerking oor die vervulling van Jesaja 42 binne die konteks van verhale oor die genesing wat Jesus gebring het (11:15-16).  Want dit is inderdaad wat Jesus kom doen het, om Jesaja se visie waar te maak.

Die gemeente is die Dienaar

Maar, daarmee is nog nie alles gesê nie.  Jesus se liggaam, die gemeente, die wêreldwye kerk, is ook ingeskakel by hierdie goddelike beweging van liefde.  Ons is ook die dienaar van die Here.  In Johannes 20:21 blaas die lewende Here Jesus oor die kerk, stort die Heilige Gees oor ons uit, en sê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle…”

Só moet ons oor onsself as die gemeente van God dink.  Ons is deel van God se beweging na die wêreld.  En ons doen dit, soos Jesus, op ’n sagte, dienende manier, waarin rokende lamppitte en geknakte riete bevestig en nie vernietig word nie.

Ons is te geneig om aan gemeentes as klubs te dink waar die bediening die gemeente se diens aan sy lidmate is.  Jesaja 42 daag ons uit om die nasies en die eilande (uiteindes van die aarde) raak te sien.

Kom ek toets julle bietjie.

  • Dink aan ons omgewing.
  • Hoeveel mense van ander nasionaliteite bly hier in ons onmiddellike omgewing?

Indien ons die gemeente van Somerstrand as deel van God se aksie na die nasies sien, om lig en genesing te bring, kan elkeen van ons maar net met oop oë en ore, tesame met dienende hande, by hierdie kerk se voordeur uitstap.  Die nasies is hier.

Kom ek toets julle nog ’n bietjie

  • Wie van julle het vriende wat nie meer hier in SA is nie, maar êrens regoor die wêreld woon?
  • Wie het kinders of familie wat regoor die wêreld woon?

Jesaja 42 bemoedig ons.  Die Christelike vorming wat tientalle, dalk honderde mense in ons gemeente en ander gemeentes ontvang het, word nou reg oor die wêreld, tussen die nasies, uitgestort.  Beide op ons tuisveld, en op talle plekke in ander lande, is Somerstrand deel van God se beweging na die nasies.

In plaas van mismoedigheid omdat ons lidmate na die buiteland verloor, kan ons eerder dankbaar en verras juig oor die manier hoe die Here sy kerk gebruik.  (En daarmee lewer ek sommer ook kommentaar op onlangse berigte oor getalle in die NG Kerk)

Maar nou wil ek verder gaan.

Hoeveel kragtiger kan God se sending van liefde deur sy dienaars geskied wanneer gemeentes hierdie rol doelbewus begin speel?  Tuis en in die internasionale arena is ons tussen die nasies.

Dit gaan van ons vra om ons klubmentaliteit te verloën.  Ons is nie net daar ter wille van ons bestaande lede nie.  Ons het bekering tot die nasies nodig om die dienaar-taak van Jesaja op ons te neem en uit te voer.

Ek is die dienaar

Dit beteken ek moet myself leer verstaan as ’n dienaar van die Here.  Dit beteken: Ek is God se aksie na die nasies.  Jesus het my deel daarvan gemaak.  Dit is die vierde vlak van betekenis van hierdie teks.

Hiervoor is daar bekering by my nodig.  My missie is nie om my eie toekoms finansieel te beveilig nie.  Ek is nie daar om dit vir my kinders bymekaar te maak nie.  Ek kan nie my huis, motor, beleggings en pensioen saamneem na God se nuwe hemel en aarde toe nie.  Natuurlik het finansiële rentmeesterskap en versorging van ons gesinne ’n plek in God se bedoeling, maar nie as hoogste doel van ons lewens nie.  Daarvoor is ons selfversorging en gepoogde onafhanklikheid hopeloos te selfgesentreerd en gaan dit as hoogste doel teen die grein van die evangelie in.  Dit word afgodery.

Ons het nodig dat die Here ons oë vir die nasies weer oopmaak.  Ons moet weer vra: Hoe kan ons deelneem aan God se beweging van liefde na mense rondom ons?  As God genesing bring – dan bring Hy dit spesifiek ook vir die nasies – deur elkeen van ons.

Bring genesing vir die nasies

En dit bring ons by die ware betekenis van Epifanie.  God verskyn ook deur my en jou, en ons gemeente, in die wêreld.  Hy raak sigbaar, Hy verskyn letterlik aan mense deur die wyse waarop ons leef en werk en uitreik na ander.

Kom ons onthou die voorbeeld van Jackie Pullinger en Kowloon City.  En kom ons vra onsself af:

  • Hoe hard is my voete?
  • Hoe sag is my hart?

Gebed

God stuur ons om te leef

Dankoffer

Slotlied

Liedboek 367 – Ere aan God – staan

Seën

“’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is. Self sal hy ook nie uitgedoof of geknak word nie totdat hy my wil op aarde gevestig het. Die eilande wag op wat hy hulle sal leer.” (Jes 42:3-4)

Amen

Liedboek 228 – Halleluja


c Vgl. Jes. 49:8

1 Korintiërs 1:1-9 – Erediens: God laat ons enduit vasstaan – 16 Januarie 2011

Verwelkoming

Ons is steeds in Epifanie tyd.  Epifanie beteken verskyning.  Dit is die tyd waarin ons Jesus se eerste koms na aarde vier.  Daarom sing ons steeds Kers- en Epifanieliedere.  Ons gebed in dié tyd is werklik dat hierdie jaar vol van Epifanieë – Godsverskynings – vir ons almal gaan wees.

Ons fokus dié kwartaal veral op twee sake:

1.       Die boodskap van die boek Jesaja wat vir ons perspektiewe op die Lewende God gaan gee.

2.       Om ’n gemeente van kleingroepe te word en nie net ’n kerk met kleingroepe te wees nie.

Alle inligting is op die middelste blaadjie van die aankondigings

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Votum

Seëngroet

Lofsang

  • Liedboek 344 – O die goeie tyding, o die blye tyding –helder klink dit met Kersfeestyd: Diep was ons verlore, Christus is gebore.  Juig dan, almal, jubel oor die saligheid. – sit
  • Liedboek 345 – Kom, alle getroues, vrolik en vol vreugde, o kom in die gees nou na Betlehem!  Loof daardie Kindjie tot ons heil gebore – kom buig daar in aanbidding, voor Jesus, die Heer. – staan
  • Liedboek 350 – In die stad van koning Dawid, in die nederige stal, in ’n krip lê daar ’n Kindjie, Koning van die groot heelal.  Jesus Christus, God en Heer, aan U, Koningskind, ons eer. – staan

Verootmoediging

Riglyn vir ons lewe is die saligsprekinge in Matteus 5.  Kom ons verbind ons daaraan met die sing van ’n lied wat Attie van der Colf vir ons geskryf het.

  • Liedboek 251 – Salig dié wat arm voor God is – sit

Doop

  • Liedboek 294 – Jesus roep die kindertjies

Jacques en Sanet Victor se dogtertjie Cayla.  Sanet het hier grootgeword, Alet Swanepoel se kind, belydenis afgelê, en trek sowaar nou terug, nogal in die huis wat haar broer Johan in Rubinsingel gebou het.

Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

Korinte was ’n belangrike handelstad ten tye van die Nuwe Testament.  Dit was die hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje (min of meer die moderne Griekeland).  Agaje word deur die natuurlike geografie in twee dele verdeel.  Die suidelike skiereiland (die Peloponnesos) word deur ’n smal landstrook met die noordelike vasteland verbind.  Korinte is op die suidwestelike punt van hierdie landstrook geleë.  Om tussen noord en suid te reis, moes jy deur Korinte gaan.  Die stad het see aan beide die oostekant en westekant van die landstrook, sodat dit oor twee hawens beskik het.

Korinte was op ’n natuurlike kruispunt van belangrike handelsroetes geleë.  Handelaars uit Egipte, Italië, Israel, Sirië en die Ooste het aan die stad ’n egte kosmopolitaanse karakter gegee.

Dié kosmopolitaanse karakter is in die godsdienstige lewe weerspieël.  Daar was ’n tempel vir die Griekse god Apollo, terwyl die god vir genesing, Asklepius, ook aanbid is.  Afrodite, die godin van vrugbaarheid, Demeter en Persefone, godin van landbou en vrugbaarheid, het ook aanbiddingsplekke gehad.

Korinte was berug vir die morele verval in die stad.  Die Griekse woord “korinthiazesthai”, “om soos ’n Korintiër te leef”, het verwys na ’n lewe van dronk orgies.  ’n Griekse skrywer vertel dat wanneer ’n Korintiër op die verhoog uitgebeeld is, hy altyd dronk was.

1 Korintiërs 1:1-9

1 Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ’n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes. (Sostenus is waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte [Hand 18:17], maar nou ’n gelowige en medebedienaar van die Woord.  Hy skryf nie net saam met Paulus hierdie brief nie, maar dit kan wees dat Paulus dit aan hom as sekretaris gedikteer het [1 Kor 16:21].)

2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging

4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Tema

God laat ons enduit vasstaan

Woordverkondiging

Stel jou voor jy gaan lê besoek af by ’n plaaslike gemeente.[1] Jy stap by die deur in en iemand wag daar om jou welkom te heet.  “Ek is deel van die Paulus-groep. Hý is die ou om na te luister.”  Terwyl hy nog met jou praat, druk iemand anders in en sê: “Nee, Apollos se omgeegroepie is beter.  Vergeet van Paulus.” Skielik is daar nog ander wat die voriges wegstamp en sê: “Nee, Sefas!”

Teen hierdie tyd oorweeg jy dit al om pad te gee, net om uit te vind dat ’n prominente lid van die gemeente in ’n seksskandaal met sy stiefma betrokke is.  Die hele gemeente weet daarvan en is trots daarop.  “Ons is die beste gemeente,” hoor jy iemand sê.  “Ons weet dié ou leef in sonde, maar ons het hom nogtans lief.  Hier by ons is die geestelike belangriker as die beestelike.”

Jy stap die diens in en dis chaos.  Verskeie gemeentelede profeteer tegelyk, terwyl ander in tale spreek.  Omdat jy nie veel uit die diens kry nie, besluit jy om hulle leerstellige blaadjie by die besoekersbank te lees.  Hier lees jy dat die leerstuk oor die opstanding heeltemal deurmekaar is en dat sommige gemeentelede nie eers daaraan glo nie.

Terug in die kerkgebou, sien jy dat hulle ’n soort nagmaal hou, amper iets soos ’n gemeente-ete.  Party word dronk, ander ooreet hulle en dié wat regtig honger is, kry nie kos nie.  Teen die tyd dat alles klaar is en jy by jou kar uitkom, hoor jy van gemeentelede wat mekaar in die wêreldse howe gedagvaar het.  Ander besoek bordele en sê dis soos om kos te eet; jy bevredig net ’n liggaamlike behoefte.  Uit reaksie hierteen, bepleit sommige geheelonthouding.  Seks is lelik en sleg.  Getroudes wil hieroor skei en ongetroudes wonder of hulle moet trou.

Jy ry daar weg terwyl jy naar voel.  Die hele ervaring is vir jou onwerklik.  Dis jou eerste en laaste besoek aan dié kerk.

Jy het pas kennis gemaak met die gemeente van Korinte…

Die gemeente het die evangelie geglo.  Maar Korinte was vasgevang in die worsteling om die evangelie van Jesus prakties uit te leef.  Die verskillende faksies, beskouinge oor seksualiteit, die verhouding tussen die evangelie en die afgodediens, was van die probleme waarop die lig van die evangelie moes skyn, soos ons al in die Bybelskool verlede jaar kennis geneem het.

Korinte

’n Bietjie agtergrond.

Die gemeente in Korinte

Die gemeente van Korinte is deur Paulus gestig in 51-52 n C op sy tweede sendingreis.  Strategies was Korinte natuurlik geweldig belangrik, omdat die evangelie hiervandaan deur al die besige handelsroetes oor die bekende wêreld heen versprei het.  En die latere leraar Phoebe het ’n groot rol gespeel, soos ons uit die brief aan die Romeine aflei.

’n Brief aan die gemeente in Korinte

Op sy derde sendingreis bly Paulus in Efese vir meer as 2 jaar. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), ontvang hy op ’n keer ontstellende berigte van die huisgesin van Chloë (1:11) af oor die omstandighede in die gemeente van, moontlik oorgedra met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17).  Dit is berigte wat veral te make het met die wyse waarop hulle as Christene lewe.  En hulle het probleme soos: verdeelheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20).  Hulle wonder ook oor die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en hulle vra vrae oor die nagmaalviering (11:17-34).

En dan reageer Paulus met ’n aantal briewe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6) om verder persoonlik op hulle vrae te reageer, voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het.

In hierdie tweede brief van hom – waarskynlik geskryf in 54 n C –  verduidelik hy wat die betekenis van Jesus se sterwe en opstanding vir die lewe van ’n gemeente is.  Hy beklemtoon dit dat Jesus vir ons gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het.  Hierdie heilsfeite moet die deurslag gee in alles wat ons is en doen.

’n Aangrypende inleiding

Mens sou kon verstaan as Paulus die brief met ’n heftige uittrapsessie begin het.  Dalk sou ons dit so gedoen het.  Die gemeente moes kortgevat word, wil mens sê.  Hulle het opgesnork en moes reggesien word.

Maar Paulus doen dit nie, ten minste nie aanvanklik nie.

Hy begin deur hulle ter herinner aan hulle roeping.  Die gemeente van Korinte is geroep om aan Jesus Christus te behoort (1:2).  Te midde van al die gevegte, partyskappe, botsings, etiese kwessies ensomeer moet hulle hul roeping onthou en daarna strewe om te wees wat God hulle alreeds in Jesus Christus gemaak het.

Tweedens is die gemeente geroepe geheiligdes – klétois hagiois – 1:2.  Hulle is die gemeente van God (1:2) wat aan God behoort as sy eie, spesiale mense, toegewy aan Hom.  Omdat hulle geroep en heilig gemaak is, kan hulle nou vir God lewe en heilig wees.

Derdens beklemtoon Paulus die ryke gawes wat die gemeente van God ontvang het.  Hulle is ryklik geseën, dit ontbreek hulle nie aan ’n enkele gawe nie, en – wat my besonder getref het – Christus sal hulle help om vas te bly staan tot die einde toe (1:4-9).

Christus staan dus sentraal.  In ses verse verwys Paulus nie minder nie as vyf keer na Jesus Christus.  Christus is die Korintiërs se lewe.  Dit is Hom wat hulle verwag om aan die einde van die tyd weer te kom.  En dit is HY wat hulle enduit sal laat vasstaan.

Implikasies

Dit het belangrike implikasies vir ons lewe as Christene

Een:  Dit is God se werk

Paulus help ons verstaan dat die Christelike lewe nie by beskaming, blamering en menslike pogings tot selfverbetering begin of eindig nie.  Beskaming is die dood in die pot vir ’n Christelike geloofsgemeenskap.  Dit beteken dat ons mekaar teregwys op grond van wat ons dink goed en sleg is, en dan boonop van mekaar verwag om met ons eie krag ander se idees van wat reg of verkeerd is uit te voer.

Paulus help hulle en ons om eerder God raak te sien.  God wat deur Jesus Christus genade aan ons betoon, en nie beskaam nie.  God wat ons roep en red en nie blameer nie.  God wat ons die gawes gee waarmee ons Hom en mekaar moet dien en nie verwag dat ons dit met ons eie bronne moet doen nie.  God wat ons help en ons bemagtig om as heiliges te lewe en ons van binne af verander om dit reg te kry.

Twee: Daar is hoop

God help ons.  Daarom is daar hoop.  Wanneer ons op afgryslike maniere faal – soos die Korintiërs – is alles nie daarmee heen nie.  God is aan die werk, ook binne-in ons en deur ons.  Hy help ons. Hy voorsien die leiers (apostels)  om ons aan God en God se werk te herinner,  Hy fokus ons aandag op dit wat saak maak.  Hy help ons om te word wat ons reeds op grond van sy genade is.  Hy sal ons ook enduit laat vasstaan.

Drie: Ons is geroep en geheilig

Maar, dit beteken nie dat Hy nie insette maak om ons lewenswandel in lyn te kry met sy roeping vir ons nie.  Verre daarvandaan.  Daar is goed en daar is sleg.  Elkeen van die sake waaroor daar konflik en misverstand bestaan het, word deur Paulus aangeroer en God se pad vir hulle uitgespel.  En hy antwoord later in die brief spesifieke vrae en draai geen doekies om oor wat in God se oë reg en wat verkeerd is nie.  Maar dit het minder met absolute reëls as met ’n persoon te make; dit het minder met presiese wette te make as met ’n verhouding, ’n verhouding met God in Jesus Christus.

Maar, daar is ook meer.  Ons kultuur leer ons dat die self made man die een is wat bo uitkom.  Jy moet vir jouself sorg, en onafhanklik wees, jy moet jou eie belange bevorder, want niemand anders sal nie.  Ons sou goeie Korintiërs uitgemaak het!

Daarteenoor beklemtoon Paulus die feit dat ons deur God verenig is in die gemeente van God (1:2).  Ons is in Christus geskep om saam met ander en vir ander te lewe.  Daarom word daar in die inleiding deurlopend van “julle”, die gemeente, gepraat.  Paulus se dank is in die eerste plek ook nie vir wat Paulus self gekry het of nie, maar dank vir wat ander ontvang het. Trouens, geroepenheid tot diens aan die “ander”, kan eintlik beter verstaan word as diens met die “ander”.

Vier: God sal ons enduit laat vasstaan

Maar die belangrikste van alles: God sal ons enduit laat vasstaan!

Dit het persoonlike implikasie vir jou.  Ek het die sorg van die Here op ongelooflike wyses die afgelope paar maande ervaar.  Die Here is getrou.  En my gebed is dat jy dit ook so in hierdie jaar sal ervaar.

Maar, dit het ook implikasies vir ons gemeente.  Elke keer as ons in ’n krisis was – met die verband, met leiers wat weggaan, met besluite oor die bediening, soos rondom die kinderkerk, 1 of 2 eredienste in die oggend, Klema – het die Here ons daardeur geneem en visie en helderheid gebring, en op wonderlike maniere voorsien.

Ek is oortuig God sal ons ook enduit laat vasstaan.

Maar, dit beteken ook dat ons onsself aan Hom moet verbind.  Daar is geen plaasvervanger vir ’n lewende verhouding met God nie, wat jy in jou stiltetyd, in jou verbintenis aan geestelike gewoontes en in jou verbintenis aan een of ander vorm van diens met die gawes wat die Here jou gegee het, moet volhou.

En dit beteken ook dat jy jouself opnuut aan die gemeente moet verbind.  Dit sluit die eredienste in, ons kleingroepe, en die beskikbaarstelling van jou gawes en insette.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Slotsang

  • Liedboek 492 – In U is vreugde, vrede en vreugde, Jesus Christus, U is Heer. – staan

Seën

  • Liedboek 228 – Halleluja


[1] Die Bybellennium (CUM, 1999)