Skip to main content

GELOOFSEKERHEID – Hebreërs 10:19-39 – kleingroepmateriaal

Kleingroepmateriaal 14–20 November 2014

LIEF EN LEED

  • Deel met mekaar waar julle die Here in julle lewe ervaar het die afgelope ruk.
  • Bid vir mekaar en herinner mekaar daaraan dat die Here Jesus in julle midde is.

LEES

Die skrywer van Hebreërs het in die vorige hoofstukke seker gemaak dat die geloofsgemeenskap goed besef dat Jesus as Hoëpriester die pad na gemeenskap met God oopgemaak het. Dit moet hulle geloofsekerheid gee dat hulle met God in ‘n verhouding kan leef. Daarom roep Hy hulle nou op om met vrymoedigheid self die heiligdom van God in te gaan en met Hom gemeenskap te hou. Die pad is oop en niks moet hulle verhinder om in hierdie gemeenskap te volhard nie. Trouens, hulle moet mekaar voortdurend daartoe aanmoedig. Enigiets minder sal dislojaal wees aan dié Een wat sy lewe daarvoor gegee het.

In die volgende hoofstukke sal die skrywer hulle verder herinner aan die skare van gelowiges wat voorbeelde was van vrymoedige geloofsvolharding. Dit moet hulle aanmoedig en inspireer (hfst. 11), sodat hulle hulle eie wedloop van geloof met volharding sal hardloop, veral in die lig van die sonde wat hulle so maklik aankleef, so maklik hulle vrymoedigheid wegneem, en hulle geestelik moeg kan maak (hfst. 12).

Lees Hebr. 10:19-39 in die lig hiervan.

LUISTER

  • Wat tref jou in dié gedeelte? Wat ruk en/of troos jou? Dit is belangrik dat ons self sê wat ons hoor, en ook regtig kans gee om na mekaar te luister.
  • Bespreek die vyf aspekte wat in vers 22 beskryf word: “Laat ons daarom ingaan met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ’n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.” Wat beteken elkeen? Watter rol speel elkeen in ons verhouding met God?
  • Ons dink baie keer dat geloofsekerheid te make het met die sekerheid dat ons eenmaal hemel toe sal gaan. Watter nuwe betekenis gee die skrywer van Hebreërs hier aan jou verstaan van geloofsekerheid?
  • Wat bedoel die skrywer in vers 35 met sy oproep: “Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou ’n groot beloning in”?
  • Watter rol speel ons gesamentlike byeenkomste in ons geloofsekerheid en vrymoedigheid?

LEEF

  • Een gevolg van ons geloofsekerheid is dat dit ons die vrymoedigheid gee om te bid. Johannes skryf in sy brief: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.” (1 Joh. 5:14-15). Wat lê die Here tans op jou hart wat jy van Hom wil vra?
  • Bid vir mekaar.

DOOP – Hebreërs 5:11-6:3 – kleingroepmateriaal

RUS

Is daar ’n tyd in jou lewe wat vir jou uitstaan as ’n tyd waarin jy besonder geestelik gegroei het?  Wat het daartoe bygedra dat jy in dié tyd meer gegroei het as ander?  Vertel vir mekaar daarvan.

HOOR

Lees Hebreërs 5:11-6:3

  1. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.
  1. Die Hebreër-briefskrywer praat hard oor geestelike volwassenheid al dan nie. Kyk wat word gelys as “eerste dinge”, die fondament of “melk” van ons geloof (v 1b-2).  Hoe voel jy daaroor dat dié dinge as “melk” beskryf word?
  1. Hoe kan ’n mens groei in die geloof, beweeg van “melk” na “vaste kos”?
  1. Ons gaan Sondag spesifiek fokus op die doop.
  • Vertel vir mekaar wat jou doop vir jou beteken.
  • Het julle vrae oor die doop? Deel dit met mekaar.

Die doop is ’n sakrament.  Brownson* verduidelik die verskil tussen die doop as sakrament of as instelling (bevestiging van geloof) soos volg:

Doop as instelling Doop as sakrament
Ons belofte aan God God se belofte aan ons
Uitdrukking van gehoorsaamheid Genademiddel
Fokus veral op wat ons doen in antwoord op God se genade Fokus veral op wat God doen om spesifiek aan ons genade te bewys
God se vroeëre aanbod van genade in Jesus Christus roep ons nou op om gehoorsaam te wees deur ons te laat doop God se genade wat nou in die doop vir ons gegee word, roep ons op tot gehoorsaamheid in die toekoms
Die doop is ’n teken wat ons op die evangelie wys Die doop is ’n teken van die evangelie en ’n seël van ons deelname aan die liggaam van Christus.
  • Wat staan vir jou uit hieraan?

*Aangehaal in Coenie Burger en Andries Cilliers se boek “Ontvang wat vir jou gegee is:  Hoe die doop ons kan leer om met Christus te leef”.  Die boek is ook verwerk in ’n 40-dae program en kleingroepmateriaal.   As jul groep dieper wil delf in die doop, kan julle oorweeg om die materiaal te behandel.  Bestel dit by bybelmedia.org.za.

LEEF

Dink eerlik na oor jou lewe:  is jy besig met geestelike melk of vaste kos?  Is jy al besig om onderrig te gee (5:12), of sien jy jouself nog as die objek van ander se bediening? Wat is die volgende stappe in jou spesifieke situasie?  Waartoe roep God jou nou?  Vertel vir mekaar wat die spesifieke volgende stappe is wat elkeen van julle nou gaan neem en bid vir mekaar daarvoor.

ONGELOOF – Hebreërs 3:12-4:13 – kleingroepmateriaal

LIEF EN LEED

  • Deel met mekaar waar julle die Here in julle lewe ervaar het die afgelope ruk.
  • Bid vir mekaar en herinner mekaar daaraan dat die Here Jesus in julle midde is.

LEES

Inleiding

Die skrywer brei in hierdie gedeelte uit op sy aanmoediging vanuit Psalm 95 dat die gelowiges na die stem van die Heilige Gees moet luister.  Hy spoor hulle egter aan om dit nie net self te doen, d.w.s. om te luister nie, maar daarteen te waak dat nie een van hulle ooit van God afvallig word nie.

Hy doen dit in twee dele:

  • 3:12-19 – Spoor mekaar elke dag aan sodat niemand verhard word nie
  • 4:1-13 – Wees versigtig dat niemand agterbly om in God se rus in te gaan nie

LUISTER

  • Wat tref jou in dié gedeelte? Dit is belangrik dat ons self sê wat ons hoor, en ook regtig kans gee om na mekaar te luister.
  • Die grootste gevaar in die geloofsgemeenskap is dat van ons medegelowiges in ongeloof en ’n patroon van ongehoorsaamheid kan verval, dat ons die Here nie meer met ons lewe wil vertrou nie. Dan raak ons vatbaar vir die verleiding van die sonde en raak ons van die lewende God afvallig, rebelleer ons teen sy pad met ons.  Is dit iets wat julle in julle konteks raaksien?  Wat is die gevolge daarvan?
  • Die skrywer roep ons op om “elke dag” mekaar aan te spoor en maniere te vind om te sorg dat daar by niemand van ons ’n “bose hart van ongeloof” ontstaan en hulle “deur die verleiding van die sonde verhard word nie”. Hoe kan ons hierna luister?  Na wie toe roep die Here julle/jou?

LEEF

  • Die skrywer sê dat een van die oplossings vir die gevaar van ongeloof en ongehoorsaamheid is om die woord van God – hy verwys hier na die Bybel sowel as ’n lewende verhouding met Jesus – ’n huis te maak waarin jy woon, een waarheen jy almal heen uitnooi, by wyse van spreke. Hy is die lewende God wat op vele maniere met ons praat, maar veral deur sy Woord.  Dit is daarom ook die sekerste manier waardeur ’n verval in ongeloof en ongehoorsaamheid verhoed kan word, deur te fokus op sy boodskap aan ons.  Hoe kan julle sorg dat dit ’n groter deel raak van julle eie lewe?  Hoe kan julle ander innooi in só ’n lewe?
  • Bid vir mekaar.
  • Onthou dit is ons TIENDE DANKOFFERFEES Sondag 2 November. Deur die jare was dit die geleentheid waar ons vrywillig en blymoedig ’n tiende van ons inkomste as dankoffer gee.  Die belofte van Maleagi 3:10 is dat die Here ons op ’n besondere manier seën waar ons Hom só op sy Woord neem: “en toets My hierin, sê die Here die Almagtige.  Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

LEER – Hebreërs 4:14–5:10 – 19-26 Oktober

LIEF EN LEED

  • Deel met mekaar enige ervarings van tekens en gawes van God wat jy hierdie week op enige manier gesien of beleef
  • Bid vir mekaar en herinner mekaar daaraan dat die Here Jesus in julle midde is.

LEES

  • Voor julle die gedeelte saam lees, deel met mekaar julle verstaan van die Christelike geloofsleer.
  • Lees die gedeelte ten minste 2 keer rustig saam deur. Maak seker dat almal op die hele perikoop gefokus het en nie by ‘n sekere gedeelte vasgehaak het nie.

Lees Hebreërs 4:14-5:10

Hierdie gedeelte fokus op die essensie van wat die Christelike geloofsleer is. Een van die kernstukke van die Nuwe-Testamentiese geloofsleer is juis die aankondiging van ’n totaal nuwe heilsbedeling wat in Christus aangebreek het. Hierdie teenstelling tussen die oue en die nuwe word treffend geïllustreer deur die priesterskap van Christus wat die Levitiese priesterskap vervang en dus beëindig. Die hoëpriester was ’n amp wat deur die Here ingestel is en daarom net deur afstammelinge van Aäron beklee kon word (Eks. 28). God het dus die hoëpriester vir sy taak geroep om as verteenwoordiger van die mense gawes en offers vir die sondes te bring. Die hoogtepunt in die hoëpriester se dienswerk was om een maal per jaar, namens die volk, met die offer in die allerheiligste te verskyn om vir versoening vir die volk en sy eie sondes te doen.

Juis hier waar die priesterskap van die Ou Testament sy hoogtepunt bereik, word oorgegaan na die priesterskap van Christus. Jesus is nie ’n Hoëpriester volgens die orde van Aäron nie. Hy is ’n Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (Koning van geregtigheid, koning van vrede). Hy word dus tot priester aangewys nie op grond van afstamming nie, maar op grond van God se besluit.  In Jesus se unieke amp van hoëpriester stoot hy die deur oop na God vir alle mense. Die rigiede stappe tot versoening is dus nou absoluut, want in Christus vind versoening nie net een keer ʼn jaar plaas soos wanneer die Aäronitiese hoëpriester intree vir die volk se sondes nie, maar elke oomblik van elke dag vir ewig en altyd. Hy is die bewerker van ewige verlossing.

Continue reading

GAWES – Hebreërs 2:1-3:11 – 12-18 Oktober

LIEF EN LEED

  • Deel met mekaar waar julle die Here in julle lewe ervaar het die afgelope ruk.
  • Bid vir mekaar en herinner mekaar daaraan dat die Here Jesus in julle midde is.

LEES

Inleiding

Ons fokus die kwartaal onder andere op die brief-boodskap aan die Hebreërs.  Dit word geskrywe aan huisgemeentes in ’n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ’n “Boodskap van aansporing” van een van hulle geestelike leiers.  Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het”, het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” en onder andere ’n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” gehad.  Hoekom?  Omdat hulle ’n: “geweldige stryd van lyding” ervaar het.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê.  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Die skrywer begin die brief-boodskap met die hart van sy bemoedigende boodskap aan die gemeente, die feit dat God met hulle deur sy Seun praat.  Daar is niemand belangriker as Jesus nie.  Daar is geen boodskap belangriker as Syne nie.

Continue reading