Skip to main content

Kleingroepmateriaal 30 Julie 2017 – Numeri 1-2 – Elkeen kry sy plek in die kamp

Ingenooi deur God

Lees Psalm 148:1-6.  Gee geleentheid dat almal in kort gespreksgebede die Here loof en aanbid vir die orde waarmee Hy alles gemaak het, die plek wat Hy vir alles gegee het.  As julle genoeg tyd het, lees ook vers 7-14 en doen dieselfde.  Laat ook stiltes toe.

Ingaan in God se tyd

Dit is die tyd van die jaar wat ons “koninkrykstyd” noem.  Ons leef in die verwagting dat God as Koning in ons lewe heers.  Laat van die groeplede deel hoe hulle God as Koning in hulle lewe ervaar het sedert julle laas by mekaar was.

Luister na God se Woord

Die tyd vir die volk van Israel om die reis deur die woestyn voort te sit na die beloofde land Kanaän het aangebreek, veertien maande ná die Uittog uit Egipte.  Die Tabernakel is voltooi, die voorskrifte van die wet is gegee, en elkeen het goed geweet hoe hulle in gehoorsaamheid aan die Here en mekaar moet leef.  Hulle was gereed om die Here te volg na die plek wat Hy vir hulle in Kanaän sou aanwys.

Vir die uitdagings waaraan hulle in die woestyn blootgestel sou word, was daar egter nog ‘n paar finale voorbereidings om te tref.  Hulle moes militêr, sosiaal en geestelik as ‘n eenheid saamgesnoer word vir die uitdagings wat hulle in hulle konflik met ander nasies sou ervaar.  Hulle moes ook leer hoe om in die praktyk as families binne die groter geheel met mekaar en God te leef.

Lees Numeri 1-2 (fokus op 1:1-4, 16-19, 43-54; 2:1-3, 2:43).  Gebruik die onderstaande grafika om sin te maak van 2:33 (Josef se nageslag het in twee stamme ontwikkel, Efraim en Manasse).

Wycliffe Bible Encyclopedia

Luister na mekaar

Deel met mekaar wat julle tref in Numeri 1-2.

Luister na ander en die tye

  1. Die feit dat die Here dié opdrag gee, is betekenisvol, want Dawid moes dit ontgeld toe hy die volk wederregtelik getel het onder aanhitsing van die Satan (1 Kron. 21:1; vgl. ook 2 Sam. 24:1 waar dit die Here self is wat hom daartoe aanhits, omdat die Here toornig was oor Israel weens ‘n ongespesifiseerde rede). Hoekom kon die Here dit doen, en nie Dawid nie?
  2. Die tweede opdrag aan Moses en Aäron was om aan elke Israeliet ‘n plek in die “kamp” te gee rondom die Tabernakel van die Here. Hoekom was dit só belangrik?  Hoekom was dit rondom die Tabernakel?
  3. Die vaandel (banner) was ‘n uitkenningsteken vir die stam. Daarbenewens was daar ook ‘n familieteken.  Wat het dit vir die stamme en families beteken?  Watter toepassing het dit vandag?

Luister weer na God se Woord

Som vlugtig die boodskap van Numeri 1-2 op.  Wat het vir jou in julle nadenke duidelik geword?  Wat maak die Heilige Gees nou vir julle duidelik?

Twee gedeeltes in die NT  brei op die boodskap van Numeri 1-2 uit.

  1. Lees Johannes 14:1-4. Watter ooreenkomste en verskille sien julle raak?
  2. Lees Efesiërs 6:10-13. Watter ooreenkomste en verskille sien julle raak?

Fokus op wat God nou doen

Gesels met mekaar dat ons elkeen in die geloofsgemeenskap ‘n plek het, maar dat ons tegelykertyd saam met almal wat in Hom glo, van betekenis is in die stryd vir geloof op ons reis in hierdie wêreld.  Alan Stibbs  beskryf dit as: “Worship and war” (Search the Scriptures).  Hoe skakel julle elkeen in die  lig van Numeri 1-2 tans in die gemeente en ons geloofstryd in die wêreld in?

Antwoord met ons lewe

Ons twee grootste behoeftes as mense word deur Numeri 1-2 aangespreek: om te behoort en van betekenis te wees.  Sê vir die Here dankie daarvoor en help mekaar om julle plek vol te staan in ons gesamentlike aanbidding en die geloofstryd!

Luisterblad 14 tot 20 Mei 2017

PERSOONLIKE LUISTERBLAD

RUS

  • Raak stil. Ons lees hierdie week oor die “Ander Voorspraak” in ons voorbereiding vir Pinkster wat om die draai is. Dink na oor wat die Here Jesus as die “Voorspraak” by die Vader al vir jou beteken het.  Dink ook na oor wat die Heilige Gees as die “Ander Voorspraak” in jou hart en lewe al vir jou beteken het.  Skryf van die stories in jou joernaal neer.  Loof Hom vir die liefde wat Hy op só ‘n oorvloedige manier in jou lewe uitgestort het.

Continue reading

Ekstra materiaal vir stiltetyd

 

In die tweede kwartaal 2017 gaan ons weer die ekumeniese RCL (Revised Common Lectionary) leesrooster volg.  Dit gee vir elke week vier teksgedeeltes: twee uit die OT en die Psalms, en twee uit die evangelies en die res van die NT.  Ander gemeentes is welkom om dié materiaal vir hulle eie gebruik aan te wend.  Laai dit hier in pdf formaat af: Stiltetyd tweede kwartaal 2017

Continue reading

Luisterblad 16 tot 22 April 2017

PERSOONLIKE LUISTERBLAD

RUS

  • Raak stil. Dink na oor wat hierdie Paasnaweek vir jou beteken het. Aanbid die Here vir sy bereidheid om aan die kruis vir jou te sterf.  Loof die Here vir die opstanding wat jou lewe fundamenteel verander.

HOOR

Lees Johannes 20:19-31.

  • Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
  • Lees my bydrae oor die gedeelte hieronder by Luister na ander en die tye.
  • Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor hoe geloof die werklikheid van die teenwoordigheid van Jesus vir jou oopsluit.
  • Antwoord die Here in gebed.
  • Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.

LEEF

  • Besluit op ‘n praktiese manier om jou geloof in die Here te vier en ander daarvan te vertel.

Continue reading