Skip to main content

Author: Marlein van Deemter

Handelinge 2:36-41 – 27 April tot 4 Mei

Week van 27 April tot 4 Mei

Petrus roep die Jode op tot bekering – Handelinge 2:36-41

Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.

RUS

Donderdag is Werkersdag en Sondag is Arbeidsondag.  Raak stil en dink ná oor die afgelope week.  Wat het alles gebeur?  1 minuut stilte.  Hoe het die Here in en deur jou lewe gewerk die afgelope week?  2 minute stilte.   God nooi jou uit om stil te word en te rus.  Ontvang die Sabbatsrus wat God gee. 2 minute stilte.

Sê amen en gee geleentheid dat mense kan deel wat hulle ervaar het in hierdie tot-rus-kom tyd.

HOOR

1.  Lees Handelinge 2:36-41.

2.  Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.

3.  Kyk weer na Petrus se woorde in vers 36.  Wat sê dit oor God, Jesus en die gehoor (ons)?

4.  Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge!  Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ’n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ’n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels).  Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ’n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak.  Vertel vir mekaar hoe julle bekering beleef.  Watter rol speel die wegdraai van sonde, die doop en die Heilige Gees in ons (daaglikse?) bekering?

5.  ‎Kyk hoe word Petrus se optrede in vers 40 beskryf:  hy getuig en spoor aan.  Vertel van ’n geleentheid wat iemand se optrede teenoor jou getuig en jou aangespoor het.  Hoe kan jy deur jou eie optrede getuig en aanspoor?

LEEF

Waartoe roep die Here julle nou?  Deel dit met mekaar en dra mekaar in gebed aan die Here op.

Die Skrifgedeelte vir volgende week is Handelinge 2:42-47.

21-27 April Huisgodsdiens

OMGEE GESPREKKE

Gesels oor die afgelope Heilige Week en Paasfees.  Wat was vir julle die lekkerste daarvan?

BYBEL LEES

Lees Handelinge 2:22-24

Hier is dit uit Die Nuwe Testament vir Kinders

Petrus het verder gepraat en vir die mense gesê: “Ek wil regtig hê julle moet mooi luister wat ek julle vertel. God het vir Jesus gestuur om wonderwerke by julle te doen. Julle onthou mos wat Jesus alles gedoen het. Jesus het sommer dowe mense laat hoor. Blinde mense kon ook weer sien. Maar julle het hierdie Jesus laat vang. Die slegte mense het toe vir Jesus met spykers aan ’n kruis vasgespyker. Jesus het toe dood-gegaan. Maar God het ’n goeie plan gehad. Hy het al lankal geweet wat Hy gaan doen. God het toe vir Jesus weer lewendig uit die dood laat opstaan. Jesus het regtig weer geleef

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Petrus gee hier vir die mense wat nog nie in Jesus glo nie, ’n opsomming van wat Christene glo.  Vertel vir mekaar in jul eie woorde wat julle glo.
  • Jesus sê dat sy kinders vir almal van hom moet vertel.  Ons noem dit “getuig”.  Het jy al teenoor iemand getuig – vir iemand vertel van Jesus?  Vertel vir mekaar daarvan.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Sê hierdie week elke dag saam die Apostoliese Geloofsbelydenis op.

GESEËN OM TE SEËN

  • Party mense vertel as ’n werk vir ander mense wat ons glo.  Ons noem hulle “sendelinge”.  Vind uit wie ons gemeente se sendelinge is, kyk of julle kan uitvind hoe dit met hulle gaan en bid hierdie week spesiaal vir hulle.  Julle kan gerus ook vir hulle ’n e-pos stuur – en dalk selfs ’n finansiële bydrae lewer.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.