Skip to main content

Author: Marlein van Deemter

10-16 Maart – Boontjie kry sy loontjie – Matt 7:1-12

BYBEL LEES en OMGEE GESPREKKE

Lees Matteus 7:1-12

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Ouers verduidelik wat “oordeel” beteken.  Gesels saam oor wanneer jy oordeel en wanneer jy ander reghelp (soos bv. ouers wat met kinders raas).
  • Het iemand jou al geoordeel? Vertel vir mekaar daarvan.  Hoe het dit jou laat voel?  En het jy al oor iemand anders geoordeel?  Vertel vir mekaar daarvan.  Hoe dink jy het dit hulle laat voel?
  • Het jy al vir iets gebid en dit nie gekry nie?  Hoekom dink jy het dit gebeur?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Hierdie week is die eerste week van Lydenstyd – ons tel die dae af na Paasfees.  In hierdie tyd bestee mense ekstra tyd aan gebed en om te dink wat gehoorsaamheid aan Jesus beteken.  Baie mense vas.  “Vas” is om iets op te gee vir ’n sekere tyd lank, soos bv. lekkers, TV (of ’n TV-program), vleis, ens.  Wanneer ’n mens dan daardie ding mis, herinner dit jou om te bid en laat dit jou dink aan hoe Jesus swaargekry het vir ons.  ’n Mens vas omdat jy dit self kies – niemand kan jou dwing om te vas nie.  Vas gaan oor God, nie daaroor om bv. gewig te verloor of om kinders te kry om minder tyd voor die TV te spandeer nie.  Wil julle hierdie Lydenstyd vas?  Gaan julle almal van dieselfde ding vas, of gaan elkeen hul eie ding kies?  (Onthou, ’n mens besluit self om te vas en waarvan ’n mens vas – so almal moet saamstem!)  Gesels elke aand oor jul ervaring van jul vas daardie dag:  wanneer het jy daardie ding gemis?  Waaroor het jy met Jesus gesels?  Wat het jy geleer?

GESEËN OM TE SEËN

  • Gaan kyk by http://bit.ly/1hOTKV8 vir interessante idees om Lydenstyd te vier, bv. om elke dag iets weg te gee, vir vreemdelinge te bid, dankie te sê, bure te ontmoet, ens.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

3-9 Mrt – Onverwagse Opbrengste – Matt 6:25-30

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat God vir jou gesorg het. Op watter maniere sorg die Here nog vir julle? Is daar dalk iets spesifiek waaroor een van julle op die oomblik bekommerd is en God se sorg nodig het?

BYBEL LEES

Lees Matteus 6:25-30
• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Vertel hierdie week elke aand voor julle gaan slaap vir mekaar waarvoor julle vandag dankbaar was.

GESEËN OM TE SEËN

• Net soos wat God vir die voëls en die gras sorg, sorg hy vir mense – maar hy gebruik bv. vir ons om deur ons vir ander mense te sorg. Hoe gaan julle hierdie week vir iemand anders sorg? Maak bv. saam ekstra kos en sit dit Sondag na kerk in die vrieskas in die Ark. Of julle kan die babas by Ithemba Lam in Forest Hill help of die straatkinders wat gehelp word by Maranatha , ook in Forest Hill (onthou, as ons vir kinders by robotte geld gee, help ons hulle nie, maar hou ons hulle op straat, waar hulle aan baie gevare blootgestel is).
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

24 Feb – 2 Mrt – Nuwe Wyn! – Matt 26

OMGEE GESPREKKE

Ouers vertel vir die kinders van julle ervaring van die Nagmaal.  Hoe het dit gewerk toe julle kinders was, die eerste keer dat jy Nagmaal gebruik het, ’n spesiale Nagmaal wat jy onthou, wat Nagmaal vir jou beteken, ens.

BYBEL LEES

Lees Matteus 26-26-30

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Gesels oor die Nagmaal en wat dit beteken.  Laai die boekie met riglyne oor hoe om met kinders oor die Nagmaal te gesels, hier af.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Die Nagmaal is een van twee gebruike – sakramente – wat God vir ons gegee het:  goed wat ons kan sien en voel waaraan ons kan vashou in ons geloof.  Vier hierdie week saam Nagmaal!  As een van julle Sondag vir die eerste keer gaan Nagmaal gebruik, kontak die kerkkantoor vroegtydig sodat ons spesiaal vir julle kan welkom sê.

GESEËN OM TE SEËN

  • As een van julle ’n musiekinstrument kan speel, kan julle Sondag in die erediens saam met die groepie speel!  Kontak vir Janneke Jacobs of die kerkkantoor 041 583 5115.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.