21-27 April Huisgodsdiens
OMGEE GESPREKKE
Gesels oor die afgelope Heilige Week en Paasfees. Wat was vir julle die lekkerste daarvan?
BYBEL LEES
Lees Handelinge 2:22-24
Hier is dit uit Die Nuwe Testament vir Kinders
Petrus het verder gepraat en vir die mense gesê: “Ek wil regtig hê julle moet mooi luister wat ek julle vertel. God het vir Jesus gestuur om wonderwerke by julle te doen. Julle onthou mos wat Jesus alles gedoen het. Jesus het sommer dowe mense laat hoor. Blinde mense kon ook weer sien. Maar julle het hierdie Jesus laat vang. Die slegte mense het toe vir Jesus met spykers aan ’n kruis vasgespyker. Jesus het toe dood-gegaan. Maar God het ’n goeie plan gehad. Hy het al lankal geweet wat Hy gaan doen. God het toe vir Jesus weer lewendig uit die dood laat opstaan. Jesus het regtig weer geleef
- Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
- Petrus gee hier vir die mense wat nog nie in Jesus glo nie, ’n opsomming van wat Christene glo. Vertel vir mekaar in jul eie woorde wat julle glo.
- Jesus sê dat sy kinders vir almal van hom moet vertel. Ons noem dit “getuig”. Het jy al teenoor iemand getuig – vir iemand vertel van Jesus? Vertel vir mekaar daarvan.
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Sê hierdie week elke dag saam die Apostoliese Geloofsbelydenis op.
GESEËN OM TE SEËN
- Party mense vertel as ’n werk vir ander mense wat ons glo. Ons noem hulle “sendelinge”. Vind uit wie ons gemeente se sendelinge is, kyk of julle kan uitvind hoe dit met hulle gaan en bid hierdie week spesiaal vir hulle. Julle kan gerus ook vir hulle ’n e-pos stuur – en dalk selfs ’n finansiële bydrae lewer.
- Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.