Skip to main content

Tag: Rethie van Niekerk

Die storie en die verbond – Josua 24:1-15 Preek

Ek weet nie so lekker van DNA nie, maar ek weet van geskiedenis.  Ek weet dat ons stories ons vorm.  Waar ek vandaan kom, die stories waarmee ek grootgeword het, bepaal wie ek vandag is, wat ek dink belangrik is, hoe ek gaan leef.

Of my voorsate Voortrekkers was, of slawe.  Of Hugenote, wat gevlug het vir hul geloof, of mense wat lank voordat iemand enige geskrewe geskiedenis opgeskryf het, reeds hier hulle stories van geslag tot geslag oorvertel het.

Baie van ons deel die storie wat in die Bybel opgeskryf staan.  Ons is deel van God se storie, of God se verbond, soos wat die Bybel dit noem.  En DIT is ons eintlike storie.

Continue reading

Jona en die Komkommerplant – Jona 4 preek 23 September 2018

Dit was op ’n tyd in Oos-Europa mode om preekstoele te bou in die vorm van ‘n regop walvis.  Om te preek op hierdie preekstoel, moet jy dan met ’n leer deur die walvis se maag klim, om bo by die mond uit te kom en te preek.  Soos Thomas Merton geskryf het:  …like Jona himself I find myself traveling toward my destiny in the belly of a paradox.  Waarby Denise Ackermann byvoeg:  Life can be a whale of a ride!

Maar ek dink ’n mens moet eerder ’n preekstoel kerf in die vorm van ’n komkommerplant.  Simbolies van die plant waaronder ons sit en vra.  Dan moet ons beurte maak om elkeen op die komkommerplant-preekstoel te kom staan.

Continue reading

Wees Vrygewig – Vertrou – Matteus 6

Ons leef in ’n wêreld waar bekommernis ’n kommoditeit geraak het.  Ek het dit al ’n paar keer gesê:  bekommernis en vrees word aan ons bemark soos ’n kommoditeit, want hoe banger ons is, hoe meer geld gaan ons spandeer in ’n poging om veilig te voel.  So alles, oral, sê vir ons ons moet bekommerd wees.  As jy nog nie bekommerd is nie, is dit omdat jy nog nie weet wat aangaan nie.  As jy bekommerd is, is jy nog nie bekommerd genoeg nie.

En Jesus sê ons moenie bekommerd wees nie?

Continue reading

Wees Toegewyd – Wees gaaf – Rut 2

Ons lees die boek Rut asof dit hierdie vreeslike romantiese storie is.  En deur ons verwesterse – en bevoorregte – oë, sien ons liefde en romanse oral in die storie.  Maar die boek Rut is nie ’n liefdesverhaal nie.  Dit is die tipe storie wat in die tyd wat dit geskryf is, so skalks onderlangs aangegee sal word.  “Het jy dié gesien?”  Dis die tipe storie waaroor die regering jou sal opsluit.  Nie ’n roman nie, maar ’n subversiewe politiese pamflet.  Dis wat Rut is.  Dis kritiek teen nasionalisme, rassisme, onverdraagsaamheid, vooroordele en seksisme.

Dit is ’n verhaal van desperate oorlewing.  ’n Verhaal wat ons konfronteer met ons eie vooroordele en ons uitdaag oor ons verantwoordelikheid teenoor die mense wat op die rante leef.

Continue reading

Wees Toegewyd – Draai God sy rug? – Rut 1

’n Vreemde vrou in ’n vreemde land, sonder enige heenkome, geen manier om vir haarself te sorg of te voorsien nie.  Met die pyn van verlies van ’n eggenoot wat sterf.  En dan nog boonop die pyn van ’n kind wat sterf.  En nog ’n kind wat sterf.  Daar is nie woorde om daardie pyn te beskryf nie.  As jy jouself die ergste, seerste ding indink wat met jou kán gebeur – en dan nóg – dan is jy nog nie waar Naomi was nie.

En dis ongeveer hier dat Naomi besluit God het teen haar gedraai.  Wat anders moet sy dink?

Continue reading

Wees Eg – Geloofsonderskeiding – 1 Johannes 4:1-6

Sjoe, dit was wonderlik om hierdie week al die foto’s te sien van die reën en die sneeu in die Wes-Kaap!  Ons het so lank gebid en gesoebat.  Dit het selfs gesneeu in Kaapstad se middestad.  Julle het seker die foto gesien?

Behalwe, dit het nie.  Hierdie foto is van hael in 2013.

Maar dit is die wêreld waarin ons deesdae leef.  Die wêreld van “fake news” waar goedgelowige mense onbedoeld leuens versprei.  Waar dit al moeiliker raak om te onderskei tussen waarheid en leuens.

’n Artikel wat vanjaar in die joernaal “Science” verskyn het, sê dat dit ongeveer 6 keer langer vat vir die waarheid om by 1500 mense uit te kom as leuens.  “Falsehood diffused significantly farther, faster, deeper and more broadly than the truth in all categories of information”, skryf hulle.

Dikwels is die stories skadeloos.  Dit laat ons naïef lyk, maar dis eintlik al.

Ander stories is nie so skadeloos nie.  Stories dat jy nie huilende kinders moet help nie, want dis hoe skelms jou in die hande kry.  Sleutelhouers wat by petrolstasies uitgedeel word om jou te vang.  Mense wat jou aan parfuum laat ruik om jou te besteel.  Dis alles leuens.  Of die aaklige storie wat in Mei vanjaar versprei is, oor ’n man wat in Pretoria gekaap en aan die brand gesteek is. Nie waar nie.  Stories oor Eskom en allerhande ander spoke.  Wat vrees en haat stook en ons lam lê.  Wat die brose situasie in ons land net vererger.

Dan is daar natuurlik die stories wat waar is, wat niemand glo nie.

Of die stories wat waar is, wat ’n mens wens nié waar was nie.

Dit is moeilik om te onderskei tussen waarheid en leuen.

Continue reading