• Home
  • Preke
  • Die storie en die verbond – Josua 24:1-15 Preek

Die storie en die verbond – Josua 24:1-15 Preek

Ek weet nie so lekker van DNA nie, maar ek weet van geskiedenis.  Ek weet dat ons stories ons vorm.  Waar ek vandaan kom, die stories waarmee ek grootgeword het, bepaal wie ek vandag is, wat ek dink belangrik is, hoe ek gaan leef.

Of my voorsate Voortrekkers was, of slawe.  Of Hugenote, wat gevlug het vir hul geloof, of mense wat lank voordat iemand enige geskrewe geskiedenis opgeskryf het, reeds hier hulle stories van geslag tot geslag oorvertel het.

Baie van ons deel die storie wat in die Bybel opgeskryf staan.  Ons is deel van God se storie, of God se verbond, soos wat die Bybel dit noem.  En DIT is ons eintlike storie.

Verwelkoming & Afk.

Toetrede

Lied 159 God is hier teenwoordig

Votum

Psalm 105

Seëngroet

Omdat ons die nageslag van Abraham is, die nakomelinge van Jakob vir wie God uitverkies het, is hierdie storie ook ons storie.  Daarom groet ek julle in die Naam van die Drie-enige God wat hierdie storie skryf.  Genade en vrede vir julle.

Lofsang

Psalm 105: 1-3

Verootmoediging

Dink vir ’n paar oomblikke na oor jou lewe.  Dink veral oor die dinge waaroor jy bekommer is, waaroor jy ontevrede is… Die dinge waaroor jy kla…  Die dinge wat skeef loop…

Vra jouself af: wanneer jy bang of bekommerd of ontevrede is – op wie vertrou jy regtig?  Glo jy dat God regtig in beheer is van jou lewe en ’n plan het?

Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode, die ander dinge waarop jy  jou vertroue stel en vertrou op God.

Paar oomblikke stilte

Genadeverkondiging

Ek wil jou herinner aan nog ’n deel van ons storie:

Dat Jesus gesterf het en opgestaan het.

Dat ons saam met hom gesterf het en begrawe is deur ons doop.

Dat ons saam met Hom opgewek is tot ’n nuwe lewe.

Daarom kan ons na Christus draai

En vir God met opregtheid en trou dien.

Toewyding

Lied 290 v1 Dit is my troos dat ek gedoop is

Gebed

Skriflesing

Josua 24:1-15

Inleiding

Die Lappieskombers

Deur Valerie Flournoy

Illustrasies Jerry Pinkney

Vertaal Hester Heese

Interlude

Vonkk 403 Koor v1, gem 2-4 Op U verlaat ek my

Preek

Ons geskiedenis is ons identiteit

’n Mens kan baie dinge sê oor sosiale media.  En natuurlik wil ons menslike natuur graag negatiewe goed uitlig.  Maar een van die lekkertes van iets soos Facebook, is dat dit ons help om ons eie storie, ons eie geskiedenis, te dokumenteer. En elke af en toe herinner dit ons weer aan ons eie storie op ’n manier wat ons weer laat onthou hoe ons hier gekom het, wat die dinge is wat ons gevorm het, hoekom ons is wie ons is en hoekom sekere dinge vir ons belangrik is.

Elke mens, elke gebeurtenis is so ’n stukkie lap wat in ons lappieskombers ingewerk is, om die groter geheel te vorm.

So herinner facebook my die afgelope week aan hierdie oomblik.  Ek het vir die persoon gaan sê:  ek verskil oor byna elke ding van jou.  Maar oor een ding stem ons saam:  dat ons saam in een kerk moet wees.  Ek glo vas – en ek glo dit steeds – dat God bedoel het om gelowiges in diverse groepe bymekaar te sit en dat ons juis in ons verskille mekaar moet omarm.  Dat ons mekaar moet vashou, veral wanneer dit moeilik raak.

Ek en die man stem natuurlik saam hieroor.  Maar toe vertel hy vir my van sy hardekwas Voortrekker voorsate.  Hy sê dat die Afrikaners in die noorde van ons land afstammelinge is van hierdie einste hardekwas voortrekkers.  Hierdie mense se DNA maak dat hulle steeds dwarstrek.

Nou weet ek nie so lekker van DNA nie, maar ek weet van geskiedenis.  Ek weet dat ons stories ons vorm.  Waar ek vandaan kom, die stories waarmee ek grootgeword het, bepaal wie ek vandag is, wat ek dink belangrik is, hoe ek gaan leef.

Of my voorsate Voortrekkers was, of slawe.  Of Hugenote, wat gevlug het vir hul geloof, of mense wat lank voordat iemand enige geskrewe geskiedenis opgeskryf het, reeds hier hulle stories van geslag tot geslag oorvertel het.

Dis waarskynlik een van ons probleme in hierdie land, dat ons nie ’n gedeelde geskiedenis, ’n gesamentlike storie het nie.

Maar baie van ons deel die storie wat in hierdie boek opgeskryf staan.  Is deel van God se storie, of God se verbond, soos wat die Bybel dit noem.  En DIT is ons eintlik storie.

Onthou die storie

Hier staan Josua, ’n ou man.  Die stryd is gestry.  Die volk is in die beloofde land.  Hulle het ’n lang pad gekom.  Josua het die grys hare en die littekens om dit te wys.

Nou roep hy die Israeliete bymekaar by Sigem.  Sigem, die einste plek waar God aan (toe nog) Abram beloof het dat hy hierdie land vir Abram se nasate sal gee (Genesis 12:6-7).

Sigem.  Dieselfde plek waar Jakob ’n altaar gebou  het (Genesis 33:20).

Halfpad tussen die Ebalberg en Gerisimberg, waar Josua altare gebou het en Israel hulle verbintenis aan God herbevestig het.

Nou staan hulle weer hier, op hierdie plek wat so nou verbind is aan hulle storie, aan die verbond wat God met hulle gesluit het.

En dan begin God met hulle praat.   Waaroor?  Oor hulle storie.  Oor waar hulle vandaan kom en, daarmee saam, oor wie hulle is.

En hierdie storie, gaan oor God.  Dit is God se storie, God wat die storie skryf, wat dit laat gebeur.  “Ek het geneem; Ek het gegee; Ek het getref, Ek het gestuur, Ek het uitgebring, Ek het…” sê God.  Elke hoofstuk soos ’n lappie wat in ’n kombers ingewerk word.

God herinner hulle:

  1. God kies (v 1-4)

Dat God hulle gekies het, dat God met hulle ’n verbond gesluit het.  Om deel van hierdie storie te wees, is suiwer genade.  Dit is nie omdat hulle dit gekies of gevra het nie.   Dit is omdat God in liefde uitgereik het na Abraham en met hom ’n verbond gesluit het.  Daar was niks spesiaal wat gemaak het dat God hulle gekies het nie.

En met ons doop word ook ons in hierdie verbond ingesluit, word daar aan ons bevestig, voordat ons weet dat dit bestaan, voordat ons dit vra of soek; en sekerlik sonder dat ons dit verdien, word ons ingesluit in God se liefdevolle genade, in hierdie verbond.  Word ons deel van hierdie storie, van hierdie groot lappieskombers.

Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies, sê Jesus in Johannes 15:16.

Nog voordat die wêreld geskep is, het God jou uitgekies om deel te wees van hierdie storie (Ef. 1:4).

Dit is suiwer, wonderlike, liefdevolle genade.

  1. God verlos (v 5-7)

So vertel God Israel se storie vêrder om hulle te herinner dat God verlos.  Psalm 105 wat ons aan die begin gelees het, vertel dit ook so mooi:  hoe God vir Josef vooruit gestuur het na Egipte om die volk van hongersnood te verlos.  Oor en oor word hulle vertel hoe hulle uit slawerny verlos word.

En God verlos steeds.  Van al die dinge – die goed wat ons sommer as geheel beskryf as sonde – van al die dinge wat ons bind, wat van ons slawe maak, ons terughou en keer om die lewe te leef wat God vir ons beloof – van al die dinge bevry God ons.

Soos Jesus in Johannes 8:36 sê:  As die Seun julle vrymaak, sal julle waarlik vry wees. 

  1. God lei (v8-10)

Maar Israel se storie herinner hulle dat God hulle nie bevry het en toe sommer gelos het nie.  God lei hulle, elke tree van die pad.

Soos ook vir ons.  Elke tree, die hele pad.  God red ons nie eenmalig en nou is ons aan onsself oorgelaat nie.  God lei ons steeds, elke oomblik, oral.

  1. God sorg (v11-13)

En die laaste ding waaraan hulle storie hulle herinner, is dat God sorg.  God het gesê hy sal vir hulle voorsien en dit is wat God doen.  God hou sy beloftes gestand.

En mense…

Maar nou is dit vir my ook mooi wat God hier NIE vir hulle sê nie, waaraan God hulle nie herinner nie.  Hulle word herinner aan die verbond, aan die pad wat God met hulle stap.

Maar hulle word nie herinner aan hoe hulle die hele tyd in hierdie storie opgetree het nie, hoe hulle hoofstuk vir hoofstuk – of dan nou in elke blokkie, as ons die lappieskombers metafoor verder wil vat – gekla het, getwyfel het, bang was, wou teruggaan na die vorige hoofstuk.

God sê van die begin af hy het hulle gekies, hy sal hulle verlos, lei en versorg.  Maar elke keer as dinge net bietjie ongemaklik raak, dan begin hulle twyfel.

Hoekom het ons tog uit Egipte getrek?  Nou sit ons hier op die oewer van die Rietsee net om deur die Egiptenare vermoor te word!

Maar hulle trek droogvoets deur die Rietsee, net om die volgende oomblik te vra:

Hoekom het ons tog uit Egipte getrek om hier in die woestyn om te kom van die honger?

Maar God voorsien oorgenoeg kos.

Dis tog so ’n bekende storie.

Ons weet God verlos ons, lei ons, versorg ons.  Maar elke keer as dinge net effens moeilik raak, dan is ons al weer onseker.  Gaan God hierdie keer sorg?  Hier is dan nou ’n see voor ons.  Hier woon dan reuse in hier land.

Wanneer jy so voel, dan help hierdie storie jou om bietjie terug te staan en te kyk na die lappieskombers.  Om terug te kyk en te sien hoe God nog altyd gesorg het.

En as jy so terugkyk, dan onthou jy wie God is.  Hoe God is.  Dan kan jy onthou:  jy is ingesluit in God se verbond.  Jy is deel van sy storie.

En ons lappieskombers is nog nie klaar nie, maar dit is al baie groot!  Ons het al die stories wat opgeteken is in die Bybel.  Maar ons het ook die stories van gelowiges regdeur die geskiedenis – ’n skare geloofsgetuies, soos wat Hebreërs hulle noem.

En ons het ook hoofstukke in ons eie storie, vorige kere wat God vir ons gesorg het.  Kere waar ons beleef het dat God ons vrymaak.  Moeilike tye waardeur God ons gelei het.  Lewenshoofstukke waar God ons versorg het.

Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou.

Jy is deel van hierdie storie.  Jy is ingesluit in God se verbond.

Wat God dan van jou vra, is om deel te neem aan hierdie verbond, hierdie verhouding met hom.

Iemand het dit hierdie week vir my so mooi verwoord.  Sy het gesê, ons vra vir God om vir ons die toekoms te wys.  Maar hy gaan nie aan die begin al vir ons die hele prentjie wys nie.  Want dan gaan ons die proses mis, die verhouding.

Die feit dat ons níe vooruitweet wat gaan gebeur nie, nie vooraf al die antwoorde het nie, maak dat ons aanmekaar weer, aanhoudend, by God se voete gaan sit, God se aangesig gaan soek,  na hom gaan luister.  Die tree vir tree op die pad hou die verhouding in stand.

Vorentoe met die verlede

So God wys nie vir jou die toekoms nie.

Maar hy wys vir jou die verlede.  Hy wys vir jou hoe hy in die verlede getrou was.

En daardie lappieskombers, aanmekaargewerk deur stories van God se sorg in die verlede, kan jy maar styf om jou vou, elke keer wat jy bang of onseker is.  Elke keer wat daar ’n see voor jou lê en Egiptiese strydwaens agter jou aangejaag kom.

Want elke lappie op daardie kombers herinner jou:  God het jou ook deel gemaak van sy storie, sy verbond.  God maak jou vry.  God lei jou.  God sorg vir jou.  Hy het in die verlede en hy sal ook nou.

Die Lappieskombers

En dan net vir oulaas, een praktiese punt wat ons hiermee help.  Wanneer die Israeliete hier by Sigem hulle self weer verbind aan God, bou hulle ’n altaar.  Die landskap is besaai met altare, herinneringstekens van God se genade, tekens wat hulle herinner dat God sorg en hulle aanmoedig om op God te vertrou.

Ons het ook sulke tekens nodig.  Dinge wat ons herinner aan die verlede en aanmoedig om te bly vertrou.  Soos die verskillende lappies op ’n lappieskombers wat ’n storie vertel.

Dis hoekom ons die Bybel lees.  Elke keer wat jy die Bybel oopslaan, is dit soos om stil te staan by ’n altaar, ’n monument wat ’n storie vertel.  Ons het nodig om dit gereeld te doen, sodat ons die moed kan hê om die volgende treë te gee.

Dis hoekom ons eredienste het.  Elke lied wat ons saamsing, is ’n altaar, ’n teken wat ons aan ’n deel van hierdie storie herinner, ’n merker.

Elke gebed, elke preek.  Die ritueel van regmaak vir kerk, hier aankom – of jy nou gesels of in stilte wil kom sit – hierdie hele proses herinner ons week na week aan die verbond, aan die storie waarvan ons deel is.  Dit help ons, sodat wanneer ons dan voor die oormag staan, ons identiteit sterk gevestig is in die verbond.

Die doop, die Nagmaal – dis merkers wat ons herinner aan die storie waarvan ons deel is, die storie wat ons identiteit bepaal.

As ek na hierdie kombers kyk, dan onthou ek my en Henry troudag.  Dit herinner my aan ons liefde, aan die gawe van ons lewe saam.  Maar dit herinner my ook aan my studentedae, aan vriende, aan kosbare mense saam met wie ek gebid en gelag en gehuil het.  Dit vertel ’n hele, lang, komplekse storie.

Elke keer wat ek hier saam met julle is, vertel ons hier-wees ook ’n hele, lang, komplekse storie.  Van God wat ’n volk kies, bevry.  Van Jesus wat aan die kruis sterf.  Van ek wat ingedoop is in hierdie storie.  Van eredienste uit my kinderjare.  Van die pad wat God met ons stap, babatjies wat hier gedoop is, jongmense wat hul geloof bely het, mense van wie ons hier afskeid geneem het.  En die hele tyd, Sondag na Sondag, jaar na jaar, word ons herinner:  God kies.  God verlos.  God lei.  God sorg.

Onder daardie kombers kan ons knus en veilig wees.

Gebed

Dankoffers

  • Koor sing deel van die verhaal – Moses: laat my mense gaan

Slotlied

Lied 269 God bly met ons, waar ons ook mag gaan

Seën

Respons

Vonkk 144 Vrede van God

     

Tags: , , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Radie Rademeyer

    |

    Goeie dag
    Ek is n 79 jare oue mans persoon gesond sterk en baie gesond Ek sal baie graag by iemand wil bly wat hulp nodig het met vervoer om takies te verrig te help waar ek kan inslaap
    My naam is Radie Rademeyer kontak nommer 0732641032 verwysings beskikbaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Die probleem is dat eiename gewoonlik nie “die” vooraan het nie. Miskien moet mens dit as ‘n titel beem, want dsn maak die “die” sin. “Die Christus.” “Die Duiwel.”

  • Avatar

    mariette

    |

    ‘n Goeie môre vanuit en van die Baai se tipiese dae….
    Ernst sê:
    “Die gebruik van die hoofletter het met “sterstatus” eintlik bloedweinig te doen – wel met die spelreël in die AWS wat bepaal dat eiename so geskryf word. Vgl ook “die Bose” in Mat 13:19.”
    Persoonlik glo ek dat die betrokke vertalings ook maar saamhang met die ‘geloofsoortuiging’ van die betrokke partye, soos gees of met die hoofletter by Gees – soos dit in Johannes 3,en veral by 4:23-24, vertaal word.

    ‘n Baie geseënde dag toegewens, met ‘n hand-aan-hand se stap saam met Jesus in jou gees.

  • Avatar

    Mariette

    |

    Lekker as iemand so wakker loop, Alwyn.
    Ek het julle twee se opmerkings vir Ernst (Kotzé) aangestuur. Dan hoor ons bietjie wat hy sê.
    Seëngroete

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ek weet nie regtig die rede nie. Die 2020-vertaling vertaal al tien voorkomste van Duiwel in die NT regdeur met ‘n hoofletter. Dit is nogal vreemd met die “die” vooraan.

  • Avatar

    Alwyn Du Plessis

    |

    Askies 2020 vertaling Nie 2920 nie

  • Avatar

    Alwyn Du Plessis

    |

    Môre Chris .Help asseblief. Hoekom verkry die duiwel sterstatus in 2920 Bybelvertaling met ‘n hoofletter D Efesiers 4:27
    Groete

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons gaan voort met daardie diens. Marlein van Deemter hanteer dit.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Oor die “ware” vertaling. Elke vertaling het sy waarde. Die 1983-vertaling is in makliker Afrikaans, maar meer onakkuraat. Die 1953-vertaling is ouer Afrikaans, maar baie na aan die oorspronklike teks. Die 2020-vertaling is meer moderne Afrikaans, maar ‘n meer direkte vertaling van die oorspronklike teks. Ek gebruik self nou die 2020-vertaling, maar lees ook graag in die ESV en die NET Bible. Kyk op Youversion se Bybeltoepassing.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Francois, dit is die 2020-vertaling van Bybelgenootskap. Jy kan dit gratis lees by https://biblesa.co.za/ of op hulle toep.

  • Avatar

    Francois Smith

    |

    Geagte Dr Chris van Wyk : ek het na U video geluister “WAARHEID vs DWALLEER , en omdat ek self ook in ons Wonderlike Vader Almagtig se Woord leef, het ek na die video tot die slotsom gekom dat die leiers in die Algemene Sinode ons Wonderlike Vader Almagtig GLADNIE KEN NIE , want net onkundige nie-weergebore mense kan die besluite neem wat hulle neem, soos U ons dit onder die aandag gebring het. Dr Chris, ek wil net weet uit watter Afrikaanse Bybel Vertaling leef en werk U , want ek herken nie die Woord wat U op die video gegee het. Ek het by Kairos Netwerk aangesluit om deel te wees van die soeke om die NG Kerk te stig in die volmaakte waarheid van ons Wonderlike Vader Almagtig, en dit was dan ook op Kairos Netwerk se whatsapp-groep lommunikasie waar ek hierdie week U genoemde video gesien het. Daar is 5 Afrikaanse Bybels op die mark, en meer as 360 Engelse Bybels…….WAT is volgens U die WARE Afrikaanse en Engelse Vertaling van al hierdie Bybels? Elke mens het ‘n unieke vorm van SPRAAK(Joh 8:43,44), en dan ook nog meer ons Wonderlike Vader Almagtig, dan ontstaan die HOE kan ons Vader Almagtig MEER as EEN vorm van spraak he’, vanwee al die verskillende vertalings? WIE in die Leierskap van die Kerklike Denominasies, KEN NIE die WARE SPRAAK van ons Wonderlike Vader Almagtig ? Daarom my vraag aan U, want indien ons die Evangelie van ons Vader Almagtig verdraaid aan mense verkondig, SAL hulle BLOED op ons hoofde wees. Vrede en liefde in Christus Jesus het ek vir U en die mede Gelowiges. Amen.

  • Avatar

    brian strydom

    |

    sal plasing van studente verblyf advertensie voortgaan?
    die dame wat oorbodig verklaar is was onseker
    mooi loop. Brian

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie!

  • Avatar

    mariette

    |

    Môre-môre!

    Dankie Chris. Die reeks dra baie praktiese wenke oor en is verrykende luistergenot vir elkeen. Elke dag iets nuuts om na uit te sien!

    Seën daarop toegebid
    Mariette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?