Wees Eg – Geloofsonderskeiding – 1 Johannes 4:1-6
Sjoe, dit was wonderlik om hierdie week al die foto’s te sien van die reën en die sneeu in die Wes-Kaap! Ons het so lank gebid en gesoebat. Dit het selfs gesneeu in Kaapstad se middestad. Julle het seker die foto gesien?
Behalwe, dit het nie. Hierdie foto is van hael in 2013.
Maar dit is die wêreld waarin ons deesdae leef. Die wêreld van “fake news” waar goedgelowige mense onbedoeld leuens versprei. Waar dit al moeiliker raak om te onderskei tussen waarheid en leuens.
’n Artikel wat vanjaar in die joernaal “Science” verskyn het, sê dat dit ongeveer 6 keer langer vat vir die waarheid om by 1500 mense uit te kom as leuens. “Falsehood diffused significantly farther, faster, deeper and more broadly than the truth in all categories of information”, skryf hulle.
Dikwels is die stories skadeloos. Dit laat ons naïef lyk, maar dis eintlik al.
Ander stories is nie so skadeloos nie. Stories dat jy nie huilende kinders moet help nie, want dis hoe skelms jou in die hande kry. Sleutelhouers wat by petrolstasies uitgedeel word om jou te vang. Mense wat jou aan parfuum laat ruik om jou te besteel. Dis alles leuens. Of die aaklige storie wat in Mei vanjaar versprei is, oor ’n man wat in Pretoria gekaap en aan die brand gesteek is. Nie waar nie. Stories oor Eskom en allerhande ander spoke. Wat vrees en haat stook en ons lam lê. Wat die brose situasie in ons land net vererger.
Dan is daar natuurlik die stories wat waar is, wat niemand glo nie.
Of die stories wat waar is, wat ’n mens wens nié waar was nie.
Dit is moeilik om te onderskei tussen waarheid en leuen.
Toetrede
Psalm 9 verse 1, 5 en 6
Votum
N.a.v. Lied 322
Redder van die nasies, kom;
Godgestuurde Redder, kom;
Seun, gebore uit ’n vrou,
kom na ons; ja, kom tog gou.
U kom uit die ewigheid
en word mens op God se tyd;
deur die Heil’ge Gees verwek,
hiér gebind aan tyd en plek.
Mens uit ons gebrokenheid ,
U keer t’rug in heerlikheid.
God én mens – dié twee in een –
onbegryplik, ons tot seën.
Seëngroet
Laat ons God die Vader loof,
eer bring aan sy Seun, ons hoof,
hulde aan die Gees bewys,
God Drie-enig altyd prys.
Lofsang
Vonkk 124 vv 1 en 3 Jesus bring vreugde
Verootmoediging
Johannes 14:7,16-17, 26
7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Dink na oor die afgelope week – begin by gister, Vrydag… Dink verder terug, tot by Maandag. Waarmee was jy besig, wat het jy gedoen?
Waar het jy in desolasie geleef?
- Wrokkigheid
- Ondankbaarheid
- Selfsugtig,
- Op jouself gefokus
- Vrees
- Spiraal van negatiewe emosies
- Afgesny van ander, van gemeenskap
- Gedreineer
Ons weet dat dit dikwels vir ons ’n aanduiding is dat ons besig is om weg te beweeg van God se wil in ons lewens.
Waar het jy konsolasie beleef?
- Geloof,
- Genade
- Hoop
- Liefde
- Kon buite jouself, op ander fokus
- Kon vreugde en pyn van ander raaksien
- Werklike gemeenskap beleef
- Ge-energeer
Ons weet dat dit dikwels vir ons ’n aanduiding is dat ons besig is om nader te beweeg van God se wil in ons lewens.
Lied 155 Verhef ons harte tot U, Heer
Geloofsbelydenis
Gebed
Skriflesing
1 Johannes 4:1-6
Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. 2Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 3En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.
4Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is. 5Hulle behoort aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en die wêreld luister na hulle. 6Ons behoort aan God, en wie vir God ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer onderskei.
Preek
Fake News
Sjoe, dit was wonderlik om hierdie week al die foto’s te sien van die reën en die sneeu in die Wes-Kaap! Ons het so lank gebid en gesoebat. Dit het selfs gesneeu in Kaapstad se middestad. Julle het seker die foto gesien?
Behalwe, dit het nie. Hierdie foto is van hael in 2013.
Maar dit is die wêreld waarin ons deesdae leef. Die wêreld van “fake news” waar goedgelowige mense onbedoeld leuens versprei. Waar dit al moeiliker raak om te onderskei tussen waarheid en leuens.
’n Artikel wat vanjaar in die joernaal “Science” verskyn het, sê dat dit ongeveer 6 keer langer vat vir die waarheid om by 1500 mense uit te kom as leuens. “Falsehood diffused significantly farther, faster, deeper and more broadly than the truth in all categories of information”, skryf hulle. [The spread of true and false news online Soroush Vosoughi1, Deb Roy1, Sinan Aral2,* Science 09 Mar 2018:Vol. 359, Issue 6380, pp. 1146-1151DOI: 10.1126/science.aap9559] En anders as wat ’n mens vermoed, is dit nie robotte (spambots) wat die inligting versprei nie, maar mense. Soos ons.
Dikwels is die stories skadeloos. Dit laat ons naïef lyk, maar dis eintlik al.
Een van die vroegste sulke stories – en een van my gunstelinge – is die storie van die reuse-geraamtes wat deur argeoloë ontdek is, wat dan kwansuis bewyse sou wees van die reuse in die Bybel. Behalwe, hierdie was deel van ’n kompetisie op die website worth.com (vandag designcrowd).
Ander stories is nie so skadeloos nie. Stories dat jy nie huilende kinders moet help nie, want dis hoe skelms jou in die hande kry. Sleutelhouers wat by petrolstasies uitgedeel word om jou te vang. Mense wat jou aan parfuum laat ruik om jou te besteel. Dis alles leuens. Of die aaklige storie wat in Mei vanjaar versprei is, oor ’n man wat in Pretoria gekaap en aan die brand gesteek is. Nie waar nie. Stories oor Eskom en allerhande ander spoke. Wat vrees en haat stook en ons lam lê. Wat die brose situasie in ons land net vererger.
Dan is daar natuurlik die stories wat waar is, wat niemand glo nie. Toe Boko Haram in 2014 meer as 200 meisies in Nigerië ontvoer het, het mense geglo dis ’n hoax. Met die gevolg dat die Nigeriese regering, ten spyte van die aandrang van die wêreldgemeenskap, niks aan die saak gedoen het nie. Eers twee jaar later, nadat Boko Haram ’n video van die meisies vrygestel het, het sommige mense begin glo dat dit dalk die waarheid kan wees.
Of die stories wat waar is, wat ’n mens wens nié waar was nie. Soos die aaklige, ware storie van miljoene spinnekoppe wat in Pakistan die bome toegespin het.
Dit is moeilik om te onderskei tussen waarheid en leuen.
Die Christus het mens geword
En dit is wat die skrywer van die Johannes-briewe genoop het om hierdie briewe te skryf. Soos ek reeds die afgelope paar weke gesê het: die Evangelie van Johannes het gefokus daarop om vir mense te sê dat Jesus God was. Maar mettertyd het mense so op Jesus se godheid begin fokus, dat hulle begin sê het hy was nét God. Hy was nie regtig ’n mens ook nie. Hulle sou selfs so ver gaan as om te sê hy het met ’n skyn-liggaam op aarde verskyn. Maar regtig mens? Hu-uh.
Ek het aanvanklik gedink vandag se teks is ’n goeie teks vir ’n preek getiteld: “Hoe Christene nié met mekaar moet stry nie.” Want daar is nogal min sprake van die onderlinge liefde waaroor die brief self so ernstig is!
Maar kom ons vergeet vir ’n oomblik van die styl waarmee daar verskil is en kyk na die inhoud van die verskil.
Want dit is vandag nog vir baie mense moeilik om te glo dat Jesus werklik mens was. Ons skram weg van sy menswees.
Dit val my altyd op wanneer groepe Johannes 4, Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou, lees. Die teks sê duidelik dat Jesus gaan sit het omdat hy moeg was. Maar mense sal nóóit erkenning gee aan Jesus se moegheid nie. Hy het daar gaan sit omdat hy geweet het hy gaan die vrou ontmoet. Hy het daar gaan sit omdat hy dit so beplan het. Maar moegheid… nee. Te menslik.
Oor Kersfees, die tyd wat sekerlik die menslikheid van Jesus die helderste op die voorgrond plaas, fokus ons eerder op die bonatuurlike. Ons hou van die stories van die engele en die ster. Kyk op, moenie dink aan die strooi en die bloed en die reuk van ’n stal nie. Mense sing kersliedjies soos “Away in a manger”… The little Lord Jesus… no crying he makes.
Die aanstootlikheid van menslikheid
Maar wat is dit van Jesus se mens-wees wat ons so dwars in die krop steek?
Jy sien, Jesus het vir ons kom wys wie en hoe God is. Dit is deur Jesus wat ons vir God werklik leer ken. Hoe Jesus is, is hoe God is.
Maar God… God moet wees soos die gode van die naburige volke. Of soos die Noorse gode. Hy moet op ’n troon sit, oor die aarde kyk en booswigte met donderweer bykom. Hy moet geen onreg duld nie. Hy moet ons vyande met een veeg van sy arm uitwis. Magtig. Groots. Magsvertoon. Eer. Dit is woorde wat by God pas.
Dan kom Jesus. ’n Mens. Broos. Hy sê ons moet die ander wang draai. In stede daarvan om wraak te neem of op te staan vir homself, laat hy toe dat hy gekruisig word. Hy gee sy mag op. En hy sê ons moet dieselfde doen! Hy doen die werk van ’n bediende, was mense se voete! Waarvan die ekwivalent vandag dalk is om skottelgoed te was – of waarskynlik eerder om toilette te was. Hy sê wie eerste wil wees moet laaste wees.
Dit is vir ons diep aanstootlik. As ons hierdie idee het van die magtige, oorwinnende God… en God word mens, deel in ons pyn. En keer boonop al daardie idees wat ons het oor mag en status en plek onderstebo.
Ons praat oor Moslems wat opstaan vir hulle regte, soms gewelddadig reageer wanneer hul profeet beledig is. Dan sê ons: dis vir ons ’n voorbeeld. Maar dis glad nie vir ons ’n voorbeeld nie. Ons voorbeeld is Jesus. En mense wat gewelddadig reageer op beledigings en spot, is die teenoorgestelde van wat ons voorbeeld gedoen het.
In haar pragtige boek “Surprised by the man on the borrowed donkey”, vertel Denise Ackerman hoe sy een oggend in die Canterbury katedraal gesit het tydens ’n prosessie van die biskoppe van die Anglikaanse gemeenskap. Sy beskryf die indrukwekkende toneel onder die
“soaring, ribbed Gothic ceiling of that historic building. Clothed in robes of brocade, silk and even gold lamé, embroidered with indigenous themes, mitres on heads, among them a handful of women, they entered the cathedral with measured tread. I found myself straining forward as the doors closed slowly behind the Archbishop of Canterbury. What was I hoping to see? Then I realized and was surprised by the image that popped into my head. I was looking for “the man on the borrowed donkey”! Where, amidst all this pomp, was Jesus whom I had come to know and love, and who had changed my life?
Want dit is die God wat ons in Jesus leer ken: ’n man op ’n geleende donkie. Sonder prag en praal. Wat identifiseer met die armes. Wat vriende maak met die sondaars, die uitgeworpenes, die mense wat nie sosiaal gerekend is nie.
Geloofsonderskeiding
Dan is die vraag waarvoor vanoggend se teks ons te staan bring, die vraag na geloofsonderskeiding. Hoe weet ek wat is waar en wat nie? Hoe weet ek wat is God se wil en wat nie? Hoe weet ek of iets van God afkom of nie? Wanneer dit God is wat praat en wanneer nie?
En daar is baie maniere – ons kan vir ’n hele jaar lank praat oor geloofsonderskeiding, maar die een manier wat hierdie teks vanoggend vir ons uitlig, is die lens van Jesus self.
Net gou vinnig ’n voetnoot: hierdie verse praat van opponente binne die Christelike gemeenskap as “antichris”. In 1 Joh. 2:18 as “antichriste” – meervoud. Ons lees nét in die briewe van Johannes – 1 en 2 Johannes, van hierdie antichriste. Die “anti-“ beteken “teen” of “in stede van”. So dit is mense wat iets anders sit as die boodskap van Jesus as God wat mens geword het.
Die manier wat hierdie teks vir ons gee om die “geeste te ondersoek”, om te onderskei of iets God se wil is, is Jesus.
WWJD
Dan is dit dalk juis die ou “WWJD” vraag – wat sou Jesus doen? Hoewel ek mos nou natuurlik eerder sal sê die vraag moet wees: Wie is God in Jesus? En wat impliseer dit vir my optrede?
Maar op ’n baie vereenvoudigde manier: WWJD?
Wanneer jy moeilike besluite moet neem: kyk na Jesus. Wanneer jy in ’n konfliksituasie is – of enige situasie – en besluit hoe jy moet optree: kyk na Jesus. Wanneer daar verskillende standpunte en inligting oor goed is en jy onseker is wat die waarheid is: kyk na Jesus.
Dit beteken
1. Dat jy vir Jesus self, persoonlik moet ken. Om te onderskei wat die waardes is wat ons by Jesus geleer het, wat in ’n spesifieke situasie van toepassing is, moet jy vir Jesus goed ken. En nie net tweedehandse kennis nie, maar persoonlike kennis. Hoe leer ons vir Jesus ken? Deur Bybel te lees. Deur tyd te spandeer in refleksie. Deur kerk toe te gaan. Deur saam met ander gelowiges oor die dinge te reflekteer.
2. Tweedens beteken dit dat jy waarskynlik altyd gelei sal word in die teenoorgestelde rigting as wat jy van nature sou neem. Jesus-waardes is kontra-intuïtief. Dit is heeltemal “counter culture”. Dit keer ons verstaan van hierdie wêreld onderstebo. Om Jesus te volg, beteken dat ons gelei word in die rigting van: Vergifnis. Om vrede te maak. Om ons naaste lief te hê. Genade. Opoffering. Om ander bo myself te stel. Om nie eer of erkenning te soek nie. Om nie rykdom na te jaag nie, maar eerder weg te gee. Diensbaarheid.
Nou is mense nogal lief om te verwys na één voorval uit Jesus se lewe en dit as ’n oorheersende narratief te vat wat byna al hul optrede beïnvloed en dit is die reiniging van die tempel. Dan sê mense graag: onthou, om Jesus te volg kan beteken om mense met swepe te slaan en weg te jaag.
So kom ons kyk gou na daardie voorval: dit word in al vier die evangelies genoem. In Matteus tot Lukas is dit ’n kort vertelling, vinnig-vinnig om die res van die verhaal in te lei: dat Jesus in die tempel mense genees en onderrig het. In al vier die evangelies word vertel dat Jesus tafels omgekeer het. In Johannes is die vertelling heelwat langer en meer uitgebrei. Wat natuurlik sin maak, as jy die vurige gees sien waarmee daar in die brief van Johannes teen teenstanders uitgevaar word! Dis ook net in die brief van Johannes wat daar vertel word dat Jesus ’n sweep gevleg het van toutjies. Maar nêrens staan daar dat Jesus mense geslaan het nie. Nêrens.
Wat ons wel sien, is dat Jesus waarskynlik kwaad was. En dat Jesus iets gedoen het aan ’n verkeerde situasie.
Wat is dit wat vir Jesus so kwaad gemaak het? Die handelaars voor in die tempel was deel van ’n sisteem wat bepaalde mense uit die tempel uitgesluit het, wat dit vir hulle ontoeganklik gemaak het, omdat hulle nie kon bekostig om deel te neem aan die dinge wat in die tempel gebeur het nie. Dit het veral armes uitgebuit. So waarteen Jesus so heftig reageer en waarteen hy opstaan, is onreg en uitbuiting van weerlose mense, onreg en uitbuiting wat verhoed dat mense vir God kan dien.
So WWJD is nie altyd so eenvoudig soos swepies vleg vir die mense wat van jou verskil nie! Dit vra steeds behoorlike, biddende soeke na God se wil.
3. Derdens – en dit is dalk die heel belangrikste een:
Die vraag is eintlik nie WWJD nie. Die vraag is eintlik: Wat het Jesus rééds gedoen. Want sien, as ons vra wat Jesus sou doen, dan is die antwoord om vyande lief te hê, om te vergewe, om genadig te wees, om op te offer. En op ons eie kan ons dit eenvoudig nie regkry nie. Maar nou het 1 Johannes mos reeds gesê – soos ons verlede week gehoor het – dat Jesus vir ons ’n voorspraak is. Met sy bloed het hy reeds vir ons skuld betaal.
So ek moet vergewe, liefhê, opoffer. Maar ek sukkel. Terwyl ek sukkel, kan ek weet: ek is steeds God se kind, begenadig en gered deur die bloed van Christus. Daarom kan ek op hom vertrou. Hoef ek nie in my eie krag te probeer om lief te hê en te vergewe en op te offer nie. Ek kan net – om weer verlede week se beeld te gebruik – op hom fokus, die middelpunt van die sirkel. En die Gees sal in en deur my werk, my vorm, sodat ek dit al hoe meer regkry om wel, soms, genadiglik, lief te hê, te vergewe, op te offer.
’n Ware storie
Kom ons sluit af met ’n ware storie. Die nuusberig se opskrif, tipies soos “clickbait” geskryf, lees: “Someone is leaving little parcels of love all over KZN to help keep people warm”
Afgelope Dinsdag was ’n vrou genaamd Jade du Toit by die Waterval Kliniek in Durban. Daar, onder ’n boom, vind sy ’n pakkie: ’n gebreide kombers mooi verseël in plastiek, met die briefie:
Ek is bly jy het die pakkie gekry. Dit is gemaak vir iemand wat iets nodig het om hulle warm te hou in die winter. As jy dit nie nodig het nie, los dit asb. hier.
Iemand in KZN is besig om liefde en warmte oral te los vir vreemdelinge om te vind.
WWJD?
Gebed
Dankoffer
Slotsang
Vonkk 55 Jesus, toe U mens geword het
Seën
Die genade
van die Here Jesus Christus
en die liefde van God
en die gemeenskap van die Heilige Gees
sal by julle almal wees.
Respons
Vonkk 55 vers 1
Ek wil my hart en hand, my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede: Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.
1 Johannes, 1 Johannes 4, 1 Johannes 4:1-6, fake news, Geloofsonderskeiding, onderskeiding, preek, Rethie van Niekerk, Wees eg