Skip to main content

Wees Toegewyd – Wees gaaf – Rut 2

Ons lees die boek Rut asof dit hierdie vreeslike romantiese storie is.  En deur ons verwesterse – en bevoorregte – oë, sien ons liefde en romanse oral in die storie.  Maar die boek Rut is nie ’n liefdesverhaal nie.  Dit is die tipe storie wat in die tyd wat dit geskryf is, so skalks onderlangs aangegee sal word.  “Het jy dié gesien?”  Dis die tipe storie waaroor die regering jou sal opsluit.  Nie ’n roman nie, maar ’n subversiewe politiese pamflet.  Dis wat Rut is.  Dis kritiek teen nasionalisme, rassisme, onverdraagsaamheid, vooroordele en seksisme.

Dit is ’n verhaal van desperate oorlewing.  ’n Verhaal wat ons konfronteer met ons eie vooroordele en ons uitdaag oor ons verantwoordelikheid teenoor die mense wat op die rante leef.

Toetrede

Flam 387 Hier is u kerk

Votum

Vonkk 396 wat die koor nou-nou as toewydingslied vir ons gaan sing, sê op grond van Romeine 12:1:

Ons behoort nie aan onsself nie, ons is God se eiendom van die dag van ons geboorte tot die nuwe aarde kom.

Ons behoort aan U, ons behoort aan U.  Elke dag en elke oomblik – ons behoort aan U.

Seëngroet

Lofsang

Lied 205 Bring lof aan die Vader

Toewyding

Vonkk 396 koor:

Neem my hele lewe, Here, neem my rede, neem my wil.  Laat my dade en gedagtes slegs U diepste wens vervul.

Voorstelling Kerkraad en Sendeling

Vonkk 144 v1 Die vrede van God is met jou

Gebed

Skriflesing

Rut 2

Inleiding

Wees gaaf” deur Pat Miller, Illustrasies Jen Hill

Preek

Inleiding

Toe ek ’n student op Stellenbosch was, het ek een Junie/Julievakansie op Stellenbosch gebly.  Ons het in een van daardie studentehuise in Victoriastraat gebly.  Dit was nog in die jare voor aardverwarming, toe winter in die Boland nog properse winter was, met reën vir weke aaneen, bittere koue en sneeu in die berge.  Een oggend kyk ek by my snoesige slaapkamer se venster uit en sien twee dogtertjies.  Hulle het ’n leë bottel sjampoe iewers uitgegrawe en hulle was besig om mekaar se hare te was met die laaste druppel sjampoe wat jy nog uit die bottel kon kry as jy bietjie water daarin tap en dit skud.  Daar in die straat, onder ’n yskoue kraan in die bittere koue.

Sedertdien probeer ek altyd om so klein bietjie shampoo in die bottel oor te los wanneer ek dit weggooi.  Nie om te mors nie, maar omdat ek weet daar kom nog iemand agterna en gebruik die bietjie wat oor is.

Want dit is mos so:  ons mors.  Ons gooi té veel goed weg.  So ek probeer dat ons gemors darem nie té morsig is nie, sodat dit nie té erg grillerig is vir die mense wat daarin kom grawe terwyl dit op die sypaadjie wag, of daarna wanner dit op die asgate uitgegooi is nie.

Die mense wat op die rante leef

Ons lees die boek Rut asof dit hierdie vreeslike romantiese storie is.  En deur ons verwesterse – en bevoorregte – oë, sien ons (wink wink) liefde en romanse oral in die storie.  Maar die boek Rut is nie ’n liefdesverhaal nie.  Dis nie ’n roman nie.

Dit is die tipe storie wat in die tyd wat dit geskryf is, so skalks onderlangs aangegee sal word.  “Het jy dié gesien?”  Dis die tipe storie waaroor die regering jou sal opsluit.  Nie ’n roman nie, maar ’n subversiewe politiese pamflet.  Dis wat Rut is.  Dis kritiek teen nasionalisme, rassisme, onverdraagsaamheid (bigotry), vooroordele en seksisme.

Dit is ’n verhaal van desperate oorlewing.  ’n Verhaal wat ons konfronteer met ons eie vooroordele en ons uitdaag oor ons verantwoordelikheid teenoor die mense wat op die rante leef.

Sorg

Die eerste ding wat hierdie verhaal vir ons wys oor ons verantwoordelikheid teenoor die mense wat op die rante leef, is om te sorg.  Dit is ’n basiese beginsel diep ingeweef in bykans elke wet in die hele Bybel.  Die wet is daar om die kwesbare mense, die mense wat uitgelewer is aan die magte van die wêreld, te beskerm.

Levitikus 19:

9“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. 10Julle moet ook nie die wingerde ’n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

13“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ’n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. …

15“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.

Lev. 23:22

“Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.”

Ook Deut. 24:19-22.

Dit is wat Rut doen – sy gaan om die wenakkers, die are op die rante, op te tel.  Dit is wat die wet van Boas vra.  En God sorg vir Rut en Naomi – nie deur graan wat wonderbaarlik uit die hemel val nie, maar deur Boas wat gehoorsaam is en vir hulle sorg.

God werk vandag nog dieselfde.  En God vra vandag nog dieselfde van ons.  Dit het ’n kerndeel uitgemaak van Jesus se boodskap:  om om te sien na die armes.

Die vraag is, hoe sal dit vandag lyk?  Dis hoekom ek so aangegryp is deur die beeld van mense wat in asblikke grawe.  Want dit is wat Rut besig was om te doen.  Sy was besig om ander se gemors op te tel.

Behalwe, God sê ons moet seker maak dat daardie gemors genoeg is.  Dit geld nie net vir gemors nie, maar vir die manier waarop ons ons lewens leef.  Ons moenie so gulsig wees en soveel vir onsself inpalm, dat daar niks bly vir ander nie.  Ons wat het – al is dit min en al kla ons om ons braaivleisvure dat dit té min is – ons is altyd verantwoordelik vir diegene wat nié het nie.  Sopkombuise, welsyn, sosiale toelae – dit sal alles deel wees van hierdie beginsel.  So-ook ’n matige leefstyl.

Maar goed, ons weet dit. Mooi so Boas. Kyk na die armes.

Maar hier gaan veel meer aan as net seker maak dat jou gemors nie so morsig is nie.  As ons ons romanties getinte lense afhaal en kyk na Boas se optrede, is dit skokkend.

Vreemdelinge

Ons kan nie presies sê wanneer hierdie boek geskryf is nie.*  Ek het verlede week gesê dit speel af in die tyd van die Rigters.  Maar dit is waarskynlik geskryf in die tyd van Esra/Nehemia.  Na die ballingskap.

Kyk, die Israeliete het mos nou van die begin af rede gehad om nie te hou van die Moabiete nie.

Dieselfde Deut. wat in hoofstuk 24 praat van die koring vir die armes, sê in hoofstuk 23:

3Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie. 4Dit is omdat hulle jou nie van kos en water voorsien het toe julle uit Egipte getrek het nie en hulle vir Bileam seun van Beor uit Petor in Mesopotamië gehuur het om jou te vervloek.

Jy sien, sorg vir die vreemdelinge, ja.  Maar nie vir dié’s nie.  Dis soos die wetgeleerde wat by Jesus wou hoor wié sy naaste is – want hy sien darem nie kans om almal lief te hê nie.  Toe vertel Jesus moes die storie van hul groot vyand, die Samaritaan, wat barmhartig is.

So die Israeliete het nie gehou van die Moabiete nie.  Sorg vir vreemdelinge, ja.  Maar nix op die Moabiete.  Toe gebeur die ballingskap ook nog.  Hulle word weggevoer.  God gebruik allerhande vreemde volke om hulle te onderdruk.  Die Moabiete is die vyand.  Dan kom die volk terug uit ballingskap.  En onder leiding van Esra-Nehemia begin hulle weer die land herbou.  Tempel en regering.  Deel van hierdie herbou-proses is ook ’n suiweringsproses.

Esra 9-10 praat oor Joodse mans wat met vreemde vrou – onder andere Moabiete – getrou het:

9:14 Ons ondertrou met hierdie nasies wat so afskuwelik leef! Moet u toorn ons dan nie heeltemal vernietig nie, sodat niemand oorbly, niemand vrykom nie?

10: 3Kom ons maak ’n plegtige onderneming teenoor ons God dat ons al dié vrouens en hulle kinders sal wegstuur. Laat ons doen wat u en dié wat vir die gebod van ons God eerbied het, ons aanraai in ooreenstemming met die wet.

Nehemia 13:3

Toe die volk dié wet hoor, het hulle almal wat van gemengde herkoms was, van Israel afgeskei.

Nehemia spog verder hoe hy almal in gemengde huwelike – o.a. diegene wat met  Moabitiese vroue getroud was, vervloek, geslaan en hul hare uitgetrek het (13:25).

In dié tyd word die verhaal van Rut geskryf.  Terwyl die politieke en godsdienstige magte besig was met etniese suiwering, hierdie klein subversiewe pamflet.  ’n Pragtige storie.  Wat oor en oor kliphard sê:  Rut is ’n Moabiet.  In vers 5 van vandag se teks, wanneer Boas vra wie sy is, word daar gesê:  Daardie Moabitiese vrou van Moab.  Dit word aanhoudend ingevryf, hard.  En later… kug kug… ingeval julle vergeet het, Esra en Nehemia en ander leiers van die volk… Rut die Moabiet was een van Dawid, julle einste wonderlike koning, se voorouers.  Selfs hy was van gemengde afkoms.

Vir ons vandag is daar natuurlik nog ’n ekstra dimensie by.  Wanneer ons wil lyne trek oor wie welkom is in die kerk en wie nie, oor wanneer ons suiwer is en wanneer nie.  Dan staan Rut, die Moabiet, wie se nageslag nooit ’n lid van die gemeente mag word nie, se naam lewensgroot in die geslagsregister van Jesus.

So Boas.  Boas versorg ’n arm persoon – al is sy ’n Moabiet.  Dit hoef hy darem nie te gedoen het nie.  Maar hy doen presies dit.  Maar hy doen méér as dit.

Menswaardigheid en gemeenskap

Wanneer Boas aan ons voorgestel word, word hy voorgestel as ’n vermoënde man.  Die Engels vertaal dit as “a prominent rich man”.  Want dit gaan nie net oor sy geld nie.  Dit gaan oor sy sosiale stand.  Hy was ’n belangrike, gerekende, geëerde man.

So, ja, jy sou nog verwag dat hy na die armes omsien.  Selfs al is hulle Moabiete.  Maar Boas gee nie net kos vir die een wat in die asblikke grawe nie.  Hy nooi haar om saam met hulle te kom eet.  Later sal hy haar ’n “deugsame vrou” noem.  Hulle kan nie verder van mekaar af wees in sosiale stand nie.  Maar Boas oorbrug die afstand.  Hy eet saam met haar.  Hy waarsku die manne op sy veld om haar nie te molesteer nie.  Hy beskerm haar.

Boas behandel haar soos ’n mens.  Met waardigheid.  Nie sommer net as een van die mense op die rante van die lewe nie, maar as een van ons.  ’n Moabiet.  Wat in die asblikke grawe.

Hulle is nie meer “ryk, belangrike man” en “arm vreemdeling” nie.  Hulle is deel van dieselfde gemeenskap.

Dis geen wonder mense probeer hierdie verhaal lees as ’n romantiese storie nie.  Want anders is dit net te onverstaanbaar!  En as jy dan nog moet dink dat hierdie karakters vir ons voorgehou word as ’n voorbeeld!  Dan voel ons ook oor hierdie subversiewe pamflet soos wat die leiers in Esra/Nehemia se tyd waarskynlik daaroor gevoel het.

En tog.  Dit is die kern van wat dit beteken om ’n Christelike geloofsgemeenskap te wees.  Dat ons grense oorsteek.  Dat ons mense insluit.  Dat ons mekaar se broers en susters raak.  Dit sluit ons vyande in.  Dit sluit ongetwyfeld vreemdelinge in.  Diegene wat so lelik “Makwerekwere” genoem word.  Christenskap laat sosiale stand soos mis voor die son verskyn – dit hoort nie by gelowiges nie.  Ook ras raak irrelevant wanneer ons in Christus se voetspore volg.  Kultuur kan nie iets wees wat gemeenskap keer nie – Rut word tot heel aan die einde van die verhaal nog ’n Moabiet genoem.  Selfs gender is nie meer relevant wanneer mense een is in Christus Jesus nie. (Galasiërs 3:28; Kolossense 3:11)

Ons gee om

Een van ons gemeente se waardes is “ons gee om”.  Dit beteken dat elkeen van ons, soos Boas, uitreik na die mense wat op die rante van die lewe leef.  Nie net armes nie, maar almal wat genegeer word na die rante.

Maar dit beteken méér as net geld of kos gee.  Dit beteken uitreik – wat ook een van ons gemeente se waardes is.  Dit beteken dat daar ’n nuwe gemeenskap tot stand kom, waar ons werklik mekaar se broers en susters raak en mekaar respekteer.

Daar is baie maniere en plekke wat dit gebeur:

Vind bietjie by Jan-Hendrik uit oor die bosslapers hier buite.

Of vind uit oor die karavaanparke en maak vriende met die mense wat gereeld ons eredienste bywoon, gaan drink by hulle ’n koppie tee.

Kyk wie die mense op die rante van lewe is, op die periferie van jou visie.  En vra vir God hoe jy na hulle kan uitreik. Hoe jy hulle kan innooi, deel kan maak van ons gemeenskap.  Dalk is dit ’n student wat by jou huur.  Dalk is dit van die ouers by jou kinders se skool.  Dalk is dit iemand wat elke dag in die straat by jou huis verbystap.

Hierdie is ’n kern-aspek van ons getuienis.  Dit is hoe ons ons roeping uitleef.  Ons getuienis-bediening is besig om vir ons ’n proses uit te werk, omdat hulle elkeen van julle wil uitdaag om ’n grens oor te steek en mense by werklike gemeenskap in te nooi.

Mag ons ook, soos Boas, mense wees wat skok met ons omgee, wat ander heeltemal nuut laat kyk en so deelneem aan die koms van die koninkryk.

Sal dit maklik wees?  Ek vind min van die dinge wat die Here van my vra, is aanvanklik vir my maklik.  Maar dit is só die moeite werd!

Jesus sê in Lukas 6:

36Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”

37“Moenie oordeel nie,

en oor julle sal nie

geoordeel word nie.

Moenie veroordeel nie,

en julle sal nie

veroordeel word nie.

Spreek vry,

en julle sal vrygespreek word.

38Gee,

en vir julle sal gegee word:

’n goeie maat,

ingestamp, geskud en propvol,

sal hulle in julle hande gee.

Met die maat waarmee

julle meet,

sal ook vir julle gemeet word.”

Gebed

Dankoffer

Koor Vonkk 58 Ons vind ons krag in die Here

Slotsang

Lied 524 God roep ons om met woord en daad

Seën

Respons

Lied 313 (Koor voorsangers)Stuur ons Here

*Naskrif

Die datering van die ontstaan van die boek maak in wese geen verskil aan die inklusiewe boodskap van die verhaal nie.  Die Moabiet word steeds ingesluit in die geslagsregister van Dawid en, uiteindelik, Jesus.  Tog is die gesprek interessant.  Die boek Rut begin met ‘n verwysing na die Rigters en eindig met ‘n verwysing na Koning Dawid.  Dit is dus minstens in Dawid se tyd –  of later – geskryf.  Vir die eerste helfte van die twintigste eeu is die tyd van Esra/Nehemia algemeen aanvaar as ontstaanstyd (ongeveer 550 jr na Dawid se regering).  Die argumente hiervoor berus hoofsaaklik op linguistiese en grammatikale kenmerke. So is daar bv. uitdrukkings wat duidelik deur Aramees beïnvloed is, wat slegs ná die ballingskap moontlik was.  Aangesien die boek gunstig oordeel oor die huwelik tussen ‘n goeie Israelitiese man en ‘n Moabitiese vrou, is die boek algemeen as polemies gesien.  Die latere datering is verder daardeur ondersteun dat die skrywer dit nodig ag om ‘n ou gebruik te verduidelik (Rut 4:7), asook deur die verskille tussen Rut en vroeër regs-tekste se benadering tot huwelike en lossing.

In 1975 het Edward F. Campbell Jr. die spreekwoordelike jakkals in die hoenderhok gegooi deur baie van die aannames oor latere linguistiese en grammatikale kenmerke te bevraagteken.  Sy tese was dat die naaste parallelle in die verhale van Josef in Genesis en die regeringsgeskiedenis van Dawid in 1 Samuel was.  Hy het geargumenteer dat die boek nie polemies was nie, maar eerder bedoel het om te vermaak en te onderrig.

Campbell se argumente het natuurlik die debatte weer laat opvlam.  Nuwe argumente het gesê dat die doel van die boek was om Dawid se reg op die troon van Israel te beklemtoon.

In 1996 het Frederick W. Bush weer die linguistiese studie op die tafel geplaas.  Hy bou op die werk van verskeie akademici wat onderskei tussen “Standaard Bybelse Hebreeus” en “Laat Bybelse Hebreeus”.  Bush toon aan dat, selfs al word die konsentrasie van latere vorme in 4:7 geïgnoreer (of as latere redigering gesien), daar steeds beduidende voorbeelde van kenmerkend post-eksiliese skryfstyl is.  Hy vind genoeg latere kenmerke in die taal en styl vir ‘n “later rather than earlier” datering, ten minste “… at the beginning of the post-exilic period”.

Soos Katharine D. Sakenfield in 2012 sê:  “it is important to realize that even the discussion of linguistic development is not free of underlying assumptions.” Hoewel die gesprek interessant is, kan ons steeds nie presies sê wanneer die boek geskryf is nie.  Ons kan wel steeds die boodskap van God se insluitende sorg hoor.

 

 

Boas, menswaardigheid, preek, Rethie van Niekerk, rut

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.