Jona en die Komkommerplant – Jona 4 preek 23 September 2018
Dit was op ’n tyd in Oos-Europa mode om preekstoele te bou in die vorm van ‘n regop walvis. Om te preek op hierdie preekstoel, moet jy dan met ’n leer deur die walvis se maag klim, om bo by die mond uit te kom en te preek. Soos Thomas Merton geskryf het: …like Jona himself I find myself traveling toward my destiny in the belly of a paradox. Waarby Denise Ackermann byvoeg: Life can be a whale of a ride!
Maar ek dink ’n mens moet eerder ’n preekstoel kerf in die vorm van ’n komkommerplant. Simbolies van die plant waaronder ons sit en vra. Dan moet ons beurte maak om elkeen op die komkommerplant-preekstoel te kom staan.
Verwelkoming en Afkondigings
Toetrede
Lied 519 Wees stil en weet: Ek is die Heer
Votum
Psalm 145
8Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. 9Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het. 14Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Seëngroet
Daarom groet ek julle in die Naam van die Drie-enige God. Genade, barmhartigheid en vrede sal met ons elkeen wees.
Lofsang
Lied 509 vv 1, 2 en 4 Op berge en in dale
Flam 115 Kyk hoedat die voëltjies vlieg
Die Wil van God
Lukas 6:27-28 en Eksodus 34:6-7
Toewyding
Lied 203 vv 1, 3 en 4 Loof die Here, al wat lewe
Gebed
Skriflesing
Jona 4
Julle ken die verhaal van Jona: God stuur hom na Nineve, maar hy vlug na Tarsis. Op pad daarheen is daar ’n storm, hy eindig in die maag van ‘n vis, waar hy tot God bid.
So gaan hy uiteindelik na Nineve, loop vir ’n dag in die stad rond, en roep dan: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” (3:4)
Die hele stad kom tot bekering, mens en dier het berou.
Lees Jona 4
Hierdie vertaling vertaal dit as ’n “komkommerplant” op die spoor van die Septuagint, die Griekse vertaling van die Ou Testament. Baie moderne vertalings kies ’n kasterolieplant, omdat dié blykbaar vinnig groei. Die Ou Vertaling het, in lyn met die Nederlands, gepraat van ’n “wonderboom”
Preek
Dit was op ’n tyd in Silesië en Bohemia in Oos-Europa mode om preekstoele te bou in die vorm van ‘n regop walvis. Om te preek op hierdie preekstoel, moet jy dan met ’n leer deur die walvis se maag klim, om bo by die mond uit te kom en te preek. (Die een op die foto is die 9m hoë preekstoel in Duszniki, Pole, in 1730 gekerf.)
Dis mooi simboliek. Soos Thomas Merton geskryf het: …like Jona himself I find myself traveling toward my destiny in the belly of a paradox. Waarby Denise Ackermann byvoeg: Life can be a whale of a ride!
Ek is natuurlik baie dankbaar ons het nie so ’n preekstoel nie! Ek is veral dankbaar ons preekstoel is nie 9m hoog nie. Maar ek dink ’n mens moet eerder ’n preekstoel kerf in die vorm van ’n komkommerplant. Simbolies van die plant waaronder ons sit en vra:
“Here, regtig? Moet ek hierdie mense liefhê? Here, ek weet dat U barmhartig en genadig is, maar regtig, móét U hierdie mense vergewe? Wil U hulle nie maar eerder straf nie? Ag Here, hulle verdien die straf so baie! Here, ek het my beste gedoen, maar dit het misluk. Here, kyk wat ek alles gegee het, maar al wat mense doen, is kla! Here, hoe ver pad het U my gebring – en nou eindig ek hier? Dis nie waar ek gedink het ek gaan eindig nie! Op ’n stowwerige vlakte in ’n warm wind!”
Dan moet ons beurte maak om elkeen op die komkommerplant-preekstoel te kom staan. Want ons het dalk nie elkeen ’n ervaring in ’n vis se maag nie, maar ons het definitief elkeen ’n ervaring onder ’n komkommerplant.
Hoekom sit jy onder die plant?
Hoekom sit jy onder die plant? Wat is die ding wat maak dat jy ontevrede – dikbek, sou my ma gesê het – na die lewe kyk? Woedend, onvergenoegd?
Jona is kwaad. Sommer behoorlik woedend.
Hoekom? Want God is genadig! Hy kan dit nie verduur nie. Die idee van God se genade en geduld is vir hom onhoudbaar.
Dis interessant, wanneer mense praat oor Jona se aanvanklike vlug Tarsis toe, wanneer God hom stuur na Nineve, dan praat mense oor Jona se ongehoorsaamheid. Ook in die boek Jona self word nie gesê waarom Jona gevlug het nie. Eers hier, naby aan die einde, sê Jona self waarom hy gevlug het: hy het gevlug, want hy het geweet dat God genadig is.
En dis vir hom onhoudbaar.
Want sien, Nineve was regtig boos. Hulle was Jona en sy mense se vyand. Nineve was die hoofstad van Assirië. Die hoofstad van die einste stad wat uiteindelik die koninkryk van Israel gaan uitwis. Hulle was o.a. bekend daarvoor dat hulle mense tereggestel het deur hulle met ‘n paal te deurboor en te los om stadig te sterf, die liggaam ’n waarskuwing vir hul vyande.
En God is barmhartig en genadig teenoor hulle. Lankmoedig en vol liefde.
’n Mens kan verstaan hoekom Jona daar gaan sit en hoop om te sterf. Want soms is God se genade onhoudbaar. As ons kon kies, sou ons veel eerder God se geregtigheid kies as God se genade. Vir ander mense natuurlik, nie vir onsself nie. Maar vir ander. Die idee dat God mense kan vergewe, sonder dat reg geskied. Dat God dit kan laat reën oor jou vyande, dat hulle kan floreer, dat hulle selfs vir God kan dien…
Dalk is dit nie noodwendig hoekom ons dikbek eenkant gaan sit nie. Dalk gaan sit ons iewers onder ’n selfgemaakte, nuttelose skuiling omdat dinge eenvoudig nie so verloop het soos wat ons verwag het nie. Omdat die lewe anders lyk as wat ons gehoop het. Omdat ons swaarkry of sukkel en voel ons verdien dit darem regtig nie. Dan bou ons ’n “skuiling” van ons woede waar ons lekker kan sit en “sulk”.
Hoekom sit jy onder die plant?
Woede is diagnosties
Die interessante ding van woede, is dat dit ’n baie nuttige diagnostiese hulpmiddel is. Wanneer ons in woede ontplof, dan is dit ’n duidelike teken dat iets verkeerd is. Iewers is daar fout. Woede is ons sesde sintuig wat die dinge wat verkeerd is, uitsnuffel. Wanneer ons kwaad is, kan ons maar weet dat dit gaan oor iets wat saak maak. Woede verdien aandag.
Maar daar is een groot probleem met woede: dit sê nie vir jou of die oorsaak van jou woede buite jouself of binne jouself lê nie. Meestal máák dit asof die oorsaak buite jouself lê. Woede hou daarvan om geprojekteer te word. Dis in ons natuur om te blameer. Eva sê dis Adam en Adam sê dis die slang.
Brené Brown praat oor ons menslike neiging om te blameer, wanneer sy vertel van die slag wat sy haar koffie laat val het. Onmiddellik was sy kwaad vir haar man. Dis sy skuld dat sy vanoggend haar koffie laat val, want toe sy gisteraand laat by die huis kom, het hy nog nie die kinders se kos vir skool gemaak nie. Toe moes sy dit nog doen. En toe wou hy nog gesels. Nou is dit oggend en sy is moeg en daarom het sy haar koffie laat val. En nou is sy kwaad vir haar man, wat ’n uur terug al werk toe is.
Woede maak altyd asof dit iemand anders se skuld is. En soms is dit iemand anders se skuld! Soms is ons woedend oor onreg. Soms is jy woedend omdat God jou roep om op te tree teen ’n spesifieke onreg, maar jy doen niks nie. Dan verander daardie roeping in ’n sluimerende woede wat alles deursuur en van jou gewoon ’n woedende mens maak. Iemand het dit so mooi verwoord: “Some people are looking for a fight, because they aren’t in one.”
Maar meer dikwels dui die woede op ’n probleem binne jouself. Kyk na Jona. Die probleem is nie met sy kennis, sy teologie nie. Hy weet wie en hoe God is. Die probleem is met sy hart. Nege keer gebruik Jona in die oorspronklike taal die woord “ek”. Hy is so gefokus op homself, dat hy woedend is omdat God 120 000 mense – en nog baie diere – red.
Hier sluit ons natuurlik aan by Gilliam se preek van verlede week. Want dikwels het daardie woede te doen met iets binne jouself wat moet sterf. Iets waaraan jy vasklou, wat jy eerder moet laat gaan.
In Jona se geval is dit waarskynlik wrokke. Soms is dit ook waar van ons. Soms troetel ons ons wrokkige gevoelens, is dit vir ons só moeilik om te vergewe en om sekere mense lief te hê, dat ons eie woede die wurm raak wat ons binneste verteer.
Soms is die ding wat moet sterf, ons verwagtings. Ons eie idees van hoe die lewe moet werk en wat ons toekom in die lewe. Ek het al vantevore vertel van “Therapeutic Moralistic Deism”. Dit gaan oor hierdie massiewe navorsingsprojek, die grootste van sy soort, wat bevind het dat mense deesdae aan geloof dink as ’n kontrak: ek leef goed en God sorg dat dinge vir my vlot verloop. Indien dinge dan nie vir my vlot verloop nie, het iemand mos die kontrak gebreek. Dit was nie ek nie, want ek was mos goed! So dan gaan sit ek onder die komkommerplant, dikbek omdat ek nie hierdie slegte goed verdien het nie!
Maar dis nie hoe die lewe werk nie. Ook nie die lewe saam met God nie. Wanneer dinge anders verloop as wat ons wou hê, toe nie so maklik soos ons verwag het nie, wanneer ons nie so suksesvol is as wat ons wou wees nie, wanneer jou verhouding harder werk is as wat jy gedroom het, of jou kinders nie die engeltjies is wat jy geweet het hulle gaan wees nie… dan kan ons onder ’n komkommerplant gaan sit, woedend omdat dinge nie uitwerk soos wat ons wou hê nie.
Of ons kan aanvaar dat God ook daardeur werk en toelaat dat God ons vorm, dat God ook dit gebruik tot eer van sy Naam.
Hoe God is – die interaksie.
Wat opvallend is in hierdie teks, is nie Jona se komiese optrede nie, maar wat God daarmee doen.
Jona wip hom, slinger God se genadige liefde as beskuldiging teen God. Hoe sou jy reageer as iemand dit met jou doen? Dan is dit nog boonop ’n snuiter wat dit doen?
Maar God reageer! “Het jy rede om kwaad te word?”
En Jona? Jona kry stilstuipe, draai om en storm uit die stad uit, gaan sit daar eenkant.
Wat sou jy doen? Ek sou hom laat gaan. Nou is dit neusie verby met ons twee.
Maar God trek vir Jona in ’n verhouding in. Hy hou aan om met Jona te handel.
God praat met Jona, die twee keer wat hy hom na Nineve stuur en dan hier in Hoofstuk 4. Hierdie is die langste gesprek, heen-en-weer, waar God vir Jona innooi, sy hart vir Jona wys, sy motiewe aan Jona bekendmaak.
Terwyl Jona nors onder ’n dooie bos sit, hou God ’n liefdevolle verhouding in stand.
Hieruit sien ons paar goed:
Eerstens, dis okay om met God te baklei. Jona bevind hom in goed gevestigde Bybelse tradisie van mense wat ongelukkig oor wat God doen, wat dit in geen onseker terme vir God uitspel. Jona is nie eers die enigste een wat vir God gevra het om hom te laat sterf nie! Moses, Job, Dawid, selfs Elia wou eerder sterf as die lewe in die gesig staar.
Maar (en dis die tweede ding wat ons raaksien), God los ons nie waar ons is nie. God is ook genadig, barmhartig, geduldig en vol liefde met ons. Ook wanneer ons baklei – of nors onder ’n bos sit – kom God saggies na ons toe, stel God sy liefdevolle hart aan ons bekend, wys hy ons iets van sy hart en sy motiewe.
Die einde
En dan?
Wat doen jy dan?
Laat ek nou maar sê, ek haat flieks met dubbelsinnige eindes. Ek wil weet: het die held oorleef of nie. Ek wil weet: was daar regtig ’n tier saam met die seun op die boot, of was dit sy eie donker kant? Moenie ’n storie vir my los sodat ek self die einde invul nie. Vertel vir my hoe dit eindig.
Maar die verhaal van Jona eindig met so ’n cliffhanger:
11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”
Vraagteken. Dotjie dotjie dotjie.
En nou moet jy die einde skryf. Daar wat jy onder ’n dooie bos sit, woedend oor dinge wat nie verloop het soos wat jy wou gehad het nie. Nou het God vir jou kom sê dat hy genadig, barmhartig, geduldig en vol liefde is – inderdaad ook met jou. Hy het sy hart vir jou gewys, jou ingenooi in verhouding met hom. Al lyk dit nie soos jy verwag het nie. Al gaan jy nie jou sin kry nie.
En nou? Hoe gaan hierdie storie eindig? Wat gaan jy antwoord, daar onder jou eie dooie komkommerplant?
Gebed
Dankoffer
Slotlied
Lied 280 Here, Redder, groot en magtig
Seën
Die genade, barmhartigheid, geduld en troue liefde van God Drie-Enig sal met ons wees, nou en vir ewig.
Respons
Lied 313