Skip to main content

Wees Toegewyd – Draai God sy rug? – Rut 1

’n Vreemde vrou in ’n vreemde land, sonder enige heenkome, geen manier om vir haarself te sorg of te voorsien nie.  Met die pyn van verlies van ’n eggenoot wat sterf.  En dan nog boonop die pyn van ’n kind wat sterf.  En nog ’n kind wat sterf.  Daar is nie woorde om daardie pyn te beskryf nie.  As jy jouself die ergste, seerste ding indink wat met jou kán gebeur – en dan nóg – dan is jy nog nie waar Naomi was nie.

En dis ongeveer hier dat Naomi besluit God het teen haar gedraai.  Wat anders moet sy dink?

Toetrede

Vonkk 42 Jubilate

Votum

Psalm 46

2God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

3Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, 4al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.

8Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.

Seëngroet

Die Here, die Almagtige, is by ons, die Drie-enige God is vir ons ’n beskutting.

Lofsang

Lied 198 God is my lied

Lied 509 v 1&4 Op berge en in dale

Verootmoediging

Matteus 5:3-9

Toewyding

Gebed

Inleiding en Skriflesing

Rut 1

Preek

Rigters

Lank lank gelede – in die tyd van die Rigters… Nou weet jy mos van die tyd waarvan ek praat?  Dit was mos die tyd toe die volk van die Here nog nie ’n koning gehad het nie.  In die jare het die Here elke af en toe, wanneer dit nodig was, leiers na vore laat kom om die volk te help.  Maar keer op keer het die volk óf nie na die leiers geluister nie, óf nie na God geluister nie.  Ons lees in die boek oor dié tyd, die boek Rigters, dat dit ’n slegte tyd in die volk se geskiedenis was.  Rigters is vol oorloë, geweld, ongehoorsaamheid.  Dis eintlik aaklig, die goed wat in daardie tyd aangevang word.  Die boek Rigters eindig met ’n probleem – ’n stam wat nie meer vrouens het nie.  Maar dis okay, daar word ’n plan gemaak – hulle kan meisies ontvoer.  So eindig die boek Rigters met die woorde:

21:25In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Naomi

En dit is in dié tyd, toe Israel byna soos die Wilde Weste was, dat ons ’n vrou ontmoet.  Sy noem haarself “Mara” – bitter.  Maar haar naam is eintlik “Naomi” – “soet”,  “aangenaam”.  Maar sy herdoop haarself van soet na bitter.

Hoekom, Mara?

Ons ontmoet vir Naomi wanneer sy en haar familie weens hongersnood – ’n gebrek aan brood – vlug van Betlehem, daardie plek wat se naam letterlik “huis van brood” is.  Maar in die huis van brood was daar nie meer brood nie.  So hulle gaan soek toevlug by die Moabiete, die einste mense wat destyds met die intog in die beloofde land geweier het om vir die Israeliete brood te gee.

Maar nou lees ons mos hierdie storie ’n paar jaar later.  Ons het al ’n groot klomp kennis waarvan Naomi nooit sou kon droom nie.  So wanneer ons hoor “Betlehem”, dan onthou ons:  “o ja, dis mos waarvandaan Dawid gekom het.  En wag, is dit nie ook waar Jesus gebore is nie?”

Maar dit weet Naomi nie.  Al wat sy ken, is swaarkry en bitterheid.  Eers gaan haar man dood.  En die lot van ’n weduwee in daardie dae was skrikwekkend.  As ’n vrou nie ’n man of ’n pa gehad het om vir haar te sorg nie, was sy geheel en al sonder heenkome.  So hier was Naomi, ’n weduwee, in ’n vreemde land.

Gelukkig het sy darem nog twee seuns gehad.  Totdat die ook doodgaan.

Ons kan onsself kwalik in haar omstandighede indink.

’n Vreemde vrou in ’n vreemde land, sonder enige heenkome, geen manier om vir haarself te sorg of te voorsien nie.  Met die pyn van verlies van ’n eggenoot wat sterf.  En dan nog boonop die pyn van ’n kind wat sterf.  En nog ’n kind wat sterf.  Daar is nie woorde om daardie pyn te beskryf nie.  As jy jouself die ergste, seerste ding indink wat met jou kán gebeur – en dan nóg – dan is jy nog nie waar Naomi was nie.

En dis ongeveer hier dat Naomi besluit God het teen haar gedraai.  Wat anders moet sy dink?  En let op, dis nie wat die teks sê wat gebeur het nie.  Dis Naomi se eie interpretasie van wat met haar gebeur het.

So Naomi besluit om terug te gaan na haar eie land, haar eie plek.  Sy het steeds geen heenkome nie, maar dalk staan sy daar ’n beter kans.  Ten minste treur sy nie in ’n vreemde kultuur met vreemde gewoontes nie.

Naomi se skoondogters – Moabitiese vroue albei – stap so ’n entjie saam met haar.  Maar wat help dit tog?  Hulle kan nie die seer wegneem nie.  Dis nie asof hulle vir Naomi kan voorsien nie.  Hulle is self ook weduwees!  En as hulle saam met haar teruggaan, is húlle die vreemdelinge – Moabiete, op die koop toe.  Moabiete was nie welkom in Israel nie.  Dan moet Naomi, met al haar bitterheid, nog met hierdie skande ook saamleef.  Dat daar ’n Moabiet saam met haar gekom het.  Dat sy ’n Moabiet in die familie het.  Nog ’n mond om te voed.  ’n Moabitiese mond.

So natuurlik stuur Naomi haar skoondogters terug.  En na so ’n bietjie teësit, doen Orpa wat ’n goeie, gehoorsame dogter van haar tyd doen – sy gaan terug na haar familie.

Maar Rut is hardkoppig.  Sy weier.  Sy gaan by Naomi bly, sê vers 14.  Die ou vertaling sê Rut het haar aangehang.  In die Hebreeus is dit presies dieselfde woord wat in Genesis gebruik word van Adam wanneer God vir Eva skape:  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef.  (Gen. 2:24)

En in haar aankleef van Naomi, gee Rut hierdie pragtige belydenis wat oor die millennia mense se harte aangegryp het en hoeveel liedere en romantiese seremonies geïnspireer het.

En Naomi?  Wat doen sy met hierdie pragtige verklaring? Naomi het opgehou om met Rut te probeer praat, sê die 83-vertaling.  Sy het opgehou om met haar te praat, is letterlik wat daar staan.

Ons weet nie hoe Naomi gevoel het oor hierdie woorde van Rut en oor Rut se teenwoordigheid nie.  Maar wanneer hulle uiteindelik in Betlehem aankom, sê Naomi niks oor Rut nie.

Want Naomi is bitter.  Wanhopig, hartseer, dalk selfs woedend.

Naomi is oortuig dat God teen haar gedraai het.  God kan vir mense sorg en voorsien, maar oor haar het hy ’n ramp gebring.  Maar Naomi is nie soos Job, wat wil weet hoekom hierdie goed met haar gebeur het nie.  Sy is ook nie soos die Psalmdigter, wat kla en huil nie.  Ons lees nie dat sy vir God gevra het om haar omstandighede te verander nie.  Sy is so bitter, so gebroke, dat sy verby die punt van gebed is.

Maar wat van God?

Maar wat van God?  Waar is God in hierdie hele besigheid?  Het God regtig teen Naomi gedraai?  Dis opvallend dat God stil is dwarsdeur hierdie verhaal.  Nie een keer praat God in die boek Rut nie.

God werk op die agtergrond

En tog.  Tog is God die hele tyd aktief, die hele tyd aan die werk, die hele tyd besig om goed in plek te laat val.  In hierdie storie oor brood, is God soos die gis wat die brood laat rys.  Jy sien nie die gis nie.  Jy kan nie sien hoe dit werk nie.  So af en toe word die deeg weer afgeknie.  Maar uiteindelik het jy heerlike brood wat pragtig rys.  So is God die hele tyd aan die werk.  Op die agtergrond.  Selfs al het niemand eksplisiet gevra vir a of bo of c nie.

God werk deur mense se buitengewone getrouheid

Die tweede ding wat opvallend is in die hele verhaal van die boek Rut, is dat God werk deur mense.  Die boek praat van twee direkte intervensies van God:  Die Here het weer vir Israel ’n goeie oes gegee (1:6) en die Here het vir Rut laat swanger word (4:13) (spoiler alert!).  Soos wat ons mense na die lewe kyk, sal hierdie die twee dinge wees wat ons as wonderwerke sal uitlig:  God gee ’n goeie oes; die vroue wat waarskynlik nie kon kinders hê nie, raak swanger.

Maar dis nie die enigste plek waar God werk nie.  Wanneer Rut kies – teen Naomi se wense in – om saam met Naomi te gaan, werk God.  In die volgende hoofstukke – wat ons in die volgende paar weke gaan lees – gaan ons sien hoe God deur Boas werk.

En onthou, Rut se keuse om vir Naomi te volg was ’n geweldig gewigtige keuse met massiewe implikasies vir haar lewe.  ’n Weduwee, ’n Moabiet, in ’n vreemde land, sonder heenkome.  Nie alleen kies sy om saam met Naomi te gaan nie, sy kies vir Naomi se land, Naomi se volk én Naomi se God.  Sy kies selfs om begrawe te word waar Naomi begrawe word, terwyl die gewoonte van die dag was dat mense in hul eie lande begrawe word.

So God werk deur die optrede van mense, maar God werk veral waar mense buitengewoon getrou is.  Waar hulle nie net goed en reg doen nie, maar waar hulle méér doen was wat die weg verwag, as’t ware die tweede myl stap.  Ons gaan in die volgende paar weke meer daaraan aandag gee.

God werk in “toeval”

Derdens sien ons – veral in die hoofstukke hierna – hoe God werk in dinge wat ons as “toevallig” sal beskryf.  (Nog spoilers!)  “Toevallig” eindig Rut op Boas se veld.  “Toevallig” kom hy daar aan terwyl sy daar is.  Maar in die gewone dinge wat “toevallig” oor ons pad kom, is God besig om te werk.

Die Heidelbergse Kategismus praat oor hierdie “toeval”:

Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

God werk met die geheelbeeld

In hierdie antwoord van die HK lê vir my die volgende ding wat ons sien van die werk van God:  dat God na die groter prentjie kyk, die geheelbeeld.  Ons het elkeen ’n rol om te speel in die groter verhaal.  Maar ek gaan waarskynlik nie sien wat daardie rol is nie.  Dalk gaan ek nooit weet hoe my lewe – my voorspoed en my teëspoed – in God se storie inpas nie.  Maar God het ’n liefdevolle plan waarvan ons deel is.  Sodat – spoiler alert! – Rut, die Moabitiese vrou, deel raak van die geslagsregister van Jesus van Nasaret, die Messias van die Jode, die verlosser van die wêreld.

God werk ook wanneer ons dit nie wil of kan sien nie

En laastens, dat God werk, ook wanneer ons dit nie kan of wil sien nie.  Al is ons soos Naomi so vasgekeer in ons bitterheid dat ons self die mense wat God stuur om ons te help, as ’n las sien, dan is God nog stééds besig om te werk.  Selfs wanneer ons God beskuldig en moedeloos opgee, onsself oorgee aan bitterheid – dan is God stééds besig om te werk.

As jy dan vandag moet sê wat jou naam is, wat sal dit wees?  Naomi, die een wat die soet van die lewe smaak?  Of Mara, bitter?

Wat dit ook al is, kom ons sluit af met die woorde van St Patrick se gebed:

Christus met my, Christus in my,

Christus agter my, Christus voor my,

Christus langs my.

Christus onder my, Christus bo my;

Christus in die stilte, Christus in gevaar;

Christus in die hart van elkeen wat aan my dink,

Christus in die mond van elkeen wat oor my praat.

Christus in elke oog wat my sien, Christus in elke oor wat my hoor.

Amen

Gebed

Dankoffer

Koor Vonkk 316 Die Here is voor jou

Verwerking van St Patrick se gebed

Slotsang

Lied 281 Lei ons, Here, groot en magtig

Seën

Die Here is VOOR jou om die weg gelyk te maak.

Die Here is AGTER jou om die aanvalle van die Bose af te weer.

Die Here is LANGS jou om jou in Sy arms toe te vou.

Die Here is RONDOM jou om jou te beskerm.

Die Here is ONDER jou om jou te dra as jy val.

Die Here is BOKANT jou om jou te seën.

Die Here is BINNE jou om jou te lei met Sy Heilige Gees.

So seën die Drie-Enige God jou van nou af tot in ewigheid.

Amen

Respons

Lied 281 v 2 Refrein: Ons beskermer U die God wat ons behoed

Heidelbergse kategismus, Naomi, preek, preke, Rethie van Niekerk, rut, Wees toegewyd

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.