HuisGeloof 23-29 Junie 2014
OMGEE GESPREKKE
Vertel vir mekaar van ’n keer wat iemand baie moeite gedoen het om gasvry of vrygewig teenoor jou op te tree. Wat het hulle gedoen? Hoe het dit jou laat voel?
BYBEL LEES
Lees Matteus 10:40-42 uit Die Nuwe Testament vir Kinders
40–41 “Ek en julle werk saam in ’n span. As iemand vriendelik met julle is, dan is hulle ook vriendelik met My en met my hemelse Vader. Wanneer iemand goed doen aan een van julle wat vir God werk, sal God hom of haar daarvoor beloon.
42 “Party mense wat in My glo, is baie arm. Ander mense gee niks vir hulle om nie. Wanneer julle so iemand help, sal julle regtig ’n plek in die hemel kry. Selfs al gee julle maar net vir so iemand ’n glas koue water, sal God dit raaksien. Want Hy is vriende met almal wat in My glo.”
- Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
- Jesus noem dat gasvryheid selfs daarmee te doen het om vir iemand ‘n glas koue water te gee. Vir ons is dit maklik: Jy stap na die yskas toe en jy skink koue water. Maar in Jesus se tyd was dit nie so maklik nie – hulle het nie yskaste gehad nie. Die enigste manier om in Jesus se tyd vir iemand koue water te gee, was om na die naaste put te gaan en daaruit water op te hys met die swaar emmer en dan in te skink. Maar daar was nie by elke huis ‘n put nie – putte was soms vêr en dan moet jy nog in die middel van ‘n warm dag soontoe stap, soms kilometers ver. Jesus sê wanneer jy moeite doen vir iemand anders, dan doen jy so iets asof vir Jesus!
- Hoe kan jy vir ander mense moeite doen en hulle so help?
GEWOONTES EN GEBRUIKE (GESEËN OM TE SEËN)
- Maak ’n gewoonte daarvan om elke maand ’n bedrag te gee vir ’n organisasie wat kinders of mense wat op straat woon, versorg. Skep ’n begunstigde op jul bankrekening en laat die kinders die “betaal” knoppie druk, sodat hulle die ervaring het dat hulle ook gee. Ondersteun bv. die Barcelona sopkombuis in Helenvale en ander behoeftige mense en instansies wat deur ons gemeente ondersteun word deur geld in te betaal by die Finros Jumbo rekening: CCW Wholesalers, Absa Rek 4058449931, Tak 505626, Verwysing: C376 Interkerk Kombuis. Stuur asb. t.w.v. kontrole vir Theo ’n e-pos by theoh[by]telkomsa.net, sodat hy kan seker maak die geld is in die regte rekening oorbetaal.
- Bring Sondag blikkieskos, warm klere, komberse, ens. vir Projek Winterhoop kerk toe. Sit dit in die blou kis in die voorportaal.
- Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.