Skip to main content

Tag: Huisgodsdiens

Huisgeloof 27 April tot 3 Mei

Haggai 2

OMGEE-GESPREKKE

Vertel vir mekaar wat jou bang maak. Wat help jou om dapper te wees, al is jy bang?

BYBEL LEES

Lees Haggai 2:1-9

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Wat gaan mamma doen as jy eerder speel en nie jou kamer reg pak soos wat sy gevra het nie? God het vir sy volk gesê om sy tempel (hul kerkgebou) weer te bou (dit is lank gelede in ’n oorlog vernietig). Maar vir 19 jaar lank het hulle gedraai en eerder hul eie goed gedoen. Toe hulle uiteindelik weer begin, was dit baie moeiliker as wat hulle gedink het. Hulle was skoon moedeloos! Kyk weer in verse 4 en 5 hoe God reageer.
  • Wat beteken “skep moed”?
  • God belowe dat hy by ons is. Hoe kan dit jou help om nie bang te wees nie?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Bid vir die Christene in die Midde-Ooste. Mense is baie lelik met hulle omdat hulle vir Jesus dien. Bid dat hulle sal dapper wees, sal moed skep. Gee ’n geloofsoffer bydrae vir een van ons sendelinge se werk. Ons sendelinge help o.a. hierdie mense deur hulle te herinner dat God by hulle is, sodat hulle nie bang sal wees nie.

GESEËN OM TE SEËN

Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge

Huisgeloof 16 tot 22 Feb

Laat Jesus Deur Jou Vreemdelinge Ontmoet

OMGEE-GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat jy nuut/vreemd was en iemand jou gehelp het om welkom te voel. Wat het hulle gedoen?

BYBELLEES

Lees Lukas 10:1-12 uit Die Nuwe Testament vir Kinders

Later het die Here twee en sewentig volgelinge uitgestuur. Hulle moes twee-twee voor Hom uitgaan na die dorpe toe waar Hy sou oorbly op pad na Jerusalem toe. Hy sê vir hulle: “Daar is so baie mense wat nog van God moet hoor, maar daar is heeltemal te min mense wat vir hulle van Hom kan vertel. Vra vir die Here om nog mense te stuur om dit te doen. “Gaan na al die plekke toe waarheen Ek op pad is. Maar oppas: dit is ’n gevaarlike werk. Ek stuur julle soos lammetjies tussen gevaarlike diere in. Moenie geld saamvat nie. Los ook julle tasse vol klere by die huis. En moenie langs die pad kuier nie. As julle in ’n huis inkom, groet almal vriendelik. Sê vir hulle: ‘God sal baie goed wees vir hierdie huis.’ As hulle vir julle blyplek gee, dan sal God by almal in daardie huis wees. Maar as hulle julle wegjaag, sal God hulle straf. Bly in die huise waar mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Dit is die betaling vir julle werk. Maak al die siek mense gesond. Sê vir hulle: ‘God se nuwe wêreld is nou hier by julle! Wanneer die mense van een dorp nie na julle wil luister nie, gaan dan na ’n ander dorp toe. Maar skud eers voor almal die stof van daardie plek uit julle klere uit. Sê vir hulle: ‘God gaan julle eendag straf.’ Weet julle, dit sal op die laaste dag makliker wees vir Sodom en Gomorra, daardie twee stede wat sulke lelike sondes gedoen het, as vir die dorpe wat nie na julle luister nie.

• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
• Jesus wil ons gebruik om vreemdelinge te laat welkom voel, sodat hulle weet dat Jesus hulle lief het. Maar ons mag ook nie met vreemdelinge praat nie! Hoe nou gemaak? Wie is die vreemdelinge wat jy wél kan laat welkom voel? Dink bv. aan die nuwe kind by die skool, nuwe mense in die kerk, mense wat jy gewoonlik wil uitsluit of ignoreer. Hoe kan jy hulle laat welkom voel?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Is julle besig om te vas? Vertel vir mekaar wat gebeur, hoe julle daaroor voel, wat julle daaruit leer.

GESEËN OM TE SEËN

• Is daar iemand spesifiek wat vreemd is na wie Jesus wil hê julle moet uitreik? Beplan saam hoe julle dit gaan doen.
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge en vir die sendeling wat julle gesin ondersteun.