Skip to main content

Reveal – Where are you?

NAVORSING

(Lees die volledige opsomming hier)
Reveal - Where are you?Met
die naderende voltooiing van Willow Creek se ambisieuse bouprojek in
2003, het die leierskap van Willow met ‘n strategiese proses begin om
God se wil vir die toekoms te onderskei.

Drie vrae het hulle strategiese proses gestruktureer:

  1. Waar is ons?
  2. Wat sien ons?
  3. Hoe kom ons daar?  

Hierdeur wou hulle die:

  1. huidige realiteit definieer,
  2. ‘n nuwe visie en
  3. aksieplan vir die toekoms ontwikkel.

In 2004 is die navorsingsprojek van stapel gestuur, gelei deur:

  • Greg Hawkins – uitvoerende pastor van Willow Creek Community Church sedert 1996,
  • Cally
    Parkinson – aanvanklik direkteur kommunikasie by Willow en tans “brand
    manager” van REVEAL wat hulpmiddels vir gemeentes rondom dié navorsing
    ontwikkel, en
  • Eric Arnson – voorheen by McKinsey & Company, en tans van ORIGINATE, ‘n navorsing en strategie konsultasie maatskappy.  

Die
doel was om die geestelike lewe (hart) van hulle lidmate beter te
verstaan sodat Willow die lidmate beter kan help om geestelik te groei.

Een van die sentrale konsepte wat Eric in die navorsing gebruik het, was die idee van “predictiveness”.

Dit
is ‘n meetinstrument wat in verbruikersnavorsing gebruik word om vas te
stel: “the degree to which we can predict whether or not someone is
likely to behave in a certain way or to try a new product.”  ‘n Hoë
korrelasie tussen houdings en gedrag is “predictiveness”, waaruit
segmente (groepe mense met gemeenskaplike eienskappe) geëkstrapoleer
kan word.  

Met hierdie voorspelbare segmente as lens, kan
dan gekyk word na wat mense van hulle gemeente verwag en wat hulle
nodig het om geestelik te groei.
Willow se hoop was dat hulle
daardeur geleenthede kan identifiseer vir nuwe gemeentelike inisiatiewe
en bedieningsaktiwiteite wat ontwerp kan word om te dien as
katalisators van groei op die geestelike reis.

Die leidende vraag was die vraag van God aan Adam: “Waar is jy?”

Die
vraag is gebruik as lens om hulle “working definition of spiritual
growth” te meet: “An increasing love for God and for other people”
geformuleer uit Jesus se samevatting van die wet in Matteus 22:37-39.

Hiermee
wou hulle verder beweeg as om groei net aan getalle te meet, bv. groei
in erediens bywoning of inskakeling by ‘n kleingroep.  Hulle wou die
hart van hulle mense beter verstaan en ‘n manier kry om dít te meet.

Drie hipoteses het hulle navorsing gestruktureer:

  1. Daar is ‘n stygende baan van geestelike groei wat verbind is aan kerklike aktiwiteite.
  2. Die mees effektiewe evangelisasie instrument is ‘n geestelike gesprek.
  3. Geestelike verhoudings is ‘n kern drywer van geestelike groei.

Dit was ‘n omvattende navorsingsprojek oor ‘n tydperk van 3 jaar, wat die volgende ingesluit het:

  • 6000 vraelyste deur Willow Creek erediens bywoners in 2004.
  • 300 vraelyste deur mense wat Willow Creek in 2004 verlaat het.
  • 5000 vraelyste deur Willow Creek erediens bywoners sowel as 6 ander (divers saamgestelde) gemeentes in die VSA in 2007.
  • 120 in-diepte individuele onderhoude oor mense se geestelike lewe (2004 en 2007).
  • Skrifstudie en meer as ‘n 100 boeke en artikels oor geestelike vorming en menslike ontwikkeling.
  • Konsultasie met eksperte in die area van geestelike groei.

 

RESULTATE

WAT HULLE NIE GEVIND HET NIE

  1. Gender speel nie ‘n betekenisvolle rol in geestelike groei nie.
  2. Ouderdom speel nie ‘n betekenisvolle rol in geestelike groei nie.
  3. Die patrone van geestelike groei verskil nie betekenisvol tussen gemeentes nie.

SES BEVINDINGS

  1. Betrokkenheid
    in gemeentelike aktiwiteite voorspel of bepaal nie langtermyn
    geestelike groei nie.  Maar daar is ‘n geestelike ontwikkelingspad
    (spiritual continuum) wat baie voorspelbaar en kragtig is – ‘n
    groeiende verhouding met Jesus Christus.
  2. Geestelike groei het
    alles te make met ‘n groeiende nabye verhouding met Christus.  Die
    navorsing suggereer dat dié groei deur twee dinge bevorder word: 1) die
    gemeente en 2) persoonlike geestelike praktyke
  3. Die gemeente is
    die belangrikste in die vroeë stadia van geestelike groei.  Daarna
    skuif die rol van die gemeente van ‘n primêre invloed na ‘n sekondêre
    invloed.
  4. Persoonlike geestelike praktyke is die boublokke van
    ‘n Christus-gesentreerde lewe.  Gelowiges het God nodig en soos
    gelowiges geestelik groei neem die invloed van die gemeente af, en lei
    dit Willow tot die gevolgtrekking dat mense nie nodig het om
    gepamperlang te word in die latere stadiums van geestelike groei nie.
  5. Die
    gemeentes se mees aktiewe evangeliste, vrywilligers en donateurs kom
    van die meer gevorderde geestelike segmente.  Dit is een van die
    belangrikste bevindings, want dit deurbreek die aanname dat evangeliese
    ywer die hoogste is in die eerste fase van iemand se geloofsreis.
  6. Meer
    as 25% van die deelnemers aan die ondersoek het hulleself beskryf as
    gestagneer of ontevrede met die rol van die gemeente in hulle
    geestelike groei.

REFLEKSIE OOR HIPOTESES

Willow se drie hipoteses is as volg deur die resultate verander:

  1. Daar
    is ‘n stygende baan van geestelike groei wat nie verbind is aan
    gemeentelike aktiwiteite nie, maar aan ‘n persoon se verhouding met
    Jesus Christus.
  2. Die mees effektiewe evangelisasie instrument is om Christus-gesentreerde mense te motiveer.
  3. Geestelike verhoudings is ‘n kern drywer van geestelike groei net in die vroeë stadia van geestelike groei.

(Lees die volledige opsomming hier)

Psalm 119:31-40 Son 7 Sep 08

Kindertyd

Wie van julle hou nie daarvan as iemand vir julle voorsê wat om te doen nie?  Baie mense hou nie daarvan nie.  Ons hond hou ook nie daarvan nie.  Mense hou soms ook nie daarvan dat die Here vir hulle sê wat hulle moet doen nie.  Dink maar aan Adam en Eva.

Ek weet ek moet op sommige plekke stadig ry, wat ek nie altyd doen nie.  Dan word ek beboet.  Is die padtekens daar om ons te beskerm of sommer net om die lewe moeilik te maak?  Natuurlik is dit daar om ons te beskerm.
Net so is God se reëls ook nie daar om die lewe moeilik te maak nie, maar om ons te beskerm.  God se reëls is daar om vir ons ’n beter lewe te verseker. 

Woordverkondiging

In ons huis is daar baie resepteboeke.  Min van die resepte word (ongelukkig) geregte wat op die tafel verskyn!  ’n Resep moet getrou gevolg word as jy ’n suksesvolle gereg wil voorberei.   Net so is ons vanoggend in Ps 119 by ’n resep vir ’n goeie lewe.  God se voorskrifte is soos die strepe op ’n teerpad wat vir ons ’n goeie en veilige reis verseker.
 
In die dag waarin ons leef is wette en reëls nie meer gewild nie.  Ons wil ons nie laat voorskryf nie.  Sandra vertel gereeld stories van kinders se optrede by die skool as daar vir hulle gesê word wat hulle mag doen en wat hulle nie mag doen nie.
 
Psalm 119 handel oor God se wil vir ons lewe, sy voorskrifte, sy wet, as iets lewends en iets aktiefs . Dit is ’n uitdrukking van God se lewegewende teenwoordigheid.  Daarom gebruik ons die foto van iemand wat van vreugde spring.  Breuggemann sê dat die wet ons vrymaak.  Omdat ons weet aan wie ons behoort, beskou ons God se wil vir ons lewe in ’n positiewe lig.  Ons weet watter rigting ons met ons lewe ingeslaan het.  Ons hoef nie telkens weer te wonder hoe ons moreel moet optree nie.  Ons weet wat ons moet doen, ons is gewoond daaraan, dit het ’n lewenswyse geword.  Ons neem nie ander mense se besittings vir onsself nie, ons verkul  nie ander in saketransaksies nie, ons vertel nie leuens nie.   Ons kan dus rustig lewe.  So ’n ingesteldheid lei ook nie noodwendig tot  ’n eentonige lewe nie.  Nee, dit maak vry!  Dit skep juis die ruimte waarbinne ons mens kan wees. 
 
Ons sou ook hier kon dink aan die voorbeeld van padverkeersreëls wat daar gestel is om ons lewe op die pad veilig te maak sodat ons heel en behoue by ons bestemming kan aankom.  Daar is ’n boekie oor die Tien Gebooie geskryf met die naam Tien stippellyne vir die pad.   As ons almal die padverkeersreëls volg – soos om ons sitplekgordels vas te maak, die regte volgafstand te handhaaf en nie onder die invloed van dwelms of alkohol te bestuur of die pad sonder om te kyk oorsteek nie – sou minder mense sterf en vermink raak. Reëls skep vryheid en geborgenheid.
 
Hier word klem gelê op die belangrike gedagte van die nou verband tussen wet en evangelie.  As  ons die wet sien as deel van God se genade, dan word die wet deel van die goeie nuus van die evangelie.  Baie belangrik is ook die gedagte van Bonhoeffer dat die Tien Gebooie waak oor kosbare genade en die kerk beskerm teen goedkoop genade.
 

Continue reading

Matt 16:21-28 – Son 31 Aug 08

 

Dink aan wat God wil hê

 

Dit gebeur ontstellend maklik.  En dit gebeur as ons dink aan wat mense wil hê en nie aan wat God wil hê nie.  In die taal van die OAV:  die dinge van mense bedink en nie die dinge van God bedink nie.

Jesus help ons hier om te verstaan wanneer en hoekom goed verkeerd loop.  Ons word ‘n probleem en ‘n verleentheid vir die Here,  ‘n struikelblok, wanneer ons nie God se dinge bedink en eerste sy wil soek nie,  maar die dinge van mense bedink en dink wat mense wil hê, wat ons self graag wil hê, en dít najaag.  

Ons almal weet hoe maklik dit kan gebeur.  Ons wil Christene wees, maak erns daarmee, maar dis moeilik om te skei tussen ons wil en God se wil.  Ons het God lief, maar het die wêreld en al sy verleidings ook nog lief.  En soms is dit moeilik om te sien wanneer die dinge van God anders is as die dinge van mense.

Petrus hoor dat Jesus gaan ly. Dit klink nie vir hom reg nie, nie logies nie.  Petrus het beslis nie gedink dat hy praat van wat mense wil hê nie! En tog…  hy het niie gesoek na wat God wil hê nie!

Die dinge waaroor ons dink en droom, waaraan ons ons lewens wy, ons tyd spandeer, waarvoor ons werk en wat ons begeer,  dít wat ons dink moet gebeur, is nie altyd die dinge van God nie, maar dikwels die dinge van mense.  Dit is selfs soms waar van die kerk.  Soms begin ons dink aan die kerk as ‘n klub wat in my behoeftes moet voorsien.  Die kerk word ‘n produk wat ons verbruik, dikwels sonder om eers te vra wat God wil hê.

Augustinus help ons om ons denkfout hier te verstaan:  hy maak ‘n onderskeid tussen “gebruik” en “geniet”.  Hy sê:  Die Here se gedagte was dat ons die dinge van die wêreld sal gebruik om die Here en sy goedheid te geniet.  Ons draai dit om en gebruik die Here en sy goedheid om die dinge van die wêreld te kry en te geniet.

Sien, die pad in navolging van Jesus is ‘n pad waarop die Here ons aanmekaar na dieper vlakke van gehoorsaamheid lei.  Om op die uitkyk te wees hiervoor en leerbaar te wees, is ‘n baie groot deel van dissipelskap.  Kierkegaard het ‘n onderskeid gemaak tussen bewonderaars van Jesus, leerlinge van Jesus en dissipels van Jesus.
Waartoe Jesus ons roep, is dissipelskap – om God se wil te soek,
om Jesus te volg.

Lyding?

Die groot probleem is dat ons verkeerd dink oor lyding.  Dis natuurlik ook Petrus se probleem in hierdie teks:  hy verstaan nie dat die Messias moet ly nie en probeer hard om Jesus te keer.  Uit Jesus se nog heftiger reaksie is dit duidelik dat lyding nie iets is waaroor daar enige opsies sal wees nie.  Lyding is eenvoudig deel van die lewe – en deel van die verlossingsplan.

Onthou, dit gaan hier oor Jesus se lyding.  Dit was nie bloot toevallinge lyding, of omdat Jesus ‘n tragiese held wou wees.  Ons weet dat Jesus se lyding te doen het met mense se lyding en ons verlossing uit die lyding.  Hier, in Jesus se lyding, kan ons die hart van God sien.  Ons God kan nie verbystap by nood, seerkry, ellende en wanhoop nie.  Hy kan nie wegkyk wanneer mense swaarkry nie. Hy moet gaan help – al kos dit hom ook pyn en lyding en die dood.

En dit is wanneer ons hierdie hart van God sien, wat ons ook sien waaroor die lewe gaan.  Ons dink die lewe is veronderstel om gelukkig te wees.  As daar lyding en broosheid en sukkel is, moet ons net uithou,dit sal verby gaan.  Want sien, dink ons, lyding en broosheid is eintlik ‘n fout – daarom wil Petrus nie dat Jesus aan die kruis sterf nie.

Maar die lewe gaan nie oor plesier of prestasies of sukses of geld nie.  Die groot vraag is of ons kan omgee vir mense in nood soos wat Jesus dit gedoen het. As ons dit nie kan doen nie, verstaan ons nie alleen min van die lewe nie, maar ook min van Jesus en van dissipelskap.  Dit is presies ons huiwering  en vrees vir lyding wat maak dat ons soms in die pad van die evangelie kom.

Ons wil ‘n lekker goeie gemaklike lewe hê en is nie lus vir sukkel nie.  Iemand praat van westerlinge se onvermoë om swaar te kry. Vir baie van ons is die vermyding van lyding dié belangrikste motiveerder van ons lewens. Baie van ons dink dat dit ons reg is om nie hoef swaar te kry nie.

Dissipelskap

Maar dan, wanneer Jesus gepraat het oor sy lyding en dít wat God wil hê, praat hy oor die wese van dissipelskap, oor wat dit beteken om hom te volg: As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en my volg.  

Dis belangrik om te onthou dat dit nie gaan om selfverloëning en kruis dra as sodanig nie, ssof daar waarde in sig self is, maar om selfverloëning en kruis dra as volgelinge van en ter wille van Jesus.  As Jesus se lyding nie maar blote masochisme was nie, maar te doen het met die lyding van mense, dan is dit ook waar van ons selfverloëning en kruis dra.  Dit gaan nie hier om irrasionele eise aan mense wat bloot ons gehoorsaamheid en offervaardigheid toets nie, maar onder hierdie woorde van Jesus sit altyd die vraag na hoeveel ons omgee vir ander.

Die vraag is nie net of ons Jesus sal navolg nie, maar of ons soos hy sal omgee en help tot op die punt waar ons seerkry en gevra word om ons eie gemak op te gee, om onsself te verloën.  Die selfverloëning waarom dit hier gaan, beteken juis om jou tyd, gemak, middele, talente en gemoedsrus op te offer, diensbaar te maak aan ander in hulle nood.  

Waaroor dit hier gaan, natuurlik, is steeds Jesus. Dissipelskap is die vraag of ons net in Jesus glo en of ons hom volg ook?  Bonheoffer (wat letterlik gesterf het in navolging van Jesus) stel dit ontstellend sterk: “Ons het saamgedrom soos aasvoëls rondom die karkas van goedkoop genade, en daar het ons van die gif gedrink wat die lewe in navolging van Jesus doodgemaak het.”  

Dissipelskap gaan daaroor om te dink wat God wil hê, om hom nommer een in jou lewe te maak, bo jouself en jou eie behoeftes en begeertes en hóm dan te volg.

Frederick Marais vertel van ‘n gedig van Gabriel Setiloane – ‘n teoloog van Zimbabwe:

I am an African

And yet for us it is when he is on the cross
This Jesus of Nazareth, with holed hands and open side,
Like a beast at a sacrifice:
When he is stripped, naked like us,
Browned and sweating water and blood in the heat of the sun,
Yet silent,

That we cannot resist him

Om dan in navolging van Jesus uit te reik na dié in nood.  Dan reik ons uit, doen barmhartigheidwerk, uit ware geloof, in navolging van Christus.  
Nie as angstige soeke na erkenning of roem nie, nie as ‘n manier om ander afhanklik te hou of om die sinvolheid van ons eie bestaan te bevestig nie, nie uit jammerte of selfs uit eie liefde nie, maar uit die liefde van Christus, in navolging van hom.

Lewe!

 

Maar hierdie perikoop eindig nie net met die oproep om jou kruis op te neem en te sterwe nie.  Dit eindig met die belofte van lewe.  Want hierdie oproep tot dissipelskap, selfs tot kruis opneem, is nie ‘n sware las waaroor ons moet moedeloos raak nie.  Dit is deel van die evangelie.  Vers 24 moet altyd saam verse 25-26 gelees word.  Jesus spel die vreemde reëls van die koninkryk uit: Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe om Christus ontwil verloor, sal dit terugkry, sal werklik lewe.  

Wat die Here wil, is nie noodwendig altyd dieselfde as wat mense wil nie.  Lewe in navolging van Christus lyk nie altyd soos ons gedink het die lewe veronderstel was om te lyk nie, maar die lewe in navolging van Christus is werklik, ware LEWE.

Dit laat ‘n mens dink aan die saligsprekinge, waar die aanspraak van die  koninkryk telkens presies die teenoorgestelde is van die waardes waarin die wêreld glo en wat vir mense logies lyk.  Die wil van God is eintlik kontra-intuïtief.  Dis hoe die koninkryk werk!

Deel van die “lewe”, lê in die belofte dat Jesus by ons teenwoordig is.  Dissipelskap beteken om nie alleen te loop, alleen swaar te dra aan ‘n kruis nie. Jesus het reeds die kruis gedra.  Dissipelskap beteken om agter hom aan te loop, so naby aan hom as wat ons kan bly, om sáám met hom te loop.  Dit beteken dat ons kan rus in die wete dat hy ons nie sal stuur na plekke waar hy nie is of nie eerste sal ingaan nie.

As dit beteken dat ons soms deur water of deur vuur of deur dale van doodskaduwee moet gaan, dan kan ons altyd weet – die Here is saam met ons en DIT is lewe.
Amen

Terugvoer Barhmartigheid – Gemeenskapsaksies

(Gebaseer op gedagtes van CW Burger)

Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08

KINDERTYD

Weet julle wie is die president van Amerika?

  • Nou sy pa, George Bush snr, het eenmaal, toe hyself president van die VSA was, ’n ouetehuis besoek. 

Weet julle wat ’n ouetehuis is?

  • En daar het vriendelik met ‘n ou oom begin gesels en vir hom gevra:  “Weet jy wie ek is?” 
  • Die ou oom het nie geweet nie en geantwoord:  “Nee, maar gaan na die ontvangs toe, want as ons vergeet, vertel hulle vir ons wie ons is!”

Maar jongmense het ook dié probleem!

  • Ek onthou ‘n dogtertjie wat toe sy een keer in ‘n kring om my staan, haarself aan my moes voorstel, en toe gesê het: “Wie is ek nou weer?!”

Kom ek vra vir julle: “Wie is jy?” 

  • En “Nou wie is  …….. ?”
  • En “Wie is ………. ?”

Ons almal weet min of meer vanwaar af ons kom.  Jy ken jou ma en jy ken jou pa en jy ken jou ouma en oupa en ooms en tannies en neefs en niggies en sommer nog ’n hele spul ander mense ook.  Dit help ons verstaan wie ons is.

In die Bybel het Jesus dieselfde vraag gevra: “Weet julle wie is Ek?”

  • Wat dink julle het hulle geantwoord?
  • Wat sou julle antwoord?

Petrus het die ‘regte’ antwoord gehad; hy kon sê wie se Seun Jesus is.

En wie se Seun is Jesus?

God s’n!

En omdat Hy God se seun is, kan ons op Hom vertrou. Ons ken Hom.  Hy is God se Seun!

Daarom kan Hy ons gebede verhoor, Hy vergewe ons sonde, Hy help ons wanneer ons sukkel, Hy troos ons wanneer ons hartseer is.

Dis darem maar goed ons weet Hy is God se Seun, nê!

SKRIFLESING

Die hart van ons Gereformeerde Identiteit het te make met vier frases:

  • Net genade             Ef 2:8-10/ Rom 3:23-24
  • Net geloof               Rom 1:17/ Rom 5:1
  • Net Christus            Rom 5:8/ Rom 6:8 en 23
  • Net die Skrifte         Ps 1:1-3/ 2 Tim 3:16; 4: 2-3

En dit is nie asof dit ‘n optelsom is nie – jy sien die genade in Christus, en sonder geloof maak die Skrifte nie sin nie – dit is ‘n beskrywing van ‘n geheel.
Ons fokus vandag op Jesus en wie Hy is, want dit is wat die teks op die tafel sit, maar ons is telkens besig met die hele geheel – die kern van ‘n Gereformeerde kyk na wat Christelik is.

Opbou en agtergrond

Hoewel hierdie gedeelte ten nouste met die voorafgaande gedeelte oor die suurdeeg en sy invloed saamhang, onderstreep die begin van dié gedeelte van toe af (wat ook in 4:17 voorkom) dat hier ’n nuwe fase in Matteus begin waarin besondere klem op Jesus se lyding en sterwe val.  Die gedeelte self bestaan uit drie dele:

  1. die vraag aan die dissipels oor sy identiteit deur Jesus, met ’n rits antwoorde met Petrus s’n as hoogtepunt (vers 13–16);
  2. die uitsonderings posisie van Petrus (vers 17–19) en
  3. die opdrag aan die dissipels om oor Jesus se identiteit te swyg (vers 20).

Kom ons lees Matteus 16:13-20

WOORDVERKONDIGING

“Wie is ek?”

In vers 13 vra Jesus wie die mense dink die Seun van die mens is. 

Word on the street vertaal:”13 What’s the gossip? What are people saying about Me? They worked it out yet?”

Dis ’n ongelooflike gelaaide vraag.

Nou vir die ingeligte hoorder, sou die titel al klokkies laat lui het.  Hulle sou onthou het van die geheimsinnige man wat Daniël (7:13) in sy nagtelike visioen gesien het.  Dié verwysing het immers ’n uiters belangrike rol in die Jode se Messias verwagting gespeel.  Só, hulle sou die afleiding kon maak, dat Jesus eintlik na Homself as Messias verwys.

En dit is nie asof Jesus die term net een keer in ‘n gesprek oor Homself gebruik het nie.  Dit kom in al vier evangelies voor, dat Jesus só na Homself verwys (Matt 8:20, 9:6, 11 en 19; Mark 2:10; Luk 7:34; 9:58; Joh 9:35-37).  En niemand anders gebruik die term nie, net Hy. 

Maar die antwoorde wat die mense vir die dissipels gee, wys dat die mense nie verstaan het wie Jesus is nie.  Uit die uiteenlopende antwoorde lyk dit asof almal op een of ander manier dink dat Jesus ’n profeet was (vers 14): Johannes die Doper, Elia, Jeremia (net Matteus vermeld die feit).  Maar die kloutjie kon hulle nie by die oor kry nie.

Maar julle, wie sê julle is Ek?

En dan kom die belydenis van Simon, wat sy voorloper al in hfst. 14 gehad het toe Simon op die see saam met Jesus geloop het, en hy en die ander dissipels voor Jesus gekniel het en as die Seun van God aanbid het. 

U is die Christus, d.w.s. die gesalfde, die een wat God as Messias gesalf het (Christus is immers die Griekse vorm van die Hebreeuse woord Messias), die Seun van die lewende God.

En met vreugde verklaar Jesus dan vir Simon as gelukkig, geseënd.  Interessant dat Hy Simon as die Seun van Jona, Simon Barjona (bar is die Aramese woord “seun [van]”)  aanspreek en dan sy naam verander na Simon Petrus toe. 

Jy is Petrus, rots, en op dié rots sal Ek my kerk bou, ‘n ongelooflike belofte (vers 18)! 

Die gesag om die kerk te onderrig, die sleutels van die hemel, word ook aan hom gegee (vers 19). 

Nou daar is ’n groot verskil in hoe Katolieke en Gereformeerdes die teks verstaan. 

  • Vir eersgenoemde gaan dit om die vestiging van ’n amp – dié van die pous, ‘n individu as ‘n rots, wat hiërargiese volmag het in alles van die kerk. 
  • Vir laasgenoemde gaan dit oor die rol van die kerk – as geloofsgemeenskap, ‘n gemeenskap wat op die rots van Petrus se belydenis gebou is, in wie Christus die volmag het. 

Interessante vertaling in Word on the Street werp miskien ‘n ander lig op die betekenis van dié gedeelte: “I’ll tell you the security codes of heaven: if you block something down here, heaven will make sure it stays blocked, if you give something the green light down here, heaven will make sure it goes through.”  Dit klop met die betekenis in Matteus 18:18-19 waar ook oor dié sleutelmag gepraat word, en die uitoefening daarvan verbind word aan die saamstemmende gebed van die gemeenskap van gelowiges.

Wat ‘n mens onmiddellik anders laat dink oor die belangrikheid van gebed!  Dit is die kodes wat die hemel oop- en toesluit – en ons het dié mag gekry, om in afhanklikheid van ons Messias, die een wat mense kinders van God wil maak, te gebruik.

Maar dan kom ons by die gedagte wat my die meeste getref het.  “Op hierdie rots sal Ek my kerk bou en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (vers 18).  Doderyk of Hades staan hier vir die plek waar die ongelowiges gebêre word vir die oordeel, ‘n uiters ongemaklike plek, wat sommer in later gebruik van die woord, as die hel bekend geword het, hoewel tegnies die hel eers aan die einde van die tyd regtig in spel sal kom, as ‘n mens Openbaring in gedagte hou.
Maar belangrik.  Dit is nie Petrus wat bou nie.  Dit is Jesus Christus wat bou. 

Dit is nie Petrus of sy dissipel-vriende of enige ander Christen daarna wat die voortgang van die kerk verseker nie.  Dit is Jesus Christus wat die bose magte sal teëstaan sodat die kerk nie oorweldig word nie.

Matteus sluit die gedeelte af met die bevel van Jesus in vers 20 dat hulle dié insig in wie Jesus werklik is, nie verder met buitestaanders moet deel nie.  Sonder die kruisdood en opstanding van Jesus, sou sy Messiasskap immers nie sin maak nie. Geen wonder dat Matteus met smaak aan die einde van die evangelie dié kleed van geheimsinnigheid  afgooi en in die woorde van Jesus self sê dat dié boodskap van die Messias die hele wêreld in verkondig moet word (28:19) – die bekende Groot Opdrag.

TOEPASSING

Ek wil na hierdie Skrifuitleg twee dimensies hiervan uitlig.

1.  Jou eie identiteit in Christus

Jesus begin hier met ’n algemene vraag aan die dissipels:  “Wie sê die mense is Ek?”

En as hulle vir Hom ’n paar antwoorde gee, dan maak hy dit persoonlik: “Wie sê julle is Ek?”

Dis die vraag wat elke mens deur die eeue moet antwoord … Wie is Jesus vir jou?

Ek het onlangs die boek van Francis Collins gelees, The Language of God, waarin hy as wetenskaplike oor geloof gesels.  Hy is die vader van die menslike genoom projek en het die Nobelprys daarvoor gekry.

Hy begin sy volwasse lewe as ‘n ateïs, iemand wat nie in ‘n God glo nie.  Maar dan ontmoet hy ‘n vrou in die hospitaal wat besig is om dood te gaan, en dié vra hom wat hy regtig glo.  En met ‘n skok besef hy dat hy eintlik sy hele lewe die vraag na God ontwyk het.  En dat Hy nie langer dít sou kon doen nie.   Hy sou moes ‘n antwoord gee op die vraag, in terme van die teks, wie is Jesus vir jou?

En dan met die lees van ‘n paar boeke, veral CS Lewis se boeke, raak hy oortuig van die bestaan van ‘n universele morele wet wat nie uit natuurlike ontwikkeling verklaar kan word nie.  En wat hom spesifiek aanspreek, is dat mense altruïsties kan optree, d.w.s. lief kan hê sonder om iets terug te verwag (wat die Bybel as agape liefde beskryf).  En omdat hy dié tipe liefde nie uit natuurlike ontwikkeling kan verklaar nie, kon hy eenvoudig nie God se bestaan langer ontken nie.  En Jesus raak vir Hom die Seun van God, die Messias, die Christus.

Ek weet ek praat met mense wat die evangelie ken – maar die vraag bly steeds – wie is Jesus vir jou?  Dit bly die belangrikste vraag, een wat ‘n mens nie kan ontwyk nie, en een wat jou lewe hier en nou bepaal.

2.  Ons identiteit in Christus

As ons seker is van ons identiteit in Christus, dan is die tweede vraag wie is die kerk, dié kerk wat Jesus bou en waarvan Hy sê, die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie?

Nou, ek is nie onbewus daarvan dat die antwoord op die vraag baie diep deur ons konteks bepaal word.

Dié week het bv. die kerkherenigingsbootjie ‘n rowwe see binnegevaar.  U het seker kennis geneem daarvan dat die VGK die NGK se afskeid van apartheid ernstig bevraagteken het, en nie ons aansoek om deel van ‘n Afrika Konferensie van Kerke te word, goed te keur nie. En dit plaas die hele gesprek tussen ons in gevaar.
En die ontstellende is dat ons eie kontekse ons perspektiewe daarop so indringend bepaal.

  • Vir die NGK was dit ‘n skok, só onverwags.  Die VGK het weer teruggekrabbel na hulle hantering van die belydenis van Belhar as ‘n uitsluitende voorwaarde vir gesprekvoering en nié ‘n insluitende voorneme om dit deel van die belydenisgrondslag van die herenigde kerk te maak.  En die beskuldiging van apartheid en rassisme word weer voor ons deur gegooi.  Ons voel seergemaak en verraai.
  • Maar ek kan dink dat die VGK se terugkrabbelry ook kom uit ‘n ervaring van pyn, spesifiek onverwerkte pyn uit die verlede: die pyn van menswaardigheid wat aangetas is, die pyn van gedwonge verskuiwings, die pyn van verbrokkelde gesinne en afwesige pa’s, die pyn van die verlies van geliefdes op ‘n verskeidenheid van maniere, wat natuurlik aan albei kante van die spektrum van ons verlede plaasgevind het.

En dít maak dit so moeilik om in dieselfde gespreksruimte te bly:

  • as die NGK se mense sê, ons gaan nie almal die belydenis van Belhar aanvaar nie, dan hoor die VGK dit in hulle pyn … dat ons húlle nie aanvaar nie, en nié erken dat hulle pyn gely het in die verlede nie. 
  • En ons hoor weer in hulle voorwaardes, dat hulle ons nie aanvaar nie, ten spyte van ons verskeie belydenisse van die verlede en die nuwe oortuiging waarmee ons die pad van hereniging stap.

En die probleem is, ons gesukkel om mekaar te vind, laat die kerk in die breë skade ly, en ten diepste, laat die boodskap van Christus skade ly.

Die tyd het miskien gekom dat ons nog dieper die pyn van die verlede in die oë staar en iets daaraan probeer doen. 

Ons identiteit sal nooit nét in ons eie geledere uitgeklaar kan word nie.  Ons is verbind aan mekaar met drie eeue se saam-Christen-wees.  Vir die eerste 200 jaar was hier net een kerk, was ons saam, en kan ons nooit heel wees sonder dat ons by mekaar op een of ander manier is nie.

Miskien gee die teks vir ons ‘n weg vorentoe, want dit is interessant dat die gesprek tussen Jesus en Simon Petrus na beide kante toe ‘n bevestigende gesprek is.  Simon Petrus bevestig Jesus se identiteit, U is die Christus, en so ook Jesus die identiteit van Simon Petrus, jy is die seun van Jona, en ek gee ook vir jou nou ‘n nuwe identiteit, dié van ‘n rots, Petrus.

Die gemeente en die proses van kerkhereniging behoort juis ‘n veilige plek te wees waar ons mekaar bevestig en nie verder beskaam nie! En hoe nodig het ons nie dat die Here vir ons ‘n pad vorentoe wys, op ‘n wedersydse bevestigende manier. 

Ten minste is ek oortuig dat die Here sê dat ons mekaar nie mag los nie!

  • Selfs wanneer jy hoog opgee oor ‘n spesifieke greep op die waarheid, soos wat belydenisskrifte per se is, ‘n greep op die waarheid, jy die ander een nie mag los nie! Dit het ek geleer by Brenda Salter McNeil se A Credible Witness – Reflections on power, evangelism and race. (2008, Downers Grove: IVP). Sy maak die volgende stellings oor eenheid:
  • “To choose Christ is also to choose his community.” (2008:16)
  • “Our unity in the midst of our diversity is one of the most powerful ways we reveal the reality of what Jesus accomplished on the cross.” (2008:16)
    • Ek het ‘n artikel daaroor geskryf in die vorige Kruisgewys vir mense wat meer daaroor wil lees: http://www.gemeentes.co.za/Pdf/McNeil.pdf  .  Of kom haal een in my kantoor.

Dit is wonderlik om te sien hoe die kerk in die vlaag xenofobie wat onlangs deur die land gespoel het, bakens van hoop was, wat mense in hulle nood ingesluit het en hulle oor randfigure ontferm het.

Dít is wie ons as kerk is, ‘n insluitende gemeenskap!  En ons moet dit nie vergeet nie en gebruik in die antwoord op die vraag, wie is ons?

Ek sluit af.

  • “Wie is Ek?” vra Jesus.  U is die Christus, die seun van die lewende God.
  • “Wie is ons?” as Christene.  Ons almal, saam, is kinders van die lewende God, en ons het die heilige opdrag om te sorg dat ons dit saam kan vier.

Amen.

GEBED

DANKOFFERS

SLOTSANG

  • Lied 478 “Op vaste fondamente” staan

SEËN

AMEN

  • Lied 314 “Amen” staan

AANKONDIGINGS

Matt 15:21-28 – Son 17 Aug 08

 

Dikwels is dit ook so in ons eie geloofslewe – dat ons na Jesus soek, maar nie vind nie,  nie ‘n antwoord kry nie.    Die soeke na God is dikwels ‘n worsteling.  Daar is nie ‘n vinnige, eenvoudige antwoord of uitkoms nie.  Maar ons leef in ‘n kits-samelewing: pynpille, vliegtuie, 24-uur aflewering.  Ons wil nie wag, sukkel en worstel.  Maar juis in die wag en sukkel en worstel is daar geleentheid, groei ons – groei ons geloof tot hierdie meedoënlose geloof van die Kanaänitiese vrou.  

Iemand skryf van hierdie worsteling met God, dat dit soos ‘n skilpad is: stadig, ‘n mens sien min vordering.  Dan aan einde verander dit in ‘n vierpyl en kom die uitkoms of antwoord vinnig.  Maar wanneer die skilpad-fase vir ons te lank raak, te moeilik en ons nie regtig desperaat soek nie, sommer opgee, dan laat ons die saak waaroor ons bid of worstel dikwels te vroeg gaan en mis ons die vierpyl wanneer die antwoord uiteindelik kom.

In my kantoor is daar ‘n papiertjie waarop staan “Let go and let God.”
Hierdie teks leer my egter anders kyk op daardie leuse. Laat gaan die probleem, moenie daaraan vasklou nie, maar gryp God vas.  Ons los nie heeltemal nie. Los een ding, maar hou desperaat vas aan God.  Relentless.

Geloof is nie net blote intellektuele instemming, weet dat aan God behoort nie.   Die dogtertjie wat vanoggend gedoop is, gaan groot word en weet dat sy gedoop is en daarom deel is van die verbond.  Maar geloof is ‘n desperate uitroep om hulp.

Jode en nie-Jode

Die tweede ding wat hierdie teks leer, is miskien meer uitdagend.

Jesus sê die vrou se geloof is groot.  Dit gebeur net 2 keer in die Bybel,
albei in Matteus en albei kere word dit van heidene (nie-Jode) gesê! (8:10)

En dan is daar natuurlik ook die saak van Jesus se vreemde, vir ons verstaan ongeskikte optrede teenoor die vrou.  Dis nie hoe ons vir Jesus ken, hoe hy geopenbaar is in die res van die skrif nie.  Jesus se woorde strook ook nie met se eie tradisie, soos ons dit vind in die OT, die verbond, Abraham wat ‘n seën sal wees vir die nasies.

Konteks

Kyk gou eers saam my waar vanoggend se teks in Matteus is:  Matt 14 – vermeerdering van brood, 12 mandjies oorbly.  Dan Matt 15 gesprek oor oorgelewerde gebruike, rein / onrein.  Hierna  volg die verhaal van die Kanaänitiese vrou, genesings, nog vermeerdering van brood – 7 mandjies brood bly oor.

Die eerste ding wat dadelik opval:  daar’s duidelik genoeg brood!

Gelykenis opgevoer

So hoe moet ons Jesus se optrede in die teks verstaan?  Jesus se vreemde optrede het my laat terugdink aan (wat vir die dissipels) Jesus se vreemde woorde was – gelykenisse.  Wat Jesus hier doen, is om ‘n gelykenis op te voer.

Hy het nou net vir die dissipels vertel wat maak mens rein en onrein.  Dit was ‘n sleutel gesprek, aangesien die Jode se kultuur ‘n reinheidskultuur was.  Rein / onrein was baie belangrik. Reinheid / onreinheid het natuurlik gegaan oor plek:  elke ding op regte plek, dan is dit rein.  Wanneer iets uit plek is, is dit onrein.  Hierdie gesprek sou vir die dissipels absoluut aardskuddend wees.

En dan maak hierdie vrou haar verskyning.  Sy loop agter hulle aan en roep – sy, ‘n vrou, ‘n nie-Jood.  Hulle moes eintlik glad nie met haar praat of assosieer nie. Die blote assosiasie maak hulle onrein!

Jesus ignoreer haar. Die dissipels raak ongemaklik.  Hierdie gebeure is redelik publiek, almal kan die vrou se geskree hoor.  Wat gaan die mense dink?  Hulle het darem ook ‘n reputasie om in ag te neem.  Daarom vra hulle vir Jesus om haar weg te stuur.  Interessant, Jesus stuur haar nie weg nie!  Hy antwoord bloot deur te bevestig wat die dissipels elk geval dink hulle weet:  dat hy gekom het vir die verlore skape van Israel.  Wat natuurlik des te meer rede is om haar weg te stuur!

Maar die vrou kniel voor Jesus en in plaas daarvan om haar weg te stuur, tree Jesus in gesprek met die vrou!

Kanaäniet

Dis interessant om te sien wat hier gebeur:  Matteus, wat aanvaar word as die mees Joodse evangelie,  noem hierdie vrou ‘n Kanaäniet.  Markus noem haar Siro-Fenisies.  (Onthou jy wie se land Israel ingeneem het na hulle bevry is uit Egipte?)  Kanaäniete word nêrens anders in die NT genoem nie. En vir alle praktiese doeleindes het die Kanaäniete nie eers meer bestaan nie!

Deut 7:  1  “Die Here jou God sal jou bring in die land waarheen jy op pad is en wat jy in besit sal neem. Hy sal baie nasies voor jou uit verdryf:
Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Wanneer die Here jou God hierdie sewe nasies wat groter en sterker is as jy,2  in jou mag oorgee en jy hulle verslaan, moet jy hulle om die lewe bring as banoffer aan die Here jou God. Jy mag hulle nie jammer kry en ‘n verbond met hulle sluit nie. 3  Jy mag nie met hulle ondertrou nie: jou dogter mag jy nie aan een van hulle seuns gee nie en vir jou seun mag jy nie een van hulle dogters as vrou vat nie, 4  want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen jou ontvlam en Hy sal jou gou uitdelg.

In verskeie plekke in die OT word hierdie vernietiging dan ook beskryf.

So die term “Kanaänities” is nie geografies, maar word doelbewus gebruik vir die stereotipes wat dit oproep – vyand, onrein.  Dit beskryf hierdie vrou as die ergste soort buitestander, die vyand wat God gesê het uitgewis moet word.  Sy is nie bloot ‘n heiden nie, sy verteenwoordig die mense wat God en Israel se vyande is.

Dis interessant dat Matteus so ‘n effense pre-okkupasie het met nie-Jode, selfs Kanaäniete. Dink maar aan Jesus se stamboom aan die begin van die boek:  daar is vier vroue, drie van hulle nie-Jode, twee van hulle waarskynlik Kanaäniete!  In die hele Matteus is die rol wat nie-Jode speel interessant, bv. die wyse manne uit die ooste.

Jesus het gekom vir almal.

So die hele boek verkondig hierdie verwagting dat Jesus ook gekom het vir die heidene, die nie-Jode.  Maar die dissipels, natuurlik, het nog nie hierdie implikasie van Jesus se Messiasskap besef nie.  Hulle moet dit nog leer:  dat Jesus nie net gekom het vir die verlore skape van Israel nie, maar ook vir die nie-Jode, selfs die Jode se vyande!

In Jesus se interaksie met die Kanaänitiese vrou, word die dissipels hierdie waarheid geleer.  As Jesus net bloot van die begin af gesê het: “jou dogter is gesond”, sou dit waarskynlik nie so ‘n groot indruk op die dissipels gemaak het nie. Maar Jesus se optrede laat dit uitstaan,  maak mens bewus dat hier iets meer aangaan as bloot dit wat op die oppervlak sigbaar is, soos met die gelykenisse.

Hierdie gebeure vind plaas tussen twee vermeerderings van brood.  Geleerdes sê die eerste vermeerdering het ondertone van die Eksodus verhaal, die manna in woestyn.  Die 12 mandjies verteenwoordig die 12 stamme van Israel.  

Kort na die gesprek met die Kanaänitiese vrou, word daar kos gegee vir 4000. Hierdie tweede vermeerdering van brood vind plaas in Galilea, wat in Matt 4:15 beskryf word as “Galilea van die heidene”.  Hierdie keer bly daar 7 mandjies brood oor, wat hierdie keer die heidene verteenwoordig (sien 7 in Deut. 7).

So wat die verhaal van die vrou en die tweede vermeerdering van brood erkondig, is die seën nie net vir die Jode nie, maar vir al die nasies.

Aan die einde van Matteus is dit ‘n Romeinse offisier wat bely dat Jesus die Here is.  En die Evangelie eindig met die opdrag, in Matt 28:19, om na al die nasies te gaan.

Na wie toe gestuur?

Wat hierdie teks dan vandag op ons tafel sit, is nie net geloof nie, maar ook ons eie vooroordele.  Ons is soms net so blind soos die dissipels in hierdie teks, trek ook lyne vir wie genade bedoel is en wie nie; wie welkom is in die tempel en wie nie.

Die dissipels het waarskynlik teenoor die Kanaänitiese vrou gevoel soos wat ons voel oor die bedelaar by die robot wat teen ons motor se venster leun – of by ons voordeur.  Die een wat deur drank en koue verwoes is.  Ons sien nie meer hul nood raak nie, daar is geen barmhartigheid meer teenoor hulle nie – geen genade nie –  ons is net siek en sat vir hulle. “Here, sy is ‘n verleentheid, stuur haar weg.”

Ons almal het vooroordele.  Die vraag is wat maak ons met ons vooroordele.  Gebruik ons dit om mense uit te hou, te dink ons gemeente is net vir sekere mense bedoel?  Of sien ons dit vir wat dit is en laat toe dat Jesus ons leer dat sy genade vir ALMAL bedoel is.  Ook vir die wat anders is as ons. Ook vir ons vyande. Ook – dalk veral? – vir die wat ons ongemaklik maak.  Selfs vir die Nigeriërs in Sentraal, die Moslems in die Midde-Ooste.

Ek dink nie dis toevallig dat ons aan die begin van jaar gereël het dat ons vandag terugvoer kry oor die gemeente se barmhartigheidsbedieninge nie.  Of dat xx hier is nie.  Wanneer ons oorvloed van brood aan tafel by Jesus kry, dan stuur hy ons ook om die brood te gaan deel.  Dit is nie net vir onsself nie, maar ook vir die mense in Midde-Ooste, ook vir die bosslapers, weeskinders,  mense in Kwazakhele of Malabar of waar ook al.

Jesus is altyd besig om grense af te breek, om die mense wat ons wil uit hou, in te nooi.  Dit is ook ons opdrag, om verby onsself te kyk, verby dit wat ons van nature raaksien,  verby die heinings wat ons gebou het, sodat Jes 56 (votum) ook van ons waar sal wees, wanneer die Here sê
Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê, en om my dienaars te wees, almal wat my sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie, en wat lewe volgens my verbond, 7  na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot ‘n huis van gebed vir al die volke. 8  Die Here my God wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê: Ek sal nog ander byvoeg by dié wat reeds bymekaargemaak is.

Joh 20:19-31 – Son 3 Aug 08

Opsomming van preek deur Andrew Fransman

Hierdie gedeelte is vir ons oorbekend.  Dit handel oor Jesus se liefde vir Tomas.   

Ons almal kan met Tomas identifiseer en assosiaeer – hy is ‘n gewone ou.  Die ander dissipels is geloofsreuse.  Tomas is ‘n gewone mens wat twyfel.

Almal van ons twyfel op een of ander stadium in ons lewe.  Twyfel is iets waaroor ons moeilik praat, net met ons mees intieme vriende.  Ons steek dit weg.  In elke gemeente is daar vanoggend mense wat twyfel.  Ander se getuienis ens.   sal vir hulle wat twyfel hul geloof nog meer opskort.  Dis jammer dat ons neersien op hulle wat twyfel.

Maar twyfelaars is nie mense wat sonder geloof is nie.  Twyfel en ongeloof is nie dieselfde nie.  Dink maar aan die worsteling van Job, die hart van Jeremia:  ‘n mens kry die gevoel dat hulle twyfel, terwyl hulle diep gelowig is en die Here volg.  

Daarom moet ons nie so hart oordeel oor mense wat twyfel nie.  Tomas was ‘n gelowige wat met s geloof geworstel hy.  Hy’s ‘n eerlike mens, beoefen nie ‘n “maak of ek glo”-geloof, ‘n skyngeloof, nie.  Hy sê vir sy mede-gelowiges dat hy ‘n probleem het om soos hulle opgewonde te wees.  

So is ons ook:  ons sukkel met ons geloof, om dit wat die Here vir ons gee te aanvaar, te verstaan, deel van ons lewens te maak, die Woord te absorbeer, werklik voltyds elke dag op die pad van die geloof te wandel.

Die opgestane Jesus is vir die tweede keer by die dissipels.  Hierdie keer is Tomas by.  Jesus sê:  “…moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”  Jesus kon vir Tomas verwyt het, hom berispe.  Maar Jesus doen dit nie.  Hoekom nie?  Omdat Jesus vir Tomas liefhet, omdat Jesus Tomas se vermoë en potensiaal raaksien.  Liefde veroorsaak dat Jesus moeite doen met Tomas.  Hy praat baie persoonlik met Tomas – nie algemeen, in die bondel, nie.  Hy noem vir Tomas op die naam:  “Wees gelowig.”

Jesus se woorde klink meer na ‘n waarskuwing as ‘n verwyt.  Dit sê nie:  jy’s ongelowig!  Dit sê eerder:  pas op, jy staan op die rand van die afgrond van ongeloof.  Kom weg daarvandaan, sodat jy nie daarvan afstort nie.  

Jesus verwyt nie.  Jesus ryk in liefde uit.  Hy raak aan my, hy sê:  “voel aan my.  Vergewis jouself:  dit is ek.” Jesus nooi vir Tomas twee keer uit – kom na my toe.

Dit is die tafel se boodskap.  Jesus sê:  Kom na die tafel, jy wat sukkel in geloof, wat twyfel, wat vol vrae is.  Want daar ontvang jy die geloof, daar word geloof gebore, ontkiem die geloof.  Al die Tomasse:  kom, steek jou hande vanmôre in die (tekens) merke van Jesus. 

Jesus neem die inisiatief, neem die eerste tree na Tomas.   Ons is anders.  As iemand ons teleurstel voel ons daardie persoon moet na ons kom om te kom regmaak.  Maar Jesus reik uit na Tomas.  en so reik die Here vanmôre uit na my en na jou.

Al die ongelowiges, twyfelaars, is vanmôre welkom aan God se tafel.  Mense wat sukkel met hul geloof, is welkom aan God se tafel.  

As Jesus met Tomas so praat, breek daar ‘n nuwe dag in Tomas se lewe aan.  Hy sê:  “My Here en my God.” Sy hart, oë, lewe gaan voor God oop.  Hy ervaar sy ongeloof skakel oor in geloof.

Mag die Here ook vanmôre ons harte aanraak aan sy tafel, liefdesete, sodat hierdie ook die plek sal wees waar my ongeloof in geloof sal verander.  “Moenie langer ongelowige wees nie, maar wees gelowig.”

Dit is die boodskap van die kruis, van God se liefde.  Ons almal se tweede naam is Tomas.  Mag die Here ons almal tot ware geloof lei.