Psalm 119:31-40 Son 7 Sep 08
Kindertyd
Wie van julle hou nie daarvan as iemand vir julle voorsê wat om te doen nie? Baie mense hou nie daarvan nie. Ons hond hou ook nie daarvan nie. Mense hou soms ook nie daarvan dat die Here vir hulle sê wat hulle moet doen nie. Dink maar aan Adam en Eva.
Ek weet ek moet op sommige plekke stadig ry, wat ek nie altyd doen nie. Dan word ek beboet. Is die padtekens daar om ons te beskerm of sommer net om die lewe moeilik te maak? Natuurlik is dit daar om ons te beskerm.
Net so is God se reëls ook nie daar om die lewe moeilik te maak nie, maar om ons te beskerm. God se reëls is daar om vir ons ’n beter lewe te verseker.
Woordverkondiging
In ons huis is daar baie resepteboeke. Min van die resepte word (ongelukkig) geregte wat op die tafel verskyn! ’n Resep moet getrou gevolg word as jy ’n suksesvolle gereg wil voorberei. Net so is ons vanoggend in Ps 119 by ’n resep vir ’n goeie lewe. God se voorskrifte is soos die strepe op ’n teerpad wat vir ons ’n goeie en veilige reis verseker.
In die dag waarin ons leef is wette en reëls nie meer gewild nie. Ons wil ons nie laat voorskryf nie. Sandra vertel gereeld stories van kinders se optrede by die skool as daar vir hulle gesê word wat hulle mag doen en wat hulle nie mag doen nie.
Psalm 119 handel oor God se wil vir ons lewe, sy voorskrifte, sy wet, as iets lewends en iets aktiefs . Dit is ’n uitdrukking van God se lewegewende teenwoordigheid. Daarom gebruik ons die foto van iemand wat van vreugde spring. Breuggemann sê dat die wet ons vrymaak. Omdat ons weet aan wie ons behoort, beskou ons God se wil vir ons lewe in ’n positiewe lig. Ons weet watter rigting ons met ons lewe ingeslaan het. Ons hoef nie telkens weer te wonder hoe ons moreel moet optree nie. Ons weet wat ons moet doen, ons is gewoond daaraan, dit het ’n lewenswyse geword. Ons neem nie ander mense se besittings vir onsself nie, ons verkul nie ander in saketransaksies nie, ons vertel nie leuens nie. Ons kan dus rustig lewe. So ’n ingesteldheid lei ook nie noodwendig tot ’n eentonige lewe nie. Nee, dit maak vry! Dit skep juis die ruimte waarbinne ons mens kan wees.
Ons sou ook hier kon dink aan die voorbeeld van padverkeersreëls wat daar gestel is om ons lewe op die pad veilig te maak sodat ons heel en behoue by ons bestemming kan aankom. Daar is ’n boekie oor die Tien Gebooie geskryf met die naam Tien stippellyne vir die pad. As ons almal die padverkeersreëls volg – soos om ons sitplekgordels vas te maak, die regte volgafstand te handhaaf en nie onder die invloed van dwelms of alkohol te bestuur of die pad sonder om te kyk oorsteek nie – sou minder mense sterf en vermink raak. Reëls skep vryheid en geborgenheid.
Hier word klem gelê op die belangrike gedagte van die nou verband tussen wet en evangelie. As ons die wet sien as deel van God se genade, dan word die wet deel van die goeie nuus van die evangelie. Baie belangrik is ook die gedagte van Bonhoeffer dat die Tien Gebooie waak oor kosbare genade en die kerk beskerm teen goedkoop genade.
Ons moet onthou dat ons in hierdie tyd veral fokus op die werk van die kerk na buite. Psalm 119 herinner ons dat ons bydrae en dienswerk na buite baie moeilik gestalte sal kry as ons nie in ’n lewende verhouding met God staan wat gegrondves is in sy Woord en wet nie. Die koninkryk van God is daar waar mense Hom toelaat om oor hulle te regeer. As hierdie koninkryk nie deur die Woord en wet in my eie hart en lewe kom tent opslaan het nie, gaan ek moeilik tekens van God se koninkryk in die omgewing rondom my oprig. My dienswerk in en vir die koninkryk begin by volkome afhanklikheid van God, in gehoorsaamheid aan sy wil en openheid vir die werk van sy Gees.
In Antoine de Saint Exupéry se Die klein Prinsie kom vra die jakkals vir die prinsie: Maak my mak , asseblief. Ek het al dikwels oor hierdie woorde nagedink en dit op die christelike lewe van toepassing gemaak. Die jakkals klink al redelik makkerig as hy so ’n versoek kan rig. Net so tref dit vir my in Ps 119 dat daar telkens van die Here gevra word om sekere dinge laat gebeur, bv: leer my …, gee my …, laat my …, laat dié my na aan my hart lê …, weerhou my …, vervul ook aan my …, moenie dat dit my tref nie …, hou my in die lewe. Hierdie dinge word nie in eie krag gedoen nie, dit word in ’n verhouding met God gevra en ontvang. En soos die jakkals se versoek, bring die vra jou al baie naby aan de ontvang van dit wat jy vra. Om te weet dat jy hierdie dinge van die Here moet ontvang en dom bereid te wees om dit van Hom te vra, beteken dat jy reeds in die verhouding met Hom is waarin jy hierdie dinge kan ontvang!
Hierdie gedeelte adem die gedagte van volkome afhanklikheid van God en sluit aan by Matteus 5:3: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Ons weet almal dat gebed baie meer behels as om soos ’n kind God net vir dinge te vra: “doen dit” of “gee dit”. Hieroor sê Wilcock: A shopping-list prayer, maybe, but what shopping! These are things that only the Lord can provide, and only in His word are they to be found. He is honoured by our asking for them.