Matt 15:21-28 – Son 17 Aug 08

 

Dikwels is dit ook so in ons eie geloofslewe – dat ons na Jesus soek, maar nie vind nie,  nie ‘n antwoord kry nie.    Die soeke na God is dikwels ‘n worsteling.  Daar is nie ‘n vinnige, eenvoudige antwoord of uitkoms nie.  Maar ons leef in ‘n kits-samelewing: pynpille, vliegtuie, 24-uur aflewering.  Ons wil nie wag, sukkel en worstel.  Maar juis in die wag en sukkel en worstel is daar geleentheid, groei ons – groei ons geloof tot hierdie meedoënlose geloof van die Kanaänitiese vrou.  

Iemand skryf van hierdie worsteling met God, dat dit soos ‘n skilpad is: stadig, ‘n mens sien min vordering.  Dan aan einde verander dit in ‘n vierpyl en kom die uitkoms of antwoord vinnig.  Maar wanneer die skilpad-fase vir ons te lank raak, te moeilik en ons nie regtig desperaat soek nie, sommer opgee, dan laat ons die saak waaroor ons bid of worstel dikwels te vroeg gaan en mis ons die vierpyl wanneer die antwoord uiteindelik kom.

In my kantoor is daar ‘n papiertjie waarop staan “Let go and let God.”
Hierdie teks leer my egter anders kyk op daardie leuse. Laat gaan die probleem, moenie daaraan vasklou nie, maar gryp God vas.  Ons los nie heeltemal nie. Los een ding, maar hou desperaat vas aan God.  Relentless.

Geloof is nie net blote intellektuele instemming, weet dat aan God behoort nie.   Die dogtertjie wat vanoggend gedoop is, gaan groot word en weet dat sy gedoop is en daarom deel is van die verbond.  Maar geloof is ‘n desperate uitroep om hulp.

Jode en nie-Jode

Die tweede ding wat hierdie teks leer, is miskien meer uitdagend.

Jesus sê die vrou se geloof is groot.  Dit gebeur net 2 keer in die Bybel,
albei in Matteus en albei kere word dit van heidene (nie-Jode) gesê! (8:10)

En dan is daar natuurlik ook die saak van Jesus se vreemde, vir ons verstaan ongeskikte optrede teenoor die vrou.  Dis nie hoe ons vir Jesus ken, hoe hy geopenbaar is in die res van die skrif nie.  Jesus se woorde strook ook nie met se eie tradisie, soos ons dit vind in die OT, die verbond, Abraham wat ‘n seën sal wees vir die nasies.

Konteks

Kyk gou eers saam my waar vanoggend se teks in Matteus is:  Matt 14 – vermeerdering van brood, 12 mandjies oorbly.  Dan Matt 15 gesprek oor oorgelewerde gebruike, rein / onrein.  Hierna  volg die verhaal van die Kanaänitiese vrou, genesings, nog vermeerdering van brood – 7 mandjies brood bly oor.

Die eerste ding wat dadelik opval:  daar’s duidelik genoeg brood!

Gelykenis opgevoer

So hoe moet ons Jesus se optrede in die teks verstaan?  Jesus se vreemde optrede het my laat terugdink aan (wat vir die dissipels) Jesus se vreemde woorde was – gelykenisse.  Wat Jesus hier doen, is om ‘n gelykenis op te voer.

Hy het nou net vir die dissipels vertel wat maak mens rein en onrein.  Dit was ‘n sleutel gesprek, aangesien die Jode se kultuur ‘n reinheidskultuur was.  Rein / onrein was baie belangrik. Reinheid / onreinheid het natuurlik gegaan oor plek:  elke ding op regte plek, dan is dit rein.  Wanneer iets uit plek is, is dit onrein.  Hierdie gesprek sou vir die dissipels absoluut aardskuddend wees.

En dan maak hierdie vrou haar verskyning.  Sy loop agter hulle aan en roep – sy, ‘n vrou, ‘n nie-Jood.  Hulle moes eintlik glad nie met haar praat of assosieer nie. Die blote assosiasie maak hulle onrein!

Jesus ignoreer haar. Die dissipels raak ongemaklik.  Hierdie gebeure is redelik publiek, almal kan die vrou se geskree hoor.  Wat gaan die mense dink?  Hulle het darem ook ‘n reputasie om in ag te neem.  Daarom vra hulle vir Jesus om haar weg te stuur.  Interessant, Jesus stuur haar nie weg nie!  Hy antwoord bloot deur te bevestig wat die dissipels elk geval dink hulle weet:  dat hy gekom het vir die verlore skape van Israel.  Wat natuurlik des te meer rede is om haar weg te stuur!

Maar die vrou kniel voor Jesus en in plaas daarvan om haar weg te stuur, tree Jesus in gesprek met die vrou!

Kanaäniet

Dis interessant om te sien wat hier gebeur:  Matteus, wat aanvaar word as die mees Joodse evangelie,  noem hierdie vrou ‘n Kanaäniet.  Markus noem haar Siro-Fenisies.  (Onthou jy wie se land Israel ingeneem het na hulle bevry is uit Egipte?)  Kanaäniete word nêrens anders in die NT genoem nie. En vir alle praktiese doeleindes het die Kanaäniete nie eers meer bestaan nie!

Deut 7:  1  “Die Here jou God sal jou bring in die land waarheen jy op pad is en wat jy in besit sal neem. Hy sal baie nasies voor jou uit verdryf:
Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Wanneer die Here jou God hierdie sewe nasies wat groter en sterker is as jy,2  in jou mag oorgee en jy hulle verslaan, moet jy hulle om die lewe bring as banoffer aan die Here jou God. Jy mag hulle nie jammer kry en ‘n verbond met hulle sluit nie. 3  Jy mag nie met hulle ondertrou nie: jou dogter mag jy nie aan een van hulle seuns gee nie en vir jou seun mag jy nie een van hulle dogters as vrou vat nie, 4  want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen jou ontvlam en Hy sal jou gou uitdelg.

In verskeie plekke in die OT word hierdie vernietiging dan ook beskryf.

So die term “Kanaänities” is nie geografies, maar word doelbewus gebruik vir die stereotipes wat dit oproep – vyand, onrein.  Dit beskryf hierdie vrou as die ergste soort buitestander, die vyand wat God gesê het uitgewis moet word.  Sy is nie bloot ‘n heiden nie, sy verteenwoordig die mense wat God en Israel se vyande is.

Dis interessant dat Matteus so ‘n effense pre-okkupasie het met nie-Jode, selfs Kanaäniete. Dink maar aan Jesus se stamboom aan die begin van die boek:  daar is vier vroue, drie van hulle nie-Jode, twee van hulle waarskynlik Kanaäniete!  In die hele Matteus is die rol wat nie-Jode speel interessant, bv. die wyse manne uit die ooste.

Jesus het gekom vir almal.

So die hele boek verkondig hierdie verwagting dat Jesus ook gekom het vir die heidene, die nie-Jode.  Maar die dissipels, natuurlik, het nog nie hierdie implikasie van Jesus se Messiasskap besef nie.  Hulle moet dit nog leer:  dat Jesus nie net gekom het vir die verlore skape van Israel nie, maar ook vir die nie-Jode, selfs die Jode se vyande!

In Jesus se interaksie met die Kanaänitiese vrou, word die dissipels hierdie waarheid geleer.  As Jesus net bloot van die begin af gesê het: “jou dogter is gesond”, sou dit waarskynlik nie so ‘n groot indruk op die dissipels gemaak het nie. Maar Jesus se optrede laat dit uitstaan,  maak mens bewus dat hier iets meer aangaan as bloot dit wat op die oppervlak sigbaar is, soos met die gelykenisse.

Hierdie gebeure vind plaas tussen twee vermeerderings van brood.  Geleerdes sê die eerste vermeerdering het ondertone van die Eksodus verhaal, die manna in woestyn.  Die 12 mandjies verteenwoordig die 12 stamme van Israel.  

Kort na die gesprek met die Kanaänitiese vrou, word daar kos gegee vir 4000. Hierdie tweede vermeerdering van brood vind plaas in Galilea, wat in Matt 4:15 beskryf word as “Galilea van die heidene”.  Hierdie keer bly daar 7 mandjies brood oor, wat hierdie keer die heidene verteenwoordig (sien 7 in Deut. 7).

So wat die verhaal van die vrou en die tweede vermeerdering van brood erkondig, is die seën nie net vir die Jode nie, maar vir al die nasies.

Aan die einde van Matteus is dit ‘n Romeinse offisier wat bely dat Jesus die Here is.  En die Evangelie eindig met die opdrag, in Matt 28:19, om na al die nasies te gaan.

Na wie toe gestuur?

Wat hierdie teks dan vandag op ons tafel sit, is nie net geloof nie, maar ook ons eie vooroordele.  Ons is soms net so blind soos die dissipels in hierdie teks, trek ook lyne vir wie genade bedoel is en wie nie; wie welkom is in die tempel en wie nie.

Die dissipels het waarskynlik teenoor die Kanaänitiese vrou gevoel soos wat ons voel oor die bedelaar by die robot wat teen ons motor se venster leun – of by ons voordeur.  Die een wat deur drank en koue verwoes is.  Ons sien nie meer hul nood raak nie, daar is geen barmhartigheid meer teenoor hulle nie – geen genade nie –  ons is net siek en sat vir hulle. “Here, sy is ‘n verleentheid, stuur haar weg.”

Ons almal het vooroordele.  Die vraag is wat maak ons met ons vooroordele.  Gebruik ons dit om mense uit te hou, te dink ons gemeente is net vir sekere mense bedoel?  Of sien ons dit vir wat dit is en laat toe dat Jesus ons leer dat sy genade vir ALMAL bedoel is.  Ook vir die wat anders is as ons. Ook vir ons vyande. Ook – dalk veral? – vir die wat ons ongemaklik maak.  Selfs vir die Nigeriërs in Sentraal, die Moslems in die Midde-Ooste.

Ek dink nie dis toevallig dat ons aan die begin van jaar gereël het dat ons vandag terugvoer kry oor die gemeente se barmhartigheidsbedieninge nie.  Of dat xx hier is nie.  Wanneer ons oorvloed van brood aan tafel by Jesus kry, dan stuur hy ons ook om die brood te gaan deel.  Dit is nie net vir onsself nie, maar ook vir die mense in Midde-Ooste, ook vir die bosslapers, weeskinders,  mense in Kwazakhele of Malabar of waar ook al.

Jesus is altyd besig om grense af te breek, om die mense wat ons wil uit hou, in te nooi.  Dit is ook ons opdrag, om verby onsself te kyk, verby dit wat ons van nature raaksien,  verby die heinings wat ons gebou het, sodat Jes 56 (votum) ook van ons waar sal wees, wanneer die Here sê
Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê, en om my dienaars te wees, almal wat my sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie, en wat lewe volgens my verbond, 7  na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot ‘n huis van gebed vir al die volke. 8  Die Here my God wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê: Ek sal nog ander byvoeg by dié wat reeds bymekaargemaak is.

     

Trackback from your site.

Leave a comment