Kol 1:9-14 – Son 8 Feb 09

Sondag 8 Februarie:  Tema:  Uiters waardevolle gisters (daaglikse ondersoek).

Votum:  Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister. (Jes 50:4b-5a).

Wet: Lees Ef 3:14-19.

Ons ken die wet, dat ons God en ons naaste bo alles moet liefhê. In die gedeelte bid Paulus vir sy lesers dat hulle die vermoë sal ontvang om te begryp hoe groot die liefde van God is. Dit is alleen wanneer ons God toelaat om ons lief te hê en wanneer ons gereeld op Hom wag om sy liefde vir ons aan ons te openbaar, dat ons ook self gevul word met sy liefde. Dan kan ons ook vir Hom en vir mekaar opreg liefhê.

Respons:  Sing – Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.

Prediking:

Om in die kerk groot te word, het baie voordele, maar daar is ook nadele aan verbonde. Een van die groot nadele is dat mens so gewoond raak aan alles, so gewoond aan die manier waarop daar oor God gepraat word, so gewoond aan ons manier van dink oor God, praat met God en luister na God, dat ons nie regtig oop is daarvoor dat God werklik deel word van ons totale lewe nie.

Want sien, my ervaring daarvan is dat meeste van ons aan God `n sekere plek toeken, `n plek en tyd waar Hy met ons kan praat en waar ons na Hom wil luister. Maar dan is daar ook baie plekke en tye, miskien meer as eersgenoemde, waar God glad nie `n rol speel nie. Daarom is dit maklik om van God iemand te maak aan wie ons net aandag gee wanneer dit ons pas, inroep wanneer dit ons pas. Dit kan maklik gebeur met mense wat in die kerk opgroei, dat hulle nie werklik besef wie God is en wat dit beteken dat Hy Here van ons totale lewe word wat altyd en oral by ons betrokke is nie.

Ek glo dit is wat Paulus ook in gedagte gehad het met sy gebed vir die Kolosense. Lees Kol 1:9-14.

Luister mooi waarvoor bid hy: dat julle deur al die wysheid en die insig wat die Gees gee…
Dit is verskriklik belangrike woorde – want sien die Gees van God kom maak woning in ons as sy kinders, Hy word deel van ons totale lewe. En as sodanig, is Hy voortdurend besig, van jaar tot jaar, van maand tot maand, van week tot week, van dag tot dag, van oomblik tot oomblik om met ons te praat; om vir ons wysheid en insig te gee. Dit is sy werk, dit is hoekom Hy in ons kom woon het. Hy is nooit passief nie, nooit ledig nie, los ons nooit alleeen nie, hou nooit op om met ons te praat nie. Daar is nooit `n oomblik waarin Hy nie probeer om ons aandag te kry om ons te vul met Goddelike wysheid en insig nie.

Jy sê: “maar dis nie waar nie – ek ervaar dan niks daarvan nie.” Dan is dit juis omdat jy té gewoond geraak het aan God, en daarom aan Hom `n sekere plek en rol toegeken het, soos wat jy Hom verstaan. En met die plek en rol wat jy aan Hom toegeken het, is daar by jouself geen openheid om na Hom te luister nie, word daar nie aktief opgelet waarmee Hy besig is nie, word daar nie werklik aandag gegee aan dit wat Hy sê of doen hier binne jou van oomblik tot oomblik nie. Moontlik nie omdat jy nie wil luister nie, maar net omdat jy nie verwag dat Hy met jou praat nie, omdat dit nie inpas in jou verwysingsraamwerk nie.

Kom ek deel `n voorbeeld.
`n Paar jaar terug was ek met `n groepie studente in Zambië vir `n uitreik. Net nadat ons daar aangekom het, deel die Zambiërs ons mee dat hulle die naweek een of ander feesgeleentheid in `n groot sokker stadion het. Almal van hulle moet daar wees en ons word ook genooi om te deel in die feesgeleentheid.
Ons het dus die volgende oggend vroeg van die Jeugsentrum af (waar ons tuisgegaan het) begin stap na die stadion toe, wat so ongeveer 6 km van die Jeugsentrum af is. Dit was `n winderige dag, grondstrate (of eerder stofstrate). Almal het windverwaai en vol stof by die stadion aangekom. Al die verrigtinge was in die Zambiërs se moedertaal, so die studente het niks verstaan van wat gesê word nie. Die middag laat het ons weer teruggestap na die Jeugsentrum. Teen daardie tyd het ek agtergekom die meeste van die studente is maar redelik geïrriteerd. Hulle kon nie enige sin in die bywoning van die geleentheid sien nie en die stap deur die “township” met die wind wat die stof aanmekaar in ons oë waai was dit nie `n aangename ervaring nie.

Daardie aand het ons as span saam stilgeraak (soos ons gewoonte is tydens sulke uitreike). Ek vra toe vir hulle om terug te dink aan die dag, aan alles wat gebeur het en dan vir hulleself die vraag af te vra: “Wat wou God vandag vir my leer of wys deur dit wat ek ervaar het?”. Na `n paar minute se nadenke, het ons met mekaar gedeel. Dit was regtig verassend om te hoor wat toé alles uitgekom het. Skielik het hulle bewus geword van sake wat hulle vroeër glad nie aan gedink het nie. `n Dag wat aanvanklik as baie negatief beleef is, het skielik `n dag van baie dieper betekenis en lering geword. Almal se gemoedstemming oor die dag het ook verander. Wat was die verskil? “Aandag.” Die feit dat hulle tyd geneem het om aandag te gee aan dit waarmee God in hulle lewens besig is. Die feit dat hulle `n paar oomblikke geneem het om na die wysheid en die insig te luister wat die Gees gee.

Weet jy wat? Jy kan dit elke dag ervaar. Jy kan elke dag op die wyse leer van God die Heilige Gees. Al wat nodig is, is om te leer om te luister, om aandag te gee, om te weet dat Hy in jou woon en met jou praat. Die enigste ding wat dit verhinder is waarskynlik dat jou aandag vasgevang word deur ander goed; goeters wat in jou verstaan van die werklikheid waarin jy leef waarskynlik belangriker is. Dinge wat in jou gemoed dringend is. Dinge wat nie kan wag tot later nie. Hierdie dinge put jou gewoonlik uit en veroorsaak allerhande worstelinge, moegheid, vrae, bekommernis, vrese, ens. Intussen is die Gees in jou wagtend om vir jou lig te gee, leiding te gee, wysheid en insig te gee; wagtend dat jy net na Hom sal draai en sal luister, sal aandag gee. Maar ongelukkig is jy té besig of té moeg. Kan jy sien hoé dom dit is?

Hoekom is dit só belangrik? Paulus sê:  “sodat julle tot volle kennis kan kom van wat sy wil is.” Kan daar enigiets wees in die lewe van God se kinders wat belangriker is as dit? Ek bedoel as jou gestoei om `n bestaan te maak, om geld te maak, om jou geld goed te belê, om planne te maak vir jou toekoms, of wat ook al gedoen word, gedoen word sonder die sekerheid dat dit wat jy doen in God se wil is – watter betekenis het dit dan? Dit gaan tog vir ons as kinders van die Here daaroor dat ons die kuns wil aanleer om vir Jesus Christus in alles na te volg, dat ons in sy wil wil lewe. Dat ons graag sal wil sê:  “Alles wat ek doen, doen ek omdat ek oortuig is dat dit die wil van God vir my lewe is. Dit is die rigting wat die Gees nou vir my aandui; dit is soos ek dit verstaan volgens die wysheid en die insig wat die Gees gee.”

Indien ons so `n manier van lewe kan aanleer, dan glo ek dat dit sal lei tot die lewe waarvan Paulus in vers 10 praat: “dat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang; dat ons vrugte sal dra deur goeie werke en dat ons sal toeneem in ons kennis van God.” Dit is eintlik logies dat so `n manier van lewe sal meebring dat ons kennis en ervaring van God dramaties sal toeneem. Ons sal soveel meer bewus word van God in ons alledaagse lewe, soveel meer leer van wat Hy doen, van wat op sy hart is, van wat Hy vir ons wil leer, van hoe Hy oor ons voel. Wanneer dit gebeur, het dit weer tot gevolg dat mens se liefde vir God toeneem.

Dan sal ons ook begin ervaar wat in vers 11 staan, dat God ons sal versterk om in alle omstandighede met geduld te volhard. Dan is omstandighede nie meer `n vyand wat buite ons beheer is en wat ons so maklik onderkry nie. Dan word omstandighede iets waarin God altyd teenwoordig is met sy wysheid en insig, met sy vertroosting en bemoediging, met sy krag en liefde wat ons dra.

Die geestelike dissipline wat ons help om so `n lewe aan te leer, word genoem die daaglikse ondersoek (daily examen).
WAARVANDAAN KOM DIT?
St Ignatius, stigter van die Jesuit Society (of Society of Jesus).Gebore 1491 in noorde van Spanje. As jong man, hou van wyn, vroue, verslaaf aan dobbel. Op 30 gewond in `n geveg. Terwyl herstel lees stories van Christus se lewe. Was aangetrek na Jesus deur die effek wat Jesus op sy volgelinge gehad het. Terselftertyd ook aangetrokke gevoel tot `n vrou, roem en glorie. Kom agter dat sy dagdrome oor die vrou, tot rusteloosheid lei, terwyl sy nadenke oor Jesus vrede gebring het. Was begin van sy bekering, ook van sy lering oor geestelike onderskeiding deur middel van `n ondersoek van emosies, gevoelens en denke.

Hy het geleer dat die werk van die HG nie net aan die intellek openbaar word nie. God word in alles gevind, ook in ons gevoelens en emosies. Kom agter deur aandag aan dit alles te gee, word meer en meer bewus van wat God hom roep om te wees. Later het daarop aangedring dat almal wat aan die Jesuiete orde behoort, elke dag hierdie ondersoek moet doen. Ook aanbeveel vir enigeen wat ernstig is daaroor om `n geestelike lewe te lei. Dit is `n baie sekere manier waarop ons bewus kan word van God se leiding in ons lewe.

Watter voordele hou dit vir ons in?
Dit leer jou om jou aandag te fokus op waarmee God besig is.
Dit werk – mense pas dit al eeue toe en die wat dit doen se lewens word daardeur verander.
Dit leer jou hoe God ook deur jou emosies, gevoelens en gedagtes werk.
Dit sal jou baie meer bewus maak van dit wat God besig is om in jou lewe te doen.
Dit help jou om te ontdek wat dit is waarvoor God jou geroep het, wat sy wil vir jou lewe is.
y sal die krag van God sien werk in en rondom jou as jy dit getrou doen.

HOE WORD GEDOEN?
Geskikte tyd – Deel van daaglikse roetine, soos tandeborsel. Elke dag dieselfde tyd.

Word rustig, raak bewus van God se teenwoordigheid in jou. Vra God om jou te wys wat Hy besig is/was om jou te leer deur die gebeure van die dag.
Dink terug aan die dag, vandat jy opgestaan het. Laat dit voor jou afspeel soos `n video wat jy kyk.
Ø Dink aan alles wat gebeur het en hoe dit jou laat voel het.
Ø Let op die oomblikke in die dag wat jou nader aan God getrek het. Jy kan dit ontdek deur te let op die ervarings wat jou meer vrygewig, meer hoopvol, meer lewendig en kreatief, tye wat jy vrede ervaar het, opgewonde of tevrede. Soms kan pynlike ervarings jou ook nader aan God laat voel. Ignatius noem dit: “moments of consolation.”  Wat wil God vir my daaruit leer?
Ø Gebruik `n paar minute om vir God dankie te sê hiervoor, bêre die ervarings in jou hart sodat jy bewus kan bly van God se betrokkenheid in jou lewe.
Ø Dink nou aan tye deur die dag waar jy vervreemd van God, ander of jouself gevoel het. Tye wanneer jy gefrustreerd, ongemaklik, angstig of vasgevang gevoel het. Tye waar jy minder openhartig en minder oop vir God gevoel het. Ignatius noem dit: “moments of desolation.” Wat wil God vir my daaruit leer?
Ø Gebruik `n paar minute om daardie tye na God te bring. Vra dan vir die genesing, krag en vergifnis wat jy nodig het.
Ø Dink dan aan die dag wat voorlê en die genade wat jy daarvoor nodig het. Bring dit na God toe en vra vir sy leiding in dit.

Deur dit te doen, erken ons eenvoudig dat God die Here van ons lewe is, dat Hy lewend en aktief betrokke by ons is, dat Hy in ons woon en besig is om deur sy Gees vir ons wysheid en insig te gee. Sodoende word alles wat in en rondom my gebeur deel van God se gesprek met my. Dit kan ook nie anders nie, want God is totaal en al deel daarvan – dit is nou as jy werklik glo wat die Bybel van Hom sê en nie net `n godsdienstige lewe leef volgens tradisie nie. As jy dit wat jy op die manier leer, elke dag dan ook in `n joernaal aanteken, en dan weer op `n maandelikse basis gaan kyk wat God die afgelope maand vir jou geleer het, sal jy oor `n paar maande verbaas staan om te sien hoé aktief God besig is om in en rondom jou te werk.

Dit beteken dat ek erken dat God ook met my praat deur dit wat in my liggaam gebeur. Ek word al meer bewus van liggaamlike reaksies soos hoofpyne, migraine, maagpyn, gespanne skouer- en nekspiere, neerslagtigheid en skuldgevoelens. Die maklikste manier om daarvan “ontslae te raak”, en wat deur die samelewing rondom ons voorgeskryf word, is natuurlik medikasie. Drink `n pilletjie en voel beter, of eet `n sjokolade, of koop `n tydskrif, of gaan fliek. Alles maklike ontsnaproetes wat ons aanleer wanneer ons die dinge ervaar.

Dit sou baie meer van waarde wees as ons kan leer om ook hieroor by God stil te raak en vir Hom te vra: “Here waar kom hierdie kopseer vandaan?, Wat is die oorsaak daarvan?” Moenie dink dat dit net `n belaglike oefening is nie. Hy is `n lewende God en kan aan ons insig gee – dit is wat die werk van die Gees is, om vir ons wysheid en insig te gee. Ek het dit al so baie voor my oë sien gebeur, dat iemand na my toe kom met een of ander probleem en sê: ek weet glad nie waarvandaan dit kom nie. Dan sê ek, kom ons vra dat die Here dit vir jou sal wys. Dan bid ons en vra daarvoor, bly stil en wag op Hom. Na `n paar oomblikke dan sê die persoon: “Ek dink ek weet nou waarvandaan dit kom.” Dan het die Gees insig gegee deur iets na vore te bring, `n gedagte, `n herinnering.

Die manier waarop ons leer om so in afhanklikheid van die Gees te lewe, is deur dit in te oefen. Deur dit te doen, kan jy moontlik agterkom waarom jou liggaam op sekere maniere reageer in sekere omstandighede. Die Gees bring sekere ervarings terug in jou geheue, soms is dit nodig dat daar genesing moet plaasvind, dat jy verlos moet word van sekere vrese of angstigheid. Wanneer dit gebeur, dan reageer jou liggaam nie meer soos altyd nie.

Ek bid regtig dat jy sal hoor en verstaan watter tipe lewe vir ons as kinders van God moontlik is; sal insien watter moontlikhede van groei dit inhou; watter moontlikhede dit inhou om God beter te leer ken, om nader aan Hom te kom, om te groei in die verstaan en doen van sy wil. Dit is die lewe wat God vir sy kinders bedoel het, dat Hy werklik `n verskil in ons lewens sal maak, `n rol sal speel ons Herder sal word, ons Raadsman, ons Geneesheer en Verlosser, ons Vader, ons God!  Verlang u daarna?  Begin dan om op die manier te leef.

 

 

 

Continue Reading

Joh 20:19-31 – Son 3 Aug 08

Opsomming van preek deur Andrew Fransman

Hierdie gedeelte is vir ons oorbekend.  Dit handel oor Jesus se liefde vir Tomas.   

Ons almal kan met Tomas identifiseer en assosiaeer – hy is ‘n gewone ou.  Die ander dissipels is geloofsreuse.  Tomas is ‘n gewone mens wat twyfel.

Almal van ons twyfel op een of ander stadium in ons lewe.  Twyfel is iets waaroor ons moeilik praat, net met ons mees intieme vriende.  Ons steek dit weg.  In elke gemeente is daar vanoggend mense wat twyfel.  Ander se getuienis ens.   sal vir hulle wat twyfel hul geloof nog meer opskort.  Dis jammer dat ons neersien op hulle wat twyfel.

Maar twyfelaars is nie mense wat sonder geloof is nie.  Twyfel en ongeloof is nie dieselfde nie.  Dink maar aan die worsteling van Job, die hart van Jeremia:  ‘n mens kry die gevoel dat hulle twyfel, terwyl hulle diep gelowig is en die Here volg.  

Daarom moet ons nie so hart oordeel oor mense wat twyfel nie.  Tomas was ‘n gelowige wat met s geloof geworstel hy.  Hy’s ‘n eerlike mens, beoefen nie ‘n “maak of ek glo”-geloof, ‘n skyngeloof, nie.  Hy sê vir sy mede-gelowiges dat hy ‘n probleem het om soos hulle opgewonde te wees.  

So is ons ook:  ons sukkel met ons geloof, om dit wat die Here vir ons gee te aanvaar, te verstaan, deel van ons lewens te maak, die Woord te absorbeer, werklik voltyds elke dag op die pad van die geloof te wandel.

Die opgestane Jesus is vir die tweede keer by die dissipels.  Hierdie keer is Tomas by.  Jesus sê:  “…moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”  Jesus kon vir Tomas verwyt het, hom berispe.  Maar Jesus doen dit nie.  Hoekom nie?  Omdat Jesus vir Tomas liefhet, omdat Jesus Tomas se vermoë en potensiaal raaksien.  Liefde veroorsaak dat Jesus moeite doen met Tomas.  Hy praat baie persoonlik met Tomas – nie algemeen, in die bondel, nie.  Hy noem vir Tomas op die naam:  “Wees gelowig.”

Jesus se woorde klink meer na ‘n waarskuwing as ‘n verwyt.  Dit sê nie:  jy’s ongelowig!  Dit sê eerder:  pas op, jy staan op die rand van die afgrond van ongeloof.  Kom weg daarvandaan, sodat jy nie daarvan afstort nie.  

Jesus verwyt nie.  Jesus ryk in liefde uit.  Hy raak aan my, hy sê:  “voel aan my.  Vergewis jouself:  dit is ek.” Jesus nooi vir Tomas twee keer uit – kom na my toe.

Dit is die tafel se boodskap.  Jesus sê:  Kom na die tafel, jy wat sukkel in geloof, wat twyfel, wat vol vrae is.  Want daar ontvang jy die geloof, daar word geloof gebore, ontkiem die geloof.  Al die Tomasse:  kom, steek jou hande vanmôre in die (tekens) merke van Jesus. 

Jesus neem die inisiatief, neem die eerste tree na Tomas.   Ons is anders.  As iemand ons teleurstel voel ons daardie persoon moet na ons kom om te kom regmaak.  Maar Jesus reik uit na Tomas.  en so reik die Here vanmôre uit na my en na jou.

Al die ongelowiges, twyfelaars, is vanmôre welkom aan God se tafel.  Mense wat sukkel met hul geloof, is welkom aan God se tafel.  

As Jesus met Tomas so praat, breek daar ‘n nuwe dag in Tomas se lewe aan.  Hy sê:  “My Here en my God.” Sy hart, oë, lewe gaan voor God oop.  Hy ervaar sy ongeloof skakel oor in geloof.

Mag die Here ook vanmôre ons harte aanraak aan sy tafel, liefdesete, sodat hierdie ook die plek sal wees waar my ongeloof in geloof sal verander.  “Moenie langer ongelowige wees nie, maar wees gelowig.”

Dit is die boodskap van die kruis, van God se liefde.  Ons almal se tweede naam is Tomas.  Mag die Here ons almal tot ware geloof lei.

Continue Reading

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.

  • Avatar

    Hansie

    |

    Dankie Chris. Lanklaas so ‘n geestelik verrykende erediens bygewoon. Ek is skoon opgewonde. Alle seen vorentoe.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Boeta!

  • Avatar

    AntonvanWyk

    |

    Baie duidelik. Pragtige versterkende boodskap

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Diederiks, ek het self dit nou weer gelees. Dit is darem net só fundamenteel tot ons hele verstaan van die werklikheid. Ek is só dankbaar dat ek die waarheid ontdek het. Seën vir jou!