Skip to main content

Fil 3:3-14 – Son 5 Okt 08

 

IETS KAN VIR JOU MEER WAARDE KRY

Maar is dit nie ook so nie, dat as jy iets anders kry wat meer vir jou beteken as iets wat jy voorheen gewaardeer het, dit vir jou meer waarde het.

Ek onthou aan die begin van my blootstelling aan rekenaars hoe ek Computer tydskrifte met CD’s gescan het vir die nuutste “gratis” sagteware.  Want ek kon nie die kommersiële sagteware bekostig nie.

Elke maand as nuwe tydskrifte hier onder by CNA verskyn het, het ek met opgewondenheid deur hulle geblaai, en gekyk watter nuwe sagteware kan ek daaruit kon kry.  En dit het vir my groot waarde gehad.

Totdat … ek ‘n paar jaar later die woordverwerkingsprogram Word in die hande kon kry en nog later Photoshop, Acrobat, Indesign en ‘n hele boel ander sagteware met die tyd … en die tydskrif fase van my lewe agter gelaat is.  Die kommersiële goed het vir my meer waarde gekry.

Ek stap nou nie eers meer in by CNA nie … behalwe as ek van tyd tot tyd ‘n pen nodig het.  Dié behoefte het nog nie verander nie!

PAULUS SE JOODSHEID

‘n Mens sien iets van hierdie waarheid in Filippense 3, hoe Paulus as’t ware die tydskrif fase van sy lewe afgelê het, en op beter dinge gefokus het.

Paulus was ‘n Jood en tot die einde van sy lewe het hy dit gebly.  Op ‘n tyd in sy lewe het hy baie peil getrek op hierdie Joodse afkoms.  Dit was vir hom kosbaar.  Hy het dit verdedig op allerhande maniere.  Hy het selfs so ver gegaan om Christene in die tronk te stop en geen vinger verroer as hulle doodgegooi is voor sy voete nie (Hand. 8 – Stefanus).

JESUS VERANDER ALLES

Maar daar het ‘n wonder in sy lewe gebeur.  Jesus het aan hom verskyn en sy hele perspektief het verander.  Van ‘n teenstander van die Christene het hy hulle grootste voorstander geword.  Van ‘n geswore vyand van Jesus het die ontmoeting hom een van Jesus se getrouste vriende verander.

Nou vat ‘n klomp Jode hom aan in Filippi oor sy Joodsheid, of dan sy gebrek aan Joodsheid.

JOODSE CV

En Paulus laat nie op hom wag nie – en hy sê: as julle oor Joodsheid wil gesels, laat ons gesels.  En dan gee hy sy Joodse CV in verse 5-6. Hy lig sewe dinge van sy agtergrond uit, wat sy Joodsheid verwoord.  Vier het hy met geboorte ontvang en drie deur sy eie toedoen.  By sy geboorte is:

  1. Paulus besny op die agste dag (en dus nie ’n heiden nie);
  2. Hy was dus ’n Jood uit die Joodse volk (en nie bloot ’n proseliet nie);
  3. Hy was uit die stam van Benjamin (en nie uit een van die minder belangrike stamme nie)
  4. En ’n Hebreër uit die Hebreërs (Hebreër het na Aramees sprekende Jode verwys in kontras met die wat Griekssprekend was.  Paulus was dus nie uit ’n familie van Jode wat die Hellenistiese gebruike oorgeneem het nie.  Hulle het as suiwer Jode geleef.).

As volwassene het Paulus sy Joodse geloof opreg uitgeleef en ‘n paar Joodse dinge by gedoen.  Hy het gekies:

  1. om die wet soos ’n Fariseër te interpreteer (d.w.s. streng en konserwatief);
  2. om die Christene vervolg
  3. en boonop was hy volgens die Joodse wet sonder fout gewees.  Dit beteken nie dat hy voor God sondeloos was nie (Paulus se teologie stel dit immers dat almal gesondig het – sien Rom. 2-3), maar dat niemand ’n bewese klag teen hom sou kon indien omdat hy nie die wet nagekom het nie (vers 7).  Nie eens die Fariseërs sou met ander woorde met sy lewe kon foutvind nie.  Hy was, soos die ryk jongman in Lukas 18:21, iemand wat die wet, volgens sy volksgenote se standaarde, nougeset gevolg het.  

Maar nou …

BATES EN LASTE

Paulus beskou al hierdie uiterlike dinge soos afkoms, opvoeding en oorgeërfde godsdienstige deugde, asook eie godsdienstige prestasies en aktiwiteite nie meer as geestelike bates nie, maar as geestelike laste

Volgens Paulus het sy teenstanders hul Joodse herkoms in die verkeerde kolom in hulle balansstaat, die Geestelike Grootboek, ingeskryf (verse 7-8). 

Paulus gaan so ver as om te sê dat dit vir hom verwerplik – skybala – “riool, mis” – is (vers 8). 

Ons moet mooi hoor wat Paulus hier sê: Alles waarop hy as Jood geroem het, was nie net niks werd nie – dit was eerder laste. 

Hoekom? 

Omdat dit hom blind gemaak vir die feit dat hy ook verlossing deur genade nodig gehad het.  Hy het soos sy teenstanders gedink dat hy geestelik skatryk was, terwyl hy intussen geestelik bankrot was. 

Interessant hoe Paulus hier boekhoukundige terme gebruik, vir wins (kerdē) en verlies (zēmia).

Hiermee sluit hy aan by hoe Jesus self gesê het in Matteus 16:26: “Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry (kerdaínō), maar sy lewe verloor (zēmióō), of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?”. 

Paulus verklaar hiermee dus dat hy vroeër geleef het op die Joodse manier.  En hy het al die getuigskrifte wat wys hoe goed hy dit gedoen het.

Maar nou, nou leef hy volgens die woorde van Jesus in Matteus, want om Jesus te volg het meer waarde as om sy Joodse herkoms te volg.

  • Joodsheid is nou vir hom ‘n las, dit het oorgeskuif na die laste kant van die balansstaat, hy gee dit prys, hy laat dit agter, hy is verby met dit, hy sal nie weer terugkeer daarheen nie, hy is klaar daarmee.  
  • Hy het Jesus gevind, dit is nou sy enigste bate, en dis al waarop hy vir die res van sy lewe wil konsentreer.

Soos Marius Nel sê: “Paulus volg hier die beleggingsadvies van die gelykenisse van Jesus oor die skat en die pêrel (Matt.13: 44-46)”, waarop ons vroeër die jaar gekonsentreer het.

Jesus is die enigste bate wat regtig waarde het.  Alles anders is laste.

Ek herhaal en onderstreep dit:  Ter wille van hierdie Jesus, is Paulus bereid om alles, vrywilliglik, as waardeloos te ag, as laste, sodat hy Jesus ten volle kan ken, as enigste bate.  Hy wil letterlik in Jesus gevind word op die laaste dag (vers 9).

Dít is die evangelie ….

JESUS VERANDER ALLES

Nou – Vers 12 is seker een van die belangrikste verse in die brief.  Paulus skryf hier dat al het hy nog nie alles ontvang nie – letterlik “gegryp” nie, is sy troos dat hy reeds deur Jesus gegryp is.  Vers 12 lees in die OAV – “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.”  In die NAV – “ek streef daarna om alles myne te maak omdat Christus my reeds Syne gemaak het.” 

Uiteindelik is dit die grond van ons sekerheid dat Christus ons gegryp het voor ons Hom probeer gryp het!  Al is ons dus soms onseker van ons greep op Hom, (“geloofsekerheid” as sekerheid van ons geloof) kan ons seker wees van sy greep op ons (“Christus sekerheid” vs “Geloofsekerheid”).

Daarom is Paulus se strewe om Christus te ken, Hom na te volg en om alles te doen waartoe Christus hom roep.  Daarom het hy het hom ingespan om hierdie oogmerk te bereik (3:12–14).  Hy vergelyk in 3:13–14 die geestelike lewe van ’n gelowige met ’n wedloop.  Hy sê naamlik hy hardloop soos ’n atleet wat net die skopus – letterlik die eindpaal wat die einde van ʼn wedloop aangedui het – in die oog het (vers 14).  Met brandende longe en beurende spiere pyl hy op die eindpaal af.  Hy hardloop letterlik sy liggaam stukkend.  Paulus sê dat geestelike volwassenheid is om só te hardloop (vers 15).

APPÈL

Die vraag is of ons bereid is om geestelik so te hardloop? 

Tony Campolo vertel hoe hy as jong hoërskoolseun die myl gehardloop het om meisies te beïndruk (waarom sou ʼn mens dit anders doen?).  Op ʼn dag het hulle afrigter hulle geneem om na Roger Bannister te gaan kyk toe hy in Philadelphia gehardloop het.  Op die dag het Bannister weer die myl onder 4 minute afgelê.  Hy het gehardloop soos ʼn besetene – net om na die wedloop soos ʼn dooie vis by die wenpaal neer te val.  Hulle moes hom letterlik met ʼn draagbaar wegdra. 

Na die wedloop het die afrigter na Campolo gedraai en vir hom gesê “Tony, só wil ek hê dat jy moet hardloop.” 

Campolo het egter by homself gedink dat geen meisie dit werd was nie.  Nadat hy die half dooie Bannister gesien het, het Campolo homself nooit weer ʼn “myl atleet” genoem nie.  Hy het wel die myl gehardloop, maar hy was nie ʼn myl atleet nie.  Hy het doodgewoon nie kans gesien vir dit wat dit van hom sou vereis nie.

Is ons atlete vir Christus of mense uit op ’n pretdraf?  Span ons onsself werklik geestelik in of is ons so geestelik onfiks dat 1 minuut se bid en 2 se Bybellees ons geestelik uitasem laat?

Paul Tillich het iewers hierdie waar ding gesê:  “Whatever our ultimate concern is, that is our God.”

SLOT

Hierdie kwartaal gaan ons die baan open vir die atlete, vir die fikses, maar verseker ook vir die onfikses!  Jy het vier opsies:

  1. Jy kan jou vaardighede om na God te luister en in voeling met Hom te kom en te bly, in Bly in Voeling.  
  2. Jy kan jou vaardighede om die breë lyne van die boodskap van die Bybel te verstaan opskerp, sodat jy in jou refleksie daaroor geestelik kan groei, in die Bybelskool.
  3. Jy kan insak in ‘n spesifieke perikoop van die Bybel en leer om dit deeglik geestelik te lees, in Lectio Divina.
  4. Jy kan jou vaardighede om in ‘n vennootskap saam met jou maat voor God te kan lewe opskerp, in die Alpha huwelikskursus.

Skryf in – dit begin Woensdag die 15de Oktober – en daar is ‘n ete beskikbaar om 18:00 vir die besiges onder ons.  Bespreek net vooruit, teen volgende Sondag vir die daaropvolgende Woensdag.

Fil 2:1-13 – Son 28 Sept 08

Hy begin deur hulle te herinner aan alles wat God aan hulle geskenk het (en wat hulle al ervaar het).  Hy verwys 1) na die troos in Christus (hulle is verloste mense), 2) die aansporing deur die liefde (waarin God se Vaderskap gehoor kan word) en 3) die gemeenskap deur die Gees .  Daarby voeg hy 4) die herinnering aan die innige meegevoel en meelewing wanneer hulle deur moeilike tye gaan.

Hy herinner hulle dus – aan God, van wie hulle net liefde ontvang en aan hulle medegelowiges, die liggaam van Christus.

Hy sê daarmee: Julle is bevoorreg om met God ‘n pad te kan stap.  Julle is bevoorreg om dit saam met ‘n klomp volgelinge van God te doen.  Laat my beker dan nou van vreugde oorloop dat julle as vriende van mekaar, soos een siel in twee liggame (letterlik kan sumpsuchoi vertaal word met “een siel”) sal lewe.  “Sing off the same page!”

As die gemeenskap van gelowiges een na buite moet wees, hulle beste moet gee, vir Christus se boodskap moet lewe, as vriende dit moet doen … dan moet hulle verseker dit ook na binne toe wees.

Dit hou in, dat hulle niks uit selfsug of eersug sal doen nie, in nederigheid die een die ander hoër sal ag as hom- of haarself en  elkeen nie net aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Nou hoe werk dié eenheid en vriendskap na binne toe?

Ek lees dié week weer ‘n artikel van Israel Galindo wat sê daar is twee uitstaande goed wat ‘n gemeenskap eenheid gee:

  • Shared Language
  • Being Together

Kom ons begin met die tweede eerste, being together:

OM SAAM TE WEES (BEING TOGETHER)

 

Saam wees

 

Om saam te wees, om geestelike vriende te wees, het meer te make met verhoudings as met programme of administrasie.

Daarom doen ‘n gemeente goed wat geleenthede skep (vgl. Prentjie van Nico Simpson) waar mense saam kan wees, dinge saam kan doen en, oor dinge saam kan gesels.  Dit is in die interaksie met mekaar, in die deel van ons lewens met mekaar, wat groei kom, wat eenheid kom.

Ons idee van Woensdae se Didage is juis om só ‘n geleentheid te skep.  ‘n Ruimte waar mense hulleself kan wees, saam oor die lewe kan gesels, saam oor die Bybel kan gesels, en só die diep eenheid wat die Here tussen ons geskep het, kan beleef en verinnig.

Maar om saam te kan wees, terwyl ons ook baie verskillend is, verg ‘n paar dinge van ons almal, soos die teks vir ons uitspel:

1.  Ons moet bereid wees om tweede viool te speel

Daar is die bekende storie van die beroemde dirigent en komponis, Leonard Bernstein. Toe daar vir hom gevra is wat die moeilikste posisie is om in die orkes te vul, was sy antwoord: “Tweede viool.”  “Hoekom?” wou die persoon weet.  Bernstein het geantwoord:  “Almal verkies die prestige van eerste viool.  Maar sonder tweede viool is daar geen harmonie in die orkes nie!”

“One of the greatest problems in the modern-day Christian church is that so many Christian people who are members of a local church, refuse to share their spiritual gifts with the body of Christ unless they are first-violin or first-string.”  (Eric Ritz)

2.  Ons moet bereid wees om mekaar se foute te aanvaar

Dit beteken onder andere dat ons mekaar sonder ophou moet lief hê.

Iemand het die volgende tong-in-die-kies gediggie gemaak oor die perfekte kerk:

If you should find
the perfect church
without fault or smear,
Please, don’t join that church,
you’d spoil the atmosphere.
If you should find the perfect church
where all anxieties cease,
Then pass it by lest joining it
you mar the masterpiece.
If you should find the perfect church,
then don’t you ever dare
To tread upon such holy ground
you’d be a misfit there.

But since no perfect church exists…
made of imperfect men,
Then let’s cease looking for that church,
and love the one we’re in.
Of course it’s not a perfect church,
that’s simple to discern,
But you and I and all of us
could cause the tide to turn.
So let’s keep working in our church
until the resurrection,
And then we each will join God’s church
without an imperfection.

3.  Ons moet inklusief wees

Uiteraard is daar by ons ‘n behoefte aan ‘n tuiste in ‘n gemeente.  En ons moet geleenthede hê waar ons “tuisvoel”.  Maar dit kan juis die eenheid deurbreek, as ons net saam is met mense wat soos ons is, waar ons makliker tuisvoel.

 

Inklusief

 

Daarom moet ons doelbewus inklusief wees, mense intrek, selfs al is hulle baie anders as ons. Ons moenie net werk met ‘n soort soek soort benadering nie, maar juis werk met ‘n ondersteuning in gemeenskap model (vgl. Prentjie van Nico Simpson).

Dit het natuurlik baie te make met nuwe mense wat in ‘n gemeente en ‘n gemeenskap intrek.  Maar soms is daar mense wat langs ons bly, tussen ons beweeg, maar nie deel voel van die gemeenskap van gelowiges nie.  En hulle het net so nodig dat ons uitreik en intrek en hulle deelmaak van ons geloofsvriendekring.

‘n Gemeente groei nie deur nuwe intrekkers nie.  ‘n Gemeente groei deur insluiting.  In ons groei na Christus toe, moet elkeen sy plek vind, moet ons help dat elkeen sy plek kan vind, sodat die liggaam opgebou kan word in liefde (Ef. 4).

Ek begin ook wonder of die beeld van die kerk as vriende, nie vir ons ‘n perspektief op gemeentewees gee, wat ons nou nodig het nie.

4.  Ons moet mekaar na buite toe ondersteun

Daar is ‘n al hoe groter behoefte dat ons as ‘n gemeenskap van gelowiges ons rol in die publieke sfeer speel.  En dan praat ek van die onderwys, en die gesondheidsdienste, en die metropool en die veiligheidsdienste, en die sosiale dienste, sowel as die landspolitiek.

 

Ondersteun in die publieke sfeer

 

En ons moet mekaar daarin ondersteun (vgl. Prentjie van Nico Simpson).  Dit is wat ‘n Gestuurde Gemeente doen – hulle ondersteun die gestuurdes, en dit is almal van ons, in die gemeente, in die uitvoering van hulle roeping.

En dit beteken nie dat ons almal ja-broers en susters moet wees nie.  Ons moet mekaar ook uitdaag en aanspoor tot beter maniere van dienslewering, en leer by mekaar wat die beste en God-welgevallige weg is.

Dit bring my die tweede fokus in ‘n gemeente wat as vriende wil lewe.

OM ‘N GEDEELDE TAAL AAN TE LEER (SHARED LANGUAGE)

 

Gedeelde taal

 

‘n Gemeente wat as vriende wil lewe het ‘n taal nodig waarmee hulle nie net mekaar kan verstaan nie, maar waardeur hulle letterlik die werklikheid kan skep (vgl. Prentjie van Nico Simpson).

Dit is waarom die Bybel so belangrik is – dit gee vir ons ‘n gedeelde taal.  En dit sal altyd die belangrikste taal bly wat ons moet aanleer, en waarmee ons die hele tyd moet besig wees.  En dit moet daagliks en gereeld wees.  Enigeen van julle wat al ‘n tweede of derde of vierde taal aangeleer het, weet hoe belangrik dit is dat jy dit inoefen, en nie net op jou eie nie, in gesprek met ander wat dieselfde taal praat.  Dit is al manier waarop jy dit leer.

1.  Die taal van Jesus

In die eerste plek beteken dit natuurlik dat ons die taal en gewoontes van die Here Jesus self sal aanleer – die taal van ‘n dienskneg – soos hier in vers 5 en verder uitgespel.

Daar was eendag ’n skilder wat sy meester se skilderkwas gekoop het.  Hy sou nou self ’n meester skilder wees!  Nadat hy sy eerste skildery met sy meester se kwas voltooi het, het hy dit geneem na die kurator van ’n beroemde museum.  Die kurator het na die skildery gekyk en die volgende opmerking gemaak:  “You don’t need the master’s brush, you need the master’s spirit and mind.”

Dieselfde geld ons as volgelinge van Jesus- “you need His spirit and His mind.”

En ons kry dit deur die Bybel te lees en te herlees en te oordink en te bespreek en te doen en weer te oordink en weer te doen.  Dit is hoe jy die taal van die Bybel, en die taal van Jesus aanleer en die taal van die Heilige Gees en die Vader en dissipelskap en nog ‘n hele boel ander nuanses of dialekte van die taal van die Bybel aanleer.

2.  Die taal van die tradisie en die taal van die tyd

Maar dit is nie net die taal van Jesus wat ons moet aanleer nie.  Ons moet ook ons eie taal as gemeente aanleer, die kultuur, die maniere, die gewoontes waarvan ons vir mekaar oor tyd stories kan vertel.

 

Tradisie en eietyds

 

Interessant dat Galindo sê (vgl. Prentjie van Nico Simpson), dat ‘n gemeente aan die een kant trekke van die oorgelewerde gebruike en gewoontes van die tradisie moet vertoon – ons staan immers in ‘n lang en ryk tradisie wat teruggaan eintlik tot die eerste mense, soos Genesis vertel.

Maar dit moet aangevul word deur die taal wat ons skep in reaksie en interaksie met die tyd waarin ons lewe.  Daarom het ons ‘n visie en ‘n missie wat anders is as ander gemeentes, maar ons sing liedere en gebruik die Bybel wat deur baie ander gemeentes reg deur die eeue al gebruik is.  Daarom ondersteun ons ‘n beweging soos Klema as deel van die gemeente se ontwikkeling, maar ons bly deel van die breër NGK verband, en hou ons ons aan die riglyne wat die ring, en sinode en Algemene Sinode van tyd tot tyd bepaal.

Dit is eers wanneer albei perspektiewe teenwoordig is, dat verantwoordelike vernuwing gebeur, en ons in die gedeelde taal vriende vir mekaar as gelowiges kan wees.

 

Gedeelde ervarings

 

Daarom dat ons nie die geleenthede wat ons as vriende vir mekaar reël kan, mag mis nie, want ons het gedeelde ervarings nodig (vgl. Prentjie van Nico Simpson), om ‘n gedeelde taal te kan ontwikkel.

En daarom is dit ook ‘n proses wat nooit mag stop nie – vernuwing is iets wat altyd nodig is.  Dit is soos die vlerke van ‘n arend.  Maar dit moet ook verantwoordelik wees, dit moet op een of ander maniere geanker wees aan die breër storie van gelowiges deur die eeue.  Dit is soos die pote van ‘n arend, waarmee hy uiteindelik na die wye draaie in die lug op sy nes hoog teen ‘n krans gaan sit, sy kuikens versorg, sy kragte herwin, sodat hy weer sy vlerke kan gebruik.

EK SLUIT AF

Neem tyd dié week en vra jouself net die twee vrae af:

  • Watter gemeentelede is geloofsvriende vir jou.  Soek hulle op, versterk julle verhoudings. Praat die taal van die gemeente en van ons geloof.
  • Watter gemeentelede of ander gelowiges in jou gebied is nie geloofsvriende van jou nie.  Kies een van hulle, reik uit, gaan drink koffie saam, braai ‘n vleisie, leer mekaar ken en sluit iemand so in jou geloofsvriendekring in.  En leer ‘n paar nuwe woorde aan van die taal wat God ons in gemeenskap met mekaar gee.

Amen

Fil 1:20-30 – Son 21 Sept 08

 

LEWE TER WILLE VAN CHRISTUS

Paulus is hier weer in die tronk (waarskynlik in Rome).  En as hy hier skryf dat hy onseker is of hy wil leef of sterf (vers 22), moet ‘n mens in gedagte hou, dat vir baie gevangenes dit werklik beter was om te sterf as om in ’n Romeinse tronk te probeer oorleef. 

Die omstandighede in tronke was haglik.  Die tronke was vuil, donker, warm, bedompig en onhigiënies.  Gewoonlik was daar nie individuele selle nie, maar is mense eerder aan mekaar in groepe vasgeketting (vgl. Fil. 1:14).  Gevangenes het min slaap gekry, en moes deur hulle families van kos en klere voorsien word (Kyk bv. na Fil. 4:18 waar Paulus die gelowiges bedank vir wat hulle vir hom gestuur het om van te oorleef: “… ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg”). Vriende het baie keer die gevangenes in die tronk bygestaan, soos ons hier lees van Timoteus en Epafroditos se diens aan Paulus (van wie Paulus in hfst. 2:19-30 sê: “wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan”).  Die hulp van vriende buite die tronk, was dikwels die verskil tussen lewe en dood vir gevangenes. 

Maar – Paulus is nie bekommerd oor die tronk as sodanig nie.  Hy dink nie oor lewe en dood vanuit sy omstandighede nie.  Hy dink uitsluitlik aan die effek van sy lewe (of dood) op die gelowiges.  Vir hom is dit beter om hemel toe te gaan … maar wat dan van dié wat agterbly?  En as hy aan hulle dink, dan besef hy, dit is nog nie tyd om te gaan nie. Hy het nog iets om te doen hier op aarde.  Hy bestaan immers ter wille van Christus en sy saak op aarde.

Hoekom dink hy so?

Want die lewe is vir hom Christus.  En hy is bereid om sy lewe weg te gee ter wille van Christus.

En dit is die uitdaging aan ons as Christene – dat die lewe ook vir ons Christus sal wees, dat ons ook bereid sal wees om ons lewe weg te gee.

Nou dit kan wees dat jy nou na my luister, en net besef, dit is nie waar ek is nie.

En dit is ‘n goeie gedagte – want dit is wanneer ons eerlik na ons eie lewe as Christene kyk en ons meet aan die lewe van ‘n volwasse Christen soos Paulus en ons bewus raak van die gapings in ons eie lewe, dat ‘n kreatiewe krag (Peter Senge) in ons aangesteek word, om verander te word, sodat die lewe ook vir ons Christus kan wees, en ons Christus-gesentreerd kan lewe.

Kyk, ‘n mens begin nie waar Paulus geëindig het nie.

Jy begin presies waar jy nou is.

En waarop konsentreer jy?

Wel, Paulus druk dit hier só uit: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.”

D.w.s. ons lewe moet al hoe meer in lyn kom met die boodskap van Christus.  In kort, ons lewens moet ooreenstem met die Bybel.  Nou, die interessante is, dat empiriese navorsing oor geestelike groei aandui – presies dít wat Paulus al aan die begin van ons jaartelling skrywe – dat gelowiges die Bybel as die mees kragtigste katalisator ervaar in hulle lewe, dié ding wat hulle lewens verander.

En hoe Paulus dit hier uitspel, is dat ‘n mens twee goed doen in geestelike groei, jy kyk na jou lewe en jy kyk na die Bybel en jy begin algaande die twee met mekaar in verband bring.  Dít is hoe jy geestelik groei.  Dit is hoe jy verander.  Jou lewenswandel kom in ooreenstemming met die boodskap van Christus.

Dit beteken – in jou stiltetyd lees jy die Bybel, jy dink na oor jou lewe, en jy laat toe dat die Bybelse visie, God se visie, want die Bybel is immers sy Woord, jou lewe verander.  In Bybelstudiegroepe lees jy die Bybel, dink na oor jou lewe, en laat die Bybelse visie jou lewe verander.  En ons doen dit in die erediens en ons doen dit in die kursusse wat ons aanbied.

Dit is die motivering agter die Didage aanbiedinge in die vierde kwartaal op Woensdae.  Didage beteken leer.  En dit is wat ons gaan doen, ons gaan leer hoe om ons lewens al hoe meer in ooreenstemming met die Bybel te bring:

  • Bybelskool – lees die eerste 5  boeke in die Bybel en dink na bv. oor hoe God met families in Genesis gewerk het, en probeer daaruit leer hoe om in ons eie families die Here te dien;
  • Bly in voeling – leer ‘n paar beproefde gewoontes aan om God se stem te kan onderskei en in voeling met God te kan bly;
  • Lectio Divina – leer baie spesifiek hoe om die Bybel te lees met die oog op lewensverandering;
  • Alpha Huwelikskursus – leer saam met mekaar hoe ons huwelike in lyn kan bring met wat God oor die huwelik in die Bybel leer.

Dink ‘n bietjie eerlik oor jou lewe – stem jou lewe ooreen met dít wat die Bybel leer?  Het jy ‘n groeiende verhouding met die Here?  Lewe jy Christus-gesentreerd?

Oorweeg dan om in te skakel by ons Woensdagaand sessies.  Neem die volgende stap in jou geestelike reis.  En bring mense saam met jou, familie, vriende, kennisse, kleingroep lede, wie ook al.

LEWE AS VRIENDE

Want, en daarmee sluit ek af, die Christelike lewe is nie ‘n alleen reis nie.  Dit is bedoel vir vriende in die geloof.

Paulus het ‘n klomp goeie dinge om oor die Filippense te sê.  Hulle het van die begin af met hom saamgewerk. Hulle lê hom na aan die hart.  Op ‘n punt was hulle al gemeente wat hom finansieel bygestaan het (hfst. 4).

Maar daar was een ding wat hy wou hê dat hulle nog moes doen – en dit is dat hulle soos vriende eensgesind moes saamstry vir die Evangelie en saam moet leer wat die evangelie, die Bybelse boodskap, vir hulle lewens beteken.  Daarom versoek hy vir hulle om soos een mens saam te stry vir die geloof en praat hy oor “hulle” lewenswandel.

Paulus versoek hulle ook in die volgende hoofstuk in dieselfde “vriendskap”-taal om een in liefde, hart en strewe te wees (2:2-4).  En wanneer Paulus vir Euodia en Sintige in hfst.. 4:2 vermaan om eensgesind te wees, bedoel hy dat hulle weer soos vriende moet leef.

Geestelike groei is dus nie vir Paulus ’n individualistiese saak nie. Hy wil hê dat die gemeente as geestelike vriende sal lewe. Vir die Grieke was ware vriende immers een siel wat in twee liggame geleef het, met dieselfde wil of strewe, en dit is hoe Paulus wil hê dat die gemeente moet lewe.

Kom ons stap só ‘n pad met mekaar in dié gemeente, die pad van gelowige vriende.

KINDERTYD

Die afgelope maand het die Olimpiese Spele ons almal aan die praat gehad. Die vinnigste man op aarde (Usain Bolt); die vrou wat ‘n spies die verste kan gooi (Barbora Spotakova). En ons leer by die atlete: om nooit op te hou nie, om hard te probeer, om alles te gee.

Maar dit was die Paralimpiese Spele wat vir ons die meeste geleer het. Mense wat ‘n gebrek het, net een been, of net een arm, of blind en dan die beste doen met wat hulle het. En dit lyk mos asof hulle nóg meer as hulle Olimpiese maats die Spele geniet.

Een van die grootste atlete daar was ‘n Suid-Afrikaner, wat eers by die Olimpiese Spele geswem het en toe ook by die Paralimpiese Spele, Natalie du Toit, en vyf goue medaljes gewen het.

Maar ek wil vir julle vandag vertel van hierdie meisie.

Het julle al vir haar gesien?

Haar naam is Shireen Shapiro.

Toe sy sewentien jaar oud was het ‘n vreeslike ongeluk haar getref.  Sy was ‘n goeie swemmer. Haar droom was om by die Olimpiese Spele deel te neem. Maar toe ry ‘n motorboot bo-oor haar, en die skroewe skeur haar liggaam uitmekaar.

En sy was baie hartseer, en wou haar droom om op die Olimpiese Spele te swem, laat vaar. En toe kom kuier Natalie du Toit vir haar.  En sy praat vir Shireen moed in.  En Shireen besluit sy gaan tog weer swem en begin oefen om in die Paralimpiese Spele te swem.

En daar wen sy en stel boonop ’n wêreldrekord op in die 100 m-rugslag vir vroue (S10-klas).  Sy het die beste gemaak van wat sy gehad het!

Nou die Bybel vertel ons van die apostel Paulus.

Een keer is hy in die tronk gegooi, omdat die mense nie wou hê hy moes vir ander van Jesus vertel nie.

En die tronk was ‘n baie slegte plek.

En wat dink julle doen hy?  Gee hy moed op?

Nee, hy besluit, ek kan mos nog skryf.  En hy skryf ‘n brief vir die mense in Filippi.  Dit is ‘n dorpie in Griekeland.  En hy sê vir hulle, julle moet onthou om alles te doen wat Jesus vir julle vra.  En julle moet onthou om lief te wees vir mekaar. En julle moet onthou om met ‘n glimlag te lewe.  Hoekom?  Want die Here is lief vir julle.

En dan sê hy vir hulle: as mense nie glo wat julle sê nie, moenie moedeloos word nie, moenie vir hulle skrik nie, maar hou by wat julle geleer het.

En so maak Paulus die beste met wat hy het, en hy moedig die mense van Filippi ook aan om die beste te maak met wat hulle het.

SKRIFLESING

Drie tekse uit Filippense vir die volgende drie weke.

Filippi was ’n kleinerige stadjie in die Noordoostelike deel van Masedonië (vandag Griekeland) waar talle Romeinse soldate afgetree het (Hand 16:12).  In ruil vir landbougrond het die veterane gehelp om die belangrike via Egnatia  – die pad tussen Europa en Asië – te beveilig.  Dit het ook gekeer dat Rome oorbevolk word met afgetrede soldate wat niks het om te doen nie. 

Filippense 1:20-30

20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23 Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25 Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26 As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

27 Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28 en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29 God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30 Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.

Gen 50:15-21 – Son 14 Sep 08

WOORDVERKONDIGING
KOM ONS TREK VIR ‘N OOMBLIK DIE SKOENE VAN DIE BROERS AAN.

Die broers het Josef regtig sleg behandel – hulle het sy lewe in Israel kortgeknip, hom van sy familie en sy mense ontneem, hulle het hom ‘n slaaf gemaak en verkoop aan ‘n klomp handelaars. En hulle het hulle pa belieg met hulle storie oor wilde diere wat vir Josef opgevreet het en so as’t ware Josef se gedagtenis uitgewis in sy tuisdorp.

Toe hulle uitgevind het dat Josef wonder bo wonder oorleef het, en boonop tweede in bevel in Egipte was, was hulle verras en natuurlik bly vir die uitkoms uit hongersnood waarin hulle was, en dat hulle daarby nie vir hulle misdaad moes boet nie.  Josef was immers duidelik daaroor dat hy hulle vergewe.

Maar blykbaar was daar diep binne in hulle die gevoel, sê nou maar net ons word êrens verantwoordelik gehou vir ons misdade.  En toe hulle pa sterwe het dié gevoel die oorhand gekry. Soos vers 15 sê: “En Josef se broers was bevrees na die dood van hulle vader”.

Die probleem van die broers lê dus nie by Josef nie, maar by hulleself. Josef se dade en woorde van hoofstuk 45 het reeds deeglik gewys dat hy met hulle versoen wil lewe … maar ons lees nêrens dat hulle hulle sonde bely en erken het nie, of vir vergifnis gevra het nie of dit aanvaar het nie.  So ons lei af dat hulle gevoel van skuld hulle gejaag het.

Die versekering wat Josef in Genesis 45 gegee het, het nie ’n blywende indruk op hulle gemaak nie. Daar het hy alreeds beklemtoon dat God hom voor hulle uitgestuur het (vers 3-8).

Maar noudat hulle pa dood is, begin die broers wonder of Josef se gesindheid nie sal verander nie.  Op ‘n manier besef hulle nou meer as tevore dat hulle aan die genade van hulle broer uitgelewer is.

Die interessante is egter, hulle kies om steeds ‘n pad van misleiding en emosionele manipulasie te volg, uit vrees vir die gevolge van hulle vroeëre dade.  

Daarom lees ons in vers 16, 17 dat hulle eers ’n boodskapper stuur om met Josef te praat om so aanvanklik ’n direkte konfrontasie te voorkom. Hulle probeer sy guns wen deur te verwys na hulle pa se opdrag tot vergifnis, waarvan ons nêrens anders lees nie, wat dus lyk asof dit opgemaak is.  Hulle pleit wel twee maal om vergifnis, en beskryf hulle sonde as misdade en onreg, maar van ‘n afstand af!  Op die koop toe, doen hulle ‘n beroep op hulle geloof in dieselfde God as hulle pa, interessant nie as dieselfde God as Josef nie!

Eers as Josef emosie toon en hulle die vermoede het dat hy hulle regtig sal vergewe, gaan val hulle uiteindelik voor hom neer.  Josef se broers maak dus steeds eintlik staat op misleiding om hulle gewete stil te kry.  Soos ‘n geleerde (Coates) sê: “They still depend on deception as a way of life.”

Wat sien ‘n mens dus hier in hulle lewe?

‘n Mens sien hier dat, sonder vergifnis en die aanvaarding van vergifnis, die broers aan hulle verlede vasgeketting bly.   Dieselfde vrees en angs uit hulle verlede, toe hulle ‘n storie moes opmaak oor Josef se dood, oorval hulle, sodat hulle eintlik weer fouteer.

Soos die verhaal van Peanuts waar Lucy aan die einde van ‘n bofbalwedstryd aan Charlie Brown verduidelik hoekom sy die bofbal mis gevang het: “Sorry I missed that easy fly ball, manager. I thought I had it, but suddenly I remembered all the others I’ve missed, and the past got in my eyes.”  

En die interessante is, daarmee erken die broers, dat die enigste een wat die siklus van wraak en weerwraak kan deurbreek, die een wat verontreg is, Josef.

Skuldgevoelens laat jou dus nooit los nie!  Totdat jy nie op ‘n plek kom waar jy eerlik jou sonde bely en erken nie, en iemand jou nie vrygespreek het nie, EN jy dit aanvaar het nie, is jy ‘n gevange van jou skuldgevoelens.

Soos een Joodse kommentaar sê: Josef se broers hoop vir haat om hulle skuld te vereffen (Wendy Amsellum). Sy vertaal (op voetspoor van die Middeleeuse Joodse kommentator Rashi) vers 15: “As Josef maar net vir ons haat …” i.p.v. “Sê nou net Josef haat ons  …”

Wat leer ons uit hulle verhaal?

Om los te kom van jou skuld uit die verlede, het jy nodig om die skuld te erken, bely, vergifnis te vra, en te aanvaar wanneer dit gegee is.  Dit is die enigste manier om van skuld los te kom.

Dit is waar van skuld op ‘n menslike vlak, en tussen ons en God.

En dit kan wees dat dié verhaal jou op dié vlak aanspreek. Miskien is daar iets wat jy moet gaan regmaak, of gaan sê jy is jammer, of sê jy is verkeerd.  Dit is waar die verandering begin, waar jy erken en bereid is om dit te bely.

KOM ONS TREK DAN NOU DIE SKOENE VAN JOSEF AAN.

Net soos in Genesis 45:2 huil Josef.

Dis moeilik om af te lei wat die rede vir sy trane is. Die atmosfeer van medelye oorheers egter beide Genesis 45, die eerste interaksie tussen Josef en sy broers, en hier in Genesis 50. Sy duidelike versekering dat hulle nie moet bang wees nie en dat hy steeds vir hulle sal sorg, benadruk sy omgee vir hulle.

Een geleerde (Wenham) dink dat Josef huil omdat hulle steeds bang is vir hom, en dat dit eintlik vir hom sy eie verlore verlede terugroep, en hy besef sy broers sit nou in die situasie waarin hy was, toe hy afhanklik was van hulle goedgesindheid daar by die put … en as seun nie by hulle gekry het nie.  Josef huil dus op ‘n manier sy broers se trane.  

Hy huil miskien ook oor die feit van sy verlore jeug en oor die feit dat die pad wat hy moes loop, van hom ‘n outcast gemaak het.  Om die waarheid te sê, ons lees aan die einde van hoofstuk 50, dat hy sy broers vra om sy bene na sy dood saam met hulle terug te neem na Israel – om darem in sy dood deel van sy vaderland te wees.

Maar Josef veroordeel nie sy broers nie, en bly by die keuse wat hy vir vergifnis gemaak het.  Hoekom?

Omdat Josef anders na die verlede kyk as sy broers.  

Die broers kyk na wat hulle self gedoen het in die verlede en heel gepas is hulle bang.  Josef kyk egter na die groter prentjie – dít wat God reg gekry het deur die presiese gang van die verlede, die kwaad ingesluit.  En Josef kyk na die droom wat God hom in sy jeug gegee het, en hy hou dít in gedagte, nie die skuld van sy broers nie óf sy verlore jeug nie.

En wat Josef raaksien, is dat met God, die slegste goed nooit die laaste goed is nie!  

  • God kan altyd nóg iets doen, as dinge lyk asof dit uit mekaar val.  
  • Die slegste goed is nooit die laaste goed nie.  
  • En dié God kan die kwade goed dink (Noordmans).  
  • Sy hand word juis in die donkerste tye sigbaar.
  • Selfs mense se bose planne verlam nie God se planne nie.
  • Mense beplan, maar die laaste woord kom van die Here af (Spr 6:16).
  • Bose planne dwarsboom nie God se planne nie, menigmaal bevorder dit juis wat Hy wil doen!

Maar Josef kyk nie net anders na die verlede as sy broers nie.  Hy verbind hom aan die goeie wat God beplan – dit is waarvoor hy kyk en dit is waarvoor hy lewe.

  • Daarom verklaar hy dat hy sal sorg dat daar kos vir sy broers se kinders is.
  • Josef aanvaar dus verantwoordelikheid om deel van God se goeie plan vir die toekoms te wees.
  • So, sê Gibson, word ’n verhaal wat met haat begin het, afgesluit met haat wat deur liefde oorwin word.
  • Uiteindelik word ’n familie wat deur haat uitmekaar geskeur is, weer in harmonie met mekaar gebring.  
Wat leer dit vir ons?
  • Dat ons ook kan verwag om God se hand in die donkerte van ons eie familie stories te sien.
  • Dat ons ook kan verwag dat dié God die kwade goed kan dink!
  • Dat die slegste goed nooit die laaste goed is nie – daar is altyd weer hoop, nie die hoop op haat soos die broers gevrees het nie, maar die hoop op die liefde.
  • En dat ons ons kan verbind aan die goeie wat God beplan – die droom van God om die goeie uit die kwaad te voorskyn te bring.
  • Ons kan ons verbind om aktief die roeping te aanvaar om deel van God se goeie toekoms te wees. Josef se rol is immers nie om sy broers terug te kry nie, maar om hulle te versorg; nie om hulle te veroordeel nie, maar om aan hulle ’n tuiste te gee.

Bybelskool: Pentateug – Chris van Wyk

Die Pentateug is die verhaal van God wat ingryp in die lewe van mense en veral families. Ons gaan in ses weke die Pentateug deurlees en telkens nadink oor die impak en betekenis wat dié verhaal vir ons lewe het deur te fokus op:

  • die bepalende historiese rol van die vier sleutel gebeure en vier sleutel karakters in Genesis;
  • die intrinsieke verband tussen slawerny, verlossing en openbaring in Eksodus;
  • die helder lig wat offers en die klem op heiligheid op ons verhouding met God en mekaar werp in Levitikus;
  • die uiteenlopende pad wat verskillende generasies met God stap in Numeri;
  • die waarde van ‘n gesprek met die verlede om die hede reg te waardeer en die toekoms raak te kan sien in Deuteronomium.

Follow Me – What’s next for you?

Follow Me. What’s Next for you? is die opvolg van Reveal – Where are you? deur dieselfde skrywers, Greg Hawkins en Cally Parkinson.  (Lees die volledige opsomming hierFollow Me - What's next for you?

Dit
bevat navorsing van 200 gemeentes, en 80 000 mense, en brei uit oor die
katalisators van geestelike groei, wat mense van gemeentes en leiers
verwag, die 2 hindernisse (op die voorblad sê hulle 6, maar dit verskil
van dít wat die hoofstuk self daaroor sê!) wat mense laat stagneer in
hulle geestelike groei en die 3 veranderinge wat Willow tans in hulle
bediening maak. 

In ‘n volgende fase is 500 gemeentes en 157 000 mense betrek, waaroor daar seker nog ‘n boek in die vooruitsig gestel word.

VOORSKOU

Johannes
12:26a struktureer dié refleksie oor die navorsing: “As iemand My wil
dien (my dissipel wil wees), moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal
My dienaar ook wees.”
Dit kan opgesom word in twee woorde: VOLG MY, die titel van die boek.

Na ‘n voorwoord van John Ortberg word In ses hoofstukke die volgende insette gemaak:

Hoofstuk 1: Follow the Leader – fokus op wat mense van die kerk en sy leiers verwag;

Gelowiges verwag transformasie en wil die vertroue hê dat die kerk en sy leiers hulle daarmee sal help.

Een
van die sleutel verwagtings van gelowiges wat uit die navorsing gekom
het, was: “Challenge me to grow and take the next step in my spiritual
life.” Reveal/Follow Me werk met die “vision gap” tussen 1) waar mense
nou is (werklikheid) en 2) waar hulle graag wil wees (visie) op
voetspoor van Peter Senge (Fifth Discipline) se navorsing.  Sy tese is
dat die gaping tussen werklikheid en visie ‘n “creative tension”
veroorsaak wat as sodanig die energie voorsien om die gaping te
oorbrug.  Dit is soos ‘n rubberband wat jou vorentoe trek.

Vir verandering om te gebeur, moet die kerk ‘n werkbare plan voorsien om die gaping te oorbrug. 

En dit is die hooffokus van die Follow Me refleksie as opvolg van Reveal:

  • om
    te verstaan hoe werklike mense prakties te werk gaan om die geestelike
    gapings in hulle lewens te oorbrug, sodat die kerk werkbare planne
    daarvoor kan voorsien.

Die kerk moet dus die gapings in
geestelike groei identifiseer en spesifieke stappe aanbied sodat mense
die gapings in hulle geestelike groei kan oorbrug.  Uiteraard wil hulle
nie ‘n honderd stappe gee nie, maar net die eerste 3 of 4 om ‘n
beweging te begin om die gaping te oorbrug.

Leiers moet dus
die rol van geestelike breiers inneem om mense te help met die
werklikheid (waar is ek?) en die visie (waar wil ek wees?) om hulle eie
gapings te kan identifiseer.


 

Hoofstuk 2: The Catalysts of Spiritual Growth – fokus op kern oortuigings en aktiwiteite wat geestelike groei inspireer

Willow
se “working definition of spiritual growth” is: “An increasing love for
God and for other people” geformuleer uit Jesus se samevatting van die
wet in Matteus 22:37-39.

Om agter te kom waar hulle mense op
die geestelike groei kontinuum is, het hulle vrae gebruik wat gebaseer
is op die Christian Life Profile Assessment Tool.  Dit is ontwikkel uit
die navorsing van Randy Frazee, senior pastor van Oak Hills Community
Church in San Antonia, Texas. Die meetinstrument is getoets en verfyn
deur baie forums in Amerika, bv. The Spiritual State of the Union, ‘n
voortgaande barometer van die “geestelike temperatuur” van Amerika, en
geborg deur die Universiteit van Pennsylvania en die Gallup
Organisasie.  Dallas Willard, J.I. Packer en Larry Crabb is van die
eksperte wat hierin saamgewerk het.  Dit sluit vrae in oor die redding
uit genade, die Triniteit, ‘n persoonlike God, die prioriteit van
Christus, die outoriteit van die Bybel, gelowiges se identiteit in
Christus en rentmeesterskap.

KATALISATORS
In hulle
ondersoek van 200 kerke en 80 000 mense is vier kategorieë van
geestelike katalisators gevind wat mense help om van een fase van
geestelike groei na die volgende te beweeg.  Die vier kategorieë is
afgelei uit die meting van die impak van meer as vyftig faktore op
geestelike groei.
Die vier katalisators is:

  1. Geestelike oortuigings en houdings
  2. Georganiseerde kerklike aktiwiteite
  3. Persoonlike geestelike praktyke
  4. Geestelike aktiwiteite saam met ander

In die bespreking van dié katalisators fokus hulle op drie bewegings wat mense van een segment na ‘n volgende laat beweeg:

  1. Beweging
    Een: die vroegste fase van geestelike groei (Ontdekker na Beginner) –
    veral die aanvaarding van Jesus as die enigste weg tot saligheid
    (laerskool).
  2. Beweging Twee: die intermediêre fase van
    geestelike groei (Beginner na Groeiende) – veral waar mense begin om
    meer aktief in hulle persoonlike geestelike ervarings te word
    (hoërskool).
  3. Beweging Drie – die meer gevorderde fase van
    geestelike groei (Groeiende na Christus-gesentreerde) – veral waar
    mense begin skuif van ‘n daaglikse bewussyn van Christus se
    teenwoordigheid en betrokkenheid na ‘n herdefinisie van ‘n persoon se
    identiteit as Christus-gesentreerd (universiteit).

Hoofstuk 3: The Spiritual Growth Learning Curve – fokus op die kern drywers van geestelike groei;

In
die hoofstuk word na die katalisators gekyk vanuit ‘n vertikale
benadering, om agter te kom watter katalisators is die mees
betekenisvolle, en die mees voorspelbare (predictive) vir elke
geestelike beweging. Hulle gebruik die voorbeeld van rangorde in roomys
geure: vanilla is die gewildste, sjokolade die tweede gewildste.  Maar
belangrik: vanilla is twee keer meer gewild as sjokolade.  Willow soek
dus na die “vanilla-faktor”.


 

BEWEGING 1: ALLES GAAN OOR DIE BASIESE DINGE (FUNDAMENTALS)

Twee sleutel insigte:

  • Basiese oortuigings is krities belangrik: Triniteit, Persoonlike God, Redding uit genade alleen, Gesag van die Bybel.
  • Kerklike aktiwiteite verskaf ‘n platform vir geestelike groei – naweek eredienste, diensgeleenthede in die kerk, kleingroepe

Die
top vyf geestelike katalisators in beweging 1: redding uit genade
alleen, Triniteit, diensgeleenthede in die kerk, gebed om leiding,
refleksie oor die Bybel (in rangorde geplaas)

BEWEGING 2: OEFENING, OEFENING, OEFENING

  • Die
    dominante krag wat hierdie geestelike beweging aandryf is die
    inoefening van geestelike dissiplines wat ‘n aktiewe persoonlik en
    intieme verhouding met Christus voed.
  • Geloof skuif van passief na aktief.
  • Persoonlike
    geestelike praktyke raak deel van die lewe – NB dit is toenemend ‘n
    twee-rigting verhouding, nie net praat met God nie, maar luister en
    veral die ervaring van gebedsverhoring.  Daarby is dit nie net die
    blote lees van die Bybel wat belangrik is nie, maar die reflekterende,
    kontemplatiewe en veral transformerende lees van die Bybel (‘n lees wat
    ‘n mens se denke en lewe verander).

Die top vyf geestelike
katalisators in beweging 2: Persoonlike God, gebed om leiding,
refleksie oor die Bybel, stilte, evangelisasie (in rangorde geplaas).
Mense
in dié fase van geestelike groei verwelkom: Bybelstudies, kursusse oor
geestelike temas, retraites (as boublokke in hulle geestelike groei).

BEWEGING 3: “IN THE ZONE”

Hier
gebruik hulle die gesegde oor Michael Jordan van die Chicago Bulls wat
byna nooit ‘n skoot gemis het as hy  in die “zone” was nie.  Dit gaan
hier oor die “sweet spot” waar die fokus op basiese dinge en die
inoefening daarvan begin vrugte lewer.

  • Mense in hierdie
    fase neem verantwoordelikheid vir hulle eie geestelike groei en maak
    nie staat op eksterne invloede vir hulle eie geestelike motivering en
    rigting nie.
  • NB – geestelike groei is in dié fase die grootste,
    anders as wat die algemene idee is, dat mense in die eerste fase die
    meeste groei en dat dit daarna afplat.
  • “Giving away my life” is
    die katalisator houding in dié fase, ook genoem ‘n tyd van geestelike
    vrygewigheid.  Dit het te make met tyd, geld, geloof en lewe.
  • Hierdie segment het die hoogste vlakke van diens, evangelisasie en dankoffers.

Die
top vyf geestelike katalisators in beweging 3: om my lewe weg te gee,
Christus is eerste, Identiteit in Christus, gesag van die Bybel,
refleksie oor die Bybel (in rangorde geplaas).

Die eerste faktor,
om my lewe weg te gee, is ‘n vanilla faktor, dit is twee keer meer
voorspelbaar as die ander vier faktore.  Die tweede faktor, Christus is
eerste, is soos sjokolade roomys, dit word baie hoër as die ander drie
faktore geëvalueer.

Hierdie mense het min nodig van die kerk om
te groei.  Wat hulle nodig het, is vir die kerk om hulle “die bal te
gee”, in Michael Jordan idioom.  In terme van die bekende Pareto
beginsel, 80 persent van die bronne moet vir hierdie 20 persent van
Christus-gesentreerde mense benut word.
Om dit eenvoudig te stel:
Alle gelowiges word beïnvloed deur die vier katalisators:

  1. Geestelike oortuigings en houdings
  2. Georganiseerde kerklike aktiwiteite
  3. Persoonlike geestelike praktyke
  4. Geestelike aktiwiteite saam met ander
  • Die eerste beweging gaan oor basiese Christelike oortuigings.
  • Die tweede beweging gaan oor persoonlike geestelike praktyke.
  • Die derde beweging gaan oor geestelike uitreik aktiwiteite.

Hoofstuk 4: The barriers to spiritual growth – fokus op twee struikelblokke in geestelike vordering, stagnasie en ontevredenheid;

Hoofstuk 5: Two breakthrough discoveries
fokus op die twee hoof bevindings van hulle ondersoek van 200
gemeentes, die enorme kapasiteit van Christus-gesentreerde mense om ‘n
groter koninkryk impak te hê, en die Bybel as die kragtigste
katalisator vir geestelike groei;

Hoofstuk 6: Changes at Willow
– fokus op die vordering van inkrementele verbeterings na ‘n
heroorweging van hulle kern strategie, met ‘n afsluitende woord van
Bill Hybels.

Daar is 4 bylaes: 1) die Reveal? projek, 2)
die navorsingsbenadering en metodologie, 3) die kerke se geografiese
ligging, grootte, denominasie en erediens style wat aan die ondersoek
deelgeneem het, en 4) die Spiritual Life Survey en wat dit aan
gemeentes bied.

(Lees die volledige opsomming hier