Matt 16:21-28 – Son 31 Aug 08

 

Dink aan wat God wil hê

 

Dit gebeur ontstellend maklik.  En dit gebeur as ons dink aan wat mense wil hê en nie aan wat God wil hê nie.  In die taal van die OAV:  die dinge van mense bedink en nie die dinge van God bedink nie.

Jesus help ons hier om te verstaan wanneer en hoekom goed verkeerd loop.  Ons word ‘n probleem en ‘n verleentheid vir die Here,  ‘n struikelblok, wanneer ons nie God se dinge bedink en eerste sy wil soek nie,  maar die dinge van mense bedink en dink wat mense wil hê, wat ons self graag wil hê, en dít najaag.  

Ons almal weet hoe maklik dit kan gebeur.  Ons wil Christene wees, maak erns daarmee, maar dis moeilik om te skei tussen ons wil en God se wil.  Ons het God lief, maar het die wêreld en al sy verleidings ook nog lief.  En soms is dit moeilik om te sien wanneer die dinge van God anders is as die dinge van mense.

Petrus hoor dat Jesus gaan ly. Dit klink nie vir hom reg nie, nie logies nie.  Petrus het beslis nie gedink dat hy praat van wat mense wil hê nie! En tog…  hy het niie gesoek na wat God wil hê nie!

Die dinge waaroor ons dink en droom, waaraan ons ons lewens wy, ons tyd spandeer, waarvoor ons werk en wat ons begeer,  dít wat ons dink moet gebeur, is nie altyd die dinge van God nie, maar dikwels die dinge van mense.  Dit is selfs soms waar van die kerk.  Soms begin ons dink aan die kerk as ‘n klub wat in my behoeftes moet voorsien.  Die kerk word ‘n produk wat ons verbruik, dikwels sonder om eers te vra wat God wil hê.

Augustinus help ons om ons denkfout hier te verstaan:  hy maak ‘n onderskeid tussen “gebruik” en “geniet”.  Hy sê:  Die Here se gedagte was dat ons die dinge van die wêreld sal gebruik om die Here en sy goedheid te geniet.  Ons draai dit om en gebruik die Here en sy goedheid om die dinge van die wêreld te kry en te geniet.

Sien, die pad in navolging van Jesus is ‘n pad waarop die Here ons aanmekaar na dieper vlakke van gehoorsaamheid lei.  Om op die uitkyk te wees hiervoor en leerbaar te wees, is ‘n baie groot deel van dissipelskap.  Kierkegaard het ‘n onderskeid gemaak tussen bewonderaars van Jesus, leerlinge van Jesus en dissipels van Jesus.
Waartoe Jesus ons roep, is dissipelskap – om God se wil te soek,
om Jesus te volg.

Lyding?

Die groot probleem is dat ons verkeerd dink oor lyding.  Dis natuurlik ook Petrus se probleem in hierdie teks:  hy verstaan nie dat die Messias moet ly nie en probeer hard om Jesus te keer.  Uit Jesus se nog heftiger reaksie is dit duidelik dat lyding nie iets is waaroor daar enige opsies sal wees nie.  Lyding is eenvoudig deel van die lewe – en deel van die verlossingsplan.

Onthou, dit gaan hier oor Jesus se lyding.  Dit was nie bloot toevallinge lyding, of omdat Jesus ‘n tragiese held wou wees.  Ons weet dat Jesus se lyding te doen het met mense se lyding en ons verlossing uit die lyding.  Hier, in Jesus se lyding, kan ons die hart van God sien.  Ons God kan nie verbystap by nood, seerkry, ellende en wanhoop nie.  Hy kan nie wegkyk wanneer mense swaarkry nie. Hy moet gaan help – al kos dit hom ook pyn en lyding en die dood.

En dit is wanneer ons hierdie hart van God sien, wat ons ook sien waaroor die lewe gaan.  Ons dink die lewe is veronderstel om gelukkig te wees.  As daar lyding en broosheid en sukkel is, moet ons net uithou,dit sal verby gaan.  Want sien, dink ons, lyding en broosheid is eintlik ‘n fout – daarom wil Petrus nie dat Jesus aan die kruis sterf nie.

Maar die lewe gaan nie oor plesier of prestasies of sukses of geld nie.  Die groot vraag is of ons kan omgee vir mense in nood soos wat Jesus dit gedoen het. As ons dit nie kan doen nie, verstaan ons nie alleen min van die lewe nie, maar ook min van Jesus en van dissipelskap.  Dit is presies ons huiwering  en vrees vir lyding wat maak dat ons soms in die pad van die evangelie kom.

Ons wil ‘n lekker goeie gemaklike lewe hê en is nie lus vir sukkel nie.  Iemand praat van westerlinge se onvermoë om swaar te kry. Vir baie van ons is die vermyding van lyding dié belangrikste motiveerder van ons lewens. Baie van ons dink dat dit ons reg is om nie hoef swaar te kry nie.

Dissipelskap

Maar dan, wanneer Jesus gepraat het oor sy lyding en dít wat God wil hê, praat hy oor die wese van dissipelskap, oor wat dit beteken om hom te volg: As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en my volg.  

Dis belangrik om te onthou dat dit nie gaan om selfverloëning en kruis dra as sodanig nie, ssof daar waarde in sig self is, maar om selfverloëning en kruis dra as volgelinge van en ter wille van Jesus.  As Jesus se lyding nie maar blote masochisme was nie, maar te doen het met die lyding van mense, dan is dit ook waar van ons selfverloëning en kruis dra.  Dit gaan nie hier om irrasionele eise aan mense wat bloot ons gehoorsaamheid en offervaardigheid toets nie, maar onder hierdie woorde van Jesus sit altyd die vraag na hoeveel ons omgee vir ander.

Die vraag is nie net of ons Jesus sal navolg nie, maar of ons soos hy sal omgee en help tot op die punt waar ons seerkry en gevra word om ons eie gemak op te gee, om onsself te verloën.  Die selfverloëning waarom dit hier gaan, beteken juis om jou tyd, gemak, middele, talente en gemoedsrus op te offer, diensbaar te maak aan ander in hulle nood.  

Waaroor dit hier gaan, natuurlik, is steeds Jesus. Dissipelskap is die vraag of ons net in Jesus glo en of ons hom volg ook?  Bonheoffer (wat letterlik gesterf het in navolging van Jesus) stel dit ontstellend sterk: “Ons het saamgedrom soos aasvoëls rondom die karkas van goedkoop genade, en daar het ons van die gif gedrink wat die lewe in navolging van Jesus doodgemaak het.”  

Dissipelskap gaan daaroor om te dink wat God wil hê, om hom nommer een in jou lewe te maak, bo jouself en jou eie behoeftes en begeertes en hóm dan te volg.

Frederick Marais vertel van ‘n gedig van Gabriel Setiloane – ‘n teoloog van Zimbabwe:

I am an African

And yet for us it is when he is on the cross
This Jesus of Nazareth, with holed hands and open side,
Like a beast at a sacrifice:
When he is stripped, naked like us,
Browned and sweating water and blood in the heat of the sun,
Yet silent,

That we cannot resist him

Om dan in navolging van Jesus uit te reik na dié in nood.  Dan reik ons uit, doen barmhartigheidwerk, uit ware geloof, in navolging van Christus.  
Nie as angstige soeke na erkenning of roem nie, nie as ‘n manier om ander afhanklik te hou of om die sinvolheid van ons eie bestaan te bevestig nie, nie uit jammerte of selfs uit eie liefde nie, maar uit die liefde van Christus, in navolging van hom.

Lewe!

 

Maar hierdie perikoop eindig nie net met die oproep om jou kruis op te neem en te sterwe nie.  Dit eindig met die belofte van lewe.  Want hierdie oproep tot dissipelskap, selfs tot kruis opneem, is nie ‘n sware las waaroor ons moet moedeloos raak nie.  Dit is deel van die evangelie.  Vers 24 moet altyd saam verse 25-26 gelees word.  Jesus spel die vreemde reëls van die koninkryk uit: Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe om Christus ontwil verloor, sal dit terugkry, sal werklik lewe.  

Wat die Here wil, is nie noodwendig altyd dieselfde as wat mense wil nie.  Lewe in navolging van Christus lyk nie altyd soos ons gedink het die lewe veronderstel was om te lyk nie, maar die lewe in navolging van Christus is werklik, ware LEWE.

Dit laat ‘n mens dink aan die saligsprekinge, waar die aanspraak van die  koninkryk telkens presies die teenoorgestelde is van die waardes waarin die wêreld glo en wat vir mense logies lyk.  Die wil van God is eintlik kontra-intuïtief.  Dis hoe die koninkryk werk!

Deel van die “lewe”, lê in die belofte dat Jesus by ons teenwoordig is.  Dissipelskap beteken om nie alleen te loop, alleen swaar te dra aan ‘n kruis nie. Jesus het reeds die kruis gedra.  Dissipelskap beteken om agter hom aan te loop, so naby aan hom as wat ons kan bly, om sáám met hom te loop.  Dit beteken dat ons kan rus in die wete dat hy ons nie sal stuur na plekke waar hy nie is of nie eerste sal ingaan nie.

As dit beteken dat ons soms deur water of deur vuur of deur dale van doodskaduwee moet gaan, dan kan ons altyd weet – die Here is saam met ons en DIT is lewe.
Amen

Terugvoer Barhmartigheid – Gemeenskapsaksies

(Gebaseer op gedagtes van CW Burger)

     

Trackback from your site.

Leave a comment