Skip to main content

Fil 2:12-18 Onberispelike Lewenswandel

Een van die uitstaande kenmerke van die fliek Babe, is die klein varkie se geweldige begeerte om die regte ding te doen.  Hy is altyd gereed om te doen wat nodig is.

  • As die gans hom vra om die wekker te gaan haal in die baas se kamer, gaan Babe sonder skroom in, al beteken dit dat hy in ‘n groot gemors beland toe hulle die verf omskop en die hele kamer bemors.
  • As hy agterkom dat ‘n klompie rondloper honde groot marakas aanjaag onder die skape, en dit net hy is wat iets kan doen, dan takel hy hulle sonder om eers twee keer te dink, en slaag selfs wonder bo wonder om hulle weg te jaag.
  • En die verhouding tussen hom en sy baas, Farmer Hogget (James Cromwell), is kosbaar.  Sy oë volg elke opdrag van sy baas, en met sy naïewiteit oorrompel hy almal met wie hy in aanraking kom.

Verwelkoming

Continue reading

Fil 1:27-2:4 – Die Gees van Christus verander ons gemeente tot vreugdevolle eensgesindheid

Wat hoor jy as jy die woord EENSGESIND hoor?

  • Presies dieselfde gesindheid?
  • Presies dieselfde gedagtes?
  • Presies dieselfde gevoelens?
  • Presies dieselfde gedrag?

Baie mense hoor die woord so, hou selfs daarvan, en veg daarvoor.  En bewaar jou as jy nie dieselfde doen, dink of voel nie.  Dan word jy en jou idees aangeval en verdag gemaak, sodat jy óf ingee óf uitgestoot word.  Baie politieke sisteme is so.  Selfs volksisteme en kulture funksioneer baie keer so.  Eensgesindheid word verstaan as om presies dieselfde te dink … en as jy durf verskil, dan verander jy van vriend in vyand.

Continue reading

Fil 1:27-2:4: Vreugdevolle eensgesindheid

Verwelkoming

Eiendomskommissie kom Woensdagaand 19:30 bymekaar.  Nuwe lede welkom.

RUS

  • In die Bybelskool lees ons tans die brief aan die Efesiërs.  En die gedagte van Vrydag bly my by: God woon in die gemeenskap van gelowiges.  Kom ons raak bewus van dié wonderlike werklikheid en gee ons aan Hom oor in gebed. En dan gaan ons saam met die koor daaroor sing.
  • Lied 158 – Koor vers 1 en 2, Gemeente vers 3 – sit

Toetrede

Votum en Seëngroet

Here, Jesus, U wat in die gestalte van God was, het U bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan U moes vasklem nie, maar U het Uself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan ons gelyk te word.

En toe U as mens verskyn het, het U Uself verder verneder.  U was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Uook tot die hoogste eer verhef en U die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Lofsang

  • Vonkk 85 (Psalm 8) – Here, ons Here, Hoe groot is U – Koor vers 1 en 2; Gemeente telkens keervers en vers 3 en 4 – sit
  • Liedboek 435 – Heil’ge Gees U bou ‘n tempel deur die Woord wat kragtig werk – staan

HOOR

Skriflesing

Fil 1:27-2:4

Kindertyd

  • Wat dink julle adverteer dié mense? Logos verskyn een vir een: Wimpy, Steers, Billabong.
  • Hoe weet ons ‘n hemp is van Billabong? Aan die Logo – dit laat mense dink aan Billabong.
  • Dit is ook so met ons in die kerk. Mense moet ook kan sien, ons is van die kerk.
  • Wat kan hulle van ons sien?
  • Moet ons ook ‘n teken dra? Ons kan ja.
  • Wat sou julle as teken kies?
  • Wat sien julle hier in die kerk wat ‘n belangrike teken is wat ons kan dra? ‘n Kruis ja.
  • So as ons ‘n kruis dra, dan kan almal sien, ons is kinders van die Here.
  • Maar weet julle.  Dit is wat die kruis beteken wat so belangrik is.
  • Wat sê die kruis van ons?
  • Jesus was so lief vir ons dat Hy vir ons aan ‘n kruis gehang het en vir ons sondes betaal het.
  • Nou kan ons net soos Hy vir ander mense lief wees, bereid wees om vir hulle goed te doen, al waardeer hulle dit nie eens nie.
  • As ons goed is vir ander mense, dan sien mense, ons is soos Jesus. Ons is mense van die kruis.
  • Die kruis herinner ons eintlik aan God se liefde vir ons, en ons liefde vir ander mense.
  • Julle gaan nou ‘n kruis maak in die toepassing om julle altyd daaraan te herinner.

Gebed

Woordverkondiging

Die Gees van Christus verander ons gemeente tot vreugdevolle eensgesindheid

Wat hoor jy as jy die woord EENSGESIND hoor?

  • Presies dieselfde gesindheid?
  • Presies dieselfde gedagtes?
  • Presies dieselfde gevoelens?
  • Presies dieselfde gedrag?

Baie mense hoor die woord so, hou selfs daarvan, en veg daarvoor.  En bewaar jou as jy nie dieselfde doen, dink of voel nie.  Dan word jy en jou idees aangeval en verdag gemaak, sodat jy óf ingee óf uitgestoot word.  Baie politieke sisteme is so.  Selfs volksisteme en kulture funksioneer baie keer so.  Eensgesindheid word verstaan as om presies dieselfde te dink … en as jy durf verskil, dan verander jy van vriend in vyand.

Selfs in die kerk is dit soms so.  Eensgesindheid word baie keer misverstaan as om dieselfde te dink, en om by die meerderheid se denke en gevoelens in te val.  En mense wat anders doen, dink of voel word baie keer uitgestoot, meer as vyande hanteer as vriende binne dieselfde gemeenskap.  En ongelukkig is dit baie keer dié tipe reaksies wat ons sien in die briewe in die koerante en in die groot uitsprake wat gemaak word.  Mense wat eintlik met ‘n idee van eensgesindheid werk wat beteken almal moet presies doen, dink of voel soos hulle doen, dink of voel.  En wee jou as jy durf verskil …

Só ‘n verstaan van eensgesindheid is egter verdelend.  Dit jaag mense uit mekaar, sommige op dié hoop en ander op daardie hoop.  Dit skep vyandskap, baie keer tussen mense wat nie net van beter behoort te weet nie, maar mekaar ook boonop nodig het.  Want ons almal het mos maar net ‘n deel van die waarheid beet, en ons het mekaar nodig, om uit almal se bydraes, almal se verskillende bydraes, ‘n beter prentjie van die waarheid, ook Die Waarheid, Jesus, te vorm.

Dit is immers waarom ons 4 evangelies het, en nie net 1 nie.  Dit is waarom ons 13 briewe van Paulus het, en nie net 1 wat sommer vir almal sou gegeld het nie.  Dit is waarom daar Konings en Kronieke is in die OT, wat min of meer dieselfde geskiedenis dek, net uit verskillende hoeke, en 150 Psalms en nie net 1 nie.

Verskillende perspektiewe vorm die volle prentjie van God se genade en die lewe wat Hy skenk.

Wat bedoel Paulus dus as hy hier in Filippense oor eengesindheid praat?

Wel dit is duidelik dat hy nie daarmee bedoel dat almal dieselfde hoef te doen nie.  Ons het verlede week gehoor dat hy bly is dat Christus verkondig word, al het sommige eintlik daarmee vir Paulus probeer bykom.  Vir hom was dit nie so belangrik dat jy dieselfde doen as hy nie, maar dat Christus verkondig word.  Dit is immers sy hele punt oor die verskillende gawes wat die Here vir sy kerk deur die Heilige Gees gegee het.  Dit is sodat die verskeidenheid gawes die eenheid binne die liggaam van Christus sou dien.  Almal kan nie dieselfde dinge doen nie.  Dit sal tot ernstige eensydigheid lei en die hele bediening van die kerk verskraal.  Eensydigheid is nie eensgesindheid nie.  Ons hoef dus nie dieselfde dinge te doen nie.

Dit is ook duidelik dat hy nie daarmee bedoel dat almal dieselfde hoef te dink nie.  Daarom skryf hy op ‘n hele paar plekke in sy briewe dat mense nie oor alles hoef saam te stem nie.  In sy vroeëre brief aan die Romeine sê hy byvoorbeeld dat as jy ‘n ander idee het oor die eet van kos of wyn, of oor die viering van een dag van die week as belangriker as die ander – die hele debat rondom die viering van die Sondag – dan is dit reg so.  Jy moet net vasstaan in jou eie oortuiging en nie ander mense verkwalik of nog erger verag of veroordeel as hulle van jou verskil nie (Rom 14).  Jy hoef dus nie oor alles saam te stem nie.  Jy hoef nie oor alles dieselfde te dink nie.  Eendersdenkend is nie eensgesindheid nie.

Dit is ook duidelik dat hy nie daarmee bedoel dat almal dieselfde hoef te voel nie.   Want voel en dink was eintlik verbind aan mekaar.  Daarom kon hy die woord hart wisselend gebruik, soms vir denke en soms vir gevoelens en soms sommer vir jou hele lewe.  Dit is in elk geval so dat gevoelens en denke eintlik albei met ons interpretasie van die werklikheid te make het.  En sommige van ons werk meer met die effek op die geheel van ons lewe (en daar is niks fout mee nie), en ander meer met die logika van die reaksies wat ons daarop het (en daar is niks fout daarmee ook nie).  Slim mense sal juis sorg dat albei kante beklemtoon word, en gebruik word om goeie besluite te maak en te sorg dat ons optredes van emosionele sowel as intellektuele volwassenheid en intelligensie getuig.

Eensgesindheid is dus nie om dieselfde te doen, of te dink, of te voel nie.  Dit is in elk geval ‘n onhaalbare droom.

Wat bedoel Paulus dus as hy oor eensgesindheid praat?

En maak geen fout nie.  Dit is baie belangrik dat ons dit verstaan.  In ons teksgedeelte wil hy ons juis aanmoedig om hierdie eensgesindheid te handhaaf na buite toe – in ons interaksie met die gemeenskap – en na binne toe – in ons interaksie met ons eie gemeenskap.  En daarby wil hy hê dat ons dit met vreugde sal doen, en met oorgawe.  Eensgesindheid moet nie vir ons soos ‘n keurslyf voel nie, ‘n korset van stowwerige muwwe eenderse denke, gevoelens en dade nie, waar jou bydrae vir jou by voorbaat voorgeskryf word, en jy geen unieke kreatiewe buite-die-boks bydrae kan maak nie.

Ons moet mekaar mos juis verstom met wat die Here deur ons unieke gawes kan regkry.  En dit kan nie gebeur as ons dink dat eensgesindheid is om dieselfde te dink, doen en voel nie.

Wat bedoel Paulus dus as hy oor eensgesindheid praat?

Uit die teks het ek drie perspektiewe gehaal wat vir my die essensie daarvan saamvat:

1.  Eensgesindheid is om dieselfde soort denke, gevoelens en gedrag te hê

Dit is wat die Griekse woord in wese bedoel.  In Engels is die beste vertaling vir my like-mindedness, soos die NIV dit het.  Dit beteken om dieselfde soort denke, gevoelens en gedrag  te hê.

  • Een analogie is dié van families.  Hulle lyk nie dieselfde nie, in elk geval nie presies nie.  Maar hulle het dieselfde soort voorkoms.  Die hare, die oë, die stappie, die eetlus.  My ma moes gister ‘n groot swerm bye laat verwyder by haar huis.  En sy het ‘n byeliefhebber gekry, wie se hele familie met bye boer en met bye werk.  Kinders, ouers.  Hulle is bye-mense, en dit was blykbaar ‘n plesier om die man dop te hou.  Die gemaklikheid met die bye.  Die hartseer toe dinge bietjie skeef loop, trane wat uit sy oë loop toe in die proses die koningin deel van die koek seerkry, en hy weet, dit is eintlik die einde van die swerm.  ‘n Regte bye-mens!
  • Geen wonder dat Paulus dus soveel moeite doen om die gemeente van Filippi as adelphoi, broers en susters, aan te spreek nie.  Want hy wil die spyker diep inslaan.  Hulle is familie van mekaar, geestelike familie. En dit beteken dat as jy na twee Christene kyk, hulle nie noodwendig soos identiese tweelinge sal lyk nie, maar soos kinders uit dieselfde familie.  Jy gaan egter nie by hulle kyk na die oë, soos by regte families nie, of dit meer ovaal is, en of hulle langer wimpers het, of dieselfde tipe lagplootjies nie.  Jy sal nie eintlik kyk na die haarlyn nie  – of daar nou baie hare is of min – om hulle uit te ken nie
  • Nee, jy gaan kyk na die ooreenkoms in hulle Christelike lewenstyl, die manier waarop hulle in die gemeenskap en in die gemeente optree!  Jy kan sien aan hulle manier van praat, voel en doen, ja, dié mense kom van dieselfde stamboom af, nie soos bloedfamilie nie, maar soos geestelike familie.  Daar is verskille, ja, maar genoeg ooreenkomste, sommige soms so ontwykend dat jy dit nie eers kan plaas nie, maar genoeg van ‘n ooreenkoms om jou te oortuig: hulle is familie, geestelike familie, van dieselfde soort, met dieselfde soort optrede.
  • ‘n Mens sou ook die analogie van ‘n land of nasie kon gebruik. Soms kan jy ooreenkomste tussen mense van dieselfde land sien in hulle uiterlike voorkoms – kleur, lengte, uitdrukkings, taal ensomeer.  Soms is dit nie soseer die uiterlike voorkoms nie, maar die dinge waarvan hulle hou.  Hulle skree vir dieselfde span, of hulle skree vir dieselfde nasionale sport, of hulle eet dieselfde tipe kos, selfs al is hulle in die buiteland.  Ek onthou nog die Chinese meisie van die Doulos wat by ons eenmaal 2 weke gebly het, en ek onthou haar frustrasie met ons “brood”-dieet van daardie tyd.  Sy het gesmag na rys, want dit is haar stapel-dieet.
  • Nou, na aanleiding hiervan, is eensgesindheid wanneer jy na twee Christene kyk, en dit vir jou lyk asof hulle van dieselfde dorp of land af kom.  Hulle skree vir dieselfde tipe helde, en vir dieselfde tipe prestasies.  Hulle huil oor dieselfde tipe goed, en hulle juig oor dieselfde tipe goed.  Dieselfde tipe goed raak hulle harte, bring hulle in beweging – al doen hulle dit verskillend – sommige huil terwyl die trane in hulle keel afloop en jy niks buite sien nie, en ander huil snot en trane.  Maar as jy fyn kyk, sien jy dat hulle ‘n gedeelde hart vir mense en vir die wêreld het.

Hawthorne sê dit pragtig: Eensgesindheid is “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ”.

Eensgesindheid is dus om dieselfde soort gesindheid te hê, as lede van dieselfde familie op te tree. Om dieselfde tipe dinge te doen, dieselfde tipe dinge te dink, en dieselfde tipe dinge te voel.  Eensgesindheid is nieeendersdenkend nie, maar om dieselfde soort denke, gevoelens en gedrag te hê en lojaal aan mekaar te bly as broers en susters in die Here.

2.  Dieselfde liefde, een van siel, een van strewe

Paulus gaan verder en spel dit uit met ‘n paar ander beskrywings.  Hy kwalifiseer eensgesindheid met drie frases:

  • Eensgesindheid is om: “dieselfde liefde te hê”.  Hy gebruik die woordjie agape – liefde ten spyte van – presies dié tipe liefde wat groter en groter moet groei in ons sodat ons kan onderskei waarop dit regtig aankom (vgl 1:9).  O, hoe belangrik is dit nie!  Om bekend te word as iemand wat nie net lief het ter wille van nie, of lief het vir dié wat vir hom of haar liefhet nie, maar lief het ten spyte van.  Dit is ook een van dié belangrikste maniere waarop ons kan onderskei wie met die liefde van Christus optree in die verskillende debatte wat op die oomblik in ons dagblaaie gevoer word.  Eensgesindheid blyk uit die teenwoordigheid van liefde wat ten spyte van oorkom, nie noodwendig in terme van dieselfde denke of menings nie.
  • Eensgesindheid is om: “een van siel te wees”.  Hy gebruik die woordjie sumpsuchos – “togetherness in soul”, emosies in harmonie.  Waarskynlik lê hieragter die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het.  Hierdie hele idee van harmonie lê ook ingebed in die ervaring van eensgesindheid: nie presies dieselfde gevoelens nie, maar gevoelens wat in harmonie is met mekaar, compatible, versoenbaar.  En onthou, as  ’n mens nie die harmonie ervaar in ’n gemeenskap nie, dan soek jy daarna, praat jy daaroor met mekaar, bid jy met mekaar, loop jy die pad met mekaar, totdat daar ’n harmonie tot stand kom.
  • Eensgesindheid is om: “een van strewe te wees”.  Paulus gebruik die woordjie phronountes – denke in harmonie – NIV vertaal: “being one in purpose”.  Maar belangrik, hierdie eenheid van strewe beteken nie om presies dieselfde gedagtes te hê nie.  Hierdie eenheid van strewe beteken dat ons manier van dink in harmonie kom, soos ’n legkaart wat uit verskillende stukkies bestaan en wat by mekaar pas.

Een van die belangrikste maniere om dié eenheid van gedagtes te bereik, is om eenheid in Christus te soek, en nie in ons eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie.  Ons moet ook veral nie ons onvolledige kennis gebruik as ’n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie.  Hiervoor het ’n mens nederigheid nodig, sowel as baie dapperheid, presies dít wat Christus gedemonstreer het, soos Paulus net hierna sal verduidelik!

3.  Dieselfde gesindheid as Jesus Christus

Maar daar is nog ’n ander kant van eensgesindheid.  Eensgesindheid beteken ten diepste om dieselfde gesindheid as Jesus Christus self te hê, iets waaroor Rethie volgende week meer gaan sê.

Dieselfde gesindheid, sê Paulus in 2:5, moet in ons wees as wat in Christus Jesus was, wat aan die een kant nie skaam was vir wie Hy was nie, maar aan die ander kant nie krampagtig daaraan vasgeklou het nie, en bereid was om met sy woorde, gevoelens en dade vir ons as mense te dien, lief te hê, ten spyte van wie en wat en hoe ons is, en só vir ons ’n voorbeeld gegee het om na te volg.

Om eensgesind te wees, beteken dus eenvoudig om soos-Jesus-gesind te wees.

Wat beteken dit vir ons prakties?

Wel, dit beteken:

  • Dat ons alles in ons vermoë sal doen om alle kinders van die Here om dieselfde tafel te kry.  Dit is wat Paulus onder andere in Antiogië gedoen het.  Hy het hom beywer om die Joodse en heidense Christene in Galasië aan een tafel te kry, sodat hulle eensgesindheid rondom die Nagmaalstafel, as simbool van hulle groter eenheid, kon demonstreer.  En hy het almal aangevat wat dié gemeenskap bedreig het – Petrus, Barnabas – op só ’n wyse dat hulle uiteindelik ook saam aan tafel gesit het (Gal 2).  Ons mag geen ander maatstaf aanlê vir ons gemeenskap met ander gelowiges as die geloof in Jesus Christus nie.  En ons moet alles in ons vermoë doen om gelowiges om een tafel te laat sit, as getuienis van hulle geloof in die Een Here, Jesus Christus.
  • Ek hoor dié week die storie van die ou wat skipbreuk gely het en vir 20 jaar alleen op ‘n eiland moes bly, amper soos met Castaway, Tom Hanks se fliek.  Toe ‘n skip na 20 jaar daar aandoen, en hulle hom daar kry, sien hulle daar is 3 hutte gebou.  Hulle vra toe, waarom 3 hutte?  Hy sê, wel ek het in die middelste een gebly.  En die ander 2?  Nee, daardie een was eers my kerk.  Maar ek gaan nie meer daarnatoe nie, ek het ‘n nuwe een hier gebou.
  • Eenheid tussen kinders van die Here is nie onderhandelbaar nie.  Ek praat nie nou van ‘n fokus op behoeftes of op kommunikasie of iets dergeliks wat jou bediening kan struktureer nie.  Maar ek praat wel daarvan as ‘n mens ‘n onderskeid soos kultuur of etnisiteit as verdelingsbeginsel gebruik, presies die dinge wat die Belydenis van Belhar so helder aanspreek.  Eenheid tussen verskillende kinders van die Here is ‘n gegewe, iets wat God tot stand gebring het, en ons het nie die reg om dit te verander nie.
  • En ek praat hiermee uiteindelik ook nie eers net van die eenheid in ons kerkfamilie nie.  Ek praat van die eenheid wat oor alle grense heen reg oor die wêreld gaan, en wat denominasies in hulle wese uitdaag om eenheid na te jaag en na te strewe, soos Paulus so diepsinnig oor skrywe in sy brief aan Efese.  Terloops, dít is waarom Johannes die gemeente in sy brief aan Efese gewaarsku het dat hulle hulle eerste liefde verlaat het en dit weer moet herwin, die liefde vir God wat die basis is vir hulle liefde vir mekaar … as jou liefde vir Jesus Christus afneem, is daar net nie meer dieselfde samebindende onderlinge krag beskikbaar nie …
  • Dat ons saam sal onderskei wat is belangrik en wat nie – soos Paulus die Filippense aanraai in hoofstuk 1.  Ons mag oor sekere dinge verskil, bv oor kos en wyn, oor die Sondag ensomeer (1 Kor 8-10; Rom 14-15).  Ons moet mekaar toelaat om elkeen sy eie mening daaroor te handhaaf, en ons mag mekaar nie wedersyds veroordeel of verag nie.  Maar, ons moet met mekaar in gesprek bly, selfs daaroor, sodat daar ’n harmonie in gedagtes kan ontstaan.  Ons hoef nie dieselfde te dink nie, maar ons moet dit regkry dat ons verskille nie die onderlinge lojaliteit en liefde bedreig nie.
  • En ons moet ook saam dink oor dié dinge wat regtig belangrik is, waaroor daar eintlik net een legitieme opinie kan bestaan, bv oor Jesus Christus se opstanding (1 Kor 15), of etiese vraagstukke soos bloedskande (1 Kor 6), sodat ons daaroor kan saamstem.  Daarvoor is dit nodig dat ons gereeld bymekaar kom en gesels en bid en reflekteer en weer bid en net nooit ophou nie.
  • En onthou, die uitdaging sal altyd wees om nie net verdraagsaam te wees nie, maar, soos NT Wright sê: “to welcome one another; to rejoice in each other’s presence and the rich diversity of God’s people; and, ultimately, to worship together with one heart, mind and voice”.
  • Dat ons met dieselfde gesindheid saam sal stry vir die evangelie in die wêreld. Paulus skryf hier in hoofstuk 1 vers 27: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees”.  Ons stryd vir die evangelie in die wêreld, vir geloof in Jesus Christus, moet ons saamsnoer om die uitdagings van die evangelie die hoof te bied.  En dit beteken nie net dat ons ons geloof in Hom publiek moet handhaaf nie, maar dat ons ook selfs bereid moet wees om daarvoor te ly, soos hy uitspel in 29.
  • Dit is juis waarvoor Paulus in hoofstuk 2 van die troos in Christus, die aansporing van die liefde (van God die Vader), en die gemeenskap deur die Gees praat, want dít is wat God Drie-enig binne ons doen, sodat ons na buite met een liefde, een siel, en een strewe, eensgesind sal optree.  Dan sal mense sien ons is van dieselfde familie, burgers van die hemel, mense wat die kruis van Jesus Christus met oorgawe en trots dra.

Gebed

LEEF

Dankoffer

  • Vonkk 127 – Koor
  • Liedboek 434 – staan
  • Lied 434 se laaste drie reëls – “Maak ons in liefde eensgesind”

Slotlied

Seën

Amen

Fil 1:12-26: Vurige vrymoedigheid

Die Gees verander ons gemeente… tot vurige vrymoedigheid | Fil 1:12-26

Verwelkoming
Afk
Toetrede

Lied 164 Ons is almal hier tesaam (staan)

Votum (PS 111:1-4)

Seëngroet (Fil 1:1-2)

Lofsang

(Leesrooster) Ps 111:1 & 4 Psalmverse vrouens, almal keervers (staan)

(teks) Lied 306 (sit)

Kerkraadsvoorstelling

ð Lied 284: 1 & 3 (sit) – HUL, daarna my – saam in diens

Gebed
Skriflesing

Fil 1:12-20

Kindertyd

Paulus baie swaar gekry:

tronk,

skipbreuk…

Skryf brief kwartaal lees, uit tronk

 

Kon heel tyd God bly loof.

Gehoor hoekom?

Gees krag gee

omdat gemeente vir hom bid!

 

Navorsing siekes – nie eers geweet bid.

  • Minder komplikasies
  • word gouer gesond

 

Baie NB ons gelowiges mekaar bid

Baie keer mense ons help Here te ken,

bv KR lede voorgestel

dink hulle sommer okay –

leer by Paulus: bid

Afk – week almal bid

(vra ouers help) –

vind uit wie ouderling is.

Preek

St Patrick sinoniem Iere

Was nie self Ier.

Toe 16 was,

deur Walliese plunderaars gevang,

as slaaf na Ierland ontvoer.

6 jr slaaf,

ontsnap, terug na familie.

 

Op ou end as sendeling terug na Ierland –

diegene hom ontvoer,

as slaaf aangehou.

Kerstening Ierland vandag algemeen hom toegeskryf –

danksy sy werk Iere tot bekering.

 

Bekende seën:

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is onder jou om jou te dra as jy sou val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.

Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen.

 

Verhaal jong seun,

sendeling word

evangelie bring mense hom benadeel,

laat dink verhaal Paulus.

 

Wanneer Paulus hierdie brief skryf,

twee probleme:

1.  Is in tronk.

 

Vir rondreisende sendeling soos Paulus,

om in tronk te wees

amper soos vir konsert-pianis

hande agter rug vasgemaak.

 

2.  Mense wat oor Jesus praat,

bloot om hom by te kom.

Ons veronderstel

ander Christelike groep –

sekte –

Jesus verkondig,

nie bedoel.

 

Ander moontlikheid [NT Wright]

ongelowiges.

Sien vrug Paulus werk.

Nou versprei stories:

Gehoor?  Hulle’t daai weird ou wat so praat van nuwe koning, gevang.

En jy sal nie glo nie, die koning wat hy kamstig verkondig,

al die tyd Jood –

wat paar jaar terug al gekruisig!

 

Nou wil hierdie tronkvoël sê hy lewe weer,

is ware Here van wêreld!”

 

Daarop uit om Paulus na mal swaap te laat lyk.

 

Maklik vandag teks lees

– sien mos duidelik Paulus steeds glo,

steeds hoop,

“Wat maak dit saak?” –

dink Paulus nie aan die goed gesteur,

sommer so in stride gevat.

 

Maar hoor gou wat Paulus 2 Kor 1 (8-11)skryf –

waar beskryf wat eintlik gebeur het voor vrygelaat:

Die swaar wat ons moes verduur,

het ver bo ons kragte gegaan,

sodat ons selfs die hoop om te bly lewe,

laat vaar het.

9Trouens,

dit het vir ons gevoel

asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is.

Maar dit het gebeur,

sodat ons nie op onsself sou vertrou nie,

maar op God

Hierdie geloof Paulus nie oornag gekom,

nie sonder worsteling.

 

Wat dan wat gehelp te kan bly staan,

in tronk hierdie brief te skryf,

praat oor geloof,

vreugde, ens?

 

Eerstens natuurlik Paulus onwrikbare geloof

dat God alles gebruik.

 

Twee weke terug:

Gees werk deur bevestiging

EN deur ontwrigting.

 

Paulus oor en oor in lewe gesien –

hoe Gees juis tronke gebruik,

juis ontwrigting deel is God plan

om evangelie te bring.

 

Bybel natuurlik vol daarvan.

Dink Josef

Gen 50:20:

Julle wou my kwaad aandoen,

maar God wou daarmee goed doen:

Hy het gesorg

dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.

Tweedens Paulus geweet gelowiges vir hom bid –

krag van gebed beleef.

 

Derdens beleef Gees self hom bystaan (v 19).

 

Laaste ding hom gehelp:

fokus!

 

Paulus geweet,

maak nie saak wat gebeur,

gaan steeds doel bereik:

Daarom kan sê:

om te lewe is vir my Christus

en om te sterwe is vir my wins.

 

Kan dit doen,

want net een doel voor oë:

om Christus te verheerlik.

 

Al die ander goed,

alles wat hy doen,

elke keuse wat hy maak,

sy reaksie op elke situasie,

gebaseer op hierdie een fokus:

om Christus te verheerlik.

 

Is hoekom sê:

ek beskou alles as waardeloos,

want om Christus Jesus

 

Alles gaan vir Paulus oor hierdie EEN ding:

om Jesus te verheerlik.

 

Gaan nie oor hom,

sy gerief

sy sukses

sy voorkeure

selfs sy drome of hoop –

gaan oor Christus.

 

Daarom kan self prysgee,

kan eie drome opsy skuif,

sê:  ek wou eerder dít,

maar sodat Christus verheerlik kan word,

kies ek dít.

 

Kan voortgaan,

ook wanneer vir hom moeilik,

want vra in elke situasie:

hoe kan hierdie situasie Christus verheerlik?

Hoe kan ek op hierdie situasie reageer

op manier wat Christus verheerlik?

 

Nou hier sit ons nou.

Dalk metaforiese tronk –

besigheidsprobleme

huweliksprobleme

gesinsprobleme

gesondheidsprobleme

verhoudingsprobleme

finansiële probleme,

ens.

 

Kan natuurlik nie net so gelyk stel Paulus tronk –

hy in tronk direkte gevolg van getuig vir Jesus.

 

Wel soms ons metaforiese tronke getrou Jesus –

bv weier sekere besigheidspraktyke.

 

Maar meestal nie so eenvoudig –

soms tronke agv eie ongehoorsaamheid

soms agv ander ongehoorsaamheid

soms gewoon gevolg boosheid.

 

Maar kan steeds by Paulus leer,

hoe leef – en glo – in tronk:

  • Mekaar bid
  • Weet Gees ons bystaan
  • Oortuiging God kan gebruik.

 

Hoef nie Pollyanna rond huppel,

maak asof tronke ons nie soms vasdruk,

vir ons pynlik is.

 

Maar kan ook,

soos Paulus,

te midde van ons tronke sê:

my vurige verlange

om met alle vrymoedigheid –

ook nou, in hierdie tronk –

Christus verheerlik.

 

Ons sukkel soms sien

hoe lewens Christus verheerlik.

Miskien Sondae,

dalk stiltetyd:

maar in lewe en sterwe,

met hele wese?

In alles,

elke oomblik?

 

Paulus maklik:

apostel,

is al wat gedoen.

 

Dalk nog sendelinge,

dominees.

 

Maar wat van gewone mense,

waar dag tog dag lewe,

werk,

kinders met huiswerk help,

tiener skree kamer skoonmaak –

hoe Christus verheerlik?

 

Interessant teks:

Paulus wil eintlik sterf.

Kies op ou end lewe –

ter wille van mense vir wie lief.

 

Ons verheerlik Christus,

wanneer onthou:

gaan nie oor my.

Nederigheid ander hoër ag as homself –

soos in komende weke gaan sien.

 

Verheerlik Christus wanneer mekaar liefhet:

wanneer jy jou vrou respekteer,

wanneer jy jou kinders opvoed,

wanneer jy jou gedagtes rig

op alles wat waar, edel, reg, rein, mooi, prysenswaardig is

(Fil 4).

Wanneer jy jou werknemers billik behandel

wanneer jy bydra tot ander mense – leerders, studente – se opvoeding

wanneer jy liefhet,

wanneer jy ook al reg doen,

verheerlik jy Christus.

 

Ook in ons tronke

kan ons vra:

hoe kan dit Christus verheerlik?

Hoe kan ek in hierdie situasie optree

op manier Christus verheerlik?

 

So,

maak nie saak wie ons is,

wat ons doen,

wat ons tronke is,

of ons Christelike reuse is

of maar die ou rokie wat agterna hardloop,

ons kan, soos Paulus,

sê

ek wil altyd

met alles

vir Christus verheerlik.

Gebed

Vervolgde kerk

Christus verheerlik

Dankoffer [verheerlik Christus]
Slotlied

Vonkk 63:1-3 Here Jesus Chr kom alles van my vra (staan)

Seën
Respons

Ps 111 Keervers

Fil 1:12-26: Die Gees verander ons gemeente tot vurige vrymoedigheid – 29 Januarie 2012

St Patrick sinoniem Iere – Was nie self Ier – Toe 16 was, deur Walliese plunderaars gevang, as slaaf na Ierland ontvoer.

6 jr slaaf, ontsnap, terug na familie.  Op ou end as sendeling terug na Ierland – diegene hom ontvoer, as slaaf aangehou.

Kerstening Ierland vandag algemeen hom toegeskryf – danksy sy werk Iere tot bekering.

Continue reading

Fil 1:1-11 – Die Gees verander ons gemeente deur kennis en ervaring – 22 Jan 2012

Verwelkoming

RUS

Toetrede

  • Lied 519:1-4 – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

  • Psalm 8 (Lina Spies):1-3 – staan
  • Lied 220:1,3 – sit
  • Lied 526 (Afr, Latyn, Afr) – sit

HOOR

Kindertyd

Dit was darem warm, nê!

Wat doen julle die graagste as dit warm is?

Wie van julle kan al swem?

Wie het julle geleer swem?

Wie is dit dié?

Ryk Neethling – Swem kampioen

En wie is dit dié?

Natalie du Toit – Swem kampioen

Kan ‘n mens sommer so goed soos hulle swem?

Wat moet jy doen?

  • Leer
  • Swem

Net een keer?

  • Oefen tot jy regtig goed is daarmee.

Toepassing in die lewe

Dit is so met alles in die lewe.

  • Jy leer wat jy moet doen.
  • Jy oefen dit.
  • So raak jy goed daarmee.

Dit is so met skryf.

  • Graad eentjies – hoe vorder julle met die skrywery?

Dit is so met fietsry

Dit is so met koekbak, en motor ry en leer

  • Jy leer, jy oefen, jy raak goed daarmee

 Toepassing in die kerk

Dit is nie anders in die kerk nie.

Die Here wil hê dat ons vir Hom moet liefhê, en dat ons ander mense ook moet liefhê.

Ons kan die Here egter nie sien nie.

Hoe het ons vir Hom lief?

  • Hy hou daarvan dat ons sing.
  • Hy hou daarvan as ons bid.
  • Hy hou daarvan as ons van Hom leer in die Bybel.
  • Hy hou daarvan as vir ander vertel van Hom.
  • Hy hou daarvan as ons vir ander mense goed is, want dan maak dit Sy hart bly.

Dit is waarom ons nuwe liedjies leer.

Onthou julle nog laasweek se liedjie?

Filippense vier vers vier sê, verbly jul in die Heer (x2)

Verbly jul, verbly jul, verbly jul in die Heer (x2)

Julle gaan netnou dit verder leer, en sommer ook leer wat dit beteken om regtig bly te wees.

Maar dit help nie ons leer dit net een keer nie.

Ons moet dit oor en oor sing totdat ons dit ken en ons dit vir die Here kan sing.

Dieselfde met bid en Bybellees, en vir ander vertel van Hom en om vir ander mense goed te wees.

Ons moet leer hoe om dit te doen, en dan moet ons dit doen, totdat ons goed raak daarmee.

Gebed

Skriflesing

Hierdie intens-persoonlike brief aan die gemeente van Filippi is een van die briewe wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (soos ook Kolossense, Efesiërs en Filemon).  Die gemeente is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig, ongeveer 50 nC.  Dit was die direkte gevolg van die gesig wat Paulus in Troas (Turkye) van die Masedoniese man gesien het wat hom gesmeek het om hulle te kom help (Hand 16:8-10).  Filippi was dus die eerste gemeente op Europese bodem.  Hy sou hulle later op sy derde sendingreis weer besoek, in die tyd van die Paasfees van 55-56 nC – die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6) – voor hy Jerusalem toe vertrek het.

Die oudste tradisie hieroor is dat Paulus die brief uit sy gevangenis in Rome skrywe, in die vroeë sestigjarige van die eerste eeu, so 10-12 jaar na die stigting van die gemeente.[1]

Ek gee vir julle ’n tydlyn om hierdie brief in historiese perspektief te plaas.

paulus_bediening 

Kom ons lees Filippense 1:1-11

Woordverkondiging

God is op twee maniere aan die werk in ons lewe.

God is op twee maniere aan die werk in ons lewe.  God is betrokke in die dinge wat ons ontwrig.  En God is betrokke in die dinge wat ons bevestig.  Dit is wat ons uit die verhaal van Filippi in Handelinge leer. God skep aan die een kant oortuigings by gelowiges deur die verkondiging van die evangelie, bv by Lidia, en bevestig hulle in die  geloof.  Maar Hy is aan die ander kant net so seer besig in die ontwrigtende gebeure in die stad, met die eienaars wat Paulus-hulle aankla oor die duiweluitdrywing uit die slafin, en die oproer onder die skare wat gesorg het dat die evangelie in die publieke ruimte ingedra is.  Selfs die ontwrigtende aardbewing het bygedra tot die impak van die evangelie op en in die lewens van mense.  Dit oortuig onder andere die bewaarder van God se teenwoordigheid en hy kom tot bekering.

In dit alles is God aan die werk – Hy ontwrig, en Hy bevestig, of ten minste Hy werk deur die ontwrigting en die bevestiging.  Dit is waarom ons nie so gou ontsteld moet word as dinge deurmekaar word nie.  Want God is daarbinne aan die werk.

Wat ons moet doen, is om te onderskei waaroor dit regtig gaan, wat God besig is om daarmee te sê, of daarmee te laat gebeur.

Die gevaar van die tradisionaliste en die vrysinniges

Paulus sit in die tronk in Rome.  Dit is 10 jaar na die gemeente se stigting.  Hy het so pas berig gekry van Epafroditos hoe dit met hulle gaan (2:25).  Hy hoor pragtige goed van hulle.  Hulle is nog sterk besig om vir ander die boodskap van Jesus te vertel.  Hulle sorg vir die mense wat leiding gee, soos vir Paulus self, vir wie hulle geskenke saamgestuur het.  Paulus is opgewonde en bly daaroor.

Maar dit is nie al nie.  Hy hoor ook dat hulle teëspoed kry.  Die teenstand van die gemeenskap van Filippi die afgelope dekade is nog steeds daar.  En daar is iets wat nou nog erger is.  Daar is ‘n klomp mense binne die gemeente wat teruggryp na uitgediende idees, ‘n klomp Joodse tradisionaliste wat eintlik wil hê dat die Filippense ver-Joods moet word.  Christus is goed en wel, en Hy is die Messias.  Maar Hy is ‘n Joodse Messias, en die wet en die besnydenis is deel van die Joodse manier van doen.  Dit moet dus volgens hulle steeds die norm bly, ook vir die gelowiges uit die heidene, al het die gemeentevergadering in Jerusalem anders besluit.

En daar is ‘n paar ander mense wat weer dink, daar is glad nie meer reëls van enige aard nodig nie.  Dit is net die geestelike dinge wat tel.  Jy kan met jou lewe eintlik doen wat jy wil.  Jy kan self besluit wat is reg, en wat is verkeerd.  Jy moet net self tevrede wees met jou eie idees – oor kos, oor verhoudings.  Jy moet wel glo in Christus … en dan kan jy min of meer met jou lewe doen net wat jy wil.

En moenie ‘n fout maak nie.  Dit was ‘n ernstige versoeking vir hierdie gelowiges in Filippi.  Aan die een kant was daar die Joodse reëls wat dit vir jou veilig kon maak en aan die Joodse groep kon laat behoort – die opsie van die tradisionaliste.  Aan die ander kant was daar die vryheid van die vrysinniges, waar jyself eintlik die baas van jou eie lewe raak.

Paulus weet, hy moet hulle help om hulle pad tussen die verstikking van die tradisionaliste en die versoekings van die vrysinniges te vind.

Paulus bid dat hulle sal groei in onderskeiding

En Paulus besef, daar is eintlik net een ding wat nodig is, hulle moet beter kan onderskei waarop dit regtig aankom.  Dit sal hulle help met die onderskeiding van wat God doen – in ontwrigting en bevestiging.  En dit sal hulle help met die tradisionaliste en die vrysinniges.

Maar hy weet, dit help nie net hy gee hulle ‘n Bybel-les, en probeer al sy kennis aan hulle oordra nie.  Hy weet hy kan ook nie net stories vertel van al die ervarings wat hy al gehad het, en wat die gebeure was wat hom geleer het om te kan onderskei tussen die dinge waarop dit regtig aankom nie.  Want hulle was nie daar nie; hulle is nie soos hy nie.  Wat vir hom gewerk het, sal nie noodwendig vir hulle werk nie.

Hy weet dus, hy moet fokus op die diepste en mees omvattende ding wat daar is, die liefde.

Hulle liefde moet groei in onderskeiding

Paulus bid dus vir hulle dat hulle liefde sal groei in onderskeiding.

‘n Ietwat vreemde keuse, nie waar nie?  Nie iets wat ons sommer sou kies nie of hoe?

Ek sou miskien vir hulle ‘n teologie les gegee het.  En hulle laat inskryf het vir ‘n kursus of twee, sodat hulle kennis kan groei en hulle self kan agterkom, hierdie dwaalleraars sit die pot mis – beide die Joodse tradisionaliste sowel as die Griekse vrysinniges.  Hulle is nie so slim soos hulle dink nie.  Dít is hoe dit nou eintlik werk.  Miskien sou jy dit ook doen, argument op argument opstapel, hulle oorrompel met jou intellek …

Maar dit is nie wat Paulus doen nie, al kon hy ook, en al het dit op ander geleenthede ook gedoen.  Hy kies om oor die liefde te praat, want hy weet, dít is waar die onderskeiding begin, dít is wat onderskeiding sy krag gee, dít is wat onderskeiding die vermoë gee om agter te kom wat God se wil is, en belangrik, dít só te doen, dat almal daarop ja kan sê; ja, dít is soos dit moet wees.

  • Mense moet nie net dieselfde dink nie.
  • Mense moet nie net dieselfde voel nie.
  • Hulle hoef nie eers dieselfde ervarings te hê nie.
  • Maar hulle moet almal weet – dít is hoe dit werk.  Dít is wat God se wil is.  Dít is die rigting wat Hy met ons wil gaan.

En dít kan net gebeur, as almal vanaf dieselfde vertrekpunt begin, as almal vanuit die liefde werk, want dít is die universele taal, die taal wat insluitend is, die taal wat almal verstaan.

Daar is nie iets belangrikers nie.   Want as hulle vanuit die liefde kan werk, en in die liefde kan groei, dan weet Paulus dat hulle besig is met wat die Here Jesus self as ‘n model gegee het.  Dit is immers wat Jesus met die voetewas geïllustreer het. Hy gee vrywillig en vrygewig wie Hy is, was hulle voete, doen die werk van ‘n slaaf, en was selfs die voete van die een wat Hom sou verraai.  Hy hou niks terug nie.  Jesus se wese is immers gedefinieer deur wat Hy bereid was om te gee, ‘n ander manier om te sê dat Hy bereid was om lief te hê, trouens dat Hy lief was vir liefhê, soos wat Miga 6:8 al gesê het, en waaroor ek Oujaar gepreek het.

Kennis en ervaring

Ons praat gereeld van geloofsonderskeiding – om in geloof te onderskei wat God se wil is.  Hier in vers 9-10 praat Paulus van onderskeidende liefde, van liefdesonderskeiding, waar hy die woord liefde (agape) koppel aan die woorde betekenisvolle kennis (epignosis) en alle onderskeiding (pase aisthesis) in die oorspronklike Griekse teks, wat in die NAV met begrip en fyn aanvoeling onderskeidelik vertaal word.  Die woordjie alle (onderskeiding) beteken nie soseer volledige onderskeiding nie, maar ’n breë of diep begrip van wat op die spel is.

Paulus bid dus dat hulle liefde só sal toeneem, spesifiek in betekenisvolle kennis (begrip/insig/praktiese kennis) en diep ervaring (fyn aanvoeling), dat hulle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom.

Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ’n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word, deur hulle kennis en ervaring.  So kan hulle intelligente keuses maak deur te onderskei wat God wil, gebaseer op ‘n liefde wat groei in/deur kennis en ervaring!

En die doel daarvan is

  • persoonlik: om geheel en al in die regte verhouding met God te kom – soos een kommentaar sê: om “the best people possible” te wees, en
  • publiek: sodat hulle manier van leef en liefhê tot God se lof en eer sal wees – om “the best choices possible” te maak.

Gebruik jou kop en wees opreg

Nou, hoe werk dit?

Peterson beskryf dit so:

So this is my prayer: that your love will flourish and that you will not only love much but well. Learn to love appropriately. You need to use your head and test your feelings so that your love is sincere and intelligent, not sentimental gush.

Live a lover’s life, circumspect and exemplary, a life Jesus will be proud of: bountiful in fruits from the soul, making Jesus Christ attractive to all, getting everyone involved in the glory and praise of God.[2]

Sien, ’n mens moet jou kop gebruik.  Jy moet met gevoel werk.  Maar, jy moet dit doen vanuit die liefde, waarin jy bereid is om van jouself te gee vir die een met wie jy jou gedagtes deel, of vir die een vir wie jy ’n gevoel het.  En dit moet opreg wees, en intelligent. En dit kan net gebeur as jou liefde aan die een kant groei in kennis, en begrip – dit maak dit intelligent – en aan die ander kant groei deur ervaring, omvattende ervaring – dit maak dit opreg – waarin jy uiteindelik agterkom wat is regtig belangrik, wat maak regtig saak, wat help regtig in ’n gegewe situasie.

Ons gemeente het byvoorbeeld hierdie onderskeiding ervaar met ons sendingwerk:

  • Ons het eers sendelinge uitgestuur en ondersteun.
  • Toe agtergekom, maar dit is almal van ons se job.  Nou ondersteun ons steeds die sendelinge wat ons gestuur het, maar ons leef met groter onderskeiding om ons eie sendingveld te ontdek.
  • En ons kon dit doen, omdat ons liefde vir mense grense oorskry – liefde vir mense in Egipte, in Irak, in Turkye, in Angola, ook ons liefde vir ons sendelinge.

Ons het dieselfde ervaar met ons bedieninge:

  • Ons het die Ontdek jou gawes kursus gedoen, en die Netwerk kursus, en ons het op ’n stadium 77 bedieninge gehad.
  • Toe het ons agter gekom, jy hoef nie net in ’n amptelike kommissie of bediening te wees om die Here te dien nie.  En daarom is daar twee goed wat gebeur:
    • sommige mense het bedieninge geword: dink maar net aan die 30 000 borde kos wat Theo Haveman jaarliks vir honger kinders gee;
    • en die informele bedieninge het gegroei, ons weet nie eers waar almal werk nie – dink maar net aan Gardi Oosthuizen se Fondeling projek, wat weliswaar uiteindelik in ’n besigheid ontwikkel het, maar iets is wat die Here geïnisieer het, nie die Bedieningsraad of die leraars hier by ons nie.
  • Ons liefde vir mense het gegroei in kennis en ervaring – daarom doen ons dit nou so.

Ons ervaar dit met ons saamwees

  • Ons het een groot kermis jaarliks gehad – nou is daar talle geleenthede waar ons ons saamwees vier.
  • En ons is al weer aan die leer – nou wil ’n selgroep hierdie jaar in September weer ’n groot kermis hou,
  • En wat moontlik nou gebeur, is dat ons ’n paar groot geleenthede gaan hê, saam met ’n paar kleineres, wat ons saamwees en ons gevoel van behoort aan mekaar sal laat groei.

En dit is so met ons finansies

  • Sommige gee gereeld, ander eenmalig – en ons begin leer hoe dit werk om ’n begroting daarmee te diens.

En dit is so met ons kleingroepe

  • Ons het aanvanklik elkeen sy eie ding gedoen, en mettertyd agtergekom dat dit beter werk as ons min of meer met dieselfde teks werk – vandaar die Bybelskool en kleingroepmateriaal en die eredienste wat met die teks van die week werk.

En ek kan so aangaan.  Die punt is, dit moet in alles deel van ons gemeentelike lewe en ons eie persoonlike lewe word.  Ons moet groei in ons liefde vir die Here, en vir mekaar, en vir mense in hierdie wêreld.  En ons moet spesifiek al hoe beter leer hoe dit werk – die kennis komponent – en dinge probeer in die praktyk– die ervarings komponent – sodat ons al hoe beter die wil van die Here kan onderskei.

Want, sien, ons moet agterkom wat God besig is om te doen.  Op watter manier Hy betrokke is by iets wat ontwrigtend is:

  • Bv wanneer die begroting knyp, moet ons vra wat sê die Here vir ons
  • En as twee groot bydraes inkom in Desember, dat ons ’n massiewe oorskot het vir Desember, moet ons vra, wat sê die Here vir ons – totdat ons agterkom, en saam Sy wil kan onderskei.

En net so moet ons agterkom op watter manier is Hy betrokke by iets wat bevestigend in iemand se lewe sal wees – as iets goed werk, moet ons vra hoekom, dat ons dit beter kan doen – to be the best people, en to make the beste choices.

En dit is nie iets wat maar net die leraars of die ouderlinge of die leiers se stokperdjie kan wees nie.  Dit is iets waarin ons almal moet deel.

En wat gemeentelik werk, is iets wat ook persoonlik in jou eie lewe so sal wees.

Vertroue en verantwoordelikheid

Ek sluit af met Paulus se oortuiging dat dit God is wat die goeie werk in Filippi begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (Fil 1:6).  Dit is ook my oortuiging van hierdie gemeente.  God het die goeie werk begin, en Hy sal dit end-uit voer en voleindig op die dag wat Christus weer kom.  Volgende jaar is die gemeente 30 jaar oud, en die kerkgebou 25 jaar oud.  Dit vra ’n viering … en ’n nog breër visie van wat God nog verder deur hierdie gemeente in die wêreld wil regkry.

Maar, ek weet ook, dit sal ook nie gebeur sonder dat elke gelowige, en ek bedoel elke gelowige in hierdie gemeente, hulle verantwoordelikheid nakom nie.

Daar is net een manier om na hierdie boodskap te luister, en dit is om jou verantwoordelikheid, persoonlik, gemeentelik en in die gemeenskap te aanvaar.

Gebed

LEEF

Dankoffer

Slotlied

  • Lied 464:1,4 – staan

Seën

Amen

  • Lied 464 se Refrein


[1] Die talle reise waarna die brief egter verwys, laat heelwat geleerdes dink dat hy nader aan Filippi was, wat gevangenskap in Sesarea of Efese die meer waarskynlike plek van skrywe maak.  Indien hy uit Efese geskrywe het, was dit tussen 52-55 nC.  Indien hy uit Sesarea geskrywe het, was dit in die later 50er jare van die eerste eeu (die keiserlike wag het hom toe alreeds begelei).

[2] Peterson, E. H. (2002). The Message : The Bible in contemporary language (Php 1:9–11). Colorado Springs, Colo.: NavPress.