Skip to main content

Bou en breek die aarde

Hulle en Ons

Ons dink baie keer dat die bekommernis oor die ekologie ’n groen saak is.  Dit is iets vir HULLE, nie vir ONS nie.

Ons kyk na die Sea Shepherd van kaptein Paul Watson wat die Japanese skepe probeer keer om walvisse te jag in die bekende Whale Wars, en dink dit is ’n gevaarlike speletjie, real-time TV, nie iets waarby Christene betrokke behoort te raak nie. 

  • In wese gaan dit in die Whale Wars daaroor dat alle kommersiële jag op walvisse wêreldwyd reeds in 1986 verbied is, want ’n kwart van die walvis spesies (en dolfyne) is op die rand van uitwissing. 
  • Drie lande het hulle egter deurgaans nie daaraan gestuur nie: Ysland, Noorweë, en Japan.  Sedertdien is nog 25 000 walvisse van kant gemaak, kwansuis vir wetenskaplike navorsing. 
  • Die TV program bestaan om die aandag van mense reg oor die wêreld te monster, om iets daaraan te doen, nie met die Sea Shepherd nie, maar met enige inisiatief om hierdie wêreld in die breë op ’n volhoubare manier te beveilig en beskerm.
  • Gelukkig het die Sea Shepherd al 9 van dié jagskepe uit diens uit gestel, onder beskerming van die Verenigde Nasies saam met wie hulle werk, maar dit is ’n druppel in die emmer.  Die bio-diversiteit van die aarde is onder skoot, maar ons sukkel om regtig ’n verskil te maak. Dink maar net plaaslik aan die renosters …

’n Fliek wat ’n onuitwisbare indruk op my gemaak het, is An Inconvenient Truth van Al Gore (2005).  ’n Mens steier letterlik terug voor die feitelike gewig van sy argumente, waarvan ek net een hier kortliks wil deel, oor aardverwarming:

  •  In wese, koolstofdioksied, die goed wat ons uitasem, is ’n goeie ding, want dit keer dat ons te koud kry.  Die koolstofdioksied in die atmosfeer hou die hitte gevange, sodat alle hitte nie uitstraal soos op die maan nie. 
  • Die probleem is, te veel koolstofdioksied in die atmosfeer laat die aarde warmer word as dit moet wees vir die behoud van lewe, die pole se ys smelt byvoorbeeld, die oseane se vlakke styg, die seestrome gaan staan stil, en ons stuur waarskynlik op ’n volgende ice-age af.  Dit so in kort. 
  • Boonop, deur steenkool te verbrand, sit ons meer koolstofdioksied in die lug in, en die aarde raak nog warmer.  Deur petrol en olie te verbrand vir enjins en kragopwekking gebeur dieselfde.  Selfs met ’n houtvuur gebeur dieselfde.  En dan het ons nog nie eers oor ander skadelike gasse nie, en die effek wat cfc’s (chloorfluoorkoolstof) op die osoon het, gepraat nie.  En daar is net te veel daarvan op die oomblik in die atmosfeer, met ernstige gevolge vir die aarde.
  • Vyf lande het al Al Gore se kurrikulum by hulle skole se leerplanne geïnkorporeer – Engeland, Skotland, Tsjeggiese Republiek, New Zeeland, en Duitsland, sowel as die Kanadese provinsie van British Columbia, maar soveel meer is nodig.

Sentrale waarheid van ons geloof

Die diep probleem in die kerk, en in jou persoonlike lewe, is dat ons as Christene hierdie feite nie so maklik verbind aan ons geestelike lewe nie.  Ons dink te maklik, dat dit net vir die groenes is om daarby betrokke te raak.  Dit is vir HULLE!  Dit is ’n boodskap nie vir ONS nie.  Ons dink om geestelik te wees, is nie om terselfdertyd groen te wees nie.

Feit is dat ons daarmee een van die sentrale waarhede van ons geloof verloën, iets waarvan ons meesal onbewus lewe.  Kom ons lees daarvan in die eerste twee hoofstukke van die eerste boek van die Bybel, daar waar ons bely dat alles ontstaan het.

Skriflesing

God het alles gemaak

Gen 1:1-2 – “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.”

Genesis 1:3-25 (met baie raakpunte met die Big Bang teorie en die evolusie van lewe op die planeet aarde, hoewel dit ’n gedig is, en daarom baie eerder iets oor God se rol in die skepping wil deurgee, en dat dit perfek was, as om uit te wy oor hoe presies dit gebeur het.  Die idee van dae is metafories en digterlik bedoel):

  • Dag 1 – Lig
  • Dag 2 – Heelal
  • Dag 3 – Aarde en Plante
  • Dag 4 – Seisoene
  • Dag 5 – Seediere en voëls
  • Dag 6 – Diere en die Mens

Wat is die opdrag van die mens?

Gen 1:26-31 – “26Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.’ 27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.’ 29Verder het God gesê: ‘Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.’ So het dit gebeur. 31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.”

Ons is God se verteenwoordigers, en Sy opdrag is (vers 28) – bewoon, bewerk bewaar (heers regverdig).

En net om die laasgenoemde punt nog helderder te maak – Gen 2:15 – “15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas (bewaar).” – BEWOON, BEWERK, BEWAAR.

Woordverkondiging

Bewoon, bewerk en bewaar

God het ons gemaak om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.  Dit is die onomwonde boodskap van Genesis, die begin van ons geloof.  En dit is baie belangrik om te verstaan, dat hierdie idee van bewoon, bewerk, en bewaar van die begin af deel was van ons geloof.  Om die waarheid te sê, ek dink dat ons die afgelope paar dekades grondig gefouteer het om eensydig te fokus op die vraag hoe ons hemel toe gaan, eerder as om oor hierdie aspekte van God se opdrag aan ons te fokus: bewoon, bewerk , bewaar. 

Ons verlossing is daarop gemik, dat ons herstel sal word om te bewoon, bewerk en bewaar.  Natuurlik het dit ook te make met die lewe hierna, waarvoor die Here ons voorberei, maar bewoon, bewerk, en bewaar is die fundamentele opdrag aan ons as mense EN as Christene.

God maak ons Christene sodat ons beter mense kan wees, aan ons doel kan beantwoord.

God en die ekologie in die Bybel

Ek wil jou op ’n toer neem deur die Bybel om die plek van die ekologie, die sorg en bewaring van die aarde, in die verlossingsplan van God uit te wys:

  1. Die grondoortuiging wat ons in terme van die ekologie rig, is dat die aarde God se skepping is (Gen 1; Ps 8; Ps 104).  Die aarde behoort aan God en alles daarop en daarin.  Dit is fundamenteel.
  2. God se bedoeling met die aarde is dat almal ‘n plek daarop vind, ‘n habitat, ‘n tuiste – mens, dier en plant.  Dit sien ons reeds in die feit dat die Bybel diere en plante nie klassifiseer volgens hulle anatomie en morfologie nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly (Gen 1-2), die voëls in die lug, die visse in die see.  Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef. 
  3. God se bedoeling met die mens is nou hieraan verbonde.  God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig (Gen 1:26), om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (Gen 2:15).  Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën.  Dit beteken ook dat bewoon,  bewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.
  4. Interessant genoeg word mense op dieselfde wyse in die eerste plek volgens hulle ekologie geklassifiseer, hulle habitat,  die plek waar hulle bly (Gen 2-4) – selfs voor die sondeval – en voordat dinge soos afkoms en die nageslag ter sprake kom (Gen 5).  En wanneer die nageslag van Jafet, Gam en Sem beskryf word, is dit weereens in terme van die plekke waar hulle en hulle nageslag gebly het (Gen 10).
  5. Die opdrag om die aarde vol te maak (Gen 1:28), het dus te make met ’n tuiskoms, ’n habitat, vir almal: mens, plant en dier.
  6. Nou belangrik: hierdie bedoeling van God is deur drie goed bedreig.
  7. Die eerste bedreiging was deur ongehoorsaamheid aan God (Adam en Eva – Gen 3) wat nie net die verhouding tussen Adam-Eva en God verbreek het nie, ook nie net die verhouding tussen Adam en Eva vertroebel het nie, maar hulle ook in konflik met hulle omgewing gebring het – “die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit” (Gen 3:18).  Ongehoorsaamheid verbreek dus die verbintenis met die land en die tuiste wat God vir ons geskep het, en Adam en Eva word daarby uit die tuin geban, die plek waar werk ’n vreugde was.  Ek hanteer hulle bestaan as metafore vir die ontstaan van die mens in terme van ’n persoonlike verhouding met God.  Wie hulle was en presies hoe dit gewerk het, is ’n onderwerp vir ’n ander dag.
  8. Die tweede bedreiging was deur geweld teenoor medemense (Kain wat Abel doodmaak – Gen 4).  Let op dat Kain tot swerwer verdoem word, dat sy verbintenis met die grond totaal afgesny word.  Hoe ontstellend klink daarom nie Kain se uitroep na hy Abel van kant gemaak nie: “My straf is te swaar om te dra.  U verdryf my nou van my grond af” (Gen 4:13-14).  Hy sou nou nie meer kon bydra tot enige een van die drie kernopdragte aan die mens nie: bewoon, bewerk, en bewaar.
  9. Die derde bedreiging was deur die aarde aan homself oor te laat.  Dit sou een van die gevolge wees van die poging om in die vlakte van Sinar ’n tuiste vir almal te vind (Gen 11).  Die aarde sou nie bewoon, bewerk en bewaar word nie.  Die taalverwarring was dus ’n doelbewuste manier om ’n tuiskoms te verseker, vir mense, plante en diere.
  10. Aldrie hierdie bedreigings bestaan vandag nog – om die verhouding met God, medemense of die natuur na te laat, of af te skeep.  En die gevolge is steeds dieselfde – om jou tuiste by God, jou tuiste by ander, en jou tuiste op die aarde in gevaar te stel.
  11. Dit is ook hoekom die land so belangrik is in terme van mense se pogings om ’n ruimte vir hulleself op die aarde te vestig, baie keer egter tot nadeel van ander se
  12. Die wortels van die revolusie van ons land (en ander) kan dus ook in hierdie ekologiese wanbalans gevind word – waar ons nalaat om in liefde teenoor God, ons naaste en ons omgewing te leef.  Die gevolge van dié wanbalans lê in die ervaring van mense dat hulle hul verbintenis met die land verloor, en dan praat ons nie eers van die effek op plante en diere nie.  Dit vorm die hart van die diskoers wat tans die voorblaaie van ons media haal, selfs met die onlangse hartverskeurende gebeure by die Lonmin myngemeenskap.
  13. Die diepste rede vir die klem op bewoon, bewerk en bewaar, is natuurlik ten diepste in God self.  God werk regdeur die Bybel in sy verhouding met mense self met ’n ekologiese bewussyn.
  14. Dit gebeur wanneer Hy oordeel.  Dink bv aan sy voorskrifte vir oorlogmaak, deurdat vrugtebome eksplisiet uitgesluit word van die tipe bome wat afgekap kan word wanneer ’n stad beleër word, en beleëringswerke gebou moet word (Deut 20:19-20).
  15. Dit gebeur gelukkig ook wanneer Hy ons seën.  Reg deur die Bybel word God se seën uitgespel as iets wat ’n impak het op die omgewing en die ekologie.  Ons vind dit bv in die wet (Lev 26:2-13).  Die seën is allesomvattend wanneer ons aan Hom gehoorsaam is: “Ek sal vrede gee in die land sodat julle rustig kan slaap … Julle sal nie eens ‘n vorige seisoen se graan kan opgebruik nie, julle sal dit moet weggooi om plek te maak vir die nuwe oes … Ek sal by julle woon …”
  16. En dit is waarheen God ook op pad is met die heelal, ’n herskepping.  God gaan die wêreld laat herleef en nuut maak.  Dit sluit alles in: mens, dier, plant, en aarde (Matt 19:28).  Dit is ook die droom van Johannes (Open 21:1-8).
  17. En dit is een van die take waarby die Gees ons intrek (Rom 8:18-30).  Soos die skepping sug om van die verganklikheid verlos te word, en dit sluit die hele ekologie in – die habitat van die mens, dier en plant – so sug die kinders van God, bygestaan deur die sug van die Gees, om volledige verlossing.
  18. En dit is waaraan ons ons lewe wy, aan God, ons medemense en die omgewing.

Daarom kan ons nie langer terugsit dat die groenes die debat voer namens ons nie.  Ons het ’n dure plig as verteenwoordigers van God om betrokke te raak.  Christene se kleur is groen.

Drie primêre verhoudings

Martin Buber praat van drie primêre verhoudings waarin elke mens staan:

  • ek-God
  • ek-jy
  • ek-dit

En aldrie is belangrik. 

  • Jou verhouding met God draai om Sy betrokkenheid by jou.  Hy is voorsienend, verlossend, vertroostend in jou lewe betrokke, as die Drie-enige God, Vader, Seun, Gees. 
  • Jou verhouding met jou medemens is om as Sy verteenwoordiger teenoor hulle op te tree, deur te fokus op saamwees in al sy fasette, wat ingesluit is in die oeropdrag van bewoon, bewerk en bewaar.  ’n Mens kan dit uitbrei om te sê dat jy mense moet help om te behoort, dat jy hulle moet beskerm, dat jy hulle moet bemoedig, sodat hulle met oorgawe hulleself aan God se betrokkenheid by hulle kan gee, en hulle opdrag kan nakom. 
  • Jou verhouding met die aarde is om dit te bewoon, te bewerk, en te bewaar.

En laat ons maar erken, waar ons nog aan die eerste twee verhoudings aandag gee, is ons maar swak met die derde verhouding, ons verhouding met die aarde en alles wat daarop woon.

Jou kleur is groen!

Ek wil jou vanaand dus uitdaag om te wees wie God jou gemaak het, en gehoorsaam te word aan Sy opdrag: bewoon, bewerk, bewaar.  Jou kleur is groen!

Maar dan sal ons ook moet besef dat die debat oor bv klimaatsverandering lankal nie meer gaan oor die vraag óf dit gebeur nie, maar hóé die mensdom op die gevolge daarvan gaan reageer. 

  • Die Noordpool se see-ys smelt die afgelope ruk teen ’n reuse spoed weg.  Die kanse is 50:50 dat daar vir die eerste keer in die geskiedenis dié somer geen ys op die see by die Noordpool sal wees nie. 
  • Amerika se kosmandjie streke beleef vanjaar die ergste droogte in die onlangse geskiedenis, terwyl dele van China sulke hoë reënvalsyfers het dat daar grootskaalse verspoelings was. 
  • Selfs Port Elizabeth het nou na die vorige droogtesiklus alreeds die natste jaar in 30 jaar se opnames.

Ons moet daadwerklik dinge begin doen.

Wat kan ons doen?

Ons denke moet verander

Christus se koms het dus nie net ons liefde vir God en ons naaste kom herstel nie, maar ook ons liefde vir die aarde.  Geen wonder dat daar nie net ’n belofte aan kinders van God van ’n nuwe hemel gegee word nie, maar ook dié van ’n nuwe aarde.  

Dit is waarom ons betrokke is by die debat oor die ekologie in al sy fasette.  Wat ons egter moet hoor op die oomblik, is dat die debat oor bv klimaatsverandering, lankal nie meer gaan oor die vraag óf dit gebeur nie, maar hóé die mensdom op die gevolge daarvan gaan reageer. 

Ons denke moet verander:

  • Woude filtreer die water wat ons drink – daarom moet ons dit oppas, nie net omdat dit as sodanig verkeerd is om ’n boom te gebruik nie.  Dit is tot ons almal se voordeel dat daar woude in die wêreld is.
  • Die bye en voëls bestuif ons plante en flaura ekosisteme.  Dit het groot ekonomiese waarde deur hulle te beskerm, nie net ’n biologiese waarde nie.  Dit is tot ons almal se voordeel dat gifstowwe verminder en habitat beskerm word, sodat bye en voëls kan gedy.

Profeet, priester, en koning

  • As profete moet ons die dinge afwys wat die lewe van die mens bedreig en mense aanspoor om die wêreld en die ekologie te beskerm.   Bv, daar is 5 keer meer steenkool, olie en gas beskikbaar as wat ekologies veilig sal wees om te verbruik.  Sommige navorsers sê dat 80 % van daardie bronne sal moet bly net waar hulle is – ondergronds.  Sal ons die moed hê om dít as ’n Christelike oortuiging te begin sê?
  • As priesters moet ons mense bystaan wat bv deur besoedeling en aardverwarming en die horde ander dinge wat verkeerd gaan, beïnvloed word, benadeel of beskadig word, en hulle daadwerklik bystaan en help.  Ons moet pastoraal praat, met deernis en respekvol, maar ook met oortuiging.
  • As konings moet ons stry teen besoedeling en uitbuiting van die aarde in die besonder teen gierigheid en praktyke van mense wat ter wille van eie voordeel en gewin nie omgee dat die lewens van ander mense deur besoedeling benadeel word nie.

Voorbeeld uit Duitsland

Ons kan leer by die Rappenecker Hütte – restaurant in Duitsland, gewilde hiking bestemming:

  • Bestaan 350 jaar lank al!
  • Hulle is 25 jaar lank al op son energie, sedert 1987.  Sonpanele verskaf 65% van hulle energie behoeftes, windlaaiers 10% en 25% van ’n waterstof sel, wat ’n diesel generator sedert 2003 vervang het.  Hulle is totaal onafhanklik van die nasionale elektrisiteitsnetwerk.
  • Duitsland se besighede is al vir 25% van hulle energie behoeftes op hernubare bronne.  Dit wys wat kan gedoen word.  Hulle wil teen 2050 op 80% wees.

Voorbeelde plaaslik

Daar word al baie dinge gedoen.  Bv in Kirkwood se Wildsfees was daar verlede jaar ’n Growing Green Expo: Ethical and Sustainable Agriculture and Gardening.  Ons moet net oë ontwikkel om dié goed raak te sien en betrokke te raak.

Persoonlike keuse

Ons moet self ook optree en iets begin doen, anders begin leef.  Hersirkulering, water, elektrisiteit, lug-motors (Tata Airpod).

En gemeentes?

Ons het in ’n onlangse Kruisgewys, wat aan 3000 predikante en geestelike leiers gestuur word, gefokus op die ekologie en wat in gemeentes aangaan daaromtrent.  Gaan kyk by http://gemeentes.co.za/kruisgewys/kruisgewys-maart-2012.  Dit is gratis en kort insiggewende artikels:

  • Ernst Conradie – sistematiese teoloog van UWK en skrywer van verskeie boeke oor die ekologie, onder andere die Andrew Murray-pryswenner vir Waar op dees aarde vind mens God? in 2007 – gee ’n ontleding van die verbruikerskultuur ten grondslag van die feit dat welvarendes die slagoffers van hulle eie begeertes raak. Hulle dra swaar aan die beroepsdruk en besittingslas, en toon die simptome van verbruikersgriep. Hy maak ’n onderskeid tussen welsyn en welvaart en rykdom en lewensverryking wat jou sal help om jouself te vind in iets wat groter is as jyself.
  • Willem Nicol – doyen van kontemplatiewe spiritualiteit en spirituele begeleiding – fokus op ’n spiritualiteit van eenvoud wat een van die min maniere is om die greep van die verbruikerskultuur te ontsnap. Hy help ons verstaan dat die genieting van jou bestaan alreeds genoeg rede is om vervuld te lewe, en dat die verdieping van jou geloof in die vryheid van uiterlike voorspoed lê.
  • Fay van Eeden – die leraar vir Nuwe Generasie, Lynnwood se jeugbediening – gee ’n teologiese sowel as ’n praktiese perspektief op hoe ’n “groen”-bediening in ’n gemeente kan werk. Die feit dat die Skepping die “groot boek” van God is – soos die Bybel die “klein boek” is – is vir haar al genoeg motivering dat ’n gemeente by versorging en bewaring betrokke sal raak.
  • Frans Hancke – Uitvoerende Direkteur van diePLAN, wat gemeentes in verskeie lande help om hulle missionale karakter uit te leef – fokus op twee verhale wat wys dat die evangelie ook met ’n groen kleur kan werk. Die een verhaal wys hoe die opruim van rommel en die geskik maak van grond vir plante en struike ’n voertuig raak vir die evangelie om in mense se lewe aan te kom. Die ander verhaal wys die teenoorgestelde, met die appèl aan almal van ons om die moontlikhede te ontgin wat ’n ekologiese bewussyn vir ons gee in die evangelie bediening.
  • André van Niekerk – gemeentedominee van Pretoria en gewilde rubriekskrywer – fokus op hoe leraars in God se gemeentes hulle kan help om meer soos ’n beweging van God self te laat optree. Geloof hoef nie ingekleur te word nie. Dit is alreeds groen. Ons kan mekaar aanmoedig tot ’n groen leefstyl, waarvan hy ’n hele aantal voorbeelde opnoem. Ons is geroep om saam met alle mense nuut op hierdie aarde te leef.
  • Diek en Marthie van der Zel – ’n lidmaategpaar wat in Morelettapark ’n groot herwinningsprojek begin het en tans op die Wes-Kaap Sinode se ekologie-taakspan dien – wys hoe ’n mens met die regte visie en passie ’n groot verskil kan maak. Op sy hoogtepunt het die “papier vir kos” projek 144 ton herwinbare materiaal ’n jaar opgelewer, waarvan die wins ingeploeg is in verskeie opheffingsprojekte.  Kyk by http://www.omgee.org.za/.
  • Dawid de la Querra – ’n prokureur wat as tentmaker by die Sakkrappers-en-Karwas-bediening in Kimberley betrokke is – vertel hoe die leiding van die Here ervaar word as ’n mens iets begin doen, al is dit aanvanklik net uit jou eie aanvoeling van die nood. Wat as ’n barmhartigheidsprojek begin het, het in ’n verhoudingsbou-geleentheid oorgegaan wat uiteindelik nie net werk aan die sakkrappers verskaf het nie, maar ook die omgewing positief verander het.

Skakels vir meer inligting:

Deuteronomium 6:1-9 – Gesin Vernuwing

Voorspel

Instrumentale Ensemble

Verwelkoming en Afkondigings

Baie dankie aan Janneke Jacobs, die sanggroep en almal wat vanoggend hul instrumente bespeel.

Aan die einde Trumpet Voluntary William Boyce (Jan Coetzer trompet)

Toetrede

Flam 2 “Met ons lewens wil ons U eer” (sit)

Votum

Seëngroet

Lofsang

Lied 205 “Bring lof aan die Vader” v1 en 3 en Refreine: gemeente v2: sanggroep (staan)

Lied 472 “Kom lofsing die Heer” (staan)

Lied 177 “Jesus, groot bo almal” (sit) sanggroep (1x) gemeente (1x)

Kermis

Tieners

Veiling – Mariette

Kindertyd

  • Wat is die lekkerste ding wat julle dié week saam met julle ma en pa gedoen het?
  • Wat is die beste ding wat jou pa en ma vir jou geleer het? – swaai, fietsry

Skriflesing

Watter gewoontes of gedrag of houdings het jy by jou ouers geleer?

  • My ma het my geleer praat – een van die gesprekke het ’n belangrike rol in die voorbereiding vir my roeping gespeel, op ’n rots in Bettysbaai;
  • My pa het my geleer van lojaliteit, toewyding en aanhou en uithou – hy het my ’n ruggraat gegee – ek onthou hoe hy elke rugbywedstryd en atletiekbyeenkoms bygewoon het.  Selfs toe ek nie saam met hom in die motor wou ry nie, het hy agter die bus aan gery.

Vertel vir mekaar wat julle onthou of wat julle op die oomblik ervaar:  Wat het jy by jou ouers geleer?

Om die week te doen: As jy self ‘n ouer is, watter gewoontes of gedrag of houdings sien jy by jou kinders wat jou eie gewoontes/gedrag/houdings reflekteer?

Gebed

Lees Deuteronomium 6:1-9

Woordverkondiging

God is vir ons

Een van die belangrikste dinge wat ons moet besef, is dat God vir ons is.

Ek het twee weke  terug ’n bietjie deur Genesis gewerk vir my preek verlede Sondag by Klema, en net weer onder die besef gekom dat God ons op ’n baie spesiale manier gemaak het.  Ons is Sy verteenwoordigers.  Hy het ons gekies uit alles wat bestaan, as sy beeltenis, as dié skepsels wat Sy merk dra, wat lyk soos Hy, wat is soos Hy.

Dié God is net so angstig oor ons as wat ons oor ons eie kinders is.  Hy is net so begerig soos ons is oor ons eie kinders, dat Sy karaktereienskappe in elkeen van ons tot hulle reg sal kom.  Hy wil Homself sien in wie ons is en hoe ons leef en optree.

Sy droom vir ons is steeds presies wat dit in die tuin van Eeden was – ons moet die aarde bewoon, bewerk en bewaar.  Hy wil hê dat ons veilig en voorspoedig woon op hierdie aarde.  Hy wil hê dat ons lewensvervulling in ons werk en verhoudings sal ervaar.  En Hy wil deur ons die wêreld ’n leefbare plek sal maak, beide in terme van die evangelie van Jesus Christus as in terme van die bewaring van die aarde.

En God gee vir ons alles wat ons nodig het om te floreer en met oorgawe die lewe te kan geniet.  Die lewe in oorvloed, Sy lewe deur die Gees wat in ons werk, Sy teenwoordigheid waarop ons kan vertrou.

As ek terugdink aan my jongdae was my aardse pa altyd daar vir my, op vele maniere.  My ma was daar vir my, op vele maniere.  Hulle het saam ’n ruimte geskep waarin ek kon ontwikkel en groei en myself kon wees.

Dit is wie God ook is vir ons.  Maar nog baie meer en baie dieper as dit.  Hy is die ruggraat van ons lewens.  Hý is die Een wat voorsien, wat vrymaak, wat nuwe lewe gee.  Ons kan Hom daarvoor vertrou.

En dit is ook Hý wat jou sal help om ’n pad met jou kinders te loop. En om ’n pad met jou ouers te loop …!

God wil families vernuwe

Dié God wil families vernuwe.  Dit is die boodskap wat die Here op my hart lê vir vandag.

Laat ons eerlik wees.  Ons families is baie keer disfunksioneel.  En dit begin baie keer by ons as ouers wat disfunksioneel is. Ek onthou nog hoe my pa op ’n keer die duiwel uit my geslaan het oor iets wat ek verkeerd gedoen het.  En ek onthou hoe een van my kinders reg voor my gaan staan het, en my gekeer het toe ek amper dieselfde wou doen, op ’n onregverdige manier, en ek van my amperse dwase optrede kon afsien.  Dit is nie maklik om ’n ouer te wees nie.  En dit is nie maklik om ’n kind te wees nie.

Maar God het ons lief, en Hy wil van ons funksionele disfunksionele families maak.  Hy wil ons help om met al ons gebreke op ’n manier só te kan funksioneer dat ons dit kan regkry om ’n ruimte te vind waarbinne ons kan ontwikkel en kan floreer.

Wat dra jy oor aan jou gesin?

Een van die vrae wat jou kan help om funksioneel te raak, is die vraag wat Mark Holmen in sy boek vra (Faith Begins at Home): What are you passing on?

Jy kan jou kinders baie dinge leer, en elke stukkie lewenswysheid of lewenswaarheid gaan ’n impak hê.  Maar die belangrikste wat jy moet oordra, is jou geloof in God.

Soos Rethie verlede week aangehaal het uit die Search Institute se navorsing: ma’s en pa’s, oumas en oupas is die belangrikste geloofsvormende invloede in kinders se lewens.  Ouers is tussen 60-80% daarvoor verantwoordelik dat kinders glo en grootouers vir meer as 30%.

Al doen die kerk ook wat, en al word kategese ook hoe interessant aangebied, as ’n kind nie deur sy ouers van die Here vertel word nie, meer nog, iets van die Here in hulle lewens raaksien nie, het die kerk ’n baie minimale impak.  ’n Mens kan nie in ’n uur of meer op ’n Sondag kompeteer met die daaglikse ervarings wat in jou huis jou kind se geloof vorm … of nie vorm nie.

Dit is waarom Deuteronomium 6 soveel klem lê daarop dat die primêre verantwoordelikheid om geloof aan kinders oor te dra, die ouers s’n is. 

Jou huis is ’n kerk.

Jou huis is ’n kerk, in ’n sekere sin dié kerk.  Maar, voor jy jou kop in skaamte laat sak … eintlik het die kerk dit maklik gemaak vir ouers om hulle verantwoordelikheid te versaak.  Elke goeie ding het onbeplande gevolge.  Die ontploffing in materiaal vir kategese in die laaste helfte van die vorige eeu, het dit maklik gemaak om die kerk te vertrou met geloofsvorming.  Dit het net so normaal gelyk om die kerk daarmee te vertrou.

Maar die ongemaklike waarheid is dat dit lyk asof meer as die helfte van die hoërskoolkinders wat by ons belydenis aflê, geestelik onaktief raak na skool.  Dit is eers as hulle self begin om te trou en kinders te hê dat hulle weer deel van die geloofsgemeenskap word.  Baie kom nooit weer terug na die kerk toe.

As ons wil hê dat ons kinders steeds sal glo as volwassenes, sal ons as ouers ons geloof met hulle moet deel, en dit veral voor-leef, soos Deuteronomium 6 sê:

  • 4 Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.
  • 5 Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
  • 6 Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.
  • 7 Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.
  • 8 Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees.
  • 9 Jy moet dit skryf op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.”

Die kwessie is dus nie soseer hulle geloof nie, maar jou geloof!

En let op hoe hierdie geloofsdeling eintlik net doodgewoon oral is –

  • Wanneer jy met God besig is op ’n persoonlike vlak – moet jy die Here lief hê.
  • Wanneer jy in jou huis met jou kinders praat – moet jy die Here lief hê.
  • Wanneer jy op reis gaan – moet jy die Here lief hê.
  • Wanneer jy gaan slaap en wanneer jy opstaan – moet jy die Here lief hê.
  • Wanneer jy in die publiek is waar jou kinders jou kan sien in interaksie met ander mense – moet jy die Here lief hê.

Jou geloof gee af op jou kinders.  En dit is die beste manier waarop hulle geloof sien, en geloof leer.

Gesin vernuwing begin dus met ’n besluit wat jy neem, ek wil die Here lief hê in alle omstandighede, in my persoonlike lewe, en in my huis, en in die wêreld daarbuite.

GESIN VERNUWING SLEUTELS

Ek wil vir jou 4 sleutels gee wat gesin vernuwing sal oopsluit.  Eintlik is dit ouerskap sleutels soos Mark Holmen dit beskryf:

  1. Ouers is die belangrikste invloed in kinders se geloofsontwikkeling.  Dit is die gedagte waarmee jy vandag hier moetDit is die oortuiging wat jou energie sal gee om jou geloof te begin leef.  Jy is die belangrikste invloed in jou kind se geloofsontwikkeling.  Punt.  Dit is hoe dit werk.  Dit is hoe dit vir jou sal werk.  En die kanse vir sukses is groot, as jy maar net daarmee begin.
  2. Jou kind se geloof sal waarskynlik ‘n weerspieëling van jou geloof wees.  As jy wil hê jou kinders moet ‘n geloof hê wat hou, moet hulle in jou lewe ‘n verhouding met Christus sien. Soos jy werk aan jou eie persoonlike geloofslewe, sal dit ’n onuitwisbare indruk op jou kindersHulle sal daardie invloed nie kan ontken of ignoreer nie.
  3. God gee vir jou alles wat jy nodig het om ‘n sterk, groeiende verhouding met hom te hê. 
    • Jy het die Bybel, wat vir jou die huis kan word waarin jy woon – en dit is iets waarmee jy gehelp word in hierdie gemeente;
    • Jy het Jesus, jou Verlosser wat jou vergewe en wat jou aanmoedig – Hy weet wat dit is om mens te wees, en wat die uitdagings van mensweesHy is ’n mens.  Maar, Hy is ook meer, Hy is God, en dít is waarom Hy ons regtig kan help.  Want, Hy verstaan, en Hy verander jou.  Trouens, Hy is jou grootste Voorbidder, nie jou ma of pa of ouma of oupa nie.  Jesus is. 
    • Jy het die Heilige Gees wat diep binne in jou die krag en motivering gee om in geloof te kanDit is Hý wat God se stem in jou laat eggo met God se wil in die praktyk van jou lewe.  Dit is Hý wat jou herinner aan die wysheid wat jy nodig het om gesin situasies te hanteer.  Natuurlik gebruik Hy veral die wysheid wat ’n mens al geleer het, deur die Bybel, deur die lewe, maar Hy laat Homself nie onbetuig nie, selfs al moet Hy jou in die hitte van die stryd ook bystaan.  Op die kruispaaie van die lewe, só sê Spreuke, dáár is die stem van God hoorbaar, sy wysheid vir die besluite wat jy moet neem.  Jy kan Hom daarvoor vertrou.
    • Jy het die Kerk, jou mede-gelowiges, wat saam met jou die pad wil stap. En jy het vele maniere waarop jy kan inskakel en ’n ondersteuningsgroep in die gemeente kan kry, ’n groep wat met jou die reis van die geloof kanSelgroepe, Bybelstudiegroepe, Bybelskool, Dissipelskap, Kategese, Diensgroepe.  En as jy nie reeds deel is van een nie, stig een, kom vra vir raad, kom maak voorstelle.  Laat dié sisteem werk vir jou.
    • Maar, die belangrikste van alles, jy het God, die Skepper, die Vader, die Een wat alles gemaak het, wat alles begin het, wat só graag wil hê dat jy soos Hy sal wees, dat jy Sy verteenwoordiger sal wees, en dat jy al hoe meer soos Hy in hierdie wêreld salWat jy ook al gaan doen om gehoorsaam te wees om jou geloof te begin leef, God sal jou daarin ondersteun.  Soms gaan Hy jou deur moeilike situasies sit jou karakter te bou.  Maar, dit is alreeds deel van die plan, om aan jou kinders iets van ’n lewende geloof te illustreer.
  4. Jesus nooi jou vandag uit vir die avontuur van jouDie vraag is: Gaan jy Hom volg? Dit is waarop alles neerkom – gaan jy luister; gaan jy gehoorsaam wees?  Die besluit wat jy neem, gaan nie net ‘n invloed op jou hê nie, maar ook op jou kinders en hulle kinders, en op die voortbestaan van geloof in ons gemeenskap.

Gebed

Dankoffers

Ensemble speel Vonkk 92

Slotlied

Vonkk 92 “Als so mooi en wonderlik” (staan) Keerverse en v3 en 4: gemeente v1 en 2: sanggroep

Seën

Respons

Lied 189 “Halleluja” (2x)

Naspel

Trumpet Voluntary William Boyce (Jan Coetzer trompet) 

2 Tim 1:1-7 – Familievernuwing

Verwelkoming en aankondigings

Baie dankie aan die Laerskool Summerwood se koor o.l.v Anél van Deemter, en begelei deur Esta Swart vir hulle deelname aan vanoggend se diens.

Toetrede

Summerwoodkoor “Let there be peace”

Votum

Seëngroet

Lofsange

Lied 453 “Aan die Vader dank en ere” (staan)

Koor: Lied 294 “Jesus roep die kindertjies”

Vonkk 159 “Heer, ons dink aan Afrika” (sit) Koor v1 en Gemeente die refrein in Afrikaans Koor v2 en Gemeente die refrein in Engels

Kindertyd

‘n Stamboom

Dis wonderlik om ‘n familie te hê.  Mense wat vir jou liefhet.  Mense by wie jy hoort.

Ons kan van ons familie ‘n stamboom maak.

Wat is ‘n stamboom?

Dit is ‘n lys van ons familie.

Kyk op die blaadjie wat ons uitgedeel het.

‘n Mens skryf jou eie naam boaan. Kom ek wys vir julle (A3 papier)

Dan skryf jy jou pa en ma se naam.

Daarna skryf jy jou oupa en jou ouma se name in.  Ons het mos vier van hulle – 2 oumas, en 2 oupas.

En so kan ‘n mens aangaan.

In hierdie stamboom is daar ook plek vir tannies en ooms aan die onderkant.

Daar kan jy hulle name inskryf, en ook miskien mense wat vir jou baie beteken, mense hier in die kerk wat ook kinders van die Here is.

Timoteus se stamboom

Ek wil julle nou vertel van Timoteus se familie.  (Ook op A3 papier).

Timoteus was ‘n jongman vir wie Paulus baie lief was.

Hy het hom oral saam met hom gevat.  Oral waar Paulus vir mense van die Here vertel het, kon Timoteus sien hoe hy dit doen.  En kon Timoteus self begin om vir die mense van die Here te vertel.  En hy later op sy eie reise te gaan om mense te help.  En uiteindelik kon hy dieselfde werk doen wat Paulus gedoen het.

Hoekom het Paulus hom saam gevat en hom geleer?

Want hy kon sien dié Timoteus was baie lief vir die Here.  En hy het geweet dat die Here baie lief was vir Timoteus en het vir hom ‘n taak gehad het.  Hy moes ‘n predikant word, en die mense in ‘n groot stad, Efese, help.  Die Here wou hê dat hy die werk voortsit wat Paulus daar begin het.  Hy moes preek, en die mense van die Here vertel.

Maar, hoekom was Timoteus so lief vir die Here?

Want hy het ‘n ma gehad wat die Here baie lief gehad het.  Haar naam was Eunice.  Sy was ‘n baie opregte mens.  En sy het met haar hele hart in Jesus geglo.  En sy het nie net self geglo nie.  Sy het van kleins af vir Timoteus uit die Bybel gelees, en vir hom geleer hoe om die Here lief te hê, en in Hom te glo.

Maar, waar kom sy ma se geloof vandaan?  Van haar ma af, van sy ouma, Loïs.  Sien, Timoteus se ma het ook haar geloof geleer by haar ma, Timoteus se ouma.  En dié ouma het ook vir haar uit die Bybel geleer, en vir haar gehelp om die Here lief te hê en in Hom te glo.

En só kan ons aangaan.

Julle stamboom

Net soos Timoteus het julle ook ‘n ma en ‘n pa wat vir julle van die Here vertel, wat vir julle uit die Bybel lees, en wat saam met julle bid.  Dit is hoekom julle hier in die kerk is, omdat hulle julle gebring het om van die Here te leer.  En hulle leer ook self elke keer meer, sodat hulle weer vir julle kan help.

Dit is hoe dit in die kerk werk.  En dit is die wonderlikste manier wat die Here gekies het om vir ons van Hom te leer. Ons leer dit by ons ma en pa.  En ons leer dit by ons ouma en oupa.  En julle mag hulle maar vra.  Hulle wil graag vir julle leer.

Sal julle?

Gebed

Kom ons sê dankie dat ons ‘n ma en pa het wat vir ons van die Here kan leer en vir ons kan help om in die Here te glo.  En ons sê dankie vir ons oumas en oupas wat vir ons lief is, en wat ook vir ons van Hom leer.

Die Graad 1-3’s gaan nou na die Ark vir ‘n Gesinsbyeenkoms (ouers gaan saam) en die voorskoolse kinders na die toepassing.  Graad 4-7’s bly in die kerk, om verder te luister oor hoe die kerk in ons families werk.

Skriflesing

Timoteus was afkomstig van Listra en het heel moontlik tot bekering gekom met Paulus se eerste besoek daar tydens sy eerste sendingreis.  Dit is die plek waar Paulus gestenig is en as’t ware uit die dood opgestaan het (Hand 14:19-20).  Sy pa was ‘n Griek, en sy ma, Eunice, ‘n Joodse Christen – soos trouens sy ouma Loïs ook was (Hand 16:1; 2 Tim 1:5).  Met Paulus se tweede besoek aan Listra het Timoteus by Paulus aangesluit nadat hy besny is, waarskynlik omdat sy ma ‘n Jodin was.  In Timoteus het Paulus ‘n jong gelowige gevind wat met oorgawe hom aan die bediening gegee het.

Timoteus is met die skrywe van die brief die pastor van Efese, die plek waar Paulus ook vroeër lank gewerk het (Hand 18-20).

2 Timoteus is soos die laaste testament van Paulus waarin hy Timoteus oproep om getrou aan Jesus Christus en sy evangelie te bly, sowel as aan Paulus.  Timoteus word hiermee die testateur wat Paulus se laaste wense moet uitvoer, en ook die erfgenaam van die roeping wat God vir Paulus gegee het, om die evangelie regdeur die wêreld te neem.  Paulus weet immers dat die tyd van sy dood voor die deur is (4:6,18), moontlik weens die verraad van Aleksander (4:14) wat vroeër uit die gemeente gesit is saam met Himeneus (1 Tim 1:19-20; 2 Tim 2:17).  Daarom is die brief anders as die ander gevangenskap briewe, waar Paulus verwag om weer vrygelaat te word (bv Fil 1:24; 2:23-24; Filemon 22).  Dié keer is hy oortuig is die einde naby.

Paulus skryf die brief uit die tronk in Rome (1:8,17) in ongeveer 64 nC en is heel waarskynlik kort hierna deur keiser Nero tereggestel.  Paulus se verwysing in 4:17 na ‘n leeu, word deur baie geleerdes met Nero of die Romeinse ryk verbind.  Dit is uit dié leeu se bek wat die Here hom gered het om hom behoue in die hemelse koninkryk te bring.

Die brief word in die eerste plek aan Timoteus gerig (1:2) en in die tweede plek aan die gemeente in Efese (1:18).  Let op Paulus se seënbede aan “jou” en aan “julle” in 4:22.

Die boodskap is gefokus op getrouheid te midde van teenstand deur dwaalleraars (2:16-18; 3:13), die afvalligheid van baie mense (1:15) en Paulus se eie naderende dood (4:6-8).

Let op hoe Paulus met die deur in die huis val en fokus op getrouheid aan die evangelie.  Die getrouheid hou in dat hy:

  1. bereid is om vir die evangelie te ly (vers 2 en 8) en
  2. hom aan sy roeping sal toewy in afhanklikheid van die Heilige Gees wat in hom woon (ves 13-14).

As motivering en onderskraging noem hy:

  1. die seën wat hy steeds ervaar deur ‘n gelowige familie te kan hê (sy ouma Loïs en sy ma Eunice) en hom van kleins af in die Woord onderrig het (3:5) – vers 5,
  2. die krag en liefde en selfbeheersing wat God se Gees in hom losgelaat het – vers 7,
  3. die onverganklike lewe wat God vir ons belowe het – vers 10,
  4. die voorbeeld van Paulus (as prediker, apostel en leraar) wat hom aanspoor om te leef in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het – vers 13.

Timoteus moet homself aan dié dinge herinner om sy getrouheid te versterk en weer die passie van sy roeping te herontdek deur dit soos ‘n vuur aan te blaas in afhanklikheid van die Heilige Gees.

Dan sal hy nie skaam wees om die evangelie te verkondig nie, en sy deel van die ontberings dra vir die evangelie, met die krag wat God gee.

Dié getrouheid moet volgehou word in die konteks van mense wat juis die teenoorgestelde doen: onder andere Figelus en Hermongenes (ons weet verder niks van hulle nie).  Daarteenoor is daar getroues soos Onesiforus, van Efese, wat op sy beurt vir Paulus in die tronk kom bemoedig het.

2 Tim 1:1-7

Woordverkondiging

Paulus se liefde vir Timoteus

Paulus was baie lief vir Timoteus. Hy het hom leer ken net na hy ‘n groot teleurstelling met Johannes Markus gehad het. En van die begin af het hy ge-”click” met Timoteus. Hulle het baie saamgewerk …

Nou skryf Paulus ‘n laaste brief, soos ‘n laaste testament. En Paulus is baie dankbaar, maar ook besorg, want Timoteus moet nou Paulus se plek oorneem.

  • En let op wat is die eerste ding waaraan Paulus dink.  Hy dink aan God, en hy dank Hom dat Hy daar is vir hulle.  Daarmee herinner hy Timoteus daaraan dat God die diepste bron van krag is.  Dit is altyd waar ‘n mens begin.  Niks is belangriker as God in ‘n mens se lewe nie.
  • Maar die tweede ding waaraan Paulus dink, is Timoteus se familie.  Van al die mense wat ‘n invloed in Timoteus se lewe gehad het, is dit sy ma en sy ouma wat uitstaan.  Timoteus het nie sommer uit die lug uit begin glo nie.  Hy het dit by sy ma en sy ouma geleer, selfs al lees ‘n mens niks van sy pa of oupa se geloof nie.  Sy ma en ouma het gesorg dat hy vir God leer ken en vir Hom leer dien.

En dit is vandag nog so.

Ouers se invloed op hulle kinders

Ouers het die grootste invloed op hulle kinders se geloof – tussen 60-80%.  Grootouers se invloed is die helfte so sterk, 30%.  Om dit helder te sê: As kinders glo en die Here liefhet, en as volwassenes daarmee voortgaan, is die primêre rede daarvoor dat hulle by hulle ouers en hulle grootouers geleer het om te gloi.  Dit is waar vir meer as 60% van gelowige kinders as hulle ouers hulle verantwoordelikheid nakom.  Dit is waar vir meer as 30% van gelowige kinders as hulle grootouers hulle verantwoordelikheid nakom.

Daar is selfs ‘n Psalm geskryf oor dié tema: “Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.  Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het.” (vers 3-4).

Timoteus se ma en ouma

Sien, die geloof het eers in Timoteus se ouma geleef, Loïs, en toe in sy ma, Eunice, en nou in hom. Dit is wat 2 Tim 1:5 sê. 

Ons lees nie veel van sy pa en die res van sy familie nie.

Dit gaan in die kerk en in die Christendom dus veral oor die geloofsfamilie waarbinne ons grootword, en die wyse waarop ons mekaar in die geloof in die familie versterk en die manier waarop ons ook die geloof aangee aan ons kinders. 

Om die waarheid te sê, dit is wanneer ons nie meer betrokke raak by die geloof van ons kinders nie, wanneer ouers en grootouers “disengage” en iemand anders, soos die kerk, vertrou om iets aan hulle kinders se geloof te doen, dit is presies dan waar geloof in die gedrang kom, waar ons nie meer die vitaliteit en die groeikrag van die geloof in ons families en uiteindelik ook in die kerk belewe nie.

En dit is nie al nie.  Daar was ‘n hele aantal mense wat by Timoteus se geloof betrokke was.  ‘n Mens kan die volgende mense ook op sy stamboom inskryf:

  • Priscilla, Akwila, en Onesiforus wat by hom in Efese is en hom ondersteun het (4:19-21). 
  • Ook Eubulus, Pudens, Linos, en Claudia wat saam met al die ander gelowiges aan Timoteus groete stuur uit Rome. 
  • En dan was daar ook nog Lukas en Silas wat ‘n impak in sy lewe gemaak het, op die twee groot sendingreise waarop hulle drie saam was.  ‘n Hegte geloofsfamilie!

Jou eie geloofsfamilie

Gebruik nou die stamboom en skryf daarin jou ma, pa, oumas, oupas neer.  Gebruik die vier onderste blokkies om tannies en ooms, hetsy in jou familie of in jou geloofsfamilie in te skryf.

En terwyl jy skryf, sê sommer dankie vir die Here dat Hy sulke mense in jou lewe gebruik het.

Ek wys sommer my eie stamboom met die belangrikste persone daarin.  Sommige het ek geken, en ander nie, bv my ouma Marie.  Maar die impak van haar geloof op my ma kon ek in my ma se lewe sien.  Natuurlik is mense in dié prentjie nie sonder hulle gebreke nie, maar die gewig van hulle geloof het groot spore in my eie geloof getrap. 

Maar dit is nie net my direkte voorouers nie.  Daar is in my verhaal ook vier ander mense wat ek aan die onderkant ingepas het – tant Anna Vlok, my ma se tannie vir wie ons eintlik ouma gesê het, so naby was sy aan ons, ds Derick Conradie wat die eerste geloofsgeprek met my gehad het in standerd 4, en ds Jaap Weideman wat nie net my ma voorgestel het in Beaufort-Wes nie, maar ook my predikant was in my hoërskooljare, en ‘n ongelooflike impak gehad het in my roeping en uiteindelike bediening (sonder hom sou ek nie vandag ‘n predikant gewees het nie). En dan is daar Gawie Eksteen wat my aan die wonder van stranddienste blootgestel het, wat uiteindelik daartoe gelei het dat ek vir Lynette ontmoet het, maar dit is vir ‘n ander dag. 

Daar is meer … ouma Lottie, Coenie Burger, ‘n paar professore: Hannes Olivier, Bernard Lategan, Bernard Combrinck, Dawid de Villiers, Bethel Müller, en ‘n paar van my ouer geloofsvriende hier in die kerk …  te veel om op te noem.  I salute you!

Dít is hoe die geloofsfamilie werk.  Dit begin by mense wat kies om in jou lewe iets van God en van sy liefde in te bou.  En dit word ‘n kragtige getuienis vir die Here Jesus Christus, as ons begin om dieselfde te doen.

Vier sleutels vir familievernuwing

Dit is waarom ons vir julle vandag vier sleutels gee vir familievernuwing:

  1. God het met ‘n rede uitgebreide families multi-generasioneel gemaak.  Dit is deel van sy groot plan dat geloof deur families kan ontwikkel. En daarvoor het alle families die wysheid en raad van godvresende ouer mense nodig.
  2. Families moet dus doelbewus oop wees vir die raad van godvresende ouer mense. Dit is een van die dinge wat ons moet soek en ontwikkel, om geloofsverhoudings met ouer familielede te hê. En ons moenie bang wees om hul wysheid en raad te vra nie, veral as dit by moeilike situasies kom wat jy moet hanteer.
  3. Dit beteken dat jy godvresende ouer mense toestemming moet gee om betrokke te raak in die lewe van jou familie.   Ek weet dit is baie gevra, en dat dit ook jou opvoeding en jou manier van lewe in die gedrang kanEn jy mag grense stel, uiteraard.  Maar weeg net die negatiewe gevolge op as jy só ’n geloofsimpak op jou kinders se lewe ontbeer.  
  4. Daarom beklemtoon ons, dié godvresende ouer mense kan familielede wees, of kennisse wat jou uitgebreide familie vorm. As jy nie ‘n familielid het wat hierdie rol kan vervul nie, nooi iemand om ‘n oudste, raadgewer en vriend van julle gesin teDie geloof van jou kinders hang daarvan af.

Uitdaging

Wat beteken dit vir ons?

1.  Ons geloofsfamilie sal net werk wanneer ons ons verantwoordelikheid ernstig neem om ons geloof met ons kinders te deel.

  • Dit is in die eerste plek die ouers se verantwoordelikheid … myne, joune … altyd.
  • Dit is in die tweede plek die grootouers se verantwoordelikheid.  Dit is so dat ons al hoe verder van mekaar af woon.  Dit is lank al nie meer vreemd om 30-40 uur per vliegtuig na jou kinders te vlieg om te gaan kuier nie.  Gelukkig het ons egter genoeg tegnologie om steeds in kontak te bly en sinvolle gesprekke te kan hê.  Facetime, Skype, Hangouts, Facebook, e-pos … as jy wil telefoon …

Ouers het nodig om weer daardie geloofsdeur vir hulle eie ouers oop te maak, en hulle toe te laat om hulle lewenswysheid en hulle geloofswysheid met die familie te deel.

En as dit nie kan werk nie, of jou ouers nie betrokke kan of wil wees nie, is dit miskien tyd om uit te kyk vir surrogaat grootouers, mense wat ‘n pad stap met die Here, en wat jy betrokke wil kry in die lewe van jou kinders.

Uiteraard kan dit nie jou eie geloofsgesprekke vervang nie, maar net aanvul.  Maar, gryp die kans aan en doen iets daaraan.

Onthou: God het bedoel dat ‘n familie uit meer as een generasie sal bestaan.  Elke familie het die wysheid en lewenservaring nodig van die ouer lede daarvan.  En gesinne sal daarom doelbewus weer hulleself moet oopstel vir raad en input van ouer mense, mense wat die geloof leef.  Dit is die sleutels tot geloofsoordrag wat deur die geslagte heen ‘n effek sal bly behou.

2.  Dit beteken om gebed en die Bybel as die kern van ons verhoudings te neem.

Hoe pragtig skryf Paulus nie oor Timoteus nie: “Jy ken van kleins af die heilige Skrif” – 2 Tim 3:15.  Die basis van ons geloofsgesprekke is die Bybel – dit leer ons die geloofskennis, die geloofswaarhede, die regte lewenswyse, sodat ons God kan dien en op ons beurt die geloof aan ander kan aangee. 

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie.  Daar is maar een manier om die suigkrag van die lewe sonder God  vry te spring – dít wat ons tot vervelens toe in die media en die vermaaklikheid van hierdie lewe sien – en dit is om op God en sy Woord te fokus.  Dit is dié fokus wat ook Timoteus die krag gee om in die geloof vas te staan.

Die waarde van die Skrifwoord is omvattend: dit gee jou onderrig in die waarheid, dit help jou met die bestryding van dwaling, dit help jou met die regstel van verkeerdhede, en dit help jou en jou kinders met die kweek van ‘n regte lewenswyse.  Dit is dat wat ‘n mens volkome voorbereid vir die lewe sal wees en toegerus vir elke goeie werk, soos Paulus in hfst 3 sê.

3.  Dit beteken dat ons rolmodelle moet wees:

George Barna sê dat ons ’n ongelooflike hulpmiddel het om ons kinders te leer:  die bereidheid om persoonlike stories te vertel vir ons kinders, en om ’n mate van ons persoonlike weerloosheid in ons verhale in te weef, om ons kinders se aandag te vang, en die punt te maak, dat God in alle omstandighede vertrou kan word.  Ons eie verhale van verandering en van geloof en van ons ervaring van God is die materiaal wat ons moet gebruik om die geloof in God met ons kinders te deel. 

Dit is wat Paulus ook hier verder skryf in 2 Tim 3:10-14 – “jy weet alles wat ek gedoen het …”.  Paulus het toe al geweet dat ons eie geloofslewe die beste rolmodel verskaf vir ons onderrig.  Om jou eie geloofslewe met jou kinders te deel, is die beste verweer teen die beswaar van skynheiligheid, waarvoor ons kinders ’n sesde sintuig ontwikkel het.   Hulle ruik dit op ’n afstand uit. Maar wanneer jy soos Timoteus die passie vir geloof sien in iemand soos Paulus en jy die opregtheid daarvan sien in jou ouma se lewe, en jou ma leef haar geloof voluit, terwyl sy vir jou voorlees uit die Bybel … mense, dan is geloof die mees aansteeklike ding, iets wat kinders gelukkig ook net so maklik optel.

4.  Dit beteken ook dat ons ons kinders moet aanmoedig om hulle geloofsgawes te ontdek en te ontgin.

Dit is waarvan Paulus hier skryf in 2 Tim 1:6-7.  Hy was nie net betrokke reg aan die begin toe Timoteus se gawes ontdek is nie.  Hy was nie net betrokke by die ontwikkeling daarvan soos hy al hoe meer in die bediening ingetrek is nie. Nee, hy moedig hom aan om die gawe van God soos ‘n vuur aan te blaas, sodat Timoteus sy bediening met oorgawe kan uitvoer – 2 Tim 4:2-5.

Ek sluit af

Paulus het geweet dat die evangelie net op een manier kan voortgaan, en dit is as jonger mense as hy die Here Jesus leer lief kry en die geloof begin lewe.  Daarom het hy so baie tyd aan sy jong geestelike kind, Timoteus, spandeer.  Trouens 8 van Paulus se 13 briewe is óf saam met Timoteus geskrywe óf aan hom gerig.  Twee derdes van Paulus se briewe was dus deel van sy bediening aan of saam met Timoteus.  En dan is daar nog die brief aan Titus wat ook ‘n jongeling in die geloof was.

Dit is dié tipe verhoudings wat ons moet aanmoedig.  Ons moet ons Timoteus vind, as jy ouer is (dit bedoel bo veertig!), óf, as jy jonger is, moet jy vir jou ‘n Paulus vind.

Maar, soos Paulus tereg ook sê, dít alles begin by die huis, by ‘n ma, by ‘n ouma, by ‘n pa, by ‘n oupa, by ‘n oom, by ‘n tannie, by iemand wat verantwoordelikheid neem.

En ek wil jou uitdaag vandag.  Ek het ses geloofsgesprekke uit Mark Holmen se boek vertaal en ‘n bietjie aangepas vir ons konteks.  Die eerste een het jy al in jou hand.  Dit is agterop die stamboom.  Die res kan jy op die web kry by ngkerksomerstrand.co.za of by die kerkkantoor.

Die teksvers vir al ses geleenthede is Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”  En dit is oop vrae, wat gesprek gaan aanmoedig.

Besluit vandag met wie jy graag oor geloof wil gesels.  Dit kan met jou ouers/kinders wees by huisgodsdiens óf in ‘n een-tot-een gesprek met iemand.  Dit kan by julle kleingroepbyeenkoms wees of in ‘n een-tot-een gesprek met iemand wat jy vertrou.  En gebruik die hulpmiddel.  Dit is eenvoudig.  Dit is fundamenteel.  Dit sal julle lewe verander.

En daar is natuurlik ook die huisgodsdiens en kleingroepmateriaal waar julle verder kan werk met die stamboom en met die vier familievernuwing sleutels.

Besluit vandag!

Amen.

Gebed

Dankoffers

Koor: Siyahamba “We are marching in the Light of God”

Slotlied

Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel” (staan)

Seën

Respons

Lied 266 laaste reël “Vir ewig en ewig, amen”

Huisgodsdiens

RUS EN ONTVANG

  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR EN ONTGIN

Lees 2 Tim 1:1-7

  • Wat tref jou in die gedeelte? Deel dit met mekaar.
  • Let op hoe Paulus van sy eie voorouers se godsdiens praat, en van Timoteus se ma en ouma se geloof wat ook in hom is. Watter rol het jou eie ouers en grootouers in jou geloof gespeel? Gebruik die uitgedeelde stamboom om dit grafies voor te stel en dan daaroor te gesels. Dit is ook by ngkerksomerstrand.co.za beskikbaar.
  • Let ook op hoe Paulus van Timoteus as sy geliefde kind praat, en met hoeveel passie hy praat oor sy gebed vir hom, en hoe hy hom aanmoedig om die Here toe te laat om sy hele lewe vol van Sy krag, liefde en selfbeheersing te maak. Is daar iemand in wie se lewe jy só ’n rol speel? Gebruik die stamboom om dit voor te stel en daaroor te gesels.
  • Kyk na die Familievernuwing sleutels. Wat tref jou daarvan? Hoe kan jy dit gebruik en inspan in jou lewe?
  • Wat vra God nou van julle? Hoe gaan julle daarop reageer? Dink spesifiek aan familielede of ander geloofsgenote wat ’n invloed op jou geloofslewe gehad het. Sê vir die Here (en vir hulle) dankie. Besluit hoe jy hulle meer in jou lewe kan betrek.
  • Dink ook aan mense wat die Here op jou hart lê om by betrokke te raak. Jy kan die boekie met Ses Geloofsgesprekke by die kerkkantoor of op die web kry en met ’n groep of ’n individu deurwerk. Die eerste gesprek is op die agterkant van die stamboom gedruk. Só volg jy Paulus se voorbeeld om die geloof na ’n “Timoteus” deur te gee!
  • Gaan deur jul gebedslys. Is van jul gebede beantwoord? Sê dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondigings.

LEEF EN ONTPLOOI

Familievernuwing sleutels

  1. God het met ‘n rede uitgebreide families multi-generasioneel gemaak. Alle families het die wysheid en raad van godvresende ouer mense nodig.
  2. Families moet oop wees vir die raad van godvresende ouer mense. Soek en ontwikkel verhoudings met ouer familielede. Moenie bang wees om hul wysheid en raad te vra nie, veral as dit by moeilike situasies kom wat jy moet hanteer.
  3. Gee godvresende ouer mense toestemming om in te meng in die lewe van jou familie.
  4. Godvresende ouer mense kan familielede wees, of kennisse wat jou uitgebreide familie vorm. As jy nie ‘n familielid het wat hierdie rol kan vervul nie, nooi iemand om ‘n oudste, raadgewer en vriend van julle gesin te wees.

Ses Geloofsgesprekke

Daar is ‘n direkte verband tussen die geloofsvolwassenheid van kinders en tieners  en hulle geleenthede om oor geloof met hulle ouers en ander volwassenes te gesels (Search Institute navorsing).  Hoe meer jongmense oor geloof met volwassenes gesels, hoe hoër is hulle geloofsvolwassenheid.  Hier is die eerste gespreksraamwerk wat jy kan benut om ‘n geleentheid te skep vir sulke geloofsgesprekke.

Besluit vandag met wie jy graag oor geloof wil gesels.  Dit kan met jou ouers/kinders wees by huisgodsdiens óf in ‘n een-tot-een gesprek.  Dit kan by julle kleingroepbyeenkoms wees of in ‘n een-tot-een gesprek met iemand wat jy vertrou.

Daar is ‘n reeks van ses gesprekke hiervoor.  Jy kan dit op ons webtuiste (ngkerksomerstrand.co.za) aflaai en uitdruk, of by die kerkkantoor vra dat ons dit vir jou fotostateer.   Daar is reeds ‘n paar eksemplare gedruk.

Die teksvers vir al ses geleenthede is Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Gesprek EEN – Om God te ken

Gebed – Here, ons wil graag met mekaar oor U gesels.  Ons vra dat U ons sal seën en die moed gee om openlik te gesels.  Ons wil eerlik wees met mekaar en leer by mekaar.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Lees Johannes 3:16.
  2. Wat is die moeilikste ding wat jy al gedoen het of probeer doen het?
  3. As jy vir iemand moes vertel wie God is, sal dit vir jou moeilik of maklik wees?  Hoekom?
  4. Maak ‘n lysie van sewe dinge wat die volgende sin voltooi: “God is …”
  5. Voltooi hierdie sin: “Een van die redes hoekom ek weet God bestaan, is …”
  6. Hoe naby voel jy aan God in die loop van jou dag?
    1. “Ek voel naby aan God wanneer …”
    2. “Soms voel ek God is ver, wanneer …”
    3. As jy God een vraag kon vra, wat sou dit wees?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek TWEE – Om die wêreld te ken

Gebed – Here, ons dank U vir die wêreld waarin ons kan lewe.  Vergewe ons dat ons nie altyd goed kyk daarna nie.  Help ons om U koninkryk te soek in alles wat ons doen.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Lees Johannes 3:16.
  2. As jy enige plek in die wêreld kan gaan, waarheen sal jy gaan?
  3. Wat sal jy ‘n alien antwoord as dié jou sou vra: “Wat is die grootste ding wat al in die wêreld gebeur het of tans gebeur?”
  4. Hoe is die wêreld anders vandag as 25 jaar gelede?  En 100 jaar gelede?  En 2000 jaar gelede, toe Jesus op aarde was?
  5. Watter veranderinge sedertdien is goed?  Watter veranderinge is sleg?
  6. Wat dink God van die wêreld vandag?  Waarvan sal Hy hou?  Waarvan sal Hy nie hou nie?
  7. Wat sal anders wees in ons wêreld oor 25 jaar?  En oor 100 jaar?  En 2000 jaar van nou af?
  8. Wat dink jy sal met die Christendom gebeur in die toekoms?  Wat is ons rol om die Christelike geloof te bewaar vir die toekoms?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek DRIE – Sy Enigste

Gebed – Here, ons dank U vir U Seun wat U vir ons gestuur het om vir ons sondes te sterf.  Help ons om nooit te vergeet wat U vir ons gedoen het nie.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Lees Johannes 3:16.
  2. Hoeveel kinders is in julle familie?  Hoeveel is daar in jou ma en jou pa se families?
  3. As jy broers of susters het, hoe is jou verhouding met hulle?  As jy nie ‘n suster of broer het nie, hoe is jou verhouding met jou beste vriend of vriendin?
  4. Watter dinge is vir jou as kind goed in jou familie?  Watter dinge is moeilik?
  5. Watter dinge dink jy was vir Jesus goed as die Seun van God?  Wat was die dinge wat moontlik vir Hom moeilik sou wees?
  6. Hoe sal jy voel as iets tragies met jou of een van jou familielede gebeur?
  7. Hoe dink jy het God gevoel toe Hy sy Enigste Seun aan die kruis sien sterwe?  Hoekom het God dit laat gebeur?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek VIER – Glo My!

Gebed – Here, U het my só baie redes gegee om in U te glo.  Help my glo en om U in alles te gehoorsaam.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Lees Johannes 3:16.
  2. Hoe sal jy die woord “glo” verduidelik?
  3. Voltooi dié sin: “Van die dinge waarin ek glo, is …”
  4. Voltooi nou dié sin: “Van die dinge waarin ek nie glo nie, is …”
  5. Voltooi ook dié sin: “Van die dinge waarin ek geglo het, maar nie meer glo nie, is …”
  6. Watter soort mense glo jy as hulle jou iets vertel?  Hoekom glo jy hulle?
  7. As jy wil hê mense moet jou glo, wat sal jy doen?
  8. Wat sal jy antwoord as iemand jou vra, “Glo jy in God?”
  9. Wat het God gedoen om dit makliker te maak vir mense om in Hom te glo?
  10. Op watter maniere doen God dit vandag nog om mense te help om in Hom te glo?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek VYF – Die dood verander dinge

Gebed – Here, ons weet dat U sorg dat alle dinge ten goede meewerk.  Ons weet dat ons die ewige lewe het deur die opstanding van Jesus Christus, selfs wanneer ons doodgaan.  Help ons om mekaar te ondersteun wanneer ons en ons geliefdes deur die dood geraak word.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Probeer Johannes 3:16 uit die kop aanhaal vir mekaar.
  2. Het jy (of iemand wat jy ken) al ‘n ervaring gehad waar jy gedink het jy gaan dood?
  3. Hoe het dié ervaring jou verander of geraak?
  4. As jy nog een week oor het om te lewe, wat sou jy doen?  Hoekom?
  5. Wat keer jou om dié dinge vandag te doen?
  6. Het jy al iemand naby aan jou verloor?  Hoe het dit jou laat voel?
  7. Johannes 3:16 sê: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie.”  Wat beteken dit?  Hoe verander dit jou siening van dood en lewe?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

Gesprek SES – Ewige lewe!

Gebed – Here, ons dank U vir die tyd waarin ons mekaar beter kon leer ken het.  Help ons om U ook al beter en beter te leer ken.  Dit vra ons in U naam, Here Jesus, Amen.

  1. Haal Johannes 3:16 uit die kop aan vir mekaar.
  2. Wat is die beste Kersfees – of verjaarsdag geskenk wat jy al gekry het?
  3. As jy vir een geskenk dié Kersfees kon vra, wat sal dit wees?
  4. Hoe dink jy is die hemel?  Hoe lyk dit?  Wie is daar?
  5. Dink jou vriende dat die hemel ‘n beter geskenk is as enigiets wat hulle hier op aarde kan kry?  Hoekom of hoekom nie?
  6. As jy nou die een geskenk kry wat jy graag wil hê, hoe sal dit jou laat voel?  As jy dié geskenk ook vir iemand anders kan gee, wie sal dit wees?
  7. Elkeen wat glo in Jesus Christus ontvang die gratis geskenk van die ewigeWat beteken dit?  Hoe reageer jy daarop?
  8. Dié geskenk is daar vir elkeen wat jyVir wie vertel jy daarvan?
  9. Watter van jou vriende of kennisse sou jy graag wou hê moet ‘n Christen word?
  10. Wat kan jy doen (of het jy al gedoen) om hom of haar te help om die liefde van Jesus Christus te leer ken?

Deel julle hoogtepunte en laagtepunte van die afgelope week.  Bid vir mekaar om mee af te sluit.

God praat publiek en privaat

Verwelkoming

Toetrede

Lied 224 – Kom prys Hom alle nasies – gemeente/koor/gemeente – sit

Votum en Seëngroet

Lied 476:1-2 – ’n Vaste burg is onse God, ons skuil in Hom die sterke (Maarten Luther) – staan

Psalm 117 – Sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie (kortste Psalm) – koor (Johan van Eck se musiek)

Lied 169 – Heilig, heilig, heilig, Heer, God almagtig, groot is u troon, U is steeds met lof omring – sit

Kindertyd

Ek wil julle vandag vertel van die Chinese dogtertjie wat graag met haar ouma oor die Here wou praat.  Dié wou egter niks daarvan weet nie.  Eendag toe sy by haar ouma kuier, sien sy dat haar ouma besig was om haar mure met papier te plak.  Toe sy daarna kyk, sien sy dat dit Bybel bladsye is.  Toe sy vra waar haar ouma dié papiere gekry het, was haar ouma se antwoord, “in ’n dosie wat seker langs die pad uit iemand se sak geval het”.  Haar ouma kon egter nie lees nie, en het dus nie geweet dat dit Bybel bladsye was nie.

Die dogtertjie het stil gebly en haar ouma gehelp om haar mure verder te versier met die bladsye.  Die volgende dag toe sy by haar ouma kom kuier, sê sy vir haar ouma: “Ouma, die mure praat met my.” Verbaas het haar ouma gevra: “Wat sê die mure vir jou, my kind?” Die dogtertjie het toe begin om die Bybelverhale wat teen die mure opgeplak is met haar ouma te deel.  Kort voor lank het haar ouma in die Here begin glo, vanweë die Bybelse verhale wat sy by haar kleinkind gehoor het.

Ons is vandag bly dat ons ons eie Bybels het en dat ons die Bybel kan lees.  Baie jare gelede was daar ’n tyd dat mense nie hulle eie Bybels gehad het nie.  Die Bybel was net beskikbaar in tale wat gewone mense nie geken het nie: Grieks/Hebreeus en Latyn.  Mense het nie Bybels in hul huise gehad nie.  Die Bybel was weggesteek in universiteite en kerke. 

Die man wat dit verander het, was Maarten Luther.  Hy is in 1483 gebore, baie lank gelede, nog vóór ons families in SA kom bly het!  Hy het ’n priester geword toe hy so 24 jaar oud was, en vir die eerste keer in sy lewe ‘n Bybel gesien!  En deur die Bybel het God met hom gepraat en het hy vir God liefgekry.

Hy het só lief geword vir die Bybel dat hy dit vertaal het in die taal wat sy mense kon verstaan.  En mense het sélf so lief geword vir die Bybel, dat hulle ook begin het om die Bybel in die tale van hulle mense te vertaal.  En só het ons vandag ’n Afrikaanse Bybel wat ons kan lees en verstaan.

Gebed

Skriflesing

Handelinge 2:43-47; 5:41-42; 20:17-21

Die eerste gemeente

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Die vervolging van die apostels

41Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. 42En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe

17Van Milete af het Paulus ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep. 18Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; 19hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. 20Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huis onderrig het. 21Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo.

Woordverkondiging

God praat met my

Ek onthou nog glashelder die huisgodsdiens in 1969 toe my ma uit Romeine 8:15-16 gelees het: “julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep ‘Abba!’  Dit beteken Vader.  Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

Sonder dat ek voorbereid was daarop, as jong standerd vyf kind, het die trane by my wange begin afloop.  Sonder dat ek eers regtig verstaan het wat met my gebeur en selfs wat die teks nou eintlik beteken, het ek ’n ervaring van God se teenwoordigheid gehad wat my nooit weer sou los nie.

Die Woord, net die blote aanhoor van die Woord, het ’n kragtige uitwerking.  Hoekom?  Want God praat daardeur.

Ek onthou die aand op ’n CSV kamp in 1974 in my standerd nege jaar toe Gawie Eksteen ons klomp kringleiers toegespreek het en ons herinner het daaraan, dat ons nie vir iemand anders iets kan gaan vertel wat ons self nie ervaar nie.  En hoe ek onder die indruk gekom het daarvan dat dit die Here self is wat met my praat in die saal waar baie ander gelowiges bymekaar was en ek eenkant in ’n tent in ’n eenvoudige gebed my lewe vir die Here gegee het.

En ek onthou nog glashelder die oggend in die erediens in 1986 toe prof. Bernard Combrinck uit Psalm 37 gepreek het en hoe die teks in vers 4-5 my aangespreek het en ek net geweet het die Here gaan my stuur.  En by die huis die oggend het ds. Dave Marais my gebel om my van die beroep na dié gemeente, Somerstrand, te vertel.

En ek onthou dié afgelope week, hoe die Here twee besondere dinge vir my gesê het, een wat te make het met die breër prosesse waarby ek in die kerk betrokke is, die Seisoen van Luister, en die ander ’n baie persoonlike woord waarmee die Here my bemoedig het in my eie lewe.

Óf jy nou alleen is in jou stiltetyd, of by die huis is saam met jou mense in huisgodsdiens, óf jy nou in ’n groter groep gelowiges in ’n kleingroep of in ’n kamp-situasie is en of jy nou hier in die erediens sit – God praat.  Daarvan kan jy seker wees.

God praat in Handelinge

Daarom was dit vir my so heerlik om die teksgedeeltes vir vanoggend deur te werk en net weer die kern van die eerste gemeente se ervarings voor oë te kry.  Want dit is presies waarvan hulle ervarings ons vertel.  Hulle het geleef met hierdie verwagting dat God sal praat in hulle huise en ook in die tempel, dat Hy van Hom sal laat hoor wanneer hulle in die intieme kring van hulle huisgesin sou wees en in die openbare byeenkomste van die tempel en die sinagoges.

Ons lees in Handelinge 2 dat die eerste gemeente met verwagting elke dag getrou in die tempel bymekaargekom het.  Dat hulle van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou het, waartydens hulle ook die nagmaal gebruik het, en terwyl hulle hul kos met blydskap en in alle eenvoud geëet het, God geprys het. Hulle hele lewe het gedraai om hulle verhouding met God, die lewende Here, dié een wat elke dag mense wat gered word by die gemeente gevoeg het. 

En let op dat dit die Here was wat mense by die gemeente gevoeg het, Jesus, die Here, was intiem betrokke waar hulle besig was om na God te luister en met God ’n pad te stap.

Selfs wanneer hulle onder druk van die gemeenskap gekom het, het hulle hiermee volhard.  Laat ons nooit vergeet dat die eerste gemeente dit nie net maklik gehad het nie.  Dit was nie net ’n wonderlike geseënde tyd van ongebreidelde uitbreiding en vrede nie.  Hulle het baie gou ernstige teenstand ervaar van die Joodse Raad wat hulle in hulle spore wou stuit.  Die eerste martelaar, Stefanus, sou gou hierna vermoor word en ’n tydperk van vervolging en leed inlei. 

Maar,  lees ons in Handelinge 5, selfs toe hulle gedreig word om op te hou met hulle getuienis, het hulle voortgegaan om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.

Let op: elke dag … in die tempel, d.w.s. in die publiek … in die huise, d.w.s. meer privaat.  Want hulle het hierdie wonderlike ervaring gehad dat God hulle aan die hand gevat het en begelei het deur sy Woord en hulle kon dit net nie mis nie.  Selfs nie al het hul erge teenstand ervaar.

En wanneer Paulus op sy derde sendingreis afskeid neem van die ouderlinge van Efese, soos ons in Handelinge 20 lees, dan bemoedig hy hulle en herinner hulle aan die 3 jaar wat hy onophoudelik met hulle in die openbaar – beide aanvanklik in die sinagoge in Efese en later in die saal van Tirannus – sowel as in hulle huise die evangelie aan hulle verkondig het.  Trouens, hy het nie net met die gelowiges gepraat nie, ook met die ongelowiges – in die openbaar en in die huise.

Dis hoe die eerste gemeentes geleef het – in die openbaar en in die huise, in ’n uitgesproke vennootskap, privaat en publiek.  Want die werklikheid van God wat deur die Woord met mense praat en hulle van Sy teenwoordigheid en Goddelikheid oortuig, dié het hulle gedring om elke moontlike geleentheid te gebruik.

God praat van die begin af

Trouens, dit was eintlik nog altyd so.  Dit is die fundamentele vertrekpunt van geloof: God praat.

Die eerste woorde van die Bybel vertel reeds vir ons dat God praat.  “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.” (Gen. 1:2).  Hy praat die skepping die werklikheid in.  Hy skep ’n ruimte waarin lewe kan floreer … deur dit te sê, deur dit te praat.  Lank voor die sosiale wetenskaplikes oor die skeppingsvermoë van taal gefilosofeer het, sê die Bybel dit al vir ons: die werklikheid is ’n taal-werklikheid. Soos ons woon in die huise wat ons met ons taal skep (Gadamer en Wittgenstein), só woon ons in die wêreld wat God met sy taal geskep het.

En dié God praat met mense, so vertel die ervarings van die eerste mense ons: Adam en Eva en die hele reeks van mense waarvan Genesis 1-11 ons vertel, Abel, Kain, Henog, Noag. 

  • Soms is dié praat ’n vertroostende gemeenskap skeppende gesprek, soos ons van die eerste mense lees. 
  • Soms is dit ’n ontsagwekkende ervaring van God se toorn, soos ons van hulle ongehoorsame nageslag lees. 
  • Ander kere is die praat ’n rigtinggewende opdrag of roeping, soos ons van talle gelowiges regdeur die OT en die NT lees. 

So lees ons dit in die verhale van Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses, Josua, Samuel, Dawid, Elia, Jesaja, Jeremia, Esegiël, Paulus … ag en só kan ’n mens aangaan.  Daar is net te veel mense om op te noem.

God praat.

Dit is die onomwonde getuienis van die geloofsgemeenskap deur die eeue.  Gelowige op gelowige op gelowige getuig hiervan. 

En wat ons hier in Handelinge ook sien, is dat dié God praat op die groot verhoë – in die skepping, in die tempel, in die kerkgebou – sowel as in die kleiner ruimtes – die huis en die binnekamer of êrens alleen by ’n rivier of in die woestyn.  God se stem weerklink oor alles en deur alles en God se stem dring deur tot in die binneste binnekant van ons menswees, daar waar ons nie kan ontken dat Hy bestaan en dat Hy Homself aan ons openbaar nie.

En laat ons dit reguit vir mekaar sê.  Ons is nie vanoggend hier in die openbaar bymekaar net om ’n paar rituele na te kom nie, om ’n paar liedere te sing, soms nagmaal te vier of ’n paar kinders te doop of ’n geldjie in die bordjie te gooi nie, hoe sinvol of betekenisvol dit ook al mag wees.  Ons kom bymekaar omdat ons God hoor praat in ons lewens.  Ons kom bymekaar om God ook hier te hoor praat.  En van hier weer terug in ons persoonlike lewens God te hoor praat.

Want, God praat.

Ons het albei maniere nodig

Wat ons vandag weer helder moet besef, is dat ons albei plekke nodig het. Ons het ’n balans nodig tussen die bediening wat van hierdie kerkgebou af uitgaan, én die bediening wat vanuit elke huis waar ons bly, uitgaan.  Ons is in ineengestrengelde vennootskap, elke huis in hierdie gemeente het hierdie vennootskap met die res van ons, om met die werklikheid van God wat praat rekening te hou, dit te verwag, daarvan te getuig. 

Die gemeente byeenkoms vanoggend help ons om ons oog op die breër wêreld te vestig, dié wêreld wat God se lief het.  Hier hoor ons van die breër dinge wat gebeur, soos ons ook in die afkondigings weergee.

Dit keer dat ons nie net ons eie persoonlike gedagtes dink nie, ook nie oor die Bybel nie, sodat ons nie so maklik sektaries word nie.  Sektaries beteken eintlik maar net dat jou eie idee en interpretasie van die Bybel belangriker raak as ander s’n en jy jou uiteindelik afskei van ander omdat jy anders dink.  In plaas daarvan dat ’n proses van geestelike onderskeiding gebeur waar ons almal saam die Here se stem hoor vir hoe ons in die openbaar met mekaar die pad moet loop.

Maar, van die ander kant afgesien, die fokus by ons huise om na God te luister, as familie, as kleingroep en natuurlik ook persoonlik, help elkeen van ons weer om real te bly, om self die pad met die Here te loop, ons eie gesprekke met God te hê en Hom sélf te hoor praat. 

Ons het albei nodig – die publieke openbare byeenkomste, én die private, meer intieme ruimtes van die huis en die binnekamer. (Lees meer by David Anderson en Paul Hill – Frogs without legs can’t hear.)

Ons kan met God praat

Daarom is daar ook Psalms en ander liedere geskrywe vir die samekoms van gelowiges waarmee gelowiges ook met God kan praat, want dit is mos ’n gesprek.  God praat nie alleen nie.  Ons praat ook met Hom.  Dit is hoekom ons dit ook saam sing, soos die koor vanoggend Psalm 117 gesing het:

  • Ps. 117: “Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie!  Prys die Here!”

Én daarom is daar ook Psalms opgeteken vir jou persoonlike gebruik, talle van hulle in die Bybel, soos ook van die gebede in die Bybel:

  • Soos Ps. 56 wat my dié week besonderlik getref het: “Wees my genadig, o God, want daar is mense wat my jaag, vyande wat my vervolg van die môre tot die aand …” wat vervolg in die versekering wat my persoonlik dié week getref het: “My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet.  In u boek staan hulle opgeteken.”

God is nie stil nie.  Hy praat.  Hy antwoord.  Hy begelei.  Hy vertroos.  Hy bemoedig.  Hy laat Homself nie onbetuig in jou lewe nie!

Leef met die verwagting dat God praat

Daarom wil ek jou aanmoedig om dié week moeite te doen met die Woord en met gebed.  Want, God praat.

Doen dit alleen én in jou familie én in ’n kleingroep. 

Leef met die verwagting dat God praat … en jy sal dit ervaar.  Die interessante is, wanneer jy God in die private ruimte hoor, begin jy Hom hier ook hoor.  Wanneer jy God in die openbare ruimte hoor, begin jy Hom in jou persoonlike ruimte ook hoor.

  • Dit kan wees dat iets jou net skielik tref en jou hart aanraak.
  • Dit kan wees dat jy skielik insig kry en ’n lig vir jou opgaan.
  • Dit kan wees dat jy doodgewoon net tot rus kom in die wete dat die Here jou lief het en jou trane in sy boek opgeskryf is.

Leef in daardie verwagting en jy sal nie teleurgestel word nie.

Amen.

Gebed

Dankoffers

Slotlied

Lied 475 – Allerhoogste Hemelvader, lofgesange prys u Naam – staan

Seën

Respons

Lied 228 – Halleluja – staan 

Matteus 2:1-12 – Jesus is Koning van almal en oor die hele lewe – 6 Jan 2013

Verwelkoming

1.  Brand in New Brighton – Verklaring van die burgemeester, ZANOXOLO WAYILE (4 Januarie 2013 op Facebook: (https://www.facebook.com/pages/Nelson-Mandela-Bay-Municipality/113567355326312?fref=ts)

Groot brand op 3 Januarie – 300 shacks afgebrand in die informele buurt Chris Hani in New Brighton.  Kos word tot Maandag twee keer ‘n dag voorsien sowel as tydelike huisvesting.  Mediese hulp en hulp met ID’s ensomeer word gegee.  Hulle werk saam met Gift of the Givers en wil graag 100 skuilings bou.  Mens kan hulle ondersteun deur nie-bederfbare voedsel te gee soos blikkieskos.  Gee dit af by die Brandweer in Walmer Boulevard tydens kantoorure.

2.  Die Storie – Om die jaartema Geseën om te seën tot sy reg te laat kom, fokus ons in die eredienste gedurende die skoolkwartale op die oorhoofse aaneenlopende verhaal van God en sy mense in die Bybel. Ons gebruik as vertrekpunt hiervoor die inhoud van die boek Die Storie.  Hierdie boek van Max Lucado en Randy Frazee gebruik die Nuwe Lewende Vertaling as Bybelteks en vertel die aaneenlopende verhaal van die Bybel in 31 hoofstukke.  Die voordeel hiervan is dat die werklike teks van die Bybel gebruik word, en mense in ‘n jaar nie net die verhalende gedeeltes van die Bybel deurlees nie, maar ook ‘n globale prentjie van God se verhaal met sy mense sal kry.

Die boek is in Afrikaans beskikbaar in verskillende uitgawes vir volwassenes, tieners, jonger kinders, en selfs vir voorskoolse kinders.  Daar is ook baie ander hulpmiddels beskikbaar, soos DVD’s.  Kyk gerus hier na meer inligting: http://www.cumuitgewers.co.za/contentpage/die_storie/inleiding/ .  Ons sal dit teen afslag te koop aanbied.  Ons sal ook kyk of daar ‘n eboek weergawe beskikbaar word.

Ons wil dus graag hê dat almal in die gemeente saam met ons die Bybel op dié manier deurlees, terwyl ons dan elke Sondag fokus op een van die onderwerpe uit die Bybelgedeeltes wat in die voorafgaande week gelees is.  Daar sal kleingroepmateriaal beskikbaar wees vir Bybelstudiegroepe, gemeenteselle en huisgodsdiens, sodat mense saam met ons die pad met die Bybel kan loop.

Klema gaan ook dieselfde reeks volg.  Ons beplan om elke keer ‘n kwartaal vooruit te beplan om duplisering uit te skakel, en die onderwerpe vir die onderskeie gehore aan te pas.

Die Bybelskool sal daarby aansluit soos en waar dit kan.  Ons lees die eerste kwartaal die 2de Psalmboek (Ps 42-72).  Ek begin bydraes plaas die 23ste Januarie en die eerste byeenkoms is ook dieselfde dag die 23ste Januarie.  Dit duur 6 weke vir die 36 Psalms.

Toetrede

Lied 376 Wyses het u ster gesien –sit

Votum

Kom, gemeente van Somerstrand, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid. Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het. (Jesaja 60:1-3 aangepas)

Seëngroet

Liewe gemeente, genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:  “Laat daar lig wees.” Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.  En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.  Amen.  (Cas Wepener, Soos ‘n blom na die son draai, Bybel-Media 2011)

Lofsang

Lied 367 Ere aan God – staan

Lied 350 In die stad van koning Dawid – sit

Familietyd

Die Bybel sê nie daar was 3 wyse manne nie.  Omdat daar drie geskenke genoem word, het mense nog altyd maar stories vertel van 3 wyse manne.  Daar is selfs legendes wat vir hulle name gee:  Caspar, Melchior en Balthasar.

Maar daar is ook ‘n legende van ‘n vierde wyse man!  Die storie is dat sy naam Artaban was.  Hy was op pad van Persië af om die ander wyse manne te ontmoet.  Sy geskenk was juwele.  Saam met hom het hy 3 kosbare juwele gedra:  ‘n saffier, ‘n robyn en ‘n pêrel. 

Langs die pad het hy ‘n ou Joodse man ontmoet wat besig was om dood te gaan van koors.  Artaban het besluit om die ou man op te pas totdat hy gesond is.  Só mis Artaban sy ontmoeting met die ander wyse manne.  Artaban het die kosbare saffier verkoop om seker te maak dat die ou man versorg is.  Die ou man het vir hom vertel dat die profete gesê het die Messias sal in Betlehem gebore word.  Daarom, toe die ou man gesond is, het Artaban op sy eie vertrek, op pad na Betlehem. 

In Betlehem aangekom, vertel ‘n jong ma vir hom dat die ander wyse manne reeds weg is en dat die familie wat hy soek, gevlug het.  Terwyl Artaban nog in Betlehem is en wonder wat om te doen, arriveer Herodes se soldate om al die jong seuns dood te maak.  Artaban gee vir ‘n soldaat sy robyn om seker te maak dat die soldaat nie die jong vrou se baba seun doodmaak nie.

Nou het Artaban net ‘n pêrel oor gehad, maar hy het besluit om aan te hou soek vir die Koning.  Uiteindelik, na 30 jaar van soek, kom hy tydens Paasfees in Jerusalem.  Almal was in rep en roer oor ‘n man genaamd Jesus wat beweer het dat hy die Seun van God was.  Artaban het gewonder of hy sy pêrel kan gebruik om die jong man te red.  Hy was nog op pad om te kyk wat hy kan doen, toe hy ‘n jong meisie sien huil.  Sy het hom vertel dat sy huil omdat sy as ‘n slaaf verkoop gaan word om haar pa se skuld te betaal.  Artaban kon dit nie oor sy hart kry nie!  Daarom het hy sy pêrel – sy laaste juweel – gebruik om haar pa se skuld te betaal.

Net toe kom Jesus verby gestap, besig op die kruis te dra, op pad om doodgemaak te word.  Toe Artaban in Jesus se oë kyk, het hy geweet dít is die Koning waarna hy so lank gesoek het.  Hy kon nooit sy drie geskenke vir Jesus gee nie, maar in daardie oomblik het hy geweet:  deur sy geskenke te gebruik om ander te help, hét hy dit vir Jesus gegee.

Gebed

Skriflesing

Ons is nou in daardie gedeelte van die kerklike jaar wat as epifanie (“verskyning”) bekend staan.  Ons aandag word na Advent en Kersfees gefokus op die betekenis van die verskyning van God se genade in Jesus Christus.

Van die vroegste eeue verstaan die Christelike kerk epifanie as ‘n tyd om die identiteit van die Christuskind te onderskei.  Deur te verstaan wie Jesus is, weet ons hoe om wys en reg voor God en met mekaar in God se wêreld te lewe.

Matteus 2

2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:

6En jy, Betlehem, gebied van Juda,

jy is beslis nie die kleinste

onder die leiers van Juda nie.

Uit jou sal ’n leier voortkom

wat vir my volk Israel

’n herder sal wees.” (Miga 5:1)

7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Woordverkondiging

Identifiseer met karakters in die verhaal

Hierdie verhaal van Matteus is vir ons baie bekend.  Trouens, ek het dieselfde teks verlede jaar as die nuwejaarsboodskap gebruik. 

Ek het toe veral gefokus op hoe ons reaksies op die Christus-kind ons help om ons self te verstaan, deur ons te help om met verskillende karakters in die verhaal te identifiseer. 

  • ’n Mens kan identifiseer met die magi, die sterrekykers, en soos hulle jou lewe laat draai om hierdie een begeerte om Jesus as die Koningskind te leer ken en Hom te dien.  Want dit is die primêre ding, die hoofsaak, wat jou lewe kan verander.
  • ’n Mens kan ook identifiseer met Herodes en Jerusalem se magsbeheptheid wat ten alle koste teenstand wil uitwis.  Dit kan jou help om te besef dat jy versigtig moet wees vir die donkerte in jou wat hierdie jaar kan kompeteer met die roeping wat die Here vir jou het en wat jou kan laat nee sê vir Hom.
  • Of jy kan identifiseer met die Skrifgeleerdes en priesterhoofde wat al die regte kennis het, selfs die Skrifte reg kan uitlê en weet dat die Christus in Bethlehem gebore moet word, maar nooit gaan kyk nie.  Dit is seker die hartseerste van die drie reaksies.  Jy kan saamloop met ons almal en geniet wat die Here vir ons gee hierdie jaar, selfs vir ander vertel wat gebeur, sonder om ooit self te gaan kyk, betrokke te raak en self te ondervind dat die Here werklik is en ook vir jou en deur jou wonderwerke wil doen.

En dit is steeds vir my ’n wonderlike boodskap, een wat ek sou kon herhaal vanoggend.  Maar, ek gaan nie, want daar is meer in hierdie teks.

Matteus 2 is ’n sleutel om die Christus-Kind self beter te verstaan

Ek wil vandag die teks gebruik as ’n sleutel om die Christus-kind self beter te verstaan, om jou begrip van wat hier gebeur, te verruim, om jou uit te daag om meer raak te sien in die Christus-Kind, om Hom raak te sien as Kind ja, maar meer nog, as Christus-Koning en uiteindelik as Christus-God.  Die implikasies daarvan vir jou lewe is ingrypend.

Want sien, die eintlike verskyning waaroor dit hier gaan, die hart van Epifanie, is die verskyning van Jesus.

So. Wie is hierdie Kind? Wie is hierdie Jesus? Waarom is sy geboorte of verskyning so belangrik? Dit is die vrae wat Matteus, na sy fokus in die vorige perikoop op Josef en Maria, met die verhaal van die sterrekykers en Herodes wil beantwoord.

1.  Jesus is die Koning

Die eerste ding wat Matteus wil hê dat ons van die Christus-Kind sal raaksien in hierdie verhaal, is dat Hy Koning is.  Niks minder as die koningskap van Jesus is die sentrale fokus van hierdie gedeelte.  Reeds in die verhaal van Jesus as pasgebore baba, op sy eerste dag in die wêreld, is dit vir Matteus belangrik om vir ons van Sy koningskap te vertel.

Sy koningskap word deur drie merkers in die teks beklemtoon.

  1. Die eerste merker is dat Jesus in Bethlehem, die koningstad, gebore is (vers 1).  Dit is dié Betlehem waar Dawid vandaan gekom het en wat in die profesie oor die opvolger van Dawid genoem word (vers 1, 6).  Vier keer word in die teks na Betlehem verwys (vers 1, 5, 6, 8). Hier het Dawid se familie gebly. Lukas noem in sy evangelie vir Betlehem “die stad van Dawid” (Luk 2:4).  Jesus is dus in die regte koningstad gebore.
  2. Die tweede merker is die sterrekykers se vraag in vers 2 wat Jesus se koningskap onderstreep: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?  Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”  En die klimaks van die verhaal is wanneer die sterrekykers voor Jesus, as Koning, buig en geskenke bring (vers 11).  Hulle reaksie en interpretasie van Jesus bevestig dus sy koningskap.
  3. Die derde merker is die ontsteltenis van Herodes en die hele Jerusalem wanneer hulle by die sterrekykers hoor die koning van die Jode is gebore.    

Let op dat Herodes nie die feite bestry nie.  Trouens, dis ironies dat Herodes in vers 4 navraag doen oor die geboorte van “die Christus”. Hiermee word hy die eerste persoon in hierdie evangelie (behalwe Matteus self) wat na Jesus as die Christus verwys.

Maar, Let ook op, dat hoewel Herodes volgens vers 8 verklaar dat hy aan die kind hulde wil betoon, Matteus in die volgende perikoop in vers 13 en 16 ons vertel dat Herodes se eintlike motief was om seker te maak dat hy enige bedreiging van sy posisie as heerser sal kan uitwis. 

Hoekom? Want hy het geweet dat die Christus-koning van die Jode uit die stam Juda sou kom, volgens die Skrifte, en die feite was doodgewoon dat Herodes nie eers ’n ware Jood was nie.  Hy was van Edomitiese (nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie.  Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in standgehou word.

Gelukkig word sy jakkalsstreke gefnuik deur God wat in ‘n droom met die sterrekykers praat.  Selfs sy gruwelike moord op die jong seuntjies, waarvan die volgende paragraaf vertel, misluk.  Josef vlug met Jesus na Egipte.  Uiteindelik kom Herodes se verset tot niks, maar sy verhaal dien ironies as ’n ekstra stuk getuienis dat Jesus Koning is, spesifiek die Christus-Koning!

2.  Jesus is Koning van alle mense

Die tweede ding wat Matteus wil aantoon is dat Jesus Koning oor alle mense is.  Dit is waarom die sterrekykers se reaksie so belangrik is.  Hulle het Jesus se ster gesien, en gekom om hulde te bewys.  Sonder om die talle vrae oor wie die sterrekykers was en waarom die ster hulle gemotiveer het, te antwoord, vertel Matteus hiermee vir ons dat selfs mense wat nie Jode was nie, kom om hulde aan die koning van die Jode te bewys.  Die kindjie Jesus, word reeds as kind deur die nasies as koning herken, erken en gehuldig. 

Aangesien die geboorte van die koning goeie nuus vir die heidense sterrekykers was, is hulle aanbidding ‘n voorspel van die Here se uitreik na alle nasies.  Jesus se geboorte is goeie nuus vir almal, en roep almal op om Hom aanbiddend as koning te ontvang, en te huldig.  Reeds as kind was dit immers van Hom waar dat mense van ’n ander nie-Joodse land kom om aan Hom hulde te bewys.  Hoeveel te meer dan nie na sy kruisiging, opstanding en hemelvaart nie!

Dit is ’n feit dat geen ander figuur in die geskiedenis van die mensdom ooit soveel kulturele grense tussen mense oorskry het nie en ’n plek gevind het in die hart van soveel diverse kulturele kontekste nie. Om die waarheid te sê, die Christendom groei daagliks met ongeveer 70 000 mense … (Baukham – Jesus: A very short history).  Ons kan dit vandag vier, want van die Amerikas regdeur Europa en Afrika tot in die vêrste punt van Asië kom Jesus aan in mense se lewens, want Hy is inderdaad die Koning van alle mense.

Jesus se koningskap is dus belangrike nuus vir alle mense.  Almal wat oë het om te sien, moet leer om Jesus raak te sien.  Jesus is die koning van al die nasies. Wanneer Matteus uiteindelik sy evangelie sal afsluit met Jesus se opdrag om na al die nasies te gaan, word hierdie feit, wat al by sy geboorte bekend gestel is, finaal bevestig met die woorde van die Groot Opdrag – Gaan dan heen – dat Jesus koning van alle mense is en dat dít ons groot taak is, om hulle van Hom te vertel.

Jesus is Koning oor die hele lewe

Die derde ding wat Matteus wil aantoon is dat hierdie Jesus Koning is oor die hele lewe.

Jesus se koningskap word vir ons hier as ‘n publieke koningskap geteken.  Dit is immers waarvoor Hy gekom het, om die koninkryk van God te vestig.  Alles wat Hy gedoen het, was gesentreer daarom.

Die eerste kant daarvan is dat die nasies van Jesus kennis neem.  Ook Herodes neem kennis.  So ook Jerusalem se mense.  Selfs die priesterhoofde en die Skrifgeleerdes neem kennis. 

Ons moet mekaar oor en oor hieraan herinner.  God se koningskap het met alles en met almal te make.  Dit omvat alles en raak almal.  Dit is ‘n koningskap wat strek oor God se ganse wêreld.  Niks is daarvan uitgesluit nie.  Selfs die natuur en die ekologie is daarby ingesluit.

Die Westerse kultuur se neiging is mos om godsdiens te privatiseer tot ‘n geestelike waarheid of twee in ’n mens se individuele verhouding met God en dit uiteindelik ook meesal heeltemal af te skryf.  Jesus het volgens die Westerse kultuur iets vir my hart en my geestelike lewe te sê, maar niks vir my leefwêreld nie en veral nie vir ander se leefwêrelde nie. 

Maar dit is nie die prentjie wat die evangelie van Jesus se Koningskap skets nie.  Hy is Koning van alles en almal en dit strek oor die hele lewe.  

Die tweede kant van sy koningskap is dat Hy sy volk soos ’n herder sal lei.  Om dit te bevestig, haal Matteus, in sy eie woorde, die profesie uit Miga 5 aan (Miga was die tydgenoot van Jesaja in die 8ste eeu v.C.):

“6En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.”

Jesus is die ware herder – soos Johannes later van Hom sou sê, die Goeie Herder – die koning wat sy skape soos ’n herder sal begelei na weiding en waters waar daar rus en vrede is. Trouens, Hebreërs praat ook van Hom as die Groot Herder (13:20) en Petrus van Hom as die Opper-Herder (1 Pet. 5:4).  Jesus se Herderskap is ’n sentrale kenmerk van wat Hy vir ons doen en wil doen.

Die derde kant van sy koningskap is dat Hy geregtigheid en vrede sal bring.  Matteus se hele beskrywing van hierdie besoek uit die Ooste herinner ’n mens aan Psalm 72, een van die Psalms wat ons in die Bybelskool hierdie kwartaal gaan lees.  ’n Mens kan eintlik nie anders as om hierdie verhaal van die sterrekykers te sien as die vervulling van Psalm 72 vers 11 en 15 nie.  Daar staan:

“11Mag alle konings voor hom buig en al die nasies hom dien. 15Mag die koning lank lewe, mag daar vir hom goud uit Skeba gebring word –

Maar dit is nie al nie.  Die ding wat ons weet Jesus die graagste doen – soos ons in Lukas 4 lees in sy preek in sy tuisdorp Nasaret en regdeur sy bediening geïllustreer sien – is dat Hy geregtigheid en vrede wil bring.  Met sy prediking, met sy lering en met sy genesings is dít wat Hy doen: om dinge te herstel en reg te stel en só rus vir almal en alles op hierdie aarde te bring. 

En dit is presies waaroor Psalm 72 gaan, waar dit nie net verwys na die hulde wat daar vir die Koning van die nasies af gebring sal word nie, maar dit ook duidelik sê dat hierdie koning een sal wees wat met geregtigheid sal regeer en ware vrede sal vestig.

12Hy sal die arme red wat om hulp roep,  die verdrukte en dié wat geen helper het nie; 13hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm. 14Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry; hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë.

En dít kan ’n mens reeds by Jesus se geboorte in die verhaal van Matteus raaksien, in die manier waarop hy Jesus en die hulde aan Hom beskrywe.  Jesus is Koning. Hy is ’n publieke koning. Hy het met alles en almal te make en Hy bring geregtigheid en vrede.

Wat sien jy dus raak in die Christus-Kind vir 2013?

Matteus teken vir jou ’n prentjie van Jesus as Koning, ’n Koning vir al die nasies, ’n Koning wat ’n Herder vir jou wil wees en wat geregtigheid en vrede skep en wil skep, omdat Hy Koning oor die hele lewe is.

Dit het ’n impak op elke gedagte wat jy oor hierdie jaar het.  Dit beïnvloed elke ding wat jy hierdie jaar gaan aanpak.  Dit raak die manier waarop jy oor jouself en jou mense gaan dink en hoe jy oor ons land en die wêreld gaan dink.

Ek het die afgelope 6 maande baie dinge ervaar.  Sommige daarvan was baie goed – ek het vir 23 dae geen e-pos gelees nie, dit is ’n rekord!  en baie boeke kon lees in my langverlof, ook ’n paar boeke op die Internet gepubliseer.  Maar, sommige van my ervaringe was baie swaar – persoonlik en ook in my vriendekring en by sommige lidmate met wie ek kontak gehad het in my verlof, sowel as in terme van wat in ons land aan die gang is. 

  • Ek praat van siekte en geweld, van verlies en dood – persoonlik en in my vriendekring. 
  • En ek praat van korrupsie wat so ongelooflik wydverspreid in ons land voorkom, asook van die verskillende perspektiewe wat die verskillende kulture in ons land het wat ons met misverstande laat – ons verskil selfs oor troeteldiere, wil dit my voorkom. 
  • Vir laasgenoemde het ons blootstelling en begrip nodig, vir eersgenoemde het ons verlossing en verandering nodig.

En dit hou natuurlik nie op nie.  Elke dag het sy kwota slegte dinge wat gebeur wat ons moet hanteer.  En só is dit in elkeen van julle se lewe … en daarmee het ek baie deernis, veral omdat ek self deur die meule gegaan het.

Maar, ek het een ding geleer in hierdie 6 maande: God dra ons en ons laste dag vir dag (Ps. 68:20).  En hierdie teksgedeelte van Matteus 2 versterk my geloof dat dit God as Koning en Herder is wat ons dra.  En dat Hy dit doen as die God van die hele wêreld … en Hy oortuig my dat daar niemand uitgesluit is van sy heerskappy nie. Daarmee kan ek werk en daarmee kan ek leef.

En ek wil die getuienis van dié ervaring aangee, vir elkeen van julle wat deur ’n moeilike tyd gaan, ook in die week wat kom.

God se sorg vir ek en my mense in moeilike omstandighede moedig my aan om my hele lewe rondom Hom te wil bou, ek wil meer van Hom leer, veral in die Bybel, maar ook in die praktyk van die lewe en in gebed en ek wil leer om al hoe meer die regte dinge te doen en die dinge waarmee ek nie raad het nie, na Hom toe te neem en in te tree vir dit wat verkeerd is en om vir verlossing en verandering te bid. 

Ek wil dit saam met julle doen.  Hier in die eredienste, in ons bedieninge en in ons kleingroepe.  Want ek is oortuig, Jesus is Koning en dat Hy ons geseën het tot hiertoe met Sy teenwoordigheid en Sy uitkomste, dat dit nie gaan ophou nie – Hy dra ons dag vir dag – en belangrik, dat Hy daarmee bedoel dat ons vir ander tot ’n seën sal wees. 

Totdat die hele aarde erken en bely dat Hy Koning is.

Amen!

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 488 Helder skyn u lig vir die nasies verse 1, 3, 4 en 5

Seën

Respons

Lied 488 vers 5 laaste reël:  Laat u ryk, Heer, oral kom

Jesaja 43:1-13 – In die smeltkroes van die lewe – 13 Jan 2013

Verwelkoming

Die sentrale tema van die gemeente vir 2013 is: Geseën om te seën.  Om die jaartema tot sy reg te laat kom, fokus ons in die eredienste en in die kleingroepe gedurende die skoolkwartale op die oorhoofse aaneenlopende verhaal van God en sy mense in die Bybel.

Ons gebruik as vertrekpunt hiervoor die inhoud van die boek Die Storie.  Hierdie boek van Max Lucado en Randy Frazee gebruik die Nuwe Lewende Vertaling as Bybelteks en vertel die aaneenlopende verhaal van die Bybel in 31 hoofstukke.  Die voordeel hiervan is dat die werklike teks van die Bybel gebruik word, en mense in ‘n jaar nie net die verhalende gedeeltes van die Bybel deurlees nie, maar ook ‘n globale prentjie van God se verhaal met sy mense sal kry.

Die boek is in Afrikaans beskikbaar in verskillende uitgawes vir volwassenes, tieners, jonger kinders, en selfs vir voorskoolse kinders.   Bestel Die Storie en Die Storie vir Tieners @ R50 (gewone prys R99.94) en Die Storie vir Kinders @ R120 (gewone prys R149.96) en Die Storie  vir klein hartjies @ R105 (gewone prys R129.95)  by die kerkkantoor.  Dit is ook in Eboek (ePub) formaat beskikbaar by Kalahari.com.

Daar is ook baie ander hulpmiddels beskikbaar, soos DVD’s.  Kyk gerus by CUM uitgewers na meer inligting.

Ons wil dus graag hê dat almal in die gemeente saam met ons die Bybel op dié manier deurlees, terwyl ons dan elke Sondag fokus op een van die onderwerpe uit die Bybelgedeeltes wat in die voorafgaande week gelees is.  Daar sal telkens ‘n week vooruit by www.ngkerksomerstrand.co.za/kleingroepe/materiaal  kleingroepmateriaal beskikbaar wees vir Bybelstudiegroepe, gemeenteselle en huisgodsdiens, sodat mense saam met ons die pad met die Bybel kan loop.  Dit is gebaseer op die kleingroepmateriaal wat agter in die boek Die Storie verskyn en wat groepe ook kan raadpleeg.

Kleingroepe kan in die kerkkantoor die eerste week se materiaal gaan kry.  Dit is ook op die webtuiste beskikbaar.  Ons begin met Genesis 1-11.

Hier is die eerste kwartaal se teksgedeeltes wat ons gaan lees, die tema van die gedeeltes, en die week waarin ons dit gaan lees:

Week

Teksgedeelte

Tema

13-19 Januarie

Genesis 1-11

Die begin van lewe soos ons dit ken

20-26 Januarie

Genesis 12-36

God bou ‘n nasie

27 Januarie – 02 Februarie

Genesis 37-50

Josef: van slaaf tot onderkoning

03-09 Februarie

Eksodus 1-17

Bevryding

10-16 Februarie

Eksodus 18-40

Nuwe wette en ‘n nuwe verbond

17-23 Februarie

Numeri, Deuteronomium

Omswerwinge

24 Februarie – 02 Maart

Josua

Die stryd begin

03-09 Maart

Rigters

‘n Klompie goeie mans … en vroue

10-16 Maart

Rut

Die geloof van ‘n heidense vrou

Die Bybelskool fokus die eerste kwartaal op Psalms 42-72.  Eerste byeenkoms 23 Januarie in die konsistorie.

Toetrede

Lied 343 Loof die God van ons verlange!  – sit

Votum

Prys die Here, julle hemelinge!

Prys die Here om sy eer en mag!

2Prys die Here om die eer van sy Naam!

Buig voor die Here by sy heilige verskyning!

(Uit Psalm 29)

Seëngroet

Aan almal wat aan God behoort, getroue broers en susters in Christus.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

(Ahv Kolossense 1:1-2)

Lofsang

Lied 350 In die stad van koning Dawid, in die nederige stal  – sit

Lied 370 Eng’le uit die hoogste hemel – vers 1,4,5 – staan

Geloofsbelydenis

Epifanie is ‘n tyd van nadenke oor die identiteit van Jesus, die Christus-Kind. 

Verlede week het ons gelet op die feit dat Hy alreeds as Kind as Koning aan ons bekendgestel is.  Die sterrekykers – nuwe vertaling wat kom, praat van hulle as sterrekenners – het Hom as koning erken en gehuldig; Selfs Herodes het ironies genoeg Hom as koning erken, in sy verydelde poging om Jesus te probeer uitwis.

Maar, Jesus se koningskap is nie net goddelik van aard nie. Hy is volledig mens.  En een van die maniere waarop ons sy menslikheid vier in Epifanie-tyd is om oor sy doop na te dink, want dít is die punt waar Hy met ons sondigheid geïdentifiseer het, waar Hy werklik een van ons geword het, natuurlik sonder om self te sondig.

Ons lees in Lukas 3:21-22:

21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Dít is die evangelie aan ons, die goeie nuus, dat hierdie geliefde Seun Hom aan ons verbind het, Homself vir ons gegee het.

Ek wil nou vra dat ons almal ons geloof bely, en dat dié wat die vrymoedigheid het, daarna hulle hand in die doopwater kom steek en net weer die belofte van God, dat Hy daar is vir ons, kom omhels.

Voorganger: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Vader ‘n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy  ons tot Sy kinders en erfgename aanneem.

(Oomblik van stilte)

Voorganger: Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van Sy dood en opstanding ingelyf het.

(Oomblik van stilte)

Voorganger: Glo jy in die Heilige Gees?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.

(Oomblik van stilte)

Doopherinnering

Lidmate kan nou na die doopvont kom word waar elkeen geleentheid sal kry om sy/ haar hand in die doopwater te plaas, waarin ek die woorde gaan sê: “Jy behoort aan God.”

Gebed

Skriflesing      

Jesaja 43:1-13

Inleiding

Hierdie hoofstuk moet eintlik as ‘n eenheid gelees word, want in die drie perikope word God se getrouheid in die smeltkroes van die lewe geskets.

  1. Jesaja verseker eerstens die volk van God se liefde vir sy mense: “Jy/julle is myne”.  Hierdie liefde van God is só groot, dat Hy hulle ‘n nuwe begin laat maak, sodat hulle Hom weer kan ken en in Hom kan glo (43:1-13).
  2. Jesaja verseker tweedens die volk dat Hy dit ter wille van hulle doen, maar ook ter wille van Homself, want Hy het hulle “vir Hom” geskep, sodat hulle sy lof kan verkondig.  Hulle is sy getuies (43:14-21).
  3. Jesaja verseker derdens die volk dat selfs al het hulle Hom nie gesoek nie, gaan Hy dit nogtans doen, omdat Hy getrou is aan Homself (43:22-28).

Geseën om te seën – dít is wat Jesaja 43 sê.  En onthou, dié woorde kom in die smeltkroes van die lewe.

Jesaja 43:1-7

Jy is Myne

43 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,

die vlamme sal jou nie brand nie, 3want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. 4Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

5Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af, 6Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, 7elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.

8Laat my volk hierheen kom, die volk wat blind is, al het hulle oë, wat doof is, al het hulle ore.

9Laat al die nasies bymekaarkom. Al die volke moet teenwoordig wees.

Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig? Wie kon vooraf sê wat gebeur het?

Laat hulle hulle getuies bring dat dié hulle saak bewys, en dié wat luister, kan sê: Dit is waar.

10Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie, 11Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie.

12Ék het die redding aangekondig Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ’n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. 13Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.

Woordverkondiging

Die produksie van suiwer goud is geen eenvoudige prosedure nie.  Daar is verskillende prosesse beskikbaar om goud in die smeltkroes te suiwer.  Goud smelt teen ‘n enorme 1,063 grade Celsius.  In die gesmelte staat kan dit dan gesuiwer word.

  • Die Miller-proses van goudsuiwering behels dat ‘n stroom chloorgas oor en deur gesmelte goud geblaas word.  Onsuiwerhede verbind met die chloor en kan van die gesmelte goud afgeskep word.
  • Die Wohlwill-proses produseer goud van die hoogste suiwerheid, maar is baie duurder.  Dit maak van elektrolise gebruik waar goud as katode gebruik word met chloroauriese-suur as elektroliet.  Dit is ‘n geweldige duur proses omdat groot hoeveelhede gesmelte goud permanent opgelos moet word in die elektroliet.
  • Die boraks-metode werk met die beginsel dat goud by ‘n baie laer temperatuur smelt wanneer die mineraal boraks by die goudmengsel gevoeg word.  Goedkoper installasies is dus nodig en klein-skaal myners kan goud koste-effektief produseer.  Hierdie metode benodig ook nie giftige kwik in die produksieproses nie. 

Maar, dit is nie eenvoudig om goud te produseer nie.  Geen wonder dat die egtheid van ons geloof in die Nuwe Testament ook aan die smeltkroes verbind word nie:

“Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet 1:7)

In die smeltkroes

In Jesaja 43 bevind die volk Israel hom in die pynlike smeltkroes van die ballingskap.  God se bedoeling was om so met sy volk te wees, dat hulle ‘n konneksiepunt tussen God en die nasies sou wees (Jes 2).  Tog wou die volk nie.  Deur ongehoorsaamheid en afgodediens het hulle hul identiteit as God se eiendomsvolk voortdurend verloën.  Uiteindelik kon God nie meer nie, en beland die volk in ballingskap.

Vernaamste redes

In die vorige perikoop word van die belangrikste redes aangegee waarom die volk in ballingskap weggevoer is (42:18-25):

  • Die volk was blind in hulle sonde.
  • Hulle was doof vir die Woord van God.
  • Hulle wou nie in God se weë wandel nie.

Daarom is hulle as buit weggevoer en oorgelewer in die hande van die Babiloniërs.

God se Naam in gedrang

Jesaja 43 bring egter nou ’n duidelike wending in die gedagtegang van die boodskap van Jesaja mee.  Daar is ’n duidelike ommeswaai selfs in die manier hoe God nou tot die volk spreek.  Jesaja 42 eindig nog met die toorn en oordele van God, maar Jesaja 43 begin sommer met nuwe hoop, nuwe vertroue, nuwe uitdaging.

Hoekom?  Want, daar in die vreemde land, was die Naam van die Here op die spel.  

Liefdesverklaring

Dit is waarom die Here opnuut sy liefde aan die volk verklaar, na die geweldige tydperk van straf en lyding wat hulle in ballingskap deurgemaak het. Want sy Naam is op die spel.

In ‘n roerende liefdesverklaring spreek God sy volk aan: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou.” “Ek het jou by die naam geroep.”  “Jy is myne.”

Boesem vertroue in

Dit is ’n boodskap wat ten doel het om nuwe vertroue by die volk in te boesem.  Hierdie volk is vir jare deur die Babiloniese maghebbers onderdruk.  Hulle weet nie meer hoe dit klink om na die woord van die Here te luister nie.  Daar is geen vertroue meer op God nie.  Hulle harte en gedagtes is ver van die Here af. Daar is eerder wanhoop, mismoedigheid en ongeloof, in plaas van vertroue.

God wil hiermee nuwe vertroue by die volk aanwakker:

  • Dit moet vertroue wees wat die volk sal ophef uit haar ellende.
  • Dit moet vertroue wees wat tot ware geloof lei.
  • Dit moet vertroue wees wat sal help om die verhouding reg te stel tussen God en die volk.
  • Dit moet dus vertroue wees wat ’n versoenende uitwerking het.
  • Dit moet vertroue wees wat die volk moed gee om terug te wil kom.
  • Hierdie nuwe vertroue moet help om die wanhoop te verander in hoop, mismoedigheid in nuwe visie vir die toekoms, saam met die Here hulle God.

Daarom die trooswoorde, “wees nie bevrees nie”. Dit beteken nie net, moenie bang wees nie, maar eerder, dat Israel opnuut haar vertroue in die Here God moet stel, Skepper en Formeerder van die heelal.  Die trooswoord word weer in vers 5 herhaal om te bevestig dat die Here ernstig is in sy toenadering tot die volk.  

Hier is iets van die verbond in hierdie trooswoord.  God wil opnuut weer sy verbondstrou aan die volk bekend maak.  Daarom moet sy nie vrees om die geloofstap te neem en Hom onvoorwaardelik te vertrou nie.  Die uitdrukking “wees nie bevrees nie” kan dus opnuut die betekenis kry van: vertrou My weer, vertrou My nog een keer, vertrou My en julle sal my wonders in julle midde ervaar.

Rus in God se trou

Vir ons as Nuwe Testamentiese gemeente is die goeie nuus dat God se trou steeds aan ons beloof is.  Hierdie opstapeling van troos, bemoediging en beloftes van trou, geld ook vir ons.

Mens kan jou moeilik die verskriklike ontworteling voorstel wat die ballingskap vir Israel ingehou het.  Alles wat hulle van God geken en verwag het, was verbind aan die land wat hulle uit God se hand ontvang het en God se teenwoordigheid in Sion.  Om uit die land weggeruk te word en van God se teenwoordigheid in die tempel beroof te word, was katastrofaal vir hulle geloof.

Tog bly God se trou en God se teenwoordigheid die hoogste en finale werklikheid.

Smeltkroes

Wat maak die ballingskap meer as blote brute straf vir ongehoorsaamheid?  Wat omskep die ballingskap in ‘n geleentheid vir groei, vorming en nuwe gehoorsaamheid?

Die antwoord is duidelik: dit is God se trou, beskerming en versorging.  Dit is die verskil tussen ‘n smeltkroes en ‘n vullishoop.  Antieke vullishope het vuur en verbranding as reinigingsmiddel gebruik.  Giftige afval, die uitskot van menslike lewe, is verbrand en so vernietig.  Die ballingskap sou ‘n vullishoop vir Israel kon word.  God se liefde maak daarvan ‘n smeltkroes waar die volk gereinig word en gereed gemaak word vir nuwe uitdagings van gehoorsaamheid.

Gelowiges en geloofsgemeenskappe kan daarom rus in God se trou.  God weet waarheen God met ons op pad is.  God neem selfs die slegte en die wrange gevolge van ons dwase keuses en bou dit om tot kreatiewe ruimtes vir nuwe geleenthede.

Om God op sy woord te neem

Baie gelowiges is ook in vasgevalde situasies.  Dit word dan baie moeilik om God op sy beloftes te neem en gehoorsaam die treë te gee wat God van ons verwag.

Jesaja 43 is ‘n belofte vir sulke mense.  God se goedheid verdwerg ons onbesonne optrede.  God se goedheid maak van ons dwaasheid en doodsheid ‘n smeltkroes waaruit herstelde, geneesde, gehoorsame mense na vore kom.

Ons word geroep om God op sy woord te neem.  God begelei ons op die pad van gehoorsaamheid.  God versorg en bemagtig ons.  Ons kan dit met God waag.

Dan word ons situasie ‘n smeltkroes, nie ‘n vullishoop nie.  Dan word die krisisse uitdagings, die rampe geleenthede vir groei, die frustrasies uitnodigings vir fokus op God en sy plan vir jou lewe.

Want, as die volk se sonde was dat hulle nie na God geluister het nie, en nie in sy weë wou wandel nie, dan is die volk se herstel geleë in ‘n nuwe luister na God en ‘n nougesette wandel met Hom.

En dit is presies dieselfde vir ons, vir almal wat onder druk is. 

  • Erken dat Hy God is, en dat jy drooggemaak het;
  • Vertrou Hom om jou deur die smeltkroes te suiwer, soos goud gesuiwer word, en
  • soek Hom dag vir dag om na Hom te luister en met Hom jou pad te loop. 

God is daar, Hy dra ons en ons laste dag vir dag (Ps 68:20), en Hy beloon dié wat na Hom soek (Hebr 11:6).  Of soos Die Boodskap dié vers vertaal: Hy sal jou “met oop arms ontvang.”  “He cares enough to respond” (The Message).

Só ervaar jy nie net God se seën nie, maar gebruik Hy jou ook tot seën vir ander mense.  En bring jou geloof, die egtheid daarvan, eer aan God, wat natuurlik die doel van ons lewe is: Soli Deo Gloria.

Gebed

Here

ek weet dat U my gevorm het,

dat U my geskep het.

Ek weet dat ek aan U behoort,

dat U my naam ken.

Ek weet ook dat U daar is as ek in nood is:

as ek deur water of vuur moet gaan,

want U is die Heilige van Israel,

U is God die Redder.

Ek weet dat U my kosbaar ag,

dat U my hoog en belangrik ag,

dat U my liefhet.

Ek weet dat U is wat U sê,

want U het Jesus in my plek gegee.

Daarom Here, is ek nie bang nie,

daarom glo ek soos ‘n kind

dat U my Here is.

Aan U die eer.

Amen

(Gebed ahv Jesaja 43)

Dankoffers

Slotlied

Lied 521 Erkentlik deur die dae – staan

Seën

Die Here is voor jou om die weg gelyk te maak;

die Here is langs jou om jou in Sy arms toe te vou;

die Here is agter jou om die aanvalle van die bose af te weer;

die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val;

die Here is rondom jou om jou te beskerm;

die Here is bokant jou om jou te seën;

die Here is binne-in jou om jou te lei met Sy Heilige Gees-

so seën die drie-enige God jou, van nou af tot in ewigheid.

(Preekstudies met liturgiese voorstelle (BUVTON) 2000/2001: 38)

Respons

Lied       313 Amen – staan