Skip to main content

07 – Om vir God te LEEF

RUS

Prentjie

Dit is hoe God oor jou voel.  En dit is wat Hy graag vir jou gee.

 contemplatio2

Ek gee so 2 minute dat jy net tot rus kan kom in God se liefde en sorg.

Votum

Seëngroet

Aanbidding

Flam 48 – Hemelvader, ek aanbid U

Lied 519 – Wees stil en weet: Ek is die Heer

HOOR

Kindertyd

Ek wil baie graag hoor wat julle geleer het die week by: What’s in the Box?

Wil julle nie vir my teken wat julle geleer het nie?

Dan kom wys julle vir my na die tyd hier voor.

Skriflesing

Ek wil vandag iets illustreer met die lees van Psalm 40 wat ek dink lewensveranderd is. 

  • Ek gaan iets sê oor die Psalm en wat dit vir ons leer van ons gebedslewe.  En dit op sigself is alreeds baie motiverend. 
  • Maar dan gaan ek ‘n verhaal vertel uit die NT wat ek dink jou oë sal laat oopgaan vir ‘n dimensie van ‘n persoonlike verhouding met die Here, wat jou lewe heeltemal kan verander.

Psalm 40

In die boekies p 16.  Aantekeninge p 17.  Onthou wat ek daaroor gesê het dié week:

  • LECTIO (begryp)
  • MEDITATIO (raak)
  • ORATIO (verandering)
  • CONTEMPLATIO (vrede)

Ons gaan dit nou beoefen

  • LECTIO: Ek gaan dit hardop lees – luister na wat jou tref.

lectio

  • MEDITATIO: Dan gee ek jou ‘n tydjie van stilte om daaroor na te dink.  Kies een gedagte, miskien die fokusteks, Psalm 40:9, en dink oor die praktiese betekenis daarvan vir jou lewe – 2 minute.

meditatio

  • ORATIO: Kort gebed waarin jy fokus op hoe jy dié teks kan gaan LEEF – 1 minuut.

oratio2

  • CONTEMPLATIO: Sit net stil voor die Here en geniet sy teenwoordigheid – 1 minuut.

contemplatio

Woordverkondiging

Die Psalm is ‘n gebedsraamwerk

Ek gee eers ‘n paar perspektiewe op die Psalm se boodskap vir ons.

Die Psalmis is in die knyp, en sê dat hy nie self regkom nie. Sy enigste hoop is dat die Here aan hom sal dink en hom sal help.  En hy hoop dat die Here nie te lank sal vat nie (vers 18).

Dit is waarom hy drie goed doen, waarmee ’n mens ook die boodskap van die Psalm kan opsom:

  • ONTHOU – Vers 2-6: Hy dink terug aan sy vorige ervarings toe die Here hom gehelp het en vertel vir almal in sy kerk daarvan.  Dit het vir hom gevoel asof hy in ‘n modderput geval het en dat die Here hom daaruit getrek en weer op ’n vaste rots geplaas het.  Daarom moedig hy almal in sy kerk aan om God altyd te vertrou.  God sal dit ook vir hulle kan doen.
  • VERBIND – vers 7-11: Hy dink aan wat Hy van God weet – dat Hy gehoorsaamheid wil hê, en dat Hy wil hê dat van sy goedheid en trou vertel moet word – en verbind homself opnuut daaraan toe (om gehoorsaam te wees en van God se goedheid te vertel) en herinner die Here aan sy “track record” hieroor.  “Om u wil te doen, o God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe”.  Dit is wat hy sy hele lewe lank doen.
  • SMEEK – vers 12-18: Hy voel egter asof hy nou weer in ‘n modderput geval het, en vra en smeek met groot erns dat die Here hom weer sal help.  Want hy weet mos God is lief vir hom.  God sal hom nie in die steek laat nie.  God sal hom kan help soos die vorige keer.

Dit is daarom’n Psalm wat ’n mens vir jou eie gebede kan gebruik, as ‘n gebedsraamwerk.  En jy kan dieselfde drie goed doen:

  • Jy dink terug aan wat God al vir jou gedoen het.  Jy onthou. 
  • Jy wy jou aan die Here toe om Hom te gehoorsaam en van Hom vir ander te vertel.  Jy verbind jou aan God. 
  • En jy spel presies uit wat nou verkeerd is.  Jy smeek die Here.  En vertrou die Here dat Hy sal help.  Hy ís mos lief vir jou.

En as julle ‘n korter Psalm wil gebruik wat net die smeking gedeelte bevat, dan kan julle Psalm 70 gebruik, wat net 6 verse lank is, en uit Psalm 40:14-18 gehaal is, waarskynlik om as ‘n kort skietgebed in ‘n krisis gebruik te word.

LEEF

Die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou in Johannes 4

En nou wil ek graag die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou vertel soos ons dit in Johannes 4 kry as illustrasie van hoe ‘n mens ‘n Skrifgedeelte LEEF, inkarneer.

  • Jesus is onder druk – Joh 4:1-3

Die Fariseërs maak dit vir hom moeilik.  Hulle vergelyk hom met Johannes die Doper, en dit stel Johannes in ‘n slegte lig.  Jesus sou dan meer mense doop as Johannes – en Johannes is dan die Doper, nie Jesus nie! 

Jesus weet wel, dit is eintlik nie Hy wat doop nie, maar sy dissipels.  Maar Hy wil tog nie dat die doop só ‘n groot kwessie raak nie, en wil veral nie dat Hy vergelyk word met iemand anders tot dié se skade nie.  Daarom besluit Hy om weer na Galilea te gaan, na Kana waar hy so baie wyn gemaak het, en na Kapernaum waar hy saam met sy dissipels en sy ma gebly het.

  • Jesus is moeg – Joh 4:6

Hy is op reis deur Samaria en hulle het al ver geloop.  Jesus is moeg.

  • Jesus is honger – Joh 4:8

Jesus is honger.  Daarom is sy dissipels na die dorp toe, Sigar, om kos te gaan koop.

  • Jesus is dors – Joh 4:7

Jesus is dors.  Hy sit by die put in die warm son, en hy het nie ‘n emmer nie.  Toe die Samaritaanse vrou daar by hom aankom, vra hy ‘n bietjie water van haar.  En wat gebeur?  Die vrou weier en begin met Hom stry

    • oor sy kultuur – Hy is ‘n Jood, sy ‘n Samaritaan (4:9);
    • oor sy geslag – Hy is ‘n man, sy ‘n vrou wat al ‘n hele paar mans gehad het (4:9,16-18);
    • oor sy vermoëns – jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat dié put vir hulle nagelaat het (4:12)?
    • oor sy godsdiens – die Jode aanbid in Jerusalem en die Samaritane by Gerisim (4:19-20).

Wat sou julle gedoen het?

Kinders – honger is erg, maar dors!  Hoe voel julle as dit warm is?  Sê nou maar net dis na ‘n rugbywedstryd, of as jy ‘n lang ent gaan hardloop het, of net ‘n bal rondgeskop het.  Jy is dors – en sê nou iemand wil nie vir jou water gee nie!

Wat doen Jesus?

Jesus ignoreer sy moegheid, ignoreer sy honger, ignoreer sy dors, ignoreer die druk waaronder Hy verkeer …  en verdra haar, tree met haar in gesprek, antwoord geduldig haar vrae, en stel haar bekend aan die Een wat vir haar lewende water kan gee, die Een wat haar lewe kan verander, Hyself.

En dit verander nie net haar lewe nie, maar haar hele dorpie se lewe.  Hulle kom na Hom toe en vind self uit dat Hy die Verlosser van die wêreld is, en kry dit reg om Hom twee dae lank daar te laat bly.om saam met hulle in hulle dorpie, Sigar, fees te vier.

Hoekom doen Jesus dit vir die vrou en die dorpie?

Hy gee vir ons sleutel in vers 34, en dit is nou hier waar jou ore moet spits: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.”

Nou, waar het ons al dié woorde voorheen gehoor?

O ja, in Psalm 40!  Psalm 40:9: “Om u wil te doen, o God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe”.

Sien jy wat gebeur?

Jesus is in ‘n situasie – onder druk, moeg, honger, dors.  Sy pad kruis die vrou se lewe, en sonder om twee keer te dink, tree Hy met haar in gesprek, antwoord geduldig al haar vrae, en stel haar bekend aan die Lewende water, dit is natuurlik, aan Homself.

En hoe kry Hy dit reg?

Want Psalm 40:9 het deel van sy lewe geword.  Hy het dit nie net eenkeer gelees in sy stiltetyd nie.  Hy het dit nie net met sy pa en ma, met die Skrifgeleerdes in die tempel, en met wie weet wie anders ook al deur sy lewe gelees nie.  Nee, Jesus het Psalm 40:9 geleef!

Hy het die onderskeiding gehad dat dié teks vir Hom voorskryf hoe Hy moet lewe, vir Hom die roete uitstippel van hoe Hy keuses moet maak.  Die geestelike behoefte van die vrou was belangriker as die druk wat Hy ervaar, die moegheid wat Hy ervaar, die honger en dors wat Hy ervaar.  Om die waarheid te sê, die gesprek met die vrou was vir Hom kos, dit was vir Hom voedsel, dit was vir Hom die energiebron wat Hy nodig gehad het!

Ons lees nêrens dat Hy ooit water drink in dié hoofstuk nie. 

  • Dit waterkruik bly net daar staan waar die vrou dit los. 

Ons lees nêrens dat Hy ooit eet in dié hoofstuk nie. 

  • Die kos wat die dissipels uit die dorp gebring het, bly net daar staan, ten spyte daarvan dat hulle dit vir hom aanbied.  Uiteraard het Hy seker later geëet en gedrink en selfs fees gevier.  Trouens net hierna is hy weer na Kana waar hy die 600 liter wyn so ‘n tydjie te vore gemaak het.  Miskien het daarvan oorgebly!

Maar op hierdie moment, in die gesprek met hierdie vrou, in gehoorsaamheid aan die Here, is die gesprek met haar die kos wat Hy kies, en nodig het. 

  • “Om u wil te doen, o God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe” – sê Psalm 40:9. 
  • “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” Sê Jesus in Johannes 4:34.

Dit is Lectio Divina!

Dít is hoe ‘n mens die Bybel lees. 

Jy lees dit vir die lewe.  Jy leef dit voort in die gesprekke en die gebeure waarby jy betrokke raak.  Jy leef die Bybel, soos Jesus vir ons met sy eie lees van die Bybel illustreer, waarvan ons ‘n hele klomp ander illustrasies kan aanhaal:

  • in die woestyn in gesprek met die duiwel haal Hy uit 3 keer uit Deuteronomium aan, een van die boeke van die woestyn, die laaste keer in antwoord aan die duiwel se oppurtunistiese aanhalings uit die Psalms (Luk 4),
  • in die nag in gesprek met Nikodemus gebruik Hy verhale uit Numeri oor die koperslang (Joh 3),
  • in sy leringe van die Bergrede haal Hy ‘n hele paarkeer uit die Pentateug aan, Eksodus, Levitikus, Numeri, en Deuteronomium  (Matt 5-7), en
  • aan die kruis met sy beroemde kruiswoorde waarin Hy van die Psalms (22 bv) aanhaal.  Kyk maar by elkeen van dié gedeeltes hoe die OT ‘n rol speel in sy bediening en lewenstyl.

Die Bybel is nie net ‘n bron van inligting oor allerlei nie.  Dit is nie net ‘n boek wat van hoogstaande literêre gehalte is nie, trouens, met van die beste stories en kortverhale wat ons ken nie.  Dit is nie net ‘n boek wat vir ons oor God se wêreld en God se bedoelings inlig nie – en maak geen fout nie, daar is vele diepgaande perspektiewe oor alles wat leef en beef. 

Nee, die Bybel is méér en vir méér bedoel.  Die Bybel is veral vir die lewe, om ons te vorm, om ons manier van leef en dink en optree te verander en ons nuut te maak, nuut te laat lewe.

Die Bybel is primêr vir ons gegee dat dit ons lewe kan vorm. 

Daarom is dit so nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees.  Soos Jesus hier gedoen het.  Hy het Psalm 40:9 geken, en Hy het dit uitgeleef teenoor die Samaritaanse vrou.

Dit is hoe ons ook met die Bybel moet omgaan.  Ons moet dit lees met die oog op die lewe.  Ons moet dit lees en onthou wanneer ons ‘n ontmoeting met iemand langs die pad het, by die put van Sigar.  So begin ons regtig die stem van God in die Bybel nie net hoor nie, maar begryp, verstaan, en leer ons hoe om Jesus prakties te volg, deur die Bybel te leef en ervaar ons die wonderlikste seën moontlik, omdat die Heilige Gees ons in God se verhaal met die wêreld inskryf. 

En is dit nie die grootste avontuur denkbaar nie! 

Dink net aan die verhale wat ons sal kan vertel, van al die Samaritaanse vroue by die putte van die lewe, van al die bruilowwe by die Kanas van die lewe, van al die genesings by die bad van Batesda, van al die voete wat ons kan was aan die tafels van hierdie lewe – as ons begin om die Woord te leef, soos Jesus dit vir ons hier illustreer.

Dit is Lectio Divina, die geestelike lees van die Bybel, waar die teks ‘n poort raak tot God se werklikheid, tot sy teenwoordigheid in hierdie lewe.  Waar ons van die beweging

  • om tot RUS te kom in Hom, skuif na die beweging,
  • om Hom te HOOR deur die lees, die nadink, die bid, en die genot van Sy teenwoordigheid, uiteindelik skuif na die beweging,
  • om vir Hom te LEEF.

Dit is wat dit beteken om ‘n persoonlike verhouding met Jesus en met God te hê.

Gebed

Nagmaal

Lied 303 Afr/Eng/Afr

Dankoffers

Slotlied

Lied 541 – Ons bring aan U, Heer Jesus

Seën

Amen

2 Korintiërs 6:1-13 – Ambassadeurs van die versoening

Verwelkoming

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Lied 169:1 Heilig, heilig, heilig, Heer, God almagtig (sit)

Votum

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Seëngroet

Lofsang

Lied 107:1,2,12 Die mense wat behou is, moet sê: “Ons is bevry!”(Tweede melodie) (staan)

Lied 190:1-3 Grote God aan U die eer (staan)

Verootmoediging

Geloofsbelydenis

Lied 499:1 Die Heer is God, en niemand meer, sy almag ken gee perke (sit)

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing

Paulus sit in ’n soort “catch 22”-situasie in sy verhouding met die gemeente in Korinte.  Sommige mense skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Hy antwoord daarop deur te wys dat dit die liefde van Christus is wat hom dring.  Hy probeer nie geld maak uit die evangelie, soos baie van sy teenstanders gedoen het nie (2:17).

2 Korintiërs 6:1-13

6 As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:

“Op die regte tyd

het Ek jou gebede verhoor,

en op die dag van redding

het Ek jou gehelp.” d

Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.

8Ons ontvang eer en oneer,

ons word beledig en geprys.

Ons word behandel as verleiers,

en tog is ons betroubaar;

9as onbekendes,

en tog is ons goed bekend;

as sterwendes

en, soos julle sien, ons lewe;

as gestraf,

maar ons is nie doodgemaak nie;

10as bedroefdes,

en tog is ons altyd opgeruimd;

as armes,

maar ons maak baie ander ryk;

as mense wat niks het nie,

en tog besit ons alles.

11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

Woordverkondiging

Passie vir die evangelie

God se genade ontsluit in ons ’n passie om dit met ander te deel.  Hy bring ons in ‘n lewende verhouding met Hom as Vader, Seun en Heilige Gees.  Hierdie verhouding verander ons lewe.  Ons is nie net kinders van die lewende God nie, maar ons hele identiteit word vanuit hierdie nuwe familie gestempel.

Daarom lewe ons nie meer vir onsself nie, kan ons nie meer vir onsself lewe nie, maar vir God.

Dit sluit in dat ons God se genade deel met die mense rondom ons.  Ons word geroep om dit met passie te doen.

Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie.

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar. 

Oswald Sanders

Dit laat my dink aan die verhaal van Oswald Sanders.  Voor sy vyftigste verjaardag het Oswald Sanders alreeds so erg aan artritis gely dat hy skaars uit die bed kon kom.  Hy moes eintlik op vroeë pensioen gaan. 

  • Hy het nie.  Inteendeel, ten spyte van sy lyding het die mees produktiewe jare van sy lewe eers toe begin.
  • Op vyftig het Sanders ‘n suksesvolle loopbaan as prokureur in Nieu Zeeland laat vaar om die China Inland Mission (deesdae die Overseas Missionary Fellowship) te lei. 
  • Na verskeie geseënde jare aan die spits van dié organisasie het hy afgetree. 
  • Net om toe die uitvoerende direkteur van ‘n Christelike kollege te word.  Toe het hy weer afgetree.
  • Sy laaste twintig lewensjare het hy as spreker opgetree, reg rondom die wêreld, gemiddeld meer as 300 lesings per jaar.  Respek en waardering vir hom het gegroei, hoewel hy nooit die kalklig gesoek het nie. 
  • Oswald Sanders was ten tye van sy dood byna negentig en besig om aan ‘n boek te werk.

Paulus se lewe

Paulus was net so ‘n passievolle mens.  Hy het met passie die kerk vervolg.  Maar Jesus stuit hom in sy spore op pad Damaskus toe.  Só word die koers van sy lewe verander.  Nou leef hy vir God, met dieselfde passie, maar nou om die roeping om God se genade met die mense rondom hom te deel. 

Soos Oswald Sanders het Paulus verstaan dat ons in ‘n groot wêreld lewe.  Die mense rondom ons is nie net die bure of die mense wat in die kantoor langsaan werk nie.  Die bure is ook ons woonbuurt, ons stad of dorp, ons provinsie, ons land, ons kontinent, ons hele wêreld. 

Dit tref my dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe, dws: al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10).  Dit is die paradoks van die Christelike bediening – die “dood” van die bedienaar is die “lewe” van die wat bedien word.  Hy stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees (vers 8), want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.

Ons is geroep om op só ‘n manier passievol te lewe dat die evangelie ons hele wêreld bereik.

Waaroor dit gaan

Waaroor gaan die Christelike lewe nou eintlik?  Wat dryf ons?  Wat skep die passie in ons om vir God te leef en werk?  Wat vuur ons aan?

Dit is belangrik om uitsluitsel hieroor te kry.  Paulus waarsku ons dat die risiko lewensgroot is dat ’n mens die genade van God tevergeefs mag ontvang (1).  Tevergeefs verwys hier na die gevaar dat die genade nie ‘n aktiewe, lewensveranderende krag in jou lewe word nie.  Die genade wil jou juis aanvuur. 

Hoe kan ons seker maak dat ons die genade nie tevergeefs ontvang nie?

Paulus skryf in ons teks oor drie perspektiewe wat die passie in ons hart nie net kan aansteek nie, maar sorg dat ons die genade van God nie tevergeefs ontvang nie:

Een:  Nóú is die tyd!

‘n Aanhaling uit Jesaja 49 oor die kairos-moment, die regte tyd, moedig ons aan om dag vir dag die evangelie passievol te beliggaam:

Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor,

Op die dag van redding het Ek jou gehelp.

Paulus maak die “regte tyd” meer intens: dit is “nou” die regte tyd.

Mens leef elke dag soos iemand wat voor ‘n vurk in die pad te staan kom.  Dan moet jy kies om die regte dinge te doen.  Jou lewensreis plaas jou voor keuses.  Jy moet die regte koers kies.  En jy moet dit nóú doen, jy moet dit dáágliks doen.

Geleenthede raak verspeel as mens nie dag vir dag die regte pad kies nie.

Hierdie keuses verg van jou om met onderskeiding te lewe.  Jy moet die regte voorbereidings tref sodat jy voorbereid is om geleenthede te benut.

Twee: Voorbeeld van ander gelowiges

Daarvoor het ons die voorbeeld van talle gelowiges uit die verlede en die hede om ons aan te spoor.  In wie se lewens ons kan sien hoe dit werk.

In ‘n lang gedeelte (verse 3 tot 10) verduidelik Paulus hoe sy lewe in diens van die evangelie verloop het, hoe dit hom gevorm het, en watter waardes dit by hom gevorm het.

Sy beliggaming van sy roeping beteken dat:

  • Sy identiteit as dienaar van God die allesoorheersende motief in sy lewe geword het (4);
  • Hy geleer het om geduldig (4), onberispelik, met begrip verdraagsaamheid en vriendelikheid op te tree (6);
  • Hy ontdek het sy roeping kan net in die liefde van God, in gemeenskap met die Heilige Gees, deur woorde van waarheid, en deur die krag van God gedoen word (6-7);
  • Die wapen vir aanval en verdediging nie die selfregverdiging van die ou mens is nie, maar die doen van die wil van God (7).

Paulus is ‘n goeie voorbeeld van hoe die roeping van God ‘n mens se lewe oorneem. 

Só het ons vele mense in dié gemeente gehad wat vir ons ’n voorbeeld tot sulke diens was en is:

  • jongmense wat by sending betrokke geraak het en steeds is: Jean en Louise Greyling, Hugo en Jakkie Wolmarans, Hannes Hattingh, Lieb en Elspeth Liebenberg, Evelyn Lotz, Gerrit en Sonja Brink, Corneille du Plooy, Lourens Oberholzer – te veel om op te noem. 
  • En mense wat by dienswerk hier rondom om ons betrokke geraak het en steeds betrokke is – ek wil nie nou name noem nie, net nou laat ek ’n 100 of so uit – maar dit is van die bosslapers af, Vistarus, kinders kosgee, Maranatha, bejaardes, gestremdes, weeskinders, die herstel van allerlei, selfs met regsake in die platteland, kleingroepe, en die breër gemeenskap.
  • Danie Mouton is lief om te sê, hy tref gemeentelede van Somerstrand regdeur die Oos-Kaap aan.

Ons het die voorbeeld van ander nodig wat ons help verstaan hoe om ons eie roeping te beliggaam.  En in dié gemeente is daar talle en talle sulke voorbeelde.

Interessant: Mens se roeping gaan ook deur fases.  Oswald Sanders het ‘n suksesvolle regspraktyk gehad.  Dit het die platform geword vir die tweede fase van sy roeping: sending na China.  Wat hom weer gevorm het vir die derde fase: opleiding en toerusting.  Wat tot die laaste groot fase in sy lewe gelei het: internasionale spreker en mentor.

Ek sien dieselfde in ons gemeentelede se voorbeelde –mense wat deur fases gaan, en ons wat daarby betrokke bly.  Elspeth saam met Lieb in Rusland, nou sonder Lieb die hoof van Campus Crusade for Christ in SA; Evelyn Lotz in Egipte, Israel, en nou hier in die Metropool besig om te werk met kinders.  Hugo in Egipte en nou ’n direkteur van Arab World Ministries; Gerrit en Sonja in Noord-Irak, toe Turkye en vandag in Nederland besig met die uitreik na Moslems.

En dit bly die lewensbloed van hierdie gemeente – om wyd en naby betrokke te wees, en om saam met mekaar te groei as ambassadeurs van die versoening.

Drie:  Oop harte

Paulus sluit sy gesprek in ons teksgedeelte af deur die Korintiërs tot “oop harte” aan te spoor.  Sy hart was en is te alle tye oop vir die Korintiërs.  Ja, oop vir alle mense wat die Here nie ken nie, en/of ‘n behoefte het aan die genade van die Here.

Dít is hoe jou lewe ook vlamvat soos die voorbeelde van gemeentelede wat ek so pas genoem het.

“Oop harte” veronderstel die vermoë om te reageer op ander mense – op wie hulle is en wat hulle benodig.  “Oop harte” neem ander ernstig, en doen moeite om ‘n medemens vir ander te wees.  “Oop harte” sien mense met ander oë, sien die potensiaal in hulle raak, weier om net deur die bril van menslike swakhede en mislukkings te kyk. 

Só ontvang ook jy die roeping wat God vir jou het.

Soos Christus dit met ons gedoen het, die potensiaal in ons raakgesien het, ten spyte van ons sonde en swakhede, só kyk ons na ander mense, en raak ons betrokke!

‘n Navolger van Jesus moet leer om ‘n oop hart te hê.  Dit verg ‘n oog wat oplettend kyk na ander en hulle omstandighede.  Sagte oë wat met God se hart oplettend kyk.  Dit verg oop ore wat fyn luister na wat ander sê.  Dit verg empatie wat jouself onder die vel van ander – in hulle lewens­omstandighede – kan indink.  Dit verg voete wat loop na ander en deel word van hulle omstandighede.  Dit verg dienende hande wat graag ander ophelp.

Mag ons sensitief wees vir God se roeping. En mag ons dit met passie doen.  Nou is die tyd!

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffers

Radio Feba

Frik Veldsman – predikant, later SAUK met godsdiensprogramme, nou by Radio Feba

Slotlied

Lied 440:1-3 Die Here salf ons met sy Gees, tot diens en heiligheid (staan)

Seën

24Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! Amen


d Vgl. Jes. 49:8

Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!

Verwelkoming

PowerPoint agtergrond:

Edvard Munch: The Sick Child 1907

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Vonkk 72:1 Wees stil, want die Heilige is hier (sit)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 508:1-2 Vaste Rots op wie ek bou, een op wie ek kan vertrou (staan)

Lied 513:1-3 Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag (staan)

Verootmoediging

Geloofsbelydenis

Lied 514:1 Ek weet verseker: Jesus is Heer (sit)

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing

Die evangelie van Markus  is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n nefie van Barnabas, en metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Sy ma was Maria, die vrou in wie se huis die kerk van Jerusalem baie keer vergader het.

Markus vertel die verhaal van Jesus van Sy doop tot Sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

In 2de hoofdeel van die boek, Markus 3:7-8:21, fokus Markus op die impak van Jesus se bediening op drie belangrike groepe:

  • die skares wat verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê;
  • die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is;
  • die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.

En Markus skryf veral oor Jesus se gesprekke en genesings – soos in die twee verhale wat ons gaan lees: dié van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en dié van Jaïrus se dogtertjie wat uit die dood opgewek is.

Die twee verhale leen hulle uitstekend om te praat oor hoe geloof prakties werk.  Die tekste fokus op die rol van geloof in die genesing – beide die magiese geloof van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die weifelende geloof van Jaïrus.  Die sleutel tot genesing lê egter op ’n ander plek, in die verhouding met en afhanklikheid van Jesus self.  Wanneer geloof op Hom gerig is, kom God se krag in werking. 

Só nooi die twee verhale ons uit om te bly glo in die Een wat ons lewe in sy hande hou.  Of ons lewe, genees word, uit ‘n ernstige siekbed opstaan en huis toe terugkeer, of nie.  God is ons troos.  In lewe en in sterwe.

Markus 5:21-43

21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ’n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. ’n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

Woordverkondiging

Joni Eareckson Tada

Die verhaal van Joni Eareckson Tada (Joni.  The unforgettable story of a young woman’s struggle against quadriplegia & depression, wat ook die basis vir ’n rolprent oor haar lewe gevorm het) is vir baie van u bekend. Sy het op 18 in ’n duik-ongeluk ’n kwadrupleeg geword (1967), en uiteindelik na 2 jaar se ontwrigtende worsteling, haar gebrek te bowe gekom en ’n loopbaan van skilder en skryf gevolg, met baie groot sukses.  Sy is ’n gewilde spreker wat haar geloof in Jesus op innemende manier verwoord en baie mense aangeraak het met haar boodskap van hoop.

Sy is onlangs deur ‘n volgende fase van toetsing, met borskanker, waarna sy die boek – A Place of Healing: Wrestling with the mysteries of suffering, pain and God’s Sovereignty – geskryf het .  Sy vertel in dié nuwe boek van ’n jongman David wat haar een oggend na ’n diens bygedam het, vir haar gebid het, en toe verras was dat sy nie genees is nie.  In die gesprek wat daarna gevolg het, het hy haar beskuldig dat sy sonde in haar lewe moes hê, anders sou sy gesond geword het.  Joni het op haar kenmerkende innemende manier geantwoord, nee, dit is nie die geval nie. 

Hy het egter volhard en toe vir haar van ongeloof beskuldig.  Sy het geantwoord: dit kan wees, maar dan het dit met jou geloof te make en uit Lukas 5 aangehaal waar Jesus die verlamde man genees toe hy die geloof van sy vriende sien (vers 20)!

Inderdaad!  Soos sy self sê: “The focus is always on Jesus Christ and His will for those who suffer.  To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.”

Ons sien dit geïllustreer in die twee ineengestrengelde genesingswonders van Markus.

Jaïrus se nood

Die verhaal begin met die raadslid van die sinagoge in Kapernaum wat by Jesus om hulp aanklop omdat sy dogter sterwend is.  Die man is in die nood:  “My dogtertjie lê op haar uiterste” (vers 23). Elkeen wat al ’n siek kind gehad het, sal weet wat hierdie situasie aan ’n ouer kan doen. Die siekte is akuut en vereis Jesus se onmiddellike aandag.

Maar ons lees nie net van Jaïrus se nood nie, ook van sy geloof: “Kom lê tog u hande op haar sodat sy kan gesond word en lewe”. Daarom is ons bly om te lees dat Jesus sy versoek toestaan en saam met hom gaan na sy 12-jarige dogtertjie.

Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het

Maar, hierdie kind is nie die enigste sieke nie. “Daar was ook ’n vrou” (ver 25) wat al 12 jaar lank siek is, sê Markus vir ons. Alhoewel haar siekte ook besonder erg is, is haar toestand chronies van aard en nie lewensbedreigend nie.

Sy het verskillende dokters besoek, in die hoop dat iemand haar kan help. In die proses het sy alles wat sy besit het, daaraan bestee. Maar haar toestand het net vererger.

Die realiteit van haar lewe was dus baie hartseer: Sy was nie net siek nie, maar sy was arm ook weens die onkostes. Sy was ook sosiaal waarskynlik uitgestoot as gevolg van haar bloedvloeiing, wat haar in die oë van die samelewing permanent onrein gemaak het (Lev 12).

Hierdie arm verworpe mens vestig haar laaste hoop op Jesus. Sy glo dat as sy net aan sy klere kan raak, sal sy genees word.

Dit doen Jesus dan ook. Hy ontferm Hom oor haar. Hy gee haar kans om Hom haar hele storie te vertel.  Dit moes vir die vrou ’n wonderlike en bevrydende oomblik gewees het.  Al die jare se lyding kon sy voor Jesus uitstort. Jesus doen hier niks minder nie as om haar lewe vir haar terug te gee. In dié gesprek spreek Jesus hierdie merkwaardige woorde: “Jou geloof het jou gered.”

Jaïrus se geloof

Die feit dat Jesus eers aan haar tyd afstaan, het egter tot gevolg dat die siek dogtertjie intussen sterf. Omdat ons die einde van die verhaal ken, is dit vir ons nie so ’n groot probleem nie. Ek kan my voorstel dat die pa van die kind dalk anders daaroor gevoel het!

Wat vir die vrou ’n wonderlike ervaring moes wees, was vir Jaïrus dus waarskynlik louter hel. En terwyl hy seker ongeduldig, maar beleefd, wag dat Jesus klaar luister na die arme vrou se hele lewensgeskiedenis, sterf sy kind.

Hy wat Jaïrus is, het ook in Jesus geglo. Selfs al was hy ’n raadslid van die sinagoge, wend hy hom tot Jesus in weerwil van die groeiende Joodse teenstand teen Jesus. En hy verklaar sy geloof in Jesus duidelik: “Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” (vers 23).  Hy glo dus dat Jesus die mag het om haar gesond te maak en haar lewe ook volledig vir haar terug te gee, soos wat Jesus vir die vrou gedoen het.

Maar nou het Jesus so lank gedraai dat dit te laat geword het. Sy kind is dood. Sy huismense, wat die boodskap bring, sê vir hom dat hy Jesus nie langer moet lastig val nie. Hulle glo duidelik nie dat Jesus nou meer iets kan doen nie.

Wat het in Jaïrus se hart aangegaan? Ons weet nie. Die Bybel sê niks daaroor nie. Wat ons wel sien, is dat ook in Jaïrus se geval daar nie sprake van onwrikbare wonderwerkende geloof by hom is nie. Nee, die krag in hierdie situasie kom ook van Jesus af. Dit is Jesus wat hom troos en bemoedig met die woorde: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo” (vers 36).

Wanneer Hy by die huis kom, saam met die binnekring dissipels en die ouers, en dit nogal met die boodskap dat die kindjie net slaap, lag die mense Hom egter uit.

Ons moenie te negatief oordeel oor hierdie gelag nie. Want, dit is ten diepste die reaksie van verdriet, van verlore hoop. Hierdie mense weet wat die dood is. Hulle weet wanneer iemand dood is. En in ’n pynlike situasie waar ’n kind nou net dood is, het hulle nie tyd vir speletjies nie.

Wat ons agterkom, is dat hulle die dood ken, maar nie vir Jesus nie. Later sal hulle egter ook weet: By Hom is daar lewe en hoop – in lewe en dood! Want, Jesus wek die dogtertjie uit die dood op met die bekende woorde: “Talita, koem!”

By al die veronderstelde trane van vreugde en blydskap, sê die Bybel ook dat die mense stom was van verbasing. Daar was nou geen plek meer vir ’n siniese lag nie. Net maar plek vir stille dankbaarheid en respek vir Jesus.

Die rol van geloof

Geloof – die geloof van die persoon wat genees word – speel dikwels ’n groot rol in wondergenesings. Dit sien ons in die twee verhale in Markus

Nog meer – die geloof van dié wat bid, speel dikwels ’n groot rol in genesings.  Dit sien ons in Lukas 5 met die verlamde man en sy vriende.  Dit sien ons by Jakobus 5:15: “As hulle (die ouderlinge) gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring.”

Maar, en dit is belangrik, daar is geen bloudruk in die NT van ’n “perfekte geloof” wat die minimum standaard sou haal sodat Jesus dan daarop reageer deur ’n wonderwerk te doen nie!  Nie in die geloof van dié wat siek is nie.  Ook nie in die geloof van dié wat bid nie.

As ’n mens bv die vrou se geloof moet beoordeel, sal ’n mens moet sê, dat sy ’n ietwat twyfelagtige geloof het, naamlik dat daar magiese krag uit Jesus se klere na haar sal oorvloei. Sekerlik nie ons idee van hoe geloof werk nie!   Die vrou se geloof wentel om die aanraking van Jesus, iets wat vreemd is … maar, sy word steeds deur Hom genees.

Daar is dus geen sprake van ’n perfekte geloof by die ontvangers van God se genade nie. Net maar ’n fokus op Jesus, dat Hy Hom op een of ander manier oor hulle sal ontferm. En Jesus ontferm Hom oor hierdie vrou en genees haar.

Ons sien dieselfde in Jaïrus se geval.  Jesus sien raak dat Jaïrus nie seker is of dié geloof regtig genoeg is nie, veral toe hy hoor dat sy dogtertjie weens die vertraging dood is (vers 36).  En Jesus kom Jaïrus tegemoet deur hom te versterk: “Bly maar net glo!” op pad na eintlik ’n groter wonder, dat sy dogtertjie uit die dood opgewek word. 

Geloof is onontbeerlik

Jy kan met reg vra: Wat is dan die eintlike oorsaak van die genesing? Is dit die vrou en Jaïrus se geloof, of Jesus se krag (ten spyte van die gebreke in hulle geloof)?

Van Ruler sê hiervan dat ’n mens die twee kante van die saak nie so teen mekaar durf afspeel nie. Dit is duidelik dat albei hier ’n rol speel: sowel die vrou se misplaaste, maar opregte geloof, as die feit dat Jesus om Godswil haar wil aanraak; sowel Jaïrus se geloof onder baie druk, en Jesus se versterkende woorde.

En natuurlik is dit God se krag wat hier deur Jesus werk, wat uiteindelik die deurslag gee, en wat die sleutel is om God se werk te verstaan. Die fokus is altyd op Jesus en Sy wil vir dié wat ly.  “To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.”  (Joni)

Maar die verhaal leer ons verder dat ons deur God se krag in Jesus Christus aangeraak word juis wanneer ons ons deur die geloof in afhanklikheid voor God stel. Wanneer ons, by wyse van spreke, moeite doen om aan die soom van Jesus se kleed te raak, en te bly glo.

Aan diegene wat só in geloof en afhanklikheid na Jesus toe kom, sê Hy: “Jou geloof het jou gered,” “Talita, koem!” Diegene wat nie na Jesus toe kom nie, hoor nooit dat Jesus dit sê nie.

Daar bly ook onbeantwoorde vrae

Die verhaal leer ons ook dat daar onbeantwoorde vrae bly.  Daar is bv geen antwoord op die vraag waarom Jesus eers Jaïrus se dogtertjie laat sterf het terwyl Hy tyd bestee het aan die siek vrou nie. So is daar baie vrae wat ons kan vra – veral rondom swaarkry en lyding – waarop daar geen goeie antwoorde is nie.

As ons self die draaiboek vir hierdie verhaal geskryf het, sou ons waarskynlik dat Jesus eers gou die akute probleem van die siek kind hanteer het. Daarna kon Hy rustig aandag gegee het aan die chroniese probleem van die vrou, wie se lewe nie in gevaar was nie.

Maar ons skryf nie die draaiboek nie. Nie van hierdie verhaal nie en ook nie van ons eie lewensverhaal nie – alhoewel ons medewerkers daaraan is.

Die draaiboek van ons eie lewensverhaal maak dikwels ook onverstaanbare draaie sodat ons maar net saam met Jaïrus kan wonder waarom God dan nie aandag gee aan ons dringende smeekbedes nie. Of saam met die vrou wonder waarom sy twaalf jaar lank gebuk moes gaan onder erger wordende lyding. Jesus verduidelik nie sy optrede aan Jaïrus nie. Hy gee nie ’n antwoord aan die vrou nie.  Hy verduidelik dit ook nie aan ons nie.

Bly maar net glo!

Maar Jesus bemoedig die vrou: “Jou geloof het jou gered.”

Jesus bemoedig Jaïrus met die woorde: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

Só bemoedig Jesus ook vir ons: “Bly maar net glo!”

Vir ons is dit goed om te weet dat die Een wat so sê, die Koning is; Ons Koning.

En ons leer hier dat geloof en geduld baie naby mekaar lê. Markus roep ons met hierdie twee verhale op om te “volhard in die geloof”. Om te doen wat Jesus in hierdie verhaal sê: “Bly maar net glo.”

Ja, ons word genooi om te bly glo in die Een wat ons lewe in Sy hande hou.  Of ons lewe, of nie, genees word of nie, uit ‘n ernstige siekbed, of nie.  God is ons troos … in lewe en in sterwe.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 494:1-3 Gelukkig is die mens wat op die Here bou (staan)

Seën

Amen

Respons

Refrein Lied 494

Markus 6:14-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys

Bostaande is net 'n uittreksel uit die inleiding van die preek.  Hier volg die volle Liturgie.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede

Lied 176 Halleluja, U is Koning (x2) – sit

Seëngroet en Votum

Lofliedere

Lied 100 Juig almal tot Gods lof en eer – staan

Lied 205 Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun – staan

Verootmoediging

Lied 186 Ons kom loof U as ons Vader – sit

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing

Die evangelie van Markus  is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, nefie van Barnabas, seun van Maria, die vrou in wie se huis die kerk van Jerusalem baie keer vergader het.  Markus, ’n latere metgesel van Petrus, vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Ons Skrifgedeelte val in die tweede deel van Markus (3:7-8:21) waar die impak van Jesus se bediening van gesprek en genesing op drie belangrike groepe beskryf word:

  • die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê;
  • die dissipels wat al dieper in die geheim van Jesus ingelei word, en self ook in hierdie bediening gebruik begin word, maar stadig van begrip is;
  • die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.

’n Mens moet eintlik van vers 7 af lees, waar die dissipels uitgestuur word om deel van Jesus se bediening te word.  Dit beteken dat die verskillende menings waarvan ons gaan lees, iets sê van die dissipels se kontak met wat die mense oor Jesus gesê het.  En die ontstellende verhaal van Herodes en Johannes die Doper onderstreep die feit dat dissipelskap altyd ’n prys kos.

Markus 6:14-29

Verskillende menings oor Jesus

14Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.”

15En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is ’n profeet soos een van die ou profete.”

16Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.”

Die dood van Johannes die Doper

(Matt 14:3–12; Luk 3:19–20)

17Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, 18en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

19Herodias het daarna ’n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ’n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ’n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

21Op ’n dag het Herodias ’n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ’n feesmaal gegee het, 22het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23Daarby het hy dit herhaaldelik met ’n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

24Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”

Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

25Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ’n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

26Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ’n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. 27Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, 28sy kop in ’n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Dissipelskap vra altyd ‘n prys

Die West Memphis Three

Miskien ken julle die verhaal van die West Memphis Three.  Dit is die verhaal van drie tieners wat in 1994 aangekla en gevonnis is in West Memphis, Arkansas, vir die moord op drie jong 8 jarige seuns. Damien Echols is ter dood veroordeel, Jessie Misskelley en Jason Baldwin is lewenslank tronk toe gestuur.  Daar is ‘n hele paar dokumentêre daaroor gemaak.  Ek het een daarvan onlangs gekyk.

Van die begin af was daar kontroversie oor die saak teen hulle.  Die kontroversie het ook baie aandag getrek.  Vermaaklikheidsterre met hulle geld, en forensiese kundiges en ander regslui met hulle kundigheid het betrokke geraak. 

Maar met elke nuwe stukkie inligting wat na vore gebring is oor die saak wat die oorspronklike skuldigbevinding in twyfel getrek het, het die oorspronklike hof geweier om enige nuwe inligting te heroorweeg.  Hulle beroep was op ‘n tegniese interpretasie van die wet, wat uiteindelik verkeerd geblyk het.

Die nuwe getuienis het ingesluit:

  • dat die saak duidelik byna uitsluitlik op omstandigheidsgetuienis berus het,
  • dat daar mettertyd bewys is hoe swak die polisiewerk gedoen is,
  • dat die getuienis van verskeie eksperte vir die staat later as totaal onvanpas en verkeerd bewys is,
  • dat daar met latere DNA toetse duidelik gewys is dat die drie nie op die misdaadtoneel was nie en gevolglik onskuldig moet wees,
  • dit ook duidelik geword het dat die jurie ernstig bevooroordeeld was, met die leier van die jurie wat voor die saak begin het al van oordeel was dat die drie skuldig is,  soos latere getuienis uitgewys het,
  • en dat selfs 2 van die ouerpare wie se kinders doodgemaak is, mettertyd die tieners se onskuld erken het op grond van die nuwe getuienis (die een man wou dit nie doen nie, maar uit die verloop van die verhaal blyk dit dat die man eintlik self as ‘n verdagte hanteer kon word).

Maar steeds wou die hof nie bes gee nie.  Die moontlikheid van onskuld het vir hulle nie so swaar geweeg as hulle beperkende interpretasie van die wet nie – geen nuwe getuienis mag ondersoek word nie.

Vir meer as 18 lang jare het die drie onskuldige tieners in die tronk gebly, totdat die Supreme Court van Arkansas in 2010 eintlik nie anders kon as om die laer hof se interpretasie van die wet ter syde te stel nie – gegewe die openbare belang van die saak – en ‘n ooreenkoms met die drie veroordeeldes vir vrylating aan te gaan.

Maar selfs in daardie omkering, het die hoër hof steeds geweier om regtig te erken dat die vorige hof ‘n fout begaan het.  Hulle het gekies om die drie vry te laat as hulle twee dinge doen: 1) skuldig pleit, en 2) onskuldig pleit – ‘n sogenaamde “Alford pleit”, ‘n baie obskure reëling, wat eintlik ‘n volledige paradoksale kontradiksie is.  En die drie onskuldiges het gekies om dié pleit te doen, omdat een van hulle die hele tyd met die swaard oor sy hoof geleef het van die doodstraf wat voltrek kan word, en die saak nog baie jare vorentoe uitgerek kan word.

Die staat het na die tyd erken dat hulle die ooreenkoms gemaak het, onder andere om die staat te vrywaar van siviele eise wat die drie met reg teen hulle sou kon instel.

Vry, maar skuldig onskuldig, of onskuldig skuldig.

Nou, ek is nie ‘n regskenner nie, maar mensig! 

Dit lyk vir my darem te veel na die triomf van mag, wat selfs as dit verkeerd is, reg is. 

Maar voor ons die regstelsel te veel veroordeel.  Dit is nie net in die regswêreld wat sulke dinge voorkom nie, dit is ook in die politiek so, in die ekonomie, selfs ook in die kerk – en ek gaan nie voorbeelde noem nie, anders raak dié diens te morbied. 

Die triomf van mag oor onskuldiges.  Dit is oënskynlik wat ook hier in ons teksgedeelte gebeur.

Jesus trek Herodes se aandag

Herodes is baie bewus van Jesus se gesprekke en genesings.  Soos die mense, wonder Herodes ook waar Jesus die krag vandaan kry dit te doen.  Soos sommige van hulle dink Herodes dat Jesus eintlik Johannes die Doper is wat uit die dood opgewek is.  Daarom is hy bang vir Jesus, nie net vanweë die gewaande opstandingswonderwerk nie, maar veral vanweë die moontlikheid van politieke teenstand in Jesus se bediening.  Hy dink dat dit Johannes in die gestalte van Jesus is wat opgedaag om hom terug te betaal en van sy troon te beroof.

Net so bietjie inligting: Herodes Antipas, die Herodes van ons teks, was die seun van Herodes die Grote, die een wat die kindermoord gepleeg het by Jesus se geboorte.  Na sy pa se dood het hy koning oor die landstreke Galilea en Berea geword.  Dit is dié gebied waarin Jesus sy dissipels uitgestuur het en waarin twee-derdes van die evangelie van Markus afspeel.  Daarom is Herodes as heerser van dié gebied baie bewus van alles wat Jesus doen.

Herodes red sy eer en maak ‘n onskuldige dood

Ons word dieper ingelig waarom Herodes bang was.  Op ‘n meesterlike manier verduidelik  Markus Herodes se vrees met die herinnering aan die dood wat Johannes die Doper as martelaar aan Herodes se hand gesterf het.  Herodes het met sy broer se vrou, Herodias, getrou, en toe Johannes hom daaroor betig, is hy opgesluit.  Herodes was egter bang vir Johannes, omdat hy ‘n opregte en godvresende man was.  Hiervoor het Herodes respek gehad.  Herodes kon egter nie sover kom om sy moreel korrupte verhouding met Herodias te beëindig nie.

Maar, Herodias was nie bang nie.  Deur haar listigheid kry sy dit reg om Johannes dood te maak.  Herodes kies om eerder sy eer voor sy gaste te handhaaf as om ‘n belofte teenoor Herodias se dogter, Salome (volgens Josefus), te verbreek, al moet hy ‘n onskuldige aan die pen laat ry.  Die tragiese uiteinde is dat Johannes die Doper sterf.  Onskuldig.

Mag triomfeer oor onskuld.

God se koninkryk kom deur selfopofferende diens

Maar, is dit werklik so?

Ons moet erken Johannes die Doper en ook later Jesus self, delf op ‘n menslike vlak die onderspit teen die owerhede van die dag.  Johannes aan die hand van Herodes, Jesus aan die hand van die Romeinse owerhede, Pilates, en die Joodse leiers.  Mag triomfeer oor onskuld.

Maar die triomf van hierdie mag is net op die oog af so. 

In die eerste plek: mag wat só uitgeoefen word, boemerang altyd tog maar weer op die onregverdige maghebber.

Die geskiedenis leer ons dat die dood van sowel Johannes, as wegbereider, en Jesus se eie kruisdood die voorspel was tot die einde van juis die mense en koninkryke wat die mag teenoor hulle misbruik het. 

  • Herodes Antipas word later deur keiser Caligula verban na wat vandag Lyon in Frankryk is.  Sy heerskappy word dus beëindig.
  • En, die Romeinse ryk, waarvan Pilatus die maghebber in Jerusalem was, loop hom binne vier eeue te pletter teen die kruis van Jesus.  Die Romeinse ryk bestaan eintlik ironies genoeg net voort in die Rooms-Katolieke kerk, by wyse van spreke.

In die tweede plek: die verhaal leer ons dat die koninkryk van God nie deur mag en geweld kom nie, maar deur selfopofferende diens en gehoorsaamheid aan God.

Dit is so, profete word doodgemaak wanneer hulle bediening hoë aandag trek.  Die magte hou dit nie uit met die waarheid nie.  Johannes het gesterf.  En sy dood, aan die hand van politieke mag, is natuurlik ‘n profesie van Jesus se eie dood.  Onskuldig.  Albei.

Maar, in die onskuld van hulle dood, word die misterie en styl van God se regeermag openbaar.  God se oorwinning word in die teendeel geopenbaar.  God se ryk wen deur die kruis en die opstanding, en deur die gesante van die kruis en opstanding wat hierdie gebeure lewend en teenwoordig hou deur hulle lewe en woorde.

Dit is waar die bediening van die versoening, van ‘n lewe met mekaar en ‘n lewe met God sy impetus gekry het.

God is uiteindelik in beheer

In die derde plek: die verhaal help ons verstaan dat God uiteindelik in beheer is, en dat die magte hulle knieë voor God moet buig en God moet gehoorsaam. 

Dit geld alle vorme van mag en alle soorte gesagsdraers.  Waar regeerders en maghebbers hul eie koers inslaan, sonder ontsag vir God en sy gebod, is hulle op dun ys.  Konings en presidente, eerste ministers en premiers moet die knie voor God buig.  Kerkrade en dominees moet die knie buig.  Skoolhoofde, voorsitters, kommissarisse, noem maar op.

En in die vierde plek: dit is waar van ons almal.  Die meeste van ons is iewers in ‘n gesagsposisie.  Ons het verantwoordelikhede by die werk.  Ons dien op komitees en kerkrade.  Ons is die ouers van kinders.  Ons is klaskapteins of dien op leerlingrade.  En ons moet buig voor die gesag van God en God dien.

Dit laat my dink aan Psalm 2:10-12, wat so ‘n sentrale tema in die Psalms aanroer, iets wat ook in die NT weerklink:

“Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees,  sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie,  want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.”

Ironies genoeg het koning Herodes Antipas ontsag vir God gehad.  Én vir God se gestuurde, Johannes die Doper.  Hy het egter nie die wilskrag en moed van sy oortuiging gehad om die regte ding te doen nie.  Hy misbruik sy mag.  Hy veroorsaak ellende en lyding.  Daarmee bou hy sy huis op sand.

God se werk trek publieke aandag

God se werk trek altyd publieke aandag.  Dit was regdeur die Ou Testament so.  Die oortuiging dat God regeer, is ‘n oortuiging wat in die publieke ruimte uitgeleef word.  Dit het altyd implikasies vir die openbare lewe.

Konings en vorste van alle tye is bekend daarvoor dat hulle nie van inmenging hou nie.  Tog is die kerk in die breë, gemeentes en individuele gelowiges geroep om profete te wees wat – soos Johannes – God se Woord vir die openbare lewe bedien.  Daar is ‘n ryk profetetradisie in die Bybel wat die verkondiging van God se Woord aan openbare figure en instellings verteenwoordig.  Johannes se protes oor Herodes se optrede is nie uniek nie, dit is die weg van geloof in die wêreld.

Die eerste Christene het dit goed verstaan.  Hulle noem Jesus sonder skroom Here.  “Here” is ons vertaling van die Griekse woord “kurios.”  Kurios is die ekwivalent van die Latynse “Caeaser,” die titel van die Romeinse diktator in Rome.  Daarom het die Christelike geloof van die begin af die aandag van politieke maghebbers getrek, en is Christene deur die Joodse owerhede en die Romeinse ryk vervolg.

Geloof word nie onder ‘n maatemmer versteek nie.  Geloof is soos ‘n stad op ‘n berg waarvan die lig die wêreld verlig.

Natuurlik maak ons publieke getuienis die wêreld daarom dikwels warm vir ons.  Daarom het Jesus gesê ons moet ons kruis opneem en hom volg.  Dissipelskap vra altyd ‘n prys.

En ons as gemeente kan gerus in die komende kwartaal nadink oor wat ons publieke verantwoordelikheid en ons getuienis in ‘n tyd soos hierdie behels.  In terme van die onderwys, gesondheid, werkskepping, armoede, die metropool, noem maar op.

Jesus bly die inhoud van ons getuienis

Natuurlik het Christene nie carte blanche oor die wyse waarop hulle hul getuienis lewer nie.  Jesus die Gekruisigde is die inhoud van ons getuienis.  Christus se diensbaarheid en nederigheid is ons styl.  Te veel Christene is wysneuse wat na niemand luister nie en bloot voortdonder en hul persoonlike voorkeure in ander se kele afdruk.  Te veel Christene maak partypolitieke lojaliteite hul getuienisvoorkeur.

‘n Voorbeeld hiervan is die wyse waarop talle evangeliese kerke in die VSA hulself belyn met die Republikeinse Party en eintlik ‘n partypolitieke ideaal nastreef in plaas van radikale gehoorsaamheid aan Jesus Christus.  Vroeër het die NG Kerk ook sy getuienis uitverkoop aan die politieke ideale van die Nasionale Party.  Vandag nog probeer die SA regering kerklike instellings koöpteer by sy politieke agenda.

Jesus is die Here, Jesus bepaal ons getuienis, nie ons eie voorkeure nie.

Mag en maghebbers het verlossing nodig

Ons profetiese getuienis teenoor almal in gesagsposisies is gemik op die verlossing en heiliging van mag en gesag.  Johannes die Doper het teenoor Herodes Antipas getuig om hom op die regte weg te begelei.  Herodes het sy broer se vrou afgeneem.  Herodes het op die magtelose getrap, en sy mag misbruik.  Hy en sy magsuitoefening het verlossing nodig.

Dit is iets wat die Arkansas regstelsel ook sal moet leer.  Ten spyte van die status van die drie tieners – al drie kom uit haglike omstandighede en twee van hulle het voorheen met die gereg gebots, dus nie noodwendig voorbeeldige mense nie – moet die weerloosheid van tieners (een van hulle het ‘n IK van 72 en is aan ‘n onmenslike marteling van ‘n ondervraging onderwerp waar hy uiteindelik net gesê het wat die polisieman vir hom voorgesê het, wat ‘n skulderkenning onder dwang ingesluit het) nie gebruik word om ‘n vooropgestelde perspektief te bevestig, uiteindelik om jou eie beeld en standpunte te verdedig nie.

Ons getuig nie om die magte en ampsbekleërs ten gronde te rig, te vernietig of te oorwin nie.  Ons getuig om te reinig, te heilig en te verlos.  Dit is ten diepste wat Gereformeerdheid ook beteken – die heiliging van die lewe.  Ons is sout en suurdeeg wat bederf keer en die wêreld vernuwe.  Ons doen dit vanuit ‘n posisie van nederige onmag en diens.  Ons doen dit terwyl ons luister en insig ontwikkel in die komplekse besluite wat maghebbers moet neem, en beide hulle voorbidders en hulle gewetens word.

Tragedie of Triomf?

Dis ‘n tragiese verhaal wat in ons teksgedeelte afspeel, meer tragies as die verhaal van die West Memphis 3.  Die wegwyser na die Messias, Johannes die Doper, kom tragies en voortydig aan sy einde.  Hoe anders sou mens nie wou hê Johannes se lewe moes eindig nie!

Tog was Johannes getrou as getuie van die Here, en het hy sy taak voltooi, ‘n belangriker taak as enige ander profeet voor hom, die aankondiging van die Messias self, soos Jesus self aan Johannes erkenning sou gee.  Daarvoor kan ons Johannes onthou en sy voorbeeld navolg, al leer dit ons dat dissipelskap altyd ‘n prys kos.

Deur Johannes is die vaandel van die koninkryk hoog gehou, triomfeer God se koninkryk uiteindelik oor die mag van hierdie wêreld.  Nie deur mag en geweld nie, maar deur diensbaarheid en opoffering.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffers

Lied 286 Here God van liefde, waar ons ook mag gaan – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 286 Heer Jesus , laat ons nooit alleen  … (laaste 4 reëls) – staan

Spreuke 2:1-22 – Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.

Verwelkoming

Toetrede

Liedboek 577:1,5 – Die Heer, my herder, sorg vir my – sit

Votum

Seëngroet

Lofsang

Liedboek 510 – Genade, onbeskryflik groot – staan

Liedboek 512 – Nader, my God, by U, nog naderby – sit

Kindertyd

Episode 2 van Omdat ek jou liefhet van Max Lucado

Terugflits

Lank, lank gelede in ‘n ver land het ‘n wyse man met die naam Shaddai gewoon.  Shaddai was ‘n groot man wat lief was vir kinders.  Hy het ’n pragtige dorpie vir die kinders gebou.  En die beste van alles was dat Shaddai  vir al die kinders ewe lief was. 

Dit is hoekom hy die muur gebou het reg rondom die kinders se dorpie.  Want, buite hierdie dorpie was daar ‘n gevaarlike bos. Hy het vir die kinders gesê: “Daar is gevaar buitekant die muur.  Julle is gemaak vir hierdie dorpie binne die muur.  Bly by my.  Dit is veilig hier.”

Shaddai by sy werksbank

Die dag toe hy die laaste klip op die muur pak, gaan hy terug na sy werksplek, sit voor sy werkbank en sny ‘n kierie uit ‘n lang boomtak.  Shaddai sit die kierie toe in ‘n hoek neer en sê vir homself:  “Ek sal gereed wees.”

‘n Rukkie later hardloop ‘n seuntjie met rooierige hare Shaddai se werksplek binne.  Die kind met die soekende oë en rustelose energie maak die skepper bly én bekommerd.

“Shaddai.”

In ‘n oogwink het die skepper sy hamer laat val en omgedraai.  “Wat is dit, Palladin?”

Palladin ontdek die gat in die muur

Die seun het met rukke en stote gepraat terwyl hy na asem  hyg:  “Die muur … ek het … ‘n gat ontdek.  Dit is ‘n groot gat!” Die seun het sy hande gerek om te wys hoe groot die gat is.  “Iemand kan dalk daar deurkruip.”

Shaddai het ‘n stoel nader getrek en daarop gaan sit.  “Ek het geweet dit sal jy wees, Palladin, my kind.  Sê vir my, hoe het jy dit gekry?”

“Ek het al langs die muur geloop op soek na – “

“Gate?”

Palladin aarsel, verras dat Shaddai geweet het.

“Ja, ek het na gate gesoek. “

“Sodat jy die bos kan sien?”

“Ek was nuuskierig, Shaddai.  Ek wou weet hoekom jy nie wil hê ons moet soontoe gaan nie.  Hoekom is dit so gevaarlik?”

Shaddai praat ernstig met Palladin

Shaddai beduie toe vir die seun om na hom toe te kom.  Toe Palladin nader kom, vat die skepper die klein gesiggie in al twee sy hande en lig dit op sodat die seun reguit in sy oë kon. kyk.  Shaddai se ernstige gesig het Palladin se maak sommer so hol laat voel.

 “Palladin, luister na my.  Die wêreld daar buite is nie die plek vir jou nie;  ook nie vir my nie.  As jy na die bos toe gaan, sal jy seerkry.  Jy is nie gemaak vir daardie plek nie.  Laat jou voete jou dra na al die plekke waarnatoe jy mag gaan, nie na die een plek waarheen jy nie mag gaan nie.  As jy hier weggaan, sal jy nie die pad terug kry nie.”

Palladin wonder hoekom die gat nie toegemaak word nie

Palladin het saggies gevra:   “Sal jy dan die gat toemaak?”

“Nee, Palladin, ek het juis die gat gemaak omdat ek julle so liefhet.”

“Maar jy het dan gesê jy wil nie hê ons moet weggaan nie.”

“Ek wil nie hê julle moet weggaan nie.  Ek wil hê julle moet hier by my bly, maar ek het die opening gemaak toe ek die muur gebou het.”

“Maar as jy dit nie toemaak nie,” sê Palladin, “sal die kinders dalk weggaan, Shaddai.”

“Ek weet, Palladin.  Maar ek wil hê die kinders moet hier bly omdat hulle wíl, nie omdat hulle móét nie.”

Palladin verstaan nie mooi nie

Palladin kon dit nie verstaan nie.  Hy het ongemaklik gevoel en omgedraai om te loop.  Hy moes gaan dink oor wat Shaddai gesê het.  Toe hy uitstap in die sonlig, kyk hy om na die werkswinkel.  Shaddai het nog steeds op sy stoel gesit en  na Palladin gekyk.

Kom luister volgende week verder …

Gebed

Skriflesing

Spreuke het drie belangrike boodskappe:

  1. Begin met God,
  2. Soek na wysheid
  3. Loop die regte pad – wat natuurlik insluit om die drie hoof afdraaipaaie te vermy – “easy sex, easy money, easy power”.[1]

In tien lewenslesse leer ‘n pa sy seun hoe dit werk. 

  1. Verlede week het ons gekyk na watter rol God in die seun se lewe moet
  2. Vandag kyk ons na die rol wat die soeke na wysheid in die seun, en natuurlik in elkeen van ons, se lewe moetDie kern-boodskap is in Spreuke 2:2: “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.”

Woordverkondiging

Luister in die diereryk

Dit is verstommend hoe goed sommige diere kan hoor.

  • Olifante het nie net baie groot ore nie.  Hulle kan geluid hoor wat 20 keer dieper is as wat ons ore kan optel.  En hulle gerommel kan 6 kilometer ver opgetel word deur ander olifante.  Dit is een van die maniere waarop hulle aangepas is om te kan oorleef en met mekaar te kan kommunikeer oor lang afstande.
  • Uile het van die skerpste ore wat bestaan. Interessant is dat hulle ore nie op dieselfde vlak sit nie – een is net bo die ooglyn, en die ander net daaronder – sodat hulle met absolute presisie die rigting van ’n geluid kan bepaal.  Maar uile kan nie net goed hoor nie.  Hulle reaksietyd is ook verstommend.  Binne ’n 100ste van ’n sekonde kan hulle reageer op die geritsel van ’n muis in die bos.  Dit is waarom uile in die donkerste donker – hulle het natuurlik goeie oë ook – hulle prooi kan vang en só kan oorleef.
  • Vlermuise se gehoor is miskien nog beter ontwikkel, hoewel hulle ’n tipe sonar gebruik om te kan hoor.  As jy ’n muskiet is, en só 15-20 voet van ’n vlermuis af, al is dit stikdonker, en jy piepklein, is jy geskiedenis.  Interessant, vlermuise beskerm hulle ore deur dit toe te maak met elke vlerkklap, sodat hulle gehoor nie verminder met die geraas van hulle eie vlerke nie.  Hulle is eintlik totaal afhanklik van hulle gehoor om te kan oorleef.
  • Dolfyne, wat ook sonar gebruik, kan tot op 70 meter ’n voorwerp opspoor al is dit net so groot soos ’n vyfrand muntstuk.  En soos walvisse kan hulle geluide oor groot afstande onder water optel.

Hoekom?  Want al hierdie diere is afhanklik van hulle ore om te kan oorleef.  Hetsy of dit is om te kan kommunikeer, of om hulle kos op te spoor of om gevaar te kan ontwyk – ore is lewensbelangrik.

Die tweede lewensles

Dié voorbeelde gee ons ’n bietjie dieper begrip vir die tweede lewensles wat die pa in Spreuke 2 aan sy seun gee. 

Die pa weet dat die belangrikste ding in die lewe is om met God te begin.  Sonder om God te ken en te erken in alles wat jy doen, loop jy die gevaar om sy sorg en voorsiening te mis.

Maar, hy weet ook die seun kan dink dat hy dan maar agteroor kan sit, en bid, en wag vir God, en dan verder niks doen nie.  En die lewe werk nou eenmaal ook nou weer nie só nie.

Maar, let op, hy probeer hom nie in die tweede plek net ’n klomp reëls of kennis inprop nie.  Hy gee nie net vir hom ’n handboek wat hy moet lees nie.  Hy raai hom selfs nie aan om sekere goed sommer net te begin doen omdat dit goed vir hom sal wees nie.  “Doen soos ek sê en daarmee basta.” 

Nie dat hy niks gaan sê vir die seun oor wat hy moet weet nie.  Nie dat boeke nie belangrik is in die pa se oë nie.  En nie dat die pa nie tog vir hom gaan aanraai om op sekere paaie te loop en te waarsku om op ’n paar ander nie te loop nie.  Kennis is belangrik, en die regte pad is belangrik.  En die pa gaan vir sy seun ’n hele klompie dinge daaroor in die res van die boek sê. 

Maar, hy begin by ’n ander plek.  Hy raai sy seun in die tweede plek aan om sy ore te gebruik, om sy ore te spits, en te luister. 

Gebruik jou ore

En waarvoor moet hy sy ore gebruik? 

Hy moet as’t ware met gespitste ore soek en luister vir wysheid (2:1-4), nie net vir kennis nie, nie net vir dinge om te weet nie, maar vir wysheid, vir toegepaste kennis, vir kennis wat vir jou werk, vir kennis wat iets beteken.  Want sonder dié tipe wysheid, vir kennis in aksie, kan jy moeilik die uitdagings van hierdie lewe hanteer, sal jy moeilik oorleef.

Kyk, jy kan al die kennis hê wat bestaan, jy kan weet hoe alles werk in die lewe, en dit met baie kundigheid kan beskryf, maar as jy nie weet wat jy daarmee moet maak nie, wat die beste manier is om jou kennis toe te pas nie, hoe jy dit kan inspan ter wille van oorlewing of ter wille van sukses nie, dan baat dit jou nog maar min. 

Jy het wysheid nodig, jy het toepassings nodig, jy moet weet wat dinge beteken, jy moet dit verstaan, jy moet dit begryp, sodat jy dit tot jou eie en ander se voordeel kan inspan.  Eers dan sal kennis vir jou die moeite werd wees.  Dit is benewens die feit dat ’n mens eintlik eers regtig die wysheid het, as jy begin het om daarvolgens op te tree, maar dit is vir die res van die Preekreeks …

Ek wonder baie keer of dit nie die probleem is vandag met die kennis-ontploffing nie.  Ons weet só baie, sommige van ons dínk natuurlik ons weet so baie (glimlag), maar ons is eintlik in ons kinderskoene in die toepassing van dié kennis, in die wysheid wat nodig is om dit vir mense en die omgewing te laat werk.

Daarom, sê die pa vir sy seun, moet jy luister vir die wysheid, nie net vir die kennis nie, maar vir die wysheid, vir die maniere hoe om kennis toe te pas, sodat jy kan weet wat kennis vir jou en vir ander kan beteken.

Soek wysheid met gespitste ore

Nou, daar is twee maniere waarop die Bybel oor die verkryging van hierdie tipe kennis, hierdie wysheid, praat. 

  • In die eerste plek: God gee wysheid vir dié wat Hom vertrou.  God werk vir hulle selfs wanneer hulle slaap (Ps 127:2 – ’n Psalm van Salomo!).   Uiteraard is dit ’n belangrike klem, en is dit iets waarop ’n mens ook kan staatmaak.
  • Maar, belangrik, in die tweede plek: God gee wysheid in die doelgerigte soeke na wysheid, ‘n verantwoordelikheid wat ons nie kan ontwyk nie.   Om die waarheid te sê, dit is meermale hoe dit werk.

Dit is van hierdie doelgerigte soektog na wysheid, na toegepaste kennis, wat Spreuke praat.  Daarom sê die pa vir sy seun: hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in, roep en vra, soek … en jy sal dit opspoor. 

God gee wysheid vir dié wat daarna soek

Want sien, wysheid ís ’n gawe van God.  Hý is wysheid.  En Hy wil gráág wysheid vir ons gee.  Maar, God weet ook dat wysheid wat sommer net so uitgedeel word, te maklik op dowe ore kan val, onwerksaam in ons lewe kan lê, en dan tot niks kom nie.

Daarom het Hy ingebou dat vir die wysheid gesoek moet word.  Dit is in die soektog self wat ’n mens agterkom dat wysheid ’n gawe is van God, dat jy waardering kry vir hoe ragfyn God goed beplan, jy begrip kry vir hoe goed werk, en hoekom dit so is, te same met die sukses en beskerming wat met die wysheid saamgaan. Wanneer die seun só soek, dit is dan wanneer hy ook op die regte pad sal bly en kán bly. 

Dit is iets wat Jesus ook later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende uitspraak in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”  (Matt 7:7-8). 

God wíl gee, maar Hy wil ook hê dat die gawe iets vir ons beteken, dat dit ons help om te kan lewe, en daarom dat Hy gee vir dié wat daarna vra, vir dié wat daarna soek, vir dié wat klop aan die deur.

Interessant is dat Jesus hierdie gawe van wysheid ook met die gawe van die Heilige Gees verbind,  die goeie gawe van God (Luk 11:13).  En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5).  Watter belofte!

Jy sal met vreugde en oordeel kan lewe

Liewe gemeente, dit is ook hoe God se beskerming werk. Dit is nie net iets wat God gee sonder jou medewerking nie.  Beskerming kom ook deur die manier waarop jy lewe. Dit is nie net ’n gevolg van God se wonder ingrype nie – hoewel Hy Goddank dit ook soms doen.

God gee beskerming deur toegepaste kennis, deur wysheid waar met insig op die verloop en beloop van die lewe gereageer word.  Wanneer kennis op só ’n manier, met wysheid, in die toepassing daarvan, begin om jou lewe te vorm en te verryk, dit is dan wanneer oordeelkundigheid en verstandigheid begin om jou lewe te beskerm en begelei.  Dit is dan wat God jou in staat stel om die verkeerde dinge en mense te vermy en Hy jou lei na die goeie, regverdige, opregte en onberispelike paaie wat volhoubare en vreugdevolle lewe moontlik maak.  Dít is hoe God beskerming en begeleiding gee – deur die wysheid waarvoor jý jou ore spits en waarop jý jou luister fokus.

En maak geen fout nie.  Dit is iets wat jou eie verantwoordelikheid is. Dit is nie iets wat iemand anders vir jou kan doen nie. Dit is selfs nie iets wat God sommer sonder jou medewerking kan doen nie, hoewel daar natuurlik ook ’n genade-kant van Sy betrokkenheid by ons is.  Die Bybel sê mos in Psalm 25:8 dat hy selfs vir sondaars die pad aanwys.  Dit is waar, maar ook net een kant van die saak.  God gee vir dié wat soek, vir dié wat nood het, vir dié wat heel wil word.

Wysheid is dus aan die een kant ‘n gawe van God wat jy uit Sy hand ontvang en ontgin in al sy fasette, maar ook iets aan die ander kant wat jy persoonlik moet toepas en ontplooi in jou praktiese lewe. Dit is in die ontvangs en in die ontplooiing, die vertroue op God en die persoonlike verantwoordelikheid neem, wat die beskerming en begeleiding gebeur.

Jy sal die pad van slegte mense kan vermy

Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure en rolmodelle in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (2:1,9,20,21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg. 

Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (2:12), mense wat die regte paaie verlaat (2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (2:16-20).

Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel. 

En let op, hoewel tyd my ontbreek om meer hieroor te sê, hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (2:2).  En dit saam met mense wat saam met jou na die wysheid soek.

Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – 2:7; onberispelikheid – 2:7,21, getrouheid – 2:8; regverdigheid en billikheid – 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – 2:11; goedheid – 2:20; opregtheid – 2:21).  Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word.  Só word jyself natuurlik ’n voorbeeld wat ander kan navolg.

Ons sal leer om met mekaar saam te kan lewe

Ek sluit af.  Ons kan leer by die uile van die diereryk, ook van die olifante, vlermuise en dolfyne, veral in hoe hulle staatmaak op hulle ore om te oorleef in die lewe.

Maar ons moet vir meer luister as die diere.  Ons moet luister vir die wysheid, vir dié toepassings van kennis wat nie net nodig is om te oorleef nie, nie net vir ons kos in ons mae sit nie, maar vir dít wat ons gaan help om mekaar te kan verdra, om mekaar te kan akkommodeer, om met mekaar te kan saamleef, om mekaar te help om by selfverwesenliking uit te kom.

Dit is miskien die grootste wysheid wat ons nodig het, hoe om dit te kan regkry om met mekaar te kan saamlewe, hoe om te sorg dat mense die ervaring het om te behoort, om tuis te kom, om tot hulle reg te kom, om iemand te voel, en iemand te wees, vir ander, vir jou, vir my, vir God.

Hou jou ore dus oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan, en begin om dit met ander te deel, begin om dit uit te leef.  Ons almal het dit nodig.  Ons almal moet daarop fokus.  Dit is hoe ons dit gaan regkry om mekaar nie uit te wis nie, maar die beste in mekaar na vore te bring.

Gebed

Verootmoediging

Liedboek 299:1 – Laat ons, Heer, u dood verkondig – sit

Nagmaal

Dankoffers

Slotsang

Liedboek 529 – Dank, dank die Heer.  Ons dank die Heer – staan

Seën

Amen

Respons

Liedboek 228 – Halleluja!  Halleluja! – staan


[1] Interessant: die luister-siklus van die Seisoen van Luister werk met ‘n soortgelyke skema: RUS, HOOR, LEEF.  Die luister-siklus is eintlik ‘n manier van luister-leef wat in die wysheidstradisie van die OT inpas!

Spreuke 4:20-27 – Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree

Verwelkoming

Louise Bam neem by Senta Jacobs oor as kategesehoof.  Dankie!  En Welkom!

Faith begins at Home – Mark Holmen.  Skaf die boek aan.

GOD NOOI ONS IN EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Liedboek 222 (x4 – Afr/Eng/Afr/Eng) – “Loof die Here God en prys sy heil’ge Naam” – sit

Votum

Seëngroet

Lofsang

Liedboek 220 “Met ons harte sing ons, Here, van u liefde meer en meer” – staan

Liedboek 196 “O kon ek jubel, Hemelvader, met duisend stemme tot u eer” – sit

Doop

Liedboek 290:1 en 4 “Dit is my troos dat ek gedoop is, dat ek gedoop is in u Naam” – sit

* Ruaan en Ronel (dogter van Gerda Louw) Verster – Ameli Verster

* Emil (seun van Gerhardt en Esmé Goosen) en Adel Goosen – Lana Goosen

* Luaré le Roux en Liné Wasserman – Lian Christophe le Roux

Verootmoediging

Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

Hierdie hoofstuk kan in drie dele opgedeel word wat die volgende drie “lewenslesse” is, les 5-7, wat die pa besig is om sy seun(s) te leer ( onthou die eerste vier was: 1) Luister na jou ouers, 2) Soek wysheid met gespitse ore, 3) Vertrou God en ken Hom in alles, en 4) Leer uit 5 voorbeelde van ‘n ryk en vol lewe):

  • Lewensles 5 – 4:1-9 – Neem jou ouers (rolmodelle) se opvoeding ter harte.
    • Die pa spel die voordeel van die pad van wysheid uit: “jy werklik kan lewe” (4:4).   Wysheid is nie ’n straf nie, maar sal jou beskerm (4:6), aan jou betekenis gee (4:8), jou sosiale aansien verleen (4:8) en jou lewe versier (4:9).
    • Wysheid moet daarom soos ’n metgesel vir hom/hulle wees, soos ’n bruid wat jou lewenspad met jou deel, wat jy kan liefhê en wat jou lewe kan verryk en versier (4:6).
  • Lewensles 6 – 4:10-19 – Kies die pad van wysheid en nie die pad van goddeloosheid nie.
    • Dit is lewensbelangrik dat dié pad, die pad van wysheid, gekies word, en die pad van goddeloosheid vermyDie twee paaie laat dit óf donker óf lig word in jou lewe.  Om die waarheid te sê, die pad van goddeloosheid is verslawend – jy kan later nie meer daarsonder nie (lê wakker)!  Dit beïnvloed jou hele lewe, en stel jou bloot aan die verydeling wat met boosheid en slegte mense saamgaan. “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is” (4:18)!
  • Lewensles 7 – 4:20-27 – Hou koers deur te fokus op jou binnekant en jou bakens.
    • Die sewende lewensles van die pa aan sy seun is om koers te hou op die pad vanIn die proses is sy ore (4:20), hart (4:23), mond (4:24), oë (4:25), en voete (4:26) belangrik, almal metafore vir aspekte van sy soeke na en uitlewe van die wysheid. 

Spreuke 4:20-27

Woordverkondiging

“Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree “

Ons het verlede week baie tyd spandeer om oor ons binnekant te gesels.  Dit is waar alles begin.  Dit is waar jy met God begin.

Vandag kyk ons na vers 26-27 wat sê, dit is nie net vertroue op God, ‘n luisterende gesindheid en die fokus op jou manier van dink, jou binnekant, wat jou pad bepaal nie.  Jy moet ook die pad stap wat God wys.  Soos Spreuke sê: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree” – 4:26. 

Die OAV vertaal: “Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,” en vers 27: “wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.”

Deur vir jou bakens op te rig op jou pad, en daarvolgens koers te hou, sal jou nie net op die regte pad hou nie, maar dit ’n vreugde maak, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.

Baken jou koers af

Letterlik staan daar: “laat jou weë vas wees.”  Die woordjie vir vas in die vers is koen in Hebreeus –  כּוּן .  Laat jou weë koen wees. 

Die woord koen word gebruik om vastigheid, stewigheid, en onwrikbaarheid uit te druk.  Van die aarde word gesê dat dit koen is: stewig, vas, onwankelbaar, geanker (Ps 93:3).  Van ’n huis of tempel word gesê dat dit koen is: vas en stewig (Rig 16:26). 

Maar dit word ook in ’n abstrakte sin as ’n metafoor gebruik om koersvastheid aan te dui.  Dit is die tipe betekenis wat ons hier in Spreuke aantref.  Laat jou weë, jou lewenstyl en jou beplanning vir die toekoms koen wees, vas wees, geanker, onwrikbaar, koersvas.

Hoe kry ’n mens dit reg?

  1. Eerstens moet jou hart reg wees – daaroor het RethieJou binnekant moet aan God verbonde wees en tot rus gekom het by Hom.  Begin met God.
  2. Tweedens moet jou houding teenoor die lewe uitgesorteerJou ingesteldheid moet ’n soeke na en ’n waardering van wysheid wees.  Jou ore en jou lewe moet ingestel wees daarop.  Dit is wat Spreuke in sy geheel sê: vrou Wysheid en vrou Dwaasheid praat met jou oral waar jy besluite moet neem, en jy moet jou instel om vrou Wysheid se stem te hoor en na te volg.
  3. En in die derde plek moet jy koers hou op die pad van wysheid.  Jy moet die pad van wysheidJy moenie net daaroor dink nie.  Jy moenie net daaroor gesels nie.  Jy moet die pad stap. 

En daarvoor het jy bakens nodig, dinge wat jou kan help om koers te hou.

Bakens uit die verlede

Sommige bakens lê in die verlede.  Geestelike ervarings, uitkomste wat die Here vir jou bewerk het, wyshede en lewenswaarhede wat jy geleer het, ’n roeping wat jy ontvang het, gawes en geleenthede wat deel van jou menswees geword het.

Gaan sit vandag en maak ’n lys van al die wonderlike dinge uit die verlede wat jy met jou kan saamdra, en wat vir jou bakens kan wees.

Natuurlik is daar ook dinge wat sleg was in die verlede.  Een van die probleme wat ons as ’n gemeenskap het, is dat ons steeds swaar dra aan dinge wat verkeerd gegaan het in ons regverdiging van minagting vir menswaardigheid.  Maar, ons het twee goed nodig om van daardie deel van ons verlede te hanteer:

  1. erken dit was verkeerd en maak reg wat jy kan;
  2. soek vir ’n bruikbare toekoms in jouKry weer ’n greep op die waardevolle dinge wat wel deel van jou verlede was, en bou ’n toekoms daarop.  Deernis – visie – moed – dapperheid – eerlikheid – alles dinge wat Spreuke hoog aanslaan.

Bakens in die toekoms

Sommige bakens lê in die toekoms.  Verwagtinge wat jy het, beloftes waarvoor jy bid en werk, drome wat jou beetgepak het, en wat dit vir jou die moeite werd maak om voor op te staan elke dag. 

En as jy nie het nie, lees die Bybel, en lees jou koerant – in die visie vir ’n nuwe wêreld wat God regdeur die Woord met ons deel, en in die nood in ons omgewing waarvan jy elke dag in die koerant lees, lê die bakens van die Here, die pad wat Hy wil hê dat jy moet stap, opgesluit.

Rig vir jou bakens op vandag

Maar – die verlede het sy waarde; die toekoms daag jou uit; waar dit alles bymekaar kom, is hier en nou.  Dit wat jy nou doen, bepaal hoe jy die toekoms tegemoet gaan.

En Spreuke sê, rig vir jou bakens op,

  1. onthou dié dinge uit die verlede wat jou vas en stewig laat staan – vier dit, sê gereeld dankie, praat daaroor, deel dit met jou geliefdes;
  2. koester dié drome wat nog in die toekoms vir jou lê en wag, en
  3. beplan hoe jy daar gaan uitkom.

Drie versoekings om te vermy

Soos reeds vroeër in die reeks genoem, praat Spreuke van drie hoof afdraaipaaie wat vermy moet word op dié wyse pad: “easy money” (veral in 1:10-19), “easy sex” (2:16-19 maar ’n hele paar keer verder aan!) en “easy power” (veral 3:27-35). 

Dit is die drie oer-versoekings, waaroor al baie boeke geskryf is deur die loop van eeue, die versoekings van money, sex en power. 

Dit is dan ook die dinge waarvan ons gesuiwer moet word.  En let op dat dit eintlik metafore is vir dinge wat jou fokus weg van God af op jou eie belang plaas:

  1. Die versoeking van “easy money” het met gierigheid teDit  gaan oor ’n obsessie met besittings, sonder om God daarin te ken, sonder om volgens sy reëls te speel. 
  2. Die versoeking van “easy sex” of wellus, gaan oor ’n fiksasie op plesier, nie net diekant daarvan nie.  Die verleidelike vrou van Spreuke is ’n metafoor vir gesteelde genot, vir verborge genot, vir plesier sonder plig, vir verleiding sonder verantwoordelikheid.
  3. Die versoeking van “easy power” gaan oor hoogmoed,  ’n pre-okkupasie met jouself en jou status, jou voorsprong bo ander, en hoe jy die voordeel bo ander kan kry en hou, wat natuurlik pas by hoe jy jouselfNatuurlik het almal van ons mag, maar wat ons onderskei, is wat ons daarmee maak, en hoe ons dit bekom, veral hoe ons ’n onregverdige voorsprong bo ander soek, en hoe ons daaraan vashou.

Drie geestelike dissiplines om te volg

Daar is ook drie dinge kan jou help om dié versoekings nie net te bowe te kom nie, maar jou weë vas en seker te maak.

Dit is die drie eeu-oue geestelike dissiplines, die sogenaamde “threefold way”[1] waarin ’n mens nie net op die verlossing van versoekings konsentreer nie, maar ook op die lewe wat God gee.

Hier is ’n kort beskrywing daarvan waarvan die eerste dissipline met die drie versoekings te make het, en die ander twee dissiplines met God en die lewe:

  1. Die Via Purgativa of Katarsis het te make met die dimensie van self-ondersoek in die lig van die evangelie, waardeur die krag van die boosheid wat in ons lê, en waardeur ons versoek word, ontbloot is, om deur die lig en krag van God gesuiwer en getransformeer teDit is waarmee ons die verleiding van easy money, easy sex, en easy power voor God bring en daarvan verlossing kry.
  2. Die Via Illuminativa of Fotosis het te make met die dimensie van verligting wat God bring deur die waarheid en liefde wat Hy in ons lewensDaardeur kom daar groeikrag om al hoe meer Christus-gesentreerd te lewe.  Dit is wanneer ons die Woord ontdek as God se lewende stem vir ons, en begin om in die lig daarvan te lewe. Dit is soos met die proses van fotosintese, wat die son op die blare van ’n plant val en die energie wat die plant indrink, dit laat groei en floreer.  Só raak die Woord vir ons, ’n lig vir ons pad, ’n lamp vir ons binnekant!
  3. Die Via Unitiva of Theosis het te make met die dimensie van verenigingvervulling met God, Sy wil en strewe, sonder dat dit beteken het dat die mens daarmee ophou bestaan het, of die self genegeer is, maar eerder geheilig is.  Dit is wanneer God se wil vir ons belangriker raak as ons eie wil, wanneer ons só passievol raak oor God se roeping dat Hy as’t ware deur ons begin skyn.

Jy sal seker wees van elke tree

Ek sluit af.

As jy nie vandag seker maak jy is op die regte pad nie, as jy nie seker maak jou weë is vas, jou koers is afgebaken nie, kan jy net moontlik uitkom waarheen jy op pad is.

  • Daar is miskien paaie wat jy vandag moet toemaak, afsluit, omdat hulle jou nêrens gaan lei nie.  Doen ’n bietjie selfondersoek vandag, en sluit sekere hoofstukke in jou lewe af.
  • En daar is miskien ’n pad wat jy moet oopmaak.  Verdiep jou in die Woord, dit is die beste plek waar jy die verligting gaan kry om God se pad te begin stap.  En laat Hy jou vervul met Sy drome vir hierdie wêreld.

Dit is só dat die mens wik, maar God beskik.  Maar as jou hart God s’n is, as jy soek na die wysheid en probeer om dit te onderskei, as jy jou koers af baken – sal jy seker wees van elke tree.  God sal daarvoor sorg! Dit is die belofte, die evangelie , in hierdie vers.

Natuurlik moet jy sorg dat jy nie links of reg afdraai nie, en daar is baie afdraaipaaie!  Maar, die belofte is, jy sal seker wees van elke tree, so lank jy loop op die afgebakende koers, wat jy van God ontvang het.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers

Slotsang

Liedboek 524 “God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk” – staan

Seën

Amen

Liedboek 524:3 (laaste 4 reëls) “Waar kan ‘n groter vreugde wees, o Vader, Seun en Gees?” – staan


[1] Jy sal goed doen om Richard Foster se boek Money, Sex and Power (Hodder Christian Books: 1999) hieroor te lees óf die boek van Brian McLaren Finding our Way Again: The Return of the Ancient Practices (Thomas Nelson: 2008) wat van die “threefold way” praat.