Skip to main content

Psalm 8 – ‘n Lied vir uitkoms uit ellende – 30 Oktober 2011

 

Verwelkoming

  • Lentefees terugvoer
  • Die NG Gemeente Paterson hou Saterdag, 5 November 2011 hul jaarlikse offerfees en nooi alle gemeentelede uit om die dag saam te kom geniet en te ondersteun. Die formaat is ’n tradisionele basaar met pannekoeke, koektafels, plaasprodukte, heerlike etes en  nog baie ander goed. Dit kan die begin wees van groter samewerking in die toekoms.
  • Hervormingsondag 30 Oktober 2011 – ons dink aan Maarten Luther en sy standpunt inname vir die 5 solas wat ons verstaan van die evangelie ingrypend beïnvloed het.  Iets wat julle weer vandag in die blaadjie in die belydenis van die Algemene Sinode sal terugvind.  Net die Bybel. Alleen deur genade. Slegs deur geloof . Uitsluitlik Christus. Aan God die eer. 

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Die Rabbi en sy seun

Die wonderlike storie word vertel van die kind van ’n Joodse rabbi wat die gebruik gehad het om in die woud te gaan rondloop. In die begin het die rabbi dit toegelaat, maar na ’n tyd was hy besorg daaroor, want die woud was regtig gevaarlik en hy het nie geweet wat daar vir sy kind lê en loer nie.

Hy het besluit om die saak met sy kind te bespreek en een dag het hy hom een kant toe geneem en gesê: “Jy weet, ek sien dat jy elke dag in die woud inloop. Waarom gaan jy daarheen?”

Die seun het aan sy pa gesê: “Ek gaan daarheen om God te vind.”

“Dis ’n baie goeie ding om te doen,” het die rabbi saggies geantwoord. “Ek is bly jy soek na God. Maar, my kind, weet jy nie dat God orals dieselfde is nie?”

“Ja” het die seun geantwoord, “maar ek is nie.”

Miskien is die kerk só ‘n plek vir jou …

Toetrede

Vonkk 85 (Ps 8) gemeente keervers; sanggroep vers 1-4 – sit

Votum en Seëngroet

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.

Lof

Psalm 8 – (Lina Spies) gemeente vers 1,3,5,6; sanggroep vers 2,4 – staan

Vonkk 92 – gemeente keervers en vers 3,4; sanggroep  vers 1,2 – sit

Kindertyd

Psalm 8 sê vir ons – 2Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! 3Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.

  • Weet julle, op ‘n plek in die Bybel staan daar dat God alles wat Hy gemaak het, met sy hand kan meet!

Ek wil vir julle ‘n paar prentjies van die Heelal wys dat julle kan sien hoe groot God is. (Inligting en skyfies uit die Indescribable Tour van Louie Giglio)

Aarde – hoe lyk dit vir julle? (mpg)

  • Aarde is groot nê?

Son – hoe lyk dit vir julle?

  • Lig neem 8 min om op aarde te kom, 149 miljoen km ver.
  • Lig trek teen 300 000 km/u – elke sekonde kan lig 7 keer om die aarde trek!

Son – hoe groot dink julle is die son?

  • Son en aarde relatief – 100 x groter

Kom ons kyk weer na die aarde.  Mooi nê?

Maar kyk hoe lyk die aarde dan nou hier!

  • Kan julle die aarde sien?

En op hierdie foto?

  • Kom ek sit vir julle ‘n pyl by!

Kan julle die aarde nou sien?

  • Aarde van die ruimtetuig Voyager in 1990 (1977 gelanseer) geneem, vasgevang in ‘n sonstraal wat van Voyager af weerkaats.  Van 5.92 biljoen km (reis teen 64 000 km/u) geneem.

Kom ons gaan nog ‘n bietjie verder uit

  • Melkweg – 100 000 ligjare breed
  • Aarde in Melkweg – soos ‘n vyfrandstuk op die vasteland Afrika.

Wat sê dit van God?

  • Baie mooi, baie groot, baie slim.  Want Hy het dit alles gemaak!

En wat sê dit van ons?

  • Ons is maar baie klein, nê!
  • Maar weet julle, dié God is lief vir ons!
  • Hy het Jesus aarde toe gestuur om vir ons lief te wees.
  • En Jesus het dit vir ons moontlik gemaak om vir God lief te wees!
  • Ons nooi Hom in ons hart in en dan kom bly God in ons hart!

So wat sê dit vir ons?

  • Ons kan sê: ongelooflik, “awesome”, “wow” – dít is wat God gemaak het.  Hy is ongelooflik!
  • En ons kan sê: Hy is ons God!

Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

Die Psalmboek moedig ons aan om persoonlike (Psalm 1) en publieke (Psalm 2) betekenis in ons  lewe saam met God te soek.  Dit is wanneer jy jou op Hom verlaat, dat jy ook Hom kan vertrou in die konflik met vyande, selfs al is dit so aan jou as jou eie familie (Psalm 3,5,7), die dilemma van droogte (Psalm 4) en die uitdaging van siekte (Psalm 6).

Die grootste motivering om aan God vas te hou, lê egter in Psalm 8 se boodskap.  Die Psalm sê kort en kragtig dat ons wel nietig is, maar in God se oë waardig:

Psalm 8

  • God se Teenwoordigheid (Naam) is wonderbaar oor die hele aarde (vers 2a).
  1. Eenvoudige kinders bevestig God se werk tot verstomming van arrogante teëstanders (vers 2b-3).
  2. In die lig van God se grootheid in die skepping besef mense hul nietigheid (vers 4-5).
  3. God bevestig egter mense se waardigheid as die kroon van Sy skepping (vers 6-7).
  4. Die mens se invloed sluit alles – diere, voëls en visse – in (vers 8-9).
  • God se Teenwoordigheid (Naam) is wonderbaar oor die hele aarde (vers 10).

Woordverkondiging

Nietig maar waardig

Die Fliek Contact handel oor die debat tussen geloof en wetenskap – is God betrokke of het alles toevallig ontstaan?  En dit gee eintlik ’n baie interessante perspektief daarop.

Ellie Arroway (die navorser) vra op ‘n punt: “So, wat is meer waarskynlik: dat ’n almagtige, misterieuse God die heelal geskep en toe besluit het om geen bewyse van sy bestaan te los vir ons nie, of dat Hy eenvoudig nie bestaan nie en dat ons Hom eintlik geskep het sodat ons nie so klein en alleen sal voel nie?”

Palmer Joss (die predikant): “Ek weet nie.  Ek kan my eintlik nie indink in ’n wêreld waar God nie bestaan nie.  Ek sal nie in só ’n wêreld wou woon nie.”

Ellie :”Hoe weet jy dat jy nie jouself mislei nie?” En verklaar sy, “Ek soek bewyse.”

Palmer stop só ’n oomblik en antwoord dan, “Bewyse. Het jy jou pa lief gehad?”

Verras met die persoonlike vraag, sê Ellie, “Wat?”

Palmer herhaal, “Jou pa, het jy hom lief gehad?”

Ellie antwoord dan, “Ja, baie.”

Palmer kyk dan diep in haar oë en sê, “Bewys dit.”

Waarop sy nie ’n antwoord gehad het nie.

Sy raak dan betrokke by ’n ruimtereis waar sy wonderlike ervaringe het, selfs haar pa raakloop, maar toe sy terug is op aarde, niemand kon oortuig dat dit regtig gebeur het nie.

Teen die einde van die fliek, nadat Ellie voor die Amerikaanse Kongres getuig het oor haar ruimtereis en wat sy ervaar het, sê Ellie vir Palmer:

“Ek het ’n ervaring gehad wat ek nie kan bewys nie.  Ek kan dit nie eers verduidelik nie.  Maar alles wat ek weet as ’n mens, sê vir my dat dit werklik was.  Ek was deel van iets wonderliks, iets wat my vir altyd verander het, ’n visie op die heelal wat vir my gesê het: ‘how tiny and insignificant, and how rare and precious we all are.’ (hoe klein en onbelangrik, en hoe spesiaal en kosbaar ons almal is). ’n Visie wat my vertel dat ons aan iets behoort wat groter is as onsself.  Dat niemand van ons alleen is nie.  Ek wens ek kon dit deel met almal.  Ek wens dat almal, selfs net vir ’n oomblik, daardie gevoel van ontsag, en nederigheid, en hoop kon ervaar.”

Nietig, maar waardig – spesiaal!

Dit is die gevoel wat Psalm 8 in ons wakker maak.

NIETIG

Aan die een kant is ons nietig – want God is groter as ons.  Net vir ’n oomblik terug in die heelal:

  • Son se oppervlak is baie warm –  5500 ° C – dit is 55 keer warmer as kookwater!
  • En daar is biljoene sulke sterre.  Om die waarheid te sê, elke sekonde word ‘n nuwe ster gebore.
  • Die deeltjie van die heelal waar ons woon, die Melkweg is opgebou uit biljoene sterre.  Dit neem lig om van die een kant tot die ander kant te trek teen 300 000 km/u ’n hele 100 000 ligjare!
  • En dan is daar biljoene sulke sterrestelsels …

Dit is ontsaglik groot.  En … God is groter as dit, want Hy het dit gemaak.

Het julle al ooit gedink waarom so ’n groot heelal gemaak is, terwyl ons nie weet of daar op enige ander plek in die heelal nog mense lewe nie?  Dit klink net te groot vir een aarde wat bewoon word.  En niemand weet hoe groot die heelal is nie.  Elke keer wat ons ’n groter teleskoop kry, dan sien ons verder.  Maar ons het nog nie tot die einde kon sien nie.  Ons het nie ’n groot genoeg teleskoop nie!

Hoekom is dit so groot?  Want dit wil vir ons sê hoe groot God is.  Dit wil ons oortuig van die wonder en die grootheid van God wat dit alles gemaak het.

Dink dan net hoe klein is ons!

  • Aarde in Melkweg – soos ‘n vyfrandstuk op die vasteland Afrika.
  • En elkeen van ons is een van 7 biljoen mense op hierdie aarde.

Klein, onbenullig, nietig.

SPESIAAL

Maar – die Psalm sê, ja, ons is nietig, klein, maar tog baie werd. Ons is spesiaal.

Vers 6 is eintlik ‘n ongelooflike vers in die oorspronklike.  Daar staan nie dat God van die mens net minder as ‘n “goddelike wese” gemaak het nie, maar dat God van die mens net minder as “God” gemaak het.  Die woord Elohîm word gebruik (NIV gee die betekenis in ’n voetnoot weer)!  Die Griekse vertaling van die OT (LXX) het hierdie woord vertaal met “engele”, waarskynlik omdat God vir hulle te verhewe was (die teks wat die skrywer van Hebr 2:7 waarskynlik gebruik het). Maar dit is duidelik dat “God” bedoel word in die Hebreeuse oorspronklike.

Dit wil sê dat, hoewel ons klein is, en hoewel ons nietig is, dink God die wêreld van ons.

Daar is ’n storie wat dit baie mooi verduidelik – ons nietigheid, en ons waarde, dat ons spesiaal is:

STRYD TUSSEN DIE DIERE

Lank, lank gelede toe al die diere, rotse, wind, waters, bome, voëls, visse en al die wesens van die aarde nog kon praat en mekaar kon verstaan, breek daar op ’n dag ’n hewige argument tussen hulle uit.

“Hoe is God?” wou hulle weet. 

’n Ligte briesie fluister toe saggies: “God is soos ’n wind wat nooit gaan lê nie.”

“Nee,” antwoord die klip. “Hy is soos ’n groot, onbeweeglike rots!”

Die berg tree tussenbeide en sê: “God is ’n sneeupiek hoog bo die aarde.”

Skielik roep die vis in die see uit: “God is so onmeetlik soos die see!”

“Julle almal is verkeerd,” sê die ster. “God is soos ’n lig wat nooit ophou skyn nie.”

Mier gaan aan die lag en maak die ster stil. “God is ’n harde werker soos ’n mier. Hy is nooit van diens af nie.”

“God is vir seker soos ’n groot boom,” gee die eikeboom sy opinie. “Hy is altyd daar vir almal wat skuiling soek.”

“God is sterk!” brul die leeu, en al die ander koes weg.

“Nee, God is sagmoedig,” fluit ’n dapper voëltjie.

“God is almagtig!” trompetter die olifant so hard dat almal se ore tuit.

Die argumente raak al heftiger, totdat ’n stem skielik vanuit die eikeboom met hulle praat. Dit is ou Uil. Almal kyk hom verbaas aan, want ou Uil praat selde ’n woord met hulle. Toe Uil begin praat, bly hulle almal tjoepstil. “God is inderdaad so onmeetbaar soos die see,” sê Uil vir Vis. “En al die ander dinge wat julle van God gesê het, is waar. God is eintlik onbeskryflik … God is.” Almal kyk Uil verwonderd aan en wag dat hy verder moet praat.

“Daar sal binnekort ’n nuwe familie wesens hier op aarde verskyn – hulle sal vreemd maar wonderlik wees. Hulle sal ons herinner aan alles wat God is. Hulle sal in baie vorme en kleure kom, maar elkeen sal, soos God, uniek wees. Hulle sal kom om oor ons te heers en ons op te pas. Ja, hulle sal God se boodskap aan die aarde wees en ’n gebed van die aarde tot God.”

Op ’n dag verskyn dié nuwe wesens toe ook op die aarde. Almal noem hulle “mense”. Maar die mense vergeet gou dat hulle ’n boodskap van liefde aan die aarde en ’n gebed van die aarde tot God moet wees. Hulle begin stry … oor wie God is en hoe Hy nie is nie … oor waar God is en waar Hy nie is nie … of Hy bestaan of nie…

Al die ander wesens op aarde kyk die mense hartseer aan en treur, tot die dag toe daar weer ’n stem kom wat sê: “Hou op, asseblief!” Hy was anders; dit was asof Hy God self was … en Sy liefde het almal geraak. Maar die mense het nie lank verwonderd gebly nie, toe begin hulle hierdie Man haat. En op ’n dag maak hulle ’n kruis en spyker Hom daaraan vas.

Hulle het Sy lewelose liggaam in ’n klip graf gesit en ’n swaar klip voor die ingang gerol sodat niemand meer by Hom kon gaan huil nie. Maar ná ’n lang en eensame tyd het Hy skielik vanuit die klip graf verskyn …

En die wesens en die mense van die aarde het besef: God is soos ’n wind wat nooit gaan lê nie … Hy is soos ’n onbeweeglike rots … Hy is daar vir ander om by te skuil … Hy is almagtig, maar ook sagmoedig … Ja, God is!

Die mense kon weer vir God hoor, hulle kon Hom sien en beleef in ander mense en in die skoonheid van die aarde. Hulle het weer ’n boodskap van God se liefde en ’n gebed van die aarde tot God geword … Ou Uil het geglimlag. En God ook…

Wat sê dit vir ons?

Dat ons moet leef uit ons nietigheid en ons waardigheid.

  • As ons spoggerig raak oor alles wat ons kan doen, moet ons dink aan ons nietigheid, dat ons baie kleiner is as God.
  • As ons alleen voel en dink ons is nie die moeite werd nie, moet ons dink aan ons waardigheid, dat ons in God se oë baie spesiaal is, net minder as God, is ons gemaak.

Dit is so mooi wat die Uil sê: ons is ’n boodskap aan die aarde – soos die sterre vir ons iets van God sê, dat Hy groot is, dat Hy geprys moet word – maar ons is ook ’n gebed van die aarde tot God – ons moet die belange van die aarde, en almal daarin, op die hart dra.

Die Psalm sê God het die mens ook konings gemaak, soos blyk uit die koningsterminologie wat gebruik word – “heers”, “kroon”, “onderwerp”.  Alles wat God gemaak het, is onder die koninklike voete van die mens gestel (Loader).  ‘n Mens hoor hier dus onmiskenbaar die parallel met Genesis 1:26 – God het ons as Imago Dei, as Sy beeld gemaak, as Sy gelykenis.  Geen ander wese het daardie hoë status nie, nie die engele nie, nie die serafs nie, nie enige lewende wese nie.

Ons is dus ’n boodskap aan die aarde, en ons is ’n gebed van die aarde aan God.

Ek sluit af

  1. Ons is klein en min in vergelyking met God. Ons het nie rede om hoogmoedig te wees nie.
  2. 2. Ons is vir God kosbaar – ons is na sy beeld geskape en hy dink baie van ons! Ons is God se boodskap aan die aarde.
  3. God gebruik ons om sy goed op te pas. Ons is ’n gebed van die aarde aan God.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers

Ensemble lied 464

Slotlied

Liedboek 509: 1,2,3 – staan

Seën

Amen

Liedboek 312

Psalm 19 – ‘n Lied om God te belewe – 13 November 2011

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Môregesang – Cantatore

Votum en Seëngroet

Lofliedere

  • Lied 499 – Die Heer is God, en niemand meer; sy almag ken gee perke – staan
  • Vonkk 85 – Here, ons Here, hoe groot is U! – staan

Kindertyd

Lank gelede was die aarde woes en leeg.

God het by Homself gedink dat dit nie goed lyk nie.

En Hy besluit toe om iets daaraan te doen.

  • Hy het in 5 dae die aarde gemaak
  • die dag en die nag,
  • die son en die sterre,
  • die see en die kontinente,
  • die plante en die diere.
  • En dit was goed gewees.

Hy neem toe sy engele op ’n toer van die aarde.

  • Hy wys vir hulle die berge.  En hulle trek hulle asems in, so mooi en groot was dit,
  • selfs Tafelberg, een van die 7 wonders van die aarde.
  • En hulle sê, Hulle wys hoe groot is U!
  • Hy wys vir hulle die bome.
  • En hulle sê, dit is soos vingers wat na U toe wys.

Aan die einde van die toer, was die engele verstom.  Gabriël roep uit: “Here, dit is absoluut volmaak!” En almal bars los en sing en loof die Here.

Toe die laaste klanke so wegsterf, gaan die hand van so ’n klein engeltjie op – nie baie groter as julle nie.  En almal se oë draai na haar toe.

“Jammer, u Majesteit, ek dink iets skort met u aarde.”

’n Doodse en geskokte stilte daal op die engele neer, en Gabriël kom nader na die klein engeltjie en sê: “Sê onmiddellik jy is jammer!  Jy kan mos nie sê daar skort iets met die aarde nie!”

“Nee, Gabriël,” sê die Here, “laat die engeltjie praat.  Vertel vir ons wat skort.”

Stadig begin die bewende engeltjie praat: “Stemme … kort … hhier … wat nes ons … in die hemel … U kan loof.”

Sy het natuurlik van mense gepraat wat die Here kan loof.

God het alles gemaak en dit is wonderlik.  Ons kan hoor hoe Hy met ons praat deur alles wat so wonderlik is rondom ons.

Hy het ook vir ons die Bybel gegee, wat ongelooflik is vir ons.  Dit leer ons hoe regtig goed te lewe, dit help ons om dinge te verstaan, en help ons om te weet wat reg en verkeerd is.

Maar, God het ons gemaak om ook met Hom te praat.  Van al die diere op die aarde, is ons uitgekies om vir Hom te loof, deur te sing, en deur te bid.

Kom ons doen dit sommer nou – ons bid en praat met God.

Gebed

Heil’ge God – Cantatore

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

Ek gaan my eie vertaling van hierdie gedeelte vir u lees, omdat daar op een plek ’n hele frase uitgelaat is (vers 6) en op ander plekke die vertaling vir my gevoel te onpresies is, en my vertaling hopelik meer getrou aan die teks is.

Ek wil vooraf net een plek vir u verduidelik hoekom ek verskil van die NAV, want ek gaan dit in my prediking gebruik.

Dit is vers 14:

“Weerhou my van opsetlike sondes,

Laat hulle nie oor my heers nie.

Dan sal ek onberispelik wees

En vry van hierdie groot sonde.”

Ek vertaal eerder as volg:

“Weerhou my van arrogante mense,

laat hulle nie oor my heers nie.

Dan sal ek onberispelik wees

en vry van groot sonde.”

Die woord sondes kom nie in vers 14 voor nie, wel die woord opsetlik, uitdagend, of arrogant.  Ek neem dit, soos die Psalm kommentaar van Craigie dit doen, as ‘n beskrywing van mense, nie van sondes nie.  Dit gaan dus oor die versoeking waarvoor arrogante (opsetlike, uitdagende) mense ons as gelowiges stel, om onsself teenoor God op te stel, nie soseer deur ‘n sonde of sondes wat ons doen nie, maar deurdat ons Sy invloed in ons lewens minag of verontagsaam.

Groot sonde – pêshag –neem ek om dan te verwys na die sondeval van Genesis 3, dws die sonde om van God afvallig te word, om teen Hom in opstand te kom en Hom uit te daag, en arrogant jou eie kop te volg.  Dít is die enigste groot sonde, eintlik die enigste sonde.

Let op die beskrywing van die Skepping met die Son as die hoof akteur wat God se heerlikheid verkondig.  En daarna die beskrywing van die Stem van God in Sy Woorde wat ons lewens op 6 maniere begelei.

Lees Psalm 19

1 Vir die koorleier.

’n Psalm van Dawid.

2 Die hemel getuig van die heerlikheid van God,

die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.

3 Die een dag gee die berig deur aan die ander

en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.

4 Sonder spraak en sonder woorde,

onhoorbaar is hulle stem.

5 Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld

en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.

Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan.

6 As hy stralend begin om sy baan te volg,

is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom,

soos ‘n krygsman wat sy ere-rondte hardloop.

7 Aan die een kant van die hemel kom hy op

en aan die ander kant gaan hy onder,

en niks ontkom aan sy gloed nie.

8 Die woord van die Here is volmaak:

dit gee lewe.

Die onderwysing van die Here is betroubaar:

dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

9 Die bevele van die Here dui die regte koers aan:

dit maak die hart bly.

Die gebod van die Here is helder:

dit gee insig.

10 Die ontsag vir die Here is goed:

dit staan altyd vas.

Die bepalings van die Here is reg:

elkeen van hulle is regverdig.

11 Hulle is kosbaarder as goud, selfs as fyngoud,

soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.

12 U dienaar laat hom daardeur leer.

Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

13 Wie sien sy eie dwalinge raak?

Reinig my van dié wat ek onwetend gedoen het.

14 Weerhou my van arrogante mense,

laat hulle nie oor my heers nie.

Dan sal ek onberispelik wees en vry van groot sonde.

15 Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees,

Here, my Rots en my Verlosser.

Woordverkondiging

Twee fokuspunte

Die Psalm het twee fokuspunte:

  • Die heerlikheid van God in die skepping – met die son as simbool;
  • Die heerlikheid van God se stem aan ons – met die Woord as instrument.

Daarmee bring die Psalm twee aspekte van God onder ons aandag, twee aspekte van God waarvan dit ons wil oortuig:

  • GOD BESTAAN
  • GOD PRAAT
God bestaan

Om ons te oortuig dat God bestaan, roep Psalm 19 die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering – die skepping van hemel en aarde, die verdeling van dag en nag, die son as die lewegewende lig vir die aarde – God se verteenwoordiger in die Skepping – wat ons van Sy mag en heerlikheid wil oortuig.

Daarmee het die Psalmis gehoop dat dié heerlikheid van die skepping mense in vervoering sou laat oor God, sodat hulle later as hulle van die tempel af huis toe gaan, met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God sou lewe, sodat elke keer wat hulle weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, hulle van God bewus sou bly.

God bestaan. God is teenwoordig.  Jy ervaar dit in die ritme van die dag en nag.  Jy voel dit brand op jou vel in die dag.  Daarsonder sou geen lewe moontlik wees nie.

God praat

Om ons te oortuig dat God praat, beweeg die Psalm van ‘n loflied oor die skepping na ‘n loflied oor die Woord van God, wat vir die mens doen wat die son doen vir die skepping.  Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God selfs tot in die dieptes van die menslike hart (NT Wright).  Die Woord gee lewe, is betroubaar, gee wysheid, dui die regte koers aan, bring blydskap, gee insig, staan altyd vas.

En die Psalmis het gehoop dat dié skets van die Woord, soos die ontvangs van ‘n geskenk van kosbare goud, of soos die proe aan druppels heuning uit ‘n heuningkoek, hulle sou inspireer, sou laat begeer om in die Woord te lewe, dit hulle huis te maak, sodat God nie net ‘n veraf en van-bo-af God sou bly nie, maar die persoonlike God, dié een wat in die lewe deur sy Woord betrokke is, en hulle Hom sou ontmoet in die Woord en met sy Woord aan hulle sy en in hulle hart met Hom ‘n pad sou stap.

God praat. Jy kan dit ervaar in die effek wat die Woord op jou kan hê.  Dit is soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek.  Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God selfs tot in die dieptes van jou hart. Daarsonder sou ’n mens nie met God in verhouding kon tree nie.

Ons reaksie

Dit is waarom Dawid in vers 13-15 bid dat God hom van binne-af af sal verander, hom sal bewaar van arrogante mense wat hom sou kon verlei om in opstand te kom teen God, en ‘n vastigheid sal gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan, sodat wat hy sê en dink aanneemlik vir die Here sal wees.

Want die feit dat God bestaan en dat Hy praat, roep by ons ‘n reaksie op, om met God in gemeenskap te lewe, om met Hom te praat.

Om te glo dat God bestaan

Nou, dit is nie vir u nuus nie, die ontdekking van die geheime van die heelal – die grootse skepping waarvan ons deel is, die onmeetlike en skrikwekkende ruimtes, die onbegryplike tydloosheid, die ontsaglike leegheid daarvan – is ontsagwekkend en vir baie mense dikwels angswekkend.  Soos ‘n sterrekundige gesê het: “Ons staan op ’n mikroskopiese splintertjie van ’n sandkorreltjie. Ons heelal is skrikwekkend. Sy onbegryplike en ontsaglike vergesigte van ewigheid laat die menslike geskiedenis tot ’n oogknip verdwerg. Dit is verskriklik, want ons tuiste in die heelal is volslae verlate en ons materiële bestaan is volkome nietig”.

Dit verlei sommige mense om aan die bestaan van die Skeppergod te twyfel. Dit behoort natuurlik eintlik presies die teendeel te doen, maar helaas vir baie mense laat die heelal twyfel. Willie Jonker skryf hieroor: “God is nie êrens op ’n bepaalde plek binne die Skepping nie, want die Skepping is veel eerder in Hom en word deur sy ewige krag gedra.”

En dan maak hy die punt: “Waar ’n mens se rede deur ongeloof verduister word, is die Skepping vir jou ’n magtige sisteem vol raaisels en sinloosheid. Maar waar geloof aanwesig is, word ’n mens se hart met verwondering vervul oor die grootsheid van God waarvan die Skepping getuig. Dan dien ook die prestasies van die wetenskap om die besef van die heerlikheid van God te versterk en ’n mens aan te spoor om in verwondering uit te roep: ‘Hoe groot is God!’”

Dit is dus waarom Dawid bid, dat hy nie die arrogante weg van ongeloof en gevolglik onbegrip sal volg nie, maar die geloof sal behou om die wonder van God in die Skepping te bly raaksien.

Om in verhouding met God te lewe

Maar, die Skepping kan ons ook net sover neem.  Ons ken God eintlik duideliker en meer volkome uit sy Woord. Die prediking van die skepping kan nie aan ons gee wat God se Woord kan doen nie. Daarom, naas die lofsang van die natuur op die werke van God, beklemtoon Dawid God se Woord as die duideliker en mees volkome manier om God te leer ken en met Hom in gemeenskap te lewe, soos ons ook in ons belydenisskrifte hoor (Lees weer ’n slag die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 2 tot 7 – op Internet beskikbaar).

Dit is waarom dit so belangrik is om God se Woord ernstig te neem.  Elke keer dat ons erns maak met die Bybel hoor ons iets – altans gelowiges behoort iets te hoor – iets waarvoor ander mense doof is: die stem van God.

  • As jy voel dat jy in ’n doodloopstraat is met iets, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor en Hy vir jou die lewe gee.  Dit is die belofte van Psalm 19.
  • As jy voel dat jy nie kan kies uit al die raad wat mense vir jou gee nie, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor, want Sy stem is betroubaar.  Dit is die getuienis van Psalm 19.
  • As jy uit jou diepte voel omdat jy iets moet doen waarin jy onervare is, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor, want Hy gee wysheid vir dié wat nog onervare is.  Dit is die belofte van Psalm 19.
  • As jy voel dat jy nie weet watter kant toe met een of ander ontwikkeling of onderneming nie, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor en Hy vir jou die regte koers aandui. Dit is die belofte van Psalm 19.  Dit bring blydskap.
  • As jou gedagtes maal en maal en jy jou net verder en verder vasdink rondom iets, luister dan na die God van die Bybel, totdat jy sy stem hoor, en Hy sal vir jou insig gee.  Dit is die belofte van Psalm 19.

En so kan ek aangaan.  Daar is nie iets wat jy kan ervaar in hierdie lewe waarvoor God nie opgewasse is nie.  Maar, jy gaan dit nie hoor by jou vriende, of by jou terapeut, of by jou baas nie.  Jy gaan dit hoor by die God van die Bybel, die een wat nie net vir ons ’n 66 boeke nagelaat het as ’n bron van goud, wat soeter as heuning is nie, maar wat dinamies deur Sy Gees hierdie Woord in ons lewe gebruik, sodat ons daardeur die lewe kan ervaar.

En as ons dit reg gekry het dat ons ore ingestel is op God, dan volg dit amper outomaties dat ons die regte goed doen.  Dat waar word wat Dawid hier bid, dat wat ons sê en dink vir God aanneemlik is.

Dit is die mees ongelooflike reis, die reis saam met die God van die Bybel.

Appèl

Ek sluit af met twee dinge wat ek jou toewens.

Ek hoop, soos Dawid, dat jy vandag van die kerk af sal weggaan en ‘n slag weer sal toelaat dat die heerlikheid van die skepping jou in vervoering sak laat oor God, sodat jy met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God kan lewe, en elke keer wat jy weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, jy van God bewus sou bly.  Dit is waarvoor die skepping daar is!  Dit is wat die geloofsoog raaksien.

En ek hoop, soos Dawid, dat dié Woord vir jou soos ‘n geskenk van kosbare goud sal wees, of soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek.  Ek hoop dat die Woord jou sal inspireer, jou sal laat begeer om die Woord jou eie te maak, ‘n kosbare geskenk om te waardeer, ‘n heuningkoek om te geniet, sodat God vir jou nie net ‘n veraf en van-bo-af God sal bly nie, maar die persoonlike God, dié een wat in jou lewe deur sy Woord betrokke is.  O, ek hoop dat jy Hom sal ontmoet in die Woord en met sy Woord aan jou sy en in jou hart die pad met Hom sal stap.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers

Heilige Nacht – Cantatore

Wiegelied vir die Jesuskind – Kerslied uit Rusland – Cantatore

Slotlied

Lied 464 – O Heer my God, as ek in eerbied wonder – en al u werke elke dag aanskou – staan

Seën

Amen

Lied 312 – Amen

 

Psalm 37 – ‘n Lied om tot rus te kom – 27 Nov 2011

Hier volg die hele Erediens

 

Verwelkoming

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

  • Koor: “By God is ek tevrede, by Hom is daar rus” (VONKK 127)

Votum en Seëngroet

Lof

  • Ps 37  (Mel. Ps 134)   v1, 2, 3 en 13 – (vers 2) Doen dit wat goed is soos dit hoort, en woon en werk net rustig voort (staan)
  • Lied 334 – “God is liefde!” juig ons harte      (sit)
  • Lied 329 – Want so lief het God die wêreld gehad s(sit)

Kindertyd

Aansteek van eerste Adventskers

Verduidelik aan kinders: Advent is die tyd in die jaar waarin ons ons gereed maak om weer te dink aan Jesus wat aarde toe gekom het. Hy is ons Koning en het beloof hy gaan eendag weer kom. Vandag is die eerste Sondag van Advent en ons dink daaraan dat God elke Sondag sy beloftes vervul wanneer ons in die erediens is. Jesus is deur die Gees hier teenwoordig en beloof God sal weer in heerlikheid te kom.

Daarom het ons hierdie vier weke ʼn krans in die kerk.

Daar is vier kerse op die krans wat vir ons sê dat Jesus die lig vir die wêreld is en dat ons gereed moet wees vir sy koms – hoop, vrede, vreugde en liefde. Vandag steek ons die eerste kers aan om die koms van God se lig, Jesus Christus, na die wêreld te verkondig.  Met sy koms bring Hy vir ons hoop.  Ons weet dat die lig wat Jesus bring alle donker en slegte dinge sal oorwin.

’n Kind steek die eerste kers in die krans aan.

Moedig gesinne aan om hulle eie Adventskrans by die huis te maak.

Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

Hierdie Psalm is ’n akrostiese Psalm.  Dit beteken dat elke opeenvolgende vers met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin.

Twee maniere van leef word in hierdie wysheidsPsalm met mekaar gekontrasteer, dié van die goddelose wat hom of haar nie aan God steur nie en dié van die gelowige wat dit wel doen – soos ons reeds in Psalm 1 gesien het.  Wysheid lê in ’n God-gesentreerde lewe.  Dwaasheid is om Hom te probeer vermy en ignoreer, en God-loos te probeer lewe.

  • Lees Psalm 37

Woordverkondiging

Die bedreiging van die goddelose

Dit bly ironies dat baie mense vandag nie meer glo nie, maar tog nie geloof en gelowiges kan uitlos nie.  Baie moeite word gedoen om geloof aan te vat – die geloof wat sulke mense sê hulle nie het nie – en as oudmodies, onwetenskaplik, gevaarlik en uitgedien uit te wys.

Dit is die bedreiging van die goddelose.  Nie net dat hulle vir hulle self ’n wet raak, waarin eie belang sonder gewete nagestreef word nie, maar dat hulle God-loos probeer lewe …  En wil hê dat almal so sal leef, sonder God.

Soos in die tyd van Dawid, so is dit ook vandag.  “Die goddelose soek die ondergang van die regverdige en bedreig sy lewe.” (vers 12)  En ons moet nie die vers net verstaan as ’n fisiese bedreiging nie – Dawid skryf natuurlik veral daaroor – maar ook insien dat dit ’n bedreiging vir die gelowige se lewe saam met God is, ’n bedreiging vir die volharding in die geloof in God.

God-loses se doel is die uitwissing van geloof, in die lewe van gelowiges, op watter manier dit ook al kan gebeur.

En die ironie is groot – in hulle poging  om van God en geloof ontslae te raak, is hulle altyd maar weer besig daarmee, in opstand teen iets wat hulle sê dat hulle nie in glo nie.

Maar, die feit dat ek dit as ironies uitwys, voorkom nie dat ons geloof regtig bedreig word daardeur nie.  Dit is een van die groot versoekings vir gelowiges – veral wanneer ’n mens onder druk verkeer, en ons bv agterkom dat dit lyk asof dit goed gaan met hierdie goddeloses – om self God-loos te begin lewe, nie soseer te verval in allerlei goddelose bose dinge nie, maar om net nie meer rekening te hou met God en die lewe in geloof saam met die geloofsgemeenskap nie.

Dit is in dié situasie – die geweldige uitdaging waarvoor die goddeloses gelowiges stel –  wat die Psalm die wyse weg aandui.

Die volharding van die gelowige

En daar is vier hoofsake wat hy uitlig.

1.  Die eerste boodskap is: VOLHARD – Getrouheid kos altyd baie … maar goddeloosheid kos volgens die Psalm uiteindelik meer – “Hy sien hulle dag kom (vers 13)!  Volhard dus om die Here te dien en moenie van Sy pad afdwaal nie.

2.  Die tweede boodskap is: VERTROU – Die wyse weg is om jou werk rustig te doen – jou werk met integriteit te doen – en die Here te vertrou (vers 3-4) wat belowe dat Hy jou die begeertes van jou hart sal gee (vers 5).  Só ’n lewe sluit in om die kwaad te vermy (die weg van die goddeloses) en die goeie te doen (vers 27 en verder).

Eksterne faktore moet nie lei tot ’n versaking van die pad van die Here nie.  Eerder ’n meer nougesette fokus op die handhawing, nie net van die innerlike verbintenis aan die Here nie, maar ook van die lewenstyl wat Hy van ons vra.

Die Psalms spoor my dus aan om met integriteit en vertroue te leef – om nougeset te let op hoe ek met God in verhouding leef, en Hom te vertrou, veral waar ek swaarkry of moedeloos is.  Selfs wanneer daar twyfel is, en die donker dele van die lewe in die oë gestaar moet word, leer die Psalms my dat sin gevind word in die nabye teenwoordigheid van God.

3.  Die derde boodskap is: KOM TOT RUS – Bring jou hart tot rus voor die Here.  Die groot gevaar volgens die Psalm is die emosies wat in jou opgewek word as jy jou lewe vergelyk met dié van die goddeloses.  Daarom dat “in stilte” die Here vertrou moet word (vers7), nie kwaad en ontsteld geraak moet word nie (vers 7-8), omdat dit uiteindelik net ellende bring.

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend, en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:6-7).

4.  Die vierde boodskap is: GOD IS BESIG MET JOU – Die belydenis van die Psalmis is dat die Here die koers bepaal van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en dat Hy sulke mense ondersteun (vers 23).  Dit is die Psalmis, Dawid, se persoonlike ervaring en ook sy waarneming van die ervaring van ander gelowiges.

God is besig deur Sy Woord

’n Hoogtepunt vir my in die Psalm is een van die redes wat Dawid uitspel, waarom die Here dit kan regkry om die regverdiges se pad te bepaal.  En dit is dat die openbaring van sy God in sy hart is – dit is waarom sy koers nie onseker is nie (vers 31).  Die Hebreeus lui eintlik dat die “wet van sy God in sy hart is”, dws dat dit die geskrewe Woord van God is wat ’n woonplek in sy hart gekry het, sodat dit uiteindelik sy hele lewe bepaal.  Ons kan nie genoeg beklemtoon die sentrale rol wat die Woord speel in die geestelike weerbaarheid en koersvastheid van gelowiges nie.  Die rol van die Bybel kan nie oorskat word nie!

Dit is dwaas om sonder God te probeer lewe.  Soos Elwell dit stel, dit gaan goed met iemand wat “the corrosive influence of the cynical” vermy, “taking pleasure instead in every revelation of the mind and will of God, feeding his mental life on the divine Word”.

Daarom, sê Dawid, kan God vertrou word, selfs al is daar teëstand van die goddeloses (vers 34).  Hy gee eerbares – mense wat God vertrou en volhard daarin – ’n toekoms (vers 37).

Advent – die begin van die kerkjaar

Vandag is die eerste dag van die Christelike kerkjaar.  Dit is ’n gulde geleentheid om jou geloof in God weer te bevestig.

  • Om ’n adventskrans te maak wat jou elke dag kan herinner aan die wonder van wat met Kersfees herdenk gaan word.
  • En om elke keer dat jy ’n kers aansteek saam met jou mense te gesels oor die betekenis daarvan.
  • Om die Kersverhaal weer te lees en die betekenis daarvan saam te deurdink.
  • Om kersliedere te sing en daarmee geloof nie net te bevestig nie, maar ook saam met ander daarvan te getuig.
  • Om nie die vakansietyd net te gebruik om af te skakel van jou normale verpligtinge nie, of van jou normale patroon van kerkbywoning nie, maar jou juis te verdiep in die grondslae van jou geloof, en dit saam met ons almal te doen.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers

Koor: “Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê” (Johannes 13)

Slotlied

Lied  286 – Here, God  van liefde, waar ons ook mag gaan, wil ons in u skadu by U staan (staan)

Seën

Amen

Liedboek 312

Psalm 89 – God se trou en versorging dra ons deur die lewe – 18 Des 2011

Dink vandag ook besonderlik aan die Taljaards en familie wat ma Elize aan die dood afgestaan het Vrydag, kort na julle ook van julle pa afskeid moes neem.  Bid regtig dat julle God se trou en versorging in dié tyd sal ervaar.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Aansteek van die vierde Adventskers

Kersfees is nou baie naby. Ons is vandag by die laaste kers in die Adventskrans.

Ons steek die kers aan om die koms van die lig van God na die wêreld te verkondig. Toe Jesus as mens gebore is, het Hy God se liefde aan ons bewys. Hierdie groot liefde help ons om God lief te hê en ook ons naaste soos ons self.

Vra ’n kind om die laaste kers aan te steek.

  • Lied 334 God is liefde juig ons harte – sit

Votum

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Johannes 3:16 OAV)

Seëngroet

Aan almal in Somerstrand vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Romeine 1:7)

  • Lied 332 God se liefde, so oneindig – staan
  • Lied 329 Want so lief het God die wêreld gehad – sit

God praat met ons en ons luister

Doop

Gustav van Mariette en Etienne Erlank.

Laas was dit Oupa Willem se 60ste verjaarsdag toe julle eersteling gedoop is.  Vandag is dit Ouma Linda en Oupa Hentie se 40ste huweliksherdenking asook Aleatia se verjaarsdag!

Lied 289: 1,2

Familie-tyd

Die verhaal van A Christmas Carol van Charles Dickens is ’n heerlike stukkie vermaak en dra die boodskap van Kersfees op innemende wyse oor – en werk nogal met perspektiewe wat verband hou met die Psalm se hantering van tyd: verlede, hede en toekoms.  Kyk gerus die video in hierdie Kerstyd.

Die verhaal begin op Oukersaand in die 1840’s, presies 7 jaar na die dood van Ebenezer Scrooge se vennoot, Jacob Marley.  Scrooge is ‘n gulsige, vrekkige besigheidsman.  Van vriendelikheid, omgee, simpatie en barmhartigheid wil hy niks weet nie.  Op die spesifieke Oukersaand waarsku Marley se spook vir Scrooge dat hy sy lewe moet verander.

Deur die loop van die nag word Scrooge deur drie verskillende spoke besoek.

  • Die eerste, die Spook van Kersfees in die Verlede, vat Scrooge terug na sy kinderjare.  Dit herinner die ou man aan ‘n tyd toe hy nog onskuldig was, en laat in sy gees ‘n sagter kant groei.
  • Die tweede spook, Die Spook van Kersfees in die Teenswoordige Tyd, vat Scrooge na ‘n klomp verskillende plekke:  ‘n plesierige mark waar mense kos koop vir hul kers-etes, ‘n familiefees van Scrooge se armoedige sekretaris, ens.  In die proses groei daar by Scrooge ‘n sin van verantwoordelikheid vir ander mense.
  • Die laaste spook, die Spook van Kersfees in die Toekoms, wys vir Scrooge watter aaklige toekoms op hom wag as hy nié reageer op wat hy gesien het nie.

Wanneer Scrooge op Kersoggend wakker word, is sy hart vol vreugde en liefde.  Hy stuur heerlike kos vir mense wat dit nodig het en spandeer die dag saam met familie.  Scrooge het verander.  Hy hanteer nou sy medemens met liefde, vriendelikheid, deernis en vrygewigheid.

Skriflesing

Psalm 89 is die laaste Psalm in die derde Psalmboek (Psalms 73-89) wat afgesluit word met 89:53 – “Aan die Here kom die lof toe vir altyd. Amen, ja, amen.”

Dit veronderstel meesal die ballingskap en val van Jerusalem – 6de eeu vC – met die vrae en dreigende wanhoop wat dit in die lewe van die volk opgeroep het.  Dit is diep en donker wroeginge oor die toekoms, waarin die voorspoed van die onregverdiges en goddeloses tot baie vrae en worstelinge aanleiding gee.  Ons vind hier dus meesal Klaagpsalms met Psalm 73 die inleiding wat die tema van twyfel eerlik op die tafel sit, weliswaar met die uiteindelike boodskap dat twyfel wel in die nabye teenwoordigheid van God tot rus kom.

Psalm 89

53 verse – ek weet dit is lank, maar die betekenis van die Psalm gaan so maklik verlore as ’n mens net ’n stukkie lees.  Ek gaan dit dus met kommentaar lees, en so ’n tydjie tussen-in gee dat jy oor die betekenis daarvan kan nadink.  Veral die selas – ruspouses in die teks – sal ons daarmee help.

’n Gedig van Etan die Esragiet

(’n Leviet uit die Merarigroep, ’n seun van Kusaja, tydgenoot van Dawid en Salomo, asook die ander Psalmdigter Asaf, bekend as ’n wyse man, sanger en koper simbaalspeler – 1 Kron 15:17).

2Ek sal altyd sing

van die Here se liefdesdade,

sy trou verkondig

aan komende geslagte.

3Ek sê: “U liefde en u trou

wankel nooit,

dit hou vir altyd stand

in hemel en op aarde.”

4U het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit

met my uitverkorene,

Ek het ’n eed gesweer

vir my dienaar Dawid:

5Ek sal vir jou ’n nageslag verseker

vir altyd

en jou troon in elke geslag

laat standhou.”     Sela (teken dat daar ’n pouse is – tyd vir refleksie)

 

(Oor God se almag in die hemele)

6Die hemel loof u wondermag, Here,

die hemelinge loof u trou.

7Wie in die hemel kan

met die Here vergelyk word?

Wie onder die hemelwesens

is soos die Here?

8Hy is God, vir Hom

het die hemelse vergadering

’n heilige ontsag.

Hy is magtig, gevrees onder almal

rondom Hom.

9Here, almagtige God, wie is soos U?

U krag is groot, Here, u trou is oral!

 

(oor God se alomteenwoordigheid op die aarde) 

10U heers oor die onstuimige see:

as sy golwe opstaan,

laat U hulle bedaar.

11U het die monster Rahab verbrysel,

hy is verslaan.

Deur u groot mag het U u vyande

uitmekaargejaag.

12Aan U behoort die hemel,

aan U behoort ook die aarde,

die wêreld en alles daarin.

U het alles gemaak.

13Die noorde en die suide,

U het dit geskep;

Tabor en Hermonberg roem u Naam.

14U het ’n magtige arm,

sterk is u hand,

kragtig u regterhand.

15U troon is gebou

op geregtigheid en reg,

liefde en trou staan in u diens.

 

(God se totale betrokkenheid by sy mense – uit die verlede tot in die hede)

16Dit gaan goed met die volk

wat kan jubel tot u eer,

wat in u lig lewe, Here.

17Hulle besing u Naam die hele dag,

hulle prys u reddingsdade;

18U is die krag waarin hulle roem.

Dit is ons sterkte: dat ons u guns geniet.

 

(God se betrokkenheid by hulle koning – in die hede)

19Ons koning behoort aan die Here,

ja, ons beskermer behoort

aan die Heilige van Israel.

20U het ’n openbaring gegee,

oor u troue dienaar het U gesê:

“Ek het aan ’n held my bystand geskenk,

aan ’n dapper jong man uit die volk

’n ereplek gegee.

 

21Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek,

hom met my heilige olie

tot koning gesalf.

22My mag sal hom ondersteun,

my krag sal hom sterk maak.

23Vyande sal hom geen leed aandoen nie,

gewetenlose mense

sal hom nie verdruk nie.

24Ek sal sy teëstanders

voor hom verpletter

en dié wat hom haat, verslaan.

25My trou en liefde sal by hom wees:

deur My sal hy oorwin.

26Ek sal sy heerskappy uitbrei

tot oor die see,

sy gesag tot oorkant die riviere.

27Hy sal My aanroep met die woorde:

‘U is my Vader,

my God, die rots wat my redding is.’

28Ek stel hom eerste,

die magtigste koning op aarde.

29Vir altyd handhaaf Ek my trou

teenoor hom;

my verbond met hom staan vas.

 

(God se betrokkenheid tot in die verre toekoms – wat die koms van die Messias uiteindelik sal insluit)

30Ek sal vir hom altyd

nakomelinge verseker

sodat sy troon vas sal staan

so lank daar ’n hemel is.

31As sy nakomelinge nie handel

volgens my woord nie

en nie lewe volgens my bepalings nie,

32as hulle my voorskrifte verontagsaam

en my gebooie nie nakom nie,

33sal Ek hulle oor hulle oortreding straf

en hulle oor hulle sonde

met swaar slae tref.

34Maar my liefde sal Ek van hom

nie terughou nie,

my trou nie verbreek nie.

35Ek sal my verbond nie versaak nie,

nie een van my beloftes terugtrek nie.

36Ek, die Heilige, het ’n eed afgelê,

en my woord aan Dawid

sal Ek nie verbreek nie:

37daar sal altyd nakomelinge

van hom wees,

sodat sy troon so blywend soos die son

sal wees.

38Soos die maan sal dit altyd daar wees.

Solank die hemel daar is,

sal dit vas bly staan.”     Sela

 

(Nou word die problematiek van die ballingskap aangespreek, en op God se toekomsbeloftes staatgemaak dat Hy sal ingryp – let op, dit word in drie dele gedoen, begin in die hede, vra uitkoms vir die toekoms, deur op God se uitkoms in die verlede voor sy aangesig te bring)

(hede)

39Maar nou het U in u toorn

tog u gesalfde verstoot en verwerp.

40U het die verbond met u dienaar

nie in ag geneem nie,

sy kroon tot in die grond vertrap.

41U het al sy stadsmure afgebreek,

sy vestings in puin gelê.

42Almal wat daarlangs kom, beroof hom;

die buurvolke behandel hom

met minagting.

43U het sy teëstanders laat seëvier,

al sy vyande laat juig.

44U het hom voor die vyand laat vlug,

hy kon nie staande bly in die oorlog nie.

45Aan sy koninklike luister

het U ’n end gemaak,

sy troon teen die grond gegooi.

46U het sy jeugdige krag gebreek

en hom diep verneder.     Sela

 

(toekoms)

47Sal U dan vir altyd u hulp weerhou,

Here?

Sal die vuur van u gramskap

dan bly brand?

48Dink tog daaraan hoe kort die lewe is,

hoe min daar in die lewe is

vir al die mense wat deur U geskep is.

49Watter mens leef daar

wat die dood nie sal sien nie,

wat homself kan red

uit die mag van die doderyk?     Sela

 

(verlede)

50Waar is u liefde van vroeër, Here,

wat U in u trou

plegtig aan Dawid belowe het?

51Dink, Here, aan die smaad

wat my aangedoen is,

aan alles wat ek moes verduur

van baie volke.

52Die mense

van wie hierdie smaad kom,

is u vyande, Here,

dit is u gesalfde vir wie hulle smaad

waar hy ook gaan.

 

(Afsluiting van die 3de Psalmboek)

53Aan die Here kom die lof toe

vir altyd. Amen, ja, amen.

Woordverkonding

Die meeste mense het al massiewe foute met hul toekomsvoorspellings gemaak.  Hier is ‘n paar van die slegste toekomsvoorspellings ooit:

  • “Ontdekkings het al lankal hul perk bereik, en ek sien geen vooruitsig vir verdere ontwikkelinge nie” – Julius Sextus Frontinus, Romeinse ingenieur, 100 n.C.
  • “Die maagholte, die borskas en die brein sal vir altyd ontoeganklik wees vir die operasiemes van die verstandige en menslike chirurg”- John Eric Ericksen, chirurg van koningin Victoria, in 1873.
  • “Wetgewing sal vereenvoudig word.  Prokureurs sal verdwyn, en hul fooie sal dramaties daal”- Joernalis Junius Henri-Browne in 1893.
  • “Maak nie saak wat hy doen nie, daar sal nooit iets van hom kom nie” – ‘n Onderwyser van Albert Einstein in 1895.
  • “Dit blyk dat ons die grense bereik het van wat moontlik is met rekenaartegnologie”- Rekenaarwetenskaplike John von Neuman in 1949.
  • “Die Japannese maak niks wat die mense in die VSA wil hê nie” – John Foster Dulles, Secretary of State, 1954.

Laura Lee, “Forecasts That Missed by a Mile,” The Futurist

Inderdaad. ’n Mens kan die toekoms verkeerd opsom.  Jy kan die hede misverstaan, en dan foute oor die toekoms maak.  Jy kan jou ernstig misgis.

Oor die tye

Psalm 89, die gedig van Etan die Esragiet, tydgenoot van Dawid, begin in verse 1 tot 4 om op ‘n aangrypende wyse oor tyd en die onderskeiding van die tye te praat.  Hierdie vier verse bied vir ons ‘n sleutel wat die boodskap van Psalm 89 ontsluit.  Etan sing in die:

  • Teenwoordige tyd: “Ek sê U liefde en u trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde.”” (vers 3)
  • Toekomstige tyd: “Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte.” (vers 2)
  • Verlede tyd: “U het gesê: ‘Ek het ‘n verbond gesluit’ … ‘Ek het ‘n eed gesweer.'” (vers 4)

Hierdie verwysing na tyd is nie toevallig nie.  Die Psalm getuig oor die betekenis van God se verbond met die volk vir hul lewe reeds in die verlede, wat hulle nou ondersteun in die hede en steeds sal geld vir die toekoms.  God is nie net alomteenwoordig nie.  Hy is nie net alwetend nie.  Hy is totaal betrokke in die tyd by ons en ons lewens.  Daarop kan ons staatmaak.

Boodskap van Psalm 89

En Etan se boodskap aan ons is:

God se trou en versorging dra ons deur die lewe.

In hierdie eerste vier verse word God geprys vir Sy standvastige liefde (hesed) en Sy trou (emuna).  God se verbond met Dawid is ‘n voorbeeld van God se standvastige liefde en trou.

  • Daarna roep verse 5 tot 8 die hemele op om God te prys, en
  • verse 9 tot 12 besig God se heerskappy oor hemel, aarde en see.
  • Verse 13 tot 18 besing God se mag, geregtigheid en reddingsdade.
  • Vanaf vers 19 raak die psalm meer spesifiek.  Etan fokus op God se trou, Sy liefde en versorging wat gerig is op God se volk en die koning wat God aangewys het.
  • Vanaf vers 38 verander die toonaard egter.  Die volk is in ‘n krisis.  Dit lyk asof God stil geraak het.  Die gevoel is dat God afgesien het van God se beloftes van trou aan Dawid en die volk Israel.  Daarom roep die volk uit dat God hulle moet onthou.

Historiese agtergrond

Daar is verskillende omstandighede wat die krisis in Psalm 89 kan verklaar.  Dit mag die dood van die hervormer-koning Josia verwoord, of (meer waarskynlik) die krisis van die ballingskap en die afloop daarvan.

Dink aan die ballingskap en die val van Jerusalem – 6de eeu vC – met die vrae en dreigende wanhoop wat dit in die lewe van die volk opgeroep het.  Daar was diep en donker wroeginge oor die toekoms.  Die voorspoed van die onregverdiges en goddeloses het tot baie vrae en worstelinge aanleiding gegee.

Die psalm is dus ‘n kreet aan God om uitkoms:

  • “Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here?  Sal die vuur van u gramskap dan bly brand?” (47)
  • “Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het?” (50)

Toegelaat om te worstel

Psalm 89 verteenwoordig in ’n sekere sin gevaarlike geloofstaal waarvoor baie gelowiges sal terugdeins.  Tog gaan die Bybel ons daarin voor om ons moeilike klagtes aan God te rig.  Ons kry toestemming om ons klagtes oor God aan God te rig.  Dit is hoe deurleefde en deurwinterde geloof werk.

Die uitdaging, leer die Psalm ons, is om God nie te laat los as ons kla oor die hede en met ons vrese vir die toekoms worstel nie.  Dit is wanneer ons God laat los, en vir die toekoms net op onsself vertrou, dat dinge ernstig skeef begin loop vir ons.

Psalm 89 sit dus ons twyfel eerlik op die tafel, met die uiteindelike boodskap dat twyfel wel in die nabye teenwoordigheid van God tot rus kom.

Psalm 89 se verset

Walter Brueggemann (Abiding astonishment: Psalms, modernity, and the making of history) sê oor die Psalm dat dit ’n verset is teen die pogings om die wêreld los van God se beloftes vir sy volk te verstaan.  Dit is ‘n verset teen pogings om hoop op ander plekke as by God te gaan soek, al voel dit vir jou asof die hede so swaar is dat God van jou moes vergeet het.  Psalm 89 moedig ons aan om die moeiliker pad te volg om met God te worstel, eerder as om die wêreld los van God te probeer bedink.

As jy God laat los, raak jou onderskeiding van wat aangaan, wat die tye beteken en inhou, uit pas.  As jy God laat los, is jy gewaarborg om jou toekoms voorspellings verkeerd te kry.

Psalm 89 se advies

1.  Onthou God

Psalm 89 is daarom ‘n oproep om die lewe steeds vanuit God en God se beloftes van trou te verstaan.  Hoe sleg dit ook al gaan, sê die Psalm, onthou God en onthou dat God se beloftes oor sy kinders uitgespreek is.

Hiermee wys die Psalms dat die lyding en verydeling van hierdie lewe nie ontwyk kan en selfs mag word nie.  Die Psalms nooi ons uit na ‘n “honest facing of the darkness” soos Brueggemann dit stel (The Message of the Psalms, 1984:12).  En die rede waarom ‘n mens dit kan doen, is omdat die Psalms so sterk beklemtoon dat daar Iemand is in die duisternis wat aangespreek kan word, tot Wie gebid kan word (Ps 2).  En nog dieper, dat daar Iemand in die duisternis is wat kan antwoord en dinge kan verander.  So word ons ervarings in die lewe getransformeer, nie deurdat dinge noodwendig ligter of makliker word nie, maar omdat God by ons is in die donker (Ps 23).

2.  Leef vir God

Tweedens: wie onthou, vertel ook aan die volgende geslagte van God se verbond en God se teenwoordigheid.  Wie onthou, bly leef in die bewussyn van God se teenwoordigheid, en dra hierdie werklikheid aan die toekomstige geslagte oor.

Tans besig met die voorbereiding vir die eerste kwartaal, en lees Paulus se brief aan die Filippense indringend, en is veral getref deur sy onomwonde fokus op Jesus, en Hom as gekruisigde.  Die lewe is vir my Christus, die sterwe wins.  Hy wil alles wat Hy doen, in die teenwoordigheid van Christus Jesus doen.  En bemoedig só die mense rondom hom, terwyl hy in die tronk in Rome sit, en sorg daarmee dat daar ’n volgende geslag van gelowiges sal wees.  Markus is by hom, Epafroditos is by hom, Timoteus is by hom, almal jong leiers wat die kerk in die volgende fase moet inlei, en hy doen alles wat hy kan om hulle met sy voorbeeld te motiveer en bemagtig.

3.  Bly worstel met God

Derdens: wie onthou, bly worstel met God oor die toestand van die wêreld.  Sulke gelowiges bly hoop op God en bly uitkoms afbid van God.  Sulke gelowiges bly God herinner aan God se beloftes en aan God se groot dade.  Dis geloof wat ondanks omstandighede die risiko bly loop om te glo, te vertrou, te gehoorsaam en te hoop op God.  En raak daarom ook betrokke by die veranderinge wat God ook deur ons in hierdie wêreld bring.

In Christus

Christopher Wordsworth het Psalm 89 “A Carol of Christmas” genoem.  Mens kan verstaan waarom hierdie psalm op Christus betrek word.  Jesus Christus is immers uit die nageslag van Dawid gebore, ‘n bevestiging van God se verbondstrou aan Israel.  Christus is God se “ja en amen” op al die verbondsbeloftes aan Israel en die koningshuis van Dawid.  Christus is die hoogste uitdrukking en die finale gestalte van God se koningskap in en oor die lewe van God se mense.

Hierdie tyd van die jaar word ons uitgenooi om die wêreld opnuut te leer sien in die lig van God se trou en God se koningskap.  Ons word genooi om God se verbond te onthou en vanuit God se sorg te lewe.

Deur al die eeue het God se kinders God so leer ken en so in God se wêreld geleef.  Wie vanuit die teenwoordigheid en die trou van God lewe, het ‘n toekoms.  Wysheid is om God ernstig te neem en God te gehoorsaam.

Selfs al worstel jy met tye, selfs al is die hemel met tye – so voel dit – toe bokant jou kop, is jy dan gewaarborg om God te ervaar as die Een wie se trou en versorging ons deur die lewe dra.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Psalm 89:1

Seën

Amen

Lied 314

Psalm 98 – ‘n Loflied vir Kersfees – 25 Des 2011

Verwelkoming

  • Groete aan almal.  ‘n Geseënde Kersfees.
  • Vanwaar is almal?  Amerikas, Europa, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, Ooste, Midde-Ooste,  ander provinsies?   Welkom!
  • Verjaarsdae – Vandag: Louis van Zyl, Ansie van Niekerk, Vandré Nel, Berta Vorster.
  • Dankie aan Chandré Brewis op fluit, Albert Troskie op orrel.
  • Wat het die kinders vir Kersfees gekry?

Ons vier vandag Kersfees: die fees van Christus se geboorte, toe God se Seun mens geword het  en onder ons kom woon het.

Terwyl ons die Adventkerse aansteek:

  • Dank ons God vir die hoop wat ons van Hom ontvang, (die eerste kers),
  • vir die vrede wat Hy skenk, (die tweede kers),
  • vir die vreugde wat Hy in ons harte uitstort, (die derde – pienk – kers),
  • en vir die liefde waarmee Hy ons verlos (die vierde kers),
  • Ons steek die groot wit kers aan om ons te herinner dat die Lig vir die wêreld gebore is. (Steek die Christuskers aan.)

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

  • Lied 345 Kom alle getroues – sit

Votum en seëngroet

Lofsang

  • Lied 370:1-3 Eng’le uit die hoogste hemel – staan
  • Lied 364 Herders op die ope velde – staan
  • VONKK 39 Lank, Lank Terug In Betlehem – sit

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Gebed

Skriflesing

Psalm 98 is ’n pragtige loflied, wat in inhoud sterk ooreenkom met Psalm 96, asook die Psalms aan weerskante daarvan: 97 en 99.  Aanvanklik was dit bedoel as ’n loflied na die verlossing uit ballingskap.  Vandag laat dit ons dink aan die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus, wie se lof ons besing.

Psalm 98

Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here

  • 98 ’n Psalm.
  • Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, want Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag  het Hy oorwin.
  • 2Die Here het sy oorwinning  bekend gemaak, aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.
  • 3Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig;
  • die hele wêreld het gesien dat ons God  die oorwinning behaal het.
  • 4Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing!
  • 5Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier (’n harp met 10 snare) en sing.
  • 6Blaas die trompet en die ramshoring (enigste plek wat van trompette gepraat is, die ramshoring was die meer normale blaasinstrument), jubel tot eer van die Here, die Koning.
  • 7Die see en alles daarin moet druis, die aarde en alles daarop moet juig, 8die riviere moet hande klap,  die berge moet saam juig 9voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers;
  • Hy sal oor die wêreld heers  met regverdigheid,  oor die volke met billikheid.

Woordverkondiging

Daar kom mos dae waarop die blydskap oor God ons meesleur, en die vreugde oor wat Hy gedoen het, jou na alles op ’n ander manier laat kyk. Dae waarop ’n mens se hart só oorloop van vreugde dat jy nie anders kan as om te sing nie, maak nie saak of jy kán sing of nie.  Dae wat jy voel, almal moet saam met jou die Here loof, want jou hart loop oor van vreugde.

Die dag waarop die engeltjie die eerste keer in tweeduisend jaar gesing het, was só ‘n dag.

Kersboom op Willie se Baai

Daar was eendag twee dogtertjies wat elke jaar met hul ouers by Willie se Baai vakansie gaan hou het.  Hulle name was Anna en Susanna.  Op ‘n dag speel die twee op die hoogste duin.  ‘n Fraai seuntjie kom nader en vra of hy mag saamspeel.

Natuurlik laat die dogtertjies hom saamspeel.  Hulle het hom nog nooit gesien nie en vra wie hy is en waar hy vandaan kom.  Die seuntjie sê hy is ‘n engeltjie.  Die dogtertjies lag en sê hy bedoel sekerlik hy is figuurlik gesproke ‘n engeltjie.  Nee, sê die seuntjie en lig sy hempie op om sy goue vlerkies te wys.  Wat maak hy op Willie se Baai?  Wel, hy het eeue gelede saam met ‘n groot koor hier aangeland.  Hy was een van die beste seun-soprane, voeg hy ewe onbeskeie by.

Nou hoekom het hy nie saam met die engelekoor teruggegaan nie, wil die dogtertjies weet.  Die seuntjie vertel hy het die aarde liefgekry en van die mense begin hou.  Ja, hy verlang soms terug, maar hulle moenie bekommerd wees nie want dis nie so ver na sy blyplek as wat mense dink nie.  As die mense net kon weet hoe naby dit alles is.

Anna wil weet of hy dan verlof gekry het om op die aarde te bly.  Ja, solank hy net nie sing nie.  Dit is streng verbode.  Sodra hy sing, moet hy dadelik terug.   Dis baie swaar om nie te sing nie, want hy doen dit graag.

Susanna het dadelik ‘n plan.  Hulle hou die volgende aand ‘n Kersboom in die saaltjie by Willie se Baai.  Daar sal ‘n kinderkoortjie liedere sing.  Die engeltjie moet kom saamsing.  Sy stem sal meng met die stemme van ander, en sy hemelse mense sal nie eers weet hy sing nie.

Die engelseuntjie twyfel eers, maar die dogtertjies praat hom om.  Hy het in elk geval baie lus vir sing, en veral Kersliedere.

Die volgende aand staan hy tussen die kinders by die Kersboom op Willie se Baai.  Hulle sing die mooiste Kersliedere.  Meteens styg ‘n goue kinderstem bo al die ander uit in ‘n onbekende lied, so mooi soos nog nooit op aarde gehoor is nie (behalwe een keer by ’n krip).  Die kinderkoor raak stom van verbasing en almal sien dit is die vreemde seuntjie wat alleen sing.

Anna fluister vir Susanna die seuntjie sal nou moet teruggaan.  Maar die engeltjie sing voort, vir die eerste keer in tweeduisend jaar.

Skielik word oor Willie se Baai die geruis gehoor van ‘n magtige koor wat niemand kan sien nie.  Hulle val in by die pragtige stem van die engeltjie en hulle sing ‘n lofsang asof die hemel oopgegaan het.  Hulle sing: Eer aan God in die hoogste hemele!

Die stemme sterf weg en stilte kom oor die strand.  Die engeltjie is nie meer tussen die kinders nie.

Later gesels Anna en Susanna met hul ouers.  Die engeltjie moes natuurlik weg omdat hy gesing het.  Maar hoekom het die koor ook ingeval?  Het die dissipline daarbo in duie gestort toe hulle die seuntjie se pragtige sang hoor?

Seker so iets.  Maar onthou wat die seuntjie gesê het: dis nie so ver soos dit vir mense lyk nie.  As die mense maar net kon weet hoe naby dit alles is.  En soms – baie selde – val die dun skerms weg en alles gaan oop.  Net vir ‘n kort rukkie.

(Oorvertel uit ‘n verhaal deur PJ Cillié)

‘n Lied oor God se reddingsdade

Daar kom dae waarop oorweldigende lof oor die goedheid van God mense meesleur, dae waarop die dun skans tussen hemel en aarde wegval.

Die dag waarvan Psalm 98 sing, is ook só ‘n dag.  Ons weet nie presies wanneer die oproep van Psalm 98 weerklink het nie.  Dit was egter ’n geweldige geleentheid, heel waarskynlik met die opheffing van die ballingskap en die terugkeer na hulle Vaderland.  God het God self op ’n wonderbaarlike en opspraakwekkende manier openbaar. Israel het opnuut besef hoe groot en getrou God regtig is. Die volk het besef God vergeet nie sy beloftes nie. Israel het geweet God is groter as enigiets op aarde.

Almal juig saam

Opvallend genoeg juig die hele aarde saam omdat God sy verlossing aan alle mense bekendgemaak het.  Naas die huis van Israel (3) het al die nasies gesien wat God doen (2, 4) en juig almal op aarde daaroor.  Almal word opgeroep om God jubelend te prys met hulle stemme, met die lier, met trompette en met die ramshoring.

Die skepping juig saam

Die jubeling tot eer van God is so omvattend dat die hele skepping opgeroep word om saam tot eer van God te juig.

Vir sommige moderne, wetenskaplike mense het die natuurlike wêreld egter stil geraak.  Hulle hoor nie meer die lofdruising van die see, die handeklap van die rivier en die juiging van die berge nie.

Geloofsoë, ook van wetenskaplikes, kan egter die skepping sien juig, geloofsore kan die onhoorbare stem van die ganse skepping hoor.  Dis inderdaad waar: die hele skepping juig saam oor die groot dade van God.

God heers met regverdigheid

Aan die begin van Psalm 98 word die lof aan God verbind aan die groot dade van God in die geskiedenis.

Aan die einde word die motief vir die lof verbreed.  Die Here kom om oor die hele wêreld te heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.  Hier is sprake van ‘n belofte wat in die toekoms waar sal word.  Die Here is op pad om regverdig te heers.  Hiervoor word God geloof.  Die toekoms behoort aan Hom.

‘n Stygende lyn van lof

Let op hoe die digter se oproep tot lof ’n stygende lyn vertoon in die psalm.  Eers word net van sing gepraat, dan is juig en jubel ter sprake.  Daarna word snaarinstrumente bygebring en ook die kragtiger klanke van die blaasinstrumente.  Dan as hoogtepunt word die skepping as magtige koor ingespan om die lof van die koning, Jahwe te besing.  Ook die deelnemers wat die lof moet bring, vertoon ’n al groter wordende sirkel: Eers word net die Godsvolk opgeroep, dan alle lande en uiteindelik word die totale skepping tot lof opgeroep.

Die psalm deurbreek die netjiese grense wat ons so maklik trek tussen gelowiges en ongelowiges en selfs  tussen mens en skepping – juis omdat God se lof veel meer vra as net onsself en dit wat ons in ons nietigheid kan vermag.  Die lof aan God is veel groter.  Dis werklik kosmies van aard!  Al die aktiwiteite in die groot skepping is nie stil en betekenisloos nie – alles is deel van die lof aan God.

Kersfees

Vir ons is Kersfees seker een van die grootste feeste wat ons as Christene vier.  Christus, die Seun van God, die Messias, die Verlosser is gebore.  God self kom by ons bly!  God raak die wêreld aan.  En dan die verhaal van die onbegryplik groot gebeure met die kruis en die dood en die opstanding van ons Verlosser.  Ons sing en juig daaroor. Dit het alles in die verlede gebeur! Die hele wêreld weet daarvan!

Kersfees is egter ook veel meer.  Net soos die nagmaal is dit ook ’n vooruitgryp na die tweede koms van Christus, die wederkoms, die werklike volmaakte oorwinning.  Met Kersfees juig ons ook oor die toekoms. In die feesviering moet ons egter onthou:  Die wêreld bestaan nie ter wille van die kerk nie! Die kerk bestaan ter wille van die wêreld!  Die kerk getuig van God se trou en sleur só die wêreld mee in lofprysing en eerbetoon.

Ons mag nooit die wêreld uit die oog verloor in ons feesvieringe nie.  Ons feesvieringe moet ’n uitnodiging aan die wêreld wees, ’n oproep om saam fees te vier.  Die nasies en die skepping word opgeroep – ook hulle het hulle plek voor God.

Hoor in dié psalm die uitnodiging aan die wêreld – al die mense en alles in die skepping – om te deel in die lof.  As ons feesvier voor God verteenwoordig ons die wêreld. Ons lof moet so wees dat die wêreld daarin die uitnodiging hoor om saam te kom sing!

Die nasies moet onthou word in ons lof en aanbidding.  Want dit help niks nie as ons vervul is met liefde, maar ons ignoreer ons medemense en die natuur rondom ons.  Die geheim van die groter fees lê by God. Hy alleen is God.  Die nasies moet dit raaksien en erken.  Dit is tydens die lof en aanbidding dat hulle die kennis en geloof sal opdoen.

Onthou van Willie se Baai

Die dag waarop die engeltjie die eerste keer in tweeduisend jaar gesing het, was só ‘n regte Psalm 98 dag.  Mag Kersfees vanjaar vir jou en jou mense ook so ‘n regte Psalm 98-dag wees.  Mag ons lof die nasies en die skepping meesleur in eerbetoon aan God!

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 348 Stille Nag – staan

Seën

Respons

Lied 348:2 se refrein:  “Juig, die Redder is daar!  Juig, die Redder is daar!” – staan

Deurkollekte

Vir Barmhartigheid aan behoeftiges op Kersdag

Miga 6:1-9 – Oujaarsdiens

Verwelkoming

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 353 Die Heiland is gebore (staan)

Lied 349 Kom, kinders, besing met ‘n vrolike stem (staan)

Gebed

Terugblik

Dit is goed om ‘n bietjie die jaar in oënskou te neem en van die gebeure herleef.

SUID-AFRIKA:

  • Australië se kaptein James Horwill na hulle SA geklop het by die Rugby Wêreldbeker.
  • Wapenskandaal – kommissie aangestel
  • Media- en spraak-vryheid – groot konflik en debat
  • COP17 – groot verskille, maar ’n bietjie vordering om vir die omgewing om te gee.

WÊRELD:

EINDTYE:

  • Harold Camping – en Johannes Coetzee hier by ons – voorspel die wêreld gaan eindig op 22 Mei.  Maar ons moet nie te vinnig oordeel nie!

AARDBEWING:

  • Kantoorpersoneel probeer uit ’n hoë gebou kom in Christchurch, New Zeeland op die 22ste Februarie. ’n Kragtige aardbewing laat ten minste 180 mense sterf.

TSUNAMIS EN TORNADOS:

  • ’n Draaikolk vorm in die see op die 11de Maart.
  • Die boot, die Hama Yuri, ’n kilometer van die kus af bo-op ’n twee-verdieping huis.
  • ’n Vrou treur in die verwoeste stad van Natori, in die noorde van Japan na die massiewe aardbewings en tsunami.
  • ’n Foto voor en na ’n tornado deur Joplin, Missouri, is op 22 Mei.

OORLOË:

  • ’n Rebelvegter vuur ’n AK-47 geweer in Libië in reaksie op die onttrekking van Muammar Gaddafi’s se magte uit Benghazi op die 19de Maart.
  • ‘n Libiese rebel met Gadhafi se goue wapen.
  • Osama bin Laden vermoor deur die Amerikaners – nasionale span vir sekuriteit luister hier in die Wit Huis na die berigte op die 1ste Mei.

OPSTANDE:

  • Egiptiese Christene en Moslems dreunsing “Ons is een” tydens die Egiptiese opstande teen diktatorskap en in reaksie teen sektariese spanning tussen die Koptiese Christene en Moslems in Egipte.
  • Die ma van Mohamed Bouazizi, met ’n foto van haar seun. Hy het homself aan die brand gesteek in protes teen die ekonomiese lyding in Egipte en was die vonk wat die Noord-Afrikaanse rewolusie begin het, op 26.
  • Christene en Moslems aan die bid in Kaïro.
  • Facebook het ’n baie groot rol gespeel regdeur die Midde-Oosterse opstande.
  • Tragedie in Olso, Noorweë, met 93 mense wat met ’n bomontploffing en daarna deur ’n massa sluipmoord op Utoya eiland doodgeskiet is deur Anders Behring Breivik op 22 Julie, weens anti-Moslem sentimente.

HONGERSNOOD:

  • Mihag Gedi Farah, ’n 7-maand-oue baba, by sy ma in Dadaab, Kenia. Hy is deur die Rooi-Kruis deurgehaal en is weer gesond.
  • Mense wat vanweë honger probeer om in ’n voedsel stoor in Oos-Afrika in te breek.

EKONOMIE:

  • ’n Telefoon is van die mikkie af by Wall Street – simbool van hoe dit met die wêreld-ekonomie gesteld is.  En dan praat ons nie eers van wat in Europa aan die gang is nie.

GEMEENTE:

“Aha” momente:

  • Gryskrag – versterking van die pastorale bediening aan  bejaardes, en die aanstelling van Kobus Prinsloo in die plek van Deon Binneman.
  • Erediens-reekse: Handelinge, Johannes, Jesaja, Psalms – Bybelskool en Kleingroepe
  • Pinkster – Siegfried Louw: Heelhartige dissipelskap: ‘n Reeks oor Emosioneel gesonde navolging van Christus, met Sakkie Boeredans.
  • Fondsinsameling – potjiekos, en vele meer
  • Ouderlingeraad – nog net een vakature!
  • Lief en leed – huwelikke, dope, begrafnisse
  • Algemene Sinode – wegwyser vir die toekoms, kerkeenheid, belydenis van Belhar, akkomodering van uiteenlopende standpunte oor die doop en die duiwel.

Dit noop ons om te dink oor wat is regtig belangrik.

Skriflesing – Miga 6:1-9a

Miga tree op in die laat 8ste eeu vC in die tyd van Jotam, Agas en Hiskia.

Woordverkondiging

Miga 6 begin met ‘n aanklag wat God teen die volk van Israel maak, dat hulle aan ernstige geheueverlies ly.  In vers 1-5 herinner hy hulle aan drie goed:

  1. Die Verlossing uit Egipte waar Hy hulle uit slawerny geruk het en ‘n soewereine volk gemaak het;
  2. Die Versorging in die woestyn, waar Hy vir hulle leiers gegee het, Moses (wet – God se woorde en Woord), Aäron (kultus – versoening met God), en Mirjam (profetes – God se wil) wat op omvattende wyse vir hulle gelei het, nie net in oorlog nie (Num 22-24 – Balak en Bileam), maar ook in hulle aanbidding tot die Here;
  3. En NB, die Vestiging in die Beloofde Land met nie net met die Intog van Sittim aan die Oostekant na Gilgal aan die Westekant van die Jordaan te make het nie (Jos 3-4), maar ook met die oorwinning oor al hulle vyande in die land Kanaän.

Dan volg die Here die aanklag op met ‘n verduideliking van hoe die verhouding met Hom werk.

Drie dinge werk nie:

  1. duisende offers van ramme, of
  2. duisende offers van olie, of
  3. die offer van jou eersgeborene – dit alles werk nie om die verhouding met God in stand te hou nie.

‘n Mens kan baie godsdienstig wees, en tegelykertyd uiters oppervlakkig wees.  God soek nie besittings nie, selfs nie die weggee van jou rykdom nie, en verseker nie só iets gruweliks soos die offer van jou kind nie, waarmee natuurlik eksplisiete kritiek teen die praktyke van die latere konings van Israel uitgespreek word (2 Kon 17 – ook Manasse het dit later gedoen).

Drie dinge werk wel, en daarin is God se aanbod tot lewe, waarin Hy hulle herinner aan wat regtig belangrik is (vgl Deut 10:12-13):

  1. om reg te doen (to do justice) – om na buite billik en regverdig op te tree;
  2. om lief te hê (to love mercy/devotion/kindness – liefde te betrag – OAV) – om van binne-af verbind te wees aan liefde bewys, aan toewyding, aan omgee, aan sagmoedigheid;
  3. om bedagsaam of nederig/ootmoedig te lewe (to walk humbly) voor God – om na bo met gespitste aandag te lewe, om noukeurig vir insigte en ervarings van God dop te hou om daarvolgens te lewe, kortom, om God ernstig op te neem.

Om reg te doen, lief te hê, en God ernstig op te neem – dit is die evangelie, die dinge wat werk in ons verhouding met God.

Dit gaan nie oor die gee van jou besittings nie, ook nie van jou rykdom nie, ook nie van jou dierbares nie – dit gaan oor die gawe van jouself, om persoonlik getrou te wees en te leef aan die Here midde-in die uitdagings van hierdie wêreld.  Dit is nie die dinge wat jy in die tempel of die kerk doen nie, maar in jou binnekamer en in die gemeenskap, dinge binnekant jou, dinge buitekant in die samelewing en dinge tussen jou en God, dws na die bokant.

Let op dat God sy boodskap aan elke individu rig: “Mens”.  Dit is dus op elkeen van ons van toepassing.

1.  Om reg te doen:

Miga herinner ons dat om met God te lewe, begin met hoe jy teenoor jou naaste optree – of anders gestel, hoe jou verhouding met God is, kan jy sien in hoe jy teenoor jou naaste optree.  En God soek regdoen, want Hy doen reg!  Hier is veral die hulpeloses en minderbevoorregtes in die oog, dié mense wat nie vir hulle eie reg kan opkom nie, wat uitgelewer is aan die sterkes, die rykes, die magtiges.

Dit is soos in Amos 5:24: “Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ’n standhoudende stroom.” Of soos The Message sê: “Do what is fair and just to your neighbor”.

Om “reg te doen” slaan nie bloot op die regspraak nie, maar op alle handelinge wat “reg laat geskied” aan mense en so harmonie in verhoudinge bring.

Om reg te doen, beteken om vir ander mense lewensruimte te gee, om ander met egte waardigheid te behandel, om ander ruimte te gee om vorentoe in die lewe te gaan, om dit wat jy vir jouself opeis, ook aan ander te gun.

Mense wat reg doen, kan hulleself in die skoene van ander indink, is leerbaar en bereid om ander te perspektiewe en verwagtinge te ontdek, en daarmee rekening te hou.

Die ekologiese krisis in die wêreld het te doen met die Westerse lewenstyl wat nie vir al die bewoners van planeet aarde haalbaar is nie.  Die aarde het nie genoeg hulpbronne om so ’n lewenstyl in stand te hou nie.  Tog voer ons ons lewenstyl ter wille van ekonomiese groei uit na die res van die wêreld.  Ons weet dat dit alles op ’n katastrofe afstuur, maar ons gaan voort.

Die noodsaak om “reg te doen” het ’n spesifieke, indiwiduele, konkrete kant.  Dit vra van my om reg te laat geskied aan die konkrete en spesifieke mense met wie my lewenspad dag vir dag kruis.  Dit vra naasteliefde, geregtigheid teenoor die wat tot teen my kom.

Hierdie opdrag is so prakties as wat kan kom.  Uit die verdere verloop van Miga 6 blyk God se ontsteltenis omdat die volk  met vals inhoudsmate gemeet het, verkeerde maatlyne gebruik het, asook onbetroubare weegskale met valse gewigte.

Reg doen het ook ’n breër, minder gespesifiseerde en toekomstige kant.

  • ’n Voorbeeld: Ek moet ook die geslagte wat nog gebore moet word, liefhê.  Ons moet só leef, dat hulle lewensmiddele sal hê.
  • Nog ’n voorbeeld:  dis ons taak om die gevegte, spanninge, vooropgestelde idees oor ander en verdeeldhede van ons geslag op te los, eerder as om verskeurdheid aan te blaas en toekomstige geslagte op te saal met die voortsetting van ons gevegte.

Die seën wat voortvloei uit die doen van dit wat reg is, bevoordeel duisende geslagte vorentoe.  Die doen van dit wat verkeerd is, bind ook toekomstige geslagte (Eksodus 20:5-6).

2.  Om lief te hê:

Miga herinner ons dat om met God te lewe, het met liefde en trou teenoor jou naaste te make – presies soos wat God in sy wese is, en in die geskiedenis geïllustreer het, dat Hy vir hulle lief is en aan hulle getrou bly.  Só wil Hy hê dat hulle teenoor hulle naaste optree.

Dit hou verband met wat Hosea 6:6 sê: “want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.”) Of soos The Message vertaal: “be compassionate and loyal in your love”; – Die woorde wat Miga hier gebruik, beteken letterlik: “om lief te wees om lojale liefde te bewys aan” of “om lief te wees vir liefhê”.  Dit is om verbind te wees aan liefde bewys, aan toewyding, aan omgee, aan sagmoedigheid.

God openbaar Godself van die begin af as die troue, liefdevolle, lojale, wellewende, toegewyde God.  God verlaat nie die voorwerpe van God se liefde nie – nie die mens nie, en ook nie die res van die skepping nie.

Miga vra dus van ons dat ons God sal naboots, dat ons met ons lewe sal demonstreer dat die appel nie ver van die boom val nie.

3.  Om God ernstig op te neem:

Miga herinner ons dat om met God te lewe, beteken om bedagsaam voor Hom te lewe, om Hom ernstig op te neem.

NB – dit is nie ter wille van God wat ons Hom aanbid nie, dit is ter wille van onsself!  The Message vertaal: “and don’t take yourself too seriously– take God seriously”.

Dit is die somtotaal van die ware godsdiens: Om in alles God in gedagte te hou!  Soos een kommentaar sê, dit is om te lewe: “in a manner respectful and careful of another’s direction”.  Dit is om bewustelik te probeer om agter te kom waarheen God op pad is, en by Hom aan te sluit.

Dit is ook wat nederigheid beteken, om iemand anders se manier van doen dop te hou, en in oorleg daarmee of in ooreenstemming daarmee op te tree.

As ons God voor oë hou, onthou ons dat ons deel is van die geskiedenis wat God besig is om in die wêreld te skryf.  God het hemel en aarde geskep.  Toe dinge skeefloop, het God ’n volk gekies wat sy instrument is om die nasies die regte pad te wys.  Toe hierdie volk misluk, het God self die volmaakte mens voorsien, die God-mens Jesus, wat God se bedoelinge moontlik maak.  Dis hiervan dat ons deel is.  Ons is die mense wat só leef dat God se bedoelinge gedemonstreer word.  Ons leef as volgelinge van Jesus, die hoogste leermeester, wat ons presies bekendmaak wat God wil hê ons moet doen.

Slot

Die gedeelte sluit af met ‘n opsomming, ‘n wysheidspreuk: “Om die Here te dien, dit is wysheid.”  Godsdiens is ‘n lewenswyse, iets wat jou gedrag bepaal.

Maar, waarom sou ons die regte dinge doen, liefde en trou bewys, en God in gedagte hou?

  • Ons sou hierdie gedeelte moralisties kon beskou.  Asof dit maar bloot om ’n paar opdragte gaan wat ordentlike mense behoort na te kom.
  • Ons sou die gedeelte ook vir morele afpersing kon gebruik.  Mens sou kon sê: Kyk wat het God vir ons gedoen, en kyk hoe leef ons, sodat ons skuldig kan voel.
  • Ons kan die gedeelte ook beskamend gebruik:  God doen alles vir ons, maar wat doen ons vir God?

Moralisering, skuld, en skaamte is egter nie goeie vertrekpunte vir die lewe van gelowiges nie.

Ons kom God se opdragte na, omdat God ons in Christus nuut gemaak het.  Ons ontvang hierdie regdoen, liefde, en bedagsaamheid uit God se hand.  God deurbreek die selfsug met sy selfontlediging, met die voorbeeld van Jesus se gawe van Homself.

Ons vra dus van God, dat Hy vir ons geregtigheid, liefde en bedagsaamheid as geskenke gee.  En dan gaan leef ons dit met volharding en selfopoffering.

Gebed

Slotlied

Lied 358 Welkom, o stille nag van vrede

Seën

Amen

Lied 269 God bly met u, waar u ook mag gaan