Skip to main content

Johannes 11:1-45 – Erediens: Jesus is die opstanding en die lewe


GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Lied 391:1-2 Vervul, o Heer, my hart met stille wyding – staan

Votum

Seëngroet

Lofprysing

Lied 220 Met ons harte sing ons, Here – staan

Lied 577 Die Heer, my herder, sorg vir my – sit

Koor: Sy lyding en sterwe: Bly by my en waak hier met my en U wil geskied

Verootmoediging

Lied 379 Wisselsang koor/gemeente – sit

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Gebed

Skriflesing

Johannes vertel vir ons hier ’n diep menslike drama, ’n paar tonele gelaai met intense emosies.  Jesus ontvang berig dat Lasarus, broer van sy goeie vriende, Maria en Marta, siek is, vriende vir wie Hy liefgehad het.  Jesus vertoef egter nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië, die dorpie net langs Jerusalem, vertrek.  Nie omdat Hy traag was nie, maar omdat Hy oortuig was dat dié siekte God se mag gaan openbaar, en dat Hy, God se Seun daardeur verheerlik sal word.

Maar as Hy uiteindelik tog die pad vat na Betanië toe, dan kom ’n mens agter dat die dissipels glad nie lus is vir die reis nie.  Hulle is intens bewus van die feit dat die spanning tussen Jesus en die Joodse leiers van Jerusalem teen hierdie tyd al breekpunt bereik het.  ’n Paar dae terug wou die Jode Jesus in Jerusalem stenig (Joh 9).  Dié dat hulle oorkant die Jordaan gaan vertoef het, die plek waar Johannes die Doper gedoop het.  Tomas veral is baie moedeloos met dié terugreis – en is nie lus om weer deel van die konflik situasie te raak nie.  Betanië was net te naby aan Jerusalem vir sy gevoel.

Dan lees ons:

17Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”

Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”

35Jesus het gehuil. 36Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”

37Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ’n rotsgraf, en daar was ’n klip voor die ingang gerol. 39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

Woordverkondiging

Die evangelie van Johannes is met die eerste oogopslag eenvoudig geskryf, maar verras jou met ’n ryk en geskakeerde teologiese betekenis soos jy dieper daarin delf.  Dit is tegelyk ’n evangelie wat ’n mens se intellek uitdaag en stimuleer, maar ook jou hart roer en meevoer.  Niemand kan onaangeraak bly met die lees van die goeie nuus van die vleeswording van die Woord van God nie.  Dit prikkel jou verbeelding, stimuleer jou gedagtes, en slaan tegelykertyd jou asem weg.

Die kerkvaders het graag die arend as simbool vir die evangelie van Johannes gebruik, nie net omdat die arend die hoogste van alle voëls kon vlieg nie, maar ook omdat mense gereken het dat die arend die langste in die son kan kyk.  Die evangelie van Johannes was dus vir die vroeë kerk nie net die hoogtepunt van die beskrywing van die goeie nuus oor Jesus nie, maar ook een van die diepste openbarings van die wese en bedoelinge van God self.

En hoofstuk 11 is ’n besondere kykie in dié openbaring van die wese van God.  En wat dit besonders maak, is dat dit nie vanuit die hoogtepunte van die lewe daarna kyk nie, maar vanuit die laagtepunte, vanuit die hartseer van ’n Marta en Maria oor hulle broer Lasarus se dood.

Want sien, dit is een ding om oor God te praat wanneer alles goed gaan, wanneer alles vlot verloop, wanneer dinge uitwerk.  Maar waar is God en hoe is God wanneer dinge skeef loop, en dinge nie uitwerk nie?  Dit is wat die verhaal van Lasarus vir ons wil vertel.

Die kern van die verhaal

Die verhaal van Lasarus se opwekking is só opgeteken, dat die ontknoping daarvan in die gesprek met Marta en Maria, verse 20 tot 33, plaasvind.

Albei die susters glo dat Jesus Lasarus van die dood sou kon red: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie” (21, 32).  Jesus kon die dood van hulle broer voorkom.  “Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra” (22).  Trouens van die omstanders het Jesus verwyt dat hy dit nie gedoen het nie.  Het hy dan nie net tevore die blinde man genees nie.  Hoekom nie vir Lasarus ook nie?  Hy was dan sy vriend?

Maar, op só ’n wondergeloof sou Jesus nooit reageer nie.  Hy het dit telkens afgewys soos ons in die res van die evangelie lees (skare by die Paasfees – 2:23-25; Galileërs – 3:2-3; Jesus se broers – 7:3-7).  Jesus doen nie wonders omdat mense dit van Hom vra, soos hulle dit van ’n kunstenaar of ’n guru sou vra nie.  Daar is eintlik geen vertoon in sy optrede nie.  Hy gee net die teken van die kruis vir sulke mense, die teendeel van wat hulle vra, omdat Hy daardie spel nie speel nie.  Hy is nie daar vir die skares wat opgewonde wil raak oor die nuutste en die beste en die hoogste soos by ’n sportbyeenkoms nie.

Maar Marta en Maria se woorde getuig juis van hulle geloof en vertroue in Jesus, ook in ’n slegte situasie.  Dit kan Hy nooit net afmaak en ignoreer nie.  Dit is nie uit ongeloof nie, nie uit ’n wondergeloof nie, maar uit geloof dat hulle dié vrae vra en die geloof verwoord.

Maar hulle woorde verraai ook die konflik wat daar in hulle is.  Wat kan jy van God glo as dit hier diep binne-in jou so oorweldigend seer is?  Waarvoor kan jy vra?  Wat kan jy verwag van God in die diep slote van die lewe?

Kom ons kyk wat Jesus vir hulle doen:

Een:  Jesus bevestig en versterk hulle geloof

In Maria se diepste pyn sê Jesus dat pyn en verlies nie die laaste woord te sê het nie.  Die dood is nie die einde nie.  Trane is nie die finale werklikheid nie: “Jou broer sal uit die dood opstaan” (23).  Toe Maria hierdie woorde toepas op die opstanding op die laaste dag uit die dood, maak Jesus die betekenis wyer.  Opstanding is nie net deel van die eindtyd nie, maar ’n werklikheid wat reeds elke dag ervaar kan word.

Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe.  Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.  Glo jy dit?”

Jesus hanteer Marta se pyn deur dit aan die egte, rotsvaste basis van geloof vas te knoop.  Jesus self, en die lewe wat Hy bring, is die troos in die pyn van die doodsverlies. “Glo jy dit, Marta?”  Dan haar antwoord “Ja, Here, ek glo as dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (27)

Dis nie die intensiteit van Marta se geloof wat so belangrik is nie.  Die fokus, die anker van die geloof, Jesus self, is die bron van troos.

En onthou, dit sê Jesus voordat Hy Lasarus uit die dood opwek.  Hy bevestig hulle geloof voordat hulle enigiets kan sien wat vir hulle ’n bewys sou kon wees van die krag van hulle geloof.  Om die waarheid te sê, daarmee sê Jesus juis dat daar geen krag in die geloof as sodanig is nie, maar in die Een in wie geglo word.  Dit is Hy wat geloof sy krag gee.  Dit is uit Hom wat daar krag uitgaan wat genesing en wonderwerke bring.  Dit is wanneer jy aan Hom vashou, dat jy bevestig word, voordat jy enigiets sien, en voordat daar enigiets gebeur.

Geloof is nie verniet die hoop op die dinge wat ons nie sien nie, soos Hebreërs 11 dit so pragtig sê nie.  Dit is ’n bewys van dinge wat nog moet gebeur, of die oortuiging van dinge wat nog geopenbaar moet word, voordat jy en ander dit kan sien.

En dit is dié geloof wat Jesus bevestig en versterk.

Daar is ook ’n tweede manier waarop Jesus help:

Twee: Jesus huil

Jesus betoon egte menslike meelewing in Marta en Maria se hartseer. Eerder as om lang, teologiese verduidelikings te gee, huil Jesus saam met hulle.  Jesus probeer nie allerhande verklarings gee oor lyding in die algemeen, of oor die rede agter Lasarus se dood nie, hoewel Johannes ons reeds daaroor ingelig het aan die begin van die verhaal en aan die einde dit weer sal herhaal.  Dit gaan oor God se werke wat hier sigbaar gaan word.

Maar Jesus sê dit nie vir haar nie.  Hy leer haar nie in dié situasie nie.  Nee, hy huil omdat Marta en Maria huil, en Hy huil saam met hulle as hulle vriende.  Goeie raad vir enigeen van ons wat met die dood gekonfronteer word.  Geen wonder dat in sommige kulture mense gehuur word om te huil nie … want dit is wat jy doen wanneer jy mense bystaan.

En let op, hierdie trane van Jesus is egte trane.  Een verklaring van die Griekse woord wat hier vir Jesus se trane gebruik word, is dat Hy “innerlik gegloei het van aandoening.”  Jesus tree nie hier soos ’n Superman op wat ’n kitsoplossing vir elke probleem het nie.  Hy vee nie die egte menslike smart uit die pad met ’n goedkoop “toemaar” nie.

In sy trane word Jesus op ’n baie diep vlak vir Maria en Marta ’n medemens wat hulle pyn help dra.

Daar is natuurlik ook  ’n dieper rede waarom Jesus huil.  Hy huil nie net omdat Hy met hulle meegevoel het nie.  Jan du Rand sê Jesus se hartseer strek verder as net ’n meelewing met Lasarus se dood.  Jesus staan voor die dood as manifestasie van die mag van die Bose en weldra moet Hy met sy eie lewe die hoogste offer betaal om juis die mag van die lig te laat seëvier oor die Bose.

Jesus huil dus ook oor sy eie naderende dood.  Hy weet Hy kan en gaan Lasarus opwek.  Hy weet Hy self gaan opgewek word uit die dood.  Maar Hy sal eers self die pyn van die dood moet ervaar. Hy kan dit nie systap nie.

En daar is waarskynlik nog ’n rede.  Hy weet ook dat Hy Lasarus kan en gaan opwek, maar dat dit nie vir ewig kon wees nie, ten minste nie toe nie.  Die dood sou eers volledig oorwin word met sy eie dood en opstanding en finaal met die wederkoms wanneer dit ook vir alle gelowiges ’n werklikheid sal word.

Lasarus sou dus weer sterf, en eers aan die einde van die tyd die finale opwekking beleef.  Trouens, ons lees na sy opwekking, dat die Jode besluit om hom dood te maak (12:10), omdat daar so baie oor sy opwekking gesels is, en dit so baie mense in Jesus laat glo het.  Jesus weet dit, en Hy huil oor die verydeling en die verganklikheid, en weet dat Sy wonderwerk dit nie kan uitwis nie … nie toe nie.

Sy opwekking sou dus net ’n teken wees van God se mag, ’n teken wat wel wonderlik goed sou wees, maar Lasarus nie van alle smart en pyn kon bewaar nie, ook nie dié wat die Jode vir hom hierna beplan nie.

Maar, dit is tog dan die derde manier waarop Jesus help, Hy wek Lasarus juis uit die dood op.

Drie: Jesus wek Lasarus op uit die dood

En dit is belangrik om te verstaan: Jesus wek hom nie uit die dood op, 1) alleenlik ter wille van hulle en hulle smart nie, 2) nie net om aan hulle die gawe van die lewe te gee nie, maar 3) om God se krag en heerlikheid te wys.

Met hierdie opwekking van Lasarus uit die dood, herinner Jesus ons aan wie Hy is.  Hy is die Gestuurde van die Vader.  Hy het gekom om lewe te bring.  Hy is die Goeie Herder.  Daarom roep Hy kragtig na Lasarus in vers 43.  En Lasarus staan op uit die dood.  Want dit is God wat met hom praat.

Dit is belangrik om raak te sien dat Johannes die gebeure van Lasarus se opwekking omraam met die verwysings na die wonderbaarlike mag van God aan die begin en die einde van hierdie gedeelte.

  • In vers 4 hoor Jesus die nuus van Lasarus se siekte en sê dan: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”
  • Hierdie woorde kom weer aan die einde, in vers 40, op ’n kragtige manier na vore: “As jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien.”

Lasarus se opwekking bevestig daarom die waarheid van Jesus se woorde.  Lasarus word opgewek, sodat ons die krag van God kan sien, en kan weet die kragtige woord van God, wat tot lewe wek, is ook op ons van toepassing.

Vier: Jesus gee die lewe

Die opwekking van Lasarus hou ook verband met ’n ander “Ek is”-uitspraak van Jesus, die een in hoofstuk 10: “Ek is die goeie herder” (10:11,14).  Van die Goeie Herder word daar gesê dat Hy die lewe gee en dit in oorvloed.

En dit is presies wat ’n mens in hoofstuk 11 sien – Die Goeie Herder kan selfs sy skape uit die dood uit opwek, selfs wanneer hulle reeds gesterf het.  Dit is die hoop waarmee ons leef, dat die dood nie meer ’n finale gordyn is vir ons nie; dat daar lewe anderkant die grens van die dood is; dat ons sal lewe al het ons ook gesterwe, soos ’n Lasarus.

Toepassing

Wat sê dit dus vir ons vandag?  Wat kan ons van God verwag?  Wat kan ons van Hom vra in ons nood?  En waarop kan ons staatmaak in sy antwoord aan ons?

  1. Dat Hy ons in ons geloof sal bevestig en versterk. Daar is ’n tipe geloof wat nodig is vir ons waar ’n mens vashou sonder dat jy sien.  Hebreërs 11 praat van mense wat gekry het waarop hulle hul geloof gerig het – en dit is fantasties.  EN hy praat van mense wat nie gekry het waarop hulle hul geloof gerig het nie – en dit is ook fantasties.

Albei dié groepe gelowiges word geprys en as helde van die geloof vereer. Hoekom?  Nogtans sal ek jubel … sê Habakuk.  Dit is hoe God lief het, nogtans sal Ek jubel oor jou, al is jy van klei aan mekaar gesit.  Dit is hoe ons God lief het, al is ons wie ons is, en al gebeur wat ook al.  Dit is ’n keuse wat gemaak word, al gaan alles verkeerd.  Dit is die tipe geloof van ’n Daniël in die oond van vuur – my God kan my uit hierdie oond red, selfs al sou Hy nie, sal ek steeds aan Hom bly vasklou.  Hoekom?  Want Hy is die moeite werd om te vertrou.

  1. Dat Hy saam met ons huil. Ek weet nie hoe dit jou raak nie, maar dit is vir my miskien die grootste troos, dat Jesus nie onaangeraak is deur die dinge wat my seermaak of my hartseer maak nie.  Wanneer ek op my tande wil kners oor dinge wat verkeerd is, as ek uiters gefrustreerd raak met dinge wat nie reg uitwerk nie, as ek moedeloos raak oor my beste bedoelings en pogings nie goed genoeg is nie, as ek my hare uit my kop wil trek, as ek self nie regkry wat ek so hard probeer doen nie, wanneer ek wil veg met ander of wanneer ek wil vlug van myself – dan is Hy daar en wéét Hy wat ek voel en wat ek dink en hóé dit voel en hóé dit ’n mens raak.  En dit is eintlik al genoeg – dit is asof my binneste tot rus kom as ek weet dat Hy weet.
  2. Dat Hy vir ons wonders kan doen. God dank!  Hy doen vandag nog wonders!  Maar onthou, dit is nie voor die voet nie.  Dit is sodat sy mag en sy heerlikheid in hierdie wêreld onderstreep kan word. Daarom dat ons nie kan voorskryf nie, en nie kan verwyt nie.  Maar kan vra … en kan weet sy vrede sal ons harte en sinne bewaar in Christus Jesus soos Filippense 4 vir ons sê.  Dit moet ons nie angstig maak nie – ons mag vra … maar ook nie arrogant maak nie – God antwoord soos Hy wil.
  3. Dat Hy vir ons lewe gee. Dit is die hele idee van ’n Goeie Herder, Een wat weet wat sy skape nodig het EN daarin voorsien.  Ek het gekom dat julle die lewe sal hê en dit in oorvloed (10:10).  En dit is so wonderlik, as ek Filippense 4 weer kan intrek hier: dink aan alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – bring dit voor die Here en vra vir die oorvloed van lewe wat Hy belowe.  En Hy sal dit gee op maniere wat jou verstand te bowe sal gaan.

Daarom, kan ek net soos Jesus voor die graf gaan staan en vir Lasarus uitgeroep het, ook voor jou vandag kom staan, en net só vir jou roep: Lasarus kom uit.  En Hy het dit met ’n harde stem gedoen, sodat Lasarus kon hoor!  Hy roep jou tot lewe, ook nou.

En elkeen van ons wat glo, sal nou hierdie kragtige roep tot lewe hoor en daarop reageer.  Ons deel in Sy  geskenk van die lewe.  Die lewe breek reeds hier en nou vir ons aan, selfs al moet ons ook sterwe.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Koor: Lied 402:1,3,4 Die Heer het waarlik opgestaan

Slotsang

Lied 167 Jesus, bron van al my vreugde – staan

Seën

Amen

Lied 533 Stuur ons, Here (Koor is voorsangers)

Jesus sê … EK IS – Lydens- en Paassangdiens – 17 April 2011

Ek is die Goeie Herder

Liturg

Jesus het gesê: “Ek is die goeie herder.”

Ons doop vandag een van Jesus se skape – Dawid Fanus van Zyl (Louis en Madelize [LD, Jan-Hendrik])

Doop en Dankoffer

Dankoffer tydens die dooplied aan die einde van die doop

Gemeente: 288:1 Ons dank U, Heer, en bring U eer

Liturg

Sy herderskap beteken: “Hy lê sy lewe af vir sy skape.” (Joh 10:10).

Dit is die evangelie, die goeie nuus van die Goeie Herder wat sy lewe nie belangriker ag as dié van sy skape nie.  Hy het sy lewe vir ons afgelê.

Koor: Laat ons Heer u dood gedenk, lewe vind in u dood – Ave Verum Mozart

Ek is die brood wat lewe gee

 Liturg

En terwyl hulle eet met die laaste paasmaaltyd, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.’” (Matt 26:26).  Daarmee het Hy sy uitspraak vervul : “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” (Joh 6:35)

Gemeente: 399:1-2 Aan die tafel met die Paasmaal, breek die Here self die brood: Dis my liggaam, dis vir julle

Ek is die weg

Liturg

In Jesus se afskeidsgesprekke in Johannes 14-17 praat Jesus indringend oor sy kruisdood.  En Hy spel uit dat Hy die weg, en die waarheid en die lewe is (Joh 14:6).  En Hy illustreer dit deur op te staan van die Nagmaalstafel en deur die worsteling van Getsemane die weg na God vir ons te word.

Koor: Bly by my en waak hier met my

Liturg

Petrus, ons lees dat jy en Johannes en Jakobus in die tuin van Getsemane uitgekies is deur Jesus om saam met Hom te bid in sy worsteling met die pad wat Hy moes gaan.  Maar julle het dit baie moeilik gevind om saam met Hom te bid.  Was julle net baie vaak?

Petrus

Ons het ’n besige program gehad daardie laaste week.  Elke dag het Jesus in die tempel met die mense gesels.  En deurentyd het Hy ook vir ons geleer oor sy naderende lyding en dood.  Nie dat ons toe baie daarvan begryp het nie.  En met die Paasmaaltyd – die vleis, die verskillende bekers wyn – was dit alreeds moeilik om wakker te bly.  Maar dit was asof ons ook nie geweet het hoe ons moet bid nie.  Jesus was so doodsbenoud, so ontsteld, so beangs – maar tog het ons steeds so min verstaan van wat regtig aan die gang was.  As ons maar geweet het.  Maar as ’n mens nie met insig bid nie, oorval die vaak jou so ongemerk.  Ons kon dit nie keer nie.

Liturg

Die wonder is dat Hy deurgedruk het, en dit bring vir ons die lewe.

Koor: O my Vader laat hierdie beker by my verbygaan

Ek is die waarheid

Liturg

Wanneer Jesus voor Pilatus in die beskuldigingsbank staan, verdedig Hy Homself nie teen die beskuldigings van die Joodse Raad nie.  Hy wat die waarheid is, word in die rug gesteek en verraai deur dié mense wat vir die waarheid moes opkom.  Maar deur sy dood verlos Hy ons juis van alle valsheid en vertoon.  En kan ons God die Vader nou self in waarheid aanbid.

Liturg

Pilatus, jy het tog duidelik te kenne gegee dat jy geen skuld in Jesus gevind het nie.  Hoekom het jy jou deur die Joodse Raad in ’n skuldigbevinding laat inboelie en nie vir die waarheid opgekom nie?

Pilatus

Wel, ek weet nou nie van inboelie nie.  Ek dink dit is nie soseer ’n geval van die waarheid wat gesneuwel het nie, eerder ’n geval van verkeerde keuses wat geseëvier het.  As Jesus net homself sou verdedig het, my iets gegee het waarmee ek die aanklagte teen hom kon afweer!  Dan sou hy vry gewees het.  Maar hy het net daar gestaan, niks gesê nie, en my daarom niks gegee om mee te werk nie.  In ’n sekere sin het hy dus sy eie dood veroorsaak.  As die skare ook net so ’n bietjie meer intelligent was. Ek dog my troefkaart sou briljant werk.  Ek het immers elke Paasfees iemand kwytgeskeld, en het regtig gedink dat die skare eerder vir Jesus as vir Barabbas sou kies, maar helaas.  Toe hulle so oproerig raak, het ek besef ek moet dit onder beheer bring, anders sal ek uiteindelik vir ’n opstand verantwoordelik gehou word.  En ek het hulle gegee wat hulle gevra het: die lewe van Jesus.  Ironies dat hy daardeur presies bereik het waarvoor hy volgens julle gestuur is.  Miskien gee ek hom dus nie genoeg krediet vir die waarheid nie.

Liturg

Die genade is dat Hy ten spyte van ons eie gebreke vir elkeen wat in Hom glo, die waarheid word.

Koor: Kruisig Hom!

Ek is die lewe

Liturg

Terwyl Jesus aan die kruis hang om die prys vir ons sondes te betaal, illustreer Hy dat Hy die lewe is.  ’n Moordenaar hang saam met Hom en neem sy toevlug tot Jesus, selfs al is hy op sy laaste.

Koor: Jesus o dink aan my

Liturg

Ons ken jou net as die moordenaar aan die kruis.  Wat het deur jou kop gegaan toe jy dié man Jesus langs jou sien hang?

Moordenaar

Wel, ek kon net sien dat Hy anders was.  Sy geduld selfs in die pyn en die worsteling het my aangespreek.  Dat Hy boonop nog aan ander gedink het, soos aan sy ma, en die een dissipel gevra het om na haar te kyk na sy dood, dit het my baie beïndruk.  En hoe Hy met Sy Vader gepraat het om sy vyande te vergewe – dit was die finale stukkie wat my oortuig het, dié man is van God af.  Daarom het ek Hom gevra om aan my te dink as Hy in sy koninkryk kom.  En aan die einde van my lewe kry ek toe die boodskap dat daar ’n paradys vir my wag.  Praat van ’n lewenslyn!  Ek was so bly, al moes ek nog eers die pad van die kruis voltooi.

Liturg

Liewer laat as nooit – want Hy is die lewe en dit in ’n oortreffende trap.

Solis: Pie Jesu (G Fauré)

399:4-5 Na ‘n nag van ondervraging – in die pyn, daar aan die kruishout

Ek is die opstanding

Liturg

Die spits van die verhaal van Jesus lê in die opstanding.  Jesus het reeds by die opwekking van Lasarus gesê: ““Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. ” (Joh 11:25-26)  Maar sy eie  leë graf span die kroon op sy bediening en betekenis vir ons.

Solis: Moenie skrik nie

Liturg

Maria, die oggend toe julle by die graf kom om Jesus met die reukolie te salf, was julle totaal uit die veld geslaan toe die graf leeg is.  Geen wonder die engele het vir julle gesê om nie te skrik nie!  Julle het seker nie geweet wat om daarvan te dink nie?

Maria

Ja, ons was totaal verskrik.  Want jy moet onthou, ons het wel die opwekking van Lasarus ervaar, en dit was al wonderlik.  Maar, dit was Jesus wat hom opgewek het.  Hoe kon Hy Homself opwek?  Ons was baie verward.  En toe die leë graf.  Ons het nie geweet wat om daarmee te maak nie.  En om toe nog die opdrag te hoor om die ander daarvan te gaan vertel.  Dit was amper te veel om te verteer.  Die mans het per slot van rekening nie graag na ons vrouens geluister nie. Wat sou hulle sê as ons met dié storie by hulle aankom?  Maar, dit was darem net kortstondig – die feit dat Jesus lewe was so oorweldigend.  Ons sou in elk geval nie kon stilbly nie.  Dit was net te groot en te goeie nuus – selfs al het Petrus en die ander ons nie onmiddellik geglo nie.

Liturg

Dit is aan mense soos jy te danke, dat ons kan glo – al moes jy ook eers die ongeloof van jou mense trotseer.  Mag ons self in hierdie oortuiging van Jesus se opstanding vasstaan.

Koor: Die Heer het waarlik opgestaan

Vonkk 5 Vreugde! Vreugde!

Liturg

Tomas, jou storie word vandag nog vertel, hoe jy getwyfel het in die opstanding, en eers jou vinger in die gate in sy hande en jou hand in sy sy wou steek voordat jy sou glo.  Het jy dit toe uiteindelik gedoen?

Tomas

Nee, ek het nie kans gesien daarvoor nie.  Ek bedoel, wat sou jy gedoen het?  Ek het eintlik nie geweet waar om my kop in te steek nie!  Ek was net oorbluf, heeltemal oorweldig, en in my het daar net hierdie refrein gemaal: “My Here en my God!” En voor ek my kon kry, het ek dit ook vir Hom gesê.  En dit was asof my hele binneste tot rus gekom het.  Al my vrae en al my twyfel het gaan lê.  Want hier staan Jesus in al sy heerlikheid, as God, voor my.  Ek kon niks anders doen as om Hom te aanbid nie.  En my te verwonder oor sy genade wat ook vir my, ’n twyfelaar, genoeg was.

Liturg

Ek geniet jou storie regtig, want as Jesus soveel moeite met jou gedoen het, is daar hoop vir ons ook.

Koor: Christus het waarlik opgestaan

Koor: Kom laat ons almal vrolik

Liturg

Hierdie greep van 24 uur uit Jesus se lewe het die wêreld verander, vir altyd.

Hy het Homself bekendgestel as die Goeie Herder wat sy lewe aflê vir sy skape.  Ons doop herinner ons daaraan dat Hy dit ook vir ons gedoen het.

Hy het Homself bewys as die weg en die waarheid en die lewe.  Pilatus het dit teengestaan en homself uitgeskryf uit die storie uit.  Petrus het gevou onder die druk van die oomblik, maar toegelaat dat Jesus hom weer terugskryf in die storie na die opstanding.  Die moordenaar aan die kruis het ’n gaping gesien in sy doodsworsteling en met sy vertroue in Jesus deel van Sy storie geword.

Die toppunt van alles is dat Jesus die opstanding en die lewe geword het met sy leë graf.  Hy het aan Maria Magdalena verskyn en sy het in geloof gereageer.  Selfs ’n twyfelende Tomas kon sy opgestane teenwoordigheid nie weerstaan nie.

Jy het ’n keuse: Weerstaan Hom soos ’n Pilatus, en jy skryf jou uit die storie uit, en uit die ervaring van die vrede en vreugde wat net Hy kan gee.  Laat Hy jou lewe bepaal – en jy sal die vreugde van sy teenwoordigheid ervaar, soos ’n Petrus, soos ’n moordenaar, soos ’n Maria, soos ’n Tomas.  Hy sal vir jou die brood wees wat lewe gee.

En ons kan ons keuse uitoefen met sang – dit is ons getuienis

Koor: Daar klink ’n lied

414 Juig verlostes, juig en sing

Liturg

Seën en amen

Jesaja 52:13-53:12 – Erediens: Goeie Vrydag

Aanbidding

387:1-4 O Heer, uit bloed en wonde

391:1,3,5 Vervul, o Heer, my hart

395:1-3 My  Verlosser aan die kruis

Jesaja 52:13-53:12

Woordverkondiging

Fynbos groei in ’n strook van 100 tot 200 km wyd, al teen die kus af vanaf Clanwilliam aan die Weskus tot hier by Port Elizabeth.  Dit is deel van die sogenaamde Kaapse Blommeryk.

Van die ses blommeryke wat oor die wêreld voorkom, is die Kaapse Blommeryk die kleinste, maar beskik oor die grootste variëteit per oppervlakeenheid.  Meer as 9,000 plantspesies kom hier voor, waarvan ongeveer 6,200 spesies uniek aan dié area is.  Dit kom regtig nêrens anders ter wêreld voor nie.

Die term fynbos is ontleen aan die fyn, naaldagtige blaartjies van baie van die plantspesies in dié gebied, bv. die Proteas en die Erikas.

Vuur in die vorm van veldbrande vorm ’n noodsaaklike fase in die lewensiklus van byna alle fynbos.  Baie van die saad ontkiem slegs na die intense hitte van ’n veldbrand.  Spesifiek met hierdie doel in gedagte dra Proteas hul sade aan die plant vir minstens ’n jaar.  Ander fynbos dra hul sade in ’n vorm wat aantreklik vir miere is, sodat die miere die saadjies in hul hope stoor, waar dit beskerm is teen die hitte van die veldbrand.  Dit PowerPoint het juis ‘n foto van só ‘n brand teen die hange van Duiwelspiek in 2008 (Kaapstad).

Die smeltkroes van vuur is verantwoordelik vir die ryk plantelewe in Kaapse fynbos.  Wanneer vuur die veld swart en verwoes agterlaat, lyk dit asof verwoesting aan die wenkant is.  Die swart geskroeide aarde dek egter die tafel vir die wonderbaarlike skoonheid van die fynbosveld.

Uit die pyn en verwoesting van vuur, word skoonheid gebore.  Verbasend, maar waar.

Verrassende skoonheid

Jesaja 53:2 laat ons in geen twyfel oor die voorkoms van die dienaar van die Here nie:

Die dienaar was soos ’n loot wat voor die Here uitspruit, soos ’n plant wat wortel skiet in droë grond.  Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

Die dienaar van die Here was – om presies te wees – misvormd, sodat hy nie langer soos ’n mens gelyk het nie (52:14).  Hy het nie skoonheid of prag gehad nie (53:2).  Hy was verag en deur mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie mense die gesig wegdraai.  Hy was verag, ons het hom nie gereken nie ((53:3)

Tóg het daar uit die veragte dienaar genesing en herstel gekom.  Uit die smeltkroes van die dienaar se lyding, het daar verrassende skoonheid en seën vir ons gekom!

Verwerp en verstoot

Die hele Israel het ’n Messias verwag.  Regdeur Jesus se bediening was daar mense wat Hom as die Messias bely het.  Tog was dit vir almal ondenkbaar dat die Messias moes ly en sterf.  Vir ’n lydende Messias was daar onder die gelowiges van Jesus se tyd nie ruimte nie.  Daarom lees ons dat Jesus deur Petrus bestraf word wanneer Hy sy lyding en dood aankondig (vergelyk bv. Matt 16:31-33).

Hierdie ontsteltenis en verbasing  word reeds deur die lied in Jesaja 52 en 53 verwoord.  Baie mense sou ontsteld wees oor die lyding wat die dienaar van die Here misvorm.  Baie mense sou verbaas wees, want die dienaar is ’n lydende dienaar.  Die hoop en lewe wat die dienaar bring, sê Jesaja, word uit lyding gebore (52:14-15).  Die dienaar dra die verlossing wat die Here gee, maar mense sal dit nie herken nie.  Die voorkoms van die dienaar, sy smart en lyding, sal hulle mislei.

Hierdie woorde pas presies op die verwerping wat Jesus van Nasaret moes deurleef.   Mense hét Hom só hanteer.

En laat ons nie te gou met veroordeling vir hulle stiksienigheid kom nie.  Ons sou waarskynlik Hom ook só hanteer as ons daar was.  Verloën het soos ’n Petrus.  Weggehardloop het soos die dissipels.  Die hand wat die spykers ingeslaan het, sou ons hand kon wees.  Ons het die kapasiteit om Hom te verraai of te verloën.  Ons sou waarskynlik ook ons koppe wegdraai.  Behalwe vir ’n paar vroue by die kruis, en waarskynlik ’n Johannes, was Hy alleen in sy doodsworsteling.

In ons plek

Hoekom doen Jesus dit?  Jesaja sê, omdat Hy óns sonde op Hom geneem het (53:4-5):

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra … Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom…

Óns het gedwaal soos skape … en Hy is in ons plek mishandel.
Ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom (53:6).

In ’n stygende crescendo word beskryf hoedat die Dienaar van die Here ons sonde op Hom geneem het.  Dit vervul ’n mens met verstomming.  En met dankbaarheid en verwondering.

’n Verrassing uit die smeltkroes

Wanneer ’n verwoestende veldbrand die aarde swart geskroei het, word mens verras deur die eerste tekens van nuwe lewe.

Net so bring die straf en verwoesting van die Dienaar nuwe lewe voort vir diegene wat op Hom ingeplant word.

Die verwondering dat daar deur die lyding van Een genesing vir baie kom, is ’n stygende lyn wat in ons teks oorgaan in nóg ’n magtige crescendo:

  • Deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom (5);
  • Hy gee sy lewe en skuldoffer en verkry so ’n nageslag en ’n lang lewe (10)
  • Hy maak baie mense regverdig (11)
  • Hy gee hom in die dood oor en vier daarom die oorwinning saam met magtiges (12)

Uit die dood kom nuwe lewe.

Goeie Vrydag bring ons voor hierdie wonderlike misterie te staan.  Wie kan die weë van die Here deurgrond dat ons rasioneel kan uitspel hoe die versoening wat die Dienaar verkry, werk?  Ons kan nie.  Maar die versoening is ’n saak vir geloof.  Deur sy dood kom daar vir ons lewe.  Die smeltkroes waardeur Hy moes gaan, is ons bron van lewe.

Lof en aanbidding

Die styl waarin die Dienaar ly, is verstommend.  Soos ’n lam ter slagting en ’n skaap wat geskeer word, het Hy nie gekla nie.  Terwyl Hy mishandel is, het Hy geduldig gebly en nie gekla nie (7).

Vir die Nuwe Testament is hierdie vrywillige, liefdevolle selfoorgawe van die Lam ’n bron van lof en aanbidding.  Uit eie keuse en gedryf deur liefde neem die Lam ons sonde op Hom, soos Johannes in Openbaring skryf:

Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en die rykdom, die wysheid en die sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer,  die heerlikheid en die krag,  tot in alle ewigheid. (Open. 5)

Goeie Vrydag staan in die somber teken van die dood van die Here Jesus aan die kruis.  Ons is stil voor die Here, want dit is ons sonde wat sy dood gekos het.  Hy is verwerp vanweë ons oortredinge.

Tog is dit ook ’n dag waarop ons in Christus kan roem, die Een wat as dienaar van die Here vrywillig in ons plek, en vir ons, gesterf het.

Ons bring ook dank aan die Vader wat sy Seun ter wille van ons oorgegee het.  Presies hoe die logika van die versoening werk, is nie duidelik nie.  Ons versoening in Christus is ’n plan wat nie in ‘n menslike hart opgekom het nie.  Tog is dit die wil van die Here God om ons sonde op die Here Jesus te laat neerkom.  God die Vader se regverdige oordeel kom op Christus neer, en so kom daar versoening vir ons sonde.

Die vuur van lyding wat Christus tref, bring vir ons wonderbaarlike insluiting in die pragtige koninkryk van God.

Daarvoor loof ons Vader, Seun en Heilige Gees.

Met die oog op die ereplek

Christus se lyding as dienaar van die Here loop uit op heerlikheid (53:12):

Daarom gee Ek hom ’n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.

Die Nuwe Testament sluit by hierdie tema aan:

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. (Fil 2:8-11)

Christus kon ly, omdat die heerlikheid wat die Vader gee Hom gedra het.

Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God (Hebreërs 12:2).

Ons eie lyding

Die volk van God, die Here se kerk, is ook ’n dienaar van die Here.  Ons loop vandag ook langs paaie van gehoorsaamheid wat vir ons lyding inhou.

Soms bring ons hierdie lyding oor onsself vanweë ons eie sonde, soos Israel destyds.  Dan verdra ons die lyding as die opvoeding van die Here.  Soms ly ons vanweë gehoorsaamheid aan die Here.  Daardie lyding geskied onder die belofte van God se seën en oorwinning.

Laat ons in alles die geduldige en gewillige lyding van Christus voor oë hou. Soos Hebreërs 12:3 sê:

Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie (Hebreërs 12:3).

Ons hoop is die misterie van die vuur wat geboorte gee aan wonderbaarlike lewe.

Nagmaal

303 Eet die brood

Alternatiewe Nagmaal Formulier

(Verwerk deur Marius Lourens, gebaseer op hoofstuk 10 (p113 vv) van Piet Naudé se boek “Brug na môre”, 1994: Lux Verbi, Kaapstad.)

God het geweet dat dit vir ons as mense uiters moeilik is om entoesiasties te bly in die geloof. Daarom het Hy vir ons die Nagmaal gegee, en die tekens van die brood en die wyn, om ons te herinner aan die Here Jesus se liggaam wat vir ons gebreek is, en sy bloed wat vir ons gevloei het.  Want God het geweet, as ons siele nie gevoed word nie, en ons as mense nie goed eet en drink nie, dan is dit vir ons moeilik om in ‘n feestelike stemming te bly.  En daarom gee Hy vir ons die brood van die kruis om ons lam knieë sterker te maak, en streel Hy ons kele met die wyn van die kruis, om ons droë kele te lawe sodat ons nie van uitputting omkom nie.

Daarom, wanneer die feesgangers bymekaar is, moet ons die brood neem en die wyn drink en moet ons ons oë rig op die ewige feesmaal, en dan sien ons ‘n onbeskryflike mooi gesig, en tussen die feesgangers staan die Lam van God. Hy het die kruis wat op die heuwel geplant was uit die grond getrek, en Hy neem dit in Sy hand, en dit word die Groot Komponis se dirigeerstok waarmee Hy die maat aandui…  En so begelei die kruis ons van noot tot noot, van maatstreep tot maatstreep, totdat ons lied saamvloei in een magtige akkoord aan die voete van die Lam: SACTUS DOMINUM: Heilig is die Here God.

Slotlied

384 Jesus, o dink aan my

Gemeente verlaat die kerk in stilte, sonder die seëngroet of orrelspel

Kolossense 3:1-17 – Erediens: Paassondag – 24 April 2011

Liturgie

Lofsang

409:1,2 Hoor jy die Paasfeesklokke?

420:1,2 Daar klink ’n lied, daar juig ’n stem

421:1,2 Die Here Jesus lewe

Doop

Liam van Eyk (Jacques en Tracey)

288:1,3 Ons dan U, Heer, en bring U eer

Kolossense 3:1-17

Ek het aanvanklik gedink om net by die leesrooster teks vir vandag te bly – Kolossense 3:1-4 – maar in my voorbereiding net besef dat vers 5-17, en eintlik die hele res van die brief, so ’n integrale uitspel is van die beginsels wat in vers 1-4 aangeraak word, dat ’n mens nie net die vier verse kan lees nie.  Daarom gaan ek vers 16-17 ook lees, omdat dit die praktiese uitlewing van verse 1-4 uitspel.  Vers 12-15 is net so belangrik, maar dit het meer met ons onderlinge geloofsgemeenskap te make, wat ek op ’n ander dag weer sal beklemtoon.

1 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2 Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3 want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel …

16 Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17 En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Woordverkondiging

Dit is ongelooflik hoe een enkel gebeurtenis die wêreld kan verander.

1994 was ’n jaar van 2 sulke gebeurtenisse:

  • Dit was die jaar van die eerste volle demokratiese verkiesing wat in Suid-Afrika gehou is, wat die wyse waarop mense in hierdie land met mekaar saamleef, vir altyd verander het.  Baie sal sê dit was goed, sommige sal sê dit was sleg, maar niemand sal kan sê, dit het nie dinge verander nie.
  • En dit is die jaar wat selfone ons land getref het, en vir altyd die wyse waarop mense met mekaar kommunikeer verander het.  Die eerste voorspellings was natuurlik dat daar na 10 jaar net 250 000 gebruikers sou wees.  In die eerste maand, Julie, het Vodacom reeds 50 000 gebruikers gehad, en teen die einde van daardie jaar, 140 000.  En dan tel ’n mens nie eers MTN se gebruikers nie.  Vandag is daar omtrent ’n selfoon vir elke inwoner van Suid-Afrika, meer as 45 miljoen!

’n Enkel gebeurtenis kan ’n land en ’n wêreld verander!

Christus is opgewek uit die dood

So ’n gebeurtenis is ook die opstanding van Jesus Christus uit die dood.  Op Paassondag amper 2000 jaar gelede is Jesus Christus opgewek uit die dood (ongeveer 27 vC van ons jaartelling).  En dit het ons lewe totaal verander.  Nie net die lewe van 45 miljoen mense nie, maar inderdaad biljoene, selfs nie net dié wat vandag lewe nie, maar dié wat voor Hom gelewe het, en dié wat nog kom.  Voorwaar ’n verandering wat die wêreld verander het.

Die opstanding van Christus was `n eiesoortige historiese daad van God, iets wat totaal buite ons toedoen om gebeur het. Hoe dit presies gebeur het, is deels ’n misterie – daar was niemand wat Jesus se opstanding as sodanig gesien het nie – en deels ’n historiese verifieerbare feit – daar was honderde wat die leë graf gesien het, meer nog, wat Hóm gesien het en in Hom dieselfde persoon herken het as wat hulle aan die kruis vasgespyker gesien het.

  • Maar die gebeurtenis het nie net ’n verskil gemaak aan hoe ons met mekaar saamleef nie – hoewel dit ’n belangrike invloed daarop het.
  • Dit het nie net ’n verskil gemaak aan hoe ons met mekaar kommunikeer nie – hoewel dit verseker ook ’n groot impak het daarop.
  • Dit het ’n verskil gemaak aan hoe ons met God saamleef en met Hom kommunikeer. Dit het ons verhouding met Hom verander, vir altyd.

Dit is die blye boodskap van hierdie Paassondag.  Jesus het opgestaan. Die dood is oorwin. Maran-ata!

Meer nog, Hy het ook opgevaar na die hemel, en sit aan die regterhand van God die Vader, soos Paulus hier sê, en belowe dat Hy weer sal kom.

En as waarborg daarvan het Hy ons sy Gees gegee wat volgens Paulus drie geloofsfeite lewend in ons hou.

Geloofsfeit EEN: Ons is saam met Christus uit die dood opgewek

Die wonder van Paulus se boodskap, is dat hy hierdie feit ook op ons, wat in Christus glo, en aan Hom verbind is, van toepassing maak.  Soos in sy brief aan die Romeine, sê Paulus, ons is saam met Christus uit die dood opgewek.  Wat van Christus waar is, is ook van ons waar.  Ons hoef nie daaraan te werk om hopelik eendag uit die dood op te staan nie.  Al leef ons hier nog duskant die dood: in Christus het ons reeds deel gekry aan die opstanding uit die dood.

Dit beteken dat die ou lewe, die sondige lewe, nie meer ’n houvas op ons het nie.  Ons is dood – in Christus – vir hierdie wêreld.  Die ou raamwerke het hulle greep op ons verloor.  Ons is dood daarvoor.  Die doodsbestaan het nie langer mag oor ons nie.

Geloofsfeit TWEE: Ons lewe is saam met Christus verborge in God

Nog meer as dit: ons lewe is nou saam met Christus verborge in God.

Dit is vir my ’n ongelooflik gedagte.  Omdat Christus nou aan die regterhand van God sit, hou Hy ons lewe daar in veilige bewaring.  Ons is nie net deur Hom verteenwoordig by God nie.  In ’n baie spesifieke sin is ons self teenwoordig by God – in Christus.

Wat beteken, ons het hier en nou reeds die ewige lewe – om God te ken, is immers die ewige lewe soos Jesus ons in Johannes 17 geleer het – EN ons lewe is vir ewig veilig in die hemelse bank, daar waar Christus dit weggebêre het en dit met sy lewe bewaar.  Ons lewe, nou en vir ewig,  is dus weggebêre saam met Christus by God. Daarom is ons lewe in Christus onwankelbaar, vas en seker, geborge.

Dit is ’n ongelooflike troos, vir onsself, en vir ons geliefdes.

Maar die beste is:

Geloofsfeit DRIE: Christus sal in heerlikheid by sy wederkoms verskyn, en ons saam met Hom

Wanneer Christus, wat ons lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal ons ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.  Ons geloof in Hom sal eendag bevestig word. Ons sal saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid, oorwinning, heerskappy en koningskap deel, as ons erfenis saam met Hom. Dit is ons hoop.

Hierdie drie lewensveranderende geloofsfeite gee vir ons ’n nuwe raamwerk waarbinne ons oor ons lewens kan dink.  Dit is nie ’n mog ‘t troffe, hoop-vir-die-beste, poginkie tot geloofsoptimisme nie.  Christus het dit vir ons, in ons en aan ons gedoen.  Hy het ons lewe onherroeplik verander.

Dit het die oriëntasiepunt vir ons lewe geword.

Strewe na die dinge daarbo

Dit is waarom Paulus die gemeente van Kolosse oproep om te strewe na die dinge daarbo waar Christus is, en hulle gedagtes te rig op die dinge daarbo waar Christus is.

Sien, die opstanding is iets wat God vir ons gedoen het.  Dit het buite ons beheer gebeur.  Ons kon dit nie self bewerk nie. God het dit vir ons gedoen.

Maar daar is ook iets wat ons moet doen. Ons moet in ons strewe en in ons gedagtes die opgestane Christus ons oriëntasiepunt maak.

Dit beteken nie wêreldvermyding nie

“Daarbo”, die dinge “daarbo waar Christus is” moenie in ’n ruimtelike sin verstaan word nie.  Paulus sê nie ons moet onsself los dink van die wêreld en wegvlug na ’n geestelike wêreld nie.  Hy bedoel nie ons moet hierdie wêreld vermy nie.

Christus se storie moet my storie raak

“Daarbo” wil sê ons moet ons lewens laat rig en laat beheer deur die dinge wat Christus ons geleer het.  Christus se storie is my storie. Ék het gesterwe saam met Christus, en is opgewek saam met Christus.  Mý lewe is in Christus veilig weggebêre by God.  Ék sal in Christus se heerlikheid deel …  en hoe dit vir my ’n lewende werklikheid bly, is as ék leef vanuit ’n fokus op Christus.

Dit is wat die beteken om te strewe na die dinge daarbo waar Christus is.

Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly

Ons kan nie verwag dat ons sal groei in ons geloof en dat ons die vrugte daarvan sal sien as ons geen tyd aan die verhouding met God spandeer nie en dink dat dit maar vanself moet gebeur nie.  Dit is immers hierdie verhouding wat so ingrypend deur die opstanding van Christus, en ons met Hom, verander is.  Dit is waaraan die opstanding ’n verskil gemaak het, die wyse waarop ons verhouding met God werk.

Paulus herinner ons hier daaraan dat `n mens kwalik kan groei in jou geloof of kan hoop om vrug te dra as jy nie aandag gee aan die dinge waarop jy jou gedagtes rig nie, dit wat jou gedagtes besig hou nie.  “Jy kan nie hoop om `n betekenisvolle verhouding met Christus te hê as jou hart en gedagtes ongedissiplineerd hardloop waar hulle wil en flirteer met enige inhoud of objek wat verby kom nie.” (Coenie Burger)

En die beste manier om dit ’n lewenstyl te maak, is deur praktiese geestelike gewoontes, dinge wat kan sorg dat “die boodskap van Christus in sy volle rykdom in julle bly”, soos Paulus dit ’n paar verse verder in vers 16-17 uitspel (vers 12-15 is net so belangrik, maar dit het meer met die onderlinge gemeenskap as sodanig te make, dinge soos meelewendheid en geduld).

Nou, dit is nie vandag die tyd of die plek om in te veel detail op die praktyk van sulke geestelike gewoontes uit te brei nie, maar luister net na die vier dinge wat Paulus sê die fokus op die boodskap van Christus prakties insluit:

  1. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid – dit is iets wat veral in die geestelike gewoonte van Bybelstudie wat ons in kleingroepe saam met mekaar doen, gebeur. Dit is die basis van ’n groeiende Christelike lewenstyl, ’n lewe wat gerig is op die dinge daarbo.  Geen groeiende Christen kan sonder só ’n groep wees nie.
  2. Sing tot eer van God – om psalms, en lofgesange en ander geestelike liedere te sing, en baie tyd daaraan af te staan, soos ons self doen in ons normale liturgie in ons eredienste en ook toenemend doen in die lof- en aanbiddingsessies van ons jongmense, is ’n ander geestelike gewoonte wat ons lewens fokus op Christus en die dinge daarbo.  Dit is moeilik om iemand te ignoreer tot Wie jy saam met ander lof- en aanbiddingsliedere sing.
  3. Sê en doen alles vir Christus – Paulus beskryf hier iets wat miskien die beste met Practicing the Presence of God, die bekende geestelike gewoonte van broer Lawrence, beoefen kan word – alles wat jy sê en doen bewustelik vir God te doen.  Hieruit het ander geestelike gewoontes gespruit, die daaglikse ondersoek, bv., waarin ’n mens elke dag nadink oor waar jy God ervaar het, wat ons lewens gefokus hou op Christus.  Dit moet eintlik ons lewensreël word, dié ding wat ons bo alles doen.
  4. Gebed – Paulus gebruik spesifiek die frase: “dank God die Vader deur Hom” om dit aan die vorige opdrag te koppel, wat ek met die geestelike gewoontes van die Practicing the Presence of God en die daaglikse ondersoek beskryf het.  Want dít is die punt van die daaglikse ondersoek, om die spore van God in jou lewe agter te kom en só jou gedagtes op Hom te fokus en Hom te dank vir wat Hy in jou lewe doen.  Dit is baie keer ook die begin van ’n publieke getuienis, nog ’n geestelike gewoonte, want waarvan die hart vol is, loop die mond van oor.

En hier moet ek myself stop, al het ek nog net begin om die eerste rimpelings te beskrywe van wat die impak van geestelike gewoontes op ’n mens se geestelike lewe kan wees.

Christus se storie moet jou storie raak.  Jy doen dit deur te strewe na die dinge daarbo, in die praktyk van jou lewe, en dit begin vandag, nie môre nie.

Ons lewe is saam met Christus verborge in God

Ek wil terugkeer na geloofsfeit drie en daarmee afsluit.  Dit is ’n wonderlike troosgedagte dat “ons lewe saam met Christus verborge is in God”.

Dit gee ons die diep troos dat ons Christus en al sy beloftes gerus kan vertrou en maar kan waag om Hom te gehoorsaam – al voel dit soms of ons ons lewens op die spel plaas en dit sou kon verloor!  Dit sal nie gebeur nie, want niemand kan buite God se wil om iets aan sy kinders doen nie.  Sekerlik kan ander nie ons lewens, die lewe, van ons wegneem nie. Want ons lewens is saam met Christus verborge in God!

Slotlied

414:1-2 Juig verlostes, juig en sing

Seën

228 Halleluja

Johannes 6 – Erediens: Ek is die brood wat lewe gee – 8 Mei 2011

Skriflesing

Die verhaal van die broodvermeerdering vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).

Die verhaallyn in hoofstuk 6 is as volg –1) Jesus vermeerder brood, 2) loop op die see, 3) verduidelik dat Hy die brood is wat lewe gee, en dan is daar verskillende reaksies onder 4) die Jode en 5) ook sy dissipels:

  • 6:1-15: Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig.

o   Interessant die verskillende reaksies van die dissipels:

o    Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, 5 garsbroodjies en 2 vissies, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie.  Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk.

o   Daar bly 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.

o   Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.

  • 6:16-21: Jesus loop op die see wat ’n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels.
  • 6:22-40: Jesus verduidelik dan dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus.  Hulle loop die gevaar om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Jesus is die brood wat lewe gee.
  • 6:41-59: Die Jode verstaan egter nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê.  Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word.  Dit is dié mense wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).
  • 6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie.  ’n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor.  Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees.  Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie.  Die gevolg is dat ’n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas Iskariot.  Geloof is inderdaad ’n geskenk wat God gee!

Dit is wat ons dan nou gaan lees:

60Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

61Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af? 62Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. 64Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.

65Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

66Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. 67Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

68Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. 69En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

70Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ’n duiwel!” 71Hy het Judas die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.

Woordverkondiging

Johannes vertel ons van sewe wondertekens wat Jesus voor sy kruis en opstanding doen.

  • Vier wondertekens het met genesings te make, waarvan een die opwekking van Lasarus uit die dood is.
  • Een wonderteken het met Sy mag oor die natuur te make, waar Jesus op die water loop.
  • En twee wondertekens het met alledaagse goed te make: water en brood.

o   In die eerste geval verander Jesus water in wyn toe sy familie en dissipels die begroting van die bruidegom onder druk plaas, en sy wyn opraak toe daar te veel mense saam met Jesus daar opdaag, en red die huweliksonthaal.

o   In die tweede geval vermeerder Jesus die 5 broodjies en 2 vissies (wat amper soos anchovies op toast gebruik is) om die groot skare van 5 000 plus te voed wat na Hom kom luister het (terloops die enigste wonder wat in al vier evangelies voorkom wat die belangrikheid daarvan onderstreep).

Jesus gee om vir ons worsteling met die gewone krisisse van elke dag

Daarmee illustreer Jesus dat Hy omgee vir ons worsteling met die gewone krisisse van elke dag.

  • Hy staan in vir sy groot gevolg wat dreig om die bruidegom te beskaam dat hy nie genoeg voorsiening gemaak het nie.
  • En Hy staan in vir die mense wat nie padkos geneem het om na Hom te kom luister nie.
  • En Hy doen dit in oorvloed:

o   800 bottels wyn vir ’n troue,

o   en ’n magtige hoop brood en vis vir ’n skare van meer as 5 000, soveel so dat daar 12 mandjies garsbrood oorbly, een vir elke dissipel!

En as Jesus dit vir ’n skare gedoen het wat na Hom kom luister het een maak lank gelede, hoeveel te meer sal Hy dit nie ook vir ons doen, wat sy kinders is, en wat vandag in afhanklikheid van Hom lewe nie?

Jesus is die groot Profeet

Hy illustreer ook dat Hy die groot Profeet is, dié een waarvan Moses gepraat het.  Geen wonder dat Johannes ’n direkte verband na die wonder van die manna in die woestyn trek nie.  Want  Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4) en die kwartels (Eks 16:13).

En dit bewys nog ’n keer sy goddelikheid, sodat selfs die skare die verband kan trek, en kan erken dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14).

Jesus is nie maar net ’n gewone mens, ’n groot leraar, ’n groot man nie.  Hy is God, wat dit is net God wat sulke dinge kan doen.

Jesus is die Brood wat lewe gee

Hy illustreer ook hiermee dat Hy self die wyn en brood gaan word wat ons geestelik voed.  En dit doen Hy op twee maniere.

Aan die een kant verwys Jesus hier na wat aan die kruis gaan gebeur, veral in die gesprek met die Joodse leiers.  Hy praat hier daarvan dat Hy letterlik sy liggaam en sy bloed sal gee om in ons plek aan die kruis te sterf.  En elke keer wat ons bv. die nagmaal gebruik, en ons die wyn en brood drink en eet, versterk dit ons geloof dat Hy ons geestelik verlos het.

Maar Jesus verwys ook na die geestelike voeding wat Hy ons gee.  Sy woorde is die wyse waarop Hy ons geestelik voed.  Soos wat ons dit inneem en dit oordink en dit deel van ons binnewêreld en ons leefwêreld word, so voed Hy ons en verander Hy ons om al hoe meer soos Hy te word.  Jesus is inderdaad die brood wat lewe gee.

Dit is waar van al die “Ek-is”-uitsprake van Jesus oor Homself.  Hy het 8 uitsprake oor Homself waarin Hy sy Goddelikheid bevestig en wys wat Hy vir ons beteken.  Hy gee ons insig in die lewe – Hy is die lig vir die wêreld (Joh 8:12). Hy beskerm ons – Hy is die Goeie Here (Joh 10).  Hy begelei ons – Hy is die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14).  En ons lewe kom van Hom af – Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6).

Jesus nooi ons uit om in Hom te glo

Die wonderwerke is vir Johannes tekens van God se werk wat in Jesus sigbaar raak.  En dit vra van ons ’n keuse – om te glo, nie net in die wondertekens as sodanig, soos wat ons sien in die wondergeloof van die skares nie, maar in die wonderdoener, Jesus .

  • Dit is duidelik uit die gedeelte dat die meeste van die Jode, veral die skrifgeleerdes en Fariseërs Jesus se woorde nie verstaan het nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê.  Hulle volhard in hulle ongeloof – 6:41-59.
  • Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
  • Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.

Maar vir dié wat die in geloof reageer – soos die geval was by die meeste van die dissipels, die regeringsamptenaar (Joh 4), die blinde man (Joh 9), Maria en Marta en Lasarus (Joh 11) en later darem ook van sy familie spesifiek sy broer Jakobus – vir diegene raak God ’n werklikheid, kom hulle in Sy teenwoordigheid, kry hulle die ewige lewe.  Want Jesus is die brood wat lewe gee.

God roep ons vandag dus op om die Gees se roering in ons te gehoorsaam.  Hetsy om Hom te vertrou vir die gewone goed in jou lewe, of net om die keuse te maak om jou hele lewe om Hom te laat sentreer.

Johannes 13:31-14:14 – Erediens: Ek is die weg, die waarheid en die lewe – 22 Mei 2011

Liturgie

Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofsang

  • Lied 164 Ons is almal hier tesaam vergader in sy Naam – staan – Bruce Ballinger (We have come into His house) – Attie van der Colf
  • Lied 209 Heer, met my hele hart kom sing ek ’n lofsang – sit – Claude Fraysse (Je Iouerai l’Eternal – 1976) – Elsabé Kloppers

Kindertyd

  • Sakkie en Sieg – sakkeresies

Gebed

Skriflesing

  • Johannes 13:31-14:14

Jesus se heengaan is naby

31Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Petrus sal Jesus verloën

(Matt 26:31–35; Mark 14:27–31; Luk 22:31–34)

36Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?”

Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.”

37Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”

38“Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Jesus gaan na sy Vader toe

14 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Woordverkondiging

Ons Vader neem ons hande

Ek het dié week regtig gesukkel om die woord van die Here te onderskei.  Daar is so baie wat oor hierdie gedeelte gesê kan word.  Ek het daaroor geskrywe vir die Bybelskool, ek het so drie keer ’n halwe preek geskryf, en dan weer vasgehaak.  Ek het gebid en gewag, en ons het by die sel hieroor gesels en ’n hele klompie wonderlike insigte gedeel.

Maar ek kon net nie hoor wat die Here vir ons as gemeente wil sê nie.

Ons Vader neem ons hande en maak ons één

Gelukkig moes ek die week ’n lied se woorde leer, een wat Cantatori nou-nou gaan sing.  Lied 532 in die Liedboek: So nimm denn meine Hände van Friedrich Silcher, waarvan ons die weergawe van Hans du Plessis in ons Liedboek het: Ons Vader neem ons hande en maak ons één.

En toe ek die lied oor en oor lees, so tussen die preekmaak deur, het ek skielik besef, maar dié lied gee vir my die invalshoek wat ek nodig het.  En het ek uiteindelik rigting gekry, omdat dit so presies is wat die tipe reaksie is wat Jesus van ons vra in hierdie gedeelte.  Want sien, ek kan sê wat hier staan, ek kan dit in konteks plaas, maar my probleem was om te weet wat ons reaksie daarop moet wees en die woord van die Here daar rondom te verkondig.

En dit is wat die lied my mee gehelp het.  Dit voel vir my asof Silcher Johannes 13-14 gelees het toe hy dié lied gekomponeer het – het nie ’n manier gehad om dit uit te vind nie.  Maar u kan self beoordeel, uit die aanhoor van die lied.  Luister na 2 van die verse:

Ons Vader, neem ons hande en maak ons één.
Versterk U self die bande – gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer.

Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe op liefde bou.
Laat heers oor ons u vrede, en bind ons saam.
Verhoor tog ons gebede in Jesus Naam.

Judas se verraad

Kyk, die situasie wat hier vir ons in Johannes 13-14 geskets word, is benard.

Judas se verraad het ’n yskoue wind laat waai deur die gemoed van die dissipels.

Hulle was geskok dat Jesus so duidelik daaroor praat, dat iemand Hom gaan verraai.  En verslae het hulle rondom hulle gekyk, en gewonder wie van hulle gaan só ’n grusame daad doen. Hulle was so lank saam. Hulle het so baie deurgemaak.  Hulle het so baie keer ’n noue ontkoming gehad, maar elke keer het hulle dit reggekry om die Jode se planne te ontwyk.

Maar nou sê Jesus die verraad kom uit eie kring.  Dit is een van hulle wat om die tafel sit, wat Hom sal verraai.

Toe Jesus vir Judas aanwys met die stukkie nagmaalsbrood, het hulle hom nog die voordeel van die twyfel probeer gee – miskien moes hy net iets gaan koop, of miskien wou Jesus hê hy moes iets vir die armes gaan gee – Judas was immers baie bekommerd oor die armes, al sou hulle later uitvind dit was eintlik maar net om self die geld wat vir die armes bedoel was, te steel.

Maar tog het hulle geweet iets drasties het gebeur met hierdie nagmaal – hulle sou nooit weer dieselfde kon dink oor hulle dissipelkring nie.  Verraad het ingedring in eie kring, en hulle onderlinge gemeenskap het diep seergekry.

En dit is waar hierdie lied my help om te weet hoe ’n mens in só ’n situasie moet reageer.  Die enigste manier waarop ’n mens sulke verraad kan hanteer, is om saam met Silcher te sing en die verraad te troef:

Ons Vader, neem ons hande en maak ons één.
Versterk U self die bande – gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer, u naam te eer.

Dit is net God wat ons kan laat vasstaan wanneer dinge dreig om uit mekaar te spat.  Dit is net Hy wat die bande wat ons aan mekaar moet bind, kan versterk en ons kan seën met ’n onderlinge verbondenheid.

En die enigste manier waarop dit ’n werklikheid kan word, is as ons aan God self verbind word, sodat ons Hy ons kan leer om met ons dade tot Sy eer te lewe.

Petrus se verloëning

Maar daar was meer.  Van Judas kon ’n mens miskien nog die verraad verwag het.  Die tekens was immers daar dat hy ontevrede was, dat hy ’n ander verwagting gehad het.  En dit is ook duidelik dat God agter alles in beheer was en letterlik hier vir hom die opdrag gee om te doen wat sy bose hart beplan het.  Jesus stuur hom om te gaan doen wat die duiwel hom ingegee het om te doen.

En die dissipels kon miskien gedink het, good riddance.  Die res van ons sal nie faal nie.  Ons sal getrou bly.  Daarom het hulle heel moontlik hande geklap toe Petrus met sy kenmerkende bravade indons en sê.  “Ek sal my lewe vir U aflê.”  Maak nie saak wat gebeur nie – al sal almal U verlaat, Ek sal nie!  Basta!

Jesus se reaksie daarop het egter die koue wind sterker laat waai deur hulle gemoed:     “Sal jy jou lewe vir My aflê?  Dit verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Dit het hulle nie verwag nie.  Judas sal Jesus verraai.  Dit is nog verstaanbaar.  Maar nie Petrus nie!  Petrus sal nooit vir Jesus verloën nie.  Maar nou sê Jesus dat dit presies is wat gaan gebeur.

Dit het hulle nie verwag nie.  En hoe moet hulle hierop reageer?  Wat moet hulle met Petrus doen na sy verloëning?  Hy is dan hulle leier, die een waarop jy kan staatmaak om die voortou in goed te neem.  En nog dieper: wat dan van hulle self?  Het hulle enigsins ’n kans om getrou te bly, as Petrus nie getrou kan bly nie?  Wat gaan van hulle word?  Sonder leier, sonder Jesus …

Weereens is die reaksie van Siclher hier van toepassing:
Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe op liefde bou.

en

Laat heers oor ons u vrede, en bind ons saam.

Jy sien, natuurlik kom die verbintenis aan God eerste en daarsonder kan niks goeds gebeur nie.

Maar as dit nie insluit dat ons ’n pad met mekaar stap en mekaar vergewe, leer om mekaar te vertrou nie, dan sal ons gemeenskap altyd gebrekkig bly.  Jesus leer ons hier dat die hele lewe op liefde gebou moet wees – en let op nie ’n liefde net soos wat die opsomming van die wet van ons vra – jy moet jou naaste liefhê soos jouself – nie.  Nee, soos EK julle liefhet, só moet julle mekaar liefhê.  Dit is die nuwe gebod wat Jesus vir hulle gee.

Dit bly vir my ongelooflik as ’n mens hoofstuk 21 lees en sien hoe Jesus Petrus weer na Sy opstanding herstel en intrek in die kring van die dissipels, en dat Hy aan hom weer sy leierskapsrol gee, meer nog, aan hom die rol van herderleier gee, die rol wat Jesus gehad het.

Petrus het die gevaar geloop om weer ’n visserman te word, soos aan die begin.  Jesus keer egter dat die opsie pos vat in sy lewe.  En soos Jesus die Goeie Herder was (Joh 10), so gee Jesus aan Petrus die opdrag om Sy skape te versorg en te laat wei.  Jesus raak dus vir Petrus aan, herstel sy status as leier, sodat dit moontlik was vir die ander om hom te vergewe en hom te vertrou.

Jesus is die weg

En as ’n mens dit goed verstaan – God verstrek die onderlinge bande sodat ons mekaar kan vergewe – dan begin jy die sentrale boodskap van Johannes 14 verstaan.  Jesus is die Weg, die waarheid en die lewe. Dit is wanneer ek met Hóm in ’n intieme persoonlike verhouding lewe dat Hy vir my die weg word, die weg na liefde, die weg na insig, die weg na waarheid, die weg na die lewe – binne die gemeenskap van die gelowiges, al sluit dit in dat sommige van hulle jou teleurstel of dat jy die een is wat hulle teleurstel.

Dan maak dit sin dat Jesus my ook  troos met die boodskap dat Hy ’n plek vir my gaan berei, en dat Hy eendag sal terugkom en my na Hom toe sal neem.  Ek hoef dus nie bang te wees vir die prys wat die liefde van my kan vra nie.  Selfs al sou dit beteken dat ek my lewe moet aflê vir my mense, soos Jesus dit vir my gedoen het, is my toekoms verseker.

Maar die beste is vir laaste, Silcher sluit die laaste vers af met:

Verhoor tog ons gebede in Jesus Naam, in Jesus Naam.

Dit is vir my die hoogtepunt van Johannes 14 – dat Jesus nie hier in die eerste plek die doel van hierdie gemeenskap van gelowiges uitspel as die verkondiging van die evangelie tot aan die einde van die aarde nie – hoewel dit natuurlik ook in die visier is.

Nee, soos Hy die tempel aan die begin van die Johannes evangelie skoonmaak om ’n huis van gebed te wees, so sê Hy dat die punt van ons gemeenskap is om met God in gebed in gemeenskap te lewe om die vreugde van gebedsverhoring te kan geniet.

Daar is dinge wat ons doen wat net so belangrik is as gebed – om te getuig, om barmhartig te wees, om gasvry te wees.  Maar nie een van hulle is belangriker as gebed nie.  En nie een van die ander dinge wat ons vir die Here kan doen, kan ons sonder gebed doen nie.

Dit is wanneer ons God aanroep – dat dinge begin gebeur.  Dit is wanneer ons van God vra – dat Hy gebede begin verhoor.  Dit is wanneer ons die behoeftes rondom ons in die wêreld na God toe bring – dat grootskaalse veranderinge gebeur.  En ons het mekaar nodig om hierin te volhard.  En dit moet nie net in ons binnekamer gebeur nie.  Dit moet ook publiek wees, hier in die erediens, en daarbuite waar ons God se teenwoordigheid kan indra in die lewe.

Gebed

Koor stap op terwyl die tafel in gereedheid gebring word.

Koor: Cantatori

  • Jesus, Rots vir my geslaan – J van der Waart
  • Ons Vader, neem ons hande – F Silcher (verw. D Hyman)

Nagmaalsviering

Neem net jou eie glasie met die uitstap – span bietjie uitgedun vandag.

Koor: Cantatori

  • Die Here seën ons uit Sion – W Lüderitz
  • Zum Offertorium – F Schubert

Dankoffer

Slotlied

  • Lied 286 Here God van liefde, waar ons ook mag gaan – staan – Greta Delport-Benadé

Seën

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Amen

  • Lied 313 – Deense oorsprong