Gesels met mekaar oor waaraan jy dink as jy die woord “vryheid” hoor?
Ons het baie opinies oor wat die woord vryheid vir ons beteken, maar baie van ons weet dalk nie eers hoe dit voel om nie vry te wees nie.
Speel ‘n speletjie waar ‘n bietjie van julle “vryheid” wegeneem gaan word:
Gebruik serpe, dasse of lang sokkies en bind julle oë toe/ julle twee enkels aan mekaar vas/ julle hande aan mekaar vas of ‘n kombinasie van die drie.
Probeer nou sekere opdragte uitvoer soos:
Skud hande met die persoon langs jou.
Raak aan jou tone.
Loop na die ander punt van die vertrek.
Waai vir iemand.
Neem een groot tree.
Gaan sit gekruisde bene op die vloer.
Spring op een beentjie.
Knipoog vir iemand.
As julle klaar is, gesels ‘n bietjie oor die probleme wat julle ervaar het met die uitvoer van die opdragte.
BYBELLEES
Lees Galasiërs 5:1, 5&6 en 13&14
Wat dink julle beteken vryheid in hierdie teksgedeelte?
Watter tipe vryheid gee Jesus?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Die speletjie wat julle aan die begin gespeel het, het bietjie van julle vryheid weggeneem. Watter dinge in die regte lewe “bind” ons soms vas en neem van ons vryheid wat Jesus vir ons gegee het weg?
Ons is almal ANDERS geskape deur God, maar in Jesus Christus word anderses EENDERS, deur Sy genade.
Wat is dinge wat ons alles ANDERS maak?
Wat is dinge wat ons alles EENDERS maak?
(Probeer hier ook fokus op dinge wat nie net fisies is nie soos haar-kleur ens., maar ook op dinge wat mens kies soos gunsteling kleure ens.)
BYBELLEES
Lees 2 Korintiërs 1:19-22 saam.
Hier is die Bybel vir almal se vertaling:
19 Julle moet onthou dat ek en Silvanus* en Timoteus die boodskap oor die Seun van God, Jesus Christus, vir julle gebring het. En julle weet dat Jesus nie “ja” én “nee” is nie. Jesus is God se “ja.” 20 Want alles wat God belowe het, het waar geword toe Christus gekom het. Daarom, wanneer ons “amen” sê, dan sê ons dat alles waar is wat ons van Christus glo. En so prys ons vir God. 21 God is die Een wat vir ons sê dat ons en julle saam aan Christus behoort. God het ook gesê dat ons vir Hom moet werk. 22 Hy het gewys dat ons aan Hom behoort toe Hy die Heilige Gees in ons harte gegee het. Die Heilige Gees sê vir ons dat ons altyd aan Hom sal behoort.
* Silvanus: ’n Ander naam vir Silas. Kyk Hand 15:22.
In hierdie gedeelte lees ons dat Jesus is God se “ja” vir ons.
Wat dink jy beteken dit vir ons?
In die teks lees ons dat die Heilige Gees sê dat ons altyd aan God sal behoort. Hoe weet jy dat dit waar is in jou lewe?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Wat kan jy ANDERS doen om te wys dat jy EENDERS is met ander mense wat in Jesus glo?
Deel met mekaar hoe jy weet of iemand vir jou lief is.
Deel daarna hoe jy dink ander mense weet dat jy vir hulle lief is.
BYBELLEES
Lees Romeine 13:8-14 saam.
Hier is die Bybel vir almal se vertaling:
8 Julle moenie vir mekaar iets skuld nie, maar julle moet lief wees vir mekaar, want wanneer julle lief is vir ander mense, dan doen julle alles wat God se wette vra. 9 Al die wette, “ Jy mag nie egbreuk* pleeg nie, jy mag nie iemand vermoor nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie” en ook al die ander wette, beteken “ Jy moet lief wees vir jou naaste, so lief soos jy vir jouself is.” 10 As jy lief is vir jou naaste, dan sal jy nooit slegte dinge aan hom doen nie. Daarom, as jy lief is vir jou naaste, dan doen jy alles wat die wette vra. 11 Julle weet die belangrike tyd is naby, die tyd wanneer Christus weer kom. Julle moet gereed wees, julle moenie wees soos mense wat slaap nie. Want die tyd wanneer Christus sal kom om ons te red, is nou nader as toe ons in Hom begin glo het. 12 Mense weet dat dit lig word wanneer die nag verby is. So weet ons ook dat ons nie meer lank sal wag nie, dan sal Christus kom. Daarom moet ons nie mense van die nag wees nie, ons moenie slegte dinge doen nie. Ons moet mense van die lig wees, ons moet goeie dinge doen. 13 Ons moet reg lewe soos mense van die lig, ons moenie te veel eet nie en ons moenie dronk word nie, ons moenie onsedelik** lewe en net doen wat ons wil doen nie, ons moenie aanhou stry en jaloers wees nie. 14 Julle behoort aan die Here Jesus Christus, daarom moet julle weet Hy is nou baie naby aan julle, so naby soos die klere wat julle aantrek. Julle moenie die slegte dinge doen wat mense graag wil doen nie, nooit nie.
*Jy mag nie egbreuk … wil hê nie: Kyk Eks 20:13-15,17 en Deut 5:17-19,21. Egbreuk: Wanneer ’n man seks het met ’n ander man se vrou, dan pleeg hy egbreuk. Wanneer ’n getroude vrou seks het met ’n ander man, dan pleeg sy egbreuk. Jy moet … jouself is: Kyk Lev 19:18. Naaste: Die mens wat naby jou is.
** Onsedelik lewe: Wanneer ’n persoon seks het met iemand met wie hy nie getroud is nie, dan lewe hy onsedelik.
Wat staan vir jou uit in hierdie teks gedeelte?
Hoekom dink jy sê hierdie teks dat die enigste verantwoordelikheid wat ’n gelowige teenoor sy medemens het, is om hulle lief te hê?
Wie is almal ons medemense?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Gesels bietjie oor tye wanneer julle sukkel om julle medemens lief te hê en hoekom julle sukkel?
Wat is dinge wat julle kan doen om ander beter lief te hê
Dink as ‘n gesin saam ‘n definisie vir die woord “LIEFDE” uit. Skryf dit iewers neer sodat julle dit nie vergeet nie en mekaar die hele tyd daaraan kan herinner.
Gesels bietjie oor verskillende tipes bordspeletjies en die reëls wat daardie speletjies het.
Hoekom dink julle is daar reëls by speletjies?
BYBELLEES
In ons teksgedeelte van hierdie week lees ons oor hoe ons nie meer vasgebind word deur reëls nie, maar dat Christus ons vrygemaak het.
Lees Galasiërs 3:23-29 saam.
Hier is die Bybel vir almal se vertaling:
23 Die wette was vir ons soos ’n wag. Dit het ons toegesluit en opgepas totdat God gesê het dit is nou die regte tyd vir mense om in Christus te glo.24 Die wette het ons opgepas soos ’n mens ’n kind oppas wat nie vir homself kan sorg nie. Die wette het ons opgepas totdat Christus gekom het. Toe het ons in Hom geglo, en God het ons vrygespreek van ons sondes.25 Nou glo ons in Christus en daarom is dit nie nodig dat die wette ons moet oppas nie. 26 Julle almal is kinders van God, want julle glo in Christus Jesus.27 Julle is gedoop en julle is nou by Christus. Christus is nou so naby julle soos die klere wat julle aantrek. 28 Party van julle is Jode en party is Grieke, party van julle is slawe en party is nie slawe nie, party van julle is mans en party is vroue. Maar dit alles maak nie meer saak nie, want julle behoort almal saam aan Christus Jesus, julle is een.29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die kinders van Abraham en dan kry julle wat God belowe het. Ja, julle kry dit omdat God dit belowe het.
Dink julle daar is vandag nog “wette” waaraan ons vashou omdat ons dink dis iets wat ons moet doen om aan Jesus te behoort?
Dink julle daar is wel sommige wette of voorwaardes wat sin maak om te volg?
Hoekom dink julle sê hierdie teksgedeelte dat die wette ons nie meer oppas nie, maar dat Jesus ons vrygespreek het?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Sondag vier ons Hervormingssondag. Dit is die dag waar ons onthou dat die Bybel die bron is wat ons moet glo oor wie God vir ons is en hoe Hy ons roep om in Hom te glo, eerder as wat mense vir ons sê hoe ons in God moet glo en wie Hy vir ons is.
Dink as gesin saam aan een stelling(nie ‘n wet wat julle navolg nie) van wie God vir julle is en maak dit julle leuse vir die week.
Hoekom vertel ons vir ander mense van ons goeie nuus?
BYBELLEES
In ons teksgedeelte van hierdie week kry die dissipels goeie nuus.
Lees Matteus 28:16-20 saam.
Wat tref julle in hierdie teksgedeelte oor Jesus se groot opdrag?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Gesels oor die betekenis van die woord “GETUIG” sodat almal in die gesin mooi verstaan wat dit beteken.
Hoe kan julle as gesin elke dag getuig oor die goeie nuus van Jesus?
Skryf of teken julle getuig-maniere op ‘n bladsy en sit dit iewers in de huis op waar julle dit gereeld kan sien.
Laat ook ‘n spasie oop waar julle later nog getuig maniere kan bysit. Maak dit duidelik aan die gesin dat daar baie verskillende maniere is waarop mens kan getuig en dit kan die hele tyd verander soos wat mens se situasies verander.
Sendingweek begin 18 Oktober waar ons meer gaan gesels oor hoe ons op God se getuigspan is.
Gesels met mekaar oor iemand wat dié week vir jou omgegee het. Hoe het dit gevoel? Wat het dit vir jou beteken?
BYBELLEES
Terwyl iemand Psalm 112 voorlees, fokus op watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom. Neem twee minute stilte om daaroor na te dink na die voorlesing.
Ons ontvang God se Woord deur na mekaar te luister. Deel met ons watter insig jou tref, watter belofte jou inspireer, watter opdrag jou motiveer.
GESEËN OM TE SEËN
“Barmhartigheid is ’n lewe van diens, ʼn lewe van omgee, ʼn lewe waarin ander mense se belange vir jou net so swaar weeg soos jou eie, ʼn lewe waarin jy jou hulpbronne, tyd, invloed en vaardighede gebruik om vir ander te sorg, of dit nou is om hulle te beskerm, te versorg, te koester of vir hulle regte op te kom.” Bespreek.
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Omgee vra van ons om oë en ’n hart vir ons naaste te hê, en dan hande en voete aan ons gevoel van barmhartigheid en omgee te gee: “Wie aardse besittings het en sy broer of suster sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom of haar het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh. 3:17).
Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel om die geloofsgewoonte dié week te beoefen:
Dink aan mense wat in nood is, soos weduwees, weeskinders of minderbevoorregtes. Dink biddend vir wie jy iets prakties kan doen deur jou invloed te gebruik of deur ’n uitstappie te reël, met inkopies te help of regshulp of maatskaplike hulp te verleen.
Vra vir iemand: “Wat kan ek vandag vir jou doen?” Dit kan iemand in jou familie of in jou vriende- of werkkring wees. Dit kan iets klein of groot wees. Dit kan iets moeilik of maklik wees.
Kies een van die sendelinge vir wie ons as gemeente ondersteun. Vra vir hulle wat jy vir hulle kan doen. Miskien het hulle kruideniersware nodig wat jy vir hulle kan stuur. Dalk kan jy hulle help met hulle banksake of ander administratiewe take vir hulle doen. Oorweeg ‘n geloofsoffer om hulle te ondersteun.
Maak ’n ekstra bord kos en bêre dit in jou vrieskas (of hier by die kerk) vir iemand wat dit dalk kan nodig kry. As jy die bord kos met iemand deel, maak ook kontak en gesels met die persoon om iets van die liefde van die Here oor te dra.
We use cookies and similar technologies to improve your experience on our website.
Read our Privacy Policy.