Huisgeloof: 26 Okt – 1 Nov 2015
Liefde
OMGEE-GESPREKKE
- Deel met mekaar hoe jy weet of iemand vir jou lief is.
- Deel daarna hoe jy dink ander mense weet dat jy vir hulle lief is.
BYBELLEES
- Lees Romeine 13:8-14 saam.
Hier is die Bybel vir almal se vertaling:
8 Julle moenie vir mekaar iets skuld nie, maar julle moet lief wees vir mekaar, want wanneer julle lief is vir ander mense, dan doen julle alles wat God se wette vra. 9 Al die wette, “ Jy mag nie egbreuk* pleeg nie, jy mag nie iemand vermoor nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie” en ook al die ander wette, beteken “ Jy moet lief wees vir jou naaste, so lief soos jy vir jouself is.” 10 As jy lief is vir jou naaste, dan sal jy nooit slegte dinge aan hom doen nie. Daarom, as jy lief is vir jou naaste, dan doen jy alles wat die wette vra. 11 Julle weet die belangrike tyd is naby, die tyd wanneer Christus weer kom. Julle moet gereed wees, julle moenie wees soos mense wat slaap nie. Want die tyd wanneer Christus sal kom om ons te red, is nou nader as toe ons in Hom begin glo het. 12 Mense weet dat dit lig word wanneer die nag verby is. So weet ons ook dat ons nie meer lank sal wag nie, dan sal Christus kom. Daarom moet ons nie mense van die nag wees nie, ons moenie slegte dinge doen nie. Ons moet mense van die lig wees, ons moet goeie dinge doen. 13 Ons moet reg lewe soos mense van die lig, ons moenie te veel eet nie en ons moenie dronk word nie, ons moenie onsedelik** lewe en net doen wat ons wil doen nie, ons moenie aanhou stry en jaloers wees nie. 14 Julle behoort aan die Here Jesus Christus, daarom moet julle weet Hy is nou baie naby aan julle, so naby soos die klere wat julle aantrek. Julle moenie die slegte dinge doen wat mense graag wil doen nie, nooit nie.
*Jy mag nie egbreuk … wil hê nie: Kyk Eks 20:13-15,17 en Deut 5:17-19,21. Egbreuk: Wanneer ’n man seks het met ’n ander man se vrou, dan pleeg hy egbreuk. Wanneer ’n getroude vrou seks het met ’n ander man, dan pleeg sy egbreuk. Jy moet … jouself is: Kyk Lev 19:18. Naaste: Die mens wat naby jou is.
** Onsedelik lewe: Wanneer ’n persoon seks het met iemand met wie hy nie getroud is nie, dan lewe hy onsedelik.
- Wat staan vir jou uit in hierdie teks gedeelte?
- Hoekom dink jy sê hierdie teks dat die enigste verantwoordelikheid wat ’n gelowige teenoor sy medemens het, is om hulle lief te hê?
- Wie is almal ons medemense?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
- Gesels bietjie oor tye wanneer julle sukkel om julle medemens lief te hê en hoekom julle sukkel?
- Wat is dinge wat julle kan doen om ander beter lief te hê
- Dink as ‘n gesin saam ‘n definisie vir die woord “LIEFDE” uit. Skryf dit iewers neer sodat julle dit nie vergeet nie en mekaar die hele tyd daaraan kan herinner.