Skip to main content

Dag 9: Gebedsfokus op herlewing: Oorwinning oor sonde!

Woensdag 21 April 2010

Dag 9: Gebedsfokus op herlewing: Oorwinning oor sonde!

Hebreërs 2:16-18: Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Oordenking: Jesus kry nie skaam en word nie in die verleentheid gebring deur enige mens nie. Hy weet presies waardeur ons in hierdie lewe gaan. Hy verstaan elke sonde, elke mislukking, elke versoeking, elke emosie en elke verlies. Hy het Homself gegee sodat ons gehelp kan word om alle sonde, versoeking en pyn te oorkom. Ons kan áltyd op Hom vertrou om ons te help.

Persoonlik: Jesus deel in jou lyding en wil hê jy moet deel in Sy vreugde en liefde vir die Vader. Hy is jou Broer. Hy kan jou na die Vader neem en aan die Vader voorstel. Kan jy Hom vertrou om jou te help wanneer jy in die versoeking is? Hy wil jou vertroue met Sy hulp wen. Gee jouself en jou stryd om sonde te oorwin, aan Hom oor. Laat Hom toe om jou te oortuig en jou tot inkeer te bring.

Gemeente: Bid dat Christene sal besef dat Jesus daar is om ons te help om elke versoeking om sonde te doen, te oorwin. Hy het dit oorwin, dus weet Hy hoe om ons te help om ook te oorwin. Bid dat ons as die Kerk Hom sal vertrou om ons te help om sonde en versoeking te oorkom, en nie ‘n kompromie met die wêreld aan te gaan as gevolg van ons eie onvermoë om sonde met wilskrag alleen te oorwin nie.

Dag 10: Gebedsfokus op herlewing: Oorwinning oor Satan!

Donderdag 22 April 2010

Dag 10: Gebedsfokus op herlewing: Oorwinning oor Satan!

Hebreërs 2:14-15: Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

Oordenking: Satan se mag kom a.g.v. God se oordeel oor die sonde. Sonde verdien die dood en daarom het die dood mag. Satan mislei mense om te glo dat hulle magteloos is in die aangesig van die dood. Deur die straf van die dood weg te neem, het God Satan se mag oor mense verbreek. Diegene wat in Jesus glo, hoef nie die dood te vrees nie, want die dood is net ‘n deur na die ewige lewe.

Persoonlik: Is jy bang om dood te gaan? Waarom nie jou lewe oorgee in die hande van Jesus met die volle versekering dat jy die ewige lewe sal hê nie? Vertrou Hom om jou volkome van alle vrees te bevry en om die ewige lewe ‘n werklikheid vir jou te maak. Bid om van alle boosheid in jou lewe verlos te word.

Gemeente: Bid dat die Kerk sal verstaan wat dit beteken dat die mag van Satan en die vrees vir die dood verbreek is. Bid dat ons as Christene sal verstaan dat ware mag verkry word deur op Jesus te vertrou vir die ewige lewe en om bereid te wees om ons lewens vir Hom af te lê, sodat ander van die bindinge van Satan verlos kan word.

Sondag 18 April 2010 – Dag 6: Gebedsfokus op herlewing: Waarskuwing teen die verwaarlosing van jou redding

Hebreërs 2:1-4: “Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. As die woord wat deur engele gepraat is, bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatig gestraf is, hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.”

Oordenking: Die redding van mense is God se grootste prioriteit. Om dit te kon vermag, het Hy die hoogste prys betaal, die offer van Sy Seun. Waarom, dink jy, is die redding van mense so belangrik vir God?

Persoonlik: Die inwoning van die Heilige Gees in ons is die oortuigende bewys van ons redding. Redding is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie, maar is die herstel van die eer en heerlikheid van God se roem onder die nasies. Bring jou lewe hierdie eer aan Hom? Indien nie, buig voor Hom neer en vra vir die getuienis van die Heilige Gees in en deur jou lewe.

Gemeente: Baie lidmate van die Kerk is net Christene in naam, nie in leefwyse nie. Bid dat elke gemeentelid deur die Heilige Gees oortuig sal word, tot ware redding en om kragtige getuies vir Hom te wees.

Saterdag 17 April 2010 – Dag 5: Gebedsfokus op herlewing: Geregtigheid en vreugde

Hebreërs 1:8-9: “Maar van die Seun sê Hy: ‘U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.'”

Oordenking: Geregtigheid is hoe God ons karakter toets aan Sy standaard van reg en verkeerd. Wat beteken die woord “karakter” vir jou? Hoe het Jesus karaktergewys aan God se standaarde voldoen?

Persoonlik: Kan jy eerlik sê dat vreugde die oorweldigende, aanhoudende toestand van jou siel is? Indien nie, het jy jou al ooit onderwerp aan God s evaluering van die toestand van jou siel? Wil jy dit nie nou doen en Hom vertrou om jou van enige ongeregtigheid te oortuig nie?

Gemeente: Die karakter van die Kerk is die weerspieëling van die gemeenskaplike reaksie van die gemeentelede teenoor God self. Bid dat gemeentelede sal reageer op die Heilige Gees se verlange om mense na God te trek.

Vrydag 16 April 2010 – Dag 4: Gebedsfokus op herlewing: Die heerlikheid van die Seun

Hebreërs 1:2-3: “…die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.”

Oordenking: As Jesus die ewebeeld van die Vader is, kan ons dan die ewebeeld van Jesus wees? By implikasie – as die heerlikheid van God uit Jesus straal, moet die heerlikheid van Jesus dan nie uit ons straal nie?

Persoonlik: Glo jy dat God Sy natuur op jou wil afdruk deur ‘n persoonlike, intieme verhouding met Hom? Sê vir Hom dat jy verlang om die onsigbare heerlikheid van God deur Sy werk in jou te sien, om jou sodoende te herskep na die beeld van Sy Seun.

Gemeente: Bid dat jou gemeente die heerlikheid van God so sal uitstraal dat die hele plaaslike gemeenskap Hom sal sien.

Donderdag 15 April 2010 – Dag 3: Gebedsfokus op herlewing: Die heerlikheid van die Seun

Hebreërs 1:2-3: “… die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.”

Oordenking: Hoe kwalifiseer Jesus om deur God aangewys te word om Hom by die mense te verteenwoordig?

Persoonlik: Hunker jy daarna om deel te hê aan die verhouding tussen die Vader en die Seun? Verwoord hierdie verlange in ‘n gebed tot Jesus om een met Hom te wees.

Gemeente: Bid dat die lidmate van jou gemeente ‘n honger sal ontwikkel om God intiem te ken en met Hom een te wees soos wat Hy beloof het.