Skip to main content

Sondag 18 April 2010 – Dag 6: Gebedsfokus op herlewing: Waarskuwing teen die verwaarlosing van jou redding

Hebreërs 2:1-4: “Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. As die woord wat deur engele gepraat is, bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatig gestraf is, hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.”

Oordenking: Die redding van mense is God se grootste prioriteit. Om dit te kon vermag, het Hy die hoogste prys betaal, die offer van Sy Seun. Waarom, dink jy, is die redding van mense so belangrik vir God?

Persoonlik: Die inwoning van die Heilige Gees in ons is die oortuigende bewys van ons redding. Redding is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie, maar is die herstel van die eer en heerlikheid van God se roem onder die nasies. Bring jou lewe hierdie eer aan Hom? Indien nie, buig voor Hom neer en vra vir die getuienis van die Heilige Gees in en deur jou lewe.

Gemeente: Baie lidmate van die Kerk is net Christene in naam, nie in leefwyse nie. Bid dat elke gemeentelid deur die Heilige Gees oortuig sal word, tot ware redding en om kragtige getuies vir Hom te wees.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.