Skip to main content

Woensdag 14 April 2010 – Dag 2: Gebedsfokus op herlewing: God praat

Hebreërs 1:1-2: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”

Oordenking: Is daar ‘n verskil tussen wanneer God deur die profete praat en wanneer Hy deur Jesus praat?

Persoonlik: Weet jy wat dit beteken dat God deur Sy Seun met jou praat? Spreek jou begeerte uit dat God deur Jesus met jou moet praat. Onderwerp jouself aan die leiding van die Heilige Gees wanneer Hy die Seun aan jou bekend maak.

Gemeente: Bid dat die Heilige Gees oor julle gemeente sal sweef soos Hy in die begin oor die waters gesweef het voordat God lig gespreek en die hele skepping tot stand gekom het.

Dinsdag 13 April 2010 – Dag 1: Gebedsfokus op herlewing: God praat

Gebedsfokus: Herlewing – 13 April – 12 Mei

Ps.69:33… dié wat by God hulp soek, sal moed skep…

Die volgende 30 dae gaan ons spesifiek fokus op herlewing in die kerk wêreldwyd. Die gebedsaanwysings fokus op jou eie verhouding met God sowel as op die plaaslike gemeente waaraan jy behoort se verhouding met Hom. Dit is goed om vir die groter Kerk te bid, maar wanneer jy bid, bid dat die mense wat jy ken, nuut sal word en nuut sal leef.

  1. Begeer met jou hele hart dat die Here jou weer sal vernuwe.
  2. Laat jou hart stil word voor Hom en stel jou hart oop vir die Gees van God om in jou en deur jou te werk.
  3. Stop na elke Skrifverwysing en gebedsversoek en laat die Woord toe om jou ontvanklik vir God se teenwoordigheid te maak, voordat jy bid.
  4. Na jou gebed, raak stil voor die Here en wag op die Heilige Gees om met jou te praat en in jou hart te werk.

Hebreërs 1:1-2: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”

Oordenking: Watter taal gebruik God? Hoe praat Hy vandag met ons?

Persoonlik: Verklaar dat jy glo dat God vandag steeds kan praat en wel praat. Vertel Hom van jou begeerte dat Hy persoonlik en verstaanbaar met jou moet praat. Vra dat die Heilige Gees aan jou bekend moet maak hoe God met jou praat. Vra dat Hy Homself aan jou sal openbaar deur Sy Woord, Jesus Christus.

Gemeente: Bid dat God se stem oor jou gemeente sal weerklink. Vra dat die mense se ore ingestel sal wees om na Sy stem te luister.

Maandag 12 April 2010 – Dag 10: Onthou die fonteine van herlewing van ouds

Esegiël 47:9, 12: “Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe …Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”

Die uitstorting van God se guns en genade op die Kerk sal outomaties elke aspek van ons samelewing beïnvloed. Wanneer die Kerk in die regte verhouding met God staan, sal die nasie genesing ervaar. Vra dat die Kerk in ons nasie weereens ‘n weerspieëling van die hart en ontferming van Jesus sal wees. Bid dat God jou as ‘n instrument sal gebruik om heling vir mense om jou te bring.

Dag 3 – Lees Filippense 1:12-18

’n Duidelike verstaan van sy roeping en sy doel in die lewe, het Paulus dag vir dag beïnvloed.  In die tronk, op ’n skip wat vergaan, deur verhore, wanneer hy geslaan is, deur debatte heen, kon Paulus aangaan.  Hy het geweet wat sy lewensdoel was.  Hy het geweet hy kon swig voor die moeilike omstandighede, of hy kon homself oorgee aan die saak wat so groot is dat die omstandighede waarin hy hom bevind, nie saak gemaak het nie.  Wanneer ons ons aan ons omstandighede oorgee, dan is ons uitgelewer aan dit wat met ons gebeur.  Wanneer ons ons aan ons lewensdoel oorgee, dan maak dit nie soveel saak wat met ons gebeur nie.  Paulus kom tot die gevolgtrekking dat dit nie saak maak wat met hom en ander gebeur nie, solank as wat die evangelie net verkondig word!

Dag 4 – Lees Filippense 2:3-11

Paulus gebruik Jesus as voorbeeld van ’n dienende leier.  Nadat hy by sy lesers daarop aangedring het dat hulle in nederigheid onselfsugtig moet leef (Fil 2:2-4), herinner hy hulle aan Jesus se menswording.  Hy het die heerlikheid van die hemel en die hoogste posisie agtergelaat om nie net mens te word nie, maar die nederigste vorm van menswees, die misdadigersdood aan die kruis, aan te neem.   ’n Leier wat onselfsugtig dien roep ons op om dieselfde te doen en te wees!

Dag 5 – Lees Filippense 2:25-30

Daar is heelwat leiers in die Bybel wat glad nie “groot name” is nie.  Hulle is mense wat nooit so bekend soos Moses of Dawid of Paulus geword het nie, al het hulle ’n belangrike rol in die Koninkryk gespeel.  Epafroditos was so ’n mens.  Daar word net in Filippense van hom gepraat.  Daar is nie boeke oor hom geskryf nie, en hyself het nie ’n boek geskryf nie.  Hy was nie ’n groot naam nie.  En tog word hy vir Paulus belangrik.  Hy kom al die pad van Filippi na Rome om by Paulus in die tronk te kom aansluit om hom te versorg.  Hy neem ook hierdie brief terug na die Filippense.  Paulus sê van hom dat hy ’n medestryder en medewerker is, iemand wat sy lewe gewaag en amper verloor het, ’n leier-helper wat onselfsugtig gedien het!