Skip to main content

Tag: preke

Paasfees 2017 Preek Kolossense 3

As jy iemand wil leer ken, wil weet wie hulle is en wat hulle laat tiek, dan wil jy altyd hulle storie leer ken.  Want jou storie – waar jy vandaan kom, wie jou mense is, wat in jou lewe met jou gebeur het – sê wie jy is.  Dit bepaal tot ’n groot mate jou waardes, jou keuses.  Ek is bv. gebore in Kimberley.  Ek het my hele skoolloopbaan op platteland deurgebring.   Ek het op Stellenbosch studeer, so ek is ’n Matie.  Maar eintlik moet jy verder teruggaan in my storie as jy my wil ken.  My ouma en oupa was nie geleerde mense nie.  Hulle het hard gewerk sodat my pa kon gaan leer.  Ons familie ag vandag harde werk en geleerdheid hoog.

Die storie van Paasfees, is ons storie.

Continue reading

Gen 50:15-21 – Son 14 Sep 08

WOORDVERKONDIGING
KOM ONS TREK VIR ‘N OOMBLIK DIE SKOENE VAN DIE BROERS AAN.

Die broers het Josef regtig sleg behandel – hulle het sy lewe in Israel kortgeknip, hom van sy familie en sy mense ontneem, hulle het hom ‘n slaaf gemaak en verkoop aan ‘n klomp handelaars. En hulle het hulle pa belieg met hulle storie oor wilde diere wat vir Josef opgevreet het en so as’t ware Josef se gedagtenis uitgewis in sy tuisdorp.

Toe hulle uitgevind het dat Josef wonder bo wonder oorleef het, en boonop tweede in bevel in Egipte was, was hulle verras en natuurlik bly vir die uitkoms uit hongersnood waarin hulle was, en dat hulle daarby nie vir hulle misdaad moes boet nie.  Josef was immers duidelik daaroor dat hy hulle vergewe.

Maar blykbaar was daar diep binne in hulle die gevoel, sê nou maar net ons word êrens verantwoordelik gehou vir ons misdade.  En toe hulle pa sterwe het dié gevoel die oorhand gekry. Soos vers 15 sê: “En Josef se broers was bevrees na die dood van hulle vader”.

Die probleem van die broers lê dus nie by Josef nie, maar by hulleself. Josef se dade en woorde van hoofstuk 45 het reeds deeglik gewys dat hy met hulle versoen wil lewe … maar ons lees nêrens dat hulle hulle sonde bely en erken het nie, of vir vergifnis gevra het nie of dit aanvaar het nie.  So ons lei af dat hulle gevoel van skuld hulle gejaag het.

Die versekering wat Josef in Genesis 45 gegee het, het nie ’n blywende indruk op hulle gemaak nie. Daar het hy alreeds beklemtoon dat God hom voor hulle uitgestuur het (vers 3-8).

Maar noudat hulle pa dood is, begin die broers wonder of Josef se gesindheid nie sal verander nie.  Op ‘n manier besef hulle nou meer as tevore dat hulle aan die genade van hulle broer uitgelewer is.

Die interessante is egter, hulle kies om steeds ‘n pad van misleiding en emosionele manipulasie te volg, uit vrees vir die gevolge van hulle vroeëre dade.  

Daarom lees ons in vers 16, 17 dat hulle eers ’n boodskapper stuur om met Josef te praat om so aanvanklik ’n direkte konfrontasie te voorkom. Hulle probeer sy guns wen deur te verwys na hulle pa se opdrag tot vergifnis, waarvan ons nêrens anders lees nie, wat dus lyk asof dit opgemaak is.  Hulle pleit wel twee maal om vergifnis, en beskryf hulle sonde as misdade en onreg, maar van ‘n afstand af!  Op die koop toe, doen hulle ‘n beroep op hulle geloof in dieselfde God as hulle pa, interessant nie as dieselfde God as Josef nie!

Eers as Josef emosie toon en hulle die vermoede het dat hy hulle regtig sal vergewe, gaan val hulle uiteindelik voor hom neer.  Josef se broers maak dus steeds eintlik staat op misleiding om hulle gewete stil te kry.  Soos ‘n geleerde (Coates) sê: “They still depend on deception as a way of life.”

Wat sien ‘n mens dus hier in hulle lewe?

‘n Mens sien hier dat, sonder vergifnis en die aanvaarding van vergifnis, die broers aan hulle verlede vasgeketting bly.   Dieselfde vrees en angs uit hulle verlede, toe hulle ‘n storie moes opmaak oor Josef se dood, oorval hulle, sodat hulle eintlik weer fouteer.

Soos die verhaal van Peanuts waar Lucy aan die einde van ‘n bofbalwedstryd aan Charlie Brown verduidelik hoekom sy die bofbal mis gevang het: “Sorry I missed that easy fly ball, manager. I thought I had it, but suddenly I remembered all the others I’ve missed, and the past got in my eyes.”  

En die interessante is, daarmee erken die broers, dat die enigste een wat die siklus van wraak en weerwraak kan deurbreek, die een wat verontreg is, Josef.

Skuldgevoelens laat jou dus nooit los nie!  Totdat jy nie op ‘n plek kom waar jy eerlik jou sonde bely en erken nie, en iemand jou nie vrygespreek het nie, EN jy dit aanvaar het nie, is jy ‘n gevange van jou skuldgevoelens.

Soos een Joodse kommentaar sê: Josef se broers hoop vir haat om hulle skuld te vereffen (Wendy Amsellum). Sy vertaal (op voetspoor van die Middeleeuse Joodse kommentator Rashi) vers 15: “As Josef maar net vir ons haat …” i.p.v. “Sê nou net Josef haat ons  …”

Wat leer ons uit hulle verhaal?

Om los te kom van jou skuld uit die verlede, het jy nodig om die skuld te erken, bely, vergifnis te vra, en te aanvaar wanneer dit gegee is.  Dit is die enigste manier om van skuld los te kom.

Dit is waar van skuld op ‘n menslike vlak, en tussen ons en God.

En dit kan wees dat dié verhaal jou op dié vlak aanspreek. Miskien is daar iets wat jy moet gaan regmaak, of gaan sê jy is jammer, of sê jy is verkeerd.  Dit is waar die verandering begin, waar jy erken en bereid is om dit te bely.

KOM ONS TREK DAN NOU DIE SKOENE VAN JOSEF AAN.

Net soos in Genesis 45:2 huil Josef.

Dis moeilik om af te lei wat die rede vir sy trane is. Die atmosfeer van medelye oorheers egter beide Genesis 45, die eerste interaksie tussen Josef en sy broers, en hier in Genesis 50. Sy duidelike versekering dat hulle nie moet bang wees nie en dat hy steeds vir hulle sal sorg, benadruk sy omgee vir hulle.

Een geleerde (Wenham) dink dat Josef huil omdat hulle steeds bang is vir hom, en dat dit eintlik vir hom sy eie verlore verlede terugroep, en hy besef sy broers sit nou in die situasie waarin hy was, toe hy afhanklik was van hulle goedgesindheid daar by die put … en as seun nie by hulle gekry het nie.  Josef huil dus op ‘n manier sy broers se trane.  

Hy huil miskien ook oor die feit van sy verlore jeug en oor die feit dat die pad wat hy moes loop, van hom ‘n outcast gemaak het.  Om die waarheid te sê, ons lees aan die einde van hoofstuk 50, dat hy sy broers vra om sy bene na sy dood saam met hulle terug te neem na Israel – om darem in sy dood deel van sy vaderland te wees.

Maar Josef veroordeel nie sy broers nie, en bly by die keuse wat hy vir vergifnis gemaak het.  Hoekom?

Omdat Josef anders na die verlede kyk as sy broers.  

Die broers kyk na wat hulle self gedoen het in die verlede en heel gepas is hulle bang.  Josef kyk egter na die groter prentjie – dít wat God reg gekry het deur die presiese gang van die verlede, die kwaad ingesluit.  En Josef kyk na die droom wat God hom in sy jeug gegee het, en hy hou dít in gedagte, nie die skuld van sy broers nie óf sy verlore jeug nie.

En wat Josef raaksien, is dat met God, die slegste goed nooit die laaste goed is nie!  

  • God kan altyd nóg iets doen, as dinge lyk asof dit uit mekaar val.  
  • Die slegste goed is nooit die laaste goed nie.  
  • En dié God kan die kwade goed dink (Noordmans).  
  • Sy hand word juis in die donkerste tye sigbaar.
  • Selfs mense se bose planne verlam nie God se planne nie.
  • Mense beplan, maar die laaste woord kom van die Here af (Spr 6:16).
  • Bose planne dwarsboom nie God se planne nie, menigmaal bevorder dit juis wat Hy wil doen!

Maar Josef kyk nie net anders na die verlede as sy broers nie.  Hy verbind hom aan die goeie wat God beplan – dit is waarvoor hy kyk en dit is waarvoor hy lewe.

  • Daarom verklaar hy dat hy sal sorg dat daar kos vir sy broers se kinders is.
  • Josef aanvaar dus verantwoordelikheid om deel van God se goeie plan vir die toekoms te wees.
  • So, sê Gibson, word ’n verhaal wat met haat begin het, afgesluit met haat wat deur liefde oorwin word.
  • Uiteindelik word ’n familie wat deur haat uitmekaar geskeur is, weer in harmonie met mekaar gebring.  
Wat leer dit vir ons?
  • Dat ons ook kan verwag om God se hand in die donkerte van ons eie familie stories te sien.
  • Dat ons ook kan verwag dat dié God die kwade goed kan dink!
  • Dat die slegste goed nooit die laaste goed is nie – daar is altyd weer hoop, nie die hoop op haat soos die broers gevrees het nie, maar die hoop op die liefde.
  • En dat ons ons kan verbind aan die goeie wat God beplan – die droom van God om die goeie uit die kwaad te voorskyn te bring.
  • Ons kan ons verbind om aktief die roeping te aanvaar om deel van God se goeie toekoms te wees. Josef se rol is immers nie om sy broers terug te kry nie, maar om hulle te versorg; nie om hulle te veroordeel nie, maar om aan hulle ’n tuiste te gee.

Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08

KINDERTYD

Weet julle wie is die president van Amerika?

  • Nou sy pa, George Bush snr, het eenmaal, toe hyself president van die VSA was, ’n ouetehuis besoek. 

Weet julle wat ’n ouetehuis is?

  • En daar het vriendelik met ‘n ou oom begin gesels en vir hom gevra:  “Weet jy wie ek is?” 
  • Die ou oom het nie geweet nie en geantwoord:  “Nee, maar gaan na die ontvangs toe, want as ons vergeet, vertel hulle vir ons wie ons is!”

Maar jongmense het ook dié probleem!

  • Ek onthou ‘n dogtertjie wat toe sy een keer in ‘n kring om my staan, haarself aan my moes voorstel, en toe gesê het: “Wie is ek nou weer?!”

Kom ek vra vir julle: “Wie is jy?” 

  • En “Nou wie is  …….. ?”
  • En “Wie is ………. ?”

Ons almal weet min of meer vanwaar af ons kom.  Jy ken jou ma en jy ken jou pa en jy ken jou ouma en oupa en ooms en tannies en neefs en niggies en sommer nog ’n hele spul ander mense ook.  Dit help ons verstaan wie ons is.

In die Bybel het Jesus dieselfde vraag gevra: “Weet julle wie is Ek?”

  • Wat dink julle het hulle geantwoord?
  • Wat sou julle antwoord?

Petrus het die ‘regte’ antwoord gehad; hy kon sê wie se Seun Jesus is.

En wie se Seun is Jesus?

God s’n!

En omdat Hy God se seun is, kan ons op Hom vertrou. Ons ken Hom.  Hy is God se Seun!

Daarom kan Hy ons gebede verhoor, Hy vergewe ons sonde, Hy help ons wanneer ons sukkel, Hy troos ons wanneer ons hartseer is.

Dis darem maar goed ons weet Hy is God se Seun, nê!

SKRIFLESING

Die hart van ons Gereformeerde Identiteit het te make met vier frases:

  • Net genade             Ef 2:8-10/ Rom 3:23-24
  • Net geloof               Rom 1:17/ Rom 5:1
  • Net Christus            Rom 5:8/ Rom 6:8 en 23
  • Net die Skrifte         Ps 1:1-3/ 2 Tim 3:16; 4: 2-3

En dit is nie asof dit ‘n optelsom is nie – jy sien die genade in Christus, en sonder geloof maak die Skrifte nie sin nie – dit is ‘n beskrywing van ‘n geheel.
Ons fokus vandag op Jesus en wie Hy is, want dit is wat die teks op die tafel sit, maar ons is telkens besig met die hele geheel – die kern van ‘n Gereformeerde kyk na wat Christelik is.

Opbou en agtergrond

Hoewel hierdie gedeelte ten nouste met die voorafgaande gedeelte oor die suurdeeg en sy invloed saamhang, onderstreep die begin van dié gedeelte van toe af (wat ook in 4:17 voorkom) dat hier ’n nuwe fase in Matteus begin waarin besondere klem op Jesus se lyding en sterwe val.  Die gedeelte self bestaan uit drie dele:

  1. die vraag aan die dissipels oor sy identiteit deur Jesus, met ’n rits antwoorde met Petrus s’n as hoogtepunt (vers 13–16);
  2. die uitsonderings posisie van Petrus (vers 17–19) en
  3. die opdrag aan die dissipels om oor Jesus se identiteit te swyg (vers 20).

Kom ons lees Matteus 16:13-20

WOORDVERKONDIGING

“Wie is ek?”

In vers 13 vra Jesus wie die mense dink die Seun van die mens is. 

Word on the street vertaal:”13 What’s the gossip? What are people saying about Me? They worked it out yet?”

Dis ’n ongelooflike gelaaide vraag.

Nou vir die ingeligte hoorder, sou die titel al klokkies laat lui het.  Hulle sou onthou het van die geheimsinnige man wat Daniël (7:13) in sy nagtelike visioen gesien het.  Dié verwysing het immers ’n uiters belangrike rol in die Jode se Messias verwagting gespeel.  Só, hulle sou die afleiding kon maak, dat Jesus eintlik na Homself as Messias verwys.

En dit is nie asof Jesus die term net een keer in ‘n gesprek oor Homself gebruik het nie.  Dit kom in al vier evangelies voor, dat Jesus só na Homself verwys (Matt 8:20, 9:6, 11 en 19; Mark 2:10; Luk 7:34; 9:58; Joh 9:35-37).  En niemand anders gebruik die term nie, net Hy. 

Maar die antwoorde wat die mense vir die dissipels gee, wys dat die mense nie verstaan het wie Jesus is nie.  Uit die uiteenlopende antwoorde lyk dit asof almal op een of ander manier dink dat Jesus ’n profeet was (vers 14): Johannes die Doper, Elia, Jeremia (net Matteus vermeld die feit).  Maar die kloutjie kon hulle nie by die oor kry nie.

Maar julle, wie sê julle is Ek?

En dan kom die belydenis van Simon, wat sy voorloper al in hfst. 14 gehad het toe Simon op die see saam met Jesus geloop het, en hy en die ander dissipels voor Jesus gekniel het en as die Seun van God aanbid het. 

U is die Christus, d.w.s. die gesalfde, die een wat God as Messias gesalf het (Christus is immers die Griekse vorm van die Hebreeuse woord Messias), die Seun van die lewende God.

En met vreugde verklaar Jesus dan vir Simon as gelukkig, geseënd.  Interessant dat Hy Simon as die Seun van Jona, Simon Barjona (bar is die Aramese woord “seun [van]”)  aanspreek en dan sy naam verander na Simon Petrus toe. 

Jy is Petrus, rots, en op dié rots sal Ek my kerk bou, ‘n ongelooflike belofte (vers 18)! 

Die gesag om die kerk te onderrig, die sleutels van die hemel, word ook aan hom gegee (vers 19). 

Nou daar is ’n groot verskil in hoe Katolieke en Gereformeerdes die teks verstaan. 

  • Vir eersgenoemde gaan dit om die vestiging van ’n amp – dié van die pous, ‘n individu as ‘n rots, wat hiërargiese volmag het in alles van die kerk. 
  • Vir laasgenoemde gaan dit oor die rol van die kerk – as geloofsgemeenskap, ‘n gemeenskap wat op die rots van Petrus se belydenis gebou is, in wie Christus die volmag het. 

Interessante vertaling in Word on the Street werp miskien ‘n ander lig op die betekenis van dié gedeelte: “I’ll tell you the security codes of heaven: if you block something down here, heaven will make sure it stays blocked, if you give something the green light down here, heaven will make sure it goes through.”  Dit klop met die betekenis in Matteus 18:18-19 waar ook oor dié sleutelmag gepraat word, en die uitoefening daarvan verbind word aan die saamstemmende gebed van die gemeenskap van gelowiges.

Wat ‘n mens onmiddellik anders laat dink oor die belangrikheid van gebed!  Dit is die kodes wat die hemel oop- en toesluit – en ons het dié mag gekry, om in afhanklikheid van ons Messias, die een wat mense kinders van God wil maak, te gebruik.

Maar dan kom ons by die gedagte wat my die meeste getref het.  “Op hierdie rots sal Ek my kerk bou en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (vers 18).  Doderyk of Hades staan hier vir die plek waar die ongelowiges gebêre word vir die oordeel, ‘n uiters ongemaklike plek, wat sommer in later gebruik van die woord, as die hel bekend geword het, hoewel tegnies die hel eers aan die einde van die tyd regtig in spel sal kom, as ‘n mens Openbaring in gedagte hou.
Maar belangrik.  Dit is nie Petrus wat bou nie.  Dit is Jesus Christus wat bou. 

Dit is nie Petrus of sy dissipel-vriende of enige ander Christen daarna wat die voortgang van die kerk verseker nie.  Dit is Jesus Christus wat die bose magte sal teëstaan sodat die kerk nie oorweldig word nie.

Matteus sluit die gedeelte af met die bevel van Jesus in vers 20 dat hulle dié insig in wie Jesus werklik is, nie verder met buitestaanders moet deel nie.  Sonder die kruisdood en opstanding van Jesus, sou sy Messiasskap immers nie sin maak nie. Geen wonder dat Matteus met smaak aan die einde van die evangelie dié kleed van geheimsinnigheid  afgooi en in die woorde van Jesus self sê dat dié boodskap van die Messias die hele wêreld in verkondig moet word (28:19) – die bekende Groot Opdrag.

TOEPASSING

Ek wil na hierdie Skrifuitleg twee dimensies hiervan uitlig.

1.  Jou eie identiteit in Christus

Jesus begin hier met ’n algemene vraag aan die dissipels:  “Wie sê die mense is Ek?”

En as hulle vir Hom ’n paar antwoorde gee, dan maak hy dit persoonlik: “Wie sê julle is Ek?”

Dis die vraag wat elke mens deur die eeue moet antwoord … Wie is Jesus vir jou?

Ek het onlangs die boek van Francis Collins gelees, The Language of God, waarin hy as wetenskaplike oor geloof gesels.  Hy is die vader van die menslike genoom projek en het die Nobelprys daarvoor gekry.

Hy begin sy volwasse lewe as ‘n ateïs, iemand wat nie in ‘n God glo nie.  Maar dan ontmoet hy ‘n vrou in die hospitaal wat besig is om dood te gaan, en dié vra hom wat hy regtig glo.  En met ‘n skok besef hy dat hy eintlik sy hele lewe die vraag na God ontwyk het.  En dat Hy nie langer dít sou kon doen nie.   Hy sou moes ‘n antwoord gee op die vraag, in terme van die teks, wie is Jesus vir jou?

En dan met die lees van ‘n paar boeke, veral CS Lewis se boeke, raak hy oortuig van die bestaan van ‘n universele morele wet wat nie uit natuurlike ontwikkeling verklaar kan word nie.  En wat hom spesifiek aanspreek, is dat mense altruïsties kan optree, d.w.s. lief kan hê sonder om iets terug te verwag (wat die Bybel as agape liefde beskryf).  En omdat hy dié tipe liefde nie uit natuurlike ontwikkeling kan verklaar nie, kon hy eenvoudig nie God se bestaan langer ontken nie.  En Jesus raak vir Hom die Seun van God, die Messias, die Christus.

Ek weet ek praat met mense wat die evangelie ken – maar die vraag bly steeds – wie is Jesus vir jou?  Dit bly die belangrikste vraag, een wat ‘n mens nie kan ontwyk nie, en een wat jou lewe hier en nou bepaal.

2.  Ons identiteit in Christus

As ons seker is van ons identiteit in Christus, dan is die tweede vraag wie is die kerk, dié kerk wat Jesus bou en waarvan Hy sê, die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie?

Nou, ek is nie onbewus daarvan dat die antwoord op die vraag baie diep deur ons konteks bepaal word.

Dié week het bv. die kerkherenigingsbootjie ‘n rowwe see binnegevaar.  U het seker kennis geneem daarvan dat die VGK die NGK se afskeid van apartheid ernstig bevraagteken het, en nie ons aansoek om deel van ‘n Afrika Konferensie van Kerke te word, goed te keur nie. En dit plaas die hele gesprek tussen ons in gevaar.
En die ontstellende is dat ons eie kontekse ons perspektiewe daarop so indringend bepaal.

  • Vir die NGK was dit ‘n skok, só onverwags.  Die VGK het weer teruggekrabbel na hulle hantering van die belydenis van Belhar as ‘n uitsluitende voorwaarde vir gesprekvoering en nié ‘n insluitende voorneme om dit deel van die belydenisgrondslag van die herenigde kerk te maak.  En die beskuldiging van apartheid en rassisme word weer voor ons deur gegooi.  Ons voel seergemaak en verraai.
  • Maar ek kan dink dat die VGK se terugkrabbelry ook kom uit ‘n ervaring van pyn, spesifiek onverwerkte pyn uit die verlede: die pyn van menswaardigheid wat aangetas is, die pyn van gedwonge verskuiwings, die pyn van verbrokkelde gesinne en afwesige pa’s, die pyn van die verlies van geliefdes op ‘n verskeidenheid van maniere, wat natuurlik aan albei kante van die spektrum van ons verlede plaasgevind het.

En dít maak dit so moeilik om in dieselfde gespreksruimte te bly:

  • as die NGK se mense sê, ons gaan nie almal die belydenis van Belhar aanvaar nie, dan hoor die VGK dit in hulle pyn … dat ons húlle nie aanvaar nie, en nié erken dat hulle pyn gely het in die verlede nie. 
  • En ons hoor weer in hulle voorwaardes, dat hulle ons nie aanvaar nie, ten spyte van ons verskeie belydenisse van die verlede en die nuwe oortuiging waarmee ons die pad van hereniging stap.

En die probleem is, ons gesukkel om mekaar te vind, laat die kerk in die breë skade ly, en ten diepste, laat die boodskap van Christus skade ly.

Die tyd het miskien gekom dat ons nog dieper die pyn van die verlede in die oë staar en iets daaraan probeer doen. 

Ons identiteit sal nooit nét in ons eie geledere uitgeklaar kan word nie.  Ons is verbind aan mekaar met drie eeue se saam-Christen-wees.  Vir die eerste 200 jaar was hier net een kerk, was ons saam, en kan ons nooit heel wees sonder dat ons by mekaar op een of ander manier is nie.

Miskien gee die teks vir ons ‘n weg vorentoe, want dit is interessant dat die gesprek tussen Jesus en Simon Petrus na beide kante toe ‘n bevestigende gesprek is.  Simon Petrus bevestig Jesus se identiteit, U is die Christus, en so ook Jesus die identiteit van Simon Petrus, jy is die seun van Jona, en ek gee ook vir jou nou ‘n nuwe identiteit, dié van ‘n rots, Petrus.

Die gemeente en die proses van kerkhereniging behoort juis ‘n veilige plek te wees waar ons mekaar bevestig en nie verder beskaam nie! En hoe nodig het ons nie dat die Here vir ons ‘n pad vorentoe wys, op ‘n wedersydse bevestigende manier. 

Ten minste is ek oortuig dat die Here sê dat ons mekaar nie mag los nie!

  • Selfs wanneer jy hoog opgee oor ‘n spesifieke greep op die waarheid, soos wat belydenisskrifte per se is, ‘n greep op die waarheid, jy die ander een nie mag los nie! Dit het ek geleer by Brenda Salter McNeil se A Credible Witness – Reflections on power, evangelism and race. (2008, Downers Grove: IVP). Sy maak die volgende stellings oor eenheid:
  • “To choose Christ is also to choose his community.” (2008:16)
  • “Our unity in the midst of our diversity is one of the most powerful ways we reveal the reality of what Jesus accomplished on the cross.” (2008:16)
    • Ek het ‘n artikel daaroor geskryf in die vorige Kruisgewys vir mense wat meer daaroor wil lees: http://www.gemeentes.co.za/Pdf/McNeil.pdf  .  Of kom haal een in my kantoor.

Dit is wonderlik om te sien hoe die kerk in die vlaag xenofobie wat onlangs deur die land gespoel het, bakens van hoop was, wat mense in hulle nood ingesluit het en hulle oor randfigure ontferm het.

Dít is wie ons as kerk is, ‘n insluitende gemeenskap!  En ons moet dit nie vergeet nie en gebruik in die antwoord op die vraag, wie is ons?

Ek sluit af.

  • “Wie is Ek?” vra Jesus.  U is die Christus, die seun van die lewende God.
  • “Wie is ons?” as Christene.  Ons almal, saam, is kinders van die lewende God, en ons het die heilige opdrag om te sorg dat ons dit saam kan vier.

Amen.

GEBED

DANKOFFERS

SLOTSANG

  • Lied 478 “Op vaste fondamente” staan

SEËN

AMEN

  • Lied 314 “Amen” staan

AANKONDIGINGS