Wees Eg – Lig – 1 Johannes 1:5-2:2
Ons het ’n probleem. Want ons is God se kinders! Ons leef in verbondenheid met hom! Maar ons maak droog. Selfs ons beste is nie goed genoeg nie. As die dominee sê daar is geen oorvleueling tussen die lig-sirkel en die duisternis-sirkel nie, dan skuif ons ongemaklik rond, want ons wéét van ons eie duisternis.
Toetrede
Flam 113 Here Jesus, U skyn oor almal
Votum
Johannes 1:4-5
In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Seëngroet
(n.a.v. die Geloofsbelydenis van Nisea)
Voorganger: Genade en vrede van een Skepper-God
Gemeente: van alle sienlike en onsienlike dinge.
V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.
V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
Almal: Amen.
Lofsang
Lied 491v1-3 ‘k het Jesus lief, Hy is my lig en krag
Verootmoediging
Vanoggend se skrifgedeelte uit 1 Johannes sê:
9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Daarom gaan ons vanoggend tyd maak om ons sondes te bely. As ’n geestelike dissipline is dit goed om soms langer tyd te maak om deur jou lewe te dink en die Here te vra om jou te wys wat regtig in jou lewe aangaan, om rustig jou sonde voor God te bely. Ek gaan vanoggend gewoon Romeine 12:9-21 lees. Ek wil jou nooi om rustig, biddend daarna te luister en telkens jou lewe daaraan te toets.
Romeine 12:9-18
9Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. 11Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. 12Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. 13Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. 14Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. 15Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. 16Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. 17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
Vonkk 23 Jesus, U is die lig in ons lewe
Doop
Lied 292 My enigste troos
Gebed
Kom, o Lig, en verlig die duister in my.
Kom, o Lewe, en wek my uit die dood.
Kom, Groot Geneesheer, en heel my wonde.
Kom, Vuur van Goddelike Liefde, en verteer my sonde…
verwarm my hart met u liefdesvlam.
Kom, my Koning, kom sit op die troon van my hart en regeer my lewe.
Want U alleen is my Koning en my Heer.
Skriflesing
1 Johannes 1:5-2:2
5Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
2 Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
Preek
Integriteit
Kinders se hulp nodig (of elektronies) – ek gaan vanoggend ’n dobbelsteentjie gooi en vir julle wys hoe gelukkig ek is! (Gooi dobbelsteentjie, jok aanmekaar oor die nommer – al kan die kinders sien dis iets anders.)
Ken julle die woord “integriteit”? “Integriteit” beteken dat wat ’n mens doen en wat ’n mens sê, dieselfde is. So as ek ’n dobbelsteentjie gooi en sê dis iets anders as wat dit is, dan bedrieg ek vir julle – en vir myself. Vandag se teks praat oor integriteit. Dit sê dat Jesus se kinders se lewens saak maak. Ons is gedoop. Ons behoort aan Jesus. Ons is sy kinders. Hy sal altyd lief wees vir ons. Maar dit beteken nie ons kan maar so stout wees as wat ons wil nie. Ons moet probeer leef soos Jesus se kinders. Maar die teks sê ook dat ons almal tog nog steeds soms stout is. Dit beteken ook jou mamma en pappa is soms stout. As ons maak asof ons nooit stout is nie, bedrieg ons onsself – dan is dit soos ek wat die steentjie gooi en maak asof dit ’n ander nommer is. Maar omdat ons Jesus se kinders is, moet ons “jammer” sê wanneer ons stout was en probeer leef soos Jesus se kinders.
God is Lig
Ons het verlede week begin met 1 Johannes. 1 Johannes begin deur te sê dat egte geloof ’n verhouding tussen ons met God is, wat ons ook in verhouding met mekaar plaas. Egte geloof is lewe. Julle sal onthou ek het gesê 1 Johannes praat oor lewe, lig en liefde.
In vandag se gedeelte trek die brief dan sommer dadelik weg:
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
Dink so bietjie aan lig…
Lig help ons om te sien as dit donker is. Gestel jy gaan kamp in die Kruger Wildtuin, waarheen my hart so op ’n punt trek. Dan staan jy in die middel van die nag op om ’n glas water te kry. Maar dis donker. Sy jy weet nie wat om jou aangaan nie. Jy ken nie die plek goed nie. Jy kan nie die pad sien na die kraan toe nie. Jy weet nie watter gevare in die donker vir jou loer nie. Maar wanneer jy jou flits aansit, kan jy sien wat om jou aangaan. Jy kan sien daar is nie leeus wat jou bekruip nie. Jy kan sien waarheen om te gaan. Jy gaan nie oor boomwortels of slapende bosbokkies trip nie.
Net so help God se self-openbaring ons om God te ken. En dit help ons om die pad te sien waarop ons moet loop, die pad wat na God lei.
Maar die brief beklemtoon: in God is daar géén duisternis nie. Dit is die hart van wie God is. Suiwer lig. In God is lig en donker onversoenbaar.
Dit help nogal as mens daaraan dink as twee sirkels.
In die een sirkel is waarheid, liefde, regverdigheid, lewe, hoop. Dit is lig, God se sirkel. Dit is die sirkel waarbinne God se kinders leef.
Die ander sirkel is die teenoorgestelde. Dis leuens, haat, vrees, sonde. Dis duisternis. En God is nie daar nie.
Die twee sirkels het niks in gemeen nie. Niks oorvleueling nie.
Nou sal julle ook van verlede week onthou dat sommige van die mense vir wie hierdie brief geskryf is, begin sê het dat ons aardse lewens nie saak maak nie. Ons behoort mos nou aan God! Ons leef mos nou in verbondenheid met hom. So as ek dan nou reeds gered is, deur genade, dan kan ek mos maar doen wat ek wil – het hierdie mense gesê.
So hierdie brief sê: nee. Jy kan nie aan God behoort, wat Lig is en dan in die ander sirkel woon nie. Jy moet kies in watter sirkel jy woon. Jou lewe maak saak. Ek kan nie sê ek is God se kind en dan sommer net aangaan om mense te haat of sleg te maak nie. Dis soos om ’n vier te gooi en te sê dis ’n ses.
Egte Sondaars
Maar nou het ons ’n probleem. Want ons is God se kinders! Ons leef in verbondenheid met hom! Maar ons maak droog. Selfs ons beste is nie goed genoeg nie. As die dominee sê daar is geen oorvleueling tussen die lig-sirkel en die duisternis-sirkel nie, dan skuif ons ongemaklik rond, want ons wéét van ons eie duisternis.
Of ons kies – soos die mense vir wie hierdie brief aanvanklik geskryf is–om te maak asof ons eintlik nie sonde het nie. Om onsself – en mekaar – te probeer wysmaak dat ons “goed genoeg” is. Dat my sonde darem nie so erg is nie.
Daar is ’n paar jaar gelede navorsing gedoen onder Christene in die weste van die VSA, wat baie interessante resultate gelewer het. 98% het gesê dat hulle glo in “persoonlike sonde” personal sin – m.a.w. dat mense, individue, kan sonde doen. Net 57% het aanvaar dat alle mense sondig is. ’n Hele derde het gesê dat hulle baie foute maak, maar dat hulle nie self, persoonlik, sondig is nie.
Die van julle wat twee weke gelede hier was, toe ons oor die tien gebooie gesels het, sal dalk die twee aan mekaar kan verbind. Jesus het gesê as ons kwaad is vir mekaar, of mekaar sleg sê, dan is dit dieselfde as om moord te pleeg. Dat om na iemand te kyk en hulle te begeer, dieselfde is as egbreek.
1 Johannes gaan hiervandaan verder om te praat oor liefde en sê dat ons mekaar moet liefhê. En dat liefde net liefde is wanneer dit in dade oorgaan. Dat liefde is om jou lewe af te lê. Elders sê die Bybel ons moet ons vyande liefhê.
Party van ons kan nog wegkom as jy net na ons dade kyk. Maar o gits. As jy na ons harte en ons gedagtes moet kyk… soos wat Christus inderdaad doen… dan raak die prentjie maar donker.
’n Mens kan aangaan en lang lyste noem. Die punt is, ons is nie goed genoeg nie. Nie een van ons nie. As God suiwer lig is by wie daar geen duisternis toegelaat word nie, dan is ons elkeen in die moeilikheid.
In my tienerjare het ’n beeld gehoor wat my bygebly het. Oor God wat lig is en ons wat voor hom staan. Wanneer jy skielik in die lig staan, besef jy dat jou klere vieslik vuil is. So jy was dit. Maar hoe nader jy aan die lig kom, hoe fyner kan jy sien. Dan sien jy jy het ’n kol gemis. So jy was dit. En jy kom nog nader aan die lig en sien hier is ’n kolletjie wat jy nie eers voorheen kan sien nie.
’n Lewe in gemeenskap met God is ’n lewe waar ons daagliks nader aan die lig beweeg. En daagliks meer bewus raak van die sonde in ons lewens.
Ons sit met ’n probleem. Want dit kan lyk en klink en voel asof ons in die donker sirkel woon.
’n Advokaat by die Vader
Maar die sleutel lê in 2:1b:
En as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.
Hier is twee belangrike goed:
Die eerste is dat Jesus vir ons ’n voorspraak is, ’n parakleet.
Wat dieselfde woord is wat Jesus van die Heilige Gees gebruik in die Evangelie van Johannes, wanneer hy sê dat hy vir ons ’n ANDER voorspraak gaan stuur.
Een moontlike manier om hierdie “parakleet” te vertaal, is as advokaat. Dit is iemand wat langs ons kom staan en vir ons kom intree. As ons in ’n hofsaak aangekla word, dan is die advokaat die een wat vir ons onskuld veg, vir ons intree en sê: hierdie een is onskuldig.
Maar Jesus is ’n spesiale soort advokaat. Want ons is skuldig. Mos. Maar Jesus is die advokaat wat sê: hierdie een is onskuldig, want sy is skoongewas in my bloed. Ek het reeds die prys vir haar sonde betaal. Die duisternis in haar lewe is uitgewis. Hy leef in die lig-sirkel, want my bloed het hom daar gesit.
Die tweede belangrike ding wat jy moet raaksien, is dat Jesus nie ’n advokaat voor ’n regter is nie. Jesus is ’n advokaat by die Vader.
En dis tog heeltemal anders. Dit verander die saak volledig.
Gestel ’n pa het ’n baie kosbare item – ’n trofee wat hy gewen het of ’n herinnering aan iets uit sy verlede – wat ’n ereplek in sy studeerkamer het. Hierdie pa sê vir sy seun dat hy nie in sy pa se studeerkamer mag speel nie.
Dan op ’n dag sluip die seun in sy pa se studeerkamer in. Dalk met ’n tennisbal wat hy in die lig gooi en vang. Terwyl hy rondkyk na al die wonders van die studeerkamer, misgis hy hom, gooi die tennisbal te hoog… en vernietig sy pa se kosbare kleinood.
Wat gaan hy NIE doen nie? Hy gaan nie vir sy pa sê: o, ek was in die studeerkamer waar ek nie mag wees nie, toe breek ek pa se trofee. Oeps, jammer.
Hy gaan na sy pa toe gaan en sê: Pappa, ek het vandag ’n vreeslike ding gedoen. Ek het in pa se studeerkamer gaan speel, al het ek geweet ek mag nie. Toe preek ek pa se trofee. Ek weet hoe kosbaar dit vir pa was. Ek is baie jammer. Ek was verkeerd.
Vir geen oomblik is daardie moontlikheid dat die pa nié sy seun gaan vergewe nie – eintlik nie in een van die scenario’s nie! Maar die belydenis voor ’n pa is in die veilige konteks van ’n verhouding. Dit is in die arms van liefde.
Dis radikaal anders as voor ’n regter.
Egte lewe in die lig
Interessante ding van sirkels (blykbaar) is dat hulle nie gedefinieer of gekonstrueer word van hul rante af nie, maar vanaf ’n vaste, bekende middelpunt.
So om in die lig te leef, beteken om op die middelpunt te fokus. Om op God te fokus. En soos wat ons nader kom aan die lig, gaan ons inderdaad meer bewus raak van die donker wat nog in ons lewens is. Dan gaan ons dit bely en gaan die lig ons help om al nader aan die middelpunt te leef.
Om ons skuld te bely, is nie om in skande weg te sak, om fyn swepies te vleg om onsself te kasty nie. Dit is om in verhouding met die Vader te herken dat ons sukkel. Dat ons nie op ons eie regkom nie. Dit is om op die Vader se skoot te gaan sit en te sê: ek het drooggemaak. Ek is jammer. Help my. En om dan op hom te fokus, die lig.
Of in die woorde van Sheila Cussons (Die bieg):
Die skuldbelydenis
is verby
en blydskap spring soos ‘n bron
uit wat bedruktheid was
en sing in strome in daardie Tuin
wat die siel onthou,
selfs as sy
weer eens verstrengel in menigvuldighede
opnuut moet bid: ” … vergewe my” –
Sonde en God se erfgenaam
én gevange én vry.
Gebed
Dankoffer
Slotsang
Vonkk 277 v1-2 U is die lig wat deur die donker skyn
Seën
Respons
Vonkk 277 respons laaste 2 reëls:
Jesus Christus, ons God en Heer, ons bring nou aan U die eer.
1 Johannes, God is Lig, lig, preek, Rethie van Niekerk, Wees eg