Skip to main content

Wees eg – liefde – 1 Johannes 4:7-21

In een van sy praatjies vertel dr. Leo Buscaglia hoe hy uitgenooi is na ’n klein kerkie naby sy huis.  Hy vertel hoe hy vriendelik en gasvry en liefdevol verwelkom is, sommer by die deur al.  Maar die hoogtepunt was toe die dominee opstaan en sê:  “Vriende, broer Jonathan gaan vanoggend vir ons preek.  Sy onderwerp gaan “geloof” wees.” Broer Jonathan het opgestaan en vorentoe gegaan:  ’n klein, kort mannetjie, geen hare nie, klein, skerp ogies. Hy het vir ’n paar oomblikke voor almal gestaan.  Toe vou hy sy hande en sê:  “Geloof.  Geloof.  Geloof.  Geloof.  Geloof.  Geloof.” En toe gaan sit hy.  Die dominee het opgestaan en met ’n groot glimlag gesê:  “Dankie broer Jonathan, vir daardie aangrypende preek oor geloof.”

Nou vandag moet ek eintlik net sê:  “God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.”

Verwelkoming & Afk

Toetrede

Lied 286 Here God van liefde

Votum

Love (III)

George Herbert, 1593 – 1633

[Gelees deur Ernst Kotzé]

Love bade me welcome: yet my soul drew back,

Guilty of dust and sin.

But quick-eyed Love, observing me grow slack

From my first entrance in,

Drew nearer to me, sweetly questioning

If I lacked anything.

 

“A guest,” I answered, “worthy to be here”:

Love said, “You shall be he.”

“I, the unkind, ungrateful? Ah, my dear,

I cannot look on thee.”

Love took my hand, and smiling did reply,

“Who made the eyes but I?”

 

“Truth, Lord; but I have marred them; let my shame

Go where it doth deserve.”

“And know you not,” says Love, “who bore the blame?”

“My dear, then I will serve.”

“You must sit down,” says Love, “and taste my meat.”

So I did sit and eat.

Seëngroet

Lofsang

Psalm 118: 1 en 8

Lied 529 Dank, dank die Heer

Verootmoediging

1 Johannes 4:7-8

7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.

Dink na oor die afgelope week…

Waar het jy liefde beleef?  Dank God daarvoor.

Waar het jy liefde gedeel?  Dank God daarvoor.

Waar het jy die kans laat verbygaan om liefde te deel?  Bely dit voor God.

Genadeverkondiging

1 Johannes 4:9-10

9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Geloofsbelydenis

Lied 334 God is liefde, juig ons harte

Gebed

Here,

U wat mense lief het wat ons nie wil verdra nie,

U wat die harte ken van hulle wat ons nie kan verstaan nie,

U wat die innerlike worsteling ken van hulle vir wie ons ignoreer,

U wat die goeie motief sien in die houdings wat ons as skynheilig beskou,

Open ons oë en ons harte.

U ken elkeen van ons beter as wat ons onsself ken;

U het ons liewer as wat ons onsself het…

Here!  Leer ons liefhê met u liefde.

Amen

[Geneviève Graves]

Skriflesing

1 Johannes 4:7-21

Preek

God is Liefde

In een van sy praatjies vertel dr. Leo Buscaglia hoe hy uitgenooi is na ’n klein kerkie naby sy huis.  Hy vertel hoe hy vriendelik en gasvry en liefdevol verwelkom is, sommer by die deur al.  Maar die hoogtepunt was toe die dominee opstaan en sê:  “Vriende, broer Jonathan gaan vanoggend vir ons preek.  Sy onderwerp gaan “geloof” wees.” Broer Jonathan het opgestaan en vorentoe gegaan:  ’n klein, kort mannetjie, geen hare nie, klein, skerp ogies. Hy het vir ’n paar oomblikke voor almal gestaan.  Toe vou hy sy hande en sê:  “Geloof.  Geloof.  Geloof.  Geloof.  Geloof.  Geloof.” En toe gaan sit hy.  Die dominee het opgestaan en met ’n groot glimlag gesê:  “Dankie broer Jonathan, vir daardie aangrypende preek oor geloof.”

Nou vandag moet ek eintlik net sê:  “God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.” Dan sal dit die mooiste preek wees wat julle al ooit gehoor het.

Die woord “liefde” – agape – kom (in die Grieks) 29 keer in hierdie kort verse voor.  Dis duidelik waaroor hierdie verse gaan.  Liefde.  Liefde.  Liefde.  Liefde.

Vrees

Ongelukkig is ek nie dapper genoeg nie en druk 500 jaar van reformasie my om ’n ander woord te noem:  phobos.  Wat in die Afrikaans vertaal word met “vrees”.  Waar ons woord “fobie” vandaan kom.

Wie van julle het almal ’n fobie?  Ek ly aan arachnofobie – die vrees vir spinnekoppe.  Ek is nie bang vir spinnekoppe nie.  Nee, dis baie meer en baie erger as dit.  Ek kan nie eers vir julle ’n prentjie van spinnekoppe op die skerm wys nie.  Want dis ’n spinnekop.  Wie van julle deel daardie fobie met my?

Of slange?  Hoogtes?

Lucy van Pelt van “Peanuts”-faam het eendag ’n stalletjie opgestel waar sy sielkundige hulp aangebied het vir 5c.  Natuurlik klop Charlie Brown aan vir hulp, omdat hy so bang is.  Dis net sy kombersie wat hom aan die gang hou.

Lucy begin die diagnostiese proses deur te vra waarvoor Charlie bang is:  vrees vir verantwoordelikheid – hypengyophobie?

Charlie dink nie dis presies die probleem nie.

Dalk katte, wonder Lucy.  Ailurophobie.

Soortvan, dink Charlie, maar hy is steeds nie seker nie.

Vrees vir trappe – climacophobie?  Of thalassopfobie – vrees vir die oseaan.  Of gephyrophobia, wat die vrees is om brûe oor te steek.  Of dalk het Charlie pantophobie.  Kan dit pantophobie wees?

Wat is pantophobie, wil Charlie weet.

Dis die vrees vir alles, antwoord Lucy.

Dis dit!  Skree Charlie so hard dat Lucy skoon onderstebo val.

 

Ongelukkig is dit ’n goeie beskrywing van ons wêreld.  Ons leef in ‘n wêreld van vrees.  Waarin ons konstant vertel word dat ons vir alles en almal moet bang wees.  Alles en almal is konstant uit daarop om ons by te kom, in te loop, seer te maak.

Ons ganse ekonomiese stelsel is gebou op vrees.  Vrees word bemark as kommoditeit, want dit is die een ding wat ons dryf om te koop en koop en koop.  Oral word ons vertel hoe bang ons moet wees.  En ons glo dit.

“Waar daar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees.” (v18)

Hierdie een sou ons ook kon omdraai:  volmaakte vrees verdryf liefde.

Massiewe vrees maak dit onmoontlik vir ons om op ons gemak te wees, om veilig te voel of ’n besef te hê van ons eiewaarde.  Ons is so bang vir die afkeur of verwerping van ander, dat ons hulle voorspring en solank vir onsself alles vertel wat fout is met ons.  Uit vrees vir spot en verwerping kruip ons weg agter maskers wat ons dink aanvaarbaar is; ontken ons ons worstelinge en pyn en broosheid en twyfel.

Dit verhoed dat ons regtig uitreik na ander, dat ons ons lewens oopmaak vir ons naaste.  Dit maak dat ons nie eers mense in nood kan help nie, want ons is bang vir ons eie veiligheid.  Maak nie saak wat God sê nie, die vreemdeling is die vyand.  Want ons is bang.

Bang mense is geneig om onaangename mense te wees.  Soms gewoon nare mense.   Boelies.  Omdat hulle so bang is.  En jy kan maar weet:  hoe meer onbeskof iemand is, hoe kwaaier iemand is, hoe banger is hulle.  Want volmaakte vrees verdryf liefde.

God is liefde

Dan kom ons weer terug by die ideale preek heel aan die begin:  “God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.  God is liefde.”  Dit is wat jy moet hoor.  Dit is wat jy moet weet.  Dit is wat jy moet begin verstaan.  Dit is wat jy moet onthou.  God is liefde.  God is liefde.  Dit is waaroor die hele brief van 1 Johannes gaan.  Alles het opgebou hierheen:  God is liefde.  Dit is waaroor die hele Bybel gaan.  God is liefde.

Geïnkarneerde, vleesgeworde liefde. God se liefde word geopenbaar in Jesus. God het die wêreld so lief gehad, dat hy sy enigste Seun gestuur het… as ’n offer.  En dit is in die offer van God wat mens geword het, wat ons liefde beliggaam sien.  God is liefde.

Romeine 8:

34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? … 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

God is liefde.  Niks kan ons van die liefde van God skei nie.

Kan jy iets aanvoel van die krag en die moontlikheid wat binne daardie liefde opgesluit lê?  Dit is die krag wat die wêreld verander het.  Wat steeds die wêreld kan verander, as Jesus se volgelinge regtig aan boord kom en in hierdie liefde bly.  Abide, soos die Engels sê.  In God se liefde woon.

Wanneer die liefde volmaak word

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

Besef jy watter geweldige uitspraak dit is?

Ons kan dit lees en gewoon dink dit beteken dat God vir ons die voorbeeld gestel het en ons moet dit navolg.  En dis waar.  Maar vers 12 gaan soveel verder.  “Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.”

Dit herinner aan Johannes 1:18
18Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Johannes sê ons weet nie werklik wie God is, voordat ons hom in Jesus sien nie.  1 Johannes 4:12 sê mense weet nie werklik wie God is, totdat hulle hom geopenbaar sien in die lewens van Christene nie.  Totdat sy liefde sy doel volkome bereik het in ons nie.

Die Nuwe-Testamentikus NT Wright beskryf dit so:

What God launched decisively in Jesus, he wants to complete in and through us.  As Jesus unveiled God before a surprised and unready world, so must we.  Love is that important.

Dit is waar ons gemeente se logo vandaan kom.  Dis ’n druppel, maar die rimpels is eintlik die punt.  Ons luister na God.  Maar wanneer ons geluister het, lééf ons wat ons ontvang het.  Die liefde wat ons ontvang het, spoel oor, veroorsaak rimpels na die mense rondom ons.

Die opdrag om lief te hê, is nie ’n vae, onseker opdrag nie.  Dis nie ’n gevoel waaroor ons hoef te wonder nie.  Die hele Bybel spel vir ons aanhoudend, helder uit wat daardie liefde behels.  Dink maar net aan die mekaar tekste:

  1. Julle moet mekaar liefhê soos ek julle lief het. (Joh. 13: 34; Joh. 15: 12, 17; Rom. 13: 8; 1 Tess. 4: 9; Heb. 13: 1; 1 Pet. 1: 22, 1 Pet. 3: 8, 1 Pet. 4: 8; 1 Joh. 3: 11, 23; 1 Joh. 4: 7, 11; 2 Joh. 1: 5)
  2. Was mekaar se voete… dien mekaar in liefde. (Joh. 13: 14, Gal. 5: 13)
  3. Leef in vrede met mekaar. (Mark. 9: 50, 1 Tess. 5: 13, 1 Pet. 3: 8)
  4. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar. (Rom. 12: 10)
  5. Bewys eerbied teenoor mekaar. (Rom. 12: 10)
  6. Wees eensgesind onder mekaar. (Rom. 12: 16, 1 Kor 1:10)
  7. Veroordeel mekaar nie meer nie. (Rom. 14: 13)
  8. Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het (Rom. 15: 7)
  9. Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde. (Rom. 16: 16, 1 Kor. 16: 20, 2 Kor. 13: 12, 1 Pet. 5: 14)
  10. As julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. (1 Kor. 11: 33)
  11. Dra gelyke sorg vir mekaar. (1 Kor. 12: 24– 25)
  12. Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie. (Gal. 5: 26)
  13. Dra mekaar se laste. (Gal. 6: 2)
  14. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. (Ef. 4: 2, Kol. 3: 13)
  15. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. (Ef. 4: 32, Kol. 3: 13, 1 Tess. 5: 15)
  16. Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. (Ef. 5: 21)
  17. Moenie vir mekaar lieg nie. (Kol. 3: 9)
  18. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. (Ef. 5: 19, Kol. 3: 16)
  19. Praat mekaar moed in en versterk mekaar. (1 Tess. 5: 11, Heb. 3: 13)
  20. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan (Heb. 10: 24– 25)
  21. Moenie van mekaar kwaadpraat nie. (Jak. 4: 11)
  22. Moenie oor mekaar kla nie. (Jak. 5: 9)
  23. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar. (Jak. 5: 16)
  24. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. (1 Pet. 4: 9)
  25. Wees nederig teenoor mekaar en help mekaar. (1 Pet. 5: 5)

Niemand het gesê dis maklik nie.  Die liefde wat ons in God sien, is self-prysgawe, offer.

Woon in liefde, in God, in ons

Genadiglik het God vir ons sy Gees gegee.  En die Gees help ons om in God te bly en in die proses in God se liefde te bly.  “wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom”,  sê vers 16.  Die Engels vertaal “bly” as “abide”.  So dalk is “woon” ’n beter woord.  Want weereens is die antwoord dat ons nie fokus op ons eie krag nie, maar op God.  Lewe, Lig, Liefde.  Ons taak is nie om harder te probeer nie.  Ons taak is om na God te draai.  Om in hom te woon.  In die Liefde te woon.

Dan sal dit, soos die rimpels van ons logo, al meer en meer uitkring.

Ek sluit af met die gedig wat Ernst aan die begin vir ons gelees het.  Van die mens wat huiwerig tot God nader, sukkel om die liefde te aanvaar.  Maar die Liefde wat ons innooi en bedien met ’n feesmaal.

Love bade me welcome: yet my soul drew back,

Guilty of dust and sin.

But quick-eyed Love, observing me grow slack

From my first entrance in,

Drew nearer to me, sweetly questioning

If I lacked anything.

 

“A guest,” I answered, “worthy to be here”:

Love said, “You shall be he.”

“I, the unkind, ungrateful? Ah, my dear,

I cannot look on thee.”

Love took my hand, and smiling did reply,

“Who made the eyes but I?”

 

“Truth, Lord; but I have marred them; let my shame

Go where it doth deserve.”

“And know you not,” says Love, “who bore the blame?”

“My dear, then I will serve.”

“You must sit down,” says Love, “and taste my meat.”

So I did sit and eat.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 332 God se liefde, so oneindig

Seën

Ef. 3:18-19

18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

Respons

Lied 526 Waar daar liefde is

1 Johannes 4, God is liefde, preek, Wees eg

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.