Bybelskool: Josua, Rigters, Rut – Chris van Wyk
|
Koste: R30 per persoon – almal welkom
{yootooltip title=[Inskrywings] width=[400]}Liesl by die kerkkantoor: 0415835115 – ete R25 pp{/yootooltip}
|
Written by Chris van Wyk on . Posted in Bybelskool. No Comments on Bybelskool: Josua, Rigters, Rut – Chris van Wyk
|
Koste: R30 per persoon – almal welkom
{yootooltip title=[Inskrywings] width=[400]}Liesl by die kerkkantoor: 0415835115 – ete R25 pp{/yootooltip}
|
Written by Chris van Wyk on . Posted in Chris van Wyk. No Comments on Jer 31:31-34 – Son 29 Maart 09
En ons kan lank gesels oor die redes daarvoor, en hoe ‘n mens dit verwerk, en hoe ‘n mens jou beskerm teen die onsekerhede van die lewe. Maar, laat ons eerlik wees, die lewe is nie en sal nooit maklik wees nie.
Ek het baie geworstel hiermee die afgelope tyd, en het Vrydag ‘n woord in Psalm 46 gekry wat my hoop gegee het. Dit is die bekende vers 11: “Wees stil en weet, Ek is die Heer.” Een van die kommentare vertaal dit met: “Relax, and know that I am God” wat ooreenkom met die Hebreeuse רָפָה wat letterlik beteken “hang limp“. En die tweede deel van die vers gee die motivering vir die ontspan aan: God is hoog bo die nasies, en hoog bo die aarde, d.w.s. onaantasbaar deur die historiese verloop van dinge, onaantasbaar deur die werklikheid van die aarde en alles wat hier verkeerd kan gaan.
Nou, dit beteken nie dat ‘n mens moet slaplê nie. Dit beteken net dat jy jou fokus moet verander na God toe – minder bekommerd wees oor wat jy kan sien, meer bewus van wat jy nie kan sien nie, en dit is, van God wat betrokke is in die geskiedenis en die werklikheid, die verlede en die hede en boonop die toekoms ook.
En die boodskap wat dit vir my gehad het, is dat ek moet werk met die idee dat God sorg vanuit ‘n onaantasbare posisie, sodat ek die moed het om te doen wat Hy oor my pad bring.
En ek moet sê die Here het op besondere en verskillende maniere in my eie lewe die afgelope tyd ingegryp en ek dank Hom daarvoor. En hoewel ek nog sukkel met die ontspan deel, werk ek darem al ten minste met die idee dat God daar is en dat ek Hom kan vertrou!
Kyk jy kan nog werk aan die regering en mense monster en briewe skryf en koukus en wat nog ook al. Jy kan jou mure hoër bou en perimeter defences insit en gesond lewe en oefen en nog ‘n klomp ander goed doen om jou teen die onsekerheid van die lewe te beskerm. En ek probeer dit glad nie afmaak nie.
Maar jy kan self niks aan jou hart doen nie.
Die hart is verraderlik. Jeremia skryf in hoofstuk 17: “9 Die hart is bedriegliker as enigiets anders, dit is ongeneeslik; wie kan dit verstaan?” Verdorwe, sê die Ou Vertaling van die eerste Hebreeuse beskrywing עָקֹב. Deceitful, sê ‘n hele paar Engelse vertalings. Glibberig sê ‘n ander! En die volgende beskrywende woord vir die hart in Hebreeus is אָנוּשׁ. Beyond cure! Ongeneeslik .
Kortom: die hart is soos ‘n glyerige slymerige donker put, en ‘n ongeneeslike bose sweer wat alles infekteer en tot die dood lei.
Hoekom?
Vers 1 sê: “Die sonde van Juda is ingegraveer met ‘n ysterpen, ingegrif met ‘n diamantpunt op hulle harte.”
In plaas van God se wil, is ons eie wil ingeskrywe op ons harte. In plaas van liefde vir God en ons naaste, is liefde vir ons self en vir ons eie belange ingeskrywe op ons harte.
En dit is nie iets wat ons op ons eie ongedaan kan maak nie.
Reëls
Dit is nie dat mense nie al in die geskiedenis probeer het om die hart te genees nie. Maar niks het gewerk nie. Moses se wet het ‘n stel reëls gegee waaraan ‘n mens jou kon hou en wat die belofte van sukses gehad het. As jy net God aanbid en niemand anders nie – dan is jy reg. As jy net een dag rus en die ander werk – dan is jy reg. As jy net jou vrou liefhet en niemand anders nie – dan is jy reg. As jy net niks van iemand anders vat nie – dan is jy reg. En noem maar nog uitsprake van die Tien Gebooie op.
Maar, dit kon nie slaag nie, want al werk dit, en jy doen niks uiterliks verkeerd nie – dan sit jy nog steeds met ‘n bedrieglike en ongeneeslike hart, wat net met die volgende versoeking in glibberigheid kan verval. Die sonde is ingeskryf op ons harte.
Vrees
Die profete het probeer deur die volk bang te maak met die oordeel van God, wat ‘n paar keer letterlik ook in vervulling gegaan het. Maar selfs dié vrees vir die oordeel van God het nie geslaag om die hart van die mens te genees nie.
En laat ons maar eerlik met mekaar wees, wat nie toe gehelp het nie, sal ook nie vandag help nie.
Die probleem is, dat nie reëls of vrees jou hart gaan regmaak nie.
“Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek my woord op julle harte (קֶרֶב – binneste/ingewande) skryf en dit in julle gedagte (לֵב – hart) vaslê. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. Jy sal nie meer vir jou buurman of vir jou familie hoef te sê: ‘Jy moet die Here dien’ nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal julle oortredings vergewe en nie meer aan julle sondes dink nie.”
Jeremia noem dit ‘n nuwe ooreenkoms, ‘n nuwe verbond. En uit die Nuwe Testament weet ons dat die ooreenkoms met die bloed van Jesus Christus verseël is.
Toe dit donker geraak het vir Hom aan die kruis, toe Hy ervaar het God self het Hom verlaat, het die lig vir ons begin aanbreek.
Hy vergewe ons die sonde wat op ons harte ingeskryf is, en Hy skryf nuwe woorde daarop, Sy woorde, woorde wat van binne af ons gehoorsaam maak. In ons binneste en in ons gedagtes raak die woorde aktief om vir God en ons naaste lief te hê.
Nou – en dit is belangrik – daar is ‘n eenmaligheid hieraan, ‘n dag wat dít vir ons in vervulling begin gaan het. Ons kan dit die dag of die tydperk noem van ons bekering of ons wedergeboorte of of ons bewussyn van God se teenwoordigheid. Daardie tyd toe ons vir die eerste keer bewus geraak het van die roering van God in ons binneste – die dag wat ons ja gesê het, die dag wat ons fees gevier het oor ons kinders van God is en ons gevoel het, niks kan ooit weer verkeerd gaan nie, niks kan ons uit die hand van God uitruk nie.
Maar – en dit is nog meer belangrik – daar is ook ‘n alledaagsheid hieraan – die vinger van God wat elke oggend in my lewe sy woorde vir daardie dag skryf, wat regdeur die dag my herinner aan die woorde wat nodig is vir my om van te lewe.
As Jesus in die woestyn vir die duiwel sê, dat Hy lewe van elke woord wat uit die mond van God gaan, is dit hierdie alledaagse woord waarvan Hy praat, die woord vir die versoeking van daardie dag. Jesus haal Moses aan in Deuteronomium 8:3 wat vir die volk geleer het: “dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat jy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.”
Soos Jesus ook later vir die dissipels sou sê, terwyl die Samaritaanse vrou haar dorpie gaan haal het, “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4). En dit is iets wat Jesus op ‘n daaglikse basis ontvang het – elke dag, sonder uitsondering.
U sien, as ons toelaat dat daar ‘n dag verby gaan dat ons nie die woord van God op ons harte ontvang nie, dan word dit met ander goed beskrywe – dit hoef nie altyd sonde te wees, growwe dinge wat skeiding bring tussen ons en God nie, maar dit is net nie God se woorde nie. En as ons nie ons hartswoorde van Hom ontvang nie, dan is dit baie maklik om ander dinge te ontvang, wat in die plek van God se woorde kom, en wat dan nie noodwendig ons heeltemal weglei van God af nie, nie noodwendig ons slegte goed laat doen nie, maar net nie die dinge is wat God wil hê nie.
En dit maak ons moeg, en dit put ons uit, en dit maak ons oneffektief. Jesus sê nie verniet dat dit voedsel is vir Hom om God se woorde, sy wil, te doen nie.
U hoor ons die afgelope 6 maande baie spesifiek praat oor geestelike groei. Want ons het oortuig geraak dat daar niks meer belangrik is as dit nie. Dat dit is waarom gemeente-wees gaan, mense wat God se woorde hoor en dit gaan doen in hierdie wêreld.
En ons het nou al twee reekse gedoen die afgelope twee kwartale, wat klem lê op hoe geestelike groei werk, en hoe ‘n mens daarby kan inskakel: Hulle het hulle heelhartig toegelê en Druppels vir die dors. Ons het ook al twee reekse aanbiedinge gehad op Woensdae, Didage, wat vir jou as ‘n hulp gegee is om God se woorde vir jou te ontvang – vir jou huwelik, vir jou eie geestelike groei met Adele Calhoun se goed en John Ackerman se goed en die Bybelskool en Lectio Divina en Op pad met God met ‘n joernaal.
En ons het ‘n ongeveer 80 mense wat verlede jaar en dié afgelope kwartaal daarby ingeskakel het – en dit is goed, ‘n baie goeie begin.
Maar – ons is nie 80 mense in die gemeente nie. Ons is 1500. Kom ons laat die kinders buite berekening, hulle gaan immers na kategese toe, en die tieners doen dissipelskap – hulle is ongeveer 300. En ‘n hele aantal mense bly ver van die kerk af en vir mense in ons tehuise is dit soms onmoontlik om hier te kom. Kom ons sê daar is ongeveer 800 mense uit die gemeente wat Didage kan bywoon, dan is net 10% van ons mense besig hiermee.
En dit is te min.
En dit gaan nie oor die sukses of nie-sukses van die projek van geestelike groei nie en van Woensdagaande nie.
Dit gaan oor die saak van God se woorde wat elke dag op ons harte geskryf word. Óf ons leer hoe dit werk en groei geestelik … óf ons harte word beskrywe met ons eie woorde óf nog erger met die woorde van die wêreld, en ons stagneer geestelik, raak ongeduldig met dié en daaí, begin fout vind, en raak onbetrokke.
God se woorde op ons harte moet ‘n alledaagse werklikheid word – en ons kan mekaar help daarmee. Ek weet persoonlik, uit eie ervaring, hoe moeilik dit is om alleen te luister, as ek dit dag in en dag uit op my eie doen.
Daar is in my ‘n bekommernis, dat ons hierdie dinge van die kansel af sê, en dat dit aankom by jou, maar sodra jy by die deur uit is, die sorge van hierdie lewe die woorde van God verstrik en uitvee op jou hart.
En ek moet bely: Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is die dag vir my ‘n mislukking. Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is vir my ‘n vermorsing. Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is vir my ‘n fiasko. En ek wonder vir hoe baie van ons dit nie so is nie?
Dit is nie die dramatiese goed wat in my lewe gebeur wat dit ‘n mislukking en ‘n vermorsing en ‘n fiasko maak nie. Nee, dit is die middelmatigheid, die insigloosheid, die hooploosheid van die daaglikse gesprekke waarvan ek lees in die koerante en wat ek sien op die TV en wat ek hoor in ons onderlinge gesprekke, wat die lewe uit my pers en wat, as dit al is wat ek hoor, van my lewe ‘n mislukking en ‘n vermorsing en ‘n fiasko maak.
Jy sien, ons harte word daagliks beskrywe – en as dit nie ook God is wat daarop skrywe nie – dan word ons harte gou-gou hard en onbuigsaam en ongevoelig.
Ek rig dus ‘n uitdaging en ‘n pleidooi – nie ‘n reël nie, en ek maak jou ook nie bang nie. Skryf in vir een van ons aanbiedinge vir geestelike groei. Maak die afspraak en hou daarby. As jy uitstedig moet wees, kom dan die ander tye. Gebruik ons webtuiste om by te bly – dit is waarvoor ons dit geskep het. En as jy iets anders wil voorstel wat jy graag saam met ons wil doen – stel dit voor. As jy liewer in ‘n kleingroep wil inskakel of een wil begin, kom gesels met ons. Dit wil voorkom asof dit makliker is om nuwe groepe te begin – so kry ‘n maat en kom sien my.
Maar moenie wegbly nie. Ons het mekaar nodig om mekaar moed in te praat en by mekaar te leer en saam die teenwoordigheid van die Here te ervaar.
Soos God met ons ‘n ooreenkoms gesluit het – Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees – kom ons sluit ‘n ooreenkoms met mekaar – om mekaar te ondersteun in ons eie luister na sy stem.
Amen.
Written by on . Posted in Ander predikers, Deon Binneman. No Comments on Ps 107 – So 22 Mrt 09
Sondag, 22 Maart 2009
Ps 107:1 – 3, 17 – 22
Deon Binneman
Inleiding tot die
erediens
Tradisioneel is die
Vierde Sondag in Lydenstyd se naam Laetare, of Wees bly! Op hierdie Sondag wil ons bly wees oor God se
redding, want sy redding is redding uit
die grootste nood. Wanneer jy
bedreiging in die ergste aard beleef, kan jy op God vertrou om jou te red. Hieroor kan ons ons verheug. Daarom is vreugde en blydskap die kenmerk
hierdie Sondag se liturgie, al is dit ’n gedempte vreugde, omdat ons weet dat
dit Jesus se kruisiging gekos het om ons te verlos.
Skriflesing
Voordat ons begin lees, is dit miskien goed om eers ’n
geheelbeeld van hierdie baie mooi psalm te kry.
Die herstel waaroor daar in die
eerste drie verse van die psalm gepraat word, word in die volgende verse (4-32)
aan die hand van vier voorbeelde uit
die lewe verduidelik. Die
ballingskap was baie om soos ’n karavaan in die
woestyn verdwaal te wees (4-9). Dit was ook soos om in ’n gevangenis (10-16) te wees. Die verlossing was baie soos die herstel van ’n
terminale siekte (17-22). Die
bevryding het ook baie ooreenkomste met die redding van ’n skip uit
die gevaar van ’n groot storm wat die lewe van almal aan boord bedreig het
(23-32). Die tweede helfte van die psalm (33-43) is ’n veralgemening en samevatting
van die voorafgaande gedagtes. Die
oorspronklike doel van die psalm was lof vir die verslossing uit die
ballingskap. Maar reeds van so vroeg as
van Martin Luther af egter, is hierdie psalm gesien as ’n psalm van danksegging
vir alle vorme van hulp wat God aan mense in hulle uiterste nood bied.
Psalm 107
“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar
geen einde nie!” 2 So moet die mense sê wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3 en uit baie lande versamel
het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.
17 Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse
optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. 18 Alle kos
het hulle laat walg, en hulle het by die dood omgedraai, 19 maar in
hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van
hulle ellende. 20 Hy het hulle met ’n enkele woord gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom. 21 Hulle moet die Here loof vir sy
troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 22 Hulle moet
dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.
Woordverkondiging
Ons het gisteraand
weer ʼn keer na die rolprent Chocolat gekyk. Die meeste van u het dit sekerlik al
gesien. Dit speel in die sestigerjare in
ʼn klein dorpie in Frankryk af. Vianne en
haar opgeskote dogter open ʼn sjokoladewinkel, maar ongelukkig tydens die vas
gedurende die lydenstyd. Die burgemeester
is die bewaker van die dorp se sedes en probeer hierdie verderflike invloed uit
sy dorp kry. Maar haar warm
betrokkenheid by mense maak haar geliefd.
So ontwikkel die verhaal as ʼn kontrasterende tekening van die burgemeester
se vreugdelose vermyding van aangename dinge teenoor Vianne se liefdevolle,
helpende betrokkenheid by ander.
Nadat die burgemeester
tot ʼn val gekom het, kry die bloedjong priester vir die eerste keer die
geleentheid om self sy preek voor te berei.
En sy aangrypende boodskap is: Ons goedheid word gemeet nie aan wat ons nié
doen nie, maar aan dit wat ons wél doen! Lydenstyd kan juis ’n tyd van blydskap vir
die verlossing wees waartydens ons op ons nuwe lewe en die nuwe moontlikhede
fokus.
Daarom: Al is
dit Lydenstyd, is dit tegelyk ook vreugdetyd.
Want dit is verlossingstyd!
Terwyl Lydenstyd in
die vroeë kerk met vas en dus boetedoening
gepaard gegaan het, was die element van
vreugde nie afwesig nie. Daarom het die vierde Lydensondag as Laetare (“wees bly”) bekend gestaan. Te midde van die meelewing van
gelowiges met die onpeilbare lyding en smart van die Here Jesus, was daar ’n
diep vreugde oor die weldaad van verlossing wat dit teweeggebring het. Ook by die kerke van die Reformasie, waar die
klem op lydensprediking val, kan dit nooit losgemaak word van die blye wete dat
Jesus se lyding die onontwykbare aanloop tot die opstandingsvreugde was nie.
Op die vierde Lydensondag word
die hele verlossingsplan in oënskou
geneem en die gemeente opgeroep om die Here daarvoor te loof.
Die voorbeeld van die genesing van
’n terminale siekte help ons om te verstaan hoe ingrypend ons verlossing uit
die sonde is en hoe dankbaar bly ons daarvoor behoort te wees! Daar is algemene eenstemmigheid dat dit in
hierdie gedeelte oor die verlossing uit ’n siekte wat deur ’n sondige lewenswyse veroorsaak is, gaan. Die persoon is dus skuldig en siek. Verlossing beteken dus liggaamlike genesing
en bevryding van die verwyt oor die sondeskuld!
’n Dodelike siek mens wat skielik nie meer die simptome van die siekte
ervaar nie, en ook kan ervaar dat hy/sy vergewe is, kan nie anders as om baie,
baie bly te wees nie!
Ons kan die driedeling
wat ook in die Heidelbergse Kategismus voorkom,
naamlik Sonde, Verlossing en Dankbaarheid, ook hier van toepassing maak
aangesien dit ook so in Ps 107 na vore kom.
Ons vind dit moeilik
om ’n diepgaande besef van die sonde te hê.
Ons gebruik dikwels ander woorde daarvoor. Mense se sondige lewenswyse word dikwels dit
wat hulle bekend en gewild maak!
Om oor sonde te praat,
het in ons dag ongewild geraak. Daar is
mense wat sê dat dit nie meer in ’n Nuwe Testamentiese erediens tuishoort
nie. Dit ontmoedig mense. Daar moet veel eerder op die nuwe lewe of
ander positiewe dinge gefokus word. Ek
het al by geleentheid die bekende skildery van Fernand Cormon, Die Vlug van Kaïn, wat in
die Orsay-museum in Parys hang, tydens
die skuldbelydenis in die erediens gebruik.
Dit het soms kommentaar ontlok wat daarop neerkom dat dit darem ’n baie
harde, Ou Testamentiese, uitbeelding van die stukkendheid van die sonde is. Dink jy hierdie skildery pas in die
erediens?

Onthou: Dit is slegs as jy die diepte van die sonde
verstaan, dat jy diep dankbaar kan wees oor die Here se liefde wat die verlossing bewerkstellig. Is ’n vreugdelose geloofslewe nie
toe te skryf aan ’n oppervlakkige begrip van die sonde nie?
God verlos omdat
Hy volgens Johannes 3:16 uit die drang van sy liefde, wat inderdaad
volgens 1 Johannes 4:16 sy wesenseienskap is, sy Seun tot redding van
die wêreld gegee. In die konteks van die
lydensprediking kan dit toegepas word op die sondaars wat uit alle nasies en
tale oor die hele wêreld heen verlos is van hulle straf en vir wie nuwe
lewensmoontlikhede gegee is. Vergelyk
die vader in die gelykenis van die Verlore Seun. Toe die seun nog ver aangekom het, het die
vader hom al gesien en na hom toe gehardloop … So is God, die Vader. Hy wil vergewe, Hy wag vir ons.
Vers 19 en 20 gee ’n
bondige beskrywing van die bevryding van die sondaars uit die nood, sowel as
hulle genesing van die siekte tot die dood toe. In hulle ellende roep hulle na
die Here om hulp. Dit kan hulle slegs doen omdat hulle aan die een kant van
hulle dwaasheid en aan die ander kant van die Here se reddingsvermoë bewus oortuig
kon word. Hierdie insig kan nie uit hulle self kom nie. Die Here het sy woord
uitgestuur (v 20 OAV) om die hele verlossingsproses te bemiddel. In Job 33:23
en 24 tree ’n engel, vir die mens in nood, as bemiddelaar op wat (a) hom
aansê wat sy plig is, (b) wat vir hom pleit en (c) wat ’n losprys vir hom
aanbied. Sy reaksie daarop en die Here se antwoord bewerk sy volkome genesing. Uiteindelik
weet ons dat God se Woord in Jesus
Christus mens geword het (Joh 1). Hy
bewerk as Middelaar die vergiffenis, die verlossing en die genesing vir die
sterwende sondaar wanneer Hy aan die kruis sterf. Hierdie losprys wat Hy betaal, het nie alleen
die sondaar se skuld vereffen nie, maar hom losgekoop van die dood sodat hy die
ewige lewe kan verkry en dit sonder enige verdienste aan sy kant. So word ons verhouding met die Vader herstel,
so word ons weer ’n kind vir wie die skoene en die nuwe klere en die ring
gebring word, en vir wie daar ’n feesmaal voorberei word. Want
hierdie kind van my was verlore, maar is gevind …
As die geneesde mens,
die verlosde mens, regtig besef wat die implikasies daarvan vir sy/haar lewe
is, kan hy/sy nie anders as om die Here
met dankoffers te loof en met blydskap van sy dade te getuig nie.
Hebreërs 13:12-16 som
die handelinge van danksegging op deur klem te lê op ’n lewe wat in hierdie wêreld geleef word met die oog op ’n vaste
toekomstige verblyfplek, ’n voortdurende lofoffer deur Jesus aan God en ’n
diens van goed doen en mededeelsaamheid aan ander.
Die lydensweg van die
Middelaar vind sy hoogtepunt in die bewerking van die opstanding uit die dood.
Daarvoor ken die dankbaarheid van die verlostes geen perke nie en moet dit
volgens die voorskrif van 1 Korintiërs 15:58 uitgedruk word: “Daarom, liewe
broers (en susters), wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die
werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here
nie tevergeefs is nie.”
Om so ’n Here te dien,
kan nie ’n vreugdelose plig wees nie. Om
getrou aan jou lewensmaat vir wie jy liefhet, te leef, is nie ’n langgesig
onderneming nie. Dit is ’n spontane vreugde!
So behoort dit ook te wees in ons
verhouding met God!
Written by Chris van Wyk on . Posted in Materiaal. No Comments on Blydskap en Lyding? – Ps 107:1-3, 17-22 – 22-28 Mrt 09
Written by Chris van Wyk on . Posted in Materiaal. No Comments on Blydskap en Lyding? – Ps 107:1-3, 17-22 – 22-28 Mrt 09
Written by Chris van Wyk on . Posted in Chris van Wyk. No Comments on Hebr 4:12-13 – Son 8 Mrt 09
Luister julle maklik?
Sê nou jou ma sê – maak jou kamer aan kant en sit al jou klere in die kas?
Sê nou sy sê – kom help my gou skottelgoed was?
Sê nou sy sê – daar is koek op die tafel?
Dan sit jy mos jou spesiale ore aan!
Dan luister ons met alles wat ons kan.
Nou ek wil julle vertel van ‘n man wat dit geleer het toe hy al ‘n groot man was.
Sy naam was Naäman
Eerste skyfie – hy was ‘n belangrike man – hoof van die weermag van die Arameërs
Tweede skyfie – hy was melaats
Derde skyfie – daar was ‘n jong dogtertjie in sy huis, wat ‘n slaaf was. Sy vertel vir hom van die profeet Elisa in Samaria in Israel wat kan bid vir hom, dan sal hy gesond word.
Vierde skyfie – hy besluit om te gaan met baie geld en klere
Vyfde skyfie – groot was sy verbasing toe die profeet hom nie eers wil sien nie, en vir hom sê hy moet hom sewe keer in die Jordaan gaan was.
Sesde skyfie – O en hy wou dit nie doen nie – tot sy amptenare vir hom sê: sit jou spesiale ore aan. Hulle sê, sê nou hy het iets moeiliks gevra, sou jy dit dan nie gedoen het nie? Nou het hy iets eenvoudigs gevra, hoekom sou ‘n mens nou nie dit wil doen nie! En wat doen Naäman? Hy sit sy spesiale ore aan en hy luister.
Sewende skyfie – hy duik in en na sewe keer is hy silwerskoon gesond, sy vel was soos ‘n klein seuntjie s’n.
Spesiale ore help!
12 Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.
Ek lees die Bybel al van laerskool dae af. Dit is ná my voorskoolse dae met die Kinderbybel en sy prente.
Ek help mense om die Bybel te lees van my hoërskool dae af.
En dit is nie so maklik as wat ‘n mens dink nie.
Om my te help is ek blootgestel aan ‘n verskeidenheid akademiese dissiplines in my studies – Grieks, Hebreeus, Aramees, tekskritiek, vertalingstegnieke, Ou Testament Teologie, Nuwe Testament Teologie, Dogmatiek en al die voortvloeiende vakke wat meer op ‘n praktiese vlak lê, liturgiek, gemeentebediening, jeug, pastoraat, ens.
En julle sal weet dat ek baie keer van dié insigte invleg in my hulp aan mense om die Bybel te lees, ook by die Bybelskool.
En dit is goed om te weet hoe die Bybel in mekaar steek. Dit is goed om te weet wat die spesifieke woord is wat in ‘n vers gebruik word, want dan keer dit dat jy verkeerde interpretasies maak. Dwaling het immers net een vers, en soms net ‘n frase of ‘n woord in ‘n vers nodig wat verkeerd gelees word! En niemand van ons wil tog doelbewus dwaal nie, of ten minste die meeste van ons.
En dié manier van Bybel lees is ‘n ou tradisie. Dit kom van die skool van Antiochië af uit die eerste eeue. Dit is die stad waar Paulus gewerk het en vanwaar af hy sy sendingreise gedoen het. Dit was vir die Antiochiërs ontsettend belangrik om die regte grammaties-histories betekenis van ‘n teks vas te stel, want het hulle geglo, dit help dat ‘n mens presies weet wat ‘n teks sê en dan kan jy reg daarop reageer.
Calvyn het dit die sensus simplex genoem – die plein, eenvoudige betekenis van ‘n teks. ‘n Mens kan dit ook ‘n informatiewe lees van die teks noem.
Ek het van hierdie tipe inligting oor die teks in die joernaal gesit.
Kom ons kyk kortliks daarna:
Oorhoofs: Die teks gaan oor die effektiwiteit en deurdringendheid van die Woord van God
Twee temas: 1) wat die Woord doen , 2) wat ons moet doen.
Die eerste word uitvoerig beskryf – die tweede in 5 kort Griekse woorde aan die einde opgesom: “aan Hom moet ons rekenskap gee”.
Agtergrond: Die teks sluit aan by die verhaal van Israel wat God se Woord verontagsaam het in die woestyn (Psalm 95 vertel dit poëties: die ongehoorsaamheid by Massa en Meriba toe hulle in opstand gekom het teen die Here oor hulle gebrek aan water – hulle kon net nie hulleself so ver kry om die Here te vertrou dat Hy vir hulle sal sorg nie).
En die Hebreër skrywer sê: moenie in dieselfde strik trap van opstand en ongehoorsaamheid as hulle nie! Hierdie Woord van God is ‘n swaard met twee snykante – maar nie saak wat jy doen nie, sny gaan hy jou sny, as hy ongehoorsaam is! En daarby is daar sy oë wat alles sien – letterlik oral!
So die skrywer probeer vir ons wys dat die Woord kan doen en eintlik sê hy, die Woord kan doen wat niks anders kan nie – daar is niemand wat daarteen bestand is nie – jy kan dit verontagsaam, maar jy kan dit nie keer nie.
Nou as jy dit weet – dan kan jy ‘n bietjie dieper kyk na wat die teks sê, die Woord doen.
Die skrywer sê, dit is lewend (persoonlik) en dit is kragtig (energiek).
En dit werk persoonlik en energiek in op drie aspekte van ons menswees:
Dit raak ons identiteit:
Die skrywer praat hier van die woord wat in dring tot by die skeiding van siel en gees – daarmee wil hy sê: die woord skei dinge wat ons soms dink is onskeibaar, dinge in ons binne-wêreld, daar waar ons persoonlikheid en ons geestelike aanvoeling setel. Kortom: God se Woord dring deur tot in die plek waar ons identiteit is, ons mens-wees, ons ervaring van wie ons is, die kontakpunt met die wêreld en met God – en dit help ons onderskei wat in ons van God is en wat nie.
Dit raak ons energie punte:
Die woord dring deur tot die skeiding van gewrigte en murg. Die twee, gewrigte en murg, is altwee liggaamseienskappe wat met krag te make het, die een bring die boodskappe van die brein an die ledemate, die ander sorg dat daar beweging kan wees, deur beweging toe te laat vir die spiere en ledemate. En die skrywer sê daarmee, dat niks die krag van die Woord kan troef nie – dit dring deur tot dít wat ons energie gee, dit wat ons in beweging bring, en doen sy werk – en dit help ons onderskei waar die energie van God ons heen neem.
Dit raak ons diepste motiveringe:
Die skrywer sê die Woord beoordeel die bedoelings en gedagtes van ons hart. Met gedagtes bedoel hy ons intellektuele kapasiteit en met bedoelinge het in gedagte dié dinge wat ons motiveer, die dinge van ons hart. Kortom, die Woord dring deur tot ons diepste motivering, dit wat ons sin en betekenis en motivering gee om te lewe – en dit help ons onderskei wat agter die dinge sit wat ons doen en help ons om opreg en eg te wees.
En die boodskap is, God se Woord penetreer en ontmasker en beoordeel en onderskei wat reg en goed is van wat sleg en boos is – en niks kan dit keer nie.
En wat ons moet doen?
Ons moet rekenskap gee (logos) aan dié God. (“aan Hom ons die rekenskap” – letterlik)
In terme van ons tema: ons moet sê: Ek sal luister.
Die probleem is net, dat só ‘n Bybel lees nou ook weer nie so eenvoudig is nie. As ek presies weet wat die teks sê, is dit nog net die eerste deel van die proses van verstaan. Om regtig te kan hoor, moet die teks in my lewe inkom en my lewe verander. En ten spyte van die hoop dat mense met ‘n regte lees van die teks dit ook sal regkry om dit te doen, het die hoop baie keer beskaam.
En die gevaar is natuurlik lewensgroot dat ons so besig raak met ‘n teks, so ingegrawe daarin, dat ons half begin dink, ons beheer die teks, ons het die teks onder die knie, ons kan met dit maak wat ons wil.
En dan luister ons nie meer na die teks nie. Ons laat die teks luister na ons!
Nee, wat ook nodig is, is ‘n formatiewe lees van die Bybel, ‘n geestelike lees.
Dit is iets wat ‘n ander groot skool uit die eerste eeue geleer het, die skool van Alexandrië. Hulle het geleer dat die teks ‘n geestelike impak in ons lewe wil maak, dat die teks besig wil raak met ons, dat God besig wil raak met ons. En daarvoor moet jy nie net bly by die plein betekenis van die teks nie – dit bly altyd daar as ‘n korrektief. Maar jy moet vra, nou maar wat beteken dit vir my? Wat moet ek hiermee maak? Wat wil die Here hierdeur vir my sê? Hoe maak dit my pad vorentoe meer duidelik?
Calvyn het ook hierby aangesluit en dit genoem die usus van die teks, die praktiese of geestelike waarde van die teks.
En met al my studies en al my leeswerk en al my praktiese ondervinding, weet ek vandag dat albei dié aspekte belangrik is – ‘n mens moet weet wat die sensus simplex is en jy moet vra wat is die usus, die praktiese nut hiervan vir my, informatief en formatief.
En ek moet bely, ons kerk het meer klem gelê op die eerste, die informatiewe lees van die Bybel, vir baie lank en selfs dié mense wat meer geestelik wou lees, afgekraak!
Daarom dat ons half vandag wil oorhel en sê, nee, genoeg informasie, vorm my Here, Ek sal Luister.
En dit is waarmee ek vandag vir ons wil help, om só te kan luister dat dit jou lewe aanraak en jou lewe vorm. Die informasie bly belangrik, daarom het ek daarmee begin, maar dit gaan vanoggend oor die tema: “Ek sal luister”, en gaan oor die oproep dat jy sal toelaat dat die Woord jou vorm.
Om jou te help om só vormend na die Bybel te luister wil ek twee aspekte van luister beklemtoon.
Kom ek begin met ‘n metafoor: Die Bybel is soos water.
Kom ek pas dit toe op Bybel lees en luister en verduidelik die twee aspekte van luister:
Só ‘n lees van die Bybel neem dus meer van ons as ons intellek, dit is direk, dit is reflekterend, dit is persoonlik dit is ‘n wag op die ervaring van God se aanraking diep binne ons lewe.
Om só te kan lees, veronderstel ‘n verhouding met God. Dit veronderstel dat jy in Hom glo, nie as ‘n vêraf Skepper God nie, maar as ‘n naby persoonlike God. Dit veronderstel dat jy op Hom vertrou.
En nie een van die dinge, ‘n verhouding, geloof, vertroue, is iets wat jy kan verstaan of beleef deur ‘n aantal boeke daaroor te lees nie. As jy nie in ‘n verhouding met God is nie, dan sal jy dit nie ervaar of verstaan nie. As jy nie glo in God nie, dan sal jy geloof nie ervaar of verstaan nie. As jy nie vertrou op God nie, sal jy vertroue nie ervaar of verstaan nie.
En dan is jou eerste opdrag – om in ‘n verhouding met God te kom, om in Hom te begin glo, en om op Hom te begin vertrou.
Hoe kan ek dus die Bybel nadenkend en persoonlik lees, sodat ek kan luister en die Woord my lewe kan verander?
Die eerste en belangrikste is:
MAAK ‘N GEREELDE AFSPRAAK EN HOU DAARBY.
Dit is wanneer ‘n mens tyd spandeer met God en met die Bybel dat jy sy stem sal hoor. As jy nie in water induik nie, sal jy dit nie ervaar nie. Petersen vertaal Matt 11:28-30 in The Message as volg: “Walk with me and work with me – watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace . .. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.” O hoe wens ek, ek kan elkeen van julle hiermee help – en in Staying in Touch en die Spiritual Disciplines help ons mos mense hiermee – maar dit is uiteindelik iets wat jy self moet begin.
Die tweede is:
LEES DIESELFDE TEKS ‘N PAAR KEER EN LUISTER VIR ‘N PERSOONLIKE WOORD.
Daar is die wonderlike belofte van Jesus, dat elkeen wat soek, sal vind, en elkeen wat klop, vir hom sal oopgemaak word, en vir elkeen wat vra, sal gegee word. Dit kan ‘n woord wees of ‘n frase of die gedagte van die hele gedeelte.
Gister oggend het ek ‘n teks gelees in die Psalms waarin ek ‘n woord gehoor het wat eintlik die teenoorgestelde was as wat die situasie van Dawid was – en dit was helend om God se aanraking via die teks te kry, al was dit selfs nie eers in die direkte woorde geleë nie.
En in hierdie teks het die rede vir die ongehoorsaamheid van die Israeliete my getref: dat hulle hulleself nie sover kon kry om God te vertrou nie. Dit het my lewe op verskillende vlakke aangespreek.
Die derde is:
BLY IN DIE TEKS TOTDAT JY ‘N PERSOONLIKE WOORD HOOR.
Hierdie stap is miskien die moeilikste as ‘n mens begin, omdat jy half simpel kan voel, en half kan voel, maar is dit so eenvoudig, en wat as ek verkeerd hoor. Ek onthou in Staying in Touch, Bly in Voeling, hoe half huiwerig mense dinge die eerste of tweede keer deel – “ek weet nou nie of ek reg gehoor het nie” – en hoe dít verander in ‘n ontspanne vrymoedige wandel met die Here.
Die vierde is:
DINK NA OOR DIE PERSOONLIKE WOORD TOT DIT BEGIN LEWE IN JOU EN JOU VOLMAAK VAN BINNE.
Dit is iets wat jou hele menswees, intellek, hart, gees, wil en gevoel betrek.
Geen wonder dat van ‘n hele paar profete gesê word dat hulle die Woord geëet het, Johannes op Patmos (Open 10:10 “Ek het dit … opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword.” ), Jeremia (15:16 – “Ek het u woorde verslind”), Esegiël (3:3 “Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond”).
Die vyfde is:
REAGEER IN GEBED EN LEWENSTYL OP DIE PERSOONLIKE WOORD.
God wil met ons in ‘n verhouding staan, waarin Hy praat en ons praat, waarin Hy opdragte gee en ons gehoorsaam, waarin Hy vir ons sê Hy het ons lief en ons dit vir Hom terugsê, waarin Hy ons bemoedig en ons daarop reageer.
Die sesde is:
LAAT DIE BYBEL JOU GESPREK MET GOD BEPAAL.
Daarom is dit so nodig om ‘n gereelde tyd met God te spandeer. Sodat soos jy deur die Psalms werk of deur ‘n evangelie of deur ‘n historiese boek in die Ou Testament God jou begin begelei. Ek kan onomwonde verklaar, God lei deur enige deel in sy Woord en uit enige woord daarin. Al wat nodig is dat jy jouself sistematies daaraan blootstel. Die wonder is dat die Woord dan so lewendig en kragtig raak dat dit soos ‘n elektriese draad is – jy weet daarvan as jy daaraan raak!
We use cookies and similar technologies to improve your experience on our website. Read our Privacy Policy.